Elfie klap haar kamerdeur agter haar toe en bly in die middel van die vertrek staan, bewus van ’n bewerigheid wat deur haar hele liggaam tril en haar bene onder haar laat swik.
“Waf-waf?” kom dit verwelkomend van Flentertjie uit sy mandjie.
Elfie skakel haar bedlampie aan en kniel in die sagte gloed van die lig langs die hondjie, haar oë dof van ingehoue trane.
“Flentertjie?” praat sy aarselend, haar stem effens hees, en streel liggies oor die hondjie se ruggie. “Dis hoe ek op hierdie oomblik voel: flenters … stukkend. Ek is so … so bitter lief vir hom, maar hy is … is … Hoe kan ’n man soos hy so gemeen teenoor my arme ouma wees? O, Flentertjie, ek wens ek het hom nooit geken nie, want dit maak so bitter seer!”
Sy snik sag, ingehoue, en vee driftig met haar handrug oor haar oë, skaam oor haar trane.
Waarom huil sy? Marius is nie ’n enkele traan van haar waardig nie, want hy het in elk geval iemand anders lief. Waarom het sy ooit besluit om na Lekkerwater te kom? As sy hom nooit ontmoet het nie, sou sy nie nou met hierdie ondraaglike gevoel van verlies in haar binneste gesit het nie.
“Ons sal weggaan, Flentertjie – ek en jy en Bondel. Ons sal teruggaan huis toe, daar in Johannesburg, en vergeet dat daar ’n man soos Marius Combrinck of ’n ouma …” Trane trek haar keel toe en sy swyg magteloos.
Hoe kan sy nou, sonder enige verduideliking, haar ouma in die steek laat? wonder sy wanhopig. Haar ouma het haar nodig en besluit sy om weg te gaan, kan die ontsteltenis dalk te veel vir haar ouma se swak hart wees. Nee, hoe seer dit ook al maak, sy durf nie ouma Maria nou in die steek laat nie.
“Ons sal moet bly, Flentertjie, al wil ons nie. Ek is niks anders as ’n gevangene nie … ’n gevangene van gister, want as dit nie vir al die dinge was wat so lank gelede gebeur het nie, sou ek my nie nou in so ’n vreemde situasie bevind het nie. Ouma het Pappa verdryf, maar noudat sy my gekry het, wil sy my nie weer laat gaan nie. Wat moet ek doen, Flentertjie?” vra sy met verslae onmag in haar stem.
“Waf-waf!” blaf die hondjie onbekommerd, hap-hap na Elfie se hand en probeer om met haar te speel.
Sy tel die diertjie op haar skoot, kyk na die wakker, bruin ogies wat haar met skerp intelligensie aanstaar en soen hom impulsief op sy wollerige koppie. Marius het Flentertjie vir haar gekoop, en al haat sy hom ook, maak dit haar net liewer vir die klein hondjie, dink sy verwese.
Maak liefde ’n mens dan vals? Sy weet sy moet Marius verafsku, nogtans kan sy sy geskenk nie verwerp nie; klou sy daaraan asof dit ’n kosbare kleinood is. Liefde is nie logies nie – dit het haar pa op meer as een geleentheid gesê, maar sy besef nou eers hoeveel waarheid in sy woorde steek.
Agter haar word daar aan haar kamerdeur geklop.
“Elfie? Jou ouma sê jy moet kom eet,” roep Marius gedemp anderkant die toe deur.
Sy wil hom met woorde verdryf, selfs die deur oopruk en hom in sy gesig beledig, maar ’n hartseer soos sy nog nooit geken het nie, oorweldig haar en sy huil sag, snikkend, soos ’n verlore kind.
Sy hoor sy voetstappe in die gang verdof, kom vinnig orent en trek haar nagklere aan. Liewer in die bed klim en voorgee dat sy siek is, as om ’n aandete saam met hom te nuttig, dink sy, bondel haar dagklere saam onder in haar hangkas en klim onder die koel, wit lakens in toe sy tant Maria se kort, haastige voetstappe in die gang hoor.
