“Agge, siesa, sussie,” sê tant Breggie betigtend, kry Yvette aan die linkerarm beet en klou met al die krag in haar dun armpies. “Hoe kan jy so ongepoets wil wees om Lelani se kaartjie te wil lees? Nee a, dis mos nie manierlik om … eina!” krys sy toe Yvette haar ru wegstamp. Sy struikel agteruit, stamp teen die voetenent van die bed en gaan sit hard. Sy kyk met ’n beteuterde laggie oor haar skouer na Lelani. “Ag, ekskuus tog, liefie, maar ek het nie aspris op jou voete gaan sit nie.”
“Alles reg, tant Breggie,” sê Lelani met ’n gespanne glimlag en neem die kaartjie wat Zelna aan haar gee.
“Wys my die kaartjie, Lelani,” beveel Yvette bars en tree nader aan Zelna wat nog met die ruiker in haar hande langs Lelani se bed staan.
“Jy sal niks wys word uit die kaartjie nie, Yvette,” sê Zelna gelykmatig. “Ek het toevallig die kaartjie getik en dis onderteken deur ’n geheime bewonderaar. As jy wil weet wie die geheime bewonderaar is, sal jy die waarheid uit my moet wurg.”
“Jy lieg vir my!” snerp Yvette. “Lelani se naam was met ink op die koevert geskryf. Ek het die handskrif herken.”
“As jy weet wie dit is, waarom gaan jy dan soos ’n waansinnige tekere?” vra Zelna koel.
“Hou jou neus uit my sake, jou armsalige ding! Ek en Lelani het geen geheime vir mekaar nie, want ons is stiefsusters.” Yvette slaag met bomenslike inspanning daarin om haar lippe in ’n glimlag te plooi terwyl sy na Lelani kyk. “Jy ken my grootste geheim, my kleinsus. Ek mag seker sien wat jou geheime bewonderaar in sy kaartjie aan jou skryf?”
Lelani kyk op, haar uitdrukking kil. “Was jy nie op pad dorp toe nie, Yvette? Wie weet, wanneer jy weer kom, is ek dalk bereid om my geheim met jou te deel.”
Yvette gluur haar met onverbloemde haat aan, haar lippe styf opmekaar gepers. Sy was reeds op pad dorp toe, toe sy Zelna in haar afleweringswa sien aankom. Sy het teruggekom, want as Roland weer ’n ruiker aan die opdringeringe meisietjie gestuur het … Roland het gereeld ruikers vir Adéle gekoop, maar dit was opsigtelik dat hy op haar verlief was. Maar Roland is nie verlief op Lelani nie, daarom kan sy net een afleiding maak: Lelani en Roland is minnaars.
“Roland word suinig op sy oudag,” smaal sy. “Sy vorige minnaresse het duur juwele gekry.” Sy merk die blos van ontsteltenis en verleentheid op Lelani se wange en lag nydig. “Jy ken die waarheid, Lelani. As jy nogtans soos ’n goedkoop meisie wil optree, sal jy tevrede moet wees met sy goedkoop geskenkies,” vervolg sy en stap met haar neus in die lug die kamer uit.
“Slaan my dood!” kom dit oorbluf van tant Breggie terwyl sy met haar kort beentjies voel-voel na die vloer en van die bed afwriemel. Sy staar Lelani aan. “Haai, liefie, is jy nie nog te jonk om … om sulke dinge aan te vang nie?”
“Watter dinge, tannie?” vra Lelani ingehoue.
Tant Breggie maak ’n wilde gebaar met haar regterhand. “Sedelose dinge, sussie. Wat sal die mense op die dorp sê as hulle van jou en Roland se dinge moet hoor?” fluister sy geskok.
“Hou onmiddellik op, tant Breggie!” kom dit streng van Zelna. “As tannie dit durf waag om een woord te herhaal wat daardie venynige slangwyfie oor Lelani en Roland gesê het, sit tannie môre op straat.”
“Noem jy my ’n skinderbek, Zelna?” vra tant Breggie gekrenk.
“Nee, tant Breggie, maar ek herinner tannie graag daaraan dat tannie tannie se huis teen ’n lae bedraggie van Roland huur. As tannie van plan is om sy en Lelani se naam te beswadder, sal ek sorg dat hy tannie wegjaag – en ’n saak van laster teen tannie aanhangig maak,” dreig Zelna.
