Elfie staar Marius met onhutste ongeloof aan, frons ergerlik toe sy die lui glimlag om sy mond sien, en ruk haar ken uitdagend op.
“Sommer net so, nè?” vra sy katterig. “Jy en ouma Barnard het besluit ek gaan Schoonlaagte toe, en julle aanvaar dat ek julle bevel sonder enige teëstribbeling sal uitvoer. Jammer om jou teleur te stel, meneer Combrinck, maar ek bly net hier.”
Hy beweeg agteruit, leun teen die kombuiskas aan en kruis sy arms op sy bors. Hy hou sy kop effens skeef, sy glimlag goedkeurend en beskou haar met openlike belangstelling.
“Oulik,” sê hy goedig, sien ’n ergerlike blos oor haar gesiggie sprei, en glimlag breër. “Weet jy, Elfie, ek het jou verkeerd opgesom: jy het wel ’n humeur wat by jou hare pas. Al wat my kwel, is dat jou ouma Maria ook eenkeer ’n rooikop was … op die oomblik is sy silwergrys. Wie van julle twee gaan die argument wen?”
“Watter argument?” vra Elfie kil en wens haarself geluk omdat sy daarin slaag om koel en uit die hoogte te klink ten spyte van die wilde gebons van haar hart in haar ore. Hoekom is die natuur so onregverdig teenoor meisies? ’n Groot man soos Marius Combrinck slaag daarin om haar minderwaardig te laat voel sonder om ’n woord te sê. Dalk moet sy op ’n stoel gaan staan as die argument te lank aanhou, dink sy wanhopig.
“Moenie jou dom hou nie, Elfie. Jou ouma het gevra dat jy na Schoonlaagte toe kom en as haar kleindogter, verwag sy dat jy haar moet gehoorsaam,” antwoord Marius, ’n tikkie ongeduld in sy stem.
“Werklik?” vra sy en voel ’n golf van onredelike woede in haar binneste opstoot. “Ouma Barnard het my bestaan twintig jaar lank geïgnoreer, en nou, net omdat ek besluit het om op my pa se plaas te kom kuier, onthou sy skielik dat sy ’n kleindogter het. Watter reg het sy in elk geval om my te hiet en gebied? En watter reg het jy om hier in my huis op Lekkerwater te woon? Jý is die indringer, nie ek nie. Wat konkel jy en ouma Barnard agter my rug?” vra sy agterdogtig.
“Konkel?” vra hy oorbluf. “Wat laat jou dink dat ek en jou ouma konkel?”
“Karl-Jan het my vertel jy kuier al jare lank elke vakansie by my ouma. Hy glo selfs dat jy ouma Barnard se erfgenaam is. As dit waar is, kan dit my nie raak nie, maar wat soek jy hier op Lekkerwater? Dis mý erfplaas en al konkel jy en ouma Barnard julle ook skeel, sal Lekkerwater nooit aan jou behoort nie. Wie het jou in elk geval die reg gegee om jou intrek in mý huis te neem?” vra sy driftig.
“Om die waarheid te sê, dit was jou ouma Barnard,” antwoord hy, sy glimlag onskuldig. “’n Oortreding kon dit nie gewees het nie, want jou ouma huur die landerye en aangesien die ou huis leeg gestaan het, was dit ’n ideale woonplekkie vir my.” Hy maak ’n wye handgebaar met sy regterhand. “Kyk net hoe skoon is die plek. Ek kan jou verseker dit het baie sweet en harde werk geverg om dit weer in hierdie toestand te kry. Jy gaan my tog nie uit jou huis verdryf na al my moeite en onkoste nie?”
“Het ek ’n keuse? Ek is beslis nie van plan om saam met jou in die huis te woon nie. Ek is jammer oor jou sweet en moeite, maar dit is mý huis, mý erfplaas, en jy is nie langer welkom hier nie. My stiefsuster, Yolande Naudé, sal nou enige dag opdaag om by my aan te sluit. Gaan jy haar ook probeer dwing om haar intrek by my ouma te neem?” vra sy ergerlik.
