Verwaande … arrogante … baasspelerige … stik Elfie woordeloos en soek na nog gepaste byvoeglike naamwoorde om Marius uit te skel toe hy agter die stuurwiel van die bakkie inskuif, sy deur toeslaan en die motorenjin aanskakel.
“Hoe durf jy my soos ’n lappop ronddra en –” bars sy verontwaardig uit, maar die enjin brul oorverdowend en die bakkie skiet vorentoe.
“Hoesê?” roep Marius bo die gebrul van die enjin.
“Ek sê …” begin sy, maar haar stem raak verlore in die lawaai en sy byt hard op haar tande, druk haar neus in die lug en gluur venynig na die mielielande wat langs haar venster verbyskiet.
“Al die veld is vrolik …” begin Marius uit volle bors langs haar te sing, en haar wrewel jeens hom klim ’n paar grade hoër en slaan in twee rooi vlekke op haar wange uit.
Ongepoetste mansmens! Net omdat hy so groot soos ’n olifant is, dink hy hy kan haar soos ’n lappop ronddra en in die bakkie gooi. Sy moes uitgespring het, maar sy was te oorbluf om dadelik te handel, en nou moet sy teen haar sin saam met hom in die lawaaierige bakkie Bloemfontein toe ry, dink sy diep gegrief terwyl Marius ongesteurd langs haar sing.
Hulle bereik die hoofpad en hy ry stadiger, draai links in die pad, en die gedreun van die enjin neem wonderbaarlik af.
“Mooi dag, is dit nie, Elfie? Blou hemel, pragtige sonskyn, groen mielielande om ons … wat meer kan jy vra? As dit nou nie die lastige Werner en jou nuwe rok was nie, kon ons saam gaan piekniek hou het. Hou jy van pieknieks, Elfie?” vra hy, ’n glimlag in sy stem.
“Nee!” antwoord sy bitsig en gluur hom misnoeg aan. “Ek bedoel, ja, ek hou van pieknieks, maar nie saam met jóú nie. Hoekom het jy nie vir my gesê Yolande gaan saam met ons Bloemfontein toe nie? Nou gaan sy kwaad wees vir my omdat jy weggery het en haar daar op Schoonlaagte gelos het.”
“My liewe klein rooikop –” begin hy geduldig.
“Ek is nie jou rooikop nie!” val sy hom bitsig in die rede.
“Hm, jy gee nie om dat ek jou ’n liewe meisie noem nie, maar jy word vies oor die rooikop? Ek maak darem vordering. Goed, dan: my liewe klein Elfie, ek pleit onskuldig, want toe ek jou gevra het om saam te ry Bloemfontein toe, was ek nog onder die salige indruk dat Yolande op Lekkerwater in haar bed lê en slaap. Toe ek uitstap, het ek Paul sien wegry, en Yolande het my ingelig dat sy by my kom kuier het. Wat kon ek doen? Ek het haar vertel ons is op pad Bloemfontein toe, en sy het daar en dan besluit om saam te gaan. Ek kon haar tog nie hardhandig uit my motor help nie?”
Nee, hy kon nie, erken Elfie eerlik teenoor haarself. Maar as hy nie so op Lekkerwater by Yolande geboer het nie, sou sy nie so opdringerig gewees het nie. Heel waarskynlik sou hy verkies het om saam met Yolande Bloemfontein toe te ry …
“Ek kon alleen met my pa se motor gegaan het,” sê sy stroef. “As jy nou omdraai, kan jy Yolande gaan oplaai en dan sal ek self Bloemfontein toe ry.”
Sy waag ’n vinnige blik in sy rigting toe hy nie dadelik antwoord nie en sien die uitdrukking op sy gelaat verhard.
“Jammer as my teenwoordigheid jou so irriteer, maar ek voer net jou ouma se bevele uit. Dalk kan jy en Werner volgende keer afspreek om saam Bloemfontein toe te ry,” antwoord hy bruusk.