“Maar Yvette sal mos nie jok oor so ’n … so ’n skandelike ding nie?” vra tant Breggie verward.
“Yvette sal nie vir moord terugdeins as sy kan verhoed dat Roland aan enige ander meisie aandag gee nie. Maar as tannie nie my woord wil aanvaar nie, praat dan met Roland. Hy sal die waarheid oor hom en Lelani aan tannie vertel.”
Tant Breggie glimlag gevlei. “Ook waar. Ek en Roland het g’n geheime vir mekaar nie. En Yvette kan maar lekker lieg as sy die dag lus het. Soos toe sy vir my die diamanthangertjie gegee het. Weet jy wat die juwelier op die dorp gesê het, Zelnatjie? Dis g’n diamant nie, net ’n stukkie glas.” Sy lyk ’n oomblik lank gekrenk en glimlag dan ingenome. “Gelukkig weet net ek en die juwelier dis glas, want ou Hettie Peens en Annatjie Botha glo dis ’n regte, egte diamant.”
“Lelani het klaar tee gedrink. As tannie die skinkbord kombuis toe kan neem …” probeer Zelna van haar ontslae raak.
“Haai, dat ek my pligte so kan verwaarloos. Wat van jou, Zelna? Wil jy nie ook ’n ietsie drink nie?”
“Nee, dankie, tant Breggie,” antwoord sy en slaak ’n hoorbare sug van verligting toe tant Breggie die skinkbord optel en in die gang uitstap. Sy blik na Lelani, merk die bleek strakheid van haar gelaat en glimlag bemoedigend: “Lees jou kaartjie. Ek tap solank water in die blompot.”
Sy wil nie die ruiker of die kaartjie hê nie, dink Lelani en staar na die kaartjie in haar hand, asof dit iets vuil is. Sy wonder skielik of daar dalk tog iets steek in Yvette se onsmaaklike insinuasies … Koop Roland slegs vir haar ruikers omdat hy hoop dat sy die rol van sy minnares sal speel?
Sy frons, skeur die koevertjie oop en haal die kaartjie uit. Haar oë lees onwillig sy boodskap: Welkom in Huis Daeraad, Lelani. Ek hoop dis vir jou ’n huis sonder bliktrommels of trane. Roland.
’n Sagte warmte vloei deur haar binneste en lig haar mondhoeke in ’n glimlag. Niks kan onskuldiger wees as Roland se boodskap nie. Hy beskou haar uiteindelik nie meer as ’n onwelkome gas nie en op sy manier sê hy aan haar dat haar verblyf hopelik gelukkig sal wees.
“Dit lyk beter,” kom dit ingenome van Zelda wat uit die badkamer die vertrek binnekom en die ruiker op die spieëlkas neersit. “Ná Yvette se lasterlike aantygings is dit goed om jou weer te sien glimlag.”
Lelani byt tobbend op haar onderlip. “Ek kan Yvette se optrede nie verstaan nie. Sy weet sy en Roland gaan binnekort trou, maar –”
“Sê wie?” val Zelna haar onthuts in die rede.
Lelani kyk ongemaklik weg. “Ek het beloof om nie daaroor te praat nie, maar Yvette het nie meer rede om te twyfel dat Roland met haar gaan trou nie.”
Zelna lag wrang. “Yvette het nog nooit getwyfel dat Roland met haar sal trou nie. Dis waarom sy nie gehuiwer het om die beeldskone Adéle Erasmus na haar mondigwordingspartytjie toe te nooi nie.”
“Jy het Adéle geken?” vra Lelani nuuskierig.
“Eintlik net van sien, want ek is nie een van die rykes nie. Maar sy het een of twee keer by my blommewinkel ingeloer. Sy was ’n natuurlike rooikop met helder blou oë en ’n gesiggie wat menige rolprentster haar sou beny het. Sy en Roland was so opsigtelik verlief op mekaar…”
“Wat het gebeur, Zelna? Waarom is sy en Roland nooit getroud nie?” vra Lelani en wonder hoe dit moontlik is Om jaloers te voel op ’n meisie wat sy nooit geken het nie.
Zelna frons en sê versigtig: “Daar was soveel stories en bespiegelinge, maar al wat ek met sekerheid kan sê, is dat Adéle dood is.”
