Sy is seker maar onervare, dink Elfie, want Marius se soen stuur rillings van ekstase deur haar liggaam, laat haar bloed tintelend deur haar are bruis en vervul haar met ’n onkeerbare begeerte om haar arms om sy nek te sit en hom nog stywer vas te hou.
O nee, sê nou hy vertel haar ouma sy het in sy arms gehang? dink sy ontsteld en druk haar handpalms teësinnig teen sy bors om haar uit die gevangenskap van sy sterk arm te bevry.
Marius lig sy kop op en laat haar gaan.
“Dan verkies jy Werner se soene?” spot hy.
“Ek … ek … My asem het opgeraak …” stamel sy, sien die lag in sy oë en bloos verleë. “Ek het nie gekom om … Ek het net kom sê ek is jammer dat ek jou ’n afperser genoem het, want ek weet nou jy is nie een nie.”
“Bedoel jy dit, of het jou ouma jou oorreed om my om verskoning te vra?” vra hy gelykmatig, sy blik koel, berekenend op haar.
“Ouma het my die waarheid oor jou vertel, dis al.” Sy kyk na die stokrose in sy linkerarm en die blos op haar wange verdiep merkbaar. “E … sal ek jou blomme in ’n blompot sit?”
“Toe maar, ek sal,” antwoord hy, beweeg na ’n klein tafeltjie en lê die stokrose daarop neer. Hy draai om en kom stadig op haar afgestap, die bekende vonkeling in sy oë. “En nou, my liewe Elfie, kan ons eindelik mekaar werklik leer ken. Dis tog wat jou ouma van ons verwag as ons hoop om eendag Schoonlaagte te erf? Jou soene verbeter, maar na nog ’n paar dosyn lesse …” treiter hy en steek sy arms na haar uit.
“Nee!” roep sy verskrik uit en retireer vinnig na die deur toe. Het Marius dalk in haar oë gesien dat sy graag wil hê hy moet haar weer soen? dink sy pynlik verleë. Hy het haar nie lief nie, want hy het die hele nag by Leana gekuier, maar vir hom is sy net nog ’n meisie en sy soene vir haar is betekenisloos.
“Is dit nou regverdig, Elfie?” vra hy kamma gekrenk. “Hoe kan ek jou beter leer ken as jy my nie wil soen nie?”
“Is een … of twee meisies nie genoeg vir jou nie?” vra sy met ysige afkeer in haar stem. “Jy het die hele dag saam met Yolande rondgerits en vanaand was jy weer by Leana. Leana het my vertel julle gaan môreaand – dis seker al vanaand – verloof raak. Wat sal sy sê as sy moet weet jy flankeer met ander meisies?”
“Hm, dit sal nogal interessant wees om te weet,” sê hy peinsend en vryf met sy regterhand oor sy ken, sy oë vonkelend. “Van ’n verlowing môreaand weet ek niks nie, maar ek het wel groot planne vir Saterdagaand. Ons gaan feesvier op Goedgevonden en vanselfsprekend sal jy en tant Maria ook daar wees.”
“Op jou verlowingspartytjie?” vra sy effens hees, die geklop van haar hart soos swaar hamerslae in haar ore.
“Dis reg, Elfie. Jy kan weer jou nuwe geel rokkie aantrek, en as Werner nie te besig is nie, nooi ons hom ook uit. As jy werklik glo ek is nie meer ’n afperser nie, sal jy daar wees – reg?”
“Ja … ja, natuurlik,” antwoord sy gejaag en draai vinnig weg na die deur sodat hy nie haar gesig kan sien nie. “Ek loop nou eers … dis al baie laat. Nag, Marius,” groet sy gedemp en strompelhardloop oor die donker agterplaas weg na die agterdeur, sy opgewekte groet in haar ore.
O, sy sal daar wees … om met haar eie oë te sien hoe die man wat sy liefhet aan ’n ander meisie verloof raak, dink sy met ’n gevoel van wanhoop. As sy nou wegbly, sal Leana weet dat sy verlief is op Marius, en dit mag sy nie toelaat nie. Leana het haar al genoeg verneder; daarom sal sy na Goedgevonden gaan en elke oomblik van die aand geniet, ook al weet sy dat haar hart bloed sal drup van ’n seer wat niemand kan genees nie.
