Elfie Barnard klap die deur van haar rammelkasmotortjie agter haar dig, hardloop oor die kort afstand van die rylaan na die voorstoep van haar ouerwoning en storm die voorportaal binne.
“Pappa! Pappa! Ek het dit – o, ek het dit!” jubel sy en voer ’n dans voor die oopstaande dubbeldeur van die sitkamer uit. “Ek het my graad in Kunsgeskiedenis en Geskiedenis, en nou hoef ek nooit, nooit weer te leer nie!”
Sy hardloop die sitkamer binne, sien haar vader, oom Gerhard Barnard, met sy regterarm besitlik om die skouers van tant Elize Naudé staan, maar merk nie die ongewone skugterheid van die ouer mense nie.
“Nou kan ons eindelik op daardie lang skildervakansie gaan, nè, Pappa? E … hallo, tannie Elize. Daar op Pappa se plasie langs die Wilgerivier. Wanneer vertrek ons, Pappa?” borrel sy onkeerbaar en wag effens uitasem op haar vader se reaksie.
Oom Gerhard glimlag deernisvol in tant Elize se oë, neem haar linkerhand waaraan ’n goue trou- en verloofring skitter, in syne en glimlag byna verskonend vir Elfie.
“Ek en tannie Elize is albei baie trots op jou prestasie, Elfie, maar terwyl jy vanoggend universiteit toe is om die uitslae van jou finale eksamen te hoor, het ek en … e … Ek en tannie Elize is vanoggend getroud, Elfie.” Oom Gerhard kug ongemaklik, maar kan die trots in sy stem en glimlag nie verbloem nie.
Elfie knip haar oë vinnig, ongeloof in elke lyn van haar gesig. Dan breek ’n glimlag van blye verrassing oor haar gelaat en sy storm op haar vader en stiefmoeder af.
“Jippie! Oe, Pappa … tannie Elize, ek is so vreeslik bly dit het eindelik gebeur. Baie, baie geluk!” jubel sy en soen tannie Elize voordat sy oom Gerhard wild omhels. “Eindelik … ek wag al drie jaar lank dat dit moet gebeur. Wat sê Yolande? Is sy ook so bly?”
“Jy ken my dogter, Elfie – niks kan Yolande beïndruk nie,” antwoord tant Elize, haar glimlag effens bedroë. “Wat haar betref, moes ek jou pa al binne die eerste maand ná ons ontmoeting kansel toe gesleep het, want dis glo wat sy onder dieselfde omstandighede sou gedoen het. Ek dink my slim broer is dieselfde mening toegedaan,” voeg sy by en kyk na die klein kroegie agter Elfie.
Elfie swaai om en trek haar asem hoorbaar in toe sy die lang, lenige jong man agter die kroegtoonbank sien staan, vier sjampanje-glasies voor hom en ’n bottel sjampanje in sy hand.
Dan het Paul Veenstra eindelik teruggekeer na Suid-Afrika ná ’n verblyf van twee jaar in die buiteland, flits die besef deur haar binneste en die geklop van haar hart word ’n seer getrommel in haar bors. Twee jaar … ’n ewigheid wanneer ’n mens jonk is en seker weet dat jy liefhet.
Destyds was sy sewentien met haar matriekeksamen so pas agter die rug. Die buurhuis is verkoop en doktor Elize Naudé, ’n nuwe lektrise in Geskiedenis aan dieselfde universiteit as haar pa, het haar intrek saam met haar negentienjarige dogter, Yolande, en haar jonger broer, die dertigjarige Paul Veenstra, in die buurhuis geneem.
Haar pa, ’n professor in Argeologie, en tant Elize het baie gemeen gehad en gou vriende geword, en vanselfsprekend het hulle aanvaar dat sy en Yolande maats sou wees. Maar dit was die lang, blonde Paul met sy lui, siniese glimlag wat haar voete letterlik onder haar uitgeslaan het. Paul, die skilder, met wie sy haar liefde vir die skilderkuns kon deel; Paul wat haar nooit soos ’n klein dogtertjie behandel het nie.
