Oom Giepie staan so onbeweeglik soos ’n rots, sy rug op die voordeur gekeer, en staar verdwaas na tant Breggie se skraal, wikkelende lyfie. Die hemel weet waar die ou siel soveel energie vandaan haal, dink hy en glimlag geamuseerd.
Tant Breggie sien sy glimlag en beskou dit as ’n teken van goedkeuring. Sy skop hoog, skop laag en ruk die roerlose oom Giepie se arm byna uit sy potjie. “Kry lewe, Giepie!” skree sy skel bo die oorverdowende musiekklanke. “Ek ken al die nuwe danse. Ons kan lambado en rap en street dance – sê net waarvan jy hou. Toe, toe, Giepie, roer jou voetjies. Ek kan mos nie met ’n kapstok dans nie – nee a! ”
“En ek kan net soos ’n kapstok dans, Breggie! Om liefdeswil, dans as jy moet dans, maar los my hand. Jy is erger as ’n koringkriek – staan stil, vroumens, jy laat my kop draai!” bulder oom Giepie en probeer sy hand uit tant Breggie se klouende greep bevry.
Roland en Lelani leun teen die buffet aan en kyk laggend in mekaar se oë.
“Ek dink oom Giepie het genoeg gely, Roland. Skakel die platespeler af,” skree Lelani om haarself hoorbaar te maak.
“Ons sal tant Breggie vra om ’n solodans te lewer,” roep hy en draai na die platespeler.
Die musiek eindig in ’n skielike stilte. Tant Breggie se krom beentjies beweeg stadiger en kom tot stilstand. Sy los oom Giepie se hand en draf kortasem na die platespeler toe. “Agge, siesa, waarom moes die ding juis nou breek? Ek het die platespeler twintig jaar gelede by ou Latsky se winkeltjie gekoop en hy het my beloof …”
“Die platespeler makeer niks nie, tant Breggie, maar ons oortromme gaan –” begin Roland, maar bly skielik stil toe hy tant Engela in die oop voordeur sien staan. Sy staan roerloos en die uitdrukking van teleurstelling en ontnugtering in haar oë spreek duideliker as woorde. “Tant Engela! Ek is bly tannie kon ook tant Breggie se verrassingsparty vir oom Giepie bywoon,” sê hy hartlik en stap na haar toe.
“Wie het jou opinie gevra, Roland?” kom dit strydlustig van tant Breggie. “Dis mý opskop, daarom mag ek besluit wie welkom is en wie nie. Loop, Engela. Jy is te ouderwets en te vet om saam met ons te dans.”
“Vet!” spuug tant Engela die woord uit en skud haar skouers soos ’n kapokhaantjie wat gereed maak vir ’n geveg tot die dood. “Ek is nie ’n sak bene nie, Breggie Stapelberg, maar ek weet hoe om my met die waardigheid van die ouderdom te gedra.” Haar oë rus met onmiskenbare misnoeë op die eetkamertafel waarop ’n dosyn blikkies bier en ’n helder pienk koek staan. “Drank en koek! Het jy gehoop jy kan Giepie dronk genoeg maak dat hy daardie kluitjiekoek sal kan inwurg?” vra sy neerhalend.
“Jy is jaloers, jou arme siel,” kom dit vermakering van tant Breggie. “Giepie woon al weke lank hier op jou grond, maar jy het nooit daaraan gedink om vir hom ’n opskop te hou nie. Giepie waardeer my opoffering en my moeite – nè, Giepie?”
Oom Giepie blik beurtelings na tant Breggie in haar kort, pers rok en dan na die fyn, vroulike voorkoms van tant Engela. Hy kug ongemaklik. “Ek waardeer jou moeite, Breggie, maar ek glo ek en Engela is ewe ouderwets. Ons sien nie op ons ouderdom kans om allerlei moderne danse aan te leer nie,” antwoord hy verskonend.
“Jy het ’n hoëtroustel, Giepie. As dit nie anders kan nie – ons kan sakkie-sakkie. Ek meen nou maar: wat is ’n opskop sonder ’n ou dansie?” pleit tant Breggie pateties.
“Kom ons sny die koek,” stel Lelani taktvol voor. “Ek is dol op pienk versiersuiker.”
“’n Blikkie bier sal vorentoe smaak,” sê Roland paaiend.