Kort na sewe-uur die volgende oggend lig Elfie haar kop moeisaam op van haar hande waar sy, by die skryftafeltjie voor haar kamervenster, ’n paar uur gelede ingesluimer het. Dan het sy tog geslaap, dink sy tam en kom traag orent toe daar aan haar kamerdeur geklop word.
“Elfie-Maria?” roep tant Maria gedemp, maak die kamerdeur oop en kom binne, haar gelaat vreemd ernstig, ’n koppie koffie in haar hand.
“Môre, Ouma. Dankie vir die koffie,” sê Elfie met ’n flenterglimlaggie om haar lippe en neem die koffie by tant Maria.
“Môre, hartjie,” groet tant Maria, haar stem ongewoon sag, byna gebroke. Sy glimlag deernisvol toe Elfie vraend opkyk na haar en bly, met haar hande op haar maag saamgevat, ’n paar treë van die bed af staan. “Dan het jy darem goed geslaap, my kind?”
“E … nie te sleg nie, Ouma,” antwoord Elfie ontwykend, gaan sit op die kant van haar bed en drink haar koffie.
Wat pla haar ouma? wonder sy. Soggens is haar ouma altyd haastig en aan die gang, maar dit lyk asof sy vanoggend baie tyd het om sommer net rond te staan en te glimlag. Voel haar ouma dalk nie te gesond nie? dink sy bekommerd.
“Ouma … voel Ouma darem gesond vanoggend? Ouma het nie pyn op die bors of iets nie?” verneem sy besorg.
“Maar hoe praat jy nóú, Elfie-Maria? My ou hart het nog nooit iets makeer nie … e … ek bedoel nou, dis net nie goed om my te ontstel nie, sien? Is die koffie darem nog lekker warm? Het ek genoeg melk ingegooi? Wil jy nie ’n bietjie suiker hê nie, kind? Die dokters sê mos suiker is goed vir skok.”
“Maar ek ly nie aan skok nie, Ouma. Of … het daar iets gebeur wat …?” Elfie swyg, sién ’n byna tasbare jammerte in tant Maria se oë en sit haar kofïiekoppie tydsaam op haar bedkassie neer, haar blik agterdogtig op haar ouma se gelaat. “Wat is dit, Ouma? Wat het gebeur?”
Tant Maria huiwer nog ’n oomblik en antwoord dan.
“Ek en Marius het saam na die nuus geluister, hartjie, en toe hoor ons dat jou pa – professor Gerhard Barnard, het die omroeper gesê – en jou nuwe stiefmoeder se ligte vliegtuig oor die digte woude van Peru neergestort het. Dis nou wat hulle vermoed, want die radiokontak is skielik verbreek kort nadat die loods gesê het een van die enjins is buite werking. Daar is glo soekgeselskappe uitgestuur, maar verdere nuus het hulle nie. Marius het toe die SAUK gebel, maar veel meer kon hy nie wys word nie. Hy is juis nou weg na Lekkerwater toe om vir Yolande en Paul te gaan vertel.”
Elfie bly roerloos sit, nie in staat om haar ouma se woorde te verwerk nie. Nee, dit kan nie waar wees nie, want sulke dinge gebeur met ander mense, nooit met haar pa of tannie Elize nie – ook nie met haar of haar ouma nie. Sy glo dit nie, want dit kan nie … dit mag nie waar wees nie. Sy het haar pa lief; daarom mag so iets nie met hom gebeur nie. Hoe kan haar ouma sulke onsin praat?
“Elfie-Maria?” Tant Maria steek haar hand uit en lê dit liggies, vertroostend op Elfie se skouer. “Ons moet net bid en glo, hartjie, en dan sal alles regkom. As ek net nie so trots en hardvogtig was nie … Jou pa het vir my geskryf voordat hy weg is, maar ek het nie eens die moeite gedoen om sy brief te beantwoord nie. Nee, sien, dag ek toe by my sigselwers, die dag as hy my nou persoonlik kom besoek, sal ek weer met hom vriende maak, maar nie voor die tyd nie. Dit kom nou van my hardkoppigheid. Dit sal net genade wees as ek my enigste seun ooit weer sien.”
“Moenie so praat nie, Ouma,” pleit Elfie, ’n byna tasbare seer vlak in haar oë. “Pappa sal weer terugkom … ek glo dit net. Moenie Ouma oor al die dinge van lank gelede blameer nie.”