“Dood?” fluister Lelani geskok en voel skuldig omdat sy oomblikke gelede nog jaloers was op die onbekende Adéle.
“Ja. Aanvanklik is daar gesê dat Roland die motor bestuur het, maar in die hofsaak het dit duidelik geword dat Adéle onder die invloed van drank en dwelms was toe sy in Roland se motor geklim het. Hy wou haar nie toelaat om sy motor te bestuur nie, daarom het hy ook ingeklim, maar sy wou nie luister nie. Sy het soos ’n besetene in die plaaspad afgejaag en teen ’n boom gebots. Sy is op slag dood en Roland … Roland dra nog altyd die letsel op sy gesig.”
“Het die ongeluk op Gunterland gebeur?”
“Nee. Yvette het ’n groot partytjie vir Roland en Adéle op haar oom se plaas, Goedgevonden, gehou. Oom Nathan en tant Melinda was met hulle jaarlikse vakansie weg strand toe en Yvette was baas. Destyds was sy nog ’n student saam met Adéle, en omdat Adéle se ouers in Johannesburg gewoon het, het sy dikwels naweke en vakansies saam met Yvette deurgebring,” vertel Zelna.
“Jy het van drank en dwelms gepraat. Het Adéle gereeld dwelmmiddels gebruik?” vra Lelani verwonderd.
Zelna sug en skud haar kop. “Niemand weet nie. Ek glo Roland sou dit agtergekom het as dit wel die geval was. Maar aan die ander kant: dwelmslawe is meesters in die kuns om hulle verslawing geheim te hou. Ná haar dood het ons wel gehoor dat Adéle, wat ’n knap student was, gedurende die laaste ses maande voor haar dood dikwels nie haar klasse bygewoon het nie. Haar werk het ook agteruitgegaan en sy het selde indien ooit ’n toets geskryf.”
“Yvette het niks van haar verslawing geweet nie?”
Zelna glimlag sinies. “Die liewe Yvette was meer geskok as Roland of tant Engela. Sy het as ’t ware op haar knieë gestaan om Roland om vergifnis te vra, omdat sy Adéle aan hom voorgestel het. Sy het aan almal wat wou luister, vertel dat sy haarself blameer vir Roland se gebroke hart en sy geskende gesig.”
“Dit moes vir hom ’n ontstellende ervaring gewees het,” sê Lelani simpatiek.
“Ek weet nie.” Zelna vryf ingedagte met haar wysvinger langs haar neus. “Aanvanklik het Adéle taamlik gereeld in Huis Daeraad kom kuier. Maar toe het sy skielik verkies om altyd by Yvette-hulle op Goedgevonden tuis te gaan. Ek glo dit het tant Engela seergemaak, want sy het Adéle soos ’n eie kind behandel.”
“Maar dit het nie Roland minder lief gemaak vir Adéle nie?” vra Lelani, bewus van ’n tobbende seer diep in haar. Sy doen as ’t ware ’n lykskouing van Roland se liefde, terwyl haar eie liefde net sowel dood kon gewees het. Sê die digter nie: Net een maal in die lewe kom die liefde weergaloos … Roland het liefgehad en die dood het tussenbeide gekom. Moontlik is die feit dat Adéle ’n oormaat alkohol en dwelms gebruik het, die rede waarom Roland in ’n koue, hardvogtige man verander het, ’n man wat nooit weer in die wonder van die liefde sal glo nie.
“Roland het nog nooit met sy gevoelens te koop geloop nie. Ek glo hy was altyd onseker oor die motiewe van meisies wat belang stel in hom, want wanneer ’n man ryk en aantreklik is … Stel meisies in sy bankbalans belang of in hom as mens? Ek onthou …” Zelna swyg, ’n skugter glimlag op haar gesig.
“Jy onthou?” por Lelani.
Zelna kyk op, versluierde hartseer in haar oë. “Dit het sowat twee jaar gelede gebeur, op my ses-en-twintigste verjaarsdag. Tant Engela vergeet nooit my verjaarsdag nie. Dié oggend het Roland ’n geskenkie namens haar na my winkeltjie toe gebring. Ek het gespot en gesê ek sit nou behoorlik op die rak, want ’n skewe pot kry dalk ’n deksel, maar ’n lelike meisie wat boonop arm is, kan daarvan vergeet om ’n bruidegom te koop. Dis toe dat Roland gesê het hy wens hy was lelik en arm, want sy rykdom is net ’n vloek wat Adéle gouer na haar dood toe gestuur het.”