Hy vryf ingedagte met sy regterhand oor sy ken, pers sy lippe saam, en praat saaklik.
“Kom ons vergeet eers van jou stiefsuster, Elfie, en konsentreer op jou ouma. Tant Maria is reeds een-en-tagtig, ’n hoë ouderdom, en hoewel sy nog sterk en gesond is, sal sy nie vir altyd leef nie. Sy wil jou graag ontmoet en jy het nou die geleentheid om ’n ou, eensame mens gelukkig te maak. Waarom weier jy? Is dit so ’n groot opoffering om ’n rukkie by haar te gaan kuier?” vra hy, ’n verwytende ondertoon in sy stem.
Elfie huiwer, haar oë agterdogtig op hom. Om ’n eie ouma te kan hê … mymer sy en ervaar ’n gevoel van vreemde heimwee. Sy het sedert haar skooldae haar maats beny omdat hulle altyd van hulle grootouers gepraat het, terwyl sy nooit iemand van haar eie gehad het nie. Haar eie moeder was ’n weeskind en deur die jare was daar net altyd ouma Barnard … ’n naam sonder gestalte. Sy sal tog graag haar ouma wil leer ken.
Sy kyk op, gereed om in te stem, maar byt die woorde op haar onderlip weg toe sy die vreemde, onleesbare uitdrukking in Marius se oë sien. Waarom is hy so gretig om haar uit haar eie huis te verdryf? Wat voer hy in die skild? wonder sy opnuut agterdogtig.
“Hoekom gaan bly jy nie by my ouma nie? Hoekom moet ek gaan? Ek kan mos vir haar gaan kuier as ek lus het, maar dit is en bly my huis … my pa se huis, en ek weier om by ’n ouma wat my nooit wou ken nie, te gaan woon,” sê sy met finaliteit.
Hy sug oorwonne, loop na die stoof en skuif die waterketel op die voorste plaat. Hy haal twee koffiebekers uit die kombuiskas, dra melk en suiker aan, en maak vir hulle elkeen ’n beker koffie. Hy neem by die kombuistafel plaas, sy koffie voor hom, en skuif die ander beker oor die tafelblad in haar rigting.
“Sit, Elfie, en koel af. Ek weet dis jou huis en jou stoof, maar dis my steenkool en hout en my koffie, melk en suiker … my koffiebekers ook. Kom ons gesels besigheid,” nooi hy en glimlag gesellig.
“Besigheid?” vra sy met toenemende agterdog en neem onwillig by die tafel plaas. “Ek het geweet jy en ouma Barnard konkel!”
“Luister eers, en dan besluit jy of ons werklik gekonkel het,” sê hy ongesteurd, kyk haar ’n oomblik lank deurdringend aan, en vervolg: “Dalk het Karl-Jan jou vertel dat Abjaterskop, die Odendaals se erfplaas, noordoos van Schoonlaagte en Lekkerwater lê. Suid van Schoonlaagte lê Goedgevonden, ’n plaas wat tot sestig jaar gelede die erfplaas van die Combrincks was.” Hy swyg, sien begrip in haar oë flits, en knik bevestigend met sy kop. “Dis reg, Elfie: Goedgevonden was my oupa Pieter Combrinck se plaas en as hy dit nie destyds moes verkoop het nie, sou ek die sesde geslag van die Combrincks gewees het wat op Goedgevonden geboer het.”
“Aan wie behoort Goedgevonden nou?” vra Elfie meganies, terwyl haar gedagtes in die hoogste versnelling werk om te probeer vasstel waarom Marius haar dié dinge vertel.
“’n Jong weduwee, Leana van Jaarsveld. Ek het haar ’n aanbod vir haar plaas gemaak, maar Goedgevonden is ’n groot plaas, en dit is oor die tweehonderdduisend rand werd. Soveel geld het ek nie.”
Hy swyg weer en in die stilte wat op sy woorde volg, dring die besef tot Elfie deur: Marius wil Lekkerwater by haar koop!