Sy het in ’n waas van drome geleef, dit nouliks besef toe die nuwe universiteitsjaar ’n aanvang geneem en sy met haar studie begin het. Haar hele bestaan het om die oomblikke saam met Paul gesentreer en hoewel hy die indruk gelaat het dat hy van haar hou, het hy nooit oor liefde of die toekoms gepraat nie. Nie dat sy hom verkwalik het nie, want sy het geweet haar pa was sterk teen ’n verhouding tussen haar en ’n man wat soveel ouer as sy was, gekant. En toe is Paul onverwags na Europa vir ’n uitgebreide skildertoer. Net sy het agtergebly, alleen met haar vergeefse drome.
“Die meisie het grootgeword,” sê Paul, sy glimlag galant, kom om die toonbank gestap en lê sy hande liggies op Elfie se skouers. “Hallo, Elfie. Ek mag jou seker soen, want ons is mos nou aangetroude familie,” skerts hy en raak haar wang liggies met sy lippe aan.
Die aanraking van sy hande jaag trillings van ’n ongekende opwinding deur haar liggaam en laat haar hart tamboer slaan in haar ore. ’n Donker blos van verleentheid sprei oor haar wange en haar glimlag is skaam en ingetoë.
“Hallo, Paul,” groet sy effens kortasem en frons om haar verleentheid te verberg. Wat is dit met haar? Sy was twintig in Junie, ’n hele vyf maande gelede, en sy het vanselfsprekend haar kalwerliefde vir Paul ontgroei. Sy durf nie toelaat dat sy teenwoordigheid haar weer in ’n stotterende, blosende skooldogtertjie verander nie, dink sy vasbeslote en lig haar ken onbewus, die uitdrukking in haar oë versluier toe sy opkyk na hom. “Wanneer het jy teruggekeer van die buiteland af?” vra sy gelykmatig.
Hy los haar en keer terug na die kroegtoonbank.
“Drie dae gelede al, maar ek was by vriende in Kaapstad tuis. Toe ek Elize gister bel en hoor van haar en jou pa se trouplanne, het ek besluit om die groot plegtigheid by te woon, veral toe ek hoor die getroudes is van plan om aanstaande week oorsee te vertrek. Maar jy weet seker daarvan?” vra hy terwyl hy die sjampanjeprop versigtig afwikkel.
“Oorsee?” vra Elfie en swaai vinnig terug na haar pa wat saam met tant Elize op die rusbank plaas geneem het. “Maar Pappa het my so lankal beloof dat ons op Lekkerwater vakansie sal hou sodra ek my graad gekry het. Ek is al twintig jaar oud en ek was nog nooit een keer op Pappa se plaas nie. Wat gaan ek die hele tyd doen terwyl Pappa-hulle oorsee is?” vra sy verwytend.
“Op Lekkerwater kuier,” antwoord oom Gerhard en glimlag gerusstellend. “Ek en tannie Elize het reeds met Yolande gepraat, en sy is gretig om saam met jou op die plaas vakansie te gaan hou. Sy is ook moeg van die stadsrumoer en sal ’n blaaskansie op die platteland geniet.”
Elfie staar haar pa met ongeloof aan. Hoe tipies van haar goedgelowige pa om so iets te glo – Yolande op ’n plaas! Geen regdenkende mens sal ooit so ’n bewering oor Yolande maak nie, maar haar pa is seker die onskuldige uitsondering.
“Yolande se romanse met Albert de Jongh het skipbreuk gely, Elfie,” sê tant Elize vinnig. “Ek veronderstel sy wil haar wonde op die plaas gaan lek.”
