Yvette se gelaat is ’n verwronge, geelbleek skedel, haar oë twee brandpunte van smeulende haat wat Roland momenteel met ’n gevoel van vrees vervul. Is Yvette normaal? wonder hy. Die intensiteit van haar haat is soos ’n vernietigende mag wat nie vir moord sal stuit nie. Maar hy onthou die uitdrukking. Toe Adéle geleef het, het hy soms dieselfde uitdrukking op haar gesig gesien, maar wanneer hy haar direk aangekyk het, het sy dit agter ’n vals glimlag verberg. Hy was so gelukkig in sy liefde dat hy nooit veel notisie geneem het van Yvette nie, maar nou, agt jaar ná Adéle se dood, weet hy met onbetwisbare sekerheid: Yvette het Adéle gehaat.
“Ek weet nie waarvan jy praat nie!” krys Yvette. “Ek het nooit aan enigiemand vertel dat ek en jy verloof is nie.”
“Sowaar? Dan moet ek aanvaar dat tant Breggie ook vir my gelieg het?” vra hy, sy stem swaar van minagting.
“Daardie ou vrou is die grootste skinderbek in die kontrei! As jy jou aan haar praatjies steur … Ek het niks van ’n verlowing aan haar gesê nie,” kom dit verontskuldigend van Yvette.
“Jy het aan Lelani vertel dat ons in die geheim verloof is, dat ek net wag om tant Engela te oorreed om jou as my bruid te aanvaar,” sê hy gelykmatig, sy blik skerp en waaksaam soos dié van ’n roofvoël op haar.
“Sy het gelieg!” snou sy.
“Waarom sou sy? As Lelani werklik verlief is op my, sal sy beslis nie ’n storie oor ons verlowing uit haar duim suig nie. Ek kan met sekerheid sê: ek ken Lelani; ek weet wat om van haar te verwag. Maar jy, Yvette. Ek het al die jare aanvaar ons is goeie vriende, maar ek besef nou eers ek het jou nooit geken nie.”
“Jy weet alles van my! Jy weet dat ek jou liefhet vandat ek kan onthou. Jy weet dat ons vir mekaar bedoel is en was dit nie vir ou Engela nie, was ons lankal getroud,” kom dit met onwrikbare sekerheid van Yvette. Haar glimlag is skielik intiem en sy steek haar hand uit en streel oor sy geletselde wang. “Een keer het jy my verwerp en jy dra die letsel van jou ontrouheid op jou gesig. Ek is dankbaar jy het die letsel nooit laat verwyder nie, want elke dag wanneer jy in die spieël kyk, word jy herinner aan jou straf vir jou verraad jeens my.”
Hy staar haar ’n oomblik lank spraakloos aan, sy hande kneukelwit om die stuurwiel van sy bakkie geklem. “Jy het my liefde vir Adéle as verraad jeens jou beskou?” vra hy skor.
“Hoe anders? Toe ek haar na Goedgevonden toe genooi het, het ek haar gewaarsku dat ek en jy reeds jare lank aan mekaar behoort. Maar Adéle was so seker van haar eie skoonheid wat haar onweerstaanbaar vir alle mans gemaak het. Sy kon kies en keur, maar sy was nie tevrede voordat sy my man van my afgerokkel het nie,” antwoord Yvette, haar stemtoon byna monotoon, haar oë starend na niks.
“Daar was geen verhouding tussen my en jou nie, Yvette! Ek en jy was doodgewoon vriende.”
“Waarom nog daaroor lieg, Roland? Dit was nooit vir ons nodig om ons liefde vir mekaar uit te spel nie, maar dit was daar … Almal het geweet ons sou eendag trou. Jy het dit ook geweet, maar jou liefde vir my het jou wreed gemaak. Jy het openlik met Adéle geflankeer en sy het jou aangehits. Ek het haar gewaarsku om jou met rus te laat, maar sy wou nie luister nie. Sy het geglo jy het haar liefgehad,” verwyt sy.
“Ek hét haar liefgehad! Ek het haar liefgekry omdat sy ’n pragtige, intelligente meisie was. Ons het soveel gemeen gehad. Ons sou getrou het sodra sy haar studie voltooi het.”
Yvette se lippe vertrek smalend. “Jy was bereid om ’n dwelmslaaf jou bruid te maak? Moenie my laat lag nie, Roland!”