En nou het sy hom boonop kwaad gemaak, dink sy afgehaal. As hy net weet hoe bly sy is om hom ’n klein rukkie vir haarself te hê, weg van Yolande se betowerende invloed af. Waarom het sy al haar kanse verbrou? Sy sien nie daarvoor kans om die res van die dag in ’n ysige stilte saam met hom deur te bring nie.
“Dankie dat jy my Bloemfontein toe neem, Marius,” sê sy skuldig.
Hy kyk na haar en die warm vonkeling in sy oë laat haar vreemd bewerig voel, bring ’n warm blos na haar wange en sy slaan haar blik haastig neer. Hy moenie so na haar kyk nie, want dit maak haar van voor af lief vir hom, dink sy paniekerig. Hy het sulke groot, songebruinde hande, sulke sterk vingers … sy wens sy kon aan sy hand raak.
“Beteken dit ’n wapenstilstand?” vra hy skertsend.
“Ek wou nie werklik getwis het nie,” verduidelik sy verskonend. “Ek is net jammer as ek onenigheid tussen jou en Yolande veroorsaak het, want ek weet jy … e … en sy … Jy kuier graag by haar,” eindig sy lomp.
“En omdat ek graag op Lekkerwater kuier, het jy jou eie gevolgtrekkings gemaak, nè, Elfie?” terg hy en lag gedemp toe die blos op haar wange verdiep. “Yolande is ’n interessante meisie, want sy is die eerste mannekyn wat ek ken … en daarby is haar uiterlike beslis vleiend vir die oog. Jy verkwalik my nie omdat ek graag na ’n mooi meisie kyk nie, Elfie?”
Sy woorde val soos géselhoue in haar binneste en sy sluk hoorbaar en staar stip voor haar uit.
“Wat jy doen, het niks met my te doen nie,” antwoord sy hees.
“Maar hoe praat jy nou? Het jou ouma Maria nie uitdruklik gesê ek en jy moet wettig in die kerk trou voordat ons Schoonlaagte kan erf nie?” vra hy verwytend.
Sy kyk met blitsende oë na hom, haat hom omdat hy kan gekskeer oor iets wat haar soveel onbeskryflike seer besorg, maar besef dat sy hom nie werklik kan verkwalik nie, want hy het haar nie lief nie. Vir hom is sy heel waarskynlik ’n oulike dogtertjie wat vinnig kwaad word en maklik bloos; daarom geniet hy dit om haar te terg.
“Is dit nodig om met my te trou om Schoonlaagte te erf? Leana het my verseker dat die hele distrik verwag dat jy die plaas eendag sal erf,” antwoord sy bitsig.
Hy frons, blik flitsend na haar en dan weer na die pad.
“En waar kom Leana aan so ’n fantasie?” vra hy, sy stemtoon afkerend, byna streng.
“Ek sal nie weet nie, maar jy kuier al twintig jaar by my ouma, en jy het seker ook al die stories gehoor. Leana sê my ouma sou met jou oupa Pieter Combrinck getrou het, maar toe het jou oupa bankrot gespeel en sy plaas verloor, en Ouma is met oupa Gert Barnard getroud,” antwoord sy en kyk afwagtend na hom. Gaan hy dit ontken? wonder sy.
“Hm, Leana is nogal goed ingelig, hoewel enige ou inwoner van Rietspruit jou dieselfde storie kon vertel het. Het jou ouma nog nooit iets van my oupa Pieter gesê nie?” vra hy sonder om sy oë van die pad af te neem.
“Nee, nie ’n woord nie. Wat het van jou oupa Pieter geword nadat hy weg is van Goedgevonden?” vra Elfie, besef dat sy nuuskierig klink en voeg verskonend by: “As jy nie daaroor wil praat nie, hoef jy nie. Ek … e … ek is seker maar net nuuskierig.”
