Elfie tuur met dowwe, nikssiende oë by die venster van die bakkie uit, oorweldig deur ’n seer wat te groot is om te verwerk. Sy het gesien hoe Marius soos ’n opgewonde seun geglimlag het toe die juwelier die verloofring, wat kleiner gemaak moes word, aan hom gee; sy was ’n ooggetuie van sy stralende trots toe die juwelier hom gelukgewens het met sy verlowing.
Dan raak hy en Leana vanaand verloof, dink sy suf, en elke hartklop is soos ’n dolksteek in haar binneste, elke asemstoot ’n seer geskryn deur haar bors. Leana het haar vertel dat sy en Marius lankal ’n verhouding het, maar haar ouma het haar op ’n dwaalspoor gebring omdat sy so seker was dat Marius nie ter wille van Goedgevonden met Leana sou trou nie.
Wat haar ouma nie bygevoeg het nie, was dat Leana ’n beeldskone meisie is wat enige man se aandag sal trek, al was sy ook nie die eienares van Goedgevonden nie. Dis byna vanselfsprekend dat Marius op Leana verlief sou raak en met Goedgevonden as ’n toegif, kan hy die kans om met haar te trou, nie deur sy vingers laat glip nie.
“En nou, Elfie?” vra Marius ongeduldig langs haar. “Is jy vies omdat ek jou nie wou toelaat om saam met Paul huis toe te ry nie?”
“Nee,” antwoord sy, haar stem yl, half verlore, en hou haar blik op die pad.
“Dan is jy werklik van jou onsterflike liefde vir hom genees?” vra hy treiterend.
Hy kan spot terwyl sy moet veg om nie in trane van wanhoop uit te bars nie, dink sy en voel drif in ’n vuurwarm golf in haar binneste. Haar oë blits in syne en sy lig haar ken uitdagend.
“Ek het nog nooit ’n onsterflike liefde vir Paul gehad nie,” antwoord sy bitsig. “Ek was ’n … ’n kind toe ek op hom verlief geraak het, maar ek dink darem ek is ’n bietjie ouer en wyser. Waarom sal ek saam met Werner uitgaan as ek nog verlief is op Paul?”
“Toe maar … toe maar, jy het my klaar oortuig, my liewe Elfie. Nie dat ek jammer is dat ek jou kwaad gemaak het nie: jy lyk pragtig as jou oë blits – selfs jou hare lyk rooier.”
“My hare is nie rooi nie!” bars sy driftig uit en kyk verleë weg toe hy vonkelend vir haar glimlag.
“Mooi, die meisie begin besef sy is nie die lelike dogtertjie wat sy geglo het nie. Wanneer gaan jy saam met my uit, Elfie? Ek verdien seker een of ander vergoeding na al my moeite om jou vandag Bloemfontein toe te neem?”
Sy frons ongelowig en kyk hom ’n lang oomblik aan, maar uit sy profiel kan sy niks wys word nie, behalwe dat daar ’n skaduglimlag om sy lippe lê.
“En Leana dan? Dink jy sy sal dit goedkeur as jy met ander meisies uitgaan terwyl julle verloof is?” vra sy ergerlik.
Hy kyk vinnig na haar en dan weer na die pad, gooi sy kop agteroor en skater van die lag.
“Dan het ek jou en die juwelier op ’n dwaalspoor gebring?” vra hy oomblikke later, lag nog hoorbaar in sy stem. “Arme dom klein Elfie … Hoe kan jy my van sulke booshede verdink terwyl ek alles in my vermoë doen om jou die hof te maak? Jy weet tog: sonder jou sal ek nooit Schoonlaagte kan erf nie.”
Die sonskyn is terug in die dag, en al dreun die bakkie-enjin in haar ore, verbeel sy haar dat sy voëltjies kan hoor kwetter en tjilp. Dan gaan hy en Leana nie verloof raak nie, dink sy, hoop soos ’n teer ontkiemende plantjie in haar binneste. Of lees sy dalk te veel in sy woorde?
