Oom Giepie staar Lelani spraakloos aan en neem dan die passasiebiljet by haar met ’n hand wat merkbaar bewe. Hy haal sy leesbril uit sy sak, plaas dit op sy neus en lees die datum op die kaartjie, maar nog sê hy geen woord nie.
Lelani betrag hom in stilte en sien hoe die uitdrukking van onverbiddelike trots en verwyt op sy gelaat verbrokkel voor ’n aanslag van selfverwyt en pyn. “Ek wou haar nie glo nie,” sê oom Giepie en die ongestorte trane is hoorbaar in sy stem. “Ek wou haar nie glo nie – en nou sal sy my nooit kan vergewe nie.”
Lelani plaas haar arm met ’n impulsiewe gebaar om sy skouers en gee hom ’n bemoedigende drukkie. “Het oom van die ruiker en die kaartjie vergeet wat ek namens oom gestuur het? Tant Engela is onder die indruk dat oom Giepie wel glo dat sy aan oom geskryf het. En noudat oom met die bewys in oom se hande sit … oom is tog lief vir haar?”
Hy draai die kaartjie in sy hande om – hy hanteer dit versigtig asof dit sy kosbaarste kleinood is – en plaas dit in sy hempsak. “Ek het haar my lewe lank verwyt. Sy was die rede waarom ek nooit getroud is nie. Soms wou ek my selfs wysmaak dat ek haar haat, maar ek kon myself nie bedrieg nie. Dis omdat my liefde vir haar nooit kon sterf nie dat ek nie ’n ander vrou kon liefkry nie.”
“Dan gaan oom haar nou vra om te trou?” vra Lelani gretig.
Twyfel vertroebel die uitdrukking in sy oë. “Sal sy my ooit kan vergeef, ounooi? As sy die volle waarheid …” Hy swyg gefrustreerd toe die telefoon lui, staan op en tel die gehoorstuk op. “Ja?” vra hy bruusk.
“Agge siesa, Giepie, moenie vir my knor nie. Dis ek wat kwaad moet wees omdat jy nie van my opskop gehou het nie,” teem tant Breggie se stem verwytend in sy oor.
“Jy wou sê, Breggie?” vra hy ongeduldig.
“Nee, ek het niks om te sê nie, Giepie, maar ek wil jou ’n ietsie vra. Sal jy Lelani vra om ’n draaitjie by my te kom maak? Ek het die allerwonderlikste verrassing vir haar. As sy nou dadelik kan kom …”
“Ja, ja, ek maak so. Maar ek twyfel of Lelani in die reën sal wil kom kuier. Tot siens, Breggie,” groet hy kortaf en plaas die gehoorstuk terug op die mikkie.
“Tant Breggie wil hê ek moet kom kuier?” vra Lelani en staan op.
“Ja, ounooi, maar jy kan wag totdat die reën ’n bietjie bedaar het. Daar is geen haas nie,” antwoord hy. Hy staar verstrooid om hom rond en vat-vat aan die hempsak waarin hy die skeepskaartjie gesit het.
Lelani glimlag deernisvol. “Oom het ’n afspraak om met tant Engela na te kom,” sê sy, reeds besig om haar reënjas aan te trek. Sy loop na die deur toe en bly met haar hand op die deurknop staan. “As tant Engela na my soek: sê asseblief vir haar ek is by tant Breggie. Tot siens, oom, en sterkte.”
Hy knik ingedagte en loop dan op en neer in die sitkamer. Hy moet met Engela gaan praat, maar wat sê hy vir haar? As hy ten volle eerlik met haar is, sal sy hom kan vergewe? Tot ’n paar minute gelede het hy nog geglo dat sy nooit aan hom geskryf het nie. Hy het haar tot leuenaar gemaak. En die ergste van alles is dat hy haar laat verstaan het dat sy gevoel vir haar veertig jaar gelede gesterf het. Wat doen hy as sy hom nou verwerp?
Lelani kruip deur die gat in die ringmuur, draf oor die modderige agterplaas na tant Breggie se nederige huisie en stoot die agterdeur oop sonder om aan te klop. Sy skud die reëndruppels van haar hare af; sy is reeds besig om haar reënjas uit te trek en roep uitgelate: “Ek is hier, tant Breggie! Waar kruip tannie weg?”
