’n Glimlag pluk om Marius se mondhoeke, maar hy verberg dit onmiddellik agter ’n hewige frons, pluk sy sakdoek uit en druk dit in Elfie se hand.
“Hier, Elfie. Droog nou maar jou trane af, dan kyk ek wat ek vir jou ouma kan doen. Toe, gaan maak jy solank vir ons ’n lekker koppie tee,” sê hy paaiend.
“Is jy s-simpel?” sniksnuif sy verontwaardig. “Jy hoef nie soos ’n advertensie te klink terwyl my arme ouma daar lê en … en d-doodgaan nie! Hoekom doen jy nie iets nie?”
“Terwyl jy my so vuriglik omhels? Hoe kan ek, Elfie?” vra hy verwytend.
Elfie raak bewus van haar regterhand waarmee sy sy hemp nog krampagtig vasklou, en sy los hom asof sy aanraking haar brand, ’n blos van verleentheid op haar wange.
“E … ek gaan dokter Strassheim bel,” sê sy verleë en storm die kamer uit.
“Dis werklik nie nodig om die dokter …” begin Marius, dog ’n sissende waarskuwing van tant Maria laat hom vraend swyg. Hy druk die deur agter Elfie toe en loop na tant Maria se bed. “Wil tante hê Elfie moet die dokter bel?” vra hy onthuts.
“En hoekom nie? As ek siek is, boet, dan is ek behoorlik siek, want vir ’n halfwas ding had ek nog nooit tyd nie. Elfie-Maria glo ek is siek en as jong Werner Strassheim haar nou verder van my swak gesondheid kan oortuig, bly die kind dalk hier. Of wil jy hê sy moet teruggaan na daardie geldwolf, Paul Veenstra?” vra tant Maria strydlustig.
“O …” Begrip verhelder Marius se gelaat. “Dan het tante die toeval gekry toe Elfie besluit het om terug te gaan Lekkerwater toe?”
“Net so, Marius. Sy meen sy het ’n plig teenoor haar lui stiefsuster, want sy wil vir haar en die Paul-mannetjie gaan huishou. Nou kyk, vir ’n lui meisiekind het ek g’n tyd nie, en dat my enigste kleindogter soos ’n slaaf vir ander werk, sal ek ook nie duld nie. Hoe verder Elfie-Maria van daardie Jollie … hoe is die meisiekind se naam nou weer, boet?”
“Yolande, Tante. Ek meen dis ’n Spaanse naam,” lig hy haar geduldig in.
“Dit kom nou daarvan as mense deftig raak en uitheemse name aan hulle kinders gee: ’n mens wonder later of hulle rêrig van jou eie nasie is. Maar wat ek wou sê: dis beter dat Elfie-Maria wegbly van daardie stiefsuster van haar. Is dié Yolande so mooi soos Elfie-Maria sê?”
Marius aarsel en knik dan bevestigend.
“Sy lyk soos ’n donker, Spaanse skoonheid; daarom pas haar naam by haar. Enige man sal twee keer na haar kyk, tante.”
“Dan hoop ek jy het klaar jou twee kyke gekyk, boet, want jy weet ek het ander planne vir jou en Elfie-Maria. Of is my kleindogter nie mooi genoeg vir jou nie?” vra tant Maria, ’n dreigende ondertoon in haar stem.
“Elfie se uiterlike het niks met tante se planne te doen nie, want wat my betref, kan ’n huwelik slegs op liefde gebou word. Maar waarom probeer tante Elfie weghou van haar stiefsuster?”
“Vra jy nog?” kom dit onstuimig van haar. “Ek het mos ore in my kop, en ek luister wanneer Elfie-Maria oor haar stiefsuster praat: dis altyd net hoe mooi die meisiekind is. Elfie-Maria glo sy is die lelikste meisie op aarde, en ek het ’n spesmaas dat hierdie Yolande haar nog nooit reggehelp het nie. Nee, Yolande sit seker net en grinnik wanneer Elfie-Maria haar skoonheid besing, en vertel my arme kleindogter dat sy die ene rooi hare en sproete is. Nee a, ek gaan dit nie langer toelaat nie!”