“En nuuskierigheid is die voorreg van elke vrou,” antwoord hy met ’n skewe glimlag. “Dis nie ’n staatsgeheim nie, Elfie, en ek veronderstel jou ouma sou jou in elk geval later die hele storie vertel het. Oupa Pieter was destyds ’n jong man in sy twintigerjare toe hy Goedgevonden van sy pa geërf het, maar daar was soveel verbande op die plaas dat hy na die eerste mislukte oes verplig was om boedel oor te gee. Hy is weg Bloemfontein toe en daar het hy by die munisipaliteit gaan werk.”
“O …” sê Elfie, jammer dat sy hom uitgevra het. Dit kan nie vir hom maklik wees om te praat oor die dinge wat daartoe aanleiding gegee het dat die Combrincks hulle erfplaas verloor het nie, en tog is daar vrae waarop sy die antwoorde moet ken. “Het jou oupa Pieter en my ouma werklik trouplanne gehad?”
“Ek meen so, want hulle en jou oupa Gert Barnard het saam grootgeword. My oupa was nader aan jou ouma se eie ouderdom, en hulle was van jongs af lief vir mekaar, maar toe Oupa bankrot gespeel het, het hy as ’t ware op die vlug geslaan, want hy het geweet hy kon haar niks bied nie. Twee jaar later is sy en jou oupa Gert getroud, en soos jy seker ook al agtergekom het, het hulle ’n gelukkige huwelik gehad. Dalk was jou ouma se gevoel vir my oupa, soos jóú gevoel vir Paul was: kalwerliefde wat baie vinnig vervaag het.” Hy blik na haar en sy oë terg haar woordeloos.
Elfie probeer hard om die blos van verleentheid op haar gesiggie te ignoreer, en vra saaklik: “Maar hoe het dit gebeur dat jy so gereeld by my ouma kom kuier het? En … en hoekom is jy na haar vernoem?”
“Ek is nie; ek is na my pa vernoem, want hy was ook Marius Johannes. My oupa het hom na jou ouma vernoem.”
“O … Sy staar hom onbegrypend aan. “Maar hoekom?” vra sy aarselend.
“Ek het jou reeds gesê: nadat oupa Pieter sy plaas verloor het, was hy ’n brandarm man wat by die munisipaliteit op Bloemfontein gaan werk het. Hy is getroud en hy en sy vrou het twee kamertjies in iemand se agterplaas gehuur. Destyds was daar nie so iets soos ’n siektefonds nie en toe sy vrou, my ouma Emma, siek geword het, het hy nie die geld gehad om ’n dokter te raadpleeg nie. Ouma Emma het destyds my pa verwag, en toe Oupa desperaat raak, het hy ’n brief aan jou oupa Gert en ouma Maria geskryf. Jou ouma het gekom en gehelp, finansieel ook, en hoewel my ouma Emma dood is met my pa se geboorte, het my pa bly leef. My oupa het uit dankbaarheid vir alles wat jou ouma vir hom en sy vrou gedoen het, die seuntjie na haar vernoem.”
Elfie sluk droog en knip haar oë vinnig, skaam omdat sy wil huil. Arme ouma Emma en oupa Pieter … kan mense werklik so arm wees? Om nie eens ’n dokter of medisyne te kan bekostig nie … In haar lewe van volheid, het sy nog nooit aan so ’n moontlikheid gedink nie.
“En … en dis waarom jý ook Marius Johannes is?” vra sy en hoop dat haar stem nie so wankelrig vir hom klink as wat dit in haar eie ore klink nie.
“Daarom … en om ander redes. Jou oupa en ouma het lank op jou pa gewag, en omdat hulle my pa se peetouers was, het hulle hom finansieel baie gehelp. My oupa het ’n kluisenaarsbestaan gevoer, meestal getob oor die verlies van sy geboortegrond, maar my pa het ander drome gehad. Hy was ’n kranige student, en ná matriek het jou ouma-hulle hom gehelp om hom as ’n onderwyser te bekwaam. Hy het op Stellenbosch gestudeer, het sy studie voltooi en toe op verskillende plekke in die Kaap skoolgehou. Hy het nooit op Schoonlaagte gaan kuier nie, maar deur die jare het hy gereeld aan jou oupa en ouma geskryf.”