“Waarom het jy dan ’n verloofring vir Leana gekoop?” vra sy, haar stem opsetlik uitdrukkingloos, haar hande styf om die mandjie waarin Flentertjie lê en slaap, geklem.
“Ek het nie die ring gekoop nie, my liewe Elfie. Dis Leana se ring, maar sy het ’n bietjie gewig verloor, en sy het die ring laat kleiner maak. Haar oorlede man het die ring vir haar gekoop,” antwoord hy geduldig.
“O …” Sy probeer om nie bly of verlig te klink nie. Wat van Yolande dan? Dan het hy tog planne om aan Yolande verloof te raak?
“Toe, toe, Elfie, wat pla nou weer? Hoe lyk dit my jy glo my nie?” vra hy en kyk half verwytend na haar.
Sy aarsel en speel senuweeagtig met die rand van die hondemandjie.
“Yolande het gesê … begin sy onseker en swyg.
“O ja, ek onthou dat jy iets van ’n verloofring gesê het, maar ek dink Yolande is effens haastig. Yolande is ’n begeerlike meisie, maar ongelukkig kan sy nie Schoonlaagte saam met my erf nie. Wat op aarde sal ek met ’n arm vrou soos Yolande maak, hê, Elfie?” vra hy, lag dansend in sy oë.
En nou skeer hy al weer gek met haar, dink sy afgehaal. Is dit omdat hy tien jaar ouer as sy, ’n lektor en ’n professor is, dat hy haar altyd soos ’n klein dogtertjie behandel? Yolande is slegs twee jaar ouer as sy, maar haar donker skoonheid laat haar ouer en meer volwasse lyk. Waarom moet sy ’n kruis van rooi hare en sproete dra?
Sy gaap lank agter haar hand, onthou hoe min sy die vorige nag geslaap het toe sy op Marius se tuiskoms gewag het, leun agteroor en sluit haar oë. Sy het genoeg van Marius se geterg gehad, en as sy voorgee dat sy slaap, sal hy haar minstens in vrede laat, besluit sy en begin rustig asemhaal, die gedreun van die enjin soos ’n sussende slampamperliedjie in haar ore.
Sy skrik met ’n skok wakker, voel warm en natgesweet, maar weet dat iets verander het.
“Mooi kind,” praat Marius naby haar, te naby, en sy kyk verskrik op in sy oë en besef dat sy, met haar kop teen sy bors en sy arm om haar, in die bakkie geslaap het. “Ons is veilig terug op Schoonlaagte. Lekker geslaap?”
Sy voel haarself vuurwarm bloos, probeer uit sy arm wurm, maar hy verstewig sy houvas op haar.
“Ek … ek is jammer … Ek het nie geweet ek … Jy het seker moeilik bestuur terwyl ek …?” stamel sy en swyg intens verleë toe sy oë haar uitlag.
“Ek het nes jou pa gevoel, want dis nie elke meisie wat soveel vertroue in my het om in my arms aan die slaap te raak nie,” treiter hy haar. “En weet jy wat, Elfie? Jy snork nie,” voeg hy by, buig vinnig nader en soen haar liggies op haar lippe. “Kom, dáár wag jou ouma al op die stoep vir ons.”
Daar doen hy dit al weer: soen haar asof sy ’n klein dogtertjie is, dink Elfie wrewelrig terwyl sy Flentertjie in sy mandjie optel. Wat baat dit haar om ’n man lief te hê wat self erken dat hy soos haar pa voel? wonder sy hulpeloos en klim uit die bakkie toe hy die deur vir haar oophou, mompel ’n onverstaanbare “dankie” en loop haastig na die stoep toe.
“Dan is julle tweetjies terug?” vra tant Maria, haar glimlag tevrede, kyk na die mandjie in Elfie se arms en vra verras: “En dié spektakeltjie van ’n hond? Waar kom jy aan hom, Elfie-Maria?”