“Nou waarvoor wag ons, kinders?” vra tant Breggie entoesiasties. “Skink vir Giepie ’n bier. Ek sal solank die koek sny.”
Oom Giepie raak bewus van die ongelukkige uitdrukking in tant Engela se oë en stap na haar toe. “Breggie het dit goed bedoel, Engela,” sê hy gedemp.
“Ek twyfel nie daaraan nie, maar …” Tant Engela speel senuweeagtig met die kaartjie wat saam met die ruiker gekom het en hou dit na hom uit. “Ek waardeer jou bedagsaamheid, Giepie, maar ek het nie jou simpatie nodig nie. Ek glo Breggie sal die ruiker meer waardeer as ek,” sê sy gesmoord, druk die kaartjie in sy hande, draai om en stap vinnig die trap af na die agterplaas.
Oom Giepie staar haar oorbluf agterna en kyk na die kaartjie in sy hand. Ek is jammer jou brief het my nooit bereik nie, Engela. Giepie, lees hy met ’n uitdrukking van onbegrip op sy gelaat. “Wat de duiwel…” mompel hy binnensmonds.
Lelani haak by hom in en kyk onseker op in sy gesig. “Kom saam, oom Giepie. Ek kan alles verduidelik. Sien, ek was die ou duiwel,” sê sy gedemp en dwing hom om saam met haar die woonstel uit te stap.
Hy blik oor sy skouer, sien tant Breggie en Roland wat besig is om die koek te sny en die bier in glase te skink, en volg Lelani gewillig die trap af.
“Jy het heelwat om te verduidelik, ounooi,” verwyt hy terwyl hulle oor die agterplaas na die kombuisdeur loop. “Is jy vir die ruiker en die kaartjie verantwoordelik?”
Sy bloos skuldig en kyk hom pleitend aan. “Ek het nie ’n ander keuse gehad nie, oom. Dis tog opsigtelik dat tant Engela nog altyd lief is vir oom. En ek glo oom gee nog om vir haar, maar julle is albei ewe hardkoppig. Tant Engela loop ’n reguit pad. Sy sou nie oor die brief vir my gejok het nie.”
“Miskien nie, maar waarom het sy nie na my toe gekom nie? Waarom het sy nie weer geskryf nie? As sy my werklik liefgehad het, sou sy nie so maklik tou opgegooi het nie.”
“Waarom het oom nie ná haar moeder se dood aan haar geskryf nie?” verwyt Lelani.
“Wat meer kon ek sê? Engela het geweet hoe ek oor haar voel. Dit was nie vir my nodig om haar nogmaals van my liefde vir haar te verseker nie. Sy kon na my toe gekom het, want dis wat ek van haar verwag het,” antwoord hy koppig.
“Is oom werklik nie meer lief vir haar nie?” vra Lelani reguit.
Oom Giepie kug ongemaklik en steek sy onaangesteekte pyp in sy mond. “’n Jeugliefde is soos ’n vars perske wat jy van ’n boom afpluk: soet en sappig. Maar ’n ou liefde is soos taai, gedroogde perskes – moeilik verteerbaar,” antwoord hy sinies.
“Oom twyfel nog of tant Engela daardie brief geskryf het?”
“Nee … nee, maar wat het sy in die brief geskryf? Dat ons liefde niks meer as ’n opwelling van hartstog was nie? So kortstondig soos die lente wat met die koms van die eerste somersdae gesterf het?” Hy sug tam. “Ek wil so bitter graag glo dat Engela se gevoel vir my so opreg was soos myne vir hare, maar ná ’n stilswye van veertig jaar … Hoe kan ek glo dat haar gevoel vir my ooit eg was?”
“Liefde vra nie konkrete bewyse nie, oom. Liefde is,” sê sy sag.
“Ek sal haar nie laat agterkom dat ek nie die ruiker gestuur of die kaartjie geskryf het nie, maar dis ook al. As Engela my liefhet, laat sy dit uitdruklik vir my sê,” antwoord hy en stap weg om die hoek van die opstal.
Sy het alles verbrou, besef Lelani met ’n gevoel van intense teleurstelling. Sy het geglo dat ’n ruiker en ’n kaartjie die verlede sou kon uitwis, maar oom Giepie se wrok jeens tant Engela is groter as wat sy besef het. Nogtans is sy seker dat hulle vir mekaar omgee; dat hulle sonder woorde boodskappe van liefde met hulle oë aan mekaar stuur. Maar solank oom Giepie aan tant Engela se liefde twyfel, bestaan daar geen moontlikheid dat daar ’n gelukkige einde vir hulle kan wees nie, dink Lelani mismoedig en loop traag na die agterdeur.