“Elfie-Maria?” roep tant Maria voor haar kamerdeur, klop aan en draai die deur oop. Haar oë soek deur die kamer en sy frons besorg wanneer sy Elfie in haar bed sien lê. “En nou, kind? Voel jy dan nie lekker nie?” vra sy bekommerd en kom vinnig nader.
Dankbaar dat die dowwe lig van die bedlampie die traanspore op haar wange vir tant Maria verberg, kyk Elfie op na haar en knik haar kop.
“Ek … ek het hoofpyn, Ouma. As Ouma nie omgee nie, sal ek liewer nie vanaand eet nie. Ek wil liewer slaap, Ouma,” antwoord sy gedemp en speel senuweeagtig met die ligblou strikkie van haar nagklere voor haar bors.
“So, nè?” vra tant Maria, haar blik deurdringend op Elfie se gesig, en Elfie weet dat haar ouma se skerp oë weinig mis. “Dan het jy en Karl-Jan rusie gehad? Toe, toe, kind, moenie vir my jok nie: ek kan mos met my eige oë sien dis hartseer, nie hoofpyn wat jou pla nie. Is dit Karl-Jan?”
“Nee, Ouma, ek het die dag saam met Karl-Jan baie geniet. Ek hou van sy ouers en sy suster. Rêrig, Ouma, ek het net ’n bietjie hoofpyn.”
“Toe nou maar, Elfie-Maria, moenie dink jou ouma is kinds net omdat sy oud is nie: ek het mos ook oë in my kop. Dis Marius, nè? Jy het die seun lief, maar hy boer op Lekkerwater by jou stiefsuster, of kuier tot vroegoggend op Goedgevonden by die jong weduvroutjie. Nou kyk, om lief te hê, is nie maklik nie, maar jy maak dit vir jouself baie moeiliker as jy skoolsiek speel en in jou bed bly lê. Nee a, Elfie-Maria, ek het jou mos gesê: ’n meisie wat slim is, bekruip ’n man onverhoeds van agter af, en voor hy sy oë mooi kan uitvee, het jy hom! Moet ek jou help om Marius te vang?”
“Ouma!” Elfie skiet orent in haar bed en gluur tant Maria met gekrenkte verontwaardiging aan. “Ek is nie van plan om enige man te vang nie, en al was Marius die laaste man op aarde, sou ek hom nie van voor of van agter bekruip het nie. Ek … ek wens ek het hom nooit geken nie!”
“Reken, nè? Nou ja, dis ook weer ’n ander manier: as jy bang is jy kan die man nie kry nie, dan haat jy hom maar; en sê jy vir jouself lank genoeg jy haat hom, glo jy jouself dalk later. Goed, Elfie-Maria, dan doen jy so. Ek gaan nou jou aandete haal en dan eet jy jou kos, want siek mense moet eet as hulle gesond wil word. En as jy die dag moeg word om Marius te haat, dan kom sê jy eerlik vir my wat jou kwel. Wie weet, dalk help ek jou tog nog om vir jou die regte man te vang,” sê tant Maria doodluiters, draai om en stap die kamer uit.
En nou dink haar ouma sy is simpel en ly boonop aan skoolsiekte, dink Elfie gegrief. Nie dat sy haar ouma verkwalik nie: as ’n mens die dag een-en-tagtig is, is niks seker meer ’n probleem nie. As haar ouma maar net weet: op twintig is dit die einde van die wêreld as jy die verkeerde man lief gekry het.
Elfie hoor die ou staanhorlosie in die voorportaal elfuur slaan, gooi haar laken en enkele kombers van haar af en skakel haar bedlampie aan.
