Elfie vleg soos ’n slaapwandelaar tussen die tafeltjies deur na waar Werner en Marius op hulle wag, intens bewus van die triomfantlike Leana op haar hakke.
Dan het Marius sy intrek in die hotel hier op Bloemfontein geneem toe hy vanoggend weg is van Schoonlaagte af, dink sy suf. Wat was makliker vir hom as om Leana te bel, haar uit te nooi vir ete en toe sy lot by haar te bekla? Nou gaan Marius saam met Leana terug Goedgevonden toe – en sy kan net haarself blameer omdat sy hom as ’t ware in Leana se arms gedryf het.
Sy blik na Marius, maar hy kyk by haar verby en glimlag vir Leana agter haar, en haar oë soek desperaat na dié van Werner.
“Ek het na jou verlang,” terg Werner gedemp en help haar om by die tafel plaas te neem, sy mond naby haar oor. “Jy lyk soos ’n sonskyndroom in jou geel rokkie.”
Sy glimlag getroos, kyk op en frons lig toe sy in Marius se kil, berekenende oë vaskyk. As hy haar dan wil middeldeur kyk, laat hom dit doen – hy is en bly nog ’n afperser, dink sy grimmig en lig haar ken onbewustelik, uitdaging in haar oë.
“Ek dink ons moet nou gaan, Marius, anders is ons te laat vir die hooffilm,” sê Leana, talm langs Marius se stoel en streel met ’n intieme gebaar met haar vingers deur sy nekhare. “Ek glo nie Werner en Elfie sal ons geselskap mis nie.”
“Dankie vir die wyntjie, Werner,” sê Marius, sit sy glasie neer en staan op. “Geniet die aand.”
Werner kom half orent in sy stoel.
“Sien julle,” groet hy en neem weer plaas toe hulle wegstap na die uitgang.
Elfie kyk hulle agterna, die uitdrukking in haar oë versluier. Waarom kan ’n mens nie sterf as ’n hartseer so groot is dat dit met elke hartklop deur jou hele wese skryn nie? Is mense dan willose marionette wat glimlag en buig, hardloop en spring wanneer die verskillende toutjies getrek word? In haar sterf ’n grootse liefdesdroom, maar uiterlik speel sy die rol van ’n laggende nar.
“Leana lyk soos ’n kat wat room gesteel het,” merk Werner met ’n skewe glimlag op. “Sy probeer al baie lank om Marius te vang, en dit lyk asof sy eindelik geslaag het.”
“Ja …” antwoord Elfie en glimlag verlig toe ’n kelner met hulle voorgereg opdaag.
Sy het haar verniet gekwel: hartseer maak ’n mens nie dood nie, dink Elfie terwyl sy saam met Werner die stoeptrap opstap na die voordeur van die opstal op Schoonlaagte. Die ete saam met Werner was smaaklik, die geselskap onverbeterlik en sy het haarself gedwing om elke oomblik saam met hom op die dansvloer te geniet. Selfs die rit huis toe was soos genesende salf op ’n oop wond, want hy het gretig gepraat oor sy toekomsplanne en haar sonder twyfel laat verstaan dat hy hoop om haar deel te maak van sy toekoms.
Sy het gretig na elke woord van hom geluister, al sy planne met geesdrif beaam, en byna daarin geslaag om haarself te oortuig dat niks mooier as ’n lewe saam met hom bestaan nie.
“Elfie …?” Hy talm voor die toe voordeur en lê sy hande liggies op haar boarms, sy oë op haar gesig. “Ek gaan jou nie oorweldig met ’n vurige liefdesverklaring nie, maar ek wil tog hê jy moet weet: ek wens ek kon al môre my ring aan jou vinger gesteek het. Dit was ’n onvergeetlike aand saam met jou.”
“Dankie, Werner, ek het ook elke oomblik daarvan geniet. Ek dink jy het liewe ouers,” sê sy opreg.
Sy oë loop oor haar gesiggie en hy trek haar liggies nader aan hom.