“O,” antwoord Elfie, nog nie oortuig nie. “Dis net moeilik om te glo dat ’n mannekyn en stadsmeisie, soos Yolande, ’n vakansie op ’n afgeleë plaas in die Vrystaat sal geniet. Miskien vir ’n dag of drie, maar nie langer nie, tannie. Ek kan seker alleen gaan …”
“Nee, Elfie, Yolande het reeds haar woord gegee om saam met jou te gaan. Boonop is Lekkerwater nie so afgeleë nie: jou ouma Barnard se plaasopstal is binne loopafstand van julle af, en daarby is julle nie meer as vyf kilometer van die naaste dorpie, Rietspruit, af nie,” kom dit beslis van oom Gerhard. “Bloemfontein is ook nie soveel kilometers ver nie, as julle dalk moeg word vir die stil lewe op die plaas. Ek is oortuig daarvan julle twee meisies sal die vakansie saam baie geniet.”
“Ja, Pappa,” antwoord Elfie gedwee, dog haar oë kyk opstandig in syne. “Hoe lank is Pappa-hulle van plan om weg te wees?”
“Ongeveer drie maande.” Hy kyk na tant Elize en glimlag met jeugdige opgewondenheid in haar oë. “Jy weet dis my lewenslange droom om Peru te besoek en persoonlik meer uit te vind oor die legendariese Inkaryk. Ek en tannie Elize wil met die Amasone afvaar, die Inkas se eertydse hoofstad, Cuzco, besoek en, wie weet, dalk ontdek ons nog die fabelagtige tempel van die son waarna die Spanjaarde so tevergeefs gesoek het.”
Paul kom met ’n silwer skinkbord, waarop daar vier glasies sjampanje staan, om die toonbank gestap en bedien oom Gerhard en tannie Elize eerste.
“Dis ’n bietjie vroeg vir sjampanje, maar ’n mens trou seker nie elke dag nie,” skerts hy, wag totdat hulle hulleself gehelp het, en hou die skinkbord na Elfie uit. Sy neem ’n glas, en dan lig hy sy eie glasie en draai glimlaggend na die pasgetroudes.
“Op ’n gelukkige toekoms en ’n voorspoedige reis na die land van die Inkas,” stel hy die heildronk in.
Hulle klink glasies en Elfie doen mee, proe aan haar drankie en sit dit op ’n tafeltjie langs ’n diep leunstoel neer.
“Dink Pappa dit sal veilig wees met ons twee meisies so alleen op die plaas?” vra sy lig fronsend.
“Jy sal verplig wees om Bondel saam met jou te vat, en al is hy nie juis ’n waghond nie, lyk hy groot en gevaarlik met sy yslike pote en groter kop. Ek sal ook my pistool vir jou gee, hoewel ek nie vrees vir jou en Yolande se veiligheid nie. Jou ouma woon al meer as twintig jaar stoksielalleen in haar opstal, en sy het nog nooit enige probleme gehad nie. Daarby het sy seker ’n voorman op die plaas,” antwoord oom Gerhard gerusstellend.
“Ek het ’n beter voorstel,” sê Paul terwyl hy op die armleuning van ’n stoel neersak. “Ek sal saam met die twee meisies gaan en ’n wakende ogie oor hulle hou. Dan kan ek Elfie sommer met haar skilderwerk help.”
Elfie blik vinnig na haar vader en sien ’n afkeurende frons tussen sy wenkbroue keep.
“Dit sal nie nodig wees nie, dankie, Paul. Ek besef Elfie is teleurgesteld omdat ek nie saam met haar kan gaan nie, maar sodra sy eers op Lekkerwater is, sal sy haar teleurstelling vergeet,” sê oom Gerhard met finaliteit en sit sy leë glasie langs hom op ’n tafeltjie neer. “Jy het gesê jy wil nog ’n paar dringende inkopies gaan doen, Elize?”
Sy kom vinnig orent.
“Ja, ek moet weg wees. Kom, Paul, ons kan vanaand my huwelik behoorlik vier. Jy kan saam met my stad toe kom,” besluit tant Elize, kry Paul aan die arm beet en laat hom geen ander keuse as om saam met haar te gaan nie.
“Sien jou, Elfie,” groet hy oor sy skouer. “Tot siens, Gerhard.”
Elfie groet meganies en draai vraend na haar vader wat ook orent kom.
“Ek het ’n paar nuwe kaarte van Peru wat ek in my studeerkamer wil bestudeer. Maak vir ons ’n lekker koppie koffie, dan bring jy dit studeerkamer toe,” versoek hy en loop by die vertrek uit.