Môremiddag gaan sy saam met Werner Bloemfontein toe en as sy nie vinnig iets doen om aan die slaap te raak nie, sal sy môreaand nie haar oë kan oophou om die fliek te geniet nie, dink sy ergerlik, loop na haar hangkas en pluk ’n slenterbroek en ’n bloesie van ’n hanger af.
Sy verklee vinnig, trek haar vingers deur haar hare, en sluip met haar sandale in haar hand, by haar kamer uit en in die gang af na die kombuis. Die gangdeur na die kombuis is toe, en sy blik versigtig oor haar skouer en stoot die deur stadig oop.
Hoekom brand die kombuislig nog? wonder sy, maak die deur agter haar toe en sien dan eers Marius voor die oop agterdeur staan. Hy draai om toe sy die kombuis binnegaan, glimlag geamuseerd, maar lyk nie verbaas om haar te sien nie.
“Pla jou gewete jou ook?” terg hy.
Sy teenwoordigheid laat haar hart pynlik in haar bors ruk, en sy streel met haar oë oor die sterk lyne van sy mond en ken en wens dat sy hom werklik kon haat.
“My gewete is skoon, maar joune …” begin sy ysig en byt hard op haar onderlip terwyl sy na die agterdeur toe stap. “Verskoon my, ek wil buitentoe gaan.”
Hy kyk haar deurdringend aan, neem haar liggies aan haar skouers en kyk pleitend af in haar gesiggie.
“Wat skort, Elfie? Sê my – ek moet weet,” versoek hy gedemp.
Sy aanraking brand op haar arms en laat haar hart wild bons in haar ore, maar sy tree vinnig agteruit en dwing haarself om te onthou dat hy haar ouma afpers.
“Goed, Marius, as jy moet weet, sal ek dit sê: as jy nie weggaan nie, gaan ék weg, want ek weier om saam met ’n afperser onder dieselfde dak te bly. Laat my nou asseblief verbykom,” antwoord sy met kille veragting in haar stem en oë.
“Noem jy my ’n afperser?” vra hy onbegrypend.
Sy antwoord nie, maar haar oë verdoem hom.
“Het jy jou ore aan skinderstories uitgeleen?” vra hy, ’n dreigende ondertoon in sy stem.
Sy lig haar ken onbewustelik en kyk by hom verby na die nag anderkant die deur.
“Dan het jy een mens se getuienis gehoor, my veroordeel en verdoem sonder om my ’n kans te gee om myself te verdedig?” Hy glimlag sinies en tree weg van die deur. “Ek het my seker misgis: jy is net ’n klein, dom dogtertjie,” voeg hy spottend by en stap by die kombuis uit na die gang.
Elfie bly met haar hand op die onderdeur staan, haar hele liggaam bewend van ontsteltenis. Het sy reg opgetree? wonder sy skuldig. Maar sy het tog met haar eie ore gehoor dat haar ouma van ’n houvas praat … wie anders as Marius kan ’n houvas op haar hê? Nee, sy mag nie toelaat dat haar hart haar nugtere denke oorheers nie: Marius is ’n afperser en ’n bedreiging vir haar ouma se geluk; daarom moet sy haar liefde vir hom uit haar hart en lewe weer.
“Bondel!” roep sy sag en stap by die kombuis uit oor die donker agterplaas, en selfs Bondel se uitbundige gegroet kan haar nie terugroep uit die doolhoof van haar gedagtes nie.
Elfie skrik wakker, sien die sonlig helder deur haar toegetrekte gordyne val en blik skuldig op haar horlosie: tien oor tien. Hoe kon sy so verslaap het? Haar arme ouma het seker al die hele huis aan die kant, en sy wat niks makeer nie, lê soos ’n luiaard die dag en omslaap, verwyt sy haarself, trek haar kamerjas aan en draf badkamer toe.
’n Kwartier later storm sy die kombuis binne en sien tant Maria by die groot kombuistafel sit, ’n koppie tee en ’n bordjie vars gebakte botterbroodjies voor haar.