“Jy is ’n lieflike meisie, my Elfie. Mag ek jou môre weer kom besoek?” vra hy, sy stem effens skor.
Sy antwoord nie, bewus van ’n gevoel van opwinding toe sy in sy oë kyk. Werner is dierbaar, want hy kan haar laat vergeet van die seer wat soos skimme deur die newels van haar gedagtes loer … skimme met Marius se gesig. Sy weet hy wil haar soen en weet ook dat sy nie sal teëstribbel nie, want sy hoop om in sy arms genesing vir haar seer te vind.
Sy arms kruip besitlik om haar en sy kop buig vooroor. Sy sluit haar oë afwagtend, ruk ineen en verstyf in sy arms toe sy iemand links van hulle, in die donkerste hoek van die voorstoep, hoor kug. Haar oë gaan oop en sy sien Marius tydsaam nader kom, ’n sweem van ’n glimlag om sy lippe.
“Jammer om jou pret te bederf, Werner, maar die arme tant Maria kon nie langer wakker bly nie, en sy het my toe gevra om op Elfie se tuiskoms te wag. Sal ek vir julle ’n koppie koffie maak?” vra hy gemoedelik.
Werner frons gefrustreerd, blik vinnig op sy polshorlosie en glimlag halfhartig vir Elfie.
“Dit is al baie laat … of liewer, vroeg in die oggend. Ek ry liewer nou, want ek is weer môreoggend aan diens. Elfie … nogmaals dankie. Sien jou, my meisie,” groet hy, buig vooroor en soen haar liggies op haar lippe, voordat hy omdraai na die stoeptrap. “Nag, Marius,” groet hy kortaf en draf die trap af na sy motor.
Elfie kyk sy motor met ’n gevoel van verlies agterna, hoor Marius weer langs haar kug en gluur hom met blitsende oë aan.
“Wat soek jy hier? Is jy nie veronderstel om op Goedgevonden by Leana te wees nie?” vra sy nydig.
“Skaam jou, Elfie. Julle stadsmense is natuurlik anders, maar ons goeie plattelanders wag darem eers totdat ons getroud is voordat ons saamwoon. Maar jy hoef jou nie te kwel nie: ek sal nie onder dieselfde dak as jy slaap nie, want ek het vir my ’n kampbedjie in die rondawel opgeslaan – ek en Bondel slaap daar. Of dra dít ook nie jou goedkeuring weg nie? Dink jy ek sal Bondel beïnvloed om ook ’n bose afperser te word?” vra hy, ’n ondertoon van spot in sy stem.
“Stadsmense is nie slegter as julle plattelanders nie: ek weet mos Leana se ma woon saam met haar op Goedgevonden. Jy is natuurlik bang jy gaan Schoonlaagte verloor, daarom het jy teruggekom,” sê sy beskuldigend.
“My liewe Elfie, wat sal ek met Schoonlaagte doen as ek Goedgevonden op ’n skinkbord present kan kry? Nee wat, jy stry sommer nou omdat jy vies is … Wou jy baie graag gehad het Werner moes jou soen? As jy jou oë toemaak, sal ek jou soen, en dan kan jy jouself wysmaak dat dit hy is. Sal ons probeer?” vra hy en stap op haar af, ’n treiterende glimlag op sy gesig.
“Oe, jou …!” roep sy gesmoord uit, ruk die voordeur oop, gaan binne en maak dit vinnig agter haar toe.
“Moenie vergeet om die voordeur te sluit nie, my parmantige rooikopmeisie!” roep hy koggelend voor die deur.
“Loop weg!” krys sy ingehoue, sluit die deur en storm in die gang af, gretig om in die privaatheid van haar kamer haar woede en hartseer op haar kussing uit te huil.
Teen elfuur die volgende oggend stap Elfie die kombuis binne, blik skuldig na tant Maria wat nog in haar deftige swart kerkrok geklee is en frons vyandig toe sy Marius by die kombuistafel sien sit.