“Nee!” roep sy driftig uit en spring op. “Lekkerwater is my erfplaas en dis nie te koop nie. Sien, ek het geweet jy konkel agteraf! Jy het natuurlik gedink ek is ’n dom stadsmeisietjie wat te graag van my erfgrond ontslae sal wil raak, maar ek is nie werklik so dom nie. Ek kan nie langer by my pa bly noudat hy getroud is nie, maar hier op Lekkerwater kan ek alleen bly en na hartelus skilder. Ek sal nie eens baie geld nodig hê nie, want ek sal my eie groente kweek en met hoenders en eende boer en … en dalk koop ek nog vir my ’n koei en vra Karl-Jan om my te leer melk. Ja, dis wat ek gaan doen: ek gaan ’n boer word.”
Marius kreun hulpeloos en bedek sy gesig met sy hande.
“My liewe kind …”
“Ek is nie jou kind nie!” val sy hom veglustig in die rede.
“Goed … goed, juffrou Barnard, bedaar tog net. Geen regdenkende mens sal ’n twintigjarige meisie toelaat om alleen op ’n plaas te woon nie, daarom sal jou pa –”
“My ouma bly al vyf-en-twintig jaar lank alleen op Schoonlaagte, en sy het nog nooit iets oorgekom nie,” val sy hom weer in die rede.
“Jou ouma, Elfie, is een-en-tagtig en toevallig lyk sy nie soos jy nie. Daarby bly oom Gawie Louw en sy vrou, tant Drienie, binne roepafstand van jou ouma af. Jy sal nie veilig wees nie.”
“Dan kry ek iemand om by my te kom bly … of ek skaf drie wolfhonde aan. Dink jy my pa sou my toegelaat het om hierheen te kom as hy gevrees het vir my veiligheid?” vra sy uitdagend.
“Nee, Elfie, maar hy het wel voorsorgmaatreëls getref. Jou ouma het vanmiddag ’n tweede brief van hom ontvang en daarin vra hy weer uitdruklik dat sy ’n wakende ogie oor jou hou – dis wat sy aan my gesê het. Dit lyk tog of jou pa hom oor jou veiligheid gekwel het.”
Elfie swyg afgehaal en pluk met senuweeagtige vingers aan die smal gordel van haar groen rok. Wat moet sy doen? wonder sy met ’n gevoel van magteloosheid. Sy sien nie kans vir haar ouma Barnard nie, maar as dit werklik gevaarlik is om die nag alleen op Lekkerwater te vertoef …
“Ek weet! Karl-Jan het my uitgenooi om daar by hulle op Abjaterskop te gaan slaap. Gaan sê jy maar vir my ouma ek sal vannag daar gaan slaap en sy hoef glad nie oor my te kwel nie. Toe, jy kan nou maar ry.”
Marius staan op, sy glimlag onthuts.
“Dankie, dit was my plan, maar of jou ouma van jou besluit gaan hou, is ’n ander saak. Wanneer is jy van plan om na Abjaterskop toe te gaan?”
“O, eers so teen skemer. Ek en Bondel gaan nou eers my plaas verken,” antwoord sy ligweg en stap na die agterdeur. “Tot siens, ek loop nou,” groet sy en loop by die agterdeur uit sonder om weer om te kyk.
Sy bly onder die peperwortelboom staan en roep na Bondel, ’n tevrede glimlag om haar lippe. Een ding is seker: die plaaslug het ’n wonderlike uitwerking op haar. Net vanoggend nog was sy ’n bang, onsekere stadsmeisietjie wat haar disnis geskrik het vir die vreemde man in haar badkamer, maar nou, ’n klompie ure later, sien sy kans om die hele wêreld en haar ouma uit te daag.
Karl-Jan het gesê sy is die mooiste meisie wat hy nog gesien het. Sy is amper seker daarvan hy het dit bedoel en dalk steek daar tog ’n tikkie waarheid in: Karl-Jan het darem ’n graad, daarom kan hy nie dom wees nie, en dit het nie gelyk asof daar iets met sy oë skort nie. Dalk is sy tog nie heeltemal so lelik as wat Yolande haar altyd laat verstaan het nie, dink sy hoopvol en begin in die rigting van die rivier stap toe ’n uitbundige Bondel by haar aansluit.