“Ek begryp, tante. Dan gaan tante siek bly solank as wat Yolande en Paul op Lekkerwater kuier?”
“En hoekom nie? As ’n mens eers my ouderdom het, dan vra jy niemand anders se toestemming om siek te speel nie. Toe, toe, gaan troos my kleindogter nou. Foei, dis darem jammer dat ek haar so groot moes laat skrik het.”
“Ek is bly tante het nog ’n gewete,” terg Marius en loop die kamer uit terwyl tant Maria verontwaardig deur haar neus blaas.
Marius tref Elfie op die voorstoep aan waar sy handewringend op en neer loop en die plaaspad onafgebroke dophou. Sy steek in haar spore vas toe hy by die voordeur uitstap en draai ’n verwese gesiggie na hom, haar oê pleitend op sy gelaat.
“My ouma …?” vra sy hees.
“Moenie jou kwel nie, Elfie. Sy voel klaar beter,” sê hy gelykmatig, beskou haar ’n oomblik lank in stilte en glimlag stadig. “Het jy geweet trane gee jou oë ’n seegroen kleur?”
“Is dit belangrik?” vra sy ergerlik. “Ek weet trane laat my oë toeswel en my neus rooi word, maar ek is nie hier vir ’n skoonheidskompetisie nie – my ouma is siek.”
“H’m, jy het sowaar nie eens rooi wimpers nie,” merk hy peinsend op. “Koperbruin, dis hulle kleur. Mooi, lang wimpers,” voeg hy goedkeurend by.
“Is jy simpel? My ouma lê uiters ellendig siek, en jy praat onsin oor my wim … Bondel, nee!” roep Elfie benoud uit, dink nie twee maal nie, maar klouter bo-op die riempiesbank. “Af, Bondel! Af!”
“Woef!” blaf Bondel afgehaal, gaan sit op sy stert en hou Elfie dop asof hy wonder wat in haar gevaar het.
“Sy is bang vir jou, Bondel,” sê Marius bedruk. “Ek het haar gesê sy moet vir haar ’n skoothondjie kry, want sy kan jou tog nie beheer nie. Sy laat my dink aan klein Hester wat saam met my in graad twee was: so ’n lelike, klein sproetgesigdogtertjie met rooi hare en groen oë. Sy het oor ons almal baasgespeel totdat ons agtergekom het sy was bang vir spinnekoppe, en van toe af was óns baas.”
Hy kyk op, sy oë dansend, om te sien watter uitwerking sy woorde op Elfie gehad het, en frons verwonderd toe hy ’n byna tasbare seer in haar oë sien lê. Sy versluier haar uitdrukking byna onmiddellik, klim van die bank af en kyk hom met kille vyandigheid aan.
“Ek het jou nie gevra om van my rooi hare of sproete te hou nie, en dat ek lelik is, weet ek lankal,” sê sy ysig en stap na die voordeur toe.
“Elfie, nee,” sê hy pleitend en lê die vingers van sy regterhand op haar arm.
Sy aanraking laat ’n gevoel soos elektriese skokke deur haar arm trek en sy bly roerloos staan, haar blik neergeslaan. Watter vreemde mag het Marius oor haar? wonder sy verslae. As sy in sy oë kyk, wil haar keel toetrek, en raak hy aan haar, voel haar knieë soos water. Is sy dan bang vir hom?
“Dit was ’n flou grappie, Elfie, maar ek het probeer om jou van jou ouma se siekte te laat vergeet, daarom het ek jou geterg. Jy het tog self oë om te sien dat jy nie werklik rooi hare het nie? Dalk was jou hare rooi toe jy klein was, maar nie meer nie. Weet jy wat het ek gedink toe ek jou die eerste keer gesien het? Jou hare het soos ou koper gelyk en daar was songlans in jou hare, selfs al staan jy in die skadu. Is ek nou vergewe?”