“Môre, Ouma. Ek is jammer ek het verslaap, Ouma, want ek sou graag saam met Ouma kerk toe wou gegaan het,” sê sy skuldig.
“Môre, Elfie-Maria,” groet tant Maria terwyl sy voortgaan om vir hulle tee in te skink. “Moet jou nie oor niks kwel nie, kind: ek het daar by jou kamer ingeloer, maar jy het so rustig geslaap dat ek dit nie oor my hart kon kry om jou wakker te maak nie. Jy kan maar vanaand saam met my na die kerkdiens oor die radio luister.”
“Ja, Ouma,” antwoord sy, gluur weer eens na Marius wat smaaklik aan ’n konfyttertjie begin eet, en blik verwytend na haar ouma.
“Toe, toe, Elfie-Maria, wat staan jy daar soos Lot se vrou? Gaan sit nou en drink jou tee. En moet nou nie te veel tertjies eet nie, want ek het vir ons ’n lekker skaapboud en gebraaide aartappels in die oond vir middagete. Marius, ek het spesiaal vir jou groenbone- en aartappels gekook, nogal met ’n stukkie ribbetjie ook daarin. Foei, die seun is nog al die jare dol oor my groenboontjies. En nou, Elfie-Maria? Wat stik jy so aan jou tee? Nee a, kind, dis nie nodig om gulsig te wees nie.”
Elfie hoes en hyg magteloos na haar asem, en stik opnuut toe Marius opspring en ’n paar houe tussen haar blaaie plant.
“Eina! Ouma, sê hy moet sy kloue van my wegneem! Los my, jou … jou oege-oeg!” hoes sy hulpeloos.
“Ja, toe, dis nou genoeg daarvan, julle twee. Marius, dis jou sesde konfyttertjie. Nee a, dis darem nie nodig om jou soos ’n worsmasjientjie vol te stop nie!” raas tant Maria en neem die bord tertjies voor hom weg.
“Elke tertjie is skaars ’n mondvol, tant Maria,” kla hy gegrief. “Wie gaan in elk geval die tertjies eet? Werner het gesê tante moet gewig verloor, en Elfie eet soos ’n voëltjie.”
“Werner behoort hom te skaam om met so ’n private ding soos my gewig te lol,” sê tant Maria geraak en kyk nuuskierig na Elfie. “En hoe hou jy toe van Werner se ouers, kind?”
“Hulle is dierbare mense, Ouma. Ek het dadelik tuis gevoel by hulle,” antwoord sy, sien die spotglans in Marius se oë, skiet dolke met haar oë uit na hom, en ignoreer hom dan.
“Skoonouers is baie belangrik,” merk hy bedees op.
“Ja, toe, Marius, niemand het jou gevra om ’n stuiwer in die armbeurs te gooi nie,” sê tant Maria berispend en wend haar weer tot Elfie. “En het Werner van jou nuwe rok gehou? Vertel tog, kind – moenie dat ek alles so uit jou trek nie. Lyk dit of die seun op jou verlief is?”
“Hoe moet ek weet, Ouma?” vra Elfie onthuts, intens bewus van die glimlag op Marius se gesig.
“Dan is jy boonop met blindheid geslaan, Elfie-Maria? Het die man jou darem nag gesoen? Goeiste, liefde kon darem nie so baie verander het vandat ek ’n jongmens was nie. Toe, toe, Elfie-Maria, sê nou vir Ouma: het Werner jou gesoen?”
Die blos op Elfie se wange verdonker tot ’n vuurwarm gloed en sy hou haar oë stip op die tafel en speel senuweeagtig met haar teelepel.
“Hy wou, tant Maria,” kom dit met hoorbare genoegdoening van Marius, “maar toe bederf ek al sy pret. Dit was darem nie opsetlik nie, tante, want tante het my uitdruklik gevra om op Elfie te wag.”
Tant Maria gluur hom agterdogtig aan.