“Adéle was nie ’n dwelmslaaf toe ek haar op jou mondigwordingspartytjie ontmoet het nie. Sy het ook nie alkohol misbruik nie. Sy was jonk en onskuldig – ’n meisie wat elke faset van die lewe geniet het,” antwoord sy grimmig.
“En hét sy nie haar lewe geniet nie! Haar ouers is nie ryk nie. Sy het geld nodig gehad vir die dwelms wat sy gebruik het en jy, jou arme sot, het haar met duur geskenke oorlaai.” Yvette se honende lag hang soos ’n onwelriekende reuk tussen hulle. “En weet jy wat sy met jou duur juwele gemaak het? Sy het alles verkwansel om meer en meer dwelmmiddels en drank te koop. Later het sy jou openlik om geld gevra – geld vir boeke of spesiale klasse. En jy het tjeks uitgeskryf – tjeks wat haar vinniger na haar ondergang en haar dood toe gestuur het.”
“Jy was bewus van alles, maar jy het my nooit gewaarsku nie?” vra hy, ’n doodse donkerheid in sy stem en oë.
“Waarom sou ek? Jy het my ter wille van haar verwerp. In jou oë kon sy niks verkeerd doen nie, Adéle, die volmaakte! En intussen was sy verrot tot in die kern van haar siel! Natuurlik het ek nie gepraat nie. Ek het geleer om stil te bly, om geduldig te wag. Ek het die einde sien kom en ek kon heimlik lag oor jou dwaasheid. Hoe afhankliker sy van dwelms geword het, hoe groter was my vreugde, want ek het besef dat jy binnekort weer myne sou wees. En dis wat gebeur het, nè, Roland? Adéle het haarself vernietig en jy het teruggekom na my toe.” Haar stem word ineens sag, troetelend: “Jy sal altyd terugkom na my toe, my liefste, want ons is vir mekaar bedoel.”
Sy probeer hom weer aanraak, maar hy stamp haar hand met ’n ruwe gebaar weg. “Jy is siek, Yvette. Jou besitlike jaloesie het jou in ’n gewetenlose monster verander. Dat jy kon toekyk hoe Adéle haarself vernietig … Ek walg van jou!”
“Nee!” krys sy en gryp hom aan die skouer. “Nee, Roland, jy verstaan nie. Dit was juis omdat my liefde soveel kon vergewe dat ek nie in jou pad gestaan het toe jy Adéle liefgekry het nie. Ek het besef dit sou net tydelik wees. Niemand, niémand sal my en jou ooit permanent kan skei nie, my liefling, want ons liefde is te sterk.”
Roland stamp die deur van die bakkie oop en klim uit. Yvette tree nader aan hom, maar hy hou sy hand gebiedend op. “Moenie my aanraak nie, Yvette. Ek gaan praat en jy gaan luister.”
“Ek wag my lewe lank op hierdie oomblik, my liefste,” sê sy en staar hom met iets soos aanbidding in haar oë aan.
“Jy gaan die waarheid oor my en jou hoor, Yvette,” begin hy, sy woorde afgemete. “Luister en luister goed: ek het jou in geen stadium van my lewe liefgehad nie. Ek het nog nooit aan jou as my toekomstige vrou gedink nie. Glo my, ek bly liewer vir die res van my lewe ongetroud as om met ’n meisie te trou vir wie ek nie ’n tikkie gevoel het nie. Is dit duidelik, Yvette? Ek sal nooit, nóóit met jou trou nie.”
Yvette se gelaat vertrek in ’n masker van haat. “Dis sy, daardie verpestelike klein flerrie! Sy het tussen ons gekom; sý het jou opnuut van my vervreem.”
“As jy na Lelani verwys: sy is slegs ’n kuiergas in ons huis.”
“Dit lieg jy! Ek weet van die ruikers wat jy vir haar aangedra het. Sy is boos … bóós! Ek sal nie toelaat dat sy ons geluk vernietig nie, Roland. Ek sal haar moet vernietig soos wat …” Sy swyg en pers haar lippe hard saam.
“Jy wou sê?” vra hy en ervaar ’n prikkie agterdog.
“Dis nie ’n leë dreigement nie, Roland: jy sal nooit met Lelani trou nie,” sê sy nadruklik, draai om en stap vinnig weg na haar motor toe.