Sy kyk op in die wolkgrys dieptes van sy oë, wens dat sy hom kon glo, maar weet dat hy haar net probeer troos.
“As jy my arm vir my teruggee, sal ek graag na my ouma toe wil gaan,” antwoord sy ingehoue.
Hy sug moedeloos en los haar arm. “Rooi hare sou sowaar beter by jou humeur gepas het,” sê hy misnoeg, maar sy talm nie langer nie en gaan die huis binne, haar ken uitdagend uitgestoot.
Werner Strassheim kom by die voordeur van die opstal uitgestap, sy doktertas in sy linkerhand, en glimlag gerusstellend vir Elfie wat hom, met ’n bekommerde uitdrukking op haar gesiggie, op die voorstoep inwag.
“Dan is jy die ou tannie se kleindogter, Elfie-Maria Barnard?” vra hy en steek sy regterhand uit na haar. “Bly te kenne, juffroutjie.”
“Ek is bly u het so gou gekom, dokter Strassheim. Hoe gaan dit met my ouma?” vra sy gretig, onbewus dat Werner nog haar hand in syne hou.
“Nie te sleg nie, Elfie-Ma …” Hy kug verskonend, sy glimlag merkbaar verleë. “Gee jy om as ek jou op jou voornaam noem? Ek is Werner.”
“Glad nie, maar my naam is net Elfie, nie Elfie-Maria nie – dis Ouma se naam vir my. Sal my ouma gou weer gesond word?”
“Wel, ek weet nie hoe gou dit sal wees nie, maar sy is nie so siek dat sy hospitaal toe moet gaan nie – nie as jy bereid is om haar te verpleeg nie. Tant Drienie sal seker ook help, maar ons het nog iemand nodig. Sien jy kans daarvoor?”
“Vanselfsprekend. Behalwe my pa, is my ouma eintlik al wat ek het. Is … is Ouma se hart swak?” vra sy gespanne en lek oor haar lippe.
“Moenie jou oor jou ouma se hart kwel nie, Elfie. Sorg net dat sy genoeg rus en moenie haar enigsins ontstel nie. Sy het my laat verstaan dat dit jou besluit was om na jou eie plaas toe terug te gaan wat haar so siek gemaak het. E … jy sal darem ’n rukkie hier by haar bly?” vra hy ernstig.
“Ek het mos so gesê. Ek het kuiermense daar op Lekkerwater, maar hulle sal begryp dat ek nie my ouma alleen kan laat nie. Is daar nie pille of medisyne –?”
“Jou ouma weet presies wat om te drink,” antwoord hy, sy stem nog professioneel, en glimlag skielik ontspanne. “En dis nou genoeg van jou ouma en haar siekte. Hoe lank meen jy om hier in ons distrik te kuier, Elfie?”
“O … ek weet nie vir seker nie, maar ek sal minstens drie maande hier wees, want my pa is oorsee. Dalk bly ek nog langer,” antwoord sy, haar blik half verwonderd op hom. Hy is ’n aantreklike man met sy donker kuif wat seunsagtig deurmekaar op sy hoë voorkop lê, en sy hou van sy vriendelike oë en warm, simpatieke glimlag. Sy skouers is nie so breed soos Marius s’n nie, maar hy is lank en atleties gebou. Is hy dalk al getroud? Hy lyk nie of hy al dertig is nie, maar dokters trou gewoonlik jonk.
“Sodra jou ouma beter is, sal ek jou graag wil uitneem … as jy nie klaar deur iemand anders bespreek is nie. Ek sien darem nie ’n ring aan jou regterhand nie.”
Karl-Jan het gesê sy is mooi, en nou vra ’n wildvreemde man haar om saam met hom uit te gaan, flits die oorbluffende wete deur Elfie se gedagtes. Het sy haar dalk al die jare misgis? Het die studente wat haar so graag uitgeneem het, haar werklik ter wille van haarself uitgeneem? Selfs Marius het gesê haar hare is nie werklik rooi nie …
“Is my hare rooi?” vra sy sonder om te dink en bloos verleë toe sy die onthutste glimlag op sy gesig sien.
