Wees paraat
Ek gesels vroeg in 2012 met Patrick Geryl toe hy doodluiters opmerk: “Jy weet natuurlik, as jy nie nou begin om voorbereidings te tref nie, is jy klaar so goed as dood. Die tyd is eintlik reeds te min.”
Vir een oomblik voel ek ’n bietjie soos een van die Bybelse dwase maagde wat nooit daaraan gedink het om ekstra olie aan te skaf nie. Kan dit waar wees dat dit reeds te laat is? Geryl glo natuurlik dat die einde op 21 Desember 2012 gaan aanbreek, nie ’n dag vroeër of later nie, so volgens hom sou ’n mens teen dié datum al deeglik voorberei moet wees om te kan oorleef. Mens sou jouself kon troos dat Geryl waarskynlik verkeerd is; daar is geen rede dat die einde spesifiek op 21 Desember 2012 hoef te wees nie. Maar die onvoorspelbaarheid van die einde is ’n tweesnydende swaard. As dit regtig soos ’n dief in die nag kom, kan dit net sowel vroeër gebeur. Dalk kan dit môre plaasvind. En hoeveel van ons sal dan voorbereid wees?
Die beste raad wat mens dus in ’n boek soos hierdie kan gee – die een brokkie raad wat alle ander wenke in belangrikheid oortref – is dat jy vandag moet begin voorberei. Jy kan hierdie boek verder lees terwyl jy in die tou in die hardewarewinkel wag waar jy voorrade vir die laaste dag gaan koop. Jy hoef nie paniekbevange te raak nie, maar pak solank rustig jou oorlewingstassie, gaar die nodige voorrade op en bespreek jou planne met jou naasbestaandes. Jy kan nooit met sekerheid sê môre is nog ’n dag nie.
Jakkals het reeds ’n hele grot vol voorrade gestop, maar jou voorbereidings vir die oordeelsdag hoef glad nie so omvattend te wees nie. Sorg net dat jy aan drie aspekte van voorbereiding aandag gee:
1. Pak ’n skarrelsakkie.
2. Kom met jou naasbestaandes op ’n vlugplan ooreen.
3. Leer een of twee belangrike oorlewingsvaardighede.
Pak ’n skarrelsakkie
As die krag- en kommunikasienetwerke in duie gestort het, sal daar gou chaos heers oral waar groot groepe mense saamdrom. Talle oorlewingskenners waarsku jy moet so gou as moontlik uit die stad of groot dorp kom sodat jy nie in moontlike onluste vasgevang word wanneer mense teen mekaar draai nie.
Maar vra jou af: As ’n wolk kernbestraling uit een rigting op pad is en ’n mega-tsoenami uit die ander, die aarde bewe onder jou voete en die lug ruik na swael, het jy regtig nog tyd vir inkopies?
Ander mense wat dieselfde gevolgtrekking as jy gemaak het, wil waarskynlik ook die stad verlaat en gaan binnekort die grootste verkeersknoop in menseheugenis veroorsaak, maar as jy slim genoeg was om jou basiese proviand voor die tyd te pak, kan jy die tyd gebruik wat hulle nog daaraan moet afstaan om die plaaslike Pick n Pay te gaan plunder. Jy kan dadelik in die pad val en uit die stad wees nog voordat die ander mense klaar gepak het.
Met dié doel voor oë: Pak ’n klein rugsakkie (ons noem dit sommer jou skarrelsakkie) en sit dit óf in jou motor se kattebak óf iewers waar jy dit net kan gryp voordat jy in die motor spring.