“Onthou, Yvette: jy is nie meer welkom in Huis Daeraad nie,” roep hy haar agterna, maar sy ignoreer hom, klim in haar motor en ry weg sonder om na hom te kyk.
Hy bly staan met die tergende gevoel dat hy op die punt was om ’n ontdekking te doen. Wat presies het Yvette gesê? Ek sal haar moet vernietig soos wat … Waarom het sy nie haar sin voltooi nie? Of was dit loutere grootpratery? Yvette het geen aandeel in Adéle se dood gehad nie, daarom sal hy hom nie aan haar dreigemente steur nie, besluit hy. Tog kan hy nie die gevoel van kwellende onrus afskud nie.
Zelna Joubert glimlag verwelkomend toe Lelani die Roosblaar-bloemistery binnekom. “Sê vir my jy kom bestel ’n ruiker, Lelani, en ek beloof om jou op my knieë te bedank,” skerts sy.
“Geen geboorte, herdenking, troue of begrafnis nie?” terg Lelani en neem op ’n hoë stoeltjie voor die toonbank plaas.
Zelna se lippe glimlag wrang. “Ek voel altyd soos ’n aasvoël wanneer ek die mense vir kranse moet laat betaal. Die een se dood is die ander se brood – dis beslis waar in my beroep,” sê sy skuldig.
“Dink liewer daaraan dat dit mense troos om ’n mooi krans vir ’n vriend of familielid te koop,” sê Lelani prakties en kyk na ’n klompie ruikers wat op ’n blomrak uitgestal is. “Jou rangskikkings is pragtig, Zelna. Hoe lank besit jy al jou bloemistery?”
“Ek het die winkeltjie ses jaar gelede by tant Johanna Ahlers oorgeneem toe ek twee-en-twintig was. Maar dit was nadat ek vyf jaar lank vir haar gewerk het … en my tant Hannah se geldjies het ook gehelp.”
“Jou tant Hannah?” vra Lelani belangstellend.
“Eintlik my groottante, want sy was my oorlede pa se tante. Sy het my grootgemaak nadat eers my pa en toe my ma dood is voordat ek ses was. Sy het jare lank onderwys gegee, maar toe ek haar leer ken het, was sy al reeds ’n vrou van sewentig. Ek het niks van my ouers geërf nie, daarom was ek van tant Hannah se goedheid afhanklik.”
“Ek hoop sy was aangenamer geselskap as wat my stiefpa was,” sê Lelani met ’n wrang glimlaggie.
“Sy was ’n bietjie baasspelerig, maar ons het mekaar nodig gehad.” Zelna swyg en lyk skuldig. “Die jeug is selfsugtig en wreed. Of dalk is dit net ek.”
“Wat bedoel jy?” vra Lelani verwonderd.
“Toe tant Hannah ses jaar gelede dood is, het ek genoeg geërf om universiteit toe te gaan. Ek onthou toe die prokureur haar testament gelees het … dit klink verskriklik harteloos, maar op daardie oomblik het ek gewens sy het vyf jaar vroeër gesterf, want dan kon ek ’n onderwyseres geword het.”
“Wou sy nie hê jy moes verder gaan studeer nie?”
Zelna glimlag bedroë en vryf doelloos met haar hand oor die toonbank. “Dit was nooit ter sprake nie. Tant Hannah was diep in die tagtig toe ek gematrikuleer het. Selfs al wou ek gaan studeer, sou my gewete my nie toegelaat het om haar in die steek te laat nie.”
“Maar as jy gematrikuleer het, waarom het jy nie ’n ander loopbaan gekies nie? Jy kon in die bank gaan werk het en deeltyds studeer het,” redeneer Lelani.
“Nie met tant Hannah wat my so dikwels nodig gehad het nie. Tant Johanna Ahlers was al die jare ons buurvrou. Sy het ingestem om my werk in haar blommewinkel te gee en het dit vir my moontlik gemaak om gedurende die dag gereeld by tant Hannah te gaan inloer. Dit het my en tant Hannah perfek gepas, want ek het dikwels ruikers afgelewer en dan sommer ’n draai by die huis gemaak. En wanneer tant Hannah die dag werklik siek was, kon ek tuis bly sonder die vrees dat ek my werk sou verloor.”
“Ek begryp, maar ná jou groottante se dood … As jy werklik wou, kon jy toe universiteit toe gegaan het.”