“Jy bedoel jy het gesorg dat Werner nie my kleindogter soen nie, Marius?” vra sy strydlustig.
“Dis reg, tante, want toe ek sien hoe hang Elfie in die man se arms, het ek bekommerd geraak. Ek het tante klaar gesê: die kind het geen ervaring nie, en Werner is ’n ervare man. Dit was my dure plig om Elfie te beskerm, tante, want sy is darem tante se kleindogter,” antwoord Marius vroom, skynbaar onbewus van Elfie wat uit pure woede en verontwaardiging na haar asem hyg.
“Dis waar, ou seun, ’n mens kan nooit te versigtig wees nie. Elfie-Maria, jy moet jou darem nie so in ’n vreemde man se arms gooi nie,” sê tant Maria betigtigend.
“Ouma!” roep sy verwytend uit en spring op, haar oë blitsend op Marius se onskuldige gesig. “Jou … jou leuenaar! Konkelaar! Bedrieër! Ek gaan terug Lekkerwater toe, Ouma. Ek bly nie ’n oomblik langer saam met hierdie … hierdie mansmens in dieselfde huis nie!”
“Maar sal ek my nou nie vir die meisiekind vervies nie!” kom dit onstuimig van tant Maria. “Sit, Elfie-Maria, en sit stil, voordat jy jou ouma ’n hartaanval gee. Nee a, ek gaan darem nie toelaat dat jy die arme Marius uit my huis verdryf nie. Ek het klaar te veel toegegee: in plaas van in sy eie kamer, slaap die seun saam met jou hond daar in die buitekamer. Is dit nie genoeg nie? Moet ek die seun van my plaas af jaag, net omdat hy my waarsku oor jou en Werner se dinge? Elfie-Maria, jy het nie ’n ma nie, daarom is jy my verantwoordelikheid, en ek en Marius sal toesien dat jy geen skande oor die goeie naam van die Barnards bring nie.”
“Is dit ’n skande om ’n man nag te soen, Ouma?” vra Elfie gegrief, maar hou haar stemtoon gedemp, haar oë besorg op tant Maria om enige voorteken van ’n hartaanval betyds waar te neem.
“Nee, kind, maar dis darem nie reg dat jy in ’n man se arms hang nie. Toe, toe, kry vir jou ’n konfyttertjie.”
Elfie byt hard op haar onderlip, gluur in Marius se laggende oë en kom weer orent.
“Ek is nie honger nie, dankie, Ouma. Laat Marius die konfyttertjies verswelg – Ouma sê mos hy is ’n worsmasjien,” sê sy met ’n vermakerige blik in sy rigting.
“Sit, Elfie, en drink jou tee,” beveel Marius, sy stemtoon ineens ysig terwyl hy vinnig opstaan en sy stoel onder die tafel instoot. “Dankie vir die tee, tant Maria. Ek dink dis my teenwoordigheid wat Elfie haar eetlus ontneem. As tante nie omgee nie, sal ek elders my middagete gaan bedel. Ek word darem nou effens moeg daarvan om as ’n afperser uitgeskel te word.”
“Maar wie sê …?” begin tant Maria onbegrypend, dog Marius versuim nie langer nie, loop met lang hale na die agterdeur en verdwyn buite sig. Oomblikke later hoor hulle sy motor wegry.
“Elfie-Maria?” Tant Maria frons streng toe haar oë dié van Elfie ontmoet. “Ek wil die waarheid weet, kind: het jy gesê die seun is ’n afperser?”
Elfie sluk, kyk skuldig weg en knik bevestigend voordat sy sku opkyk na tant Maria.
“Ek … ek wil liewer nie daaroor praat nie, Ouma,” sê sy teësinnig.
“Nou dit kan my nie skeel wat jy wil doen nie, kind, maar dis my huis, en Marius is vir my soos ’n eie kleinkind. Waarom dink jy hy ís ’n afperser?” vra tant Maria reguit.