“My pa … e … ek bedoel, Marius het hom vir my gekoop,” antwoord Elfie en gluur na Marius, sien die onthutste uitdrukking op sy gelaat en glimlag tevrede. “Sy naam is Flentertjie. Is hy nie pragtig nie, Ouma?” vra sy, skielik in ’n goeie stemming.
“So, nè?” vra tant Maria en kyk beurtelings na die twee jongmense, haar uitdrukking peinsend. “En Marius maak asof hy jou pa is?” vra sy met vinnige begrip.
“Ja, Ouma, maar hy is darem nie ’n slegte pa nie: hy koop vir my presente en dra my pakkies en koop vir my ’n ete ook. Net jammer hy knor die hele tyd as ek nie vinnig genoeg eet nie,” antwoord Elfie met vrome onskuld, maar waag dit nie weer om na Marius te kyk nie.
“Dis nie al nie, tant Maria,” sê Marius gelykmatig langs haar. “Sy het boonop in my arm geslaap en ek het haar geleer hoe om ’n man behoorlik te soen, en ek moet eerlik erken sy is ’n gretige student. Sy kon nie wag vir die volgende les nie.”
“Oe, jou …!” bars Elfie kortasem van ergernis uit, haar gesig gloeiend van verontwaardiging. “Dis jy wat mý gesoen het en omdat ek die mandjie in my arms gehad het …”
“Woef.” blaf Bondel uitbundig agter haar en stamp haar, met sy groot voorpote op haar rug, in Marius se wagtende arms.
“Knap gedaan, Bondel,” prys Marius, sy arms om Elfie se skouers. “Sien tant Maria nou hoe graag gooi die meisiekind haarself in my arms? En dan verkwalik sy my as ek haar vashou en soen.”
“Los my!” krys Elfie ingehoue en soek hulp met haar oë by tant Maria.
“Ja, toe, Marius, dis nou nie nodig om stuitig te wees nie – netnou huil die kind,” raas tant Maria partydig. “Maar kyk nou so ’n brak! Marius, vat Bondel weg, anders sluk hy die ou kleintjie nog lewendig in. Kom, Elfie-Maria, Ouma sal vir jou ’n koppie koffie gee, maar eers moet jy my wys wat jy vir jou gekoop het.”
“Gee Flentertjie vir my, Elfie. Ek sal hom aan Bondel voorstel en sorg dat Bondel hom nie plattrap of insluk nie. Is daar darem ’n koppie koffie vir my ook, tant Maria?” vra hy verwytend.
“Maar wat vra jy nog, boet? O, voor ek vergeet: Leana het gebel en gesê jy moet teen sesuur daar by haar wees, want sy het glo baie moeite met die ete gedoen. Stuitige vroumens! Sy weet ek kan net sulke lekker kos kook, maar sy moet jou kort-kort uitnooi en kos gee asof jy vergaan van honger. Kom nou, Elfie-Maria, ek wil jou rok sien,” beveel tant Maria, wag totdat Marius die mandjie met Flentertjie by Elfie gevat het, en loop dan saam met haar na die slaapkamer toe.
Tant Maria druk die deur van die slaapkamer toe, bewonder Elfie se liggeel rokkie wat die koperkleur van haar hare beklemtoon, kyk na die handsak en skoene en draai met ’n ongeduldige sug na Elfie.
“Dis alles mooi en pragtig, en ek is bly ek kon iets vir jou doen, Elfie-Maria, maar nou wil ek eers weet: hoekom is jy so ongelukkig?” vra sy reguit.
“Hê, Ouma … ek bedoel, ekskuus, Ouma?” vra Elfie en staar haar ouma oorbluf aan.
“Toe, toe, kind, moenie my met sulke pieringoë aankyk en maak asof jy van geen sout of water weet nie. Ek kan dit mos met my eige oë sien: jy is lief vir die seun.”
Elfie sluk hoorbaar en pers haar lippe saam, te bang om tant Maria in die oë te kyk.
“Dis … dis nie waar nie, Ouma,” ontken sy halfhartig.