Tant Engela kyk grimmig op toe Roland die kombuis binnekom, na die antrasietstoof stap en vir hom ’n koppie koffie skink.
“Ná al daardie biere het jy seker ’n koppie sterk koffie nodig,” sê sy afkeurend.
“Een bier het my nie beskonke gemaak nie, tant Engela. Ek is meer bekommerd oor die helder pienk koek wat ek verplig was om te eet,” antwoord hy met ’n bedroë glimlaggie.
“Breggie Stapelberg was nog altyd ’n stuitige ou vrou. Waarom jy al die jare so erg oor haar is, gaan my verstand te bowe. Besef jy nie sy is ’n goedkoop, sedelose oumens wat van haarself ’n spektakel maak nie?” vra tant Engela verdoemend.
Hy neem by die kombuistafel plaas, proe aan sy koffie en leun terug teen die stoelleuning, ’n warm vonkeling in sy oë. “Tant Breggie is ’n karakter, tannie. Sedert Adéle se dood het ek die geselskap van alle jongmeisies vermy. Maar tant Breggie het my op haar manier getroos. Sy kon my laat lag – my laat vergeet van die skuldgevoel wat al die jare in my binneste kanker.”
“Jou skuldgevoel?” vra tant Engela verdwaas. “Watter rede het jy om skuldig te voel, hartjie?”
“Adéle …” Sy sien die lag uit sy oë vlug en sy gelaat in ’n granietharde masker verander. “Onthou tannie die Adéle wat ek aan tannie voorgestel het? Sy was ’n jong, lewenslustige meisie, vol warmte en lag. Ek het haar liefgehad en ek het geglo sy het my lief, maar … op die een of ander wyse het ek haar gefaal.”
“Maar dis loutere onsin, Roland! Jy het Adéle op die hande gedra, haar met geskenke oorlaai. As ek ooit ’n verliefde man gesien het, was dit jy. Jy het haar nooit enige rede gegee om aan jou gevoel vir haar te twyfel nie,” protesteer tant Engela heftig.
“As dit waar is …” Bitterheid ets diep lyne langs sy mond. “Hoekom het sy haar toevlug tot dwelmmiddels geneem, tannie? Omdat my liefde nie genoeg was om haar gelukkig en veilig te laat voel nie.”
“Nee, Roland, nee. Jy vergeet: aanvanklik het Adéle ons gereeld in Huis Daeraad besoek. Ek en sy het dikwels oor jou gesels. Sy het nooit aan jou gevoel vir haar getwyfel nie, behalwe toe …” Sy swyg, ’n peinsende lig in haar oë.
“Behalwe?” por hy.
Tant Engela sug en neem oorkant hom by die kombuistafel plaas. “Ek het nooit vroeër daaroor gepraat nie, maar met haar laaste besoek het sy uitgevis oor jou verhouding met Yvette. Ek het haar verseker dat jy en Yvette net vriende is, maar noudat ek daaraan terugdink, onthou ek die twyfel in haar oë.”
“Yvette.” Sy uitdrukking verdonker. “Ek en Yvette het vroeër vandag oor Adéle gesels. Soms … soms wonder ek of Yvette se beheptheid met my nie haar gesonde denke aangetas het nie. Sy glo ek staan onder ’n verpligting om met haar te trou, daarom haat sy Lelani.”
“Dan is daar net een uitweg: trou met Lelani, boet. Slegs ’n huwelik met ’n ander meisie sal Yvette vir goed van jou laat vergeet,” sê tant Engela prakties.
Hy staar haar onthuts aan. “Wat laat tannie dink dat Lelani met my sal wil trou?”
“Ek is nie blind nie, kind. Ontken jy dat jy vir die dogter omgee?” vra sy, ’n tikkie uitdaging in haar stemtoon.
Hy maak ’n afwerende handgebaar. “Lelani is ’n pragtige kind, maar as ek met haar trou, sal ek net haar lewe in gevaar stel.”
“Wat bedoel jy daarmee, Roland?”
Hy haal sy skouers op. “Ek is self nie seker nie, maar Yvette het vandag iets gesê wat my vir die eerste maal laat wonder het watter aandeel sy in Adéle se verslawing gehad het.”