Elfie huiwer nog, trek dan haar asem diep in en begin vinnig praat.
“Dis dinge wat Leana en Alida, Karl-Jan se suster, vir my gesê het, Ouma. Hulle sê Marius het ’n houvas op Ouma, dat hy Ouma sal dwing om Schoonlaagte aan hom te bemaak. E … dis al, Ouma.”
“So, nè? En toe leen jy jou ore aan skinderstories uit in plaas van om my reguit te vra wat die waarheid is?” vra tant Maria afkeurend.
“Maar ek het Ouma self hoor sê dat Ouma nie Schoonlaagte kan wegmaak nie – onthou Ouma nie wat Ouma Vrydagaand, toe Karl-Jan my huis toe gebring het, aan Marius gesê het nie? En toe praat Ouma nog van ’n houvas ook … ek het gemeen Marius het ’n houvas op Ouma,” verduidelik Elfie verontskuldigend.
“Reken, nè?” Tant Maria knik haar kop ’n paar keer, haar oë kwaai op die ongemaklike Elfie. “Dit kom nou daarvan as ’n bogsnuiter grootmense se gesprekke afluister en boonop na skinderstories luister. Elfie-Maria, ek en Marius het wel oor Schoonlaagte gepraat, en toe het hy voorgestel dat ek my plaas maar eendag moet verkoop as ek te oud word om langer alleen hier te woon, want jy en jou pa stel tog nie in die boerdery belang nie. En toe wou ek van die houvas van die grond – die geboortegrond van die Barnard-geslag – praat, maar jy glo toe dis oor die houvas wat Marius op my het, dat ek wou uitwei. Elfie-Maria, ek het lief geword vir jou, kind, maar ek moet sukkel om my nie nou lelik vir jou te vervies nie.”
Elfie sluk hoorbaar, lek oor haar onderlip en kyk skuldig na haar ouma, ’n diep blos van verleentheid op haar wange.
“Ouma het seker meer as genoeg rede om kwaad te word … en Marius ook, want ek het hom in sy gesig ’n afperser genoem en … en … Ek is regtig jammer, Ouma. Ek moes seker nie my ore uitgeleen het nie.”
“En dan sê jy jy het die jongetjie lief! Nee a, so tree ’n meisie nie op as sy ’n man liefhet nie, kind, want jy vertrou ’n man as jy vir hom omgee. G’n wonder die seun boer by Leana nie, want vandat jy gekom het, wil hy niks weet van Schoonlaagte nie, hoewel hy vroeër nog gepraat het dat hy graag die plaas sal wil koop. Ek het baie vir die seun gedoen toe hy klein was, maar hy is ’n eerbare man en vandat hy self verdien het, het hy nooit met leë hande op Schoonlaagte opgedaag nie. En dan noem jy hom ’n afperser … Ek skaam my vir jou, Elfie-Maria,” verwyt tant Maria haar.
“Ek is jammer, Ouma. Ek sal vir Marius om verskoning vra sodra ek hom weer sien … Ek beloof, Ouma. Ek weet hy is nie vir Ouma kwaad nie, want hy het gesê hy weet ek het na skinderstories geluister. Ek … ek sal sommer nou gaan kyk waar hy is. Kan ek maar die bakkie leen, Ouma? Ek sal gaan kyk of hy op Lekkerwater by Yolande kuier,” pleit Elfie, haastig om te vergoed wat sy verbrou het toe sy die verwyt op tant Maria se gesig lees.
“Marius bêre altyd die sleutel daar in die blou suikerpotjie langs die geel koppies in die kas, kind,” sê tant Maria, die bekende vonkeling terug in haar oë. “En, Elfie-Maria? Ouma is nie rêrig kwaad vir jou nie, maar ek sal meer tevrede voel as jy en Marius nie langer kwaaivriende is nie. En as die seun jou wil soen, maak dit nie saak nie, want ek weet hy sal my nooit verdriet aandoen nie.”