’n Halfuur later keer Elfie terug na haar opstal en bly verras staan toe sy Paul, gevolg deur Yolande, om die hoek van die huis sien stap. Hulle gewaar haar nie dadelik nie, en Paul klim die enkele trappies op na die agterdeur en loer oor die onderdeur.
“Elfie! Elfie, waar is jy?” roep hy.
Agter hom lag Yolande smalend.
“Vra jy nog, Paul? Seker in die arms van die aantreklike boertjie. As jy nie jou kaarte reg speel nie, is dit neusie verby met jou, my liewe oom,” sê Yolande.
“Moenie stuitig wees nie, Yolande. Elfie is ’n blote kind,” sê Paul misnoeg, maak die onderdeur oop en gaan die kombuis binne, Yolande op sy hakke.
Langs die peperwortelboom bly Elfie roerloos staan, haar binneste ’n draaikolk van stuwende gedagtes. Dan het Yolande tog besluit om saam met Paul na Lekkerwater toe te kom, dink sy met ’n gevoel wat aan teleurstelling grens. Beeldskone Yolande, selfversekerde Yolande wat nog altyd daarin slaag om haar in elke opsig klein en minderwaardig te laat voel. Nie dat sy Yolande daarvoor kan blameer nie, want Yolande is so gebore: ’n beeldskone meisie wat enigiemand om haar pinkie kan draai.
Vir Karl-Jan … en Marius ook, dink sy verslae en voel opstand in haar binneste. Nee, dalk nog vir Karl-Jan, maar nooit vir Marius nie. Marius sal hom nie deur ’n mooi gesiggie laat oorrompel nie – maar hy kan dalk besluit om Yolande te oorrompel. Yolande is so gewoond om haar sin te kry dat ’n man soos Marius haar ongetwyfeld sal interesseer.
“Woef. Woef-woef!” blaf Bondel agter haar, op pad terug na ’n vergeefse jagtog op ’n springhaas, en Elfie druk haar rug vinnig teen die boomstam en hou haar regterhand gebiedend op.
“Af, Bondel! As jy op my spring … e … byt ek jou!” raas sy met ’n kwaai stem en glimlag oor haar eie woorde.
Bondel gaan sit afgehaal, draai sy kop skeef en maak fyn tjankgeluidjies.
“Pragtig,” prys Elfie hom en glimlag ingenome. “Daardie mansmens sal nie weer vir my sê ek het ’n slap rug nie!”
“Nooit weer nie – ek is te beïndruk met jou ysere dissipline,” grinnik Marius wat ongemerk nader gekom het.
“Is jy al terug?” vra Elfie verras, ’n verleë blos op haar wange omdat hy haar woorde gehoor het. “Ek bedoel – ek het nie jou bakkie gehoor nie.”
“Ek het voor die huis stilgehou, aangesien ek ’n ander motor daar gewaar het. Is dit jou oom, Paul Veenstra?” vra hy gelykmatig.
“Ja … Hy en Yolande is hier. E … ek het hulle nog nie gaan groet nie, want ek was rivier toe, maar ek het hulle by die agterdeur sien instap. Wat … wat sê my ouma?”
Hy glimlag gerusstellend. “Ons kan later gesels. Daar is jou mense nou weer by die agterdeur,” antwoord hy en plaas sy regterhand onder haar elmboog. “Kom ons gaan heet hulle welkom,” vervolg hy, buig skielik nader aan haar en sê digby haar oor: “Hou op om soos ’n bang kind te lyk, Elfie! Jy is baas op Lekkerwater.”