Tant Engela kyk hom skerp aan. “Wat presies het sy gesê?”
“Dat sy Lelani sal vernietig soos … En toe bly sy stil. Ons weet albei Yvette het jare gelede besluit ek is haar toekomstige man. Is dit so onwaarskynlik dat sy die dwelms aan Adéle verskaf het?”
“Dis iets wat ek lankal vermoed het,” antwoord tant Engela ingehoue.
“’n Vermoede is nie ’n bewys nie. Ek soek na konkrete bewyse.”
“En moontlik sal ek binnekort die nodige bewyse aan jou kan verskaf,” sê tant Engela raaiselagtig.
“Hoe meen tannie om dit reg te kry?”
“Ek sal alles later verduidelik, maar intussen … Moenie Yvette toelaat om jou tweede kans op geluk te bederf nie, Roland. Ek glo jy gee meer om vir Lelani as wat jy wil erken. Die lewe, die blomtydperk van die liefde, is so kortstondig. Gryp dit met albei hande aan en maak dit jou eie voordat die winter jou inhaal.”
Sy hand beweeg onwillekeurig na die letsel op sy linkerwang. “Ek het geen reg op liefde nie, tant Engela. Liefde het ’n letsel op my gelaat wat niks ooit weer sal kan uitwis nie,” sê hy met onwrikbare sekerheid, kom orent en stap die kombuis uit om ’n einde aan hulle gesprek te maak.
As sy letsel maar net veldiep was, dink tant Engela met ’n gevoel van verslaentheid. Maar Adéle se dood het ’n dieper letsel op sy siel gelaat, daarom vrees hy die liefde. Sal Lelani in staat te wees om hom van sy vrees te genees? wonder sy byna wanhopig.
Zelna loer gespanne deur die groot glasvenster van die Boekhoekie, gewaar Lourens langs ’n boekrak en gaan die winkel onwillig binne.
“Hallo, Lourens,” groet sy, haar stem yl, haar lippe papierdroog. Sy weet sy is lank, maar in die korter Lourens se teenwoordigheid voel sy soos ’n reus. Haar bene voel die ene kniekoppe en groot voete en haar hande voel lomp en lelik. Sy is te maer, te benerig. Selfs haar nek voel soos ’n besemstok met ’n kop op, dink sy en bloos pynlik selfbewus.
Lourens draai om na haar met skugtere bewondering in sy blik. “Jy het lanklaas hier ingeloer, Zelna. Soek jy na ’n spesifieke boek?”
“Ja … nee. Ek bedoel, Lelani het gebel en ons genooi om saam met haar en tant Engela tee te kom drink. Maar as jy liewer nie wil gaan nie … Ek weet jy is altyd besig saans,” sê sy senuweeagtig.
“Selfs ék word moeg van lees,” sê hy. Hy kug en vermy haar oë. “As dit jou pas, kan ek sommer nou my winkel sluit. Dis byna sluitingstyd. Ek sien uit na ’n kuiertjie by tant Engela. Sy is bekend vir haar heerlike gebak.”
Tipies man, dink Zelna afgehaal. Hy dink klaar aan die smaaklike eetgoed wat tant Engela gaan voorsit, nie aan haar nie.
“Sal ons sommer met my motor ry, Zelna?” vra hy en kyk vir die eerste maal in haar oë. Dis wat hy die eerste maal opgemerk het toe hy haar ontmoet het: haar besondere groot, groen oë. Weet sy dat haar skoonheid in haar oë geleë is? wonder hy en wens hy het die moed om dit aan haar te sê.
Zelna glimlag ongelowig. “Jy wil hê ek moet saam met jou in jou motor ry, Lourens?” vra sy aarselend.
“As … as dit jou nie in die verleentheid sal stel nie,” stamel hy.
“Waarom sal dit?” vra sy onthuts. “Dis ek …” Sy maak ’n hulpelose gebaar met haar hande. “Ek lyk soos ’n skoorsteenveër. Jy sal nie omgee om so ’n ellelange vlagpaal soos ek uit te neem nie?”
Hy staar haar verwonderd aan en lag skielik met spontane hartlikheid. “Jy glo jy sal vir my ’n verleentheid wees, maar wat van my, Zelna? Gee jy om dat ek … e … korter as jy is?”
“Ek sien jou lengte nooit raak nie,” antwoord sy eerlik.