“Vra jy my as ’n dokter of as ’n man wat ’n mooi meisie kan waardeer?” vra hy skertsend.
“Ek vra net ’n eerlike antwoord,” mompel sy selfbewus.
“Wel, ek veronderstel jy het as klein dogtertjie rooi hare gehad, maar op die oomblik is dit ’n seldsame koperkleur. Ek het juis gewonder of dit uit ’n bottel kom, maar dit lyk baie natuurlik.”
“Dit is natuurlik,” antwoord sy met nadruk. “Goed, Werner, sodra my ouma beter is, sal ek saam met jou uitgaan.”
“Ek sien uit daarna. Ek sal weer môreoggend kom inloer,” beloof hy en begin wegstap na die stoeptrap. “Sien jou, Elfie.”
“Tot siens!” roep Elfie hom agterna en bly op die voorstoep staan totdat hy in sy motor vertrek.
“Dis nou wat ek blatante omkopery noem,” klink dit gegrief uit die rigting van die oopstaande sitkamervenster. Marius skuif die outydse vensterraam hoër op en klim deur na die stoep. “As jy my eerder gesê het jy sal saam met my uitgaan as ek sê jou hare het ’n koperkleur, kon ek gisteraand vir jou blomme op Bloemfontein gaan koop het, in plaas van om my vingers stukkend te steek. Maar noudat ek daaraan dink: dit was ek wat eerste vir jou gesê het jou hare is nie rooi nie.”
“Het jy my en Werner se gesprek afgeluister?” vra Elfie driftig.
“Ek het na julle geluister, want ek het toevallig in die sitkamer gesit en wag om Werner se opinie oor jou ouma te hoor, maar hy het uitgestap stoep toe, seker omdat hy jou hier sien wag het. Is dit my skuld dat julle so hard praat?” vra hy onskuldig.
“Jy kon gefluit het om ons te waarsku,” sê Elfie styf en begin wegstap na die voordeur. “Ek gaan eers kyk of my ouma nie iets nodig het nie.”
“Ek het koffie nodig, en ’n meisie wat bereid is om saam met my op Bloemfontein te gaan fliek en eet. Ek verkies ’n meisie met koperkleurige hare,” sê hy tergend.
“Vra Yolande om haar hare te kleur,” sê sy katterig en stap kop omhoog die huis binne.
Tant Maria swaai haar bene van die bed af en kreun gevoelvol toe sy die rebelse uitdrukking op Elfie se gesig sien.
“Oe, toggie, kind, jy sal nie weet hoe naar ek word van die gelê en gelê in die warm, bedompige kamertjie nie. Toe, gee nou my kamerjas aan, dan gaan drink ek saam met julle kinders ’n koppietjie tee op die stoep – rooibos, want Werner vertel my dis gesond. Toe nou, Elfie-Maria, moet ek weer ’n toeval kry voordat jy na my luister? Ek sê jou mos – daar is niks met my ou bene verkeerd nie, en die ewige bedlêery maak my sommer lam. Bring nou my kamerjas,” raas tant Maria ongeduldig.
“Maar Ouma was ’n paar uur gelede so amper … amper … Ouma weet nie hoe groot ek geskrik het nie,” verwyt Elfie en bring die kamerjas onwillig vir tant Maria.
“Ja, toe, so erg was dit ook nie. Soos Werner gesê het: ek het rus en kalmte nodig en g’n ontsteltenis nie. En jy ontstel my as jy my in my eie bed wil gevange hou, Elfie-Maria. Toe, toe, waar is my pantoffels? Nee, wag, kind, ek is nie lam in my hande nie: ek kan die goed self aantrek. Toe, kom haak nou by my in en dan gaan drink ons ons tee in liefde en vrede op die voorstoep.”