“En jou oupa Pieter? Het hy alleen op Bloemfontein agtergebly?” vra Elfie jammerhartig.
“Het ek dit nie gesê nie? Oupa Pieter is aan longontsteking dood in die jaar toe my pa matriek geskryf het – ek dink dis die rede waarom my pa nie langer op Bloemfontein wou bly nie.”
“En toe?” vra Elfie gretig.
Hy kyk na haar gesiggie, sien die luister in haar oë en glimlag deernisvol.
“Jy lyk soos ’n klein dogtertjie wat na ’n slaaptydstorie luister, my liewe klein Elfie. Hou jy van my storie?”
Sy maak haar mond vinnig toe en gluur hom misnoeg aan.
“Moet jy my altyd spot? Ek is lankal nie meer ’n klein dogtertjie nie,” antwoord sy gekrenk.
“Gelukkig nie, want ek hou meer van klein dogtertjies wat grootgeword het,” terg hy, lag sag toe sy verleë bloos en vervolg ernstiger: “My pa is getroud met ’n nooi Elsabé Henning, en ’n paar jaar later was ek daar. Dit het goed gegaan, baie goed, totdat my pa in ’n noodlottige motorongeluk dood is en my ma moes uitspring om die pot aan die kook te hou. Dis nou twintig jaar gelede, toe ek ’n seuntjie van tien was, en soos baie jare vroeër, was jou ouma Maria weer daar om te help. Jou oupa was toe al vyf jaar gelede dood en jou pa het nooit naby Schoonlaagte gekom nie. Jou ouma was ’n eensame mens; daarom het sy my gereeld uitgenooi vir ’n vakansie op die plaas.”
“En dis al?” vra Elfie, teleurgesteld dat die storie aan ’n einde gekom het.
“Nie heeltemal al nie: jou ouma het my gehelp om universiteit toe te gaan, en nadat ek lektor geword het, het sy my ná hewige rusies en twisgevegte toegelaat om my studiegeld aan haar terug te betaal. Dít sê ek net omdat jy teen hierdie tyd seker al glo dat ons Combrincks niks anders as bloedsuiers is nie,” voeg hy tergend by.
“Ek het glad nie so iets gedink nie!” bars sy onthuts uit. “Dis in elk geval ’n baie mooier storie as wat Leana … e … as wat ek gedink het. Ek hou van stories met ’n gelukkige einde.”
“En wat was Leana se storie?” vra hy en kyk lig fronsend na haar.
“O … ’n bietjie vaag … en so aan. Ek het jou mos gesê sy en al die mense dink jy gaan Schoonlaagte erf.”
“En dit het jou ontstel?”
Sy kyk hom verwonderd aan.
“Hoekom sou dit? Jy het gesorg dat my ouma nie eensaam was nie, en as sy Schoonlaagte vir jou wil gee, kan sy mos. Wat sal my pa met die plaas doen?”
Hy lag ongelowig en skud sy kop.
“Elfie, hoe kry jy dit reg om in ’n materialistiese wêreld so onselfsugtig te wees? Weet jy wat is Schoonlaagte werd? Jou pa sal ’n dwaas wees, jý sal ’n dwaas wees, as julle toelaat dat jou ouma julle onterf.”
Nie werklik ’n dwaas nie, dink Elfie en vermy sy oë; sy is net ’n meisie wat liefhet, daarom maak die gedagte dat hy Schoonlaagte sal erf, haar gelukkig. Maar as hy met Yolande trou, sal sy nog so gelukkig daaroor voel? wonder sy en frons diep.
“Leef jou ma nog, Marius?” vra sy, gretig om haar eie gedagtes te ontvlug.
“Ja, sy is ’n paar jaar gelede weer getroud en woon saam met my stiefpa op ’n wynplaas anderkant Kuilsrivier. As jy ons storie werklik ’n gelukkige einde wil gee, trou jy soos ’n soet dogtertjie met my, en dan gaan stel ek my bruid aan my ma en my stiefpa voor. Wanneer gaan jy ja sê, Elfie?”