Hy staan meer regop. “In daardie geval: ons ontmoet mekaar oor vyf minute by my motor,” sê hy met ’n nuwe selfversekerdheid in sy stem.
“Ek sal daar wees. En dankie, Lourens,” antwoord sy, haar glimlag skaam en dankbaar. Sy vlug die boekwinkel uit.
Is dit moontlik dat Lourens net so sensitief oor sy lengte is, soos sy oor hare is? wonder sy hoopvol. Nee, dis blote wensdenkery. Lourens is nie so kort dat hy nie ’n korter meisie kan liefkry nie. Dis sy met haar ontstellende lengte wat alle hubare mans afskrik, dink sy terneergedruk en gaan die bloemistery binne.
Tant Engela hou Lelani, wat borde koek en tertjies na die eetkamertafel toe dra, met ’n goedkeurende glimlaggie dop. “Jy is ’n gebore gasvrou, Lelani. Het jy dikwels onthaal toe jy saam met jou stiefpa in Huis Winterrus gewoon het?”
Lelani blik haar bedroë aan. “Nee, tannie, maar elkeen van ons loseerders het ’n eie voorkeur gehad. Behalwe oom Barend Stoltz: hy het alles verorber wat soet, stroperig of romerig was. My stiefpa het van my verwag om ons loseerders gelukkig te hou.”
“Dan het jou veeleisende stiefpa tog ’n goeie invloed op jou gehad,” sê tant Engela opreg. “Ek is seker Zelna en Lourens sal nie weet wat om eerste te eet nie.”
Lelani glimlag gevlei. “Solank tannie help om hulle op hulle gemak te stel. Dalk is dit net my verbeelding, maar ek het ’n vermoede dat Lourens en Zelna van mekaar hou, maar dat hulle nie die moed het om hulle ware gevoelens aan mekaar te verraai nie.”
“Soos jy en Roland, hartjie?” vra tant Engela gedemp. Lelani se asem steek teen ’n pynknop in haar keel vas. Sy kyk na tant Engela, haar oë donker van verwyt. “Daar is geen vergelyking nie, tannie. Vir my sal Roland altyd die man met die granietgesig en die graniethart wees. Adéle het die merk van Kain op sy gesig gelaat en hom vir goed ’n vreemdeling van die liefde gemaak.”
Tant Engela kom nader en neem Lelani se hande in hare. “So sê jy met jou mond, Lelani, maar praat jou hart dieselfde taal?”
’n Diep blos van verleentheid kruip oor Lelani se nek en gesig. “’n Liefde sonder ’n weerklank is ’n liefde in ’n doodloopstraat, tant Engela. As tannie my sal verskoon? Ek wil gaan opknap voordat Lourens en Zelna opdaag.”
Tant Engela laat haar gaan, ’n uitdrukking van deernisvolle begrip op haar gelaat. Sy kan aanvaar dat Giepie haar nooit weer sal kan liefhê en vertrou nie, maar Lelani … Hoe lank gaan Roland nog ’n gevangene van sy eie vrees en selfverwyt wees?
Lelani maak haar kamerdeur oop en steek in haar vier spore vas toe sy Yvette voor haar kamervenster sien staan. “Jý!” Lelani stap stadig op haar af. “Wat soek jy hier, Yvette? So ver ek weet, is jy nie meer welkom in Huis Daeraad nie.”
“En dis hoe jy jou stiefsuster verwelkom, poppie?” vra Yvette gekrenk. “Ek het al die moeite gedoen om weer vir jou ’n houertjie tablette te bring, maar nou besef ek ek het net my tyd gemors.”
“Tablette?” vra Lelani verward.
Yvette lig haar regterwenkbrou vraend. “Het jy so gou vergeet? Toe jy griep gehad het, het ek vir jou van dieselfde tablette gebring. Jy kan dit nie ontken nie: die tablette het jou baie gou beter laat voel.”
Lelani huiwer en wonder of sy aan Yvette moet vertel dat sy die tablette aan tant Engela gegee het. Maar die valse glimlag op Yvette se lippe en die gespanne bewegings van haar hande waarsku haar om saam te speel.
“Jammer, dit het my ’n oomblik lank ontgaan. Dis werklik lief van jou om weer vir my tablette te bring, Yvette. Baie dankie,” sê sy met gedwonge dankbaarheid.