Zelna kyk vinnig na links en laat sak dan haar blik, ’n diep blos van verleentheid op haar gelaat. “Ek kon seker,” sê sy hees en trek niksbeduidende patroontjies met haar wysvinger op die toonbank.
“’n Man!” lag Lelani. “Wie is hy, Zelna? Gaan julle trou?”
“Sjuut!” fluister Zelna en blik oor haar skouer. “Lettie Bronkhorst is veronderstel om die blomstingels skoon te maak, maar glo my, sy luister met gespitste ore na elke woord wat ons sê.”
“In daardie geval …” Lelani klim van die hoë stoeltjie af en beduie na die deur van die winkeltjie. Zelna glimlag en knik Sy stap om die toonbank en loop saam met Lelani uit op die stoep.
“Ek weet ek is ’n nuuskierige agie,” begin Lelani gedemp, “maar mag ek weet wie jou held is?”
Zelna se oë dwaal onwillekeurig na die boekwinkel links van haar. “Ek het dit nog nooit teenoor iemand erken nie, maar … daar is iemand. Ek bedoel, ek is lief vir hom, maar hy sien my nie eens raak nie. Tant Johanna sê self hy is ’n gebore oujongkêrel,” vertel sy gelate, onmiskenbare verlange in haar stem.
Lelani draai opsetlik na die boekwinkel. “Ek was nog nooit in die Boekhoekie nie. Wie is die eienaar?” vra sy met net genoeg belangstelling.
Zelna bloos tot by haar haarwortels. “Lourens van Niekerk,” antwoord sy gedemp.
“Is hy getroud?”
Zelna staar geskok na haar. “Natuurlik nie! E … ek bedoel, hy is al agt-en-dertig, maar hy stel nie in meisies belang nie – nie om te trou nie. Ons groet mekaar gereeld en soms, wanneer ek ’n tydskrif of ’n koerant gaan koop, gesels ons ’n bietjie. Maar net wanneer hy nie ander klante het nie. Lourens hou nie van my geselskap nie, want hy lyk altyd ongemaklik wanneer ek met hom praat.”
“Dan is hy ’n skaam man?”
Zelna aarsel en skud haar kop. “Ek dink so, maar soms wonder ek, want hy kan land en sand met Lettie gesels. Hy het selfs beloof om na Lettie se troue toe te kom wanneer sy en Bertie van die slaghuis trou.”
Lelani se oë vonkellag in dié van Zelna. “Ek dink ek wil ’n paar tydskrifte koop,” sê sy vroom en begin wegstap na die ingang van die Boekhoekie toe.
“Moet niks sê nie!” fluister Zelna dringend en vlug die blommewinkel binne.
Daar bestaan geen twyfel nie: Lourens van Niekerk is Zelna se held, dink Lelani en stap met ’n glimlag op haar lippe die boekwinkel binne. Sy gewaar die rak met die tydskrifte, haal twee uit en kyk dan rond of sy Lourens gewaar. Haar oog val op die metaalklokkie op die toonbank, maar voordat sy dit kan lui, kom ’n man om ’n lang rak vol boeke gestap.
Lelani wonder verdwaas of dit Lourens van Niekerk is. Die man is kort en skraal met ligbruin hare en hy is vinnig besig om bles te word. Hy het vriendelike, grysblou oë. Sy neus is klein en wip effens en sy lippe is vol, maar sy sterk kaaklyn en breë ken gee ’n manlike uitdrukking aan sy gesig.
“Goeiemôre. Kan ek help, Juffrou?” vra Lourens skugter, dog vriendelik.
“Asseblief, meneer Van Niekerk. Ek wil vir die twee tydskrifte betaal,” antwoord Lelani en haal haar beursie uit haar handsak.
“Jy is Lelani – juffrou Lelani Wessels?” vra hy terwyl hy na die kasregister toe stap.
Sy glimlag verras. “Jy weet wie ek is?”
“Zelna het my van jou vertel,” antwoord hy terwyl hy die prys van die tydskrifte op die kasregister lui. “Op ’n klein dorpie soos Stadlerheim weet almal van nuwe intrekkers. En met tant Breggie Stapelberg as julle buurvrou is daar weinig wat ons nie weet nie.”
“Ek kan dit glo,” sê Lelani met ’n wrang glimlaggie. “Dalk moet ek jou waarsku, meneer Van Niekerk: glo wat Zelna jou vertel, nie wat tant Breggie uit haar duim suig nie.”