“En nou jok jy boonop vir jou eie ouma,” berispe tant Maria haar verwytend. “Nee a, kind, om lief te hê, is mos nie ’n sonde of ’n skande nie. Weet die seun dat jy hom liefhet?”
“O nee, Ouma! Hy mag nie weet nie,” sê sy verskrik.
“En hoekom nie? Ek sal vir hom sê jy is lief vir hom, en as hy ook –”
“Ouma, nee!” kreun Elfie dit magteloos uit. “As Ouma dit durf waag om so iets te doen, gaan ek weg en kom nooit weer terug nie! Marius is lief vir Yolande … en vir Leana, want ek weet hy het ’n verhouding met haar. Asseblief, Ouma, moenie my verneder nie. Marius dink ek is ’n klein, dom dogtertjie – hy dink nie aan my as ’n meisie wat hy kan liefhê nie. Moenie alles bederf nie, Ouma!” pleit sy desperaat.
Tant Maria sug oorwonne en neem op die kant van die bed plaas.
“Dan is daar tog iets tussen hom en Leana?” vra sy mymerend, maar wag nie op ’n antwoord nie. “Ek sien die ding lankal kom, want eers het Marius hier en daar en oral by die jong meisies gekuier, maar deesdae boer hy by Leana. Verlede Saterdag nog, daar op die dorp by die Handelshuis, meen ou Gertruida Wessels my te vertel dat Leana en Marius trouplanne het. Ek het my so vir die ou vrou vervies, maar as ek eerlik moet wees, pla die ding my ook al lankal. Marius is darem glad te danig met die jong weduwee, en daarby is Goedgevonden sy mense se erfplaas. Tja, ons sal maar moet sien wat ons sal sien …”
“Dalk moet ons nou maar gaan koffie drink, Ouma,” sê Elfie, haar stemtoon somber, verlange vlak in haar oë.
“Koffie sal ons drink, Elfie-Maria, maar jy moet eers jou gesig was, jou hare kam en probeer glimlag. Nee a, jy wil darem nie vir die jongetjie wys jy is been-af op hom nie. En daar is mos nog Werner … en klein Karl-Jan het ook vanoggend gebel en gesê hy kom môre hier ’n draai maak; wil jou glo saamneem Abjaterskop toe, want sy mense wil jou ook graag ontmoet. So-ja, nou blink jou oë weer. Karl-Jan is ’n knap jong boer en glad nie te versmaai nie. Ons sal maar sien wat ons sal sien, Elfie-Maria,” herhaal tant Maria strydlustig en stap die slaapkamer uit.
Karl-Jan en Werner … twee strooihalmpies op ’n onstuimige liefdesee, mymer Elfie terwyl sy haar grimering opknap en haar hare tydsaam uitborsel. Maar sy het van Karl-Jan gehou en enigiemand wat haar net tydelik van Marius en haar vergeefse liefde vir hom kan laat vergeet, is op die oomblik meer as welkom.
Elfie kyk met moeë oë hoe die dag anderkant haar vensterruite breek, draai lusteloos weg en trek haar kamerjas aan. Sy sal gaan was en aantrek, want om langer in die bed te lê, sal haar niks baat nie, dink sy lusteloos en raap haar toiletsakkie op.
Die vorige nag het sy weer wakker gelê, gewag dat Marius moes huis toe kom, maar dit was nie voor twee-uur die oggend dat sy sy motor hoor stilhou het nie. ’n Paar minute later het sy sy voetstappe in die gang gehoor, sy kamerdeur hoor toegaan en toe ingesluimer.
’n Man wat tot twee-uur in die oggend by ’n jong weduwee kuier, moet ernstige planne hê, dink sy terwyl sy na haar kamerdeur loop. Het hy gister dalk gejok oor die verloofring?
Iemand klop aan haar kamerdeur juis toe sy haar hand na die deurknop uitsteek, en sy ruk haar hand verskrik terug. Dan frons sy onthuts, oortuig daarvan dat dit haar ouma is, en maak die deur oop.