Elfie sug oorwonne, vergesel tant Maria na die voorstoep, blits ’n ysige blik in Marius se rigting, en draf die huis weer binne om die skinkbord met tee te gaan haal.
“Aha, ek het gedag die bed sal te veel wees vir Tante,” treiter Marius haar gedemp.
“Sjoes, kind, netnou hoor die meisiekind jou. Ag ja, dat ek nou so ’n groot jok moet jok, net om my kleindogter teen die boosheid van die lewe te beskerm. Maar ek durf nie die kind aan die genade van daardie Paul-mannetjie en haar stiefsuster oorlaat nie, daarom moet ek maar my kruis en my kamerjas op so ’n warm somerdag dra.”
“Het Elfie vir Tante gesê jong Werner het haar klaar uitgenooi om een aand saam met hom Bloemfontein toe te gaan?” vra Marius afkeurend.
“Wat vertel jy my, boet! Nee, maar ek wil dit hê,” kom dit ingenome van tant Maria. “Jy moet darem nou ook nie dink ek gaan my kleindogter vir jou present weggee nie, Marius. As jy haar nie kan of wil lief maak vir jou nie, dan is dit ook maar tot daarnatoe. Ek is lief vir jong Werner, al lol hy alewig met my en my bietjie oorgewig. ‘Man,’ sê ek nog die ander dag vir hom, ‘kan jy nie sien ek het groot hande en voete nie? Dis my beendere wat so groot is, g’n vet nie.’ En weet jy wat doen die skepseltjie? Druk met sy vinger in my maag en vra ewe poliets: ‘En waar is die bene hier, tant Maria?’ Haai, ek wou my nog vervies, maar toe lag ek maar, want dit is darem die waarheid. Ja-nee, ’n dokter in die familie sal my baie rande spaar, as hy en Elfie dalk sou trou.”
“En Schoonlaagte dan, Tante?” vra Marius lig fronsend.
“Moenie jou kwel nie, seun: daardie berg sal ons wel oor wanneer ons daar kom,” antwoord sy gerusstellend.
In die gang luister Elfie fronsend na Marius se vraag en tant Maria se antwoord en loop onwillekeurig stadiger. Wat kwel Marius hom oor Schoonlaagte? wonder sy. Het hy klaar besluit om met Yolande te trou? Is hy bekommerd dat hy moontlik sy aandeel in Schoonlaagte sal verloor? jaag die vreesvrae deur haar gedagtes. O, wat maak dit tog saak? Marius was van die eerste oomblik af op Yolande verlief en nadat hy uitdruklik gesê het hy hou nie van rooikoppe nie, sal sy dwaas wees om langer oor hom te droom. Dit het darem gelyk asof Werner werklik in haar belang stel.
“Ja, toe, toe, Elfie-Maria, waar draai jy so met die tee?” blaf tant Maria toe Elfie op die stoep uitstap en die skinkbord op die tafeltjie langs die riempiesbank neersit. “En sorg tog dat die goed sterk is, want van ’n waterige spulletjie kry ek net sooibrand. Net ’n bietjie melk, kind, en my soetmaakpilletjies, want ek moet my gewig mooi oppas. Ja, en een van daardie roomtertjies wat Drienie eergister gebak het – maak dit sommer twee, want as die goed eers oud word, word die room suur. Dis ’n sonde om goeie kos te mors.”
“Maar as Ouma wil maer word, moet Ouma liewer die roomtertjies –”
“Sjoes, Elfie-Maria, en moenie jou ouma op haar tyd en dag wil voorskryf nie. Ek sê jou mos ek drink die soetmaakpilletjie om my maer te maak, en die roomtertjies is g’n soet nie, net ’n stukkie droë deeg en ’n bietjie room. Ja dankie, kind, gee nou maar vir Marius sy tee.”
“Ek help my liewer self, tant Maria, want dalk kry ek gif in my tee omdat ek gesê het Elfie se hare is rooi,” grinnik Marius en skink vir hom ’n koppie tee in.