Sy kyk vinnig op na sy sterk profiel, sien ’n sweem van ’n glimlag om sy lippe en veg verbete teen die opwellende seer in haar binneste. Hy kan spot met iets wat vir haar heilig is, dink sy bitter.
“En Yolande dan?” vra sy, haar stem gelykmatig.
“Wel, ons sal haar seker maar moet teleurstel, sal ons nie?” vra hy en sy hoor weer die lag in sy stem.
“Hoe ver is ons van Bloemfontein af?” gee sy die gesprek ’n ander wending.
“Bangbroek!” koggel hy en lag haar uit, maar sy kyk nie na hom nie, haar blik op die verbyflitsende telefoonpale langs die pad.
Waarom herhaal die geskiedenis homself? wonder sy bitter. Dis sestig jaar later en hier sit sy, ’n kleindogter van ouma Maria, en voel asof sy binne-in sterf omdat sy ’n Combrinck vergeefs liefhet. Is haar liefde vir Marius ook maar net kalwerliefde? Sal sy soos haar ouma, eendag ’n ander man ontmoet en hom opreg lief kry? Werner … ja, sy het van Werner vergeet. Sy sal van nou af elke oomblik van die dag aan Werner dink, want dalk help dit haar om op hom verlief te raak.
Kort voor middagete kom Elfie met twee pakke in haar hande by ’n klereboetiek op Bloemfontein uitgestap, ’n glans van tevredenheid op haar gelaat. Sy het elke sent wat haar ouma vir haar gegee het, gespandeer, maar die aandrokkie wat sy vir haar gekoop het, is ’n droomrok, en die bypassende handsak en skoene is mooier en duurder as enigiets wat sy tot nog toe besit het. As dit net Marius in plaas van Werner was wat haar uitgenooi het, sou haar geluk volmaak gewees het, mymer sy en bly staan, haar blik vraend op die mense wat by die winkel verbystap.
Waar is Marius? Hulle het afgespreek om voor die winkel te ontmoet, maar sy sien geen teken van hom nie.
“Is ek laat?” vra hy agter haar en kom met lang hale aangestap. “Jammer, ek het ’n paar draaitjies gaan loop. Hoe hou jy van my inkopies?”
Sy kyk na die gevlegte hondemandjie in sy arms en frons verwonderd.
“Die mandjie is te klein vir Bondel,” sê sy en kyk vraend op in sy glimlaggende gesig.
“Ek glo dis benede Bondel se waardigheid om in ’n mandjie te slaap, maar Flentertjie sal nie omgee nie.” Hy hou die mandjie in sy een arm vas en steek sy regterhand uit na haar. “Hier, gee my jou pakkies.”
“Maar ek kan dit self…” begin sy protesteer, gee nogtans die pakkies en gryp impulsief na die mandjie toe hy dit in haar arms druk. “Maar hoekom …?” Haar sin breek stomp af toe sy die klein withaarhondjie in die mandjie sien lê. “Arf!” blaf die diertjie manhaftig en lek haar oor die neus met sy rooi tongetjie.
“Ag, jou pragtige ou babatjie! Marius, is hy nie die allerliefste dingetjie wat jy nog gesien het nie? Ek kan hom sommer dooddruk van liefde!”
“Moenie – hy kos baie geld, en dis half ongeskik om ander mense se geskenke dood te druk. Maar jy mag mý dooddruk van liefde omdat ek hom vir jou gekoop het,” sê hy skertsend.
“Vir mý? Jy bedoel …? O, Marius, jy is ’n skat!” Sy besef wat sy gesê het en bloos pynlik verleë. “Ek bedoel: jy is baie gaaf … en … en goed. Baie dankie, Marius.”
“Dankie, ek wil liewer jou skat wees. Jy mag my nou soen as jy wil,” sê hy doodluiters.