“Marius en Leana gaan trou, Ouma – sy het my gisteraand vertel toe ons haar daar by die hotel op Bloemfontein raak geloop het. Hy is seker maar na haar toe,” sê Elfie afgehaal.
“Kind, jy verloor nooit voordat ’n man klaar getroud is nie. Gaan soek hom op Lekkerwater of enige ander plek, solank jy hom maar kry,” sê tant Maria ongeduldig en staan op om die vuil koppies na die wasbak toe te dra.
Elfie hou met die bakkie op Lekkerwater stil, klim uit en glimlag halfhartig vir Paul wat, met sy esel voor hom, ’n entjie van die opstal af sit en die huis met sy outydse blomtuintjie skilder.
“A, my meisie het eindelik by my kom kuier,” kom dit ingenome van Paul terwyl hy sy hande aan ’n doek afvee en Elfie tegemoetstap. Hy neem haar hande in syne en raak haar wang liggies met sy lippe aan. “Hallo, Elfie. Jy lyk pragtig in jou koel somerrokkie. Wanneer gaan jy toelaat dat ek jou skilder?”
Sy wurm haar hande uit syne en tree agteruit, ’n ligte kwelfrons tussen haar wenkbroue.
“Ek is ’n bietjie haastig, Paul. Was Marius dalk hier?”
“Hy was, ja, maar hy en Yolande is weg dorp toe om vir ons iets vir middagete te gaan koop.” Hy blik op. sy polshorlosie en glimlag vermakerig. “Nie dat ek jou sal aanraai om op hulle terugkeer te wag nie: Yolande het my met ’n knipoog laat verstaan dat ek maar self vir my middagete moet maak, want sy is nie haastig om terug te kom nie.”
“O … Dan ry ek maar weer,” sê sy afgehaal.
“Wat is dit met jou, Elfie?” vra hy ergerlik. “Jy is tog nie verlief op Marius nie? Hy boer hier by Yolande en as ek eerlik moet wees, is jy geen kompetisie vir haar nie. En ek praat nie van haar skoonheid nie, want jy het ook ’n besóndere skoonheid, maar Yolande is baie meer ervare as jy. Sy het besluit sy wil Marius hê, en sy sal nie omgee van watter metode sy gebruik maak om hom te vang nie.”
“Ek is nie hier om Marius te vang nie – ek moet net met hom praat,” sê Elfie met kille vyandigheid.
“O … dit verander die saak. Voel jy nie lus om saam met my te skilder nie?” vra hy vriendeliker.
“Nie vandag nie, dankie,” antwoord sy haastig en draai weg.
“Elfie, wag!” roep hy en sluit die vingers van sy regterhand liggies om haar boarm. Sy kyk onthuts op na hom, lees die verwyt in sy oë en sug ongeduldig.
“Los my, asseblief, Paul. Ek is haastig,” versoek sy gelykmatig.
“Jy is deesdae altyd haastig as ek met jou wil gesels, nè, Elfie? Gee jy dan glad nie meer om vir my nie? Kom nou, Elfie, geen meisie kan so maklik haar eerste liefde vergeet nie,” sê hy paaiend, sien die frons tussen haar wenkbroue verdiep, en vervolg dringend: “Ek was ’n dwaas omdat ek nie twee jaar gelede met jou getrou het nie, maar ek het toegelaat dat jou pa en my suster my ompraat om weg te gaan. Jy was nog so jonk en onervare, Elfie, maar nou het alles verander. Ek kan nou my liefde sonder vrees aan jou beken en hoop dat jy tog nog dieselfde oor my voel. Kan jy nie sien ek het jou lief nie, my liefling?”
Elfie kyk met ’n gevoel van weersin op na hom en ruk haar arm uit sy greep los.
“Ek is te oud vir kalwerliefde, Paul. Tot siens!” roep sy oor haar skouer, draf weg na die bakkie en klim in. Toe sy wegry, staan Paul nog op dieselfde plek, ’n donker frons op sy aantreklike gelaat.