’n Diep blos vlek haar wange rooi en sy wik tussen ’n gevoel van dankbaarheid en ergernis jeens hom. As sy net nugter kan dink, maar die aanraking van sy groot hand op haar arm, sy nabyheid, doen vreemde dinge aan haar denkvermoë. Sy is natuurlik bang vir hom, dis waarom sy warm en koud en bietjie lighoofdig voel wanneer hy aan haar raak. Iets skort in elk geval, want haar hart het onverklaarbaar vinnig begin klop en die kort entjie na die agterdeur maak haar kortasem, dink sy bekommerd.
“Daar is hulle!” roep Yolande uit die agterdeur, kyk flitsend na Elfie en glimlag uitlokkend onder haar lang wimpers vir Marius. “Hallo, daar. En waar loop julle twee tortelduifies rond?”
“Ek dink amper duiwe vlieg, juffroutjie,” skerts Marius en volg Elfie die ruim kombuis binne. “Dan is jy Yolande Naudé, Elfie se stiefsuster?” vra hy en steek sy hand na haar uit. “Marius Combrinck. Bly te kenne, Yolande.”
“Nie blyer as ek nie,” glimlag sy in sy gesig. “Jy en my oom het mekaar reeds ontmoet?”
“Voor die poskantoor, ja. Middag,” groet Marius, sy blik grade koeler toe hy na Paul kyk. “As ek geweet het Yolande het saam met jou gekom, sou ek jou nie gevra het om weg te bly van Lekkerwater af nie, meneer Veenstra. Maar julle is nou hier en dit pas my volkome.”
“Werklik?” vra Paul terwyl sy regterwenkbrou spottend omhoog klim. “Ek en Yolande het reeds vasgestel dat jy en Elfie albei julle intrek in die huis geneem het. Watter slaapreëlings stel jy voor? Is ek nie langer ’n vyfde wiel aan die wa nie?”
“Glad nie, want jy kan my kamer kry en Yolande sal haar intrek in Elfie se kamer neem,” antwoord hy bruusk en kyk af na Elfie wat met ’n half verlore uitdrukking op haar gesiggie, die gesprek gevolg het. “Elfie, jou ouma het daarop aangedring dat jy saam met my teruggaan Schoonlaagte toe. Jy wil haar tog ook graag ontmoet?” vra hy, ’n pleitende ondertoon in sy stem.
“Dis ’n vinnige frontverandering,” kom dit hoorbaar agterdogtig van Paul. “Sover ek weet, wil Elfie se ouma niks met haar of haar pa te doen hê nie. Wat het die ou tannie nou so skielik van besluit laat verander?”
“Moontlik iets wat ek gesê het,” antwoord Marius koud. “Of dalk het dit iets met die brief wat Elfie se pa aan sy moeder geskryf het, te doen,” voeg hy betekenisvol by.
“O, dan skryf Gerhard darem weer aan sy bejaarde moeder?” vra Paul, ’n ondertoon van spot in sy stem.
“Ek dink dis fantasties, Paul,” sê Yolande gretig, bewus van die gespanne atmosfeer tussen die twee mans. “Dink net: as Elfie haar ouma Barnard se guns kan wen, word sy dalk nog die erfgename van Lekkerwater en haar ouma se plaas. Jy gaan mos skatryk erf, Elfie!”
En ek wens julle stik almal, dink Elfie, dog hou haar gesiggie uitdrukkingloos. Snaaks, in Johannesburg het dit haar nie gekwel wanneer Paul en Yolande voortdurend na Lekkerwater as haar erfenis verwys het nie, ook nie wanneer hulle oor die plaas se waarde bespiegel het nie; maar hier op Lekkerwater, veral met Marius by, klink dit skielik onvanpas. Waarom het sy nooit vroeër agtergekom hoe materialisties Yolande en Paul is nie?
“Aha, ek wou nog altyd ’n ryk erfgename ken,” kom dit skertsend van Paul terwyl hy na Elfie toe stap, albei haar hande in syne neem en ’n lang oomblik in haar oë kyk voordat hy afbuk en haar op haar voorkop soen.
“Jy lyk pragtig, Elfie. Ek hou die meeste van groen oë.”