Elfie dra die leë sjampanjeglase na die toonbank, plaas dit op die skinkbord en dra dit by die sitkamer uit.
Dan dink haar pa nog sy is te jonk om self besluite oor haar toekoms te neem, mymer sy terwyl sy kombuis toe stap, ’n ongewone trek van bitterheid om haar sagte lippe. Twee jaar gelede het hy alles in sy vermoë gedoen om haar verhouding met Paul in die kiem te smoor, en nou, selfs ná die voltooiing van haar studies, is hy van plan om dieselfde te doen. Waarom kan Paul nie saam met hulle na Lekkerwater toe gaan nie? Met ’n man daar, sal sy en Yolande baie veiliger voel, en per slot van rekening is Paul nou haar aangetroude oom … nie dat sy veel van die gedagte hou nie. Paul is nou twee-en-dertig, ’n hele twaalf jaar jonger as tant Elize, en omdat hy ongetroud is, voel hy baie nader aan haar eie ouderdom. Nee, sy sal ernstig met haar pa moet praat, want hy moet besef dat sy nie meer ’n klein dogtertjie is nie, besluit sy, gaan die kombuis binne en skakel die elektriese waterketel aan.
Oom Gerhard plaas sy leë koffiekoppie op die piering terug, klap sy lippe om die smaaklikheid van die koffie te benadruk, en glimlag vir Elfie wat voor sy lessenaar sit en hom somber aanstaar.
“En nou, my kind? Jy is nie dalk vies omdat ek en tant Elize getroud is nie? Jy het tog self geneul dat ek met haar moes trou, nie waar nie?” vra hy onbegrypend.
“Ek is vanselfsprekend bly oor Pappa-hulle se huwelik,” antwoord sy eerlik, huiwer ’n oomblik lank, en vervolg reguit: “Ek is net teleurgesteld omdat ek en Pappa nie saam op Lekkerwater kan gaan vakansie hou nie, want dis iets waaroor ons so lankal praat en droom. Yolande is nie slegte geselskap nie, maar ek ken haar mos: ek sal elke dag moet kos kook en huis aan die kant maak, want sy verroer nooit ’n vinger om tannie Elize te help nie. As Paul kan saamkom …”
“Nee, Elfie,” val hy haar beslis in die rede. “Jou ouma is daarom ’n wakende ogie oor julle twee meisies te hou.”
Elfie glimlag ongelowig.
“Hoe praat Pappa nou? Ek is twintig jaar oud, maar ek het ouma Barnard nog nooit met ’n oog gesien nie. Pappa het tog self gesê dat Pappa-hulle in vyandskap leef omdat Pappa met ’n skilderes in plaas van daardie plaasmeisie getroud is, en omdat Pappa nie wou boer nie.”
“Dis dinge wat vyf-en-twintig jaar gelede gebeur het en te onbelangrik om nou daaroor te praat. Ek het reeds verlede week, toe ek en tannie Elize finaal op ons troudatum besluit het, ’n brief aan my moeder geskryf en haar vertel van jou voorneme om op Lekkerwater te gaan vakansie hou. Ek verwag nie ’n antwoord op my brief nie, maar ek glo tog dat sy nie die teenwoordigheid van haar enigste kleindogter op Lekkkerwater sal kan ignoreer nie. Wie weet, dalk is dit ’n bestiering dat jy alleen daarheen gaan,” praat oom Gerhard mymerend.
“Solank Pappa net nie verwag dat ek by haar moet gaan kuier nie,” sê Elfie onthuts. “Dis erg genoeg dat sy nie van my ma gehou het nie, maar dat ek haar name moes erf …! Verbeel jou: Maria Johanna Barnard … ek voel soos my eie ouma elke keer as ek my name êrens lees, soos vanoggend op die kennisgewingbord daar by die universiteit. Dankie toggie Mamma het my Elfie genoem, anders was ek seker nou Maria.”