“Hoe kan ek anders, my kind? Vyf-en-twintig jaar … en net my trots het verhoed dat ek ’n seun en ’n kleinkind in my huis gehad het. Jy moenie weer weggaan nie, Elfie-Maria, want jy is al wat Ouma het.” Tant Maria se stem breek en haar oë skiet vol trane.
“Ek sal bly, Ouma, maar moenie Ouma onnodig ontstel voordat ons sekerheid het nie. Vliegtuigongelukke is nie altyd noodlottig nie, en dalk het die loods tog daarin geslaag om die vliegtuig veilig te laat land. Kom ons gaan drink nog ’n koppie koffie,” nooi Elfie en stap die kamer uit, haar regterarm vertroostend om tant Maria se ronde skouertjies.
Elfie vee die voorstoep met ongewone energie af, ’n skoon, geel stoflap om haar hare, en sing uit volle bors elke liedjie wat sy sedert haar laerskooldae geleer het.
“Ag, my hart, dis mooi om te sien hoe dapper jy is, Elfie-Maria,” sê tant Maria aangedaan uit die voordeur en stap op die stoep uit, ’n glas koeldrank in haar regterhand. “Ek het vir jou ’n ietsie te drinke gebring, want jy is darem baie fluks vanoggend.”
“As ek nie sing nie, gaan ek dink, Ouma, en dan word ek bang en … en ongelowig. Solank ek besig bly, kry ek nie tyd om my oor … oor Pappa-hulle te kwel nie,” erken sy met ’n skaduglimlaggie en neem die koeldrank by haar ouma. “Dankie, Ouma, dit sal lekker smaak.”
“Ek het toe maar besluit om aan jou pa ’n briefie te skryf en dit na daardie hotel-adres in Peru te stuur, hartjie,” vertel tant Maria, iets in die glans van haar oë. Ek meen maar so: ons glo dat hulle niks oorgekom het nie, en ek sal nie toelaat dat so iets my weer oorval nie. Gerhard is my seun en dis tyd dat hy weet dat ek hom nog al die jare liefhet.”
Elfie glimlag deernisvol in tant Maria se oë.
“Ek is bly, Ouma, want Pappa sal ook gelukkig voel as daar nie meer kwaaivriendskap tussen hom en Ouma is nie. Dis net die onsekerheid …” Sy byt hard op haar onderlip en slaan haar blik neer.
“Jy moenie …” begin tant Maria paaiend, frons en kyk na regs toe die gedreun van ’n motorenjin hoorbaar word. “En dié twee motors? Foei, die dogter is seker maar ook ontsteld oor haar ma. Ons moet sterk wees, Elfie-Maria, want solank ons nie seker weet nie, kan ons hoop,” sê sy gedemp en wag haar besoekers in.
Die deur aan Yolande se kant vlieg oop sodra Marius stilhou, en sy storm die trap huilend op en val die verwarde Elfie snikkend om die hals.
“O, Elfie, my arme ma!” roep sy wanhopig. “Hulle is dood, Elfie … dood! Ons gaan hulle nooit weer sien nie!”
Elfie voel haar weerstand verkrummel en soek magteloos hulp met haar oë by tant Maria, trane glansend op haar wimpers.
“Maar kyk nou hoe vervies ek my vir so ’n Jollie-meisiekind!” roep tant Maria hees uit. “A nee a, meisiekind, hou jou in. Glo jy dan nie in die goeie Voorsienigheid nie? Toe, toe, blaas jou neus en los die arme Elfie-Maria … Vir wat wil jy nou my kleindogter ook ontstel? Hier, sit op die stoel en …” Tant Maria kyk oor haar skouer en hou haar hand gebiedend na Marius uit. “Gee vir my ’n skoon sakdoek, boet, want hierdie kind verdrink nog in haar eie trane. Verbeel jou: yslik groot en uitgevreet, maar huil soos ’n kleintjie wat haar knie gestamp het. Nee a, ’n grootmens ken darem ’n ding soos selfbeheersing!”
“Alles sal regkom, Yolande,” sê Elfie en sluk haastig haar eie trane, bang om haar ouma te vertoorn deur ook in trane uit te bars. Arme ouma Maria … hoe groot moet haar hartseer en kommer nie wees nie? dink sy simpatiek. Haar ouma leef al vyf-en-twintig jaar in vyandskap met haar pa, en nou is daar ’n moontlikheid dat sy hom nooit weer sal sien nie; nogtans wys haar ouma nie haar hartseer nie.