“Ons ken tant Breggie,” sê hy en glimlag. Hy aarsel en vervolg: “Jy kuier gereeld by Zelna.”
“Om haar uit haar werk te hou, ja. Sy het my dikwels besoek toe ek griep gehad het en ons het maats geword.” Sy swyg opsetlik en sê dan onverskillig: “Zelna vertel my julle is ook al jare lank vriende.”
’n Donker blos kruip oor Lourens se gelaat. Hy laat val Lelani se kleingeld, verdwyn ’n paar oomblikke lank agter die toonbank en hou dan die kleingeld na haar uit: “Hoe lomp van my. Jou kleingeld, juffrou Wessels.”
“Dankie. Maar noem my Lelani. Dalk kan jy en Zelna een middag ná werk saam by my en tant Engela kom tee drink,” nooi sy en hou hom dop.
Lourens trek aan sy hempskraag asof sy boordjie hom skielik wurg. “Ek en Zelna? Maar… maar sal Zelna bereid wees om … om my te vergesel?” vra hy oorbluf en bloos weer vurig. “Nee, jy bedoel natuurlik ons kan elkeen in ons eie voertuig kom,” korrigeer hy homself, onmiskenbare teleurstelling op sy gesig.
“Zelna besit net haar afleweringswa. As sy saam met jou in jou motor kan ry … Ek glo sy sal dit waardeer as jy haar vra.”
“Dink jy so?” vra hy hoopvol.
“Ongetwyfeld. Dit kan nie kwaad doen om haar te vra nie.” Lelani glimlag innemend. “Ek sal Zelna laat weet wanneer julle moet kom. Tot siens, Lourens.”
“Tot siens, Lelani,” bereik sy groet haar toe sy reeds by die Boekhoekie uitstap. Sy kyk om en sien hoe hy haar verdwaas agternastaar.
Zelna bespring haar letterlik toe sy die blommewinkel binnekom. “Wat dink jy van hom, Lelani?” vra sy gretig. “Het hy nie die mooiste oë en die oulikste neusie wat jy nog gesien het nie? En sy stem … dis so sag en diep. Dit klink altyd asof hy werklik omgee wanneer hy vra hoe dit met jou gaan.”
Die wonder van die liefde, dink Lelani en veg teen die tobbende verlange in haar eie binneste. Net die liefde kan met towerkwas en -palet skoonheid in die alledaagse skilder. Zelna se liefde maak haar blind vir die feit dat Lourens heelwat korter as sy is; sy sien nie sy bles raak nie en sy neus wat iemand anders as te klein en stomp sal beskou, is vir Zelna met haar groot neus oulik.
“Hy het mooi oë,” antwoord Lelani gelykmatig. “Ek het hom gewaarsku dat ek julle twee gaan nooi om een dag, ná werk, by my en tant Engela tee te drink. Pas dit jou?”
“Natuurlik! Maar Lourens sal nooit instem nie. Ek dink hy voel ongemaklik in my geselskap,” kom dit afgehaal van Zelna.
“Omdat hy van jou hou, domkop,” terg Lelani.
“O, nee,” ontken Zelna heftig. “Kort mans voel altyd bedreig deur lang meisies – altans, dis wat ek êrens gelees het.”
“Nogtans trou kort mans dikwels met lang vroue. Maar ons gaan nie daaroor twis nie, Zelna. Sorg jy maar dat jou afleweringswa skielik iets makeer wanneer ek julle nooi, sodat Lourens verplig is om jou saam met hom te laat ry.” Lelani aarsel en kyk pleitend na Zelna. “Ek het jou hulp nodig. Kan jy ’n geheim bewaar?”
“Met my lewe,” sê Zelna melodramaties en slaan met haar hand op haar hart. “Wat is jou geheim?”
Lelani blik in die rigting van die werkswinkel en kry Zelna aan die arm beet. “Net ingeval Lettie nog met gespitste ore luister … Kom, die sypaadjie is ’n veiliger geselsplek,” antwoord sy en trek Zelna saam met haar by die deur van die winkel uit.
Roland gewaar Lelani wat by die hek van die perdekamp staan en Poena met behulp van ’n lang riet appels voer. ’n Glimlag flits om sy lippe terwyl hy nader stap en langs haar gaan staan.
“Verbeel ek my, of word die riet elke dag langer?” vra hy skertsend.