Marius staan voor haar, fris en skoon in ’n kakiebroek en -hemp, ’n glimlag op sy sterk gelaat, en ’n bos goudgeel rose in sy regterhand.
“Ek het die bos rose by Leana gebedel vir jou ouma, maar ek dink geel pas beter by jóú,” sê hy skertsend en hou die rose na haar uit. “Gaan jy baie mooi vir my dankie sê, my liewe Elfie?”
Sy staar hom oorbluf aan, te verslae om ’n woord te uiter. Watter onverstaanbare speletjie speel hy nóú weer? wonder sy verward. Hoe kan hy rose by Leana bedel om vir haar te bring, as hy Leana liefhet? Dit rym net nie!
“Is jy darem wakker, Elfie? Toe, vat die rose,” sê hy ongeduldig.
“Ek … ek wil nie Leana se rose hê nie,” sê sy vyandig.
“Vervlaks, dis nie Leana se rose nie – dis myne! Hoekom het jy nie gister geweier om Flentertjie te vat nie? Hy is mos die troeteldierwinkeleienaar s’n,” sê hy onthuts.
Sy huiwer nog en steek dan haar hand onwillig uit.
“Dankie. Hulle ruik lekker,” sê sy werktuiglik.
“En jy huigel, Elfie, want jy is nie bly oor my geskenk nie. Verkwalik jy my omdat ek gisteraand by Leana gaan kuier het?”
“Natuurlik nie!” antwoord sy te vinnig, ’n diep blos van verleentheid op haar wange. “Jy is jou eie baas en as jy en Leana, as julle …” Sy swyg, nie in staat op hardop oor ’n huwelik tussen hulle te praat nie.
“Gaan jy my glo as ek jou sê dat dit ’n sake-ete was?” vra hy, sien die ongeloof op haar gesig en draai weg. “Ek bedel nie weer rose vir jou nie,” sê hy onvergenoeg en stap met lang hale weg.
“Waf? Waf-waf?” blaf Flentertjie uit sy mandjie langs haar bed en hou haar skeefkop dop.
“Jy kan nog ’n keer vra, Flentertjie, want ek weet ook nie wat aangaan nie,” sê sy nog oorbluf. “Dink jy ’n man dra vir ’n klein dogtertjie blomme aan?”
“Waf?” blaf Flentertjie weer.
“Natuurlik weet jy nie, maar dit is ’n mooi dag, seker omdat dit met rose begin het,” sê Elfie en probeer vergeefs ’n gevoel van afwagting en opwinding in haar binneste onderdruk.
Later die oggend, terwyl Elfie die vulsel vir die melkterte op die stoof omroer terwyl tant Maria die korse in die oond bak, skril die gelui van die voordeurklokkie deur die huis.
“Tag, besoekers weet mos altyd wanneer om ontydig op te daag. Los die vulsel vir my, Elfie-Maria, en dan gaan kyk jy wie dit is. En as dit weer Werner is, sê vir hom hy ontstel my omdat hy so gereeld op Schoonlaagte boer, want ek is g’n van plan om nou al hierdie ou wêreld te verlaat nie … nie voordat ek my enigste kleinkind gelukkig getroud gesien en ’n paar van my agterkleinkinders in my arms gehou het nie. Ja, toe, kind, maak jou mond toe en gaan kyk wie lê so op die voordeurklokkie. Daar lui die ding al weer!” raas tant Maria ongeduldig en stoot Elfie liggies in die rigting van die deur.
“Ja, Ouma. Goed, Ouma,” antwoord Elfie en draf in die gang af na die oopstaande voordeur. Sy loop stadiger toe sy ’n man in die deur sien staan, sy gesig donker met die lig agter hom, en glimlag verras toe sy Karl-Jan se stem hoor.
“Goeiemôre, Elfie. Is julle mense baie besig?” vra hy verskonend. “Karl-Jan!” Sy glimlag op in sy gelaat. “Ek het skoon vergeet dat jy vandag sou kom kuier het. Dis goed om jou weer te sien.”