“Moenie altyd oordryf nie, Paul,” sê Yolande geïrriteerd. “Jy weet hoe selfbewus is Elfie oor haar skewe oë – arme mens.” Sy glimlag simpatiek vir die blosende Elfie. “Toe maar, jou liewe ouma Barnard sal jou vet voer. Ek weet jy gaan stukke beter lyk as jy ’n paar kilogram swaarder is. Dink jy nie ook so nie, Marius? Elfie is werklik benerig vir ’n meisie van twintig.”
“As julle nie omgee nie – ek is nie ’n skouperd nie!” bars Elfie uit, haar gesiggie vlammend van verleentheid.
“Toe nou maar, Elfie, jy weet ek hou daarvan om reguit te praat. Dis werklik nie nodig om jou te wip net omdat jou ouma se voorman teenwoordig is nie.” Sy blik belangstellend na Marius. “Is jy lankal die ou tannie se voorman?”
“Nie waarvan ek weet nie,” antwoord hy ligweg. “Tot ’n week of wat gelede was ek ’n lektor in Landbou.”
“’n Lektor!” roep Yolande verras uit, beweeg nader aan hom en haak by hom in. “Heerlik! Ek hou van groot, sterk mans wat boonop iets tussen hulle ore het. Dan is jy ook ’n professor?”
“Ek was een, maar aangesien ek nie langer lesings sal gee nie, verkies ek die titel doktor. Dan stel jy in die akademie belang? Watter graad het jy verwerf?” vra Marius glimlaggend.
“O, my liewe mens, ek is ’n mannekyn, nie ’n bloukous wat van soggens tot saans met haar neus in die boeke kan sit nie … dit laat ek aan klein Elfie oor. Het jy geweet sy het haar graad cum laude verwerf? Maar moeder natuur is genadig, want as sy jou uiterlike afskeep, gee sy jou gewoonlik ’n skrander brein.”
“Dan het ek en Elfie seker baie stof tot dankbaarheid dat moeder natuur ons so genadig was,” spot Marius.
“Nederigheid pas jou nie, Marius,” sê Yolande berispend. “Jy het die uiterlike en die brein … ’n onverbeterlike kombinasie.”
“Elfie, gaan jy nie jou plaas vir my wys nie? Dit lyk my Yolande gaan vriend Marius voltyds besig hou,” sê Paul wat met ’n verveelde uitdrukking op sy gesig na Yolande en Marius se gesprek geluister het.
Hoekom nie? dink Elfie, seer en vernederd oor Yolande se woorde. Waarom ontstel Yolande haar skielik vandag? wonder sy verward. Teen hierdie tyd behoort sy al gewoond te wees aan Yolande se skerp tong, en wat Yolande oor haar sê, is per slot van sake niks minder as die waarheid nie. Behalwe dat Karl-Jan gesê het … Nee, dis nie Karl-Jan wat haar kwel nie, dis Marius. Sy het nie veel intelligensie nodig om te kan sien dat hy lankal reeds voor Yolande se skoonheid geswig het nie, want hy staar asof gehipnotiseerd in haar donker oë en wend geen poging aan om haar hand van sy arm af te skud nie. Nie dat sy hom verkwalik nie: enige regdenkende man sal deur Yolande se donker skoonheid betower word.
“Kom jy, Elfie? Daardie twee het ons tog nie nodig nie,” versoek Paul weer en plaas sy hand besitlik op Elfie se boarm.
“Goed, Paul. Ek was so pas by die rivier en daar is pragtige plekkies wat ek graag –”
“Net ’n oomblik, Elfie,” val Marius haar in die rede, glimlag verskonend vir Yolande, en kyk weer na Elfie. “Ek dink julle moet julle besoek aan die rivier tot môre uitstel, want jou ouma was reeds besig om die aandete te berei toe ek daar weg is. Gaan pak vir jou klere in en dan moet ons dadelik ry.”
“Maar Yolande en Paul dan?” vra Elfie half onthuts, vreemd getroos dat hy tog nie so verdiep was in sy gesprek met Yolande om nie te hoor wat sy en Paul gesels nie.