Sy het sy voetstappe hoor nader kom, maar sy hou haar blik afgewend, bang om op te kyk in sy oë en haar eie kwetsbaarheid aan hom bloot te lê. Waarom laat hy haar nie met rus nie? wonder sy opstandig. Waarom behandel hy haar soos ’n welkome kuiergas, terwyl sy … Haar gedagtes stol. Sy behoort dankbaar te wees oor sy vriendelikheid, dink sy skuldig. En tog, sy sal nooit gewoon vriendelik met Roland kan wees nie, want haar vergeefse liefde vir hom maak van hom ’n vyand.
“Poena gee nie om nie. Hy is gewoond om appels en wortels van die punt van die riet af te eet,” antwoord sy, vies vir haarself omdat haar stem buitengewoon skor en onvriendelik klink.
“As jy my vertrou, sal jy my hand styf vashou en saam met my na Poena se kampie toe stap,” sê hy skielik ernstig.
Sy kyk op, ’n woordelose verwyt in haar oë. “As ek jou kan vertrou,” herhaal sy met nadruk.
“Ek het vergeet: ek is ’n gewetenlose bedrieër wat vir jou ruikers aandra terwyl ek aan Yvette verloof is.”
Sy voel haar wange warm gloei en kyk stip na Poena. “Jy het dit gesê, nie ek nie.”
“Omdat jy dit glo.” Hy swyg en sê dan onverwags: “Yvette het ’n week lank in Durban gaan vakansie hou. Ek het vandag vir die eerste maal die geleentheid gehad om met haar oor ons sogenaamde verlowing te praat.”
“En? Het julle op ’n troudatum besluit?” vra sy koud.
“Nee, maar ek het haar gevra of ek my oorlede ma se verloofring kan terugkry.”
Sy woorde steek ’n vreugdesvuurtjie in haar binneste aan. Roland wil nie langer aan Yvette verloof wees nie, want hy het eindelik besef hy het haar nie lief nie, fluister haar jubelende hart.
“En?” vra sy en kyk sku op na hom.
“Sy kon nie die ring teruggee nie, want sy het dit nooit gehad nie,” antwoord hy stroef.
Sy frons ongelowig. “Maar ek het die ring met my eie oë aan haar vinger gesien, Roland! En as jy die ring aan haar gegee het …”
“My moeder se ring is in ons kluis toegesluit.” Hy merk die ongeloof op haar gelaat. “Jy hoef my nie te glo nie, Lelani, maar ek weet jy vertrou tant Engela. Vra haar om my ma se verloofring aan jou te wys. Ek twyfel of tant Engela rede het om jou te bedrieg.”
“Maar … maar wat van die ring aan Yvette se vinger?”
“Dit het moontlik aan haar eie ma behoort. Ek weet nie. Ek het haar in geen stadium gevra om aan my verloof te raak nie, maar Yvette glo dat ek haar persoonlike eiendom is. Sy het jare gelede reeds namens my besluit dat ons sal trou, maar ek twyfel of sy dit sonder my toestemming sal kan regkry.”
“Dan is ek jammer dat ek jou vals beskuldig het,” sê sy byna onhoorbaar.
“As jy werklik jammer is, kom saam met my na ou Poena toe. Of vertrou jy my nog nie?”
Sy huiwer, haar oë wantrouig op sy donker gelaat. Sy kyk op in die raaiselagtige dieptes van sy oë en wonder of sy ooit sal weet wat hy dink. Hy het haar uitdruklik laat verstaan dat hy nie van plan is om met Yvette te trou nie, maar waar laat dit haar? Nog stoksielalleen in haar ankerlose bootjie, drywend op ’n see van half gevormde drome en onmoontlike wense wat sy slegs in die geduldige oor van die luisterende nag kan fluister …
“Kom nou, meisiekind,” sê Roland ongeduldig en neem haar hand. “As jy ’n plaasmeisie wil wees, moet jy van jou onnodige vrese ontslae raak. Ek verseker jou …”
“Hoei! Hoei, bloedjies!” skril tant Breggie se stem kortasem terwyl sy, met ’n yslike kartondoos op haar heup, wankelrig op haar hoëhakskoene om die hoek van die woning skuins agter hulle verskyn. “Kom help ’n bietjie, Roland! My ou armpies breek morsaf.”