Dalk het sy hom sleg behandel, erken sy skuldig teenoor haarself, want per slot van rekening is hy nou haar stiefoom. Maar waarom dring hy hom aan haar op? Nee, sy sal liewer uit sy pad bly en hoop dat hy binnekort sal terugkeer Johannesburg toe.
Tant Maria neem ’n bak nagereg by Elfie, plaas dit in die yskas en klik haar tong met goedige ongeduld.
“Dié Drienie darem: stuur alewig poeding en koekies, al weet sy ook die dokter sê ek moet my gewig mooi dophou. Jy is nie dalk lus vir ’n skeppie poeding nie?” vra tant Maria en draai weg van die yskas.
“Nee dankie, Ouma, ek het so ’n groot middagete geëet dat ek seker ’n week sonder kos sal kan bly. Het Ouma nog niks van Marius gehoor nie?”
“Tsk, dat ek nou so maklik kan vergeet: ja, die seun het netnou daar van Goedgevonden af gebel en gesê hy kuier vanaand by Leana en haar ma en dat ek nie moet moeite doen om vir hom aandete reg te hou nie. So ’n bedagsame seun darem … Toe, sit maar aan, Elfie-Maria. Ek het vir ons ’n paar toebroodjies en tee gemaak, want dis soos jy sê: na so ’n groot middagete is ’n mens nie honger nie,” gesels tant Maria en neem by die kombuistafel plaas.
“Ek sal net tee drink, Ouma,” sê Elfie afgetrokke terwyl sy op ’n stoel by die tafel gaan sit.
“Is dit nog altyd jou gewete wat jou pla, Elfie-Maria?” vra tant Maria en kyk haar deurdringend aan. “Jy hoef jou darem nie so te kwel nie, want Marius het doodgelukkig geklink toe ons oor die foon gesels het. Dalk het hy al vergeet dat jy hom ’n afperser genoem het.”
“Ek het nog nie vergeet nie, Ouma,” antwoord Elfie en roer haar tee onnodig lank om. Sy kyk op na tant Maria en vra aarselend: “Dink Ouma regtig …? Glo Ouma Marius sal… sal met Leana trou?”
“Nou, maar hoe sal ek weet, kind? Jy het met jou eige oë gesien Leana is ’n mooi weduvroutjie – ’n bietjie katterig en baasspelerig omdat sy haar oorle’ man se plaas geërf het – maar Marius is mans genoeg om enige vrou op haar plek te sit. Ek het goed nagedink oor alles en nou meen ek so: dis niks meer as reg as Marius weer eendag op Goedgevonden boer nie, want per slot van rekening is dit tog sy erfgrond.”
Haar ouma help haar net soveel soos tandpyn, dink Elfie bitter en bewaar ’n doodse stilswye. Eers het haar ouma allerlei planne gehad om Marius van voor en agter te bekruip, maar nou keur sy skielik ’n huwelik tussen hom en Leana goed. Nee wat, sy kan nie eens meer haar eie ouma vertrou nie.
“Toe, toe, kind, hou nou op droom oor Werner, en kry vir jou ’n toebroodjie. Dis al amper tyd vir die kerkdiens oor die radio, en ek wil nog die skottelgoed was,” por tant Maria ongeduldig en Elfie steek haar hand gehoorsaam uit, neem ’n toebroodjie, maar vergeet byna onmiddellik weer daarvan toe Marius se glimlaggende gelaat voor haar geestesoog opdoem.
Elfie sit op ’n ruwe boomstam langs die rondawel in die agterplaas, gaap lank agter haar hand, en kyk onvergenoeg na Bondel wat aan haar voete lê en fyn tjankgeluidjies in sy slaap maak.