“Ek is oortuig daarvan Yolande en Paul sal vir hulleself kan sorg. Daar is groente en vars vleis, en as hulle nie lus het om te veel moeite te doen nie, kan hulle ’n paar blikkies opwarm.” Hy glimlag af in Yolande se oë en maak haar vingers los van sy arm. “As jy my sal verskoon, Yolande? Ek sal graag ons gesprek wil voortsit, maar ek wil ook ’n paar stukkies klere gaan inpak, want met julle almal hier, sal ek by tant Maria intrek.”
“Jy bedoel jy gaan nie saam met ons hier op Lekkerwater kuier nie?” vra Yolande hoorbaar teleurgesteld.
“Dis nie wat ek gesê het nie, maar met soveel besoekers hier, moet ek ander slaapreëlings tref. Paul, jy is welkom om my kamer te gebruik. Yolande moet maar skoon lakens in die linnekas in die badkamer soek.”
Paul frons misnoeg. “Is jy nie ’n bietjie baasspelerig nie, meneer Combrinck?” vra hy vererg. “Ek en Yolande het by Elfie kom kuier, en nou ontvoer jy haar as ’t ware en laat my aan die genade van Yolande oor. Ek weet Elfie kan ’n behoorlike maaltyd berei, maar ek twyfel of Yolande weet hoe om ’n blikkie oop te sny. Elfie, moenie dat die man jou dwing om dinge teen jou sin te doen nie. Ons het tog afgespreek om saam hier op Lekkerwater te kuier?”
“Ek en Yolande het, maar …” Elfie swyg en kyk hulpeloos na Yolande.
“Moenie jou kwel nie, Elfie: Paul is ’n bedrewe kok en voordat hy omkom van honger, sal hy wel iets te ete vir ons maak. Kom, ek sal jou help om jou klere in te pak,” nooi sy, kry Elfie aan die arm beet en dwing haar as ’t ware om saam te stap.
In die skemerte van die slaapkamer plaas Elfie haar een tas op die bed en draai na die laaikas.
“Is hy nie ’n pragtige mansmens nie, Elfie?” vra Yolande stralend van opgewondenheid. “En dan is hy boonop ’n man met ’n doktorsgraad! Jy sal nooit weet hoe bly ek is dat ek saam met jou op ’n dooierige plaas kom kuier het nie.”
Elfie pak ’n paar kledingstukke in haar tas en kyk wantrouig na Yolande.
“Marius Combrinck is nie soos een van jou talle ander bewonderaars nie, Yolande. Ek is seker daarvan hy sal in ’n huwelik en nie net ’n ligte flirtasie belang stel as hy jou lief kry nie,” sê Elfie waarskuwend, bewus van ’n dowwe, onverklaarbare seer in haar binneste.
“My liewe mens, as ek ’n man soos Marius kan kry, sal ek nie twee keer dink voordat ek ja sê nie. O, daardie spiere … hy is manjifiek!” sê Yolande in vervoering en slaan haar oë plafonwaarts.
“Sien jy kans om ’n plaasvrou te wees?” vra Elfie ongelowig.
“Moenie stuitig wees nie, Elfie. Jy het self gehoor: hy was ’n lektor, ’n professor, en as dit nodig is, sal hy ter wille van my weer ’n lektor word. Al wat ek moet doen, is om hom doodverlief op my te maak en siedaar: doktor Combrinck doen net môre weer aansoek om ’n pos as lektor aan ’n universiteit … verkieslik Johannesburg of Pretoria,” antwoord Yolande selfversekerd.
“Natuurlik,” sê Elfie werktuiglik en klap die deksel van haar tas toe. Waarom haar oor Yolande kwel? Yolande weet nog altyd presies wat sy wil hê, en sy sorg dat sy dit kry. Miskien is dit Marius wat haar simpatie nodig het, as dit moontlik sou wees om ’n groot, selfversekerde man soos hy te bejammer.