“Môre, Elfie-Maria. Ek het gehoor jy is wakker, en toe maak ek maar vir ons ’n koppie tee. Of is jy lus vir ’n stukkie wors en eiers?” vra tant Maria goedig, maar die sprankel in haar donker oë ontbreek.
“Tee sal baie lekker smaak, Ouma,” sê Elfie skuldig en neem by die tafel plaas. “Ek is jammer ek het my verslaap, Ouma, maar gisternag het ek gesukkel om aan die slaap te raak.” Sy voeg melk by haar tee en blik bekommerd na tant Maria. “Voel Ouma nie gesond nie?” vra sy besorg.
“En hoekom sal ek siek wees, kind? Nee, ek makeer niks nie, en Drienie het my al vroegdag met die huiswerkies kom help – ons het sommer saam ’n paar botterbroodjies gebak. Jy sal van die appelliefiekonfyt hou, kind.”
“Dit smaak lekker, dankie, Ouma,” sê Elfie gelykmatig, haar blik agterdogtig op haar ouma. Wat steek haar ouma vir haar weg? Iets skort, al wil haar ouma dit nie erken nie.
“Marius is weg,” sê tant Maria uit die bloute en kyk Elfie deurdringend aan.
Die koppie ruk in Elfie se hand en sy sit dit stadig op die piering neer en kyk vraend op.
“Sommer net weg, Ouma?” vra sy onbegrypend.
“Dis wat ek gesê het, Elfie-Maria. Hy het vroegdag sy tasse in sy motor gelaai en my gegroet. Ek het uitgevra en selfs geraas, maar die seun wou niks sê nie. Nee, sê hy toe, hy ry maar, maar hy weet self nog nie waarheen nie. Hy het darem beloof om te laat weet hoe dit gaan sodra hy weer ’n blyplekkie het.”
Elfie trek haar asem stadig in, te skaam om tant Maria in die oë te kyk.
“Dis … dis my skuld, Ouma. Ek … ons het rusie gehad, en ek het vir hom gesê ek weier om saam met hom onder een dak te bly.” Haar oë soek hulpeloos na dié van tant Maria. “Ek is jammer ek het ooit hierheen gekom, Ouma, want ek het Marius verdryf. Ek sal weggaan, Ouma, en dan sal hy terugkom huis toe.”
“O, jy sal, nè? En waarheen sal jy gaan? Lekkerwater toe waar daardie Paul-mannetjie en die Jollie-meisiekind bly? Of terug na Johannesburg toe, na ’n leë huis waar geen ordentlike meisie veilig kan wees nie? Nee, Elfie-Maria, jou pa het jou in my sorg toevertrou, en dis hier, op Schoonlaagte, waar jy gaan bly totdat hy en sy nuwe vrou veilig terug is. Marius is ’n groot man en hy sal wel vir hom ’n plekkie kry, maak nie saak waar nie. Hou nou maar op om soos ’n hoenderdief te lyk, en eet nog ’n botterbroodjie. Jy sal nog maak dat ek vir jou kasterolie gee as jy nie beter eet nie,” raas tant Maria en stoot die bordjie botterbroodjies nader aan Elfie.
“Maar is Ouma nie kwaad omdat ek Marius as ’t ware weggejaag het nie?” vra Elfie skuldig en eet halfhartig aan ’n botterbroodjie.
“En wat sal kwaad help? Elfie-Maria, ek het baie somers sien kom en gaan, baie mense sien grootword en trou, maar van ’n reguit liefdespad het ek nog nooit gehoor nie. Kronkelpaadjies – een en almal van hulle. Jy loop nóú jou kronkelpad, maar êrens om ’n draai sal die regte man wag. Moet maar net nie haastig wees nie.”
Elfie sluk droog en voel trane warm agter haar ooglede brand. Liewe ouma Maria, dink sy dankbaar. Haar ouma het die volste reg om haar te verwyt, maar sy verstaan.