“Ja, Bondel, jy is net so gevoelloos soos ouma Maria: hou my nie eens geselskap terwyl ek moet sit en wag totdat Marius eendag huis toe kom nie. Wat doen hy en Leana die hele tyd?” vra sy misnoeg, sien in haar gedagtes Marius vir Leana in sy arms hou, en skud haar kop ergerlik. “Ek kan raai wat hulle doen, maar dit raak my nie … Hoor jy, Bondel? As Marius dan so simpel wil wees om met ’n baasspelerige weduvroutjie te trou, soos Ouma sê, dan kan hy maar.” Sy kyk na die roerlose Bondel en sug verwese. “Dis maar goed jy slaap, Bondel, want ek weet ek jok, en as jy wakker was, het jý dit dalk ook geweet. Waarom moet Marius elke nag tot sonop by die simpel Leana kuier?”
Elfie swyg, en in die stil duisternis van die slapende veld hoor sy ’n kriek skel na sy maat roep; word bewus van die vars reuk van die dou op die plante, van die sagte suising van die nag-wind wat met strelende vingers deur die blare van die reusepeperwortelbome vee.
’n Nag vol heimwee, mymer sy, haar blik op die helder glans van die sterre. Waarom maak die donker haar hartseer? Omdat dit in haar donker is? Marius het iemand anders lief … daarom het daar ’n donker nag van wanhoop vir haar aangebreek.
Sy hoor ’n motorenjin nader dreun, sien oomblikke later die ligte van Marius se motor oor die agterplaas val, staan op en wag hom huiwerig by die deur van sy rondawel in toe hy onder ’n peperwortelboom stilhou en uitklim.
“Woef-woef!” blaf Bondel opgewonde en storm op sy kenmerkende manier op Marius af.
“A, hier is my ou honne,” groet Marius, ’n glimlag in sy stem. “Stadig nou, ou grote, stadig. Is jy so bly om my te sien?”
Hy kom tot by die deur van die rondawel voordat hy haar teen die witgekalkte muur sien staan, kyk haar skerp aan, en gaan dan sonder meer voort om sy rondawel oop te sluit.
“Marius? Asseblief, Marius, ek wil met jou praat,” versoek sy pleitend.
“Kom, my honne, dis slapenstyd. Ek het ’n lang dag agter die rug,” praat hy met Bondel, ignoreer Elfie en stoot die deur van die rondawel oop. Hy skakel die lig aan, wag geduldig dat Bondel by hom verbyskuur, en maak die deur agter hom toe.
“Marius, wag! Asseblief … ek móét met jou praat!” roep sy dringend uit.
Binne-in die rondawel hoor sy Marius ongesteurd met Bondel gesels en byt op haar onderlip, oorweldig deur ’n gevoel van intense teleurstelling. Dan stel Marius nie eens meer belang om met haar te praat nie, dink sy en begin stadig wegdraai van die toe deur. Goed, laat hy haar dan maar ignoreer … sy kan dieselfde speletjie speel.
Nee, sy het haar ouma beloof om Marius om verskoning te vra, dink sy skuldig, bly staan en draai onwillig terug na die deur. Haar blik val op die stokrose langs die muur van die rondawel en sy huiwer slegs ’n oomblik, stap dan nader en pluk ’n armvol stokrose.
“Marius!” roep sy hard en klop aan die deur. “As jy nie jou deur oopmaak nie, gaan ek die res van die nag hier staan en klop!” dreig sy.
Hy pluk die deur byna onmiddellik oop, ’n geïrriteerde uitdrukking op sy gelaat.
“Moenie soos ’n …” begin hy misnoeg, maar swyg toe sy die bos stokrose in sy arms druk.
“Ek het nie tyd gehad om rose te gaan steel nie, maar stokrose is seker amper so goed soos rose?” vra sy, ’n kinderlike onbeholpenheid in die glans van haar oë.
“Woef!” blaf Bondel uitbundig en bestorm haar.
“Af, Bondel!” beveel Marius streng, en dan pluk ’n glimlag om sy lippe. “Dié keer het ek nie jou hulp nodig nie,” voeg hy met ondeund vonkelende oë by, trek haar met sy regterhand nader en soen haar vol op haar lippe.