“Gebruik dit gereeld, my ding, en jy sal nooit weer las van griep hê nie. Maar ek moet jou waarsku: dit kos ’n klein fortuintjie. As jy in die toekoms nog van die tablette wil hê, sal jy daarvoor moet betaal.”
“Ja … ja, natuurlik. Ons het ’n paar gaste vir tee genooi. Wil jy by ons aansluit?” vra Lelani halfhartig.
“Liewer nie, skattie. Ek het ongemerk by die voordeur ingeglip en ek gaan spore maak voordat tant Engela my gewaar. Maar ek kom jou binnekort haal om by my op Goedgevonden te kuier. Jy sal graag my tant Melinda wil ontmoet?” sê-vra Yvette hoopvol.
“Ja … ja, ek sal. Sien jou, Yvette.”
“Tot siens, my stiefsus,” groet Yvette hartlik en bly ’n oomblik lank luisterend in die deuropening staan voordat sy in die gang uitglip.
Lelani haal een van die tablette uit die houertjie, beskou dit met ’n frons op haar voorkop en plaas dit terug in die houer. Sy huiwer ’n oomblik, versteek die tablette onder haar kopkussing en loop na haar spieëltafel om haar hare te borsel – ’n uitdrukking van peinsende onrus in haar oë.
Roland sit aan die hoof van die eetkamertafel en hou Lourens en Lelani wat teenoor mekaar sit, met ’n gevoel van groeiende irritasie dop. As die vent nog één maal Lelani met haar smaaklike gebak komplimenteer, smyt hy hom met ’n roomkoek, dink hy smoorkwaad.
Wat besiel Lelani in elk geval om op ’n stokou man soos Lourens van Niekerk verlief te raak? wonder hy ergerlik. As hy reg onthou, is Lourens al byna veertig – beslis oud genoeg om Lelani se pa te wees. Maar aan die ander kant: sy het in die geselskap van oumense grootgeword, onthou hy. Die gedagte maak hom net kwater.
Tant Engela vou haar hande op die spierwit tafeldoek voor haar saam en blik beurtelings na Zelna en Lourens wat weerskante van haar sit. “En wanneer meen julle tweetjies om te trou, kinders?” vra sy belangstellend.
Roland verstik aan ’n koekkrummel, hoes en proes en kreun protesterend toe Lelani opspring en hom ’n paar gevoelige klappe tussen sy blaaie gee. Hy hyg na sy asem, kug liggies en vra gesmoord: “Waarom jou oor my kwel? Gaan bespreek jou en Lourens se trouplanne met tant Engela.”
“Bobbejaan,” fluister sy en neem langs hom plaas.
Hy gluur haar vies aan, maar dan ruk sy kop op toe tant Engela weer begin praat: “Ek het ’n ou vriend wat my graag daaraan herinner dat die liefde vir die lente is – so asof die jeug alleenreg op die liefde het. Maar ek weet dis nie waar nie. Liefde steur hom nie aan seisoene of die ouderdom nie. Maar julle tweetjies is gelukkig, Lourens – jy en Zelna is jonk genoeg om te trou en ’n paar kinders te hê.”
Langs Lelani word Roland opnuut deur ’n hoesbui oorval. Sy gluur hom aan en prop ’n gestyfde, wit servet in sy hand. “Druk dit in jou mond, pampoen, voordat jy alles bederf,” fluister sy dreigend.
Lourens kyk na Zelna wat oorkant hom sit, sien die ligte blos op haar wange en kyk diep in die onpeilbare, groen dieptes van haar oë. Sy hou van hom, besef hy en voel sy hart in sy bors ruk. Hy lek oor sy droë lippe en sê skor: “As Zelna haar nie vir my sal skaam nie … Ek is korter as jy, Zelna, en ’n hele tien jaar ouer as jy. Daar is vroue wat glo dat ’n man se manlikheid deur sy lengte bepaal word.”
“Ek het nog nooit so gedink nie, Lourens. Inteendeel, ek voel my lewe lank nog minderwaardig oor mý lengte. En ek weet ek is nie mooi nie,” erken sy skugter.
“Jy het die mooiste oë wat ek nog gesien het,” sê Lourens vinnig, raak bewus van die luisterende stilte om die tafel en bloos pynlik selfbewus. Hy slaan sy blik neer en stoot ’n koekkrummel met sy koekvurkie op sy bord rond.
“En jy hou van slanke, lang meisies, Lourens?” help tant Engela hom met ’n moederlike glimlag van begrip.