“Wat het hy daarmee bedoel?” Lelani trek haar asem stadig in, haar oë groot van skok. “Zelna, hy het nie dalk … dalk vir Adéle geld gegee om dwelms te koop nie?”
Zelna frons en pers haar lippe hard saam. “Ek het self al dikwels daaroor gewonder, maar dit maak nie vir my sin nie. Roland het haar liefgehad. Hy sou haar nie gehelp het om haarself te vernietig nie.”
“Nogtans, as hy skuldig is, verklaar dit waarom hy so koud en ongenaakbaar teenoor meisies optree.”
Zelna lag ondeund. “O, ja? Is dit nie die tweede ruiker wat die hardvogtige man aan jou stuur nie?”
Lelani se blik dwaal na die twee ruikers wat op haar spieëltafel staan. “Ek dink hy doen dit ter wille van tant Engela,” sê sy afgehaal en wens sy kan Zelna vertel van Roland en Yvette se geheime verlowing.
“Glo wat jy wil, meisiekind, maar ek weet wat ek weet.” Zelna staan op en beweeg na die kamerdeur. “Ek wens ek kon langer kuier, maar ek is ’n werkende meisie. Jy sal by my winkeltjie kom inloer sodra jy gesond is?”
“Ek gaan daar boer!” beloof Lelani laggend. “Tot siens, Zelna.”
“Sien jou!” groet Zelna en gaan die vertrek op ’n haastige drafstappie uit.
Roland kom die kombuis binne, druk die deur agter hom toe en staar verras na tant Breggie wat, met ’n groot beker koffie voor haar, besig is om aan ’n koue skaapboud weg te lê.
“Tant Breggie!” Hy lag hoofskuddend en loop nader aan die groot kombuistafel. “Is dít wat tannie saam met tannie se oggendtee eet? ’n Bord vol koue vleis?”
“Ek het ’n vleistand, boetie,” sê tant Breggie gelate. “’n Man wat my hart wil verower, moet vir my geslagte skape, beeste en varke aandra.” Sy pers haar lippe preuts saam en gluur hom aan. “Jy sal mý nie kan omkoop om jou minnares te word nie, ou kintatjie – beslis nie met ’n ruikertjie nie.”
Die lag vlug uit sy oë. “Wat bedoel Tannie daarmee?”
Tant Breggie snuif meerderwaardig. “Jy kan jou maar opruk, Roland, maar wat waar is, is waar. Ek het die ruikers met my eie oë gesien: rooi rose en toe wit rose. Maar dis soos Yvette vir Lelani gesê het: jy word suinig op jou oudag, want jou vorige minnaresse het duur juwele gekry.” Sy kyk verwytend na hom, oënskynlik onbewus van die granietharde uitdrukking op sy gelaat. “Jy maak darem nie mooi nie, boetie. Lelani lyk nie vir my soos ’n goedkoop meisie nie, maar sy moet tevrede wees met jou goedkoop geskenkies.”
“Luister mooi, tant Breggie,” begin hy, sy stem gesmoord van nouliks beteuelde woede, “want ek gaan dit net een maal sê: Lelani is ’n onskuldige kind en ’n kuiergas. Sy was nooit en sal nooit in enige stadium my minnares wees nie. Is dit duidelik, Tante?”
“Sowaar, Roland? Dan het Yvette haar mos liederlik misgis.”
“Dit was geen misgissing nie, Tante. Yvette het dit nog altyd geniet om ’n ander te kruisig,” sê hy bruusk, draai weg en stap vinnig die gang binne.
Lelani se hart ruk van bandelose blydskap toe Roland haar kamer na ’n haastige klop binnekom. ’n Glimlag begin om haar lippe vorm, maar verdwyn weer toe hy, sonder om na haar te kyk, na die spieëltafel toe stap en die ruikers optel.
Hy draai na haar, sy gelaat ’n uitdrukkinglose masker. “Ek is jammer dat Yvette se venyn jou in die verleentheid gestel het. Dit sal nie weer gebeur nie,” sê hy en sy stem is dié van ’n vreemdeling. Hy draai om en stap by die kamer uit, die ruikers in sy hande.