“Toe, toe, kind, moenie met sulke lang tande kou nie. Ek wil hê jy moet my vanoggend help om …” Tant Maria swyg fronsend toe die voordeurklokkie lui en kom ongeduldig orent. “Nou, wie kom kuier nou weer so ongevraag? Ja, toe, kom binne! Ons is hier in die kombuis!”
Elfie bly by die tafel sit terwyl tant Maria in die gang uitstap en hoor haar sê: “O, so, dan het jy kom kuier, nè? Toe, kom, Elfie-Maria sit in die kombuis en tee drink – dalk is daar nog ’n koppie vir jou. Elfie-Maria, jou Jollie-stiefsuster is hier!” roep sy en kom die kombuis binne, ’n fronsende Yolande op haar hakke.
“My naam is Yolande, tannie … e … mevrou Barnard. Hallo, Elfie,” groet Yolande ongewoon bedees, haar oë skrikkerig op tant Maria wat ’n koppie en piering uit die kombuiskas uithaal en ’n vars koppie tee inskink.
“Ja, toe, ek weet dis jou naam, maar as jy dink ek gaan sulke uitlandse name op mý dag en jare aanleer, moet jy nog ’n maal dink. Hier, kry vir jou tee. En sit, kind, want jy lyk net meer uit jou plek as jy so rondstaan. Wat kom soek jy hier? My kleindogter is nou by my, en sy gaan g’n vir jou en daardie Paul-mannetjie huishou nie,” waarsku tant Maria dreigend.
“Dankie vir die tee, mevrou … Ek … e … ek het eintlik net ’n rukkie by Elfie kom kuier, want ek raak verveeld daar op die plaas. Paul sit weer die hele dag en skilder en praat ek met hom, hoor hy my nouliks,” sê Yolande verontskuldigend.
“As dit net ’n kuiertjie is, is jy welkom,” sê tant Maria en draai weg na die gangdeur. “Ek het ’n bietjie naaldwerkies om te doen, Elfie-Maria, maar as jy my soek, sal ek in die stoepkamer wees,” voeg sy by, kyk waarskuwend na Yolande en stap die kombuis uit.
Yolande slaak ’n hoorbare sug van verligting.
“Wat ’n ou draak van ’n mens! Ek weet nie hoe jy hier by haar kan bly nie, Elfie,” sê sy ongelowig en blik simpatiek na Elfie.
Elfie glimlag onbesorg.
“Haar blaf is baie erger as haar byt, want eintlik is sy ’n dierbare ouma,” antwoord sy en vra aarselend: “Wat skort, Yolande? Het jy en Paul rusie gehad?”
“Nee, maar … waar is Marius? Ons het Woensdagaand afgespreek dat ek en hy gisteraand sou gaan fliek het, maar hy het nooit op Lekkerwater opgedaag nie. Ek wou gisteraand kom uitvind wat aangaan, maar met jou ouma hier … Is hy nie hier nie?”
“Nee,” antwoord Elfie kortaf, sien die kwelfrons tussen Yolande se wenkbroue en vervolg teësinnig: “Hy is vroeg vanoggend sak en pak hier weg. Selfs my ouma weet nie waarheen hy is nie.”
“Jy bedoel hy is sommer net weg?” vra Yolande verbysterd. “Dis wat ek gesê het. Ek … ek het half gewonder of hy nie Lekkerwater toe is nie, maar as hy nie by julle kuier nie, is hy dalk by Leana van Jaarsveld.”
“O, dáárdie vroumens,” kom dit met hoorbare misnoeë van Yolande. “Sy was ook al daar op Lekkerwater, en behalwe dat sy met Paul geflankeer het, het sy my baie duidelik laat verstaan dat sy en Marius binnekort gaan trou. Asof ek dit sal glo!”