“O, en wat is nou verkeerd met rooi hare? My oorle’ Gert was altoos trots op my pragtige, dik hare wat sommer so vanselwers gekrul het. Ek het nooit ’n sent in ’n haarkappersalon … En wat vir ’n motor hou nou hier stil? Dis mos nie mense wat ek ken nie?”
Elfie se koppie tee ruk in haar hand toe die motor voor die deur stilhou en Paul en Yolande uitklim en na die voorstoep aangestap kom. Paul het ’n onvergenoegde uitdrukking op sy gesig en toe sy na Yolande kyk, lees sy die tekens van ’n dreigende donderstorm op haar stiefsuster se gelaat.
“Goeiemôre. Julle is net betyds vir ’n koppie rooibostee,” groet Marius wat na die stoeptrap beweeg het en glimlag vir die twee besoekers.
Yolande kyk hom verwytend aan.
“Toe jy vanoggend vroeg by ons was, het jy beloof om Elfie dadelik te kom haal, maar dis al byna halftwaalf en ons wag nog altyd op ons ontbyt wat Elfie sou kom maak het. En hier sit julle soos wafferse vakansiegangers en tee drink en koek eet.” Haar oë rus misnoeg op Elfie. “Jy kom glad nie jou deel van ons ooreenkoms na nie, Elfie. Jy het beloof om kos te maak en die huis skoon te hou, en nou lê jy hier by jou ouma rond.”
“Hallo, Yolande. Ek is werklik jammer, maar my ouma het skielik siek geword en ons moes die dokter –” begin Elfie verskonend.
“Ja, toe, jy is g’n verskoning aan die meisiemens verskuldig nie, Elfie-Maria,” ontplof tant Maria van die riempiesbank af, haar stem skriller as gewoonlik. “Jy is my kleindogter en daarom het ek eerste reg op jou. En jy, juffroutjie, het jy g’n maniere nie? Groet jy nie ’n oumens met die nodige respekte nie?”
Yolande sien tant Maria die eerste maal raak toe sy begin praat en ’n blos van rooiwarm ergernis stoot oor haar gelaat.
“Môre,” groet sy kortaf en draai weer na Elfie. “Wanneer kom jy terug Lekkerwater toe, Elfie? Ek weier om ’n bediende te wees en –”
“Stil tog, Yolande,” kom dit ergerlik van Paul. “Ek het ontbyt gemaak, nie jy nie, en as jy nie die vuil skottelgoed was nie, kan jy jou eie middagete maak.” Hy loop by haar verby na tant Maria en steek sy hand uit, sy glimlag sjarmant. “Bly te kenne, tant Maria. Ek is Paul Veenstra.”
“Ja, toe, jou tante is ek nie, maar jy kan my mevrou Barnard noem, want jy het beter maniere as daardie Jollie-meisiekind. En jy is die Paul-mannetjie wat kammakastig prentjies teken?” vra tant Maria reguit en bekyk Paul asof hy ’n vreemde insek teen die muur is.
“Ja, ta … e … mevrou Barnard. Dan het Elfie oor my gepraat?” vra hy effens van stryk gebring, maar hou aan glimlag.
“Nee, nie juis nie, maar haar pa het aan my geskryf en my deeglik oor jou ingelig. En nou sal ek jou maar verder inlig: ek sal nie toelaat dat my kleindogter met ’n werklose soos jy trou nie, want g’n mens kan ’n ordentlike bestaan uit prentjies maak nie. Verstaan ons mekaar?”
Die glimlag vlug van Paul se gesig en ’n donker gloed kruip oor sy nek en gesig.
“Ek twyfel of Elfie sal toelaat dat u ’n huweliksmaat vir haar kies, mevrou Barnard,” sê hy koud.
“En hoekom nie? Ek het meer ervaring en beter smaak as sy.”
“Ouma …” kreun-sê Elfie verwytend, haar wange gloeiend van verleentheid en vernedering.