Oomblikke later keer Roland terug na die kombuis en plak die ruikers voor tant Breggie op die kombuistafel neer. “Dis vir tannie. As tant Breggie die ruikers nie wil hê nie, smyt hulle in die vullisblik.”
“Maar … maar …” Tant Breggie spring op en slaan haar hande saam van bewondering. “Sulke pragtige, duur blomme! Natuurlik sal ek hulle nie in die asblik gooi nie, boetie. As Lelani nie die ruikers wil hê nie …”
“Rose gee haar hooikoors,” sê Roland vinnig. “Sy was te bedagsaam om my eerder daarvan te vertel, maar voortaan sal ek weet om nie vir haar blomme te koop nie.”
Tant Breggie lyk skuldig. “Jy is nie kwaad vir my omdat ek jou vertel het wat Yvette gesê het nie, boetie?”
“Nee, tant Breggie. Inteendeel, ek is opreg dankbaar. As tannie my nog gelukkiger wil maak, vertel aan Yvette tannie is nou my minnares,” antwoord hy met ’n wrang glimlag.
“Stuitige seunskind!” Tant Breggie lag skel en tel die ruikers op. “Jy is nou hier, Roland. Ek dra gou die blommetjies huis toe. Haai, sulke duur ruikers … en ek dag ek moet tot my sterwensdag toe wag om ’n ou blommetjie present te kry,” sê sy aangedaan en skarrel met die ruikers in haar hande die kombuis uit.
Roland keer tydsaam terug na Lelani se kamer en steek onseker in haar kamerdeur vas. Sy gewaar hom, maar daar is geen verwelkoming in haar oë nie.
“Ek is jammer, Lelani,” sê hy opreg en kom die kamer binne. “Ek moes kon raai dat Yvette die geleentheid sou aangryp om jou te verneder.”
Haar oë blits in syne. “Waarom blameer jy Yvette wanneer jý eintlik die skuldige is?” vra sy en dwing haarself om hom te haat.
“Ek?” vra hy onbegrypend.
“Is jy boonop ’n lafaard?” vra sy met byna tasbare minagting in haar stem.
“Hopelik nie, maar ek sal graag wil weet waarvan ek beskuldig word,” antwoord hy abrup.
“As ek dit dan moet uitspel: Yvette het my in haar vertroue geneem. Ek weet dis julle geheim, daarom sal ek met niemand daaroor praat nie. Maar in die omstandighede was dit dwaas van jou om vir my ruikers aan te dra.”
“Ons geheim? Ek en Yvette het ’n geheim?” vra hy oorbluf.
“Ja!” krys sy, woedend oor sy valse onskuld. “Sy het my haar verloofring gewys. Ek weet julle is in die geheim verloof totdat jy tant Engela kan oorreed om Yvette as jou bruid te aanvaar. As ek aan ’n man verloof is, sal ek dit ook nie geniet as hy vir ’n ander meisie ruikers koop nie.”
“Ek het nog nooit vir Yvette ’n verloofring gekoop nie,” sê hy stroef.
“Natuurlik nie, want julle het met jou ma se ring verloof geraak. Om liefdeswil, Roland, waarom probeer jy my bedrieg? Ek ken die waarheid. Jy is tog nie bang dat ek dit aan tant Engela sal uitblaker nie?”
Hy huiwer en sê dan kortaf: “Glad nie. As jy niks nodig het nie – verskoon my, asseblief.”
Sy hoor sy voetstappe in die gang wegsterf en weet dat hy vir goed uit haar lewe gaan. Sy smoor haar snikke in haar kussing. Dwaas – dis wat sy was! Hy ken Yvette sy lewe lank. Reeds agt jaar lank is sy die enigste meisie in sy lewe. Nogtans wou sy glo dat hy haar sou liefkry – omdat sy hom liefgekry het, omdat sy hom altyd sal liefhê, fluister haar hart. Nee, sy haat hom … haat hom! skree haar verstand, maar die skrynende pyn diep in haar verloën haar gedagtes.
Oom Giepie suig aan sy kromsteelpyp, sy vonkelende oë op skrefies getrek van lag terwyl hy Lelani dophou. Sy bind ’n groot wortel met ’n stukkie tou aan die punt van ’n riet vas, loop na die hek van die perdekamp en hou die riet met die wortel na Poena uit. Asof dit niks buitengewoon is nie, kom Poena nader en begin aan die wortel vreet totdat hy dit met ’n harde pluk van die riet afruk.