“Sommer hier in die straat?” vra sy onthuts.
“Nee, verkieslik hier op my mond. Wag, laat ek jou wys,” gaan hy doodernstig voort, laat val haar pakkies en vat haar aan haar skouers.
“Nee, Marius, moenie! Die mandjie … Die mense …” maak sy paniekerig beswaar.
“Die mense is lastig en die mandjie pla ’n bietjie, maar dis nie onoorkombare probleme nie,” antwoord hy en soen haar met mening. “Hm, nie sleg nie,” sê hy toe hy haar los en terwyl sy nog hulpeloos na haar asem snak, “maar jy het geen ervaring nie, Elfie. Ek wed ek is die eerste man wat jou behoorlik soen.”
“Is nie!” protesteer sy, haar gesiggie vlamrooi. “Ek het al mans gesoen as hulle my uitneem.”
“Naggesoen?” grinnik hy.
“Ja … tot siens, en dis al,” erken sy intens verleë.
“En dis wat jou regtig mooi maak: jou liewe onskuld, my Elfie. Ek kan nie onthou wanneer ek laas ’n meisie gesoen het wat nog kan bloos nie,” treiter hy haar en tel weer haar pakkies op.
“Dis omdat ek rooi hare het dat ek so maklik bloos,” mompel sy en begin babataal met die hondjie praat.
“Sjoes, Elfie, die mense dink jy is stapelgek om jou baba in ’n hondemandjie rond te dra. Kyk net hoe kyk hulle na my: dink seker ek is die gekke pa van die kind. Toe, bring Flentertjie, dan gaan eet ons,” versoek hy gedemp.
“Sy naam is g’n Flentertjie nie! Ek sal vir hom ’n mooi naam uitdink,” sê Elfie gegrief.
“Wat se naam? Fifi of Gigi?” koggel hy.
“Nee, ’n mooi naam soos …” Sy byt hard op haar onderlip, ontsteld omdat sy byna “Marius” gesê het. Marius … dis die mooiste naam wat sy ken, maar dit sal nie by ’n hond pas nie. “Ek sal hom Flentertjie noem,” besluit sy.
“Verstandige kind; ek het geweet jy het net sulke goeie smaak soos ek. Kom, hier is die restaurant,” nooi hy en neem haar liggies onder die elmboog.
“Marius! Koe-ie!” roep Yolande uit die verste hoek waar sy en Paul by ’n klein tafeltjie sit, spring op en wuif vir hulle.
Elfie snak hoorbaar na haar asem en kan die verwyt in haar oë nie verbloem toe sy opkyk na Marius nie.
“Jammer, Elfie, maar hulle het my voor die klereboetiek sien wag en toe afgespreek om saam met ons te eet. Ek kon nie gou genoeg aan ’n verskoning dink nie,” verduidelik hy verskonend.
Kon of wou hy nie aan ’n verskoning dink nie? wonder sy teleurgesteld en dwing ’n glimlag om haar lippe toe sy saam met hom tussen die tafeltjies deurvleg na dié van Yolande en Paul.
“Heerlik! Kom sit, Marius. Jy gaan vir my die duurste ete op die spyskaart koop omdat jy vanoggend vir my weggery het … nare man,” sê Yolande en trek ’n pruilmondjie.
Marius neem die mandjie by Elfie, sit dit op die vloer neer en help Elfie om te sit voordat hy tussen haar en Yolande plaas neem.
“Hallo, julle,” groet hy, sy blik op Yolande. “Ek vergoed jou graag vir enige ongerief, Yolande. Wat gaan jy eet?”
“Jy is jou metgesel kwyt,” sê Paul met hoorbare genoegdoening langs Elfie. “Waarom gee jy nie die stryd gewonne nie, Elfie? Jy is net nie ervare genoeg om met Yolande te kompeteer nie. Sy het my omgekoop om haar Bloemfontein toe te bring, want sy was vasbeslote om jou nie te lank in Marius se geselskap te laat nie.”