“Ja, toe, kind, bly jy nou maar stil en laat grootmensdinge in ’n grootmens se hande. Jy is nog g’n mondig nie, en jy weet Werner het jou gewaarsku om my nie te ontstel nie. Ek het juis gemeen om jou ’n geldjie in die hand te stop, en dan ry jy en Marius môre Bloemfontein toe en gaan koop vir jou die allerfraaiste rokkie vir die aand wanneer jy en Werner saam uitgaan. Nee a, ek wil darem spog met my kleindogter, en ’n skoonseun wat boonop ’n dokter is, moet ’n ouma nie deur haar vingers laat glip nie,” gaan tant Maria onkeerbaar voort.
“Dalk moet jy Bondel vra om jou ouma te bespring,” fluister Marius simpatiek in Elfie se oor.
Elfie kyk vinnig op na hom, dankbaar oor sy begrip, en sy glimlag maak haar diep binne warm, laat haar hart onstuimig in haar ore klop. Sy hou van hom … hou so baie van hom, al maak hy haar kwaad. Is sy dalk ’n klein bietjie verlief op hom?
“Dan kom jy nie saam met ons Lekkerwater toe nie, Elfie?” vra Yolande nydig en ruk Elfie uit haar droomwêreld.
Elfie lek oor haar lippe, haar oë pleitend op tant Maria.
“Elfie is hier om haar ouma te versorg,” sê Marius rustig en lê sy linkerhand liggies op Elfie se skouer. “Tant Maria is nie gesond nie, en met Elfie hier om met die huishouding te help, sal sy meer tyd kry om te rus en aan te sterk. Ek is seker daarvan jy en Paul kan ’n rukkie sonder haar hulp klaarkom?”
“Ek het kom vakansie hou, nie potte en panne skuur nie,” snou Yolande en kyk met smeulende oë na Elfie wat vreemd dapper voel onder Marius se aanraking, en selfs ’n klein glimlaggie waag. “Jy het skielik van kleur verander, Elfie. Daar in Johannesburg kon jy sterf van liefde vir Paul, maar nou jakker jy saam met Marius en die dokter en wie weet wie almal rond. Het die papie ’n vlinder geword?”
Elfie krimp ineen onder Yolande se aanmerking oor haar gevoel vir Paul, maar dan voel sy hoe Marius haar skouer liggies, bemoedigend druk en sy glimlag onskuldig.
“Verkwalik jy my dat ek my kalwerliefde vir Paul ontgroei het, Yolande? Jy is tog nie meer verlief op dieselfde man wat jy as ’n dom sewentienjarige bewonder het nie?” vra sy rustig, blik na Paul en glimlag verskonend. “Ek bedoel dit nie beledigend nie, Paul, maar ek onthou hoe ’n oorlas ek van myself gemaak het so pas nadat ek jou ontmoet het. Dit was maar net ’n bakvissiestadium wat ek deurgemaak het.”
“O …” Paul lyk afgehaal en blik ongemaklik na tant Maria en dan na Yolande. “Ek dink ons mors ons tyd, Yolande. Dis tog duidelik dat Elfie nie saam met ons kan teruggaan nie. Sal ons ry?”
Yolande steek halsstarrig vas.
“Nie voordat Elfie ander reëlings getref het nie. Ek is beslis nie van plan om my naels te breek en my hande te verniel op daardie koolstoof nie,” hou sy koppig vol.
“Dan, juffroutjie, is daar net een uitweg oor: pak jou tasse en gaan terug huis toe na jou wit elektriese stoof. Ek is een-en-tagtig en ek doen al my huiswerk self, en as jy te sleg is om dit te doen, gaan bly in ’n hotel,” sê tant Maria met hoorbare minagting in haar stem. “Elfie-Maria, skink vir Ouma asseblief nog ’n koppietjie tee. Dalk sal die mense agterkom hulle is onwelkom as ons hulle nie tee aanbied nie.”