Hy knik stom, nie in staat om ’n woord te sê nie.
“In daardie geval, kinders,” sê tant Engela en staan op, “sal ons julle nie langer ophou nie. Ek is seker julle het heelwat om te bespreek, maar voordat julle gaan: jy is ’n weeskind, Zelna. Ek en Roland sal jou en Lourens se huweliksonthaal hier in Huis Daeraad hou.”
Zelna se oë is rond van skok. “Daar is geen sprake van ’n huwelik tussen my en Lourens nie, tant Engela.”
“Omdat hy jou nog nie gevra het nie. Maar hy sal.” Sy glimlag met Lourens wat haar dankbaar aankyk. “Kom kuier weer, kinders. Roland, vergesel jy en Lelani ons kuiergaste na die voordeur.”
“Met plesier, tant Engeltjie!” antwoord Roland, ineens uitbundig gelukkig. Hy gryp Lelani se hand en stap saam met haar en hulle kuiergaste die eetvertrek uit.
“Jy skinder van my, Engela,” praat oom Giepie uit die oopstaande deur agter tant Engela.
Haar liggaam ruk merkbaar van skrik, maar haar stemtoon is koel en vyandig toe sy hom antwoord: “My naam is nie Breggie Bek nie, Giepie. Ek skinder nie. Jy het my duidelik laat verstaan dat ons nooit weer ons verspeelde lente sal terugkry nie.”
“Dit was voordat …” Oom Giepie swyg, bewus van die vyandigheid in tant Engela se reguit rug. “Ek mors my tyd,” sê hy knorrig en stap sonder meer deur die kombuis en dan na buite.
Tant Engela buig haar kop vooroor en voel trane agter haar ooglede vorm. Sy is ’n verspotte ou vrou, betig sy haarself. Haar en Giepie se kans op geluk is onder die sand van tyd begrawe, maar solank sy ander gelukkig kan maak, het haar lewe nog ’n doel, besluit sy. Tog kan sy nie verhoed dat die trane haar oë volloop en blinknat spore op haar wange agterlaat nie.
Roland hang sy reënjas aan die kapstok in die ontvangsportaal op, skud die reëndruppels uit sy donker kuif en loop die gesellige, warm sitkamer met die twee brandende kaggelvure binne.
“Jy is ’n ster, tant Engeltjie!” prys hy en gaan staan met sy rug op die vlamme gekeer voor een van die kaggels. “Die geboorte van Botterblom se kalf het my langer besiggehou as wat ek verwag het. En met die skielike koue en reën – ek het gehoop die kaggelvure sou brand.” Hy kyk nuuskierig rond. “Daar is nie dalk ’n pannekoekie en ’n koppie warm koffie vir ’n honger man nie?”
“Later, Roland, later,” sê tant Engela met ongewone ems. “Ek het ’n gewigtige saak om met jou te bespreek.”
Hy frons besorg, kom nader en neem op ’n gemakstoel langs haar plaas. “Lelani het nie dalk besluit om elders losies te kry nie?”
“Noem jy dit ’n gewigtige saak, boet?”
Roland huiwer en sug oorwonne. “Ek weet nie, tant Engela. As ek aan Adéle dink … Vir my is sy net ’n vae herinnering, want die geluk wat ons saam ervaar het, is uitgewis deur haar dood … en my skuldgevoel. As my liefde enigiets vir haar beteken het, sou sy nie geluk in ’n lewe van dwelms en alkohol gesoek het nie.”
“Probeer jy vir my sê dat Lelani vir jou kosbaarder is as wat Adéle ooit vir jou was?” vra tant Engela reguit.
“Nee! Ek kan my vriendskap met Lelani geniet, my wysmaak dat sy altyd deel sal wees van Huis Daeraad en van my, maar liefde … Dis net nie moontlik nie, want ek wil nie haar dood ook op my gewete hê nie.”
“Het jy na Adéle se dood gesoek, Roland?” vra tant Engela byna streng.
Hy staar haar onthuts aan. “Dis ’n onnodige vraag, tannie.”
“Miskien. Maar as jy eerlik terugdink: wie het die meeste rede gehad om van Adéle ontslae te raak?”
Sy gelaat vertrek grimmig. “Tannie ken reeds die antwoord. Yvette het nie verwag dat ek Adéle sou liefkry nie. Ek glo dat as Adéle nie aan dwelms en drank verslaaf geraak het nie, Yvette op die een of ander wyse van haar ontslae sou geraak het.”