“Ek … ek is nie ’n gevoellose standbeeld nie,” snik Yolande meer bedaard en gluur nydig na tant Maria wat, met haar hande in haar sye geplant, oor haar troon.
“Niemand sê jy het ’n kliphart nie, kind, maar ’n mens laat jou ook nie sommer net gaan nie. Toe, gedra jou nou, dan gaan maak ek vir ons almal ’n lekker koppie tee,” sê tant Maria paaiend en loop die huis binne.
“Môre, Elfie,” groet Paul bedees, sy uitdrukking somber. “Ons moet net moed hou, dis al.”
’n Skaduglimlaggie flits om haar lippe.
“Met my ouma naby, durf ek niks anders doen as om moed te hou nie. Jy het self gehoor hoe min geduld sy met trane het,” skerts sy halfhartig.
“O, Marius …” Yolande staan op en loop teen Marius aan, haar kop teen sy bors. “Dis so verskriklik … ek kan die onsekerheid nie verduur nie!” sê sy skor en begin weer saggies te snik.
“Ek glo nie dis maklik vir een van julle nie, Yolande, maar al wat ons almal kan doen, is om geduldig op verdere nuus te wag.” Sy oë soek dié van Elfie wat hom verwese aanstaar. “Die SAUK het beloof om ons dadelik te laat weet wanneer hulle enige verdere inligting oor die soektog na jou pa-hulle ontvang het,” voeg hy bemoedigend by.
“Ek gaan nie hier sit en wag nie,” besluit Yolande en plaas haar arms besitlik om Marius. “Kom saam met my terug Johannesburg toe, Marius. Ek sal dit net nie kan verduur om hier op ’n afgeleë plaas te sit en te wag op nuus nie. Toe, Marius, ek het jou nodig … Ek kan nie sonder jou teruggaan Johannesburg toe nie.”
Marius frons ongemaklik en kyk weer na Elfie.
“Wil jy teruggaan huis toe, Elfie?” vra hy gedemp.
“Nee, ek sal by Ouma bly,” antwoord sy met ’n gedwonge glimlaggie. “Ek kan nie Ouma nou alleen laat nie, en as ons tog die nuus hier sal hoor, wat moet ek in Johannesburg gaan doen?”
“’n Wyse besluit,” sê Paul goedkeurend. “Ek het nog baie skilderwerk om my besig te hou, en daar in Johannesburg sal die tyd net stadiger omgaan. Wat wil jy daar gaan doen, Yolande? Het jy afsprake vir mannekynwerk?”
“Wie kan nou aan werk dink?” vra Yolande misnoeg en draai weg van Marius wat geen poging aangewend het om haar te troos nie. “Daar is darem bioskope en lekker eetplekkies om te besoek, en hope vriende om my te help om die tyd om te kry.” Haar oë soek weer na Marius se gesig. “Toe, Marius, kom saam met my. Jy sal van my vriende hou en jy is tog nou met vakansie.”
“En waar wil die Jollie-meisiekind nou weer gaan rondrits?” vra tant Maria afkeurend terwyl sy met ’n skinkbord met tee by die voordeur uitgestap kom.
Yolande frons misnoeg en kyk tant Maria uitdagend aan.
“Ek het Marius genooi om saam met my Johannesburg toe te gaan, tante … mevrou Barnard. Dis te dooierig hier op die plaas, en ek het hope vriende in Johannesburg wat ons kan help om die tyd om te kry.”
“Ja, toe, noem my maar tant Maria, want ek is eintlik jou stiefouma.” Tant Maria frons en trek haar neus op ’n plooi asof die gedagte onsmaaklik is. “Nie dat jy van ’n stiefouma sal hou nie, want ek kan sien dat jy ’n kind is wat nie veel respekte vir ’n oumens het nie. Marius, boet, jy gaan g’n Johannesburg toe nie, want jy weet ek het jou hier nodig … en Elfie ook. Hier, kry vir jou ’n koppie tee, Paul.”
“Dankie,” sê Paul, sy blik spottend op Yolande wat tant Maria met moord in haar oë aangluur. “Wat het ek vir jou gesê, Yolande? Tant Maria is jou stiefouma, al hou jy nie van die gedagte nie. Jy sal moet leer om jou respekte te ken,” treiter hy haar.
