Slot

As die eindfluitjie net nie wil blaas nie . . .

’n Paar jaar gelede, ek dink dit was 2006 of 2007, het ek vriende gemaak met Johannes Coetzee. Ek het destyds ’n blog bedryf waar ek oor die een en ander geskryf het, en Johannes het uit die bloute daar opgedaag en onder die skuilnaam Johannes 11 (te doen met iets wat in die Bybelse hoofstuk staan, hoewel ek nooit regtig kon agterkom wat nie) kommentaar begin lewer. In dié kommentare het hy ’n eienaardige storie vertel: Op 21 Mei 2011 gaan die einde van die wêreld begin. Alle gelowiges gaan op daardie dag weggeraap word hemel toe en diegene wat agterbly, sal ’n paar maande lank erg ly totdat die wêreld op 21 Oktober van dieselfde jaar heeltemal verwoes sal word.

Baie ander mense wat die eerste keer Johannes se boodskap gehoor het, het onmiddellik gereageer deur óf te spot óf kwaad te raak. Ek moet bieg ek het self by tye só gereageer, maar Johannes het altyd vriendelik gebly, vir mense lang lyste Bybelverse aangestuur waarmee hy sy voorspelling probeer bewys het en onwrikbaar by sy storie gehou. Ons het aanhou korrespondeer en op ’n manier penvriende geword.

Ek het Johannes die eerste keer van aangesig tot aangesig ontmoet vroeg in 2010, met die wegraping wat al gevaarlik naby gekom het. Hy het via Johannesburg, waar ek woon, gereis en ons het op die lughawe saam koffie gedrink. Johannes was ’n geskeide middeljarige man, lief vir lag, en oor koffie het hy my vertel dat hy die boodskap oor die einde van die wêreld gehoor het op Family Radio, ’n internasionale radiodiens waarmee ’n Amerikaanse evangelis genaamd Harold Camping mense oor 21 Mei 2011 waarsku. Family Radio saai ook in Suid-Afrika uit via ’n ou BBC-sender in Lesotho. Toe Johannes eendag per abuis op Family Radio se sein inskakel, het Camping se boodskap hom gou oortuig. Daar is honderde ander mense in die land wat elk op eie stoom al Family Radio se boodskap teëgekom het en dit glo, het hy my vertel.

Ek het vir Rapport, die koerant waar ek werk, ’n beriggie van sowat 500 woorde oor Johannes en sy boodskap geskryf. Die dag nadat dit gepubliseer is, het die radiostasie RSG my gevra om op die lug daaroor te praat. Mense het van heinde en verre ingebel, sommige om te sê hulle ondersteun Johannes se boodskap, ander om te sê hy praat kaf, een om te sê ek het die datum van die sondvloed en Noag se landing verkeerd en daarom verstaan ek nie die voorspelling reg nie. Verskeie ander koerante en radiostasies het die storie opgevolg, Johannes het spoedig ’n beroemde man geword, en meteens was die land aan die gons oor 21 Mei 2011.

Johannes het die roem benut. Hy en van die ander luisteraars van Family Radio het meer as 5 miljoen pamflette gedruk, hul werk laat staan en die land deur gereis om mense tot hul boodskap te bekeer. Van tyd tot tyd het ek en Johannes oor die telefoon gepraat en elke keer was hy op ’n ander plek met sy evangelisasieveldtog – dan op Potchefstroom, dan Hermanus, dan Beaufort-Wes. Gaandeweg het hy al hoe meer inligting oor die verwagte wegraping bekend gemaak: ’n Groot aardbewing sou daardie dag in Fidji begin en reg rondom die wêreld beweeg. Miljoene ongeredde siele sou sterf. Net diegene wat opreg glo, sou betyds weggepluk word.

Ondanks dié neerdrukkende gedagte het Johannes vrolik gebly. Vreemd genoeg het hy my nooit uitgevra wat ek self glo nie, net altyd bly geklink om te gesels.

Op 21 Mei 2011 het ek my by Johannes en sy vriende in ’n hotel in Braamfontein aangesluit om te kyk hoe hulle vir die wegraping wag. Daar was ’n belangrike rugbywedstryd op TV en van die manne het hul tyd afgewissel tussen Bybelstudie en om vir oulaas rugby te kyk. Dit het laatmiddag begin word, dit was reeds 22 Mei in Nieu-Seeland en niemand is nog weggeraap nie. Wat sal julle doen as niks gebeur nie? het ek gevra. Dit sal gebeur, het hulle geantwoord.

Die volgende oggend is Johannes en sy vriende stil-stil uit die hotel uit terug huis toe. Ek was verlig dat hulle ten minste nie in hul teleurstelling sianiedpille gedrink het nie, maar ook spyt oor al die mense landwyd wat vir hulle gelag het en Johannes valslik daarvan beskuldig het dat hy ’n liegstorie uitgedra het om geld uit mense te maak. Ek het geweet dit was nooit sy bedoeling nie.

Daardie middag het Johannes met sy bakkie, wat vol kennisgewings oor die wegraping geplak was, sy tuisdorp Nelspruit binnegery. Die eerste ding wat hom op sy tuisdorp begroet het, was ’n ander motoris wat by sy motorvenster uitgehang het en vir hom skree: “You fucking psychopath!”

Hoe oorleef mens dit? het ek gewonder terwyl my hart vir die arme Johannes gebloei het. Hoe leef jy daarmee saam as die einde net nie wil kom nie?

* * *

Die eerste keer dat ek Johannes ná dié fiasko van aangesig tot aangesig gesien het, was ’n jaar later toe ek in Nelspruit gekuier het. Ek het hom vir ete uitgeneem. Hy het in sy bakkie opgedaag, die kennisgewings steeds op die deure geplak. Oral het ander inwoners van Nelspruit hom herken en iets oor 21 Mei 2011 opgemerk.

Vir die eerste keer het ek met Johannes oor sy persoonlike geskiedenis gesels, oor die jare lank vantevore toe hy as stad- en streeksbeplanner deur die ou NP-regering na Nelspruit verplaas is om te help om nuwe dorpe te ontwerp vir swart mense wat teen hul sin uit hul woongebiede verskuif is.

Hoekom is hy so gefikseer op die einde van die wêreld? wou ek by hom weet. Hoekom is daar so baie mense wat gretig klink dat die wêreld moet vergaan?

Hy het sy mes en vurk op sy bord neergesit en ’n oomblik gedink. “Ek het ’n eerlike behoefte aan ’n beter wêreld,” het hy geantwoord. “Ek voel dit régtig. God het ons geskape met die besef dat daar ’n beter wêreld ná hierdie een kan wees en daarom hunker ons almal dat dié een moet verbygaan.”

Iets het ook in die hier en nou vir hom verander toe hy hom op die einde begin voorberei het, vertel Johannes oor ete. Hy het mense leer ken wat ook na Family Radio luister en sy opvattings deel, mense met wie hy nooit voorheen vriende sou maak nie. Mense met vanne soos Tshabalala en Khumalo. Hy, ’n voormalige stads- en streeksbeplanner vir die regering wat arm swart mense uit hul huise verskuif het, het skielik met daardie einste mense begin saamwerk, saam met hulle gereis na plekke waar hy nooit andersins sou kom nie om pamflette uit te deel aan mense met wie hy nooit voorheen sou gesels het nie.

“Ek het saam met my vriende in taxi’s en treine gery. Ek was in die armste buurte van Khayelitsha. Ek het geloop deur hondestront, mensestront, en besef, hier woon mense! Hoe kan mense só lewe? Jy vra jouself af, hoe kon ons so geestelik siek geword het dat dinge só kan wees?” Die einde van die wêreld het sy oë vir onreg oopgemaak.

Die een groot verandering wat sy eindtydavontuur vir hom meegebring het, is dat hy ’n nuwe wêreld hier op aarde gesien het, dat sy oë oopgegaan het vir ’n deel van die mensdom wat hy voorheen nooit raakgesien het nie. Hy vertel my later, met trane in sy oë, hoe hy gaan kuier by sy nuwe beste vriend, ’n arm tuinwerker op ’n Vrystaatse dorp, en hoe hulle saam oor die eindtyd gesels. Hoe dit sy hart breek as hy nou besef hoe swaar mense soos sy nuwe vriend finansieel kry en hoe graag hy iets daaraan sal wil doen. Voordat dit te laat is.

* * *

Daar is iets wat soms gebeur onder diegene wat hulle vir die einde van die wêreld regmaak. Ek kan dit nie self verklaar nie, maar ek sien soms hoe dié mense, terwyl hulle vir ’n nuwe aarde wag, ’n verandering in hul verhouding met die huidige werklikheid beleef. Terwyl hulle daaraan werk om hulle op die einde van die wêreld voor te berei, skep hulle ’n beter werklikheid op aarde. Johannes Coetzee verwag die wegraping op 21 Mei 2011, maar vind ’n nuwe gemeenskap van gelowiges hier op die ondermaanse. Jakkals Loubser gaan soek ’n grot om vir die eindtyd weg te kruip, maar raak uiteindelik verlief op die veld en natuur. Christophorus Columbus wil ’n weg na Indië vind om die wêreld op die Nuwe Jerusalem voor te berei, maar vind eerder die Nuwe Wêreld. Organisasies soos die Heilsleër staal hulle vir die apokalips, maar word daardeur geïnspireer om met hul werke die huidige wêreld ’n beter plek maak.

Ja, daar is ook die David Koresh’e en Charles Mansons, maar hulle is net die helfte van die storie. Daar is ook iets, só kom mens agter, in baie regtig goeie mense wat hulle oortuig die wêreld gaan eindig en wat hulle in staat stel om uit daardie eindverwagting iets te put wat hulle sterker en beter mense maak.

Hoe meer ek oor die eindtyd getob het, hoe meer het ek ’n baie klein sprankie hiervan in my eie gemoed gewaar. Al het my ondersoek my oortuig ons wêreld stuur vinnig op sy einde af, was my reaksie nie een van neerslagtigheid nie, maar eerder ’n groeiende verwondering en waardering vir ons vlietende menslike bestaan op dié gedoemde, maar beeldskone, planeet.

* * *

Ek is nie een van die mense soos Johannes of Ben of Patrick Geryl wat meen die mensdom se bestaan op aarde gaan in die volgende twee of drie jaar tot ’n einde kom nie. Ek gee ons nog so honderd of tweehonderd jaar. Maar dan sal dit oor wees. Ons gaan nie veel langer as dít hou nie. Die ekologiese ramp wat ons op die aarde ontketen het, is reeds onomkeerbaar. En wanneer ’n ekologiese ineenstorting ons menslike beskawing eers weerloos en kreupel gelaat het, sal ’n supervulkaan of groot ruimterots maklik die res van ons uitwissing afhandel.

Party mense sal vra watter troos daar vir ons is in die aangesig van dié gedoemde lot? Ek sou wou antwoord dat troos nie regtig nodig is nie. As jy eers vrede gemaak het met ons naderende einde, besef jy gou die wêreld sal waarskynlik oukei (selfs beter) wees sonder ons. Die einde van die mensdom sal vir ons klein en kortstondige spesie soos ’n enorme katastrofe voel, maar dit sal uiteindelik vir die res van ons aarde se bewoners (om nie eens van die res van ons grote, stille heelal te praat nie) niks meer wees as net nog ’n oorgang na ’n volgende fase in die kosmos se ryke geskiedenis nie. Iets wat baie vinnig verwerk en gou daarna vergeet sal word.

Toe ’n groot asteroïde 65 miljoen jaar gelede die dinosourusse uitgewis het, sou dit vir enige koudbloedige superreptiel van daardie tyd soos ’n ongeëwenaarde ramp gevoel het. Maar vir die klein, harige soogdiertjies wat tot op daardie tydstip in gate en in boomtakke vir die dinosourusse moes wegkruip, was dit letterlik ’n bestiering uit die hemel. Die einde van die dinosourusse se wêreld het vir die soogdiertjies ’n kans gegee om uit hul skadu te beweeg en self ’n beurt te kry om die wêreld te oorheers – ’n verwikkeling wat die ontstaan van bokke, perde, olifante, kangaroes, ape, mense en uiteindelik ek en jy tot gevolg gehad het.

As ’n volgende massa-uitwissing die einde van die mensdom beteken, sal dit die speelveld skoonmaak sodat ’n volgende spesie die aflosstok by ons kan oorneem om weer, soos ons voorouers ná die dinosourusse se uitwissing, húl beurt te kry om die wêreld met hul eskapades te verryk. Sommige bioloë het al bespiegel oor wie die aarde ná ons sal beërwe. Een gewilde kandidaat is die kakkerlak, maar hulle is waarskynlik te klein. In sy boek After Man: A Zoology of the Future skryf die dierkenner Dougal Dixon dit sal waarskynlik rotte wees, ’n spesie wat gehard genoeg is om ’n groot ramp te oorleef en wat eintlik net wag vir die mensdom om die verhoog te verlaat sodat hulle uit ons skadu kan tree. Wanneer die mensdom nie meer daar is om hulle te onderdruk nie, sal evolusie heel moontlik ’n magdom nuwe variasies van die rot te voorskyn bring – Dixon voorspel roofrotte wat so groot en vinnig soos jagluiperds sal word, asook “moddervreters”, rotte so groot soos seekoeie wat in vars water sal woon. Hy meen ook die mens se afwesigheid kan ’n ekologiese nis skep vir die ontwikkeling van ’n spesie wat hy noem die “grobbejaan”, afstammelinge van die bobbejaan wat groter as bere sal word en in die woude koning sal kraai. Ek wens ek kon hier wees om dit te sien.

Die punt is dat die wêreld in ons afwesigheid ’n ryke en kleurvolle ekosisteem sal ontwikkel wat vir geen besoeker uit die buitenste ruimte noodwendig armer gaan lyk net omdat ons nie meer hier is nie. Inteendeel.

As ons met ons spesie se verganklikheid vrede maak, kom daarmee saam die besef dat dit nie ons arme spesie se alleenplig hoef te wees om vir ewig sin aan die heelal te gee of die vlam van lewe brandend te hou nie. Ons hoef nie vir ewig gebuk te gaan onder die las van titels soos “kroon van die skepping” of “toppunt van evolusie”, wat die totaal onrealistiese verwagting by ons geskep het dat ons vir ewig moet voortbestaan nie. Ons kan die lewe soveel te meer geniet omdat dit ’n voorreg is – een wat vir ons, ’n paar geslagte van die mensdom, ’n paar eeue lank gegun is voordat die somber gordyn oor ons ook sak. Ons kan ophou vasklou en eendag uitsterf in die wete dat die aarde (en selfs lewe) nog lank sonder ons sal voortgaan.

Ons spesie het ’n begin gehad, en ons sal ’n einde ook hê.

Dit was dag gewees.

En dit het nag geword.

En dit was goed.