“Praat van ’n oorlas,” mompel Roland fronsend. Hy glimlag flitsend met Lelani en roep: “Ons kom, tant Breggie!”
Hulle draf oor die agterplaas na haar toe en Roland neem die kartondoos by haar oor. “En dit, tant Breggie? Dit lyk soos ’n spul Kersversierings.”
“Dit ís Kersversierings, maar Jimmy van die viswinkel sê hy koop dié jaar nuwe versierings, daarom kan ek dit maar vir die paartie gebruik.”
“Tannie bedoel: ’n partytjie?” vra Roland, ’n glimlag plukkend aan sy mondhoeke.
“Nee, boetie, ek praat nie politiek nie. Met al die partye is politiek nie meer prettig nie, nie soos in die dae van die Natte en die Sappe nie. Maar los jy nou die partye en kom help my met die paartie.”
“Partytjie, tant Breggie. Dis korrekte Afrikaans,” hou Roland vol.
“Ag, boetie, moenie vir my skoolhou wanneer ek net ’n lekker … e … opskop wil hou nie. Toe, toe, bring die goeters na Giepie se woonstel. Ons moet kant en klaar wees voordat hy terugkom van die dorp af,” waarsku tant Breggie en sit op ’n drafstappie af na die trap van die woonstel bo-op die ou stal.
“Tannie en oom Giepie gaan ’n opskop hou?” vra Lelani ongelowig.
“Nee, sussie, ek en jy en Roland gaan die opskop hou. Ons gaan al die versierings teen die mure en aan die ligte ophang en die eetgoed uitstal en dan, wanneer Giepie tuiskom, wag ons hom in en hou saam met hom ’n opskop.”
“’n Verrassingsparty,” sê Lelani ingenome.
“Jy praat al weer politiek, sussie!” sê tant Breggie beripsend en klim die trap op na die voordeur van die woonstel. Sy stoot die deur oop en sê gebiedend: “Hang jy solank die versierings op, Roland. Ek en Lelani gaan nou die eet- en die drinkgoed haal.”
“Die versierings kan wag, tant Breggie. Ons dra eers alles aan en dan kry ons die sitkamer reg. Of, wag, ek het ’n beter voorstel: ons kan alles met my motor aanry.”
Tant Breggie glimlag stralend. “Haai, Roland, jy het ook so ’n dierbare hartjie. Ek was ’n bietjie bekommerd oor my bene, verstaan? Want ek dag toe so in my enigheid: drawwe ek heen en weer met al die koek en kos en drank, sal ek nie ’n ou asempie oorhê wanneer ons begin dans nie.”
“Dans?” vra Lelani verdwaas. “Ek twyfel of oom Giepie kan dans, tant Breggie.”
“Dan sal hy maar moet leer, want wat is ’n opskop sonder ’n lekker ou dansie?”
“’n Piekniek?” kom dit sedig van Roland.
“Jy sukkel en jy sukkel met my, boetie, en intussen mors ons tyd. Kom ons gaan haal die eetgoedjies,” beveel sy en skarrel by die trap af soos ’n vlugvoetige eekhorinkie.
Roland dra die kartondoos versierings na die sit-eetkamer en plaas dit op die tafel neer. “Sterkte, meisiekind,” sê hy laggend en knipoog vir haar.
“Tant Engela,” sê sy besorg. “Wat gaan sy sê wanneer sy hoor tant Breggie het ’n verrassingsparty vir oom Giepie gereël?”
Hy glimlag skeef. “Dis dalk net wat tant Engela nodig het: ’n verrassing van tant Breggie,” skerts hy en loop die woonstel uit toe tant Breggie skel na hom roep.
Tant Engela sit langs oom Giepie in sy luukse motor, draai effens skuins en probeer om ongemerk na sy profiel te kyk. Een oomblik was hy jonk en toe, asof in ’n oogknip, is hy ’n gryskopman van vyf-en-sestig, dink sy met ’n gevoel van verlies. Veertig leë jare van wonder en wens; veertig jaar van rou oor ’n liefde wat nooit kon wees nie. Gister was hulle jonk en vandag is hulle oud, maar haar liefde vir hom het vasgesteek in die lente. Omdat die liefde altyd weer die lente sal bring, dink sy en sug onwillekeurig.
“Breggie sê ek is ’n aansienlike man. Stem jy saam, Engela?” vra oom Giepie sonder om sy oë van die pad af te neem.