“Vrééslik snaaks,” sê Yolande ysig en mompel ’n onverstaanbare “dankie” toe tant Maria vir haar ’n koppie tee aangee.
“Ja, toe, wip jou maar, Jollie-kind, maar as jy by my wil kuier, moet jy in jou pasoppens wees, want vir ongepoetste kinders het ek g’n tyd nie. En gaan jy dan nie tee drink nie, Marius?”
“Nee dankie, tant Maria, ek moet eers dorp toe en daarna na Goedgevonden toe. Moenie u oor middagete kwel nie, tante, want ek weet nie hoe laat ek sal terug wees nie. Tot siens, tante … julle almal,” groet hy ineens haastig en stap by die stoeptrap af.
Yolande verstik byna aan haar tee en hou haar hand na hom uit asof sy hom wil terughou.
“Marius, wag! Ek wil saam met jou –” begin sy pleitend.
“Maar hoor nou so ’n skaamtelose meisiekind!” praat tant Maria haar dood. “As die seun jou wou saamvat, sou hy so gesê het. Bly sit en drink jou tee, dogter.”
Yolande byt ’n bitsige antwoord terug en sak op ’n stoel neer, ’n grimmige uitdrukking op haar gelaat.
“Die tee het lekker gesmaak, dankie, tante … e … mevrou. Ek ry ook nou maar weer. Kom jy saam, Yolande?” vra Paul en sit sy leë koppie op die skinkbord terug.
“Om wat te doen?” vra Yolande onvergenoeg. “Jy gaan weer die hele dag sit en skilder terwyl ek my tot die dood toe verveel. Nee, ek sal by Elfie kuier.”
“Maak dan so,” sê Paul sorgeloos en kyk na tant Maria. “Noem my maar tante, Paul, want dit lyk my jy het darem goeie maniere, al wou jy ook met my kleindogter lol. As jy wil, kom eet maar vanmiddag saam met ons hier op Schoonlaagte,” nooi tant Maria goedig.
“Dankie, tante, ek aanvaar die uitnodiging graag. Tot siens, tante … Elfie. Sien julle later weer,” groet hy hoorbaar ingenome en loop na sy motor toe.
“Weet jy hoe lyk jy met daardie geel stoflap om jou kop? Probeer jy mannekyn speel?” vra Yolande wat na ’n voorwerp soek waarop sy haar frustrasie kan laat uitwoed. Sy kyk Elfie minagtend aan. Elfie giggel impulsief en voel aan die stoflap om haar kop. “Ek het skoon vergeet van my nuwe hooftooisel,” grinnik sy, haar oë laggend op tant Maria. “My ouma sê dit pas my.”
“En jy glo haar natuurlik,” sê Yolande smalend.
“Ek moet, want sy is ouer as ek,” antwoord Elfie doodluiters en staan op. “Sal ek die koppies kombuis toe dra, Ouma?”
“Nee, kind, ek sal. Dit lyk my die Jollie-meisiekind is lus vir rusie maak; daarom moet julle twee maar twis terwyl ek die skottelgoed gaan was. Laat sy maar by jou kuier, want jy kan hoor sy het niks anders om haar uit die kwaad te hou nie,” antwoord tant Maria rustig, tel die skinkbord op en gaan die huis binne.
“En om te dink sy is my stiefouma!” bars Yolande gegrief uit. “Ek wil haar nie present hê nie, al was sy ook my eie ouma.”
“Dalk voel sy so oor jou ook, Yolande,” sê Elfie met ’n skewe glimlaggie. “Ouma loop ’n reguit pad en sy draai nie doekies om nie, maar sy bly ’n liewe mens.”
“O, ek kan verstaan waarom jy so lief is vir haar: sy probeer om Marius vir jou met Schoonlaagte te koop. Gelukkig is Marius nie ’n man wat gekoop kan word nie,” sê Yolande vermakerig.
“Dan het jy dit eindelik agtergekom? Waarom kwel jy jou dan dat my ouma hom vir my sal koop?” vra Elfie onskuldig.
“Ek hoef hom nie te koop nie, want hy is klaar myne … Of het jy dit nog nie agtergekom nie?” kom dit selfversekerd van Yolande.
“Om die waarheid te sê: nee, ek het nie. Sover ek weet, is hy van plan om aan Leana verloof te raak. Dit lyk my ons het altwee verloor,” spot Elfie, wens dat sy die onderwerp kan verander, want ten spyte van haar beheerste uiterlike, is elke woord soos ’n dolksteek in haar binneste.