“Ek kan dit maklik glo, want Leana besit Goedgevonden, die Combrincks se erfplaas. Wil jy nie ’n botterbroodjie eet nie?”
“Nee dankie.” Yolande proe aan haar tee en kyk onvergenoeg na Elfie. “Jy het omtrent my hele vakansie bederf, Elfie. Daar in Johannesburg het ons afgespreek om hope pret op jou plaas te hê, maar nou lê jy die hele tyd hier by jou ouma rond, terwyl ek en Paul moet bak en brou. Kom ons ry vandag Bloemfontein toe. Dis in elk geval interessanter as om op ’n dooierige plaas te sit.”
“E … ek is jammer, maar ek het klaar ’n afspraak vir vandag, Yolande. Dalk kan ons –”
“Met wie?” val Yolande haar skerp in die rede.
“My ouma se dokter, Werner Strassheim. Hy kom my vanmiddag om twee-uur haal.”
“Hoe lyk hy? Hoekom het jy my nog nie aan hom voorgestel nie? Is hy darem nog redelik jonk?” vra Yolande nuuskierig, ’n nydige uitdrukking in haar oë.
Elfie glimlag innerlik: ’n paar maande gelede sou sy, sonder om te dink, Werner aan Yolande voorgestel en daarna tuis gesit het terwyl Yolande saam met hom uitgegaan het. Maar nie meer nie, dink sy en kyk Yolande reguit aan.
“Dis seker nie nodig dat ek vir jou kêrels soek nie, Yolande. Jy het my tog al dikwels vertel dat, as ’n meisie soos jy lyk, die mans oor hulle voete val om jou uit te neem,” antwoord sy bedees.
Yolande se oë vernou tot skrefies, haar blik agterdogtig op Elfie se uitdrukkinglose gelaat.
“Jy het verander, Elfie. In Johannesburg het ek geweet jy is my beste vriendin, maar vandat jy by jou ouma bly, is jy nie meer dieselfde nie. Hoe dink jy moet Paul voel? Hy het jou opreg lief, maar jy behandel hom asof hy ’n ou oom is. Ek kan nie glo dat jy werklik geen gevoel vir hom het nie – of hoop jy om Marius vir jouself in te palm?” vra sy vyandig.
“Met Leana as my kompetisie?” vra Elfie spottend en staan op. “Kom jy saam? Ek wil solank my bed gaan opmaak, want ek het netnou eers opgestaan.”
“Dankie, ek het interessanter dinge om te doen. Sien jou,” groet Yolande, wag nie op Elfie nie, maar stap vinnig in die gang weg na die voordeur.
In die kombuis talm Elfie nog ’n paar oomblikke langs die tafel, ’n halfhartige glimlaggie om haar lippe. Snaaks, dit ontstel haar nie meer dat Yolande ’n beeldskone meisie is nie, want sy weet nou dat ook sy aantreklik kan wees vir mans. Dit behoort haar ’n gevoel van triomf te gee, maar dis ’n leë oorwinning, want Marius het weggegaan.
Kort na die afloop van die vroeë rolprentvertoning loop Elfie saam met Werner die luukserestaurant binne en kyk met ’n gevoel van trots op na haar aantreklike metgesel.
Die besoek aan sy ouerhuis was besonder geslaag, mymer sy, want sy ouers, oom Gustave en tant Estelle, het haar dadelik op haar gemak laat voel. Tant Estelle het haar met trots haar blomtuin gewys en later selfs albums uitgehaal om met die foto’s van haar kleinkinders – die kinders van Werner se ouer broer en suster – te spog, terwyl oom Gustave met ’n ondeunde knipoog Werner verseker dat hy vir die eerste maal goeie smaak in sy keuse van ’n meisie geopenbaar het.
Die vrolike musiekblyspel wat hulle daarna gesien het – en veral Werner se bedagsame optrede en openlike bewondering toe sy haar nuwe aandrokkie aangetrek het – het haar vir die eerste keer laat vergeet dat sy diep in haar ’n vergeefse liefde vir iemand anders omdra.