“Dis name om op trots te wees, Elfie, en die dag as jy jou ouma ontmoet, sal jy my glo. Ek was so pas vyftig – dit beteken my moeder is al ’n vrou van een-en-tagtig, want sy en my oorlede pa het lank vir my gewag. Ek doen gereeld navraag by haar bure – my moeder is nog so bedrywig en gesond soos ’n vrou van sestig, en soos al die jare wat ek haar geken het, regeer sy almal met ’n ysterhand. Ek weet nie of sy ’n mens is wat jy maklik kan lief kry nie, maar een ding is seker: almal wat haar ken, bewonder haar.”
“Een-en-tagtig!” roep Elfie verslae uit. “Maar moet sy nie liewer in ’n ouetehuis gaan bly nie, Pappa?”
Oom Gerhard lag geamuseerd.
“Dis wat ek ook al gewonder het, maar die Odendaals verseker my sy sal die honderdtal maklik haal voordat sy aan ’n ouetehuis dink. Oom Jannie Odendaal is vyf, ses jaar ouer as ek, en hy boer op een van die buurplase, Abjaterskop. Ek het hom en sy vrou, tant Riana, ook laat weet dat jy en Yolande kom vakansie hou. Daarom hoef jy nie te vrees dat julle volkome op julle eie aangewese sal wees nie.”
“Dit lyk my die hele kontrei weet dat ons kom,” sê Elfie afgehaal. “Solank hulle my nie heeldag kom steur as ek wil skilder nie.”
“Daarvoor is almal te besig op ’n plaas, Elfie,” sê hy gerusstellend, beskou haar ’n lang oomblik aandagtig, en vra belangstellend: “Het jy al besluit wat jy aanstaande jaar gaan doen? Wil jy voltyds skilder?”
Elfie versluier haar oë sodat hy nie die verwyt op haar gesig kan lees nie en speel senuweeagtig met een van haar bloesknopies.
“Dinge het skielik verander,” begin sy en kyk sku op na hom. “Ek weet ons het almal gepraat oor ’n troue tussen Pappa en tannie Elize, maar ek glo nie ek het dit ooit heeltemal geglo nie. Ek het gemeen ek sal vir Pappa aanhou huishou en tussenin skilder wanneer ek eers my graad gekry het, maar nou …” Sy glimlag half verwese. “Pappa het nie meer ’n huishoudster nodig nie.”
“Nee, seker nie, want tannie Elize sal haar pos bedank en voltyds huisvrou word sodra iemand haar plek aan die universiteit kan vul, maar ek het nog altyd ’n dogter nodig. Jy is tog nie van plan om elders te gaan woon nie?” vra hy, ’n tikkie kommer in sy stem.
“Wat anders, Pappa? Ek kan nie net op Pappa teer nie en tannie Elize sal ook nie daarvan hou as ek net tuis bly en skilder en geen eie inkomste het nie. Pappa weet tog hoe kla sy oor Yolande wat deeltyds ’n mannekyn is maar meestal tuis sit en haarself in die spieël bewonder. Ek wil nie ook een van die nuttelose kinders van die rykes wees nie,” antwoord sy, ’n ondertoon van spot in haar stem.
“Nou klink jy sinies en bitter, Elfie,” sê oom Gerhard berispend. “Jy het jou deel van die ooreenkoms nagekom en jou graad behaal, en nou sal ek my deel van ons ooreenkoms nakom: jy bly tuis en skilder na hartelus. Jy sal ook tannie Elize baie kan help, want sy het al dikwels gesê jy is ’n knap kok.”
“Dit was voordat sy Pappa se vrou geword het.” Elfie sug moedeloos, haar glimlaggie halfhartig. “Ek sal vakansie hou en skilder totdat Pappa-hulle terugkeer van Peru af, maar daarna sal ek vir my êrens werk soek en deeltyds skilder. Tannie Elize sal beslis nie geneë voel om my die volgende veertig jaar as ’n gas in haar huis te hê nie!”
“My liewe kind, jy sal een van die dae die regte man ontmoet en met jou eie huishouding begin. Yolande gaan tog ook by ons inwoon,” maak oom Gerhard beswaar.