“Haar vrese is ongegrond,” antwoord Elfie styf. “Ek en Marius het net kom klere koop sodat ek mooi kan lyk vir dokter Werner Strassheim wanneer ons Saterdag saam uitgaan.”
“Ag, so? Dan het jou ouma vir jou ’n hele string bewonderaars gereed?” vra hy smalend.
’n Gloed van ergernis stoot oor Elfie se gelaat en smeul in haar oë toe sy met openlike misnoeë na hom kyk.
“Ek dag dis net meisies wat katterig is,” sê sy kil. “Ek is jammer ek is nie langer verlief op jou nie, Paul, maar ek moes seker een of ander tyd grootword.”
“O, ek het die situasie volkome onder beheer, my liewe Elfie,” begin hy, maar sy val hom bitsig in die rede.
“Ek is nie jou liewe Elfie nie!”
“Korrek,” kom dit met ’n lui stemtoon van Marius. “Sy is mý liewe klein Elfie. Het jy al besluit wat om te bestel, Elfie?”
“Ek … ek voel nie honger nie. Net ’n koeldrank, asseblief,” dwing Elfie die woorde oor haar lippe, bewus van die nydige blik wat Yolande op haar rig.
“Dan bestel ek vir jou ’n behoorlike ete,” besluit Marius, “en ons loop nie voordat jy die laaste krummeltjie geëet het nie.” Hy wink ’n kelner nader en plaas hulle bestellings terwyl Elfie met ’n gevoel van opstand na hom luister.
Alles is nou bederf, dink sy gegrief en hou haar oë stip op die tafeldoek voor haar. Dit was so ’n mooi dag, veral nadat hy Flentertjie vir haar gekoop het, maar nou … Sy sal nie ’n enkele mondvol kan sluk met Paul en Yolande as haar tafelgenote nie.
“’n Mens moet Elfie altyd soos ’n stout kind behandel, want sy verkies klaarblyklik om soos een op te tree – seker maar haar manier om aandag te trek,” sê Yolande neerhalend, kyk na die mandjie wat tussen haar en Marius staan en glimlag minagtend.
“Ek sien die stout dogtertjie het vir haar ’n hondjie gekoop. Ek hoop net jy besef my ma is allergies vir hondehare, Elfie.”
“Moontlik, maar Lekkerwater is nie, en dis waar ek voortaan gaan woon. Ek kon tog nie ’n geskenk van Marius weier nie?” vra sy met ’n onskuldige glimlag.
Yolande frons afgehaal, maar lag dan gedwonge.
“Wat ’n snaakse geskenk. Vir my koop mans gewoonlik juwele, nie brakkies nie,” sê sy minagtend.
“Vanselfsprekend,” sê Marius en stuur die gesprek in ’n ander rigting.
Dis die langste, ongemaklikste ete wat sy in haar hele lewe gehad het, dink Elfie toe sy bykans ’n uur later van die tafel opstaan en na Flentertjie se mandjie stap.
“Pragtige ding,” praat sy gedemp en glimlag vir die eerste keer sedert sy saam met Marius die restaurant binnegekom het. “Nou gaan ons jou vir Ouma en Bondel wys. Ek hoop net nie Bondel sluk jou lewendig in nie.”
“Elfie, jy ry saam met Paul huis toe,” sê Yolande dringend langs haar. “Jy het klaar my en Marius se dag bederf, want ons sou saam Bloemfontein toe kom om … om ’n juwelierswinkel te besoek.” Elfie kyk verwilderd na Marius wat wegstap om vir die etes te betaal en dan na Paul wat tydsaam nader kom en haar met ’n vermakerige glimlag aankyk.
“Baie teleurgesteld?” koggel hy. “Jammer, Elfie, maar toevallig weet ek ook van Marius en Yolande se reëlings. Gaan jy nou soos ’n soet kind saam met my kom, of gaan jy Marius en Yolande se dag verder bederf deur daarop aan te dring dat Marius jou huis toe neem?”