“Agge, liewentjies, jy is natter as ’n kat, sussie,” sê tant Breggie en warrel die kombuis binne. “Ek het vir Yvette gesê sy moet wag tot die reën bedaar, maar …”
“Yvette?” vra Lelani skerp en voel vrees met ’n ysige hand om haar hart sluit. Sy sien Yvette die beknopte kombuisie binnekom en probeer die gevoel van onrus afskud. Waarom is sy ineens bang vir Yvette? wonder sy ergerlik, maar sy ken die antwoord: tant Engela het haar vermoede bevestig dat Yvette dwelmmiddels aan haar gegee het. Sy twyfel nie daaraan dat Yvette gesorg het dat Adéle aan dwelms verslaaf geraak het nie. Maar dwelmverslawing is ’n lang proses. As Yvette bedreig voel, kan sy dalk drasties optree …
“Ek is dankbaar jy het gekom, Lelani,” sê Yvette, haar glimlag somber, byna hartseer.
Lelani staar haar verwonderd aan. “Wat skort, Yvette? Jy lyk … e … anders.”
Yvette draai na tant Breggie. “Sal tannie my en Lelani ’n oomblikkie alleen laat? Ons wil vertroulik gesels,” versoek sy met ongewone nederigheid.
“Alte seker, sussie. Ek sal in die voorkamer wees as julle lus is vir ’n koppie koffie,” willig tant Breggie in en loop die kombuis uit.
Yvette maak die gangdeur toe en loop na die koolstoof. “Dis seker gemeen van my, maar wat ek vir jou wil sê, is nie vir die liewe tant Breggie se ore bedoel nie. Ons weet almal hoe graag sy stories oorvertel,” sê sy verskonend, haar stem gedemp.
“Weet ons nie!” antwoord Lelani met gedwonge lighartigheid en sluit by Yvette voor die stoof aan. Sy hou Yvette vraend dop, nog onseker of sy haar kan vertrou. Wat het gebeur wat Yvette so radikaal verander het? wonder sy. Sy is nie meer ’n koue, hooghartige meisie nie. Yvette lyk byna soos ’n tragiese figuur met haar verwese glimlaggie en die onmiskenbare hartseer in haar oë.
“Ek het jou nooit werklik vriendelik behandel nie, Lelani,” begin Yvette berouvol. “Inteendeel, ek het jou vanuit die staanspoor as ’n vyand beskou. Maar ek het ’n baie goeie rede gehad, want ek het gevrees dat jy Roland van my sou afrokkel.”
“Daar was nog nooit ’n verhouding tussen my en Roland nie,” sê Lelani gelykmatig, bewus van die kankerende verlange in die diepste skuilhoekie van haar hart. As liefde sterf, kan jy dit begrawe, maar ’n vergeefse liefde word deel van jou hartklop, en dit pyn met elke asemteug in jou binneste. Want ’n vergeefse liefde ís pyn.
“As dit waar is … ” Yvette aarsel, huiwerende hoop in haar oë. “Ek wil hê ons moet vriende wees, Lelani. Nee, laat ek dit anders stel: ek het nog nooit ’n groter behoefte aan ’n vriendin, ’n vertroueling, gehad nie, want my las het te swaar geword om alleen te dra.”
“Ek begryp nie,” aarsel Lelani.
“Jy sal sodra jy al die feite ken. Ek het geglo ek is sterk genoeg om my las alleen te dra, maar na meer as ’n jaar … Asseblief, Lelani, kom saam met my Goedgevonden toe. Daar … daar sal jy die volle waarheid hoor en dalk sal jy my van raad kan dien.”
Lelani staar stom na die trane wat stadig oor Yvette se wange biggel en lê haar hand impulsief op die ouer meisie se skouer. “Moenie huil nie, Yvette. Ek beloof: ek sal alles in my vermoë doen om jou te help. Wil jy hê ons moet nou dadelik ry?”
Yvette knik en fluister skor: “Asseblief.”
“Kom dan,” nooi Lelani, haak by haar in en loop saam met haar na die gangdeur.
Oom Giepie pink sy kromsteelpyp met ’n ergerlike gebaar uit sy mond toe Roland sy woonstel binnekom en gluur hom misnoeg aan. Hier staan hy al ’n halfuur soos ’n skoolseun en rondtrap terwyl hy moed bymekaarskraap om met Engela te praat, en nou, juis toe hy besluit om tog te stap, word hy opnuut gesteur, dink hy gegrief en vra bars: “Wat wil jy hê, kêrel?”
“Nie wat nie, oom, maar wie.” Roland se oë soek deur die vertrek. “Is Lelani in die kombuis besig?”
“Om wat te doen?” vra oom Giepie kwasterig.