“Ek wou al eerder gekom het, maar toe hoor ons van jou ouma se siekte. Gelukkig het my ma gister op die dorp met dokter Strassheim gesels, en hy het haar verseker jou ouma is baie beter. Jy … e … jy sal mos ’n rukkie daar by ons op Abjaterskop kan kom kuier, Elfie?” vra hy hoopvol.
“Ons kan my ouma vra,” antwoord Elfie. “Kom ons stap sommer deur kombuis toe.”
Sy draai om, intens bewus van die bewondering in sy blik wanneer hy na haar kyk. Karl-Jan hou baie van haar en dit laat haar selfversekerd en tevrede met haarself voel. Dink hy nog sy is die mooiste meisie wat hy ooit gesien het? wonder sy en kyk met ’n skaam glimlaggie op na hom.
“Is Marius nie hier nie?” verneem hy, iets waaksaam in sy oë. “Nee, hy is seker Lekkerwater toe … of êrens op die plaas rond. Wou jy met hom gesels het?”
“Nie juis nie, maar toe ek hom gisteraand daar by Leana op Goedgevonden raak geloop het, het hy nie vriendelik gelyk omdat ek vandag by jou kom kuier nie. Hoekom het jy nie na die vleisbraai toe gekom nie? Leana het seker ’n twintigtal jongmense uitgenooi.”
“Jy bedoel dit was ’n vleisbraai?” vra Elfie verras, bewus van ’n gevoel van verligting wat deur haar gemoed spoel.
“Ja, dit was Leana se verjaarsdagpartytjie … sy is nou ses-en-twintig, as ek reg gehoor het. Dit was baie gesellig, want ons het gedans en gesels tot byna twee-uur die oggend. Jy sou dit ook geniet het,” antwoord hy en swyg toe hulle die kombuis binnegaan.
“Dis Karl-Jan, Ouma, en hy vra of ek saam met hom na hulle plaas toe kan gaan,” sê Elfie, stralend bly oor Karl-Jan se inligting. Snaaks dat Marius gesê het dit was ’n sake-ete … wat het hy daarmee bedoel? wonder sy.
“Ja, toe, Elfie-Maria, ek kan met my eige oë sien dis Karl-Jan, en as die mannetjie iets wil vra, kan hy dit self doen. Môre, Karl-Jan. Hoe gaan dit met jou ma se gal?” vra tant Maria, haar blik skerp, byna agterdogtig op die ongemaklike Karl-Jan.
“Sy was gister weer by dokter Strassheim, tante. Môre, tant Maria. Dit gaan beter met my ma, dankie, tante,” antwoord hy en sluk hoorbaar.
“Sê jy maar vir jou ma ek weet wat haar probleem is, want ek ken haar langer as wat jong dokter Strassheim haar ken: sy eet te veel vetterige kos, en dis waarom haar gal haar so pla. En daarby is sy te vet ook, veels te vet vir ’n jong vrou in haar veertigerjare. Ek is ook lief vir my kos, en my soet tand gee my las, maar ek kyk na my gewig. En jy wil my kleindogter saam met jou vat?”
“Ja, tant Maria. Asseblief, tante,” antwoord hy en sluk weer. “My pa-hulle wil Elfie ook graag ontmoet, want my pa en haar pa … e … oom Gerhard, tante se seun, en my pa en … en …”
“Ja, toe, toe, Karl-Jan, wat stotter jy soos ’n kind wat kwaad gedoen het? Ek weet Gerhard en jou pa is jare lank al goeie vriende, en dis g’n rede om die kluts kwyt te raak nie. Elfie-Maria, gaan was jou gesig en jou hande, en vat ’n sakdoek saam. Karl-Jan, jy sorg dat jy my kleindogter mooi oppas en moenie haar te laat terugbring huis toe nie. Toe, gaan wag jy maar in die sitkamer, want ek het g’n tyd om vir jou koffie in te gooi nie: die melktertvulsel brand klaar al. Sê groetnis by die huis en sê vir jou ma van die vetterige kos. Tot siens, Karl-Jan,” praat tant Maria onafgebroke, keer haar rug op hom en begin die vulsel om te roer.