Tien minute later ry Elfie saam met Marius in sy bakkie deur die eerste skemering en kyk na die jong mielieplante wat met swart inkhelderheid teen die grys aandlug afgeteken staan.
“Interessante mense, jou aangetroude familie,” merk Marius langs haar op.
“Ja …” antwoord sy werktuiglik. “Ek het jou gesê Yolande is beeldskoon.”
“Jy het, maar die helfte het jy my nie vertel nie,” antwoord hy, ’n spottende ondertoon in sy stem.
Elfie byt hard op haar onderlip en kyk weer deur die venster langs haar. Dan is Marius reeds deur Yolande se skoonheid betower, veral as hy dink dat sy Yolande nie goed genoeg beskryf het nie. Waarom ontstel sy haar daaroor? Sy het tog verwag dat Marius op Yolande verlief sou raak – dit gebeur met elke man wat Yolande ontmoet. Waarom hoop sy dan nog dat dit nie waar is nie?
“Sien jy die gewelhuis daar tussen die peperwortelbome? Dis Schoonlaagte se opstal, en as ek my nie misgis nie, is dit jou ouma wat ons met haar wit voorskoot aan op die stoep inwag,” sê Marius toe hulle om ’n draai tussen die mielielande deur ry en die groot, wit opstal voor hulle sien lê.
Elfie sluk droog en kyk met honger oë na die kort, effens gesette vrouefiguur op die voorstoep. Dan is dit haar ouma Barnard: ’n klein, regop vroutjie met spierwit hare, geklee in ’n grys rok en ’n wit voorskoot. Sy sluk weer en wonder waarom sy wil huil.
Marius bring die bakkie tot stilstand en sy maak self haar deur oop en klim uit. Sy wag nie op hom nie, maar loop na die voorstoep en begin die trap stadig opklim na haar ouma toe.
Ouma Barnard het haar pa se donker oë en lang, reguit neus, en as sy ooit rooi hare gehad het, het die genadige ouderdom elke spoor daarvan uitgewis, dink Elfie en slaak ’n innerlike sug van verligting toe sy Marius se hand skielik op haar arm voel.
“Is die aandete gereed, tant Maria? Ek en Elfie is albei dood van die honger,” sê Marius skertsend.
“Bly stil, Marius, en gaan sny vir jou ’n stuk brood as jy so uitgehonger is. Ek moet eers met my kleindogter praat,” sê tant Maria, haar stem heeskrakerig, dog gebiedend. “Dag, Maria. Toe, kom soen my.”
Elfie steek halsstarrig in haar spore vas en die teerheid wat sy oomblikke gelede jeens haar grootmoeder ervaar het, verdwyn voor ’n vlaag vuurwarm drif.
“My naam is Elfie, Ouma; nie Maria nie,” sê sy koppig.
“En jy is nie Maria Johanna gedoop nie?” vra tant Maria onstuimig.
“Ja, Ouma, maar ek word al twintig jaar lank Elfie genoem, en as Ouma my nie só wil noem nie, loop ek nóú terug Lekkerwater toe,” antwoord Elfie vasbeslote.
“O … O, ek sien. Ook maar astrant vir so ’n snuiter, seker omdat jy in die stad grootgeword het. Nou toe, dan noem ek jou Elfie, al weet ek ook voor my siel jou naam is Maria Johanna.” Sy steek haar linkerhand uit en hou Elfie aan die boarm vas. “Dis nes jy gesê het, Marius: sy is ’n mooi kind, want sy het mý pragtige hare. En om maer te wees, is mos deesdae in die mode, want julle mans hou daarvan.” Sy trek Elfie nader aan haar en vra reguit: “Elfie-Maria, het Marius jou vertel van Schoonlaagte? Jy wil die plaas erf?”
“Nee, Ouma … Ek bedoel ek weet niks van –”
“Nou dan sê ek nou vir jou,” val tant Maria haar in die rede. “Aangesien Marius na my vernoem is, en aangesien jy ook my naamgenoot is al skaam jy jou daaroor, sal ek julle my gesamentlike erfgename maak sodra julle wettig in die kerk getroud is.”