“Kyk net hoe loer die manne na my meisie – dis waar wat my pa gesê het: ek het dié keer reg gekies,” sê Werner gedemp toe hy haar help om by hulle tafeltjie plaas te neem.
Sy bloos gevlei en lag op in sy oë. Sy hou baie van Karl-Jan, maar dis ’n man soos Werner wat sy sal kan leer om lief te kry, wat haar sal kan help om Marius te vergeet, dink sy, en neem nie haar hand weg toe hy sy hand op hare sit nie.
“As ek aan die meisies se kyke moet oordeel, het ek net sulke goeie smaak,” skerts sy.
“Dankie … solank jy dit eendag glo,” antwoord hy, ’n ernstige ondertoon in sy stem. “Jy is nie haastig terug Johannesburg toe nie, Elfie?”
“Nee, want al sou my pa terugkom van oorsee, sal ek verkies om by my ouma of op Lekkerwater te woon. Ek het die afgelope week net vakansie gehou, maar ek hoop om Maandag weer te begin skilder.”
“Verkoop jy jou skilderye?”
Sy lag verleë.
“Tot dusver was ek maar te bly as iemand dit present wou hê, maar wie weet, dalk is my werk eendag goed genoeg om verkoop te word. Ons het seker maar almal ’n droom.”
“Ek het ’n droom, maar dalk is dit nog te gou om te praat,” sê hy en draai na die wynkelner om hulle bestelling te plaas.
Elfie voel opwinding deur haar binneste golf terwyl sy hom dophou. Sy hou van sy profiel, van die diep warmte in sy stem. Is sy dalk net ’n klein bietjie verlief op hom? O, sy móét verlief raak op hom, want dis die enigste wyse waarop sy Marius sal vergeet. Nee, sy moenie eens aan Marius dink nie; moet sy naam uit haar woordeskat weer, want solank sy beeld in haar gedagtes is, sal ’n ander man nooit werklik vir haar saak maak nie.
“Sal ons eers vir ons drankie wag, of sal ons dans?” vra Werner en blik oor haar skouer na die dansvloer skuins agter haar waar enkele paartjies op die maat van romantiese musiek in mekaar se arms rondsweef.
“As jy van dans hou …” gee sy toe.
“Met jou in my arms, sal ek enigiets geniet,” skerts hy en hou sy hand na haar uit.
Sy kom orent, haar hand in syne, en begin na die dansvloer te beweeg.
“Nou toe nou! Dis sowaar Marius en Leana. Ek het nog vanoggend met Leana gepraat, maar sy het nie gesê sy en Marius kom vanaand hierheen nie. Ons sal hulle netnou gaan groet,” sê Werner en neem haar in sy arms.
Sy weet sy dans stokkerig, weet dat haar hart met pynlike geweld in haar bors klop, weet dat jaloesie ’n verterende vuur is wat met fisieke pyn in haar binneste skroei, dog sy kan haar oë nie wegneem van Marius en Leana wat ’n entjie van haar en Werner af saam dans nie.
“Wat skort, Elfie? Jy lyk ’n bietjie bleek,” kom dit besorg van Werner.
Sy skeur haar oë weg van Marius se donker kop, hoor die kommer in Werner se stem en hou hom onwillekeurig stywer vas. Werner … Net Werner kan haar help om nie weg te sink in ’n modderpoel van wanhoop wat dreig om haar te verstik nie.
“Ek is so bly jy is hier, Werner,” fluister sy en dans met volle oorgawe, dwing haarself om nie met haar oë na Marius en Leana te soek nie, en vra hom met ’n byna desperate erns oor sy werk, sy pasiënte en selfs die simptome van masels uit.