“Yolande sal binnekort trou, maar nie ek nie, Pappa,” sê Elfie met oortuiging en staan op. “Wie sal met mý wil trou, hê, Pappa? Ek is nie kort nie en ook nie lank nie, sommer middelmatig; en daarby is my hare rooi en onbeheerbaar krullerig, en my oë is nie net groen nie, maar hulle sit skoon skeef in my kop. My neus wip, en al die skoonheidsroom in die wêreld kan nie die sproete oor my neus laat verdwyn nie. Yolande sê ek het ’n postuur soos ’n dertienjarige seun: die ene bene en hande en voete. Het Pappa al gesien hoe lyk Yolande?”
“Nee a, Elfie, jy is sommer onnodig krities teenoor jouself,” sê oom Gerhard betigtigend. “Goed, ek sal toegee: jy is nie ’n donker skoonheid soos Yolande nie en jy het ook nie soveel … e … jy het nie so ’n vol postuur soos sy nie, maar jou hare het ’n besondere koperkleur – jy aard na my en jou ouma Barnard. Jou oë het jy van jou moeder gekry en omdat my lieflingsnaam vir haar Elfie was, het sy jou so genoem. Jy het tog meer as genoeg studentevriende gedurende die afgelope drie jaar gehad?”
“O, hope studentevriende – almal bekommerde manne wat argeologie geswot het, en gehoop het om deur hulle vriendskap met my beter eksamenpunte van my professor-pa te kry,” antwoord Elfie met ’n wrang glimlaggie. “Toe maar, Pappa, dit kwel my nie. Ek was nie op een van hulle verlief nie en al raak ek ook verlief, weet ek dat ek nooit die man kansel toe sal kan sleep nie. Selfs die galante Paul het my twee jaar gelede vertel ek het ’n ‘snaakse gesiggie’.”
’n Diep kwelfrons keep tussen oom Gerhard se wenkbroue en hy vroetel met die oopgespreide kaart voor hom op die lessenaar.
“Paul is ’n ervare man wat …” begin hy, kug ongemaklik en kyk bekommerd na Elfie. “Hy is nou my swaer, maar ek hoop jy besef dat ek nooit ’n intieme vriendskap tussen jou en Paul sal goedkeur nie, Elfie. Jy … jy kan net seerkry, my kind.”
“Toe maar, Pappa, tannie Elize het op meer as een geleentheid gesê dat Paul nooit sal trou nie, behalwe as hy ’n baie ryk vrou kan kry. Ek dink darem ek het die waarskuwing ter harte geneem,” antwoord sy, ’n tikkie wrangheid in haar stem, en kom orent. “Nog koffie, of sal ek die skinkbord agtertoe neem?”
Oom Gerhard sug en maak ’n afwerende gebaar met sy regterhand.
“Ek het genoeg gehad, dankie, Elfie. Gaan maak jouself mooi: ons vier vanaand my en tannie Elize se huwelik in ’n restaurant. Dankie vir die koffie,” antwoord hy en raak verdiep in die landkaarte voor hom voordat Elfie die studeerkamerdeur agter haar digtrek.
Elfie klou haar pa met ’n byna kinderlike vrees om alleen agtergelaat te word vas en laat hom dan onwillig gaan.
“Mooi bly en lekker kuier, Elfie,” groet hy, druk ’n haastige soen op haar voorkop, en loop dan saam met tant Elize deur uitgang nommer vyf oor die teerblad van die aanloopbaan op die Lughawe Jan Smuts.
“Niemand voel seker lus om te wag totdat hulle vliegtuig opgestyg het nie,” sê Paul langs haar en neem haar en Yolande aan die arm. “Kom, julle twee skoonste van skones. Ek het vir ons ’n tafeltjie in ’n hotelrestaurant bespreek. Voel julle lus om julle nuutgevonde vryheid te vier?”