“Ouma …” begin Elfie ontsteld, maar swyg toe Marius haar skouer waarskuwend druk.
“Moenie jou ouma ontstel nie, Elfie. Ek is seker daarvan Yolande mis maar net jou geselskap, want as ek man-alleen vir my op Lekkerwater kon huishou, sal sy en Paul dit ook kan doen. Hoe lyk dit, Yolande? Word ek vanaand uitgenooi vir ete?” vra hy skertsend, los Elfie se skouer en loop nader na Yolande.
“Wel …” Sy glimlag koketterig in sy oë. “As jy nie omgee om spek en eiers vir aandete te eet nie. Hoe laat kom jy?”
“Wat van halfses? En ek wil gebraaide biefstuk en slaai hê – daar is oorgenoeg in die paraffienyskas,” antwoord hy, neem haar onder haar elmboog en vergesel haar na Paul se motor.
Paul groet bot en volg hulle die stoeptrap af.
“So, nè?” praat tant Maria van die riempiesbank af, trek haar skouers ’n paar keer op en vat haar hande op haar skoot saam. “En dis nou jou beeldskone stiefsuster? Nou kyk, mooi is sy wel, maar vir sulke lamlendige luiheid kan geen man kans sien nie. Ek moet tog ernstig met Marius praat, want dit lyk my tog die meisiekind het ’n ogie op hom.”
Dan kan haar ouma dit ook sien, dink Elfie met ’n gevoel van onmag en keer opsetlik haar rug op Marius en Yolande om nie te sien hoe hulle in mekaar se oë lag nie.
Laatmiddag maak Elfie die tuinhekkie van oom Gawie Louw, tant Maria se plaasvoorman, agter haar toe, ’n mandjie met ’n bakkie vars wortel-en-pynappelslaai en twee vars gebakte melkterte in haar linkerhand, en wuif vir tant Drienie, ’n grys wordende, middeljarige vrou met vriendelike, ligblou oë, wat op die voorstoep van haar huis staan. Tant Drienie wuif terug en roep: “Sê maar as ek iets kan doen om te help, Elfie, en bring nou môreoggend julle wasgoed, dan was ek dit sommer saam met myne.”
“Dankie, tant Drienie. Ek sal so maak, tannie,” roep Elfie en stap vinnig die effense skuinste op na tant Maria se opstal.
Dis nou ’n liewe mens, dié tant Drienie, dink Elfie waarderend terwyl sy die voorstoep nader. Sy het net ’n paar woorde met die swygsame oom Gawie gewissel, maar tant Drienie hou nie ’n oomblik lank op met gesels of glimlag nie.
Sy begin die stoeptrap opklim, hoor die gedreun van ’n motorenjin en draai vraend om. ’n Bloedrooi sportmotor kom vinnig in die plaaspad aangejaag en hou in ’n spatreën van gruisklippies voor die deur stil. ’n Slanke, blonde meisie, geklee in ’n koel, ligblou somerrok met ’n lae hals, klim uit die motor en kom met ’n selfversekerde, effense swaaistap nader.
“Hallo, daar,” groet die meisie, haar stem hees en sensueel. “Dan is jy tant Maria se kleindogter? Ek is Leana van Jaarsveld van die buurplaas, Goedgevonden.”
“O … sê Elfie oorbluf en bloos verleë. “Hallo, Leana. Ek is Elfie Barnard. Kom binne, asseblief.”
“Nie dadelik nie, Elfie. Aangesien ons twee alleen is, sal ek graag eers met jou wil gesels. Jy kan seker raai ek wil oor Marius praat?”
“Nee. Is hy dan so belangrik?” vra Elfie lig fronsend.
“Baie belangrik, veral as jy hoop om Schoonlaagte te erf. Of weet jy nog nie dat Marius ’n houvas op jou ouma het nie? Wees gewaarsku, Elfie: as jy nie jou kaarte reg speel nie, gaan Marius elke sent van jou ouma Barnard inpalm.”