“Ek weet nie, oom. Ek bedoel, dalk maak sy koffie. Of kuier sy nie meer by oom nie?”
“Sy kuier langsaan by Breggie. Maar as jy my nie wil glo nie: soek my woonstel deur. Ek is op pad na Huis Daeraad toe,” antwoord oom Giepie knorrig, gryp sy reënjas van die kapstok af en loop die woonstel met lang, haastige treë uit.
Wat het oor sy lewer geloop? wonder Roland onthuts, kyk oom Giepie ’n oomblik lank agterna en volg hom dan na buite. ’n Besoek aan tant Breggie is altyd prettig, dink hy – solank sy nie besluit het om pannekoek te bak nie.
Hy draf deur die reën na die gat in die ringmuur en klop oomblikke later aan tant Breggie se agterdeur.
Die deur gaan byna onmiddellik oop en tant Breggie staar hom oopmond aan. “Wat soek jy hier in die reën en koue, Roland?” vra sy met ’n agterdog wat aan vyandigheid grens.
Hy frons verward. “Dan is ek skielik nie meer welkom nie?”
Tant Breggie sluk herhaalde male en maak die deur wyer oop. “Ag, ekskuus toggie, Roland, maar ek het vandag so ’n rug aan my … Seker maar my spiere of iets verrek toe ek en Giepie so jollie saamgedans het. Kom binne, boetie, kom binne. Ek was juis van plan om ’n paar pannekoekies te bak.”
“Nie vir my nie, dankie, tannie,” sê hy vinnig, gaan die kombuis binne en stoot die deur agter hom toe. “Ek het so pas pannekoek en koffie gehad. Kuier Lelani nog hier by tannie?”
Tant Breggie werskaf by die stoof, haar rug op Roland gekeer. “Nee, boetie. Sy is nou-nou al terug huis toe. Snaaks dat julle mekaar nie raak geloop het nie, want sy kruip ook altyd deur die gat in die ringmuur.”
“In daardie geval … Ek kom kuier op ’n ander keer, tannie. Tot siens,” groet hy en loop die kombuis uit.
Tant Breggie hoor die kombuisdeur agter hom toegaan en haal die paar geldnote uit haar voorskootsak. “Sonde,” mymer sy. “Dis seker soos ou Judas gevoel het toe hy die dertig silwerlinge gekry het … Nee, nonsies met jou, Breggie Stapelberg, jy het ’n klomp geld gekry en jy weet nou nog nie waarom nie. Darem snaaks dat Yvette nie wou hê die mense van Huis Daeraad moes weet dat Lelani saam met haar plaas toe is nie. Dit moet seker maar ’n verrassing vir hulle wees,” stel sy haarself gerus en haal ’n ou porseleinteepot van haar kombuiskas af om die note in te bêre.
Tant Engela luister na die sussende sang van die reën op die dak, haar oë starend in die vlamme van die kaggelvuur. Eenkeer, ’n leeftyd gelede, het ’n jong, blonde meisie voor dieselfde kaggel gesit en haar liefde en lewe aan ’n jongman met oë blouer as die blouste somerhemel beloof. Gerhard … Gerhard het haar liefgehad met die oorgawe en passie van die jeug, onthou sy en sug ongeduldig. Altyd weer die jeug. Miskien is dit goed dat sy en Gerhard Taljaard nooit getroud is nie, want die Giepie wat sy nou leer ken het, is ’n siniese ou man, wat glo dat liefde sterf lank voordat die winter van die ouderdom aanbreek.
“Engela.”
Sy hoor oom Giepie haar naam sê, maar sy stem vorm deel van haar herinneringe. Engela … Net Gerhard kon ’n melodie van liefde van haar naam maak …
Oom Giepie kug en tant Engela keer onwillig terug na die werklikheid. Sy kyk oor haar skouer na hom, maar iets in die uitdrukking op sy gesig laat haar blik verstar. Dis nie Giepie wat voor haar staan nie, besef sy, want die wyse waarop hy na haar kyk … Daar is ’n vreemde uitdrukking in sy oë, ’n teerheid wat sy nie kan begryp nie. Of sien sy net wat sy so bitter graag wil sien? vra die twyfel in haar.
“As jy ’n koppie koffie wil hê … Ek het pannekoek gebak, Giepie,” sê sy toonloos.
“Ek het vir jou gelieg, Engela.” Oom Giepie beweeg om die rusbank en bly voor die skoorsteenmantel staan.