Omtrent elke persoon wat oor oorlewingstrategieë vir die eindtyd skryf, het ’n lys van wat in so ’n skarrelsakkie hoort, en tussen dié lyste is daar merkwaardige ooreenstemming. Wat jy sal móét pak as jy wil oorlewe, is ten minste die volgende:
• Goeie stapskoene: Dit gaan die verskil tussen lewe en dood beteken. Die laaste bietjie brandstof in jou stad gaan binnekort op wees. Die laaste fietswiel gaan pap wees. Dan gaan ons almal moet stap. Lang ente stap. Soms gaan jy teen berge op moet klouter. Soms gaan jy deur die veld moet sukkel om kos te soek. Soms gaan jy dalk selfs voor ’n stroom lawa uit moet hardloop. Enigiets wat jou blase gaan gee of waarvan die hakke gaan breek, gaan jou noodlottig vertraag.
• Waterfilters: As die elektriese krag verdwyn, is pompwater daarmee saam iets van die verlede. Daar is heelwat maniere waarop jy op die lang termyn water kan suiwer, maar dit is alles tydrowend. Vir die eerste dag of twee gaan jy heel moontlik aan die beweeg wees en sal jy iets nodig hê waarmee jy vinnig jou vereiste liter per dag kan suiwer. Een van daai klein filtertjies wat jy in die supermark koop en wat in ’n plastiekhouer pas, is ideaal. (Dit lyk ’n bietjie soos die houers waarin mens jare gelede sakkies melk in jou yskas laat staan het.) Kry twee. En hoewel dit ’n goeie idee is om ’n paar vol bottels water in jou motor se kattebak saam te ry, kan jy maar daarvan vergeet om iets so swaar op jou rug saam te dra.
• ’n Koplamp: Jy gaan ’n flits nodig hê. Die soort wat jy om jou kop bind, is nuttiger as een wat jy moet rondswaai.
• Droë kos: Vir die eerste dag of twee kan so twee flesse grondboontjiebotter baie help, sê die oorlewingsghoeroe Matt Stein. Dis vol energie en raak heel lekker as jy honger genoeg is. Maar jy kan ook net sóveel grondboontjiebotter saamdra. Pak ’n sakkie lensies en ’n sakkie bruinrys. Dit maak heelwat kos en is ryk aan voedingstowwe.
• ’n Klein noodhulpkissie. Om voor die hand liggende redes.
• Verbande: Die soort waarmee jy ook blase op jou voete kan ontsmet voordat hulle opswel. Jy gaan baie stap, dalk al voordat julle uit die stad gekom het (die paaie gaan baie vinnig onbruikbaar raak weens verkeersknope). Jy gáán blase kry. In ’n situasie waar mens moet vlug, is blase ’n noodlottige siekte. Sorg dat jy voorbereid is.
• ’n Veeldoelige mes, soos ’n Leatherman. Jy ken daardie gevoel as jy blikkieskos op ’n kamp saamgevat het of wyn op ’n piekniek en jy besef jy sit sonder blikoopmaker of kurktrekker. Gewoonlik is dit ’n lastigheid. In ’n eindtydoorlewingstryd kan dit jou dood beteken.
• Iets om jou warm te hou, soos ’n waterdigte baadjie. Selfs al is dit hoogsomer, onthou die aarde is pas deur ’n ongekende ontwrigting en gaan vreemde klimaatstoertjies uithaal.
• ’n Draagbare radio’tjie wat kortgolfseine opvang. Kortgolf gaan ten minste tydelik die enigste medium raak waarmee mense nog oor afstande kan kommunikeer en jy sal waardevolle inligting só kan opvang.
• ’n Goeie sigaretaansteker en waterdigte vuurhoutjies. Jy sal uiteindelik self vuur moet maak, maar vir die eerste paar dae het jy iets nodig wat minder moeite verg.
• ’n Fluitjie: Min mense sal daaraan dink, maar dit is lewensbelangrik. Die kans is goed dat jy iewers in ’n skeur gaan val (as die aarde onder jou oopgeruk word) of onder ’n rotsstorting gaan beland (jy weet nie wat die aarde alles rondom jou gaan opspoeg nie). Dalk kan jy beseer word. In al dié gevalle gaan jy hulp wil ontbied, en jou stembande sal nie noodwendig die werk kan verrig nie.