“Sjoe!” kreun hy gedemp toe hy en Elfie die gang bereik en glimlag verleë toe sy ondeund langs hom giggel. “Jou ouma ken die kuns om ’n man soos ’n snuiter van ses te laat voel.”
“Ek weet, maar dit pla my nie meer nie,” antwoord sy glimlaggend. “Gaan wag jy maar op die stoep, dan gaps ek vir ons twee koeldranke wanneer ek Ouma gaan groet. Ek is nou by jou,” beloof sy en stap haar slaapkamer binne.
Laatmiddag kyk Elfie na die bedrywigheid in die koeistalle op Abjaterskop waar die melkery onder Karl-Jan se toesig plaasvind, en draai vraend na Alida, sy negentienjarige suster, toe sy haar aan die arm pluk.
“Kom ons gaan soek ’n paar ryp perskes in die boord. Dis tog nie interessant om te sien hoe ’n spul masjiene die koeie melk nie en Karl-Jan kan seker ’n rukkie sonder jou klaarkom sonder om van verlange te sterf,” terg Alida, haak by Elfie in en loop saam met haar uit die koeistalle.
“’n Perske sal lekker smaak,” sê Elfie gelykmatig.
“Wil jy nie oor Karl-Jan praat nie? Ek en my ma kan sien hy is smoorverlief op jou,” sê Alida, haar blik nuuskierig op Elfie wat haar gelaat opsetlik uitdrukkingloos hou. “Of hou jy meer van Marius?”
“Ek het nie trouplanne nie,” antwoord Elfie ligweg. “Ek gaan môre saam met Werner Strassheim op Bloemfontein kuier, en ek het Karl-Jan klaar beloof om volgende week saam met hom te gaan fliek. Marius kuier mos gereeld by Leana.”
“Dan weet jy dat daar ’n verhouding tussen hulle is?” vra Alida vinnig, haar uitdrukking merkbaar verlig. “Ek was self dolverlief op Marius, maar na twee jaar op universiteit het ek my gevoel vir hom ontgroei. Hy is darem ’n pragtige mansmens, is hy nie?”
“Hy kan gaaf wees,” antwoord Elfie versigtig, haar blik opsommend op Alida. Net soos Karl-Jan, het Alida ligbruin hare en donker oë, met ’n effens wipneusie en ’n groot, vriendelike mond. Alida kan nooit soos Yolande lyk nie, maar sy is nogtans ’n aantreklike meisie, mymer sy.
“My pa-hulle was ’n bietjie bekommerd toe hulle hoor jy woon by jou ouma, veral omdat Marius ook nou daar inwoon. Sien, ons weet van die stories wat oral rondlê: dat Marius dalk Schoonlaagte gaan erf. Ek kuier dikwels by Leana op haar plaas, en sy het my vertel dat Marius gesê het Schoonlaagte is syne – maar dit was voordat jy gekom het.”
Elfie frons en kyk berekenend na Alida.
“Dink jy nie Leana het daardie storie uit haar duim gesuig nie? Per slot van sake is my pa die erfgenaam van Schoonlaagte,” antwoord sy kriewelrig.
“Ons weet dit, maar Leana glo dat Marius een of ander houvas op jou ouma het – maar wat dit is, wil sy nie sê nie.” Alida bly langs ’n perskeboom staan. “Hierdie boom se perskes is die lekkerste. Pluk vir jou,” bied sy aan.
Elfie steek haar hand na die eerste, die beste perske uit en pluk dit af, byt outomaties daaraan, maar proe nie wat sy eet nie. Steek daar dalk waarheid in Leana se bewering dat Marius ’n houvas op haar ouma het? dink sy. Marius het haar wel van sy oupa en sy pa vertel, maar was dit die volle waarheid? Watter houvas kan hy op haar ouma hê?
“Jy moes gisteraand vir Leana en Marius gesien het: hulle het kort-kort verdwyn en privaat in die studeerkamer gaan sit en gesels. Ek wonder wat so belangrik is dat hulle dit nie voor ons ander kon bespreek het nie?” dring Alida se stem tot haar deur.
Elfie skiet die perske weg en draai om.
“Kom ons gaan kyk na jou ma se blomtuin,” nooi sy, gretig om weg te kom van Alida se onafgebroke gebabbel, maar veral van die wete dat daar ongetwyfeld ’n verhouding tussen Marius en Leana bestaan.
Karl-Jan talm onseker op die voorstoep van die opstal op Schoonlaagte, vat-vat aan sy nek en glimlag skamerig in Elfie se oë.
“Ek wens jy kon tot na aandete by ons gekuier het, Elfie, maar ek besef jou ouma is nie gesond nie. Dan … e … sal jy my laat weet wanneer ek jou kan uitneem vir fliek?” vra hy gretig.
“Ek het mos beloof, Karl-Jan. Baie dankie vir die aangename dag – ek sal graag weer kom kuier,” antwoord sy.
“Sal jy? Dan kom haal ek jou gou weer. Tot siens, Elfie,” groet hy, draai om en stap fluit-fluit na sy bakkie.
Elfie kyk hom agterna toe hy in die eerste skemering wegry, sien Bondel om die hoek van die huis gedraf kom, en klim die stoeptrap af na hom toe.
“Af, Bondel!” roep sy waarskuwend en hy kom skeef-skeef en met ’n skuldige stertswaai nader gestap. Sy glimlag en krap sy regteroor. “Toe nou maar, my ou honne, ek is nie kwaad vir jou nie. Ek wens net jy wil leer om my nie altyd onderstebo te spring nie. Kom ons loop om die huis kombuis toe – jy weet Ouma hou nie van groot honde wat haar matte en vloere vol modderspore trap nie,” gesels sy paaiend met hom en begin aanstap na die hoek van die huis.
Die elektriese lig brand reeds in die kombuis en gooi geel gerwe lig deur die venster en oopstaande bodeur toe Elfie die agterdeur bereik.
“Nee, Marius, ek kan nie Schoonlaagte wegmaak nie. Jy weet watter houvas …” hoor sy tant Maria sê, maar dan val die lig deur die bodeur op haar en tant Maria sien haar voor die agterdeur staan. “Elfie-Maria! Nou toe nou, die kind is al hier en ons het nog nie eens tafel gedek nie. Naand, hartjie. Is Karl-Jan dan nie saam met jou nie?” vra sy, kom orent en loop Elfie tegemoet.
“Hallo, Ouma,” groet Elfie bedees en wag geduldig dat haar ouma haar op elke wang soen. “Dan het Ouma-hulle nog nie geëet nie?” vra sy, maar haar blik rus koud, vyandig op Marius se glimlaggende gelaat.
“Nee, my kind, ons het maar vir jou gewag. Toe, toe, gaan was jou hande en gesig, dan dek ek solank vir ons tafel. Die kos is klaar gaar,” por tant Maria.
Sy sal haar gesig nog stukkend was, dink Elfie, maar kan nie glimlag nie. Van watter houvas het haar ouma gepraat? Dan is Leana se storie tog waar, dink sy met ’n gevoel van intense teleurstelling wat soos ’n swaar, donker las op haar neerdruk. Kan Marius hom daaraan skuldig maak om haar liewe, goedhartige ouma af te pers? wonder sy suf.
“Elfie?” Hy is agter haar in die gang en sy regterhand sluit om haar pols en hou haar terug. “Wat is dit met jou? Is jy dan kwaad vir my?”
Sy swaai om en haar oë skiet dolke van haat, gebore uit hartseer, na hom uit.
“Afperser!” sis sy ingehoue. “Waarom trap jy nie van my ouma se plaas af nie? Ek weet nou wie en wat jy is en … en ek dink jy is laakbaar!” bars sy uit, ruk haar arm uit sy greep en storm in die gang af na haar kamer.