“My liewe Elfie, hoe lank ken jy my? Ek het besluit ek gaan met Marius trou, en dis presies wat ek gaan doen, maak nie saak of daar tien Leanas is nie. Dis oor jou wat ek my kwel: wat van Paul?”
“Wat van Paul?” vra sy onthuts.
“Hy was jou eerste liefde en al ontken jy dit ook, is jy nog verlief op hom. Hoekom gaan jy nie terug na hom toe nie? Hy is ’n baie aantreklike man, ’n suksesvolle skilder, en hy het jou lief. Of hoop jy nog om Marius vir jouself in te palm?”
Elfie glimlag gedwonge en staan op.
“Ek was besig om die stoep af te vee, en voordat ek my vir jou vererg, sal ek liewer my werk klaarmaak. Staan op, Yolande, ek wil die stoele eenkant toe skuif,” beveel Elfie saaklik, ’n ergerlike ondertoon in haar stem.
“Jy hét verander,” sê Yolande misnoeg en gehoorsaam Elfie traag. “Vandat die dokter en die jong boere jou uitneem, dink jy klaarblyklik dat jy ’n skoonheidskoningin is. Toevallig bly jy maar net ’n maer dogtertjie met rooi hare en skewe, groen oë, my arme Elfie. Jy kan jouself gelukwens dat Paul in jou belang stel.”
“En jy bly die gawe vriendin wat my al drie jaar lank vertel hoe onaantreklik ek is, nè, Yolande? Ek besef maar te goed dat ek nie mooi is nie, maar so onooglik lelik as wat jy my maak, is ek ook nie. Streel dit jou ego om my altyd te verkleineer?” vra Elfie ingehoue, ’n waarskuwende gloed in haar oë.
Yolande lyk ’n oomblik van stryk gebring, ruk haar kop op en stap weg na die stoeptrap.
“Ek bly nie hier om deur jou beledig te word nie. Tot siens!” snou sy en stap vinnig die trap af en in die pad langs wat na Lekkerwater lei.
Elfie bly met die besem in haar hand staan, ’n seer glimlaggie om haar lippe. Yolande het gelyk: sy het verander, want sy het vir die eerste maal opreg lief gekry. Sy is nie meer die onsekere rooikopdogtertjie nie, net ’n gewone meisie met rooi hare en groen oë wat besef dat die man wat sy liefhet, ’n ander bo haar verkies.
Donderdagmiddag, kort na middagete, sien Elfie Alida Odendaal in ’n klein, geel motortjie voor die opstal op Schoonlaagte stilhou en lê die boek wat sy die afgelope tien minute halfhartig probeer lees het, met ’n dankbare sug langs haar op die tafeltjie neer.
“Haai!” roep Alida vrolik uit en draf die stoeptrap op na Elfie wat opstaan en haar tegemoetstap. “Het jy vanmiddag na die nuus geluister? Jou pa-hulle is veilig, nè? Jy is seker vreeslik bly,” borrel sy uitasem en bly voor Elfie staan, ’n stralende glimlag op haar gesig.
Elfie se oë skiet vol trane en sy byt hard op haar onderlip, die spore van drie dae se angsvolle afwagting en hoop in donker kringe om haar oë.
“Ja … hulle het ons net na elfuur vanoggend gebel om te sê Pappa-hulle het net ligte beserings opgedoen en dat die Indiaan-bewoners van die woud hulle uit die vliegtuig gehelp het voordat dit aan die brand geslaan het …” Elfie lag hakkelrig. “Ek is sommer laf, Alida, want vandat ek weet hulle is veilig, kan ek nie ophou huil nie. Dis seker maar die spanning wat eindelik gebreek het.”
“Jou arme ding,” sê Alida jammerhartig en gee Elfie ’n impulsiewe drukkie. “Karl-Jan het ons vertel hoe dapper jy die hele tyd was nadat hy Dinsdag hier by jou was. Hoe gaan dit met jou ouma?”
“Sy voel seker maar soos ek, want sy het besluit om ’n rukkie te gaan skuinslê. Sy het seker maar net so min soos ek die afgelope nagte geslaap.”
“En is jou stieffamilie nog daar op Lekkerwater?” vra Alida nuuskierig.