Elfie verstik byna aan ’n mondjievol wyn toe Marius en Leana ’n kwartier later reguit na hulle tafeltjie toe aangestap kom. Sy het altyd geweet Marius is ’n aantreklike man, maar in sy donker aandpak lyk hy nie net aantrekliker nie, maar ook vreemd trots en arrogant. Het sy werklik die durf gehad om hom haar ouma se huis te belet? wonder sy verslae.
“A, Leana … Marius,” groet Werner en staan op toe hulle die tafeltjie bereik. “Sit gerus, of is julle al weer op pad? Die aand is mos nog baie jonk.”
“Goeienaand,” groet Marius sonder om na Elfie te kyk. “Ons het fliekkaartjies vir die tweede vertoning; daarom kan ons nie lank vertoef nie.”
“Ons kan darem ’n laaste drankie saam met hulle drink, nè, Marius?” vra Leana, neem sonder meer op ’n stoel langs Werner plaas en raak liggies aan sy skouer., Jy skeep my mos in die afgelope tyd baie af, dokter Werner. Wanneer laas het ek en jy hier saam geëet?”
“Voor die maselepidemie,” skerts hy. “Wyn vir julle?”
Elfie luister met gedwonge aandag terwyl Werner sy bestelling plaas, intens bewus van Marius wat langs haar sit. Waarom moes die noodlot met sy galgehumor ingryp? wonder sy bitter. Sy het daarin geslaag om elke oomblik saam met Werner te geniet, totdat Marius en Leana op die toneel verskyn het. Waarom loop hulle nie? wonder sy en draai die dun steeltjie van haar wynglas senuweeagtig in haar hande rond.
Sy waag ’n sku blik na Marius, maar sy uitdrukking is strak en ongenaakbaar, sy oë op Werner en Leana. Nee, sy gaan nie vyf of tien minute in sy geselskap deurbring nie – nie terwyl hy haar opsetlik ignoreer nie.
Sy kom vinnig orent en kyk met ’n verskonende glimlaggie na Werner en Leana.
“Sal julle my verskoon? Ek gaan net my neus poeier,” sê sy met valse lighartigheid en raap haar handsakkie op.
“Ek kom saam,” besluit Leana en staan op. “Moenie weggaan nie, julle pragtige mans: ons kom weer terug,” waarsku sy tergend en volg Elfie na die kleedkamer.
Elfie sien haar eie weerkaatsing in die talle spieëls van die kleedkamer, en dan vang haar oog Leana se spieëlbeeld en sy sien hoe Leana se lippe in ’n meerderwaardige glimlaggie vertrek.
“Jy speel graag met vuur, nè, Elfie? Is jy nie bang jy brand jou vingers nie?” vra sy smalend.
“Wat bedoel jy?” vra Elfie bruusk en haal haar haarborsel uit haar handsak.
“Voordat jy uit die niet verskyn het, het Werner Goedgevonden se drumpel deurgetrap. Hy het my reeds een keer gevra om aan hom verloof te raak.”
“Het hy? Waarom is julle dan nie verloof nie?” vra Elfie kil.
“Werner is skaars agt-en-twintig en hy besit nog nie veel nie, daarom het ek my visier op Marius gestel. Maar moenie jou kwel nie: ek stel nie meer in Werner belang nie, want Marius is as ’t ware klaar myne,” antwoord Leana met hoorbare genoegdoening in haar stem.
“Werklik? Is dit sy verloofring wat jy dra?” vra Elfie, haar stemtoon neutraal, dog haar binneste voel soos ’n bodemlose vakuum.
“Nog nie, maar ek sal binnekort sy verloof- en trouring dra. Ek weet nie mooi wat daar op Schoonlaagte gebeur het nie, maar hy is op die oomblik in die hotel tuis. Ek het hom reeds omgepraat om vanaand saam met my terug te gaan plaas toe. Wat wed ek jou dat ek niks later nie as Maandagaand sy verloofring aan my vinger sal dra?” vra Leana, haar lag sag, dog selfversekerd in Elfie se ore.