Sy staar hom vraend aan en voel die vrees aan haar hart knaag. Waaroor kon Giepie vir haar gelieg het? Dalk oor die stuitige Breggie Stapelberg? Is dit moontlik dat Giepie die vrou kon liefkry? Nee … nee, nie háár Giepie nie. Maar Giepie was nooit hare nie, onthou sy, en voel soos ’n verloorder.
“Ek het vir jou gelieg, maar ek het nog meer vir myself gelieg,” praat hy weer.
Sy hou haar hand afwerend op. “Jy is geen verduideliking aan my verskuldig nie, Giepie. Wat jy met jou lewe doen … wat jy ook al besluit, kan my nie meer raak nie,” dwing sy valse woorde oor haar lippe.
“Ek hoop jy lieg,” sê hy met iets van die ou vuur in sy stem.
Sy kyk hom verras aan. “Ekskuus, Giepie?”
Hy haal sy tabaksak uit sy sak, maar prop dit onmiddellik weer terug. “Ek wil nie rook nie; ek wil praat. Daar is bladwisselende bome. Die winter verskrompel hulle blare, smyt hulle af en maak swart geraamtes van die bome. Dit lyk asof hulle sterf, maar wanneer die lente kom, skud hulle hul winterdood af.” Hy swyg asof hy nie weet hoe om verder te gaan nie.
“Ek hou meer van immergroen bome soos die seders,” sê sy asof sy kan aanvoel dat hy na woorde soek.
“Ek ook, want ’n immergroen boom herinner my aan die liefde. Liefde ken nie seisoene nie, Engela. Jy het dit al gesê, maar ek het dit ontken … ek het gelieg.”
“Wat probeer jy sê, Giepie?” vra sy, vasgevang in haar vrees wat hoop op ’n afstand hou.
Hy aarsel en dan vorm sy lippe die woorde wat nie langer binne-in hom kan bly nie: “Ek het jou lief, Engela. Ek het jou meer as veertig jaar lank lief. Ek ontken dit nie: ek het myself probeer oortuig dat my gevoel vir jou gesterf het, maar ek kon nooit ’n ander vrou liefkry nie. En toe ek jou eindelik weer ontmoet, het ek nie meer gewonder waarom ’n tweede liefde vir my onmoontlik was nie. Tyd of ouderdom kon niks aan my gevoel vir jou verander nie. En toe lieg ek omdat ek jou wou straf vir al daardie eensame jare … al daardie eensame nagte van leegheid en verlange.”
“Maar jy het tog die ruiker en die kaartjie –”
“Nee,” val hy haar stroef in die rede. “Lelani het die ruiker en die kaartjie gestuur omdat sy ons wou help. Maar in my hart het ek jou geglo toe jy gesê het jy het ’n brief aan my geskryf. Ek was bly en terselfdertyd woedend dat die ou lewe ons uitmekaar gehou het. In my selfsug het ek geglo dat ek alleen gely het, totdat Lelani hierdie skeepskaartjie in ’n ou fotoalbum op die solder ontdek het. Jy … jy wóú na my toe kom.”
Hy hou die kaartjie na haar uit en sy snak hoorbaar na haar asem. Hy sien die bloed uit haar gesig dreineer, sien dat die krag waarmee sy die bankleuning vasgryp, haar kneukels wit laat vertoon en besef hoe groot haar pyn is.
“Engela.” Sy stem pleit terwyl hy haar regterhand in albei syne neem. “Ek is jammer. Ek het geglo ek het al die jare alleen gerou oor ’n liefde wat nie kon wees nie, maar ek weet nou dat jou pyn niks minder as myne was nie.”
“En nou is dit te laat,” wankel haar woorde tussen trane. “Nee, dis nooit te laat nie, Engela. Die winter het ons ingehaal, maar ons kan bid vir ’n lang, gelukkige winter.”
“Saam met jou, Gerhard?” vra sy aarselend.
“As my vrou, my liefling. Engela, my liefste, sal jy met my trou, of …?”
“Ek het ’n leeftyd gelede ja gesê. Ek verbreek nie my woord nie,” sê sy en sluit haar oë in ’n dankgebed toe hy haar in sy arms neem.
Yvette bring haar motor voor die stoep van die moderne opstal op Goedgevonden tot stilstand en draai met ’n pleitende uitdrukking op haar gelaat na Lelani wat haar swygend aanstaar. “Wat ek nou gaan doen, is nie maklik vir my nie, Lelani. Moontlik sal jy my veroordeel, my verafsku omdat …” Sy swyg en laat sak haar kop. “Kom ons gaan binne,” nooi sy gesmoord en klim uit die motor uit.
Lelani volg Yvette die ontvangsportaal van die opstal binne en kyk vraend rond. Een ding is seker, dink sy: Yvette het in weelde grootgeword. Die meubels is modern en al die skilderye teen die mure is oorspronklike werke van bekende skilders.
“Wag in die sitkamer aan die linkerkant. Ek gaan net vir hulle sê jy is hier,” sê Yvette en stap met geboë skouers die gang af.
Vreemd dat Yvette se pleegouers hulle nie die opstal hoor binnekom het nie, dink Lelani en onderdruk met moeite ’n gevoel van tobbende kommer. Waarom voel sy so ongemaklik in Yvette se geselskap? Waarom is dit vir haar onmoontlik om Yvette te vertrou? Yvette sou haar tog nie na haar ouerhuis toe gebring het as sy enigiets onderduims beplan het nie, probeer sy haarself gerusstel. As sy net daaraan gedink het om tant Engela of oom Giepie te bel voordat sy saam met Yvette weg is, dink sy en soek met haar oë na ’n telefoon.
“Kom saam,” nooi Yvette uit die gang.
Lelani aarsel, weer eens verras oor die hartseer in Yvette se glimlag en stap onwillig die gang binne. “Ek sien uit daarna om jou tant Melinda en jou oom Nathan te ontmoet,” sê sy gespanne.
Yvette antwoord nie, stoot ’n deur regs oop en gaan binne. Sy bly staan en blik oor haar skouer na Lelani. “Kom kyk, Lelani,” versoek sy gedemp.
Lelani loop die kamer binne en staar verwonderd na die bababedjie waarin ’n baba rustig lê en slaap. “Wie se baba is dit?” vra sy, haar stem verstrik in ’n nagduistemis van vrees wat soos swart vloedwaters haar oorspoel.
“Myne. Tanya is my en Roland se baba.”
Die vloedwaters dreun harder, word die donderende klank van vrees en onwerklikheid wat haar meesleur na ’n oop graf. Dis hier waar haar liefde sterf; dis hier waar haar drome wegsink in ’n slikpoel van wrede realiteit. Tanya is Yvette en Roland se baba …
“Hy het geweier om met my te trou, daarom moes ek buiteland toe vlug. O, hy was bereid om vir ’n aborsie te betaal, maar ek het hom só lief… Ek kon nie sy kind vermoor nie, Lelani, ek kon nie! Al trou hy nooit met my nie, sal klein Tanya my altyd aan hom herinner.”
Pyn bou mure sterker as staal, maar so deursigtig soos glas, dink Lelani en staar stom na die huilende Yvette. Hoe groot is Yvette se pyn? Hoe onmeetbaar haar smart? En Roland het dit aan haar gedoen …
“Ek is jammer, so bitter jammer, Yvette,” hoor sy haarself sê. “As ek net eerder geweet het…”
“Hy sou jou nie gesê het nie en niemand weet behalwe ek en hy nie. Selfs my pleegouers … ek het aan oom Nathan gesê ek weet nie wie die pa is nie, daarom het hy my onterf. As tant Melinda haar nie oor my ontferm het nie …” Yvette haal haar skouers wanhopig op.
“Maar jy kan ’n hofbevel teen hom kry. Hy móét sy eie kind onderhou,” protesteer Lelani, nie in staat om Roland se naam te sê nie.
Yvette sug verwese. “Ek het hom lief. Ek kan nie sy naam deur die modder sleep nie. Ek kan net aanhou glo dat hy eendag sal besef hoe groot my liefde vir hom is.”
“Hy sal,” sê Lelani skor en draai weg.
“Ek sal jou nou terugneem huis toe, maar eers moet jy beloof dat jy niks aan tant Engela sal sê nie. Ek wil nie hê sy–”
“Nee!” val Lelani haar kras in die rede. “Ek het nie my handsak saamgebring nie, maar … Asseblief, Yvette, ek kan nie teruggaan na Huis Daeraad toe nie. Ek moet wegkom.”
“Jy kan teruggaan na Huis Winterrus toe,” stel Yvette huiwerig voor.
“As jy nog nie die huis verkoop het nie … Ja, asseblief. As jy vir my geld vir ’n treinkaartjie kan leen en my stasie toe sal neem…”
“Ek sal jou met my motor neem en sorg dat jy alles het wat jy mag nodig kry. Wag solank in my motor. Ek roep net gou die kinderoppasser,” sê Yvette hulpvaardig, gee Lelani ’n bemoedigende drukkie en stap saam met haar in die gang uit.
Niemand sterf aan ’n gebroke hart nie, dink Lelani terwyl sy in die eerste skemering by die tuinhekkie van Huis Winterrus staan en Yvette se motor agternakyk. Maar aan die ander kant: sy het nie meer ’n hart nie, want waar haar hart was, is ’n gevoellose doodsheid. Miskien is sy self ook reeds dood, want alhoewel haar liggaam nog leef, het elke emosie in haar gesterf.
Sy wil nie huil nie; wil nooit weer lag nie; wil nooit weer dink nie. Sy sal eet wanneer sy honger kry, slaap wanneer sy vaak word en bid dat sy nooit weer wakker word nie.
“Roland…” fluister sy.
Sy naam is soos ’n vlymskerp dolk wat bloedhale in haar siel laat. Sy sluit haar oë, probeer haar gedagtes wegskeur van sy beeld wat voor haar geestesoog opdoem en kreun haar onmag uit. Sy moet hom haat en verag oor sy bedrog, hom verafsku oor sy selfsug en die gevoelloosheid wat hom sy eie kind laat verwerp het, maar soek sy in haar hart, vind sy net hartseer en rou daar.
Net een maal in die lewe kom die liefde weergaloos … spoel die digter se woorde soos soutwater oor die oop wonde in haar siel en laat haar trane soos ’n stortreën op haar wange uitsak.
Sy is nouliks bewus van die motor wat met ’n geskree van bande voor die tuinhekkie tot stilstand kom.
“Lelani!” Arno Greyvenstein se uitroep is ’n jubelkreet. Hy kom vinnig oor die sypaadjie aangedraf. “Jy is terug, Lelani! Mag ek hoop dat jy ter wille van my …” Hy frons toe hy haar trane sien en vra besorg: “Kan ek dalk help? As jy enigiets nodig het …”
“Ek is sommer verspot, Arno,” hoor sy haarself sê en voel haar lippe in ’n glimlag plooi. “Dis net sentimentele trane oor al die gelukkige herinneringe aan die jare hier op Sekelbaai.”
“Dan is jy nie permanent terug nie?” vra hy afgehaal.
“Nee … Nee, net tydelik. Ek het nog ’n paar dingetjies om af te handel, maar oor ’n dag of twee …”
“’n Uur is lank genoeg vir my, Lelani. Ek besef nou ek was te oorhaastig – ek het jou in ’n huwelik probeer dwing. Maar as jy my sê waarheen jy gaan … Al wat ek vra, is jou toestemming om jou gereeld te kom besoek. Wie weet, as jy my eers beter ken, as ek jou kan oortuig dat my gevoel vir jou opreg is, leer jy dalk om my lief te kry soos wat ek jou liefhet,” pleit hy met eerlike erns.
Waarom wag? dink Lelani bitter. As sy vanaand nog met Arno trou, sal sy Roland … Roland. Die pyn is terug, die polsende verlange is weer eens deel van elke asemteug.
“Ons kan môre weer gesels, Arno. Ek het ’n uitputtende dag agter die rug. Ek wil vanaand vroeg gaan slaap,” sê sy verskonend.
“Ek verstaan, Lelani. Hoe laat mag ek môre kom?” vra hy galant.
“So … so teen elfuur,” antwoord sy aarselend.
“Ek sal stiptelik om elfuur hier wees,” sê hy, sy glimlag soos ’n tasbare streling op haar traanbevlekte wange. “Jy is pragtig, Lelani, selfs wanneer jy gehuil het. Ek sal die hele nag van jou droom.”
Sy dwing ’n glimlag om haar lippe. “Solank dit nie nagmerries is nie. Tot siens, Arno,” groet sy, draai om en stap haastig na die voordeur om ’n einde aan hulle gesprek te maak.
“Sien jou, mooi meisie!” roep hy met die uitgelatenheid van ’n skoolseun en draf weg na sy motor.
Sy slaak ’n sug van verligting toe sy sy motor hoor wegry en loop die leë huis binne. Haar holklinkende voetstappe volg haar in die lang gang af, word eggo’s van ’n gelukkige verlede. Sy het dit nooit besef nie, maar sy was gelukkig in Huis Winterrus. Oom Giepie, oom Barend, tant Charity en tant Patience – hulle het haar soveel liefde gegee. In Huis Daeraad het sy ook liefde ontvang, maar die pyn was soveel meer.
Tant Breggie sluip op haar tone Huis Daeraad binne, sien lig uit die oop studeerkamerdeur val en haas haar met ’n wikkelstappie daarheen. Sy loer om die deur, haar dim nekkie lank uitgerek, en gewaar Roland wat met sy ken rustend op sy een hand agter sy lessenaar sit.
Slaap hy dalk? wonder tant Breggie. Miskien moet sy eers aanklop, maar aan die ander kant: dalk maak haar geklop hom wakker. Sy rek haar nek langer uit, vertrek haar lippe in ’n gryns en fluister: “Pssst! Pssst! Is jy wakker, boetie?”
Roland se kop ruk op en tant Breggie versluk haar van skrik. Wat op aarde makeer die seun? Hy lyk doodsiek met die swart kringe onder sy oë en sy gesig so ’n vuilerige, geel kleur. En sy oë … hulle gloei in sy kop asof hy koors het. Of dalk is hy gewoon befoeterd, dink sy hoopvol. Dis nou een ding van haar: g’n befoeterde man het haar nog ooit laat skrik nie.
Roland knip sy oë ongelowig, ’n uitdrukking van verbystering op sy gesig. “Tant Breggie! Wat soek tannie dié tyd van die nag hier?” vra hy, sy stem skor en gedemp.
“Oggend, liefie. My ou wekkertjie in die kombuis het gesê dis al byna vieruur en toe dag ek by myself: Breggie Stapelberg, jy het die ganse nag g’n oog toegemaak nie omdat jy gesondig het. Gaan bieg en dra jou straf soos ’n man, anders slaap jy nooit weer nie. Toe kam ek maar my ou haartjies en kruip deur die gat en sien al die ligte …”
“Ja, ja, tant Breggie, dis nie nodig om ’n vervolgverhaal van die storie te maak nie. Ons het ’n klompie ligte laat brand ingeval Lelani sou huis toe kom. Wat het tannie gesondig?” vra hy ongeduldig.
“Oor Lelani,” sê tant Breggie plegtig en blik verlangend na ’n gemakstoel. “Mag ek maar sit, boetie? My ingroeitoonnaels moor my.”
“Ja, sit, asseblief. En praat, tant Breggie. Waar is Lelani?” vra hy, sy stem streng van ingehoue spanning.
“Ek weet nie presies nie, Roland, maar sy is saam met Yvette weg Goedgevonden toe,” antwoord sy skuldig.
“Wanneer? Om wat te doen?” vra hy skerp.
“Ek kon self nie mooi verstaan nie, boetie. Sien, Yvette het daar by my ou huisie aangekom en gesê sy wil dringend met Lelani praat. Maar die meisiekind was alte haastig, daarom kon sy nie sommer daar in my ou huisie met Lelani gesels nie. Sy en Lelani is toe daar weg en … en sy …” Tant Breggie vroetel die geldnote voor uit haar rok. “Dis die bloedgeld wat my so gepla het, Roland. Ek meen nou maar, dis nou wel nie silwerlinge nie, maar dis darem geld. Yvette het my die geld gegee sodat ek vir niemand moet vertel waar Lelani is nie.”
“En Lelani is nou op Goedgevonden?” vra Roland met ’n donker stemtoon wat tant Breggie ongemaklik op haar stoel laat rondskuif.
“Dis wat ek nie weet nie, boetie. Toe Lelani nie gisteraand huis toe kom nie, het ek half bekommerd geraak en Goedgevonden toe gebel. En toe antwoord Melinda die telefoon en kla aanmekaar oor Yvette wat haar pligte versuim en afgesit het Sekelbaai toe.”
“Sekelbaai! Huis Winterrus!” Roland spring op en bereik tant Breggie met enkele treë. “Die ou huis staan leeg. Die hemel weet wat Yvette …” Hy pers sy lippe hard saam. “Kom tannie saam? Ek ry Sekelbaai toe.”
Tant Breggie huiwer ’n oomblik, buk dan af en pluk haar hoëhakskoene uit. “Ek kom saam, boetie!” roep sy gedemp en draf met haar skoene in haar hand agter hom aan.
Lelani loop soos ’n slaapwandelaar deur die vlak seewater, voel lippe skuim aan haar enkels suig en bly staan. Sy draai haar kop na links en kyk na die aanstormende branders met hulle krullende, wit maanhare. As sy deur die branders loop en begin swem … aanhou swem totdat sy nie langer kan nie, sal haar pyn en ontnugtering saam met haar in die stil dieptes van die oseaan wegsink. Sy sal vir altyd rus vind op die bodem van die deinende see, deel word van ’n wêreld van goue seesand en koel, lawende water.
Maar eers sal sy moet sterf. Dood. Sy wil nie dood wees nie. Sy wil lewe. Maar as daar nie meer sin in die lewe is nie?
“Koe-ie …! Koe-ie, sussie! Nee, kyk diékant toe! My ou beentjies wil nie meer nie!” wedywer tant Breggie se stem met die gekras van die seemeeue.
Tant Breggie – hier? skok die besef deur Lelani, maar sy hardloop reeds oor die sand na waar tant Breggie op ’n rots neergesak het.
“Tant Breggie! Wat op aarde soek tannie hier?” vra sy verbysterd en bly uitasem voor haar staan.
“Ek soek na jou, natuurlik. Ek moes nooit na Yvette se liegstories geluister en haar geld gevat het nie. ’n Judas, dis wat ek is,” antwoord tant Breggie skuldig.
“Liegstories?” vorm Lelani se lippe die woord werktuiglik.
“Ja, liefie. Sien, Melinda pas die Davels se ou kleintjie op, want Karlientjie lê met ’n blindedermoperasie in die hospitaal en Johan is te onhandig om die kleintjie te versorg. En toe kom Yvette met die storie dat sy jou gaan vra om haar te help om die baba te versorg, want Melinda moes gistermiddag ’n ou vriendin se huweliksherdenking bywoon. Dit was seker ’n jollie opskop, maar niemand het mý genooi nie, maar –”
“Yvette moes die Davels se baba oppas, tant Breggie?” val Lelani haar gespanne in die rede.
“Ja, ja, dis wat ek gesê het, sussie. Maar toe my gewete my begin ry en ek wonder of jy nog gelukkig is by Yvette, toe bel ek Melinda. En wat sê Melinda toe vir my? Yvette is weg Sekelbaai toe. Haai, Lelani, jy kon my met ’n veertjie…”
“Die baba se naam, tant Breggie?” vra Lelani en skud die oorblufte tant Breggie aan haar skouers.
“Los, sussie, los, anders foeter ek van die rots af … Nee a!” protesteer tant Breggie benoud.
“Ek is jammer, tannie, maar as tannie my net kan sê wat die baba se naam is …”
“Soos toffie … taai… A, nou weet ek: Tanya! Darem ’n lawwe naam om …” Tant Breggie snak na haar asem toe Lelani haar skielik ’n klapsoen op die wang gee. “En nou, liefie? Vir wat lyk jy so bly? Of huil jy? As Roland sien ek het jou laat huil … Hy is so ’n befoeterde man, maar hy sê my hy is lief vir jou en …”
“Lelani!” Sy stem klink uit die ooste op waar die nuwe dag breek.
Sy draai haar kop, sien hom aangehardloop kom oor die sand en haar bene hardloop vanself. Tyd vries ’n oomblik in die ewigheid; liefde dra hulle op die vleuels van die daeraad oor die goue sand en bring hulle in mekaar se arms.
Hulle staan sonder woorde, die onstuimige geklop van sy hart in haar oor. Sy klou hom stywer vas, probeer om haarself in die veilige omhelsing van sy liefde te verskuil.
“Ek het Yvette geglo. Ek het geglo klein Tanya Davel is julle baba,” bieg sy.
“Klein domkop.” Sy stem is ’n speelse troeteling. “Ek glo Yvette het haar laaste troefkaart gespeel, want ná so ’n leuen sal sy nie weer haar voete in Huis Daeraad durf sit nie.”
“Jy het my kom haal?” vra sy met haar lippe, maar haar oë stel ’n ander vraag.
“Ek moes – omdat ek jou liefhet,” antwoord hy, sy asem sag op haar wang.
Haar vingers streel liggies oor die letsel op sy linkerwang. “Is jy seker, Roland?” vra sy en die vrees vir die herinnering aan ’n ander meisie is hoorbaar in haar stem.
“Ek sal die letsel maklik kan laat verwyder, maar as jy gisternag iets oorgekom het, my liefste … Oppervlakkige wonde laat ’n letsel, maar sonder jou sou die dood ’n welkome vriend gewees het.” Die twyfel in sy oë pleit by haar. “Ek het jou liewer as die lewe self, Lelani. Kan jy my ook liefkry?”
“Nie kan nie, Roland. Ek hét jou lief,” antwoord sy. Sy voel sy honger, soekende lippe op hare en reis onbevrees saam met hom na daar waar elke nuwe daeraad opnuut die wonder van die liefde bring.