“Ja, maar Yolande dreig elke dag om terug te gaan Johannesburg toe. Sal ek vir ons gaan koeldrank inskink?” bied Elfie aan.
“Nee dankie, ek is eintlik ’n bietjie haastig. Tant Celia, Leana se ma, het my vanoggend gebel en gevra dat ek haar moet kom help om vanmiddag sosaties te maak vir Saterdagaand se groot vleisbraai. Sy wil nie sê wat die rede vir die groot partytjie is nie, maar ons kan almal raai: Marius en Leana gaan verloof raak. Hulle twee is juis vandag weer saam Bloemfontein toe.”
“O …” Elfie sluk droog, merk hoe vreemd Alida haar aankyk en dwing ’n glimlag om haar lippe. “Ek weet daarvan, maar toe Marius vanoggend hier weg is, het hy nie gesê hy gaan weer Bloemfontein toe nie.”
“Dan het Marius vir jou gesê hy en Leana raak Saterdagaand verloof?” vra Alida opgewonde.
“Ja, hy het,” antwoord Elfie gelykmatig. “Hy het my klaar uitgenooi na die partytjie toe. Dink jy ons behoort vir hulle ’n geskenkie saam te neem?”
“Ek gaan nie, want een van die dae sal ons trougeskenke moet koop. Wil jy nie saamkom Goedgevonden toe nie? Jy kan my en tant Celia met die sosaties help, want jy het tog nie iets anders te doen nie, toe, Elfie,” pleit sy en kyk na die boek op die tafeltjie. “Of lees jy ’n lekker storie?”
“Ek probeer lees, maar ek voel te dom en te moeg om enigiets te begryp. Nee, ek sal liewer nie saamkom nie, Alida, want ek is nie op die oomblik goeie geselskap nie, en dalk kry Ouma my nodig.”
“Dalk moet jy ook probeer om ’n rukkie te slaap,” sê Alida besorg, haar oë op Elfie se strak, bleek gesiggie. “Dan ry ek weer. Sê groete vir jou ouma, Elfie. Sien jou!”
“Tot siens,” roep Elfie gedemp en wuif werktuiglik vir Alida toe sy wegry, ’n stram glimlaggie om haar lippe.
Waarom praat en glimlag sy nog? Waarom haal sy nog asem? Haar binneste voel soos ’n dorre, verlate woestyn waar ’n lanfernag van immerwanhoop aangebreek het, want sy weet met volslae finaliteit: sy het Marius verloor.
Miskien moet sy weggaan, terug Johannesburg toe, want om langer hier te bly, om Marius elke dag te sien en te weet hy behoort nou aan iemand anders, is niks anders as selfmarteling nie, dink sy en begin doelloos op en neer op die voorstoep te loop.
Elfie sit in die eerste aandskemering op die boonste stoeptrap, Flentertjie aan die slaap op haar skoot en ’n jaloerse Bondel wat kort-kort hartroerend kreun, langs haar.
“Jy is verniet jaloers, Bondel,” praat Elfie gedemp met die groot hond, “want jy weet ek is nog altyd lief vir jou. Hoekom het jy nie saam met Ouma by tant Drienie-hulle gaan kuier nie? Jy is tog te groot om op my skoot te lê en jy maak jouself net hartseer omdat ek Flentertjie vashou. Jy is ’n dom hond, Bondel.”
Bondel kyk haar met groot, verwytende oë aan, kreun-sug weer en gaan lê met sy groot kop op sy voorpote.
“Jy het vir my, maar ek het net klein Flentertjie,” praat sy mymerend voort, hartseer in haar stem. “Flentertjies liefde … dis al wat ek kry. Hoekom kan hy my nie liefhê nie, Bondel? Hoekom het hy Leana bo my verkies?”
Bondel spring op en storm die trap af toe Marius se motor om die draai verskyn, en draf die motor blaffend tegemoet.
“Af, Bondel!” roep Marius toe hy uit sy motor klim en streel oor Bondel se kop. “Jy moet oppas, ou honne, anders land jy nog voor my motor,” waarsku hy, sien Elfie op die stoeptrap sit en glimlag vir haar. “En daar is die meisie wat vandag sulke mooi nuus gekry het. Ek is dankbaar die spanning van die afgelope dae is verby, Elfie,” sê hy, ’n diep warmte in sy stem, en bly voor haar op die stoeptrