Nou weet hy hoe dit voel om tussen hamer en aambeeld te staan, dink oom Giepie verbysterd. Hy blik oor sy skouer in die rigting van die kombuis waar tant Breggie besig is om vir hulle koffie te maak, en storm op tant Engela af. Hy gryp sy reënjas van die kapstok af, kry tant Engela aan die arm beet en stoot háár by die voordeur uit.
“Giepie, wat op aarde …?” begin tant Engela verdwaas toe sy onverwags weer voor oom Giepie se deur in die reën staan.
Oom Giepie trek sy voordeur geluidloos agter hom toe en glimlag met ongewone vriendelikheid met tant Engela. “Jy sal dit nie glo nie, Engela, maar daardie woonstel is kouer as ’n vrieskamer in ’n slaghuis. Ek was juis op pad na jou gesellige, warm kombuis toe. Onthou jy nie hoe dol ek op die ou antrasietstoof was nie? En die groot ou kombuistafel … Kom ons gaan eet die pannekoek in jou kombuis,” pleit hy desperaat, bang dat die voordeur enige oomblik agter hom sal oopgaan en ’n tierende tant Breggie sal uitspuug.
“Jy hét graag in die kombuis gekuier,” gee tant Engela toe en begin die trap afstap.
“Vinniger, Engela,” por oom Giepie, haak by haar in en storm die trap af, terwyl tant Engela doodsbenoud aan sy arm vasklou.
“Stadig, Giepie! As ons gly, breek ons ons bene en ons nekke!” waarsku sy uitasem.
Miskien, dink oom Giepie wrang, maar kom hy nie betyds weg nie, maak Breggie en Engela beurte om sy nek te breek. Hy verstewig sy houvas op tant Engela en drafstap deur die reën oor die agterplaas.
“Dit reën hard, Engela! Toe, toe, drawwe! Netnou lê jy ook met griep in die bed – en wie bak dan vir my pannekoek?”
Sy besorgdheid oor haar bring ’n warm gloed in tant Engela se binneste. Sy glimlag met die skugterheid van die jeug met hom, voel ineens uitgelate soos ’n kind en draf vinniger.
Oom Giepie maak die agterdeur oop, laat tant Engela binnegaan en loer benoud oor sy skouer in die rigting van sy woonstel voordat hy die kombuis binnestap, die deur toemaak en dit agter hom grendel.
“Dit ís heerlik warm hier,” sê tant Engela wat reeds besig is om haar reënjas uit te trek.
“Gee vir my jou reënjas, Engela,” sê oom Giepie galant, bang dat tant Engela sal merk dat hy die agterdeur gegrendel het.
“Dankie, Giepie. Jy was altyd so ’n hoflike man,” sê tant Engela gevlei.
Oom Giepie hang tant Engela se reënjas langs syne aan twee hake aan die agterdeur op, drapeer sy reënjas oor die grendel van die deur en loop na die antrasietstoof toe. Hy steek sy hande na die stoof uit. “Lekker! Elektrisiteit het sy voordele, maar niks kan ’n koolstoof of ’n kaggelvuur vervang nie.”
“Dis waarom ek nie die ou stoof laat verwyder het toe ek ’n elektriese stoof aangeskaf het nie,” sê tant Engela, haar blik bekommerd op oom Giepie. Wat makeer die man? Hy is vriendelik, maar hy lyk ongewoon gespanne. Het hy dalk slegte nuus ontvang ? wonder sy.
“’n Koppie koffie en ’n pannekoek sal vorentoe smaak, Engela,” sê oom Giepie en neem by die groot kombuistafel plaas.
“Die water kook reeds,” kom dit gerusstellend van tant Engela. “Rook maar jou pyp, Gerhard. Jy weet die geur van tabak het my nog nooit gepla nie.”
Gerhard. Oom Giepie se hand wat sy pyp uit sy hempsak haal, tril liggies. Hy het geglo hy het Engela lankal vergeet, maar wanneer sy hom Gerhard noem, is hy weer ’n jongman van vyf-en-twintig. Hy kyk na haar, maar sien nie haar grys hare en plooie raak nie. Sy is weer die Engela van veertig jaar gelede: ’n beeldskone, liefdevolle meisie wat met skugtere blydskap in sy arms geloop en hom gesoen het. Hy twyfel nie daaraan dat haar liefde vir hom opreg was nie, en tog … sy het hom in die steek gelaat.
“Jou koffie, Giepie. En die pannekoek is heerlik warm,” roep sy hom terug tot die hede.
“Jy noem my soms Gerhard, Engela,” sê hy en kyk in haar oë.
Sy slaan haar blik neer, ’n sagte blos op haar wange. “Net wanneer ek my verspreek. Eet nou, voordat die pannekoek koud word.”
“Dalk hou ek daarvan wanneer jy jou verspreek,” sê hy en wens dan hy kan sy tong afbyt. Wat makeer hom? Hy het Engela nog nooit vergeef vir haar verraad jeens hom nie. As sy hom destyds liefgehad het, sou sy ná haar moeder se dood na hom toe gekom het. Maar sy het nie, want haar liefde was so oppervlakkig soos die dun yslagie op die eendepan, wat deur die flou winterson binne ’n paar uur gesmelt word.
Hulle eet en drink in stilte, want die verloop van veertig leë jare kloof ’n onoorbrugbare afgrond tussen hulle.
Oom Giepie lê sy vurk neer, klad sy lippe met ’n servet en kyk na die kombuisvenster skuins agter tant Engela. Sy woorde van dank sterf stikkend in sy keel toe hy tant Breggie gewaar. Sy hou haar hande bak langs haar gesig, haar neus platgedruk teen die ruit, en loer na binne. Haar oë ontmoet dié van oom Giepie en sy beduie wild met haar regterhand.
Oom Giepie spring op uit sy stoel asof hy deur ’n by gesteek is. Hy bereik die venster met enkele treë en pluk die gordyne toe.
“En nou, Giepie?” vra tant Engela verras.
“Ek voel koulik wanneer ek na die reën kyk. Skink vir my asseblief nog ’n koppie koffie, Engela,” versoek hy gesmoord en storm na die venster links van die agterdeur. Maar tant Breggie is vinniger as hy en haar lippe vorm reeds onhoorbare woorde toe hy die gordyne voor die venster toemaak. “So ja! Nou lyk die kombuis ekstra knus en warm. Die pannekoek smelt in my mond, Engela. So dun en goudbruin …”
Agter hulle word daar hard aan die agterdeur geklop.
“Nou wie kan dit wees?” vra tant Engela verwonderd.
“Dis sommer ’n tak wat teen die venster skuur. Die wind waai nogal sterk,” sê oom Giepie en verwens tant Breggie uit die diepte van sy hart.
Die klop aan die deur word herhaal, juis toe Roland die kombuis binnekom. “Is julle doof?” vra hy onthuts. “Iemand klop.”
“Dis net ’n boomtak …” begin oom Giepie en kreun hoorbaar toe Roland die agterdeur ontgrendel en oopmaak. Die volgende oomblik kom tant Breggie met haar rooi reënjas die kombuis al skellend binne.
“Ongepoetste pierewaaier! Swernootse mansmens! Laat my soos ’n opperste gek koffie maak en draf dan agter ’n ander rok aan. Jy, Giepie Taljaard, is ’n verleier van goedgelowige vroue!” tier tant Breggie en beduie armswaaiend na oom Giepie.
“Wat praat jy tog, Breggie?” vra tant Engela verward. “Hou jou neus uit my privaat sake, Engela van Jaarsveld! Wanneer twee minnaars rusie maak, is dit ’n saak tussen hulle.”
“Minnaars?” wurg oom Giepie verdwaas uit.
“Minnaars? Wat vertel tannie my?” vra Roland en bars skaterend uit van die lag.
Oom Giepie wip op uit sy stoel en gluur die laggende Roland aan. “Vee daardie grinnik van jou bakkies af, vent, voordat ek dit vir jou doen!” bulder hy dreigend.
“Agge, siesa, Giepie, jy praat nie mooi met Roland nie. Het hy nie met sy eie geldjies hierdie einste rooi reënjassie vir my laaste verjaarsdag vir my gekoop nie? Die aanstellerige Engela wil my nooit toelaat om in haar motor te ry nie, maar Roland skaam hom nie vir my armoede nie. Daar is niks wat die liewe seun nie vir sy tant Breggie sal doen nie,” kom dit verwytend van haar.
“Sowaar?” Oom Giepie klink oneindig verlig. “In daardie geval: neem Roland saam met jou na my woonstel toe, Breggie, en gee vir hom die pannekoek wat jy vir my gebak het.” Hy kyk na die bak pannekoek wat op die stoof staan. “Ek het meer pannekoeke geëet as wat goed is vir my, maar daarvoor moet ek Engela blameer.”
Tant Engela blaas haarself toornig op. “Jy, Breggie Stapelberg, het jou taai, verbrande pannekoeke agter Giepie aangedra?”
“En hoekom nie, Engela van Jaarsveld? Dis ’n vry land en ek is vry om –”
“Om te vry,” val Roland haar met vonkelende oë in die rede.
“Stuitige vent!” snou tant Engela. “Uit, Roland, en neem die orige vroumens saam met jou. Verbeel jou: dra pannekoeke agter mý kuiergaste aan. Ek kan my so vervies.”
“Jy is jaloers, mens,” sê tant Breggie vermakerig. “Jy sukkel en sukkel, maar jy sal nooit my postuur hê nie. Jy is vet,” kry sy ’n laaste stekie in en maak die agterdeur oop. Die plooie op haar wange konsertina in ’n glimlag. “Kom, Roland, boetie. Ek en jy sal saam pannekoek eet.”
Roland kyk verlangend na die glasbak met pannekoek op die stoof en sug met aanvaarding. “Ja, tant Breggie,” antwoord hy en maak die kombuisdeur agter hulle toe.
Oom Giepie en tant Engela staar mekaar in stilte aan, kyk weg, maar soek weer mekaar se oë.
“Jy kon vir my gesê het Breggie het vir jou pannekoek gebring, Giepie. As ek geweet het sy is in jou kombuis besig–”
“Het ek koue, taai pannekoeke en flou koffie gekry,” val hy haar in die rede.
“Sy bedoel dit goed,” sê tant Engela en slaan haar oë neer onder oom Giepié se deurdringende blik.
“Breggie is die soort vrou wat van haarself ’n oorlas sal maak as jy haar die geringste kans gee. Ek wou wegkom. En toe jy skielik in my deur staan … Ek wou in my gisters gaan kuier. Vreemd,” sê hy mymerend en kyk om hom rond, “net vir ’n kort rukkie was gister weer vandag.”
“Ek weet. ’n Warm stoof en pannekoek het veertig jaar uitgewis.” Tant Engela staan op. “Dankie dat jy gekom het, Giepie.”
Hy huiwer en stap dan na die agterdeur om sy reënjas te kry. “Dalk reën dit môre weer,” sê hy en stap die kombuis uit.
Gerhard … Gerhard … pols sy naam met elke hartklop deur haar are. Jy klou aan gister vas, glo dat ons liefde in gister se lente gesterf het, maar as jou liefde ’n immerlente was … Nee, sy is ’n dwaas. Giepie het gelyk: hulle jeugliefde sal nie in die winter van hulle ouderdom herleef nie, dink sy en sak stadig op ’n kombuisstoel neer om oor ’n vergete gister te rou.
Roland steek in die oopstaande deur vas en staar oomblikke lank na die slapende Lelani. Hy stap geluidloos nader, ’n skinkbord met pannekoek en koffie in sy hande, en bly vlak langs haar bed staan. Kan een meisie oor soveel skoonheid beskik? wonder hy. En tog, dis nie net haar skoonheid wat hom met soveel ongekende honger na haar laat kyk nie. Hy het nie vyf-en-dertig jaar oud geword sonder om talle mooi meisies te ken nie.
Hy onthou die huilende meisie op die bliktrommel, sien voor sy geestesoog haar opregte vrees vir ou Poena, roep haar blye glimlag toe hy die lammertjie in haar arms gelê het, in herinnering en dan besef hy: sy beskik oor geen magiese krag behalwe dié van eerlikheid nie.
Adéle het hom bedrieg en Yvette … Yvette verkondig haar lojaliteit aan hom van die dakke af, maar hy weet reeds jare lank dis leuens. Hy was in geen stadium die enigste man in haar lewe nie. Sy kan hom nie daarvoor blameer dat sy ongetroud is nie. Yvette het tot dusver die lewe ten volle geniet, haar gunste en gawes uitgedeel en haarself wysgemaak dat hy geduldig op die agtergrond wag om met haar te trou wanneer sy moeg word van haar oorsese vakansies, talle partytjies en permissiewe lewenstyl.
Maar hy wil nie nou aan Yvette dink nie, besluit hy en plaas die skinkbord onnodig hard op die bedkassie neer.
Lelani kreun in haar slaap, maak haar oë oop en staar hom aan. Hy sien hoe die waas van slaap, wat soos ’n digte mis oor die diepgrys water van ’n meer in haar oë lê, voor die sonskyn van haar glimlag verdamp.
“Slaapkous! Is jy wakker genoeg om pannekoek te eet?” vra hy skertsend.
“Pannekoek!” Sy sit gretig orent, ril en kyk na die kaggelvuur wat laag brand. “’n Mens kan voel dis herfs. Die reën laat dit soos winter voel.”
Hy drapeer ’n trui om haar skouers en plaas die skinkbord op haar skoot neer. “Eet, terwyl ek die vuur aanpak. Ek is nog altyd innig dankbaar teenoor my oupagrootjie wat gesorg het dat daar kaggels in al die slaapkamers is. Niks is so welkom soos ’n oop kaggelvuur na ’n lang dag buite in die koue nie.”
“Ek het gesien daar is twee kaggels in die sitkamer,” sê sy terwyl sy ’n koppie koffie skink.
“Omdat een kaggel nooit die ruim vertrek sou kon warm maak nie.” Hy kom orent en bly aan die voetenent van haar bed staan. “Zelna Joubert het gebel. Jy weet wie sy is?”
Sy knik en eet smaaklik aan die pannekoek.
“Zelna kon nie vanmiddag kom nie, want sy het ’n klompie bestellings laatmiddag gekry. Maar sy sal haar bes doen om môre ’n draai te kom maak,” vertel hy.
“Dalk is ek môre al gesond,” sê sy optimisties.
“Nie as jy net ’n halwe pannekoek eet nie. Tant Engela sal gekrenk voel as jy nie minstens twee pannekoeke eet nie,” waarsku hy, neem op die gemakstoel langs haar bed plaas en vertel haar van tant Breggie se besoek aan oom Giepie.
Sy skaterlag en hy lag saam met haar. Hulle kyk in mekaar se oë en hulle lag verstil eensklaps. Hy leun nader en plaas sy songebruinde hand op hare.
“Ek is bly jy het hierheen gekom, Lelani.”
Haar asem haak in ’n pynknop in haar keel vas. Sy kyk af na sy groot hand, intens bewus van sy aanraking. Hy moes dit nie gesê het nie, dink sy met ’n gevoel van teleurstelling wat aan hartseer grens. Hy moes nie so vreemd na haar gekyk en haar hand gevat het nie, want skielik … skielik het alles verander.
Nee, niks het verander nie. Die gedruis van die reën op die dak en die sussende geknetter van die kaggelvuur het dieselfde gebly. Hy het dieselfde gebly, maar sy het verander.
Een oomblik het sy nog in sy oë gelag, was sy bly dat hy haar eindelik aanvaar, maar nou … Sy vriendskap is nie meer genoeg nie. Sy wil vry wees om haar hand uit te steek en liggies oor die letsel op sy wang te streel – om die pyn van sy herinneringe weg te streel. Sy wil sy hand vashou en dit nooit weer laat gaan nie.
Is dit liefde? Hierdie bange hoop in haar; hierdie stil verlange wat met onsigbare vingers om haar hart vou en die tobbende pyn probeer stil? Is dit liefde?
“Is jy nie bly nie?” vra hy en lag in haar oë.
“Dis die beste plek om siek te wees,” hoor sy haarself sê, verstom dat haar stem so normaal klink. Sy het geglo elke kyk, elke woord sal haar gevoel vir hom verraai, maar sy het verniet gevrees. Sy kan lag en gesels terwyl haar liefde wegkruipertjie speel in haar hart.
“Jy het nog net een pannekoek geëet,” sê hy kamma kwaai.
“Kry ons nog aandete?” vra sy.
“Vanselfsprekend, maar eers so teen sewe-uur.”
“Dan is een pannekoek genoeg. Hier, jy kan die ander een kry,” sê sy en hou die bordjie na hom uit.
“Ek laat my nie twee maal nooi nie. Ná tant Breggie se taai, verbrande pannekoeke sal hierdie een soos koningskos smaak.”
Sy hou hom dop terwyl hy eet. Vreemd dat sy nooit voorheen opgemerk het hoe volmaak sy lippe gevorm is nie. As hy haar sou soen … Sy kreun haar onmag uit, sluit haar oë en leun terug teen haar kussings.
“Ek het te lank gekuier,” sê hy spytig. “Ek is jammer as ek jou uitgeput het, Lelani. Slaap gerus weer ’n bietjie,” vervolg hy, tel die skinkbord op en stap die kamer uit.
Trane vorm agter haar ooglede en loop eers een-een in ’n smal, glimmende paadjie oor elke wang. Dan haal die vergeefsheid van haar liefde haar in en haar trane word ’n stortbui wat oor haar ken afdrup en met koue vingers in haar nek streel. Sy druk haar gesig in haar kussing, skree haar pyn geluidloos uit, hou aan skree totdat die pyn stil word en slegs die tobbende seer in haar binneste haar aan haar liefde herinner.
Tant Breggie loer nuuskierig oor haar onderdeur toe sy Yvette se luukse sportmotor in haar agterplaas sien stilhou. ’n Breë glimlag stoot die plooie uit haar lippe na haar mondhoeke toe en sy lig haar regterhand, maak sporadiese knypbewegings met haar vingers en roep hartlik: “Haai! Haai, Yvette!”
“Saggies, tant Breggie!” waarsku Yvette gedemp terwyl sy vinnig nader stap. Sy stoot tant Breggie saam met die onderdeur uit haar pad en gaan die klein, skemerdonker kombuisie binne. “Dis beter! Kom ons hoop niemand het my gesien nie,” sê sy verlig en plaas ’n groot mandjie met groente en vars vleis op die kombuistafel neer.
“Hoe meen jy nou, Yvette? Ek het jou mos gesien en ek is nie sommer niemand nie,” kom dit gekrenk van tant Breggie.
“Tannie is my vriendin – my beste vriendin,” sê Yvette, haar glimlag stroperig. “Toe, pak die mandjie uit. Behalwe die skaapboud en -ribbetjie is daar ook ’n hoender.”
“Agge, dierbaarheid, dat ek nou so geseën kan wees. En al die groente! Reken, Yvette, ek het mos nou oorgenoeg om ’n eersteklas ete te kook en die liewe Giepie te nooi. Glo my, sussie, dis nie ’n liegstorie nie: die pad na ’n man se hart loop deur sy maag, nè?”
“Nie die man wat ek wil hê nie,” sê Yvette stroef. Sy loop na die klein venstertjie wat ’n uitsig op die hoë ringmuur het. “Is die gat in die ringmuur nog daar, tant Breggie?”
“Natuurlik, liefie. Maar dis my en Roland se geheim, want vind ou Engela daarvan uit, kry sy nog vandag ’n bouer om die gat toe te messel.” Tant Breggie kom langs Yvette staan en rek haar dun nekkie lank uit, haar blik op Huis Daeraad wat gedeeltelik bokant die ringmuur sigbaar is. “Sy is ’n suinige mens, dié Engela: suinig met haar kos en suinig met haar mans. Nie dat sy ’n spul mans het nie. Sy het net ou Giepie, maar sy het hom hoeka nie meer nie. En noudat ek hom wil hê, wil sy hom nie vir my gee nie.”
“Tannie wil met ’n armsalige pensioenaris trou?” vra Yvette onthuts.
Gloede van ergernis vlek tant Breggie se wange rooi. “Wat praat jy, meisiemens? Of Giepie salig is, sal ek nie weet nie, maar hy is beslis nie arm nie. Hy was mos ’n geleerde man, ’n advokaat en als. En slim! Ek het self sy naam vroeër jare in die koerante gelees. Hy kon ’n skelm lag-lag loslieg, want dis mos wat al die slim advokate doen. Reken, hy het in Engeland gestudeer – dis seker daar waar hy so lekker leer lieg het. Maar dit het van hom ’n ryk man gemaak … seker net so ryk soos ou Engela.”
“Is tannie seker van tannie se feite?” vra Yvette ongelowig.
“Yvette, selfs ek kan nie lieg en terselfdertyd die waarheid praat nie. Ek weet wat ek weet. Ek meen, kyk jy na Giepie, sal jy nie sê hy is ryk nie, maar sien jy sy motor … Haai, sussie, sal dit nie wonderlik wees as ek penregop langs Giepie in sy blink motor kan sit en vir almal kan vertel die geleerde advokaat is my eie man nie?” vra tant Breggie met ’n skaam glimlaggie, slaan haar hande saam en staar droomverlore deur die venstertjie.
“As hy so ryk is, waarom woon hy in die woonstel bo-op die ou stal?” twyfel Yvette nog.
“Omdat hy ordentlik is,” sê tant Breggie vroom. “Hy is ’n ongetroude man en jare gelede sou hy en Engela getrou het. Wat sal die mense sê as hy nou saam met haar onder een dak woon? Nee a, ’n vername man soos hy moet aan sy goeie naam dink.” Tant Breggie lê ’n klouagtige hand op Yvette se arm. “Dalk kan jy ’n goeie woordjie vir my doen by Giepie, sussie. As hy hoor ek het ryk vriende, sal –”
“Ja, ja, tant Breggie,” val Yvette haar ongeduldig in die rede. “Maar eers moet tannie my help. Tannie kom dikwels in Huis Daeraad. En tannie en Roland is goed bevriend.”
Tant Breggie glimlag ingenome. “Dit kan jy nog ’n keer sê, Yvette. Ek meen as ek jonger was, sou Roland met my getrou het.”
Yvette wonder of sy tant Breggie ’n afjak moet gee, maar besluit daarteen. Dis dwaas om ’n vyand te maak van iemand wat jy nuttig kan gebruik, dink sy en glimlag gedwonge. “Natuurlik sou hy, tannie. Maar intussen woon daardie dingetjie, Lelani Wessels, saam met hom onder een dak. Wat sê Roland van haar?”
Tant Breggie frons tot haar oë toegaan. “Niks nie, Yvette, nie ’n enkele woord nie.” Haar oë rek ongelowig. “Jy is nie dalk bang dat Roland met háár sal trou nie, sussie?”
Yvette byt hard op haar tande, ’n donker gloed in haar oë. “Dis wat ek die meeste vrees,” erken sy byna onhoorbaar.
“Dan het hy iets gesê, liefie?” vra tant Breggie bekommerd.
“Nee, maar … Ek en Roland was vriende. Ek weet hy het my nog nooit liefgehad nie, maar ek was altyd welkom in Huis Daeraad. Tannie weet self: wanneer hy ’n funksie bygewoon het, het ek hom altyd vergesel. Ek het die indruk gekry dat ek ’n belangrike rol in sy lewe speel.”
“En so is dit, want eendag sal julle tweetjies trou en –”
“Nee, tant Breggie!” val Yvette haar kras in die rede. “Ek het myself wysgemaak hy sal met my trou, maar vandat daardie meisiemens hierheen gekom het … Nee, dit het alles met my stiefpa se dood begin. As ek Roland net nooit saam met my na Huis Winterrus toe geneem het nie …”
“Ekskuus, Yvette, maar nou praat jy my ou kop heeltemal deurmekaar. Is jy nie bly jy het jou pa se huis geërf nie?” vra tant Breggie verbaas.
“Ja, ja, ek is, maar Lelani … Ek móét met haar praat, tant Breggie.”
“Nou waarvoor wag jy? Sy is tog jou stiefsuster en as jy haar wil besoek…”
“Dis nie so eenvoudig nie. Ek was gistermiddag daar, maar tant Engela het gesê sy slaap. Ek het vanoggend weer gebel, maar tant Engela het my laat verstaan Lelani is te siek om besoekers te ontvang. Dis waarom ek hier is, tant Breggie. As tannie tant Engela kan besighou, kan ek ongemerk by ’n sydeur inglip en my liewe stiefsustertjie besoek.”
“Maar, Yvette, jy kom mos asof jy gestuur is! Engela het my nou-nou gebel en gevra of ek sal kom, want sy en Giepie gaan gou ’n paar inkopies doen.” Tant Breggie kyk na die wekker op ’n rakkie teen die muur en klap haar hand teen haar mond. “Kyk net waar loop die tyd! Dis al vyf voor elf en Engela en Giepie wil elfuur ry. Kom, sussie! Jy kan by die gat in die ringmuur wag en sodra die twee weg is, kom jy oor. Toe, toe, liefie, roer jou litte!”
“Ek is nou daar, tannie,” antwoord Yvette met ’n glimlag van triomf op haar lippe.
Verveeld, dis wat sy is, dink Lelani terwyl sy voor haar kamervenster staan en kyk hoe tant Engela en oom Giepie in sy motor in die lang rylaan wegry. Sy is moeg vir haar bed, moeg vir slaap, maar tant Engela het besluit dat ’n verdere dag in die bed haar geen skade kan doen nie. As dit net ’n sonnige dag was, dink sy misnoeg, haar blik op die dreigende reënwolke. Sy sal terugklim in haar bed en probeer lees, besluit sy en loop traag na haar bed toe.
Sy neem op haar bed plaas, kyk na die boek op haar bedkassie, maar laat dit onaangeraak. Sy kan nie lees nie, want Roland se gesig verskyn op elke bladsy en glimlag in haar oë. Wat het van haar gesonde verstand geword? vra sy haarself ergerlik af. Roland is ’n donker, stroewe man met ’n geletselde gelaat, ’n man wat agt jaar gelede ’n meisie liefgekry het en haar nooit weer kon vergeet nie. En tog … Roland is die man wat haar met ’n enkele kyk kan laat wegsweef na die verste sterre …
“Jou arme ding, ek kan sommer sien jy het opbeurende geselskap nodig,” praat Yvette onverwags waar sy in die deuropening staan.
Lelani snak hoorbaar na haar asem en skuif vinnig onder haar laken in. “Hallo, Yvette,” groet sy gespanne. “Roland en tant Engela is nie tuis nie.”
“So vertel tant Breggie my, maar ek het jóú kom besoek,” antwoord Yvette en neem op die gemakstoel langs die bed plaas. Sy leun nader en lê haar hand op dié van Lelani. “Ons het nooit die voorreg gehad om mekaar as kinders te ken nie, maar ons is tog stiefsusters. Dis vanselfsprekend dat ons boesemvriendinne gaan word, want ek het klaar besluit om jou onder my vlerk te neem en jou te laat welkom voel op Stadlerheim.”
“Ons het niks gemeen nie, Yvette. Jy is agt jaar ouer as ek en –”
“Moenie dit hardop sê nie!” val Yvette haar met ’n valse laggie in die rede. “Glo my, as Roland my nie reeds gevra het om met hom te trou nie, sou ek beslis soos ’n oujongnooi gevoel het.”
Voor haar geestesoog sien Lelani ’n duiselingwekkende afgrond voor haar voete oopkloof; sy sien haar aarselende liefdesdroom aftuimel in die niet. Sy voel die bloed uit haar gesig dreineer, sluit haar oë vinnig, sodat sy nie haar pyn aan Yvette verraai nie en leun terug teen haar kussings.
“Kyk, ons het gisteraand verloof geraak,” sê Yvette opgewonde en hou haar linkerhand na Lelani uit. “Dink jy nie ook dis ’n pragtige ring nie? Nogal ’n erfstuk. Ek meen dit het aan sy oorlede ma behoort.”
Lelani dwing haar oë oop en staar stom na die skitterende diamant. “Dis pragtig. Baie geluk, Yvette,” sê sy toonloos en vervolg met meer entoesiasme: “Ek hoop julle sal baie gelukkig wees. Tant Engela sal –”
“Tant Engela weet niks van ons verlowing nie,” val Yvette haar vinnig in die rede. “Jy weet hoe die ou vrou oor my voel. Jy is my stiefsustertjie, Lelani, daarom kan ek jou vertrou, maar moet om liefdeswil niks hieroor vir tant Engela sê nie. Ook nie vir Roland nie, want totdat hy tant Engela tot ander insigte kan bring, het hy my gevra om ons verlowing geheim te hou.”
“Maar tant Engela kan tog nie verhoed dat julle trou nie?”
Yvette sug gevoelvol. “Nee, sy kan nie, maar sy is baas in Huis Daeraad. Ek en Roland het genoeg geld om vir ons ’n spogwoning te bou, maar Huis Daeraad is die tradisionele woning van die Stadlers. Roland moet tant Engela doodeenvoudig oorreed om my as sy bruid te aanvaar.” Yvette se stemtoon word pleitend: “En jy kan ook help, Lelani.”
“Ek?” vra Lelani werktuiglik. Waarom word sy nie weer flou nie? Of nog beter: waarom gaan sy nie liewer dood nie? wonder sy wanhopig. Roland gaan met Yvette trou, daarom het die lewe sy betekenis verloor. Sy sien nie kans vir ’n leeftyd van nuwe môres nie – leë môres, want Roland sal nie deel wees daarvan nie.
“Ja, jy, Lelani. As jy werklik my vriendin kan wees en tant Engela van ons vriendskap kan oortuig, sal sy my gouer aanvaar. Jy sien seker kans om dit ter wille van my en Roland se geluk te doen?” pleit Yvette.
Lelani bedek haar oë met haar hand. “Ek voel naar. As jy my ’n rukkie alleen kan laat, Yvette …”
“Lekker teetjies vir die siek meisie!” kom dit hartlik van tant Breggie. “Sit regop, liefie, en drink jou tee. Wat van ’n lekker stukkie koek? Maer is mooi, Lelani, maar jy is te benerig. Toe, toe, Yvette, help Lelani om regop te sit.”
“Help jy haar, tant Breggie. Ek moet nog ’n draai op die dorp maak.” Yvette staan op en glimlag liefies met Lelani. “Sien jou, my ding. En onthou: nie ’n woord oor ons geheimpie nie!” waarsku sy en stap die kamer haastig uit.
“Watter geheim?” vra tant Breggie nuuskierig, haar nek lank uitgerek asof sy na die geheim soek.
Lelani glimlag halfhartig en sit orent. “Yvette het sommer oor haar en Roland gepraat, Tannie. Dit was niks belangriks nie,” antwoord sy ontwykend en laat tant Breggie toe om die skinkbord op haar skoot neer te sit.
“Dis g’n geheim nie, ou kintatjie. Ek het nog die ander dag met Roland oor Yvette gepraat. Hy maak nie mooi met die liewe kind nie. Sy loop haar skoensole deur agter hom aan, maar wat doen hy? Behandel haar soos net nog ’n meubelstuk in die huis.” Tant Breggie gluur vies om haar rond. “Asof hier nie oorgenoeg meubels is nie.”
“Roland is ’n teruggetrokke man, Tannie. As hy ’n meisie liefhet, sal hy dit nie aan almal uitblaker nie,” sê Lelani afgetrokke en proe lusteloos aan haar tee.
“Ha!” sê tant Breggie en laat dit soos ’n uitdaging klink. “Ha! Dit wys hoe min jy van Roland weet, sussie. Ek ken die seun vandat hy doeke gedra het. En ek was hier toe hy op Adéle verlief was. Haai, liefie, hy was soos ’n lammertjie in die lente – skoon baldadig! Dit was Adéle voor en Adéle agter, en wanneer sy kom kuier het, kon hy nie sy hande van haar afhou nie. Ek is nie preuts soos ou Engela nie, maar partymaal het Roland my laat bloos. Hy was so uitspattig verlief, so asof hy niks ouer as sestien was nie, maar al die tyd was hy al sewe-en-twintig.”
“En dis hoe hy Yvette liefhet?” vra Lelani gelykmatig.
Tant Breggie frons en trek haar mond op ’n tuit. “Plig is nie liefde nie, Lelani. Dis Roland se dure plig om met Yvette te trou, nadat sy soveel jare getrou op hom gewag het. En dis wat ek hom duidelik laat verstaan het.”
“Sal tant Engela hulle huwelik goedkeur?”
“Nooit as te nimmer nie!” Tant Breggie frons nadenkend. “Dis iets wat ek nog nooit kon verstaan nie: die manier waarop Engela skielik teen Yvette gedraai het. Ek sal lieg as ek sê Engela was vroeër mal oor die dogter, maar voordat Roland en Adéle verlief geraak het, was Engela darem vriendelik met haar. En toe, sommerso, besluit Engela dat Yvette nie meer welkom is in Huis Daeraad nie. Maar aan die ander kant: ou Engela het vroeg kinds geraak, terwyl ek helder van verstand gebly het.”
“Maar as Roland en Yvette …” begin Lelani en bly skielik stil toe sy voetstappe in die gang hoor nader kom. Sy kyk na die kamerdeur en glimlag verras toe Zelna met ’n ruiker rose in haar hande die vertrek binnekom.
“’n Spesiale aflewering vir ’n baie spesiale meisie!” kom dit laggend van Zelna. “Hallo, tant Breggie. Haai, Lelani. Jou hartebreker het weer vir jou ’n ruiker rose gestuur, maar dié keer is dit spierwit rose.”
“Wie het die rose gestuur?” krys Yvette en storm die kamer binne. Zelna staar haar onthuts aan en Yvette tree vinnig nader. “Die kaartjie. Gee vir my die kaartjie, meisiemens. Ek het die reg om te weet wie vir my stiefsuster blomme stuur!”