• ’n Kastrol om jou rys en lensies in te kook.
• Waterdigte sakke: Ingeval jy deur water moet beweeg.
• ’n Eenvoudige gasmasker: Spesifiek indien daar ’n kernvoorval of ’n vulkaniese uitbarsting naby jou was. Gifgas en bestraling gaan jou bereik en jy wil nie in jou laaste oomblikke aan jou eie bloed stik nie.
Wat om nié in jou skarrelsakkie te sit nie, is omtrent net so belangrik. Los tog die volgende by die huis:
• Die iPad en die skootrekenaar: As daar ooit iets was wat jou van jou Facebook-verslawing sal genees, is dit die einde van die wêreld. Die moderne wêreld (eintlik die hele wêreld wat jy geken het) is verby. As jy met jou rekenaars kan vuurmaak, is hulle nuttig. Anders, los hulle.
• ’n Kragopwekker. Daar is hordes en hordes webwerwe en boeke wat jou gaan vertel hoe om ’n kragopwekker te bou en in die Laaste Dae aan die gang te hou. As jy wil, kan jy dit bestudeer en ’n kragopwekker aanmekaarsit wanneer jy by jou langtermynskuilplek kom. Maar dit is nie iets wat jy op jou rug wil dra nie.
• Fotoalbums. Mense vertel dikwels hoe die fotoalbums die eerste ding was wat hulle uit ’n brandende huis gered het. Dit klink dalk roerend, maar dit is ook gevaarlik dwaas. As jy die fotoalbums wil eet, kan jy dit as kos saamdra, maar andersins is dit onnodige gewig. Sentiment gaan nie lewens red nie.
• Daai Danielle Steel-boek wat jy nog altyd klaar wou lees. Jy gaan nie op ’n strandvakansie nie.
• Wapens. Dié een is omstrede. Party mense gaan jou lang lyste gee van watter gewere en pyl-en-boë jy moet saamdra met die oog op jou toekomstige oorlewing; ander gaan jou vertel dit is self ’n gevaar. Ek hou nie van wapens nie en gaan dit vermy. Besluit maar self.
En wat van Wagter?
Baie mense sal stry oor die vraag of die troeteldier moet saamgaan of nie. Dit hang natuurlik af watter soort dier dit is. Die koei gaan nie in die motor pas nie. Die kat sal waarskynlik rondloop op die tydstip dat jy vinnig moet vertrek. Die meeste ander diere sal wel by die huis wees en kan in die motor gelaai word. Hoewel daar mense is wat jou sal aanraai om nie die diere saam te vat nie, meen ek jy moet. Hulle kan vir jou in die dae wat voorlê ’n waardevolle bron van emosionele steun wees. Die ontsteltenis wat jy sal beleef as jy die marmot agtergelaat het, is ook nie die moeite werd nie.
’n Hoenderhen sal ’n besonder nuttige troeteldier wees om by jou te hê. En ’n hond kan in die dae wat voorlê ook veral ’n waardevolle metgesel wees. Die deeltjies wat die asteroïde-impak en die supervulkaan die atmosfeer ingeblaas het, gaan alle sonlig afsny en ’n ysige kernwinter laat losbars. Jy sal geen verwarmer hê nie en vuur gaan skaars wees. ’n Hond langs jou in die slaapsak is dalk net die ding. (Ek vermoed dit is hoekom die oermense, wat nog lank nie van warmwatersakke geweet het nie, in die eerste plek honde mak gemaak het.)
En as dinge eendag régtig desperaat word, kan jy altyd vir Wagter opeet.
Kom met jou naasbestaandes op ’n vlugplan ooreen
As ons eensklaps in die Steentydperk gedompel word, is daar sekere mense wat jy naby jou gaan wil hê. Jou gesin uiteraard. Maar dalk ook daardie één persoon in jou vriendekring, die een met die rowwe baard en die wilde oë, wat vakansies op staptoere in die Kongo gaan en 25 jaar gelede ’n recce was.