“Nee, Roland. Yvette het gesorg dat Adéle met die gebruik van dwelms begin het,” sê tant Engela nadruklik.
Sy kop ruk op, ongeloof en skok afwisselend op sy gelaat. “Beskik tannie oor enige bewyse?” vra hy bruusk.
Tant Engela haal twee houertjies met pille uit haar breisak. “Toe Lelani met griep in die bed gelê het, het Yvette die eerste houertjie tablette aan haar gegee. Wat Yvette vergeet het, is dat Lelani ’n opgeleide suster is. Sy het nie van die tablette gebruik nie, maar sy het die houertjie aan my gewys. Ek het dit na ons apteker, Dawie Roelofse, toe geneem. Hy het dadelik vir my gesê dat die tablette morfien bevat, maar ek wou sekerheid hê, daarom het ek hom gevra om laboratoriumtoetse op die tablette te laat doen.”
“En?” vra hy gespanne.
“Dawie se vermoede was korrek: Yvette het ’n houer dwelmmiddels aan Lelani gegee.” Sy sien die donker gloed oor sy gelaat skuif. Sy lippe is in ’n harde lyn saamgestreep. Sy hou haar hand gebiedend op. “Ek het nog nie klaar gepraat nie, Roland. Yvette het Lelani gisteraand, terwyl ons op Lourens en Zelna gewag het, in haar kamer ingewag en ’n tweede houer tablette aan haar gegee – met dieselfde dwelmmiddels.”
Roland draai na die kaggel, sy regtervuis in die palm van sy linkerhand gebal. “Yvette,” sê hy, sy stem byna onherkenbaar. “Yvette is verantwoordelik vir Adéle se verslawing … en vir haar dood.”
“Ek twyfel nie daaraan nie, maar na al die jare kan ons niks teen Yvette bewys nie. Nogtans weet ons nou dat niks Yvette sal stuit as sy van Lelani ontslae wil raak nie.”
Hy staar swygend in die vlamme terwyl tant Engela hom besorg dophou. “Jy is eindelik vry, Roland, vry van enige skuldgevoel. Jy het Adéle nie gereeld gesien nie, want aanvanklik was sy ’n hardwerkende student. En later, toe sy ’n slagoffer van drank en dwelms geword het, het sy jou opsetlik vermy. Toe jy eindelik besef wat met haar skort, het jy jou eie lewe in gevaar gestel om haar dood te verhoed. Jy het gefaal, maar jy het geen skuld aan haar dood nie.”
Hy slaak ’n diep sug. “Nee … nee, ek het nie. Maar ons weet nou tot watter uiterstes Yvette in staat is.” Hy spring ontsteld op. “Waar is Lelani, tant Engela? Is sy in die huis?”
“Sy is ’n rukkie gelede holderstebolder hier uit na Giepie toe. Toe, sit nou, boet, en drink ’n koppie koffie. Ek bring die pannekoeke,” antwoord tant Engela gerusstellend en gaan die vertrek uit.
Oom Giepie hang Lelani se reënjas aan die kapstok op en blik met ’n deernisvolle glimlaggie na haar. “Ek is dankbaar jy het kom inloer, ounooi. Ek begin hierdie woonstel verpes, want ek mis jou geselskap.”
“Oom gaan nie lank hier bly woon nie,” sê sy geheimsinnig, haar oë blink sterre van opwinding. Sy vat sy hand en loop saam met hom na die rusbank. “Sit, asseblief, oom Giepie. Ek het vanmiddag uit loutere verveeldheid op die solder gaan rondkrap en toe op hierdie ou fotoalbum afgekom,” vertel sy gretig.
Hy neem met ’n sagte steuntjie langs haar plaas. “As jy dink ek wil na ’n spul ou, verbleikte foto’s van ’n klompie afgestorwenes kyk …”
“Almal is nie dood nie, Oom, want die album is propvol foto’s van oom en tant Engela.” Sy swyg dramaties. “En dít.”
“Dít?” vra hy onbegrypend.
“Ja, oom. Dis ’n kaartjie wat tant Engela veertig jaar gelede vir ’n skeepsreis op ’n skip van die Union Castle-redery gekoop het. Twyfel oom nou nog dat sy na oom toe wou kom?”