Oom Giepie klap sy hande en sy swaai om, ’n blos van verleentheid op haar wange. “Vindingryk,” prys hy. “As jy elke dag die riet ’n bietjie korter maak, eet ou Poena binnekort uit jou hand.”
“Nooit nie,” sê sy vinnig en plooi haar neusie. “Of dalk wanneer ek eendag so oud soos tant Engela is.”
“Jy glo Engela is stokoud?” vra hy onthuts.
“Gelukkig nie, want sy kan nog baie ouer word.” Sy kyk na oom Giepie, haar gesigsuitdrukking besorg. “Oom ook. Ek wens … ek wéét julle gaan ’n honderd jaar oud word.” Hy tuur met saamgetrekte wenkbroue na die eikebome wat in hulle dieprooi herfsdrag soos danseresse in kleurryke kostuums in die najaarswindjie wieg. “Soveel leë jare …” sê hy en byt hard op sy pypsteel, asof hy jammer is dat die woorde uitgeglip het.
“Die lewe kan nooit weer leeg wees nie, oom Giepie – nie met tant Engela terug in oom se lewe nie,” sê sy dringend.
Hy blik haar onthuts aan. “Wat weet jy van my en Engela, snip?”
“Alles,” antwoord sy selfversekerd. “Julle het mekaar veertig jaar gelede liefgehad. Oom wou met tant Engela trou, maar dit was onmoontlik, omdat sy haar moeder moes verpleeg. Oom is weg Engeland toe om verder te studeer, maar Oom kon tant Engela nooit vergewe nie.”
“Daar was niks om te vergewe nie, ounooi,” sê oom Giepie rustig. “Ek het geglo Engela het my net so lief as wat ek haar gehad het, maar ek het my misgis.”
“Waarom sê oom so?”
Hy draai half weg, asof hy ’n einde aan die gesprek wil maak, maar sy lê haar hand op sy arm en versoek pleitend: “Asseblief, oom Giepie, vertel my.”
Hy leun met sy voorarms op die hekkie van die perdekamp en sug ongeduldig. “Wat is daar om te vertel, Lelani? Ek was bitter ontsteld omdat Engela nie saam met my oorsee wou gaan nie. Miskien was ek bang om alleen na die vreemde te gaan – ek weet nie. Maar ek weet ek was bang om haar te verloor. En toe sy weier … Sy was so mooi en jonk. Sy kon kies en keur onder die jongmans.”
“Oom het geglo sy het oom nie werklik lief nie?”
“Aanvanklik, ja. Maar toe ek eers weg was van haar, kon ek objektiewer wees. Haar moeder was ’n sterwende vrou en sy was die enigste dogter. Ek het besef waarom sy nie bereid was om haar ma in die steek te laat nie. Ek het net besluit om aan haar te skryf, toe ek ’n brief van my moeder kry: Engela se ma was dood.”
“Waarom het Oom toe nie aan tant Engela geskryf nie?” Oom Giepie suig aan sy onaangesteekte pyp en pluk dit geïrriteerd uit sy mond. “Waarom het sý nie aan mý geskryf nie? Sy was eindelik vry om na my toe te kom, maar sy het nie eens die moeite gedoen om my van haar ma se dood in kennis te stel nie. Twee maande, en sy het reeds van my bestaan vergeet,” sê hy bitter.
“Maar sy hét geskryf, Oom! ”
Oom Giepie verstik aan sy eie asem en kug agter sy hand. “Wat sê jy daar, dogter?” vra hy ongelowig.
“Tant Engela het my vertel sy het oom se adres by oom se ouers gekry en aan oom geskryf, maar oom het nooit haar brief beantwoord nie,” vertel Lelani gretig.
“Onsin! Ek het nooit die brief ontvang nie,” snou hy, asof hy haar daarvoor verantwoordelik hou.
“Oom jok nie vir my nie?” vra sy en kyk hom deurdringend aan.
“Waarom sal ek jok? Ek het die pos maande lank dopgehou. Eers het ek myself wysgemaak dat sy nog oor haar moeder rou, dat ek ’n rukkie langer geduldig moes wees. Maar die maande het ’n jaar geword en toe het ek geweet: haar liefde vir my was so tydelik soos die spore van ’n waterhoender op ’n dam.”
“Nee, oom Giepie. Tant Engela sou nie oor die brief gejok het nie. Sy hét die brief geskryf, maar dit moes in die pos verlore geraak het. Dis tog nie onmoontlik nie?”
Hy frons diep, steek sy pyp aan en rook oomblikke lank in stilte. “Dalk,” antwoord hy eindelik, draai om en stap weg in die rigting van die agterdeur.
As oom Giepie en tant Engela trou … Lelani byt hard op haar onderlip en laat haar kop sak. Oom Giepie sal verseker wees van ’n gelukkige toekoms en sy sal vry wees om weg te gaan. Want as dit nie vir oom Giepie was nie, het sy ’n week gelede, toe Roland die ruikers uit haar kamer verwyder het, haar tasse gepak en padgegee.
Om hier te bly, is om haar eie seer te soek. Roland gesels en skerts soms, maar hy kyk haar nooit in die oë nie. En dit sê vir haar duideliker as woorde: hy verdra haar net omdat sy sy en Yvette se geheim ken. Hy is bang sy vertel tant Engela van hulle geheime verlowing, daarom gaan hy uit sy pad om met haar vriendelik te wees.
Sy haat sy valse vriendelikheid meer as wat sy dit gehaat het toe hy haar aanvanklik geïgnoreer het. Maar sy kan hóm nie haat nie, want die blote klank van sy stem is soos strelende salf op die oop wonde in haar siel.
Tant Engela steek die laaste broodpan in die oond, kom orent en sien oom Giepie langs die kombuistafel staan. “Jy is te haastig, Giepie. Die brood het nou eers behoorlik gerys. Ek sal vir jou ’n warm brood stuur sodra ek dit uit die oond haal,” sê sy met ’n tikkie vyandigheid in haar stem.
“Ek is nie hier om oor die brood te praat nie, Engela,” sê oom Giepie met ongewone ems.
“In daardie geval: ou Breggie het al drie maal gebel om te hoor wanneer jy by haar kom tee drink. Sy sê sy het op jou versoek vir jou ’n souttert gebak,” sê tant Engela nydig.
“Sy lieg!” blaf oom Giepie, stamp met sy hand onnodig ’n stoel uit sy pad en bly tronend oor tant Engela staan. “Het jy vir die dogter gejok, Engela, of het jy daardie brief geskryf?” vra hy, sy stem skor van ingehoue spanning.
Sy vraag betrap tant Engela onkant, maar sy draai haastig weg en begin die broodkombers tydsaam opvou, haar rug op hom gekeer. Sy kan nie Lelani verkwalik dat sy oor die brief met Giepie gepraat het nie, dink sy. Maar waarom is Giepie nou hier? Waarom lyk hy so gespanne? Wat het sy destyds in die brief geskryf wat hom nog al die jare so ontstel?
“Moenie my ignoreer nie, Engela!” bulder oom Giepie agter haar.
Tant Engela draai om na hom, haar gesig onleesbaar. “Ek het maar net gewag dat jy klaar praat, Giepie. Na watter brief verwys jy?” vra sy rustig.
“Toe jou ma destyds dood is … Ek het dag na dag gewag om van jou te hoor – gehoop, selfs gebid, dat jy van jou sou laat hoor; dat jy jou weg sou oopsien om na my toe te kom. Die dae het ’n week, maande, ’n jaar geword, maar jy het nooit geskryf nie. En toe het ek eindelik aanvaar dat jy nooit sou kom nie, dat wat daar tussen ons was, net leë woorde was.”
Sy woorde val soos geselhoue op ’n ou wond wat nooit volkome genees het nie, maar haar trots laat haar hom onbevrees aankyk. “As dit so is, waarom soek jy nou na ’n brief, Giepie?”
“Omdat …” Onsekerheid maak sy mond droog en sy lippe dom. Hy kug agter sy hand en vra gedemp: “Is dit waar, Engela? Het jy my adres by my ouers gekry en aan my geskryf?”
Hy het nooit haar brief ontvang nie, besef sy. Die brief waarin sy haar hart uitgestort het, waarin sy met die onbeskroomde oorgawe van die jeug haar liefde vir en verlange na hom erken het, het saam met haar jongmeisiedroom in die niet verdwyn. Veertig jaar van wonder waarom en nou dit …
“Maak dit saak, Giepie? Kan enigiets nog saak maak na veertig jaar?” vra sy gelykmatig.
Hy staar haar ongelowig aan. “Natuurlik maak dit saak! As jy destyds aan my geskryf het, beteken dit –”
“Beteken dit jou liefde het in elk geval veertig jaar gelede vir my gesterf. Moenie dat ons hare kloof nie, Giepie. Breggie wag op jou om saam met haar souttert te eet,” val sy hom saaklik in die rede.
“Na die duiwel met Breggie en haar souttert!” bulder hy. “Ek wil weet of jy …” begin hy driftig en swyg toe tant Engela die kombuis uitstap sonder om verskoning te maak.
Wat het hy verkeerd gesê? wonder hy. Hy het Engela ’n eenvoudige vraag gevra, maar sy het geweier om hom te antwoord. Waarom? Omdat sy vir Lelani gejok het, omdat sy nooit daardie brief geskryf het nie, dink hy, sy teleurstelling soos ’n bitter smaak op sy tong. Na die duiwel met Engela van Jaarsveld ook, besluit hy, maar voel asof hy vir ’n tweede maal alles wat vir hom kosbaar was, verloor het.
Roland bring sy bakkie tot stilstand toe hy Yvette langs haar geparkeerde motor in die middel van Gunterland se ingang sien staan. Sal hy omdraai en terugry huis toe? wonder hy. Die afgelope week het Yvette uit sy pad gebly, heel waarskynlik omdat tant Breggie haar vertel het wat met Lelani se ruikers gebeur het. Maar hy kon dit verwag het: Yvette is te dikvellig om lank oor enigiets skuldig te voel.
“Hallo, Roland!” roep Yvette opgewek en kom nader. “Ek het ’n heerlike wekie in Durban deurgebring. Ek is jammer ek kon jou nie eers kom groet nie, maar die uitnodiging was so skielik …” Sy pruil haar lippe en vra verwytend: “Het jy my darem ’n bietjie gemis, my skat, of het my stiefsustertjie jou voltyds besiggehou?”
“Dag, Yvette. Nee, my plase het al my aandag in beslag geneem,” antwoord hy bruusk.
“Uitstekend!” Sy glimlag verleidelik en gaan staan dig teenaan die deur van die bakkie. “Ek was so ’n klein bietjie bekommerd toe Lelani my vertel hoe sy oor jou voel, maar solank jy besef sy is ’n onervare kind …”
Sy wenkbroue sak valkagtig laag oor sy donker oë. “Lelani het jou vertel hoe sy oor my voel?” vra hy ongelowig.
“Is dit so vreemd? My liewe Roland, ons is darem stiefsusters.”
“En vreemdelinge vir mekaar. Wat het Lelani oor my te sê gehad?”
Sy lag klokhelder. “Tipies man! As jy dan gevlei wil word: my stiefsustertjie is tot oor haar ore verlief op jou, my liefste. En vanselfsprekend is sy groen van jaloesie oor ons vriendskap. Maar jy is ’n ervare man. Jy het seker tog al self agtergekom dat sy enigiets sal doen om jou te behaag?”
Sy kyk hom waaragtig in die oë terwyl sy lieg soos ’n tandetrekker, dink Roland met ’n gevoel van weersin, maar hy hou sy gelaat uitdrukkingloos. “Ek was te besig om my veel aan Lelani te steur, maar noudat jy my daarop attent gemaak het, sal ek weet hoe om op te tree. ’n Beeldskone jongmeisie soos Lelani – ek voel eerlikwaar gevlei,” antwoord hy doodluiters en betrag haar met ’n spottende glimlag.
Die bloed dreineer uit Yvette se gelaat terwyl twee helder rooi vlekke van woede hoog op haar wangbene uitslaan. “Dit is nie snaaks nie, my skat. As jy dit nog nie agtergekom het nie: ou Giepie Taljaard beskou die liewe Lelani as sy persoonlike eiendom.”
“Ek is bewus daarvan, maar gelukkig het ek en oom Giepie intussen goed bevriend geraak. Om die waarheid te sê, ek glo hy sal dit verwelkom as ek met die pragtige Lelani trou.”
“Trou!” krys Yvette, haar oë wildstarend.
“Ja, trou, Yvette. Maar ons sal eers verloof wil raak. Mag ek my oorlede moeder se ring waarmee ek en jy kamma verloof is, terugkry?” vra hy en glimlag sardonies.