As jy vinnig moet vlug, gaan jy nie al dié persone betyds bymekaar kan kry nie. Reël dat elkeen so gou as moontlik op hul eie uit die stad kom (dit is die eerste prioriteit), maar spreek ook af dat julle mekaar iewers buite die stad ontmoet. Dié rendezvous-plek moet vir almal bereikbaar wees en moet relatief gerieflik wees – die ouens wat eerste daar uitkom, gaan waarskynlik ’n rukkie moet wag vir dié wat laaste opdaag.
As daar iemand in jul groep is wat ’n huis op ’n plaas iewers het, kan dit goed werk. ’n Plaashuis is gerieflik, julle kan ekstra voorrade daar begin opgaar, en al is dit ’n opsigtelike plek, behoort julle daar veilig te wees vir die eerste dag of twee voordat die samelewing in totale barbarisme verval.
Leer een of twee belangrike oorlewingsvaardighede
Ja, ja, jy was twintig jaar gelede op Veldskool; maar dit is nie genoeg nie. Jy het heelwat van die belangrikste vaardighede reeds vergeet. Die beste manier om vas te stel wat jy nog moet aanleer, is om ’n paar dae in die wildernis te gaan kampeer en te sien waartoe jy alles in staat is. Gaan vir ’n langnaweek Sederberge, Bosveld of Transkei toe. Moenie in ’n chalet bly nie; slaap in ’n tent. Probeer met so min as moontlik klaarkom. Jy sal gou besef waar die gapings in jou veldkennis is.
Hier is solank een of twee van die dinge wat jy vooraf kan aanleer:
• Leer om vuur te maak sonder vuurhoutjies.
• Vind soveel moontlik uit oor veldkos en veldmedisyne. Afhangende van die landstreek waar jy jou gaan bevind, is daar waarskynlik reeds iewers ’n boek wat jou sal vertel presies wat jy kan eet en wat jou kan genees. Heuning het wonderlike antiseptiese eienskappe. Johanneswortel kan tot ’n (helaas beperkte) mate instaan vir die antidepressante wat jy by die huis vergeet het. Dit alles kan jy in die regte boeke leer. Koop een en bestudeer dit deeglik.
• Leer noodhulp. Jy gáán een of ander tyd bene moet las, gebreekte ribbe moet reghelp en nare siektes moet behandel. Dit gaan nie lekker wees nie, maar as ons voorgeslagte dit in die dae voor mediese fondse kon doen, kan ons seker ook.
• Leer om stil te word en na jou innerlike stemmetjie te luister. ’n Kursus in meditasie of stiltegebed kan help. Ek sal later verduidelik hoekom.
As jy dit alles gedoen het, is die kans nog ver van honderd persent dat jy die einde gaan oorleef. Maar dinge lyk al ’n bietjie beter.
Nou moet jy wag dat die vonke begin spat.
’n Welkome einde Dit is duidelik dat daar uiteenlopende menings is oor hoe die menslike spesie aan sy einde gaan kom – en ons het nie eens gekyk na teorieë dat Switserse wetenskaplikes per ongeluk ’n swart kolk gaan skep wat die aarde gaan insluk, of dat robotte wat ons nou aan die bou is, eendag vir hulself kan begin dink en ’n wêreldwye staatsgreep uitvoer nie. Maar een goue draadjie loop deur die meeste van dié eindtydvoorspellings: Die doemprofete stem oor die algemeen saam dit sal ’n hartseer dag wees as die mensdom uitsterf. En tog stem ’n klein, maar toegewyde groep mense nie saam nie. Hulle glo vas die einde van die mensdom is die beste ding wat met die aarde kan gebeur. En daar is geen sin daarin om te wag totdat ’n asteroïde of ruimtespesie die mensdom kom uitwis as ons dit sommer self kan doen nie. Les U. Knight is die stigter en baasbrein agter die Voluntary Human Extinction Movement (VHEMT), ’n internasionale beweging van mense wat glo as almal net sou ophou om kinders te kry, sal ons spesie relatief vinnig van die aarde verdwyn en sal die wêreld ’n beduidend beter plek wees. Knight is al sedert die 1970’s ’n groot gees in die meer radikale uithoeke van die groen beweging, en deur die jare het hy begin besef die oorweldigende meerderheid van die aarde se probleme word deur mense veroorsaak. Mense maak in elk geval met aardverhitting en habitatsvernietiging hul eie verwoesting onvermydelik, so pleks daarvan dat ons vir so ’n katastrofe wag (wat ’n klomp ander spesies en ekosisteme saam met ons die niet in gaan neem), meen hy sal dit veel beter wees as die mensdom net stil-stil van die aarde af verdwyn voordat ons enige verdere skade aanrig. Uiteraard sou dit verkeerd wees as mense mekaar (of hulself ) op groot skaal doodmaak – en indien Knight dít aanbeveel het, was hy waarskynlik reeds agter tralies. Pleks daarvan stel hy voor dat almal net ophou om kinders te maak, sodat die oorblywende mense gaandeweg ouer word, en die heel laastes oor ’n eeu van ouderdom sterf. Dan kan die aarde rustig op sy eie tyd van ons invloed herstel. Knight het VHEMT in 1991 gestig. Op die beweging se webwerf skryf hy: “Elke keer as een van ons besluit om nie nog mense te voeg by die miljoene mense aan wie ons geteisterde planeet reeds so swaar dra nie, skyn nog ’n straal van hoop in die duister. As elke mens kies om op te hou aanteel, sal die aarde se biosfeer na sy voormalige glorie terugkeer en alle oorblywende wesens sal in vryheid kan lewe, ontwikkel en sterf.” Knight se visie van ’n krimpende groep mense wat stadig ouer word en uiteindelik die aarde heeltemal mensvry laat, klink op die oog af morbied, maar as mens eers by ’n plek soos Jakkals se afgeleë grot in die Oos-Kaap gesien het hoe lyk ’n wêreld wat vry is van mense se inmenging, dan besef jy daar is meriete in Knight se betoog. Dalk moet ons ophou om die mensdom se voortbestaan uit te rek deur nog mense te maak. Iemand wat hiermee saamstem, is David Benatar, ’n filosofieprofessor aan die Universiteit van Kaapstad en skrywer van die boek Better Never to Have Been, ’n werk wat deur filosowe so hoog aangeslaan word dat Oxford University Press dit in sowel harde- as sagteband uitgegee het. Benatar skryf ons neem verniet aan dat ons ons kinders ’n guns bewys deur hulle in die wêreld te bring. In ’n wêreld wat toenemend onder ekologiese en ander vorme van verval gaan sukkel, is die grootste guns wat jy jou kinders kan bewys om hulle nooit te hê nie. Hy skryf: “Terwyl goeie mense heelwat moeite sal doen om hul kinders swaarkry te spaar, besef min van hulle dat die een (en enigste) manier om te waarborg dat jou kinders nie gaan swaarkry nie, is om hulle nooit in die eerste plek te laat bestaan nie.” Party mense sal dié woorde as morbied beskou; ander sal ’n vreemde sprankie hoop daarin sien. Dit is ’n toekomsvisie van ’n aarde waar diere rondbeweeg sonder dat iemand hulle in fabrieksplase opsluit, waar riviere vrylik vloei sonder dat enigiemand hulle opdam, waar woude gedy sonder dat iemand dit vir hout afkap, en waar die visse van die see ongeërg vermeerder sonder dat hul getalle in reuse-vangnette geknou word. Geen gifgasse wat deur fabriekskoorstene uitgepomp word en geen suurwater onder die grond meer nie. Dit klink so ’n bietjie soos ’n terugkeer na die aarde wat ’n miljoen jaar voor ons aankoms bestaan het. ’n Aarde sonder mense. ’n Aarde nuut en vry. |