“Wag, Paul, jy weet tog Elfie sal nooit so gemeen wees nie,” sê Yolande en glimlag innig vir haar. “Jy kan tog seker raai wat ek en Marius by die juwelierswinkel wil gaan uitsoek?”
’n Verloofring, flits die wete deur Elfie se gedagtes en laat ’n skrynende seer diep in haar binneste. Dan het Marius en Yolande se verhouding reeds so ver gevorder … en netnou, toe hy haar op die sypaadjie gesoen het, het sy nog gehoop dat hy net ’n klein bietjie van haar hou. Dwaas wat sy was! Sy het tog daardie eerste dag gesien dat Marius smoorverlief op Yolande is.
“Kom ons loop,” sê Elfie aan Paul, verras dat haar stem normaal in haar ore klink. Maar waarom nie? Dis haar hart wat bloed drup, dis haar drome wat weggesink het in die groue vergetelheid van vergeefse liefdesdrome, maar uiterlik het sy nie verander nie, dink sy terwyl sy die mandjie optel, wag dat Paul haar pakkies kry en begin wegstap na die deur.
“Elfie!” roep Marius toe sy die uitgang bereik en kom met lang hale op haar afgestap.
“Marius, wag! Ek sal verduidelik,” sê Yolande en loop hom tegemoet.
Hy ignoreer haar en kom tot by Elfie.
“Wag nou, Elfie. Jy kan darem wag totdat ’n man klaar betaal het,” sê hy ongeduldig.
Paul lê sy arm onder Elfie se elmboog en glimlag uitdagend vir Marius.
“Moenie jou opdring waar jy nie welkom is nie, ou vriend. Elfie verkies om saam met my huis toe te gaan,” sê Paul vermakerig en glimlag intiem af in Elfie se oë.
“Werklik?” vra Marius, sy uitdrukking ineens stroef en ongenaakbaar. Elfie kyk sku op na hom en wonder waarom hy kwaad is. Is hy dan nie bly om van haar ontslae te raak nie? “Jammer om jou teleur te stel, Paul, maar Elfie is saam met my by die huis weg, en ek sal haar persoonlik weer terugbesorg.”
“Moenie gemeen wees nie, Marius,” kom dit verwytend van Yolande terwyl sy besitlik by hom inhaak. “Is jy dan jaloers omdat Elfie Paul se geselskap bo joune verkies? Ek gee glad nie om om jou geselskap te hou nie.”
“Dankie, ek voel gevlei, maar toevallig het ek ’n verantwoordelikheid teenoor tant Maria,” sê Marius bruusk en hou sy hand gebiedend vir Elfie se pakkies na Paul uit. “Dankie. Ons sien mekaar seker weer,” sê hy, sy stemtoon nog ongenaakbaar, neem die pakkies, vat Elfie onder die elmboog, en stap saam met haar weg in die rigting van sy bakkie.
“Jy hoef my nie agter jou aan te sleep nie – ek kan self loop!” maak Elfie ergerlik beswaar toe sy moet draf om by hom te bly. “Ek weet jy en Yolande wou ’n verloofring gaan koop het, en as jy my saam met Paul laat huis toe gaan, kan jy dit nog doen.”
Marius steek in sy spore vas, lyk ’n oomblik ontsteld en glimlag dan dankbaar vir haar.
“Dankie toggie jy het van ’n verloofring gepraat. Ek moet Leana se verloofring by die juwelierswinkel gaan haal. Ons het vanaand ’n belangrike afspraak, maar as ek sonder die ring opgedaag het, sou sy my nooit vergewe het nie. Hierlangs, Elfie, ons sal gou die ring gaan haal,” beveel hy en swenk regs toe hulle die straathoek bereik.
Elfie se hart steek met ’n pynlike geklop in haar keel vas. Hoeveel meisies nog? wonder sy dof. Eers Yolande en nou Leana … en sy het netnou nog gehoop dat hy net ’n klein bietjie van haar hou.