“Is hy nie ’n skat van ’n man nie?” vra Yolande wat regs van Paul loop en leun effens vorentoe om na Elfie te kyk. “Ek voel nie lus om in trane uit te bars omdat my ma met vakansie is nie, maar dit sou ’n antiklimaks gewees het om nou terug te gaan huis toe. Ek is lus vir garnale en hope wyn. Het jy geld om te betaal, of moet ons elkeen ons eie ete betaal, Paul?”
“Hoe taktvol van jou, Yolande. Om die waarheid te sê, ek is redelik boomskraap, en as julle dames nie omgee om vir julle eie etes te betaal nie …” Hy glimlag ongeërg. “My aangename geselskap is gelukkig ’n gratis toegif.”
“Ons moet Elfie laat betaal,” sê Yolande terwyl hulle die saal vir buitelandse vlugte verlaat. “My ma het my vertel … e … ek moet seker sê: ons ma het my vertel jy is ’n skatryk erfgename, Elfie.”
“Ek?” vra Elfie oorbluf, nog onseker of sy werklik lus voel om in ’n restaurant te gaan eet.
“Ai, die onskuld tog!” kom dit geïrriteerd van Yolande. “Jou pa het jou tog seker vertel dat jy Lekkerrus erf wanneer jy mondig is?”
“O … Ja, hy het, maar Lekkerrus is maar net vyfhonderd hektaar groot met ’n stokou opstal – nie veel van ’n opstal nie, want Pappa sê dit het maar twee slaapkamers, ’n kombuis, ’n ongerieflike badkamer en ’n sitkamer. Dit kan nie soveel werd wees nie,” antwoord Elfie prakties.
Paul kyk na Yolande en lag dan uitbundig.
“Liewe, onskuldige Elfie,” terg hy. “Weet jy wat ’n plaas in die bekende mieliedriehoek werd is? Vyfhonderd hektaar is nogal heelwat groter as ’n stadserf, en goeie landbougrond is deesdae ’n fortuin werd. Dit sal interessant wees om te hoor wat jy vir jou plaas kan kry.”
“As ek dit wil verkoop,” sê Elfie vinnig en blik ongemaklik na hom. “Ek sal vir die ete betaal,” voeg sy haastig by en klim in sy wagtende motor terwyl Paul om die motor loop en die deur vir Yolande oopmaak.
Yolande klim langs die plek van die bestuurder in en draai na Elfie.
“Moenie al jou kanse verbrou met ’n lang gesig nie, Elfie. Kan jy nie sien Paul besef jy het grootgeword nie?” vra sy gedemp en swyg toe Paul langs haar in die motor klim.
Elfie byt op haar onderlip, haar blik op Yolande se glansende, donker hare en fyn besnede profiel. Wat beoog Yolande? wonder sy onrustig. Twee jaar gelede het Yolande haar gespot omdat sy so opsigtelik op Paul verlief was, maar nou probeer Yolande om ’n verhouding tussen hulle te bewerkstellig. Waarom?
Paul. Haar oë draai onwillekeurig na sy blonde kop en breë skouers. Drie jaar gelede het sy op hom verlief geraak en selfs die twee jaar van sy afwesigheid kon haar gevoel vir hom nie uitwis nie. Waarom is sy dan bang om haarself toe te laat om oor hom te droom? Hy is ’n skilder, ’n man met ’n veel groter talent as haar eie, ’n man wat dieselfde taal as sy praat. Hulle verstaan mekaar, kan mekaar aanvul, en tog … Waarom is sy bang vir liefde?
“Het jy genoeg geld saamgebring, Elfie?” roep Yolande se stem haar tot die werklikheid terug.
“Ek hoop so,” antwoord sy werktuiglik en bepaal haar aandag gedwonge by die lighartige geselskap.
Elfie klou die stuurwiel van haar vader se groot Duitse motor krampagtig met albei hande vas, ’n diep frons van konsentrasie tussen haar oë, haar voortande op haar onderlip vasgebyt, en veg verbete om die motor in die slingerende modderpad tussen die mielielande te hou.
Waarom het sy na haar pa geluister en met sy groot, moeilik hanteerbare motor die lang pad na Lekkerwater aangedurf? Miskien is haar ou rammelkasmotortjie onbetroubaar, maar sy weet immers hoe om dit onder alle omstandighede te bestuur, dink sy misnoeg.
Langs haar druk Bondel, die groot, wit langhaarhond van onbekende afkoms, sy voorpote op die rugleuning van haar sitplek, blaf oorverdowend in haar oor en lek haar met ’n lang, rooi tong teen die wang.
“Sies!” ril sy onwillekeurig, verbreek ’n sekonde lank haar konsentrasie en verloor beheer oor die motor. Die motor gly en swaai, tol dan halfpad in die rondte en bly sydelings oor die smal plaaspad staan. Asof selfs die motor genoeg gehad het van die worsteling teen die sagte modder en water, skakel die enjin af en steek halsstarrig vas.
“Woef-woef!” blaf Bondel uitbundig en beloon Elfie met ’n tweede nat lek teen die wang. Dan begin hy sag te tjank en kap ongeduldig met sy voorpote teen een van die agterste deure.
“Ja, toe, Bondel, dis alles jou skuld,” verwyt Elfie ergerlik en probeer tevergeefs om die motorenjin aan die gang te kry. Seker water op die vonkproppe, besluit sy en maak haar deur langs haar oop.
Bondel laat nie op hom wag nie, duik bo-oor die rugleuning en laat haar haar kop geniepsig hard teen die vensterruit stamp voordat hy op ’n wilde galop die mielielande invaar.
“Bondel! Verdeksels! Bondel, kom terug! Aag, toe hardloop dan maar totdat jy moeg is,” sê sy misnoeg, glytrap haar pad na die bagasiebak, sluit dit oop en haal twee tasse uit. Sy dra die tasse na die graswal langs die slingerende modderpad, sit die tasse neer, en keer terug om die bagasiebak te sluit voordat sy haar tasse optel en in die pad afstap na die rivier.
Hoe tipies van Yolande om haar vooruit te stuur met die verskoning dat sy mannekynwerk het om te doen. Yolande het natuurlik nie kans gesien om na ’n ou plaashuis wat jare lank reeds leeg staan, te kom voordat dit weer leefbaar gemaak is nie, dink Elfie grimmig en steek in haar spore vas toe sy om ’n draai loop en skielik ’n klein sandsteenplaashuisie voor haar sien staan.
“Dis nou mooi,” sê sy hardop, haar blik op die netjiese tuintjie waarin stokrose, leeubekkies, balseminies, jakobregops en viooltjies in ’n sorgelose geroesemoes van kleur blom. Sy laat val haar tasse, net half bewus van die rook wat soos uitgepluisde skaapwol teen die blou lug uit die skoorsteen kronkel, en storm na die voordeur.
Paul! weerklink die enkele naam deur haar gedagtes terwyl sy die voordeur, wat nie gesluit is nie, oopmaak en die huis binnestap. Paul het twee dae gelede sonder enige verduideliking uit Johannesburg vertrek, en nou weet sy waarom: hy het na Lekkerwater toe gekom om haar en Yolande te verras. Hoe dierbaar van hom!
Sy loop vinnig deur die sitkamer, gaan ’n kort gang binne en loer by die deure van twee slaapkamers in, kyk in die kombuis rond en bly voor die enigste toe deur staan.
“Paul!” roep sy en klop aan die deur. “Paul, maak oop! Dis ek, Elfie! Paul!”
Die glimlag op haar gelaat versteen toe die deur oopgaan en ’n man geklee in ’n lang kakiebroek wat hy klaarblyklik baie vinnig aangeglip het, aangesien sy bolyf nog sopnat is en sy donker hare in ’n nat, effens krullerige sliert oor sy hoë voorkop lê, in die deuropening verskyn en haar met grimmige afkeur aanstaar.
“Lyk ek soos jou Paul, juffroutjie? Gaaf, as jy heeltemal tevrede is, sal ek graag klaar wil bad,” beantwoord hy sy eie vraag, maak die deur in haar gesig toe en draai die sleutel in die slot voordat sy ’n enkele woord kan uiter.