“Breggie is ’n orige ou siel wat met ’n afkopman sonder arms of bene sal trou solank sy ’n man kan kry,” sê tant Engela verpletterend, redeloos kwaad, omdat hy oor Breggie praat terwyl sy oor hulle jeugliefde treur.
“Dalk het ’n man van my leeftyd ’n orige vrou nodig. Glo my, soms voel ek soos ’n afkopman sonder arms of bene – volkome nutteloos noudat ek nie langer ’n beroep het om my besig te hou nie. As dit nie vir Lelani was nie …” Hy kyk flitsend na haar. “Ek wou al jare gelede vir haar ’n motortjie gekoop het, maar haar stiefpa was die soort man wat die motor sou verkoop het net om geld in die hande te kry.”
“Ek is innig dankbaar ek het Werner Boonzaaier nooit geken nie, want hy klink vir my net so selfsugtig soos sy dogter, Yvette,” sê tant Engela, dankbaar dat oom Giepie nie meer oor tant Breggie praat nie. “As jy vir die dogter ’n motortjie wil koop, sal ek graag ook ’n ietsie wil bydra, want sy voel al soos my eie kind.”
“Jy het Roland om te vertroetel. Jy was nie daar toe die dogter universiteit toe moes gaan en haar suinige stiefpa …” Hy bly stil en pers sy lippe hard saam, asof hy jammer is oor sy woorde.
Tant Engela staar hom verras aan. “Het jy Lelani op jou onkoste laat studeer, Giepie?” vra sy aarselend.
Hy frons ergerlik. “Jy was altyd te vinnig van begrip, Engela. Maar noudat jy vra: ja, ek het vir haar studie betaal, maar sy is onbewus daarvan. Net soos sy nie weet dat sy eendag alles gaan erf wat ek besit nie.”
“Dis te sê as jy nie met Breggie trou nie,” sê tant Engela styf.
Oom Giepie bring sy motor met skreeuende bande voor Huis Daeraad tot stilstand en gluur tant Engela aan. “Uit, vroumens! Jy sal selfs ’n heilige laat vloek!”
“Dalk,” sê tant Engela ingehoue. Sy staar hom in stilte aan en vervolg nadruklik: “Ek hét daardie brief veertig jaar gelede geskryf, Gerhard.” Sy wag nie op sy reaksie nie, maak die deur langs haar oop en klim vinnig uit.
In die ontvangsportaal bly sy staan, sit haar handsak en inkopiesakke op ’n stoel neer en loop verwonderd na die ruiker wat op ’n muurtafeltjie staan. Daar is ’n kaartjie met haar naam daarop getik by die ruiker. Met vingers wat merkbaar bewe, verwyder sy die klein koevertjie, haal die kaartjie uit en lees: Ek is jammer jou brief het my nooit bereik nie, Engela. Giepie.
Haar hart ruk met ’n vergete vreugde en sy bring die kaartjie na haar lippe en soen dit liggies. Dan het Giepie haar tog geglo en die ruiker bloedrooi rose gestuur. Is sy ouderwets om te glo dat rooi rose ’n boodskap van liefde bring? vra sy haarself af, onbewus daarvan dat haar eie liefde met genadige vingers ’n jeugdige blos op haar wange tower en vreugdevonkies in haar oë strooi.
Sy het Giepie swak behandel, dink sy skuldig. Sy het hom beskuldig van ’n verhouding met die onstuitbare Breggie Stapelberg, terwyl sy voor haar siel weet dat Breggie agter hom aandraf en nie hy agter haar aan nie. Daar is vir haar net een uitweg: sy sal na Giepie se woonstel toe gaan, hom vra om haar te vergewe en hom vir sy ruiker bedank.
Tant Engela stap by die agterdeur uit en luister verstom na die luide musiekklanke wat uit oom Giepie se woonstel opklink. Dit klink erger as ’n tienerpartytjie in ’n diskoteek, dink sy onthuts en stap vinniger. Wat op aarde besiel Giepie om sulke blêrende, oorverdowende musiek te speel? Sy het al die jare geglo hy hou van klassieke musiek …
Sy klim die trap op na sy voordeur, klop aan, maar besef dat haar klop nie gehoor sal word nie. Sy maak die deur oop en snak geskok na haar asem toe sy tant Breggie met wriemelende bewegings aan oom Giepie se hand sien hang, terwyl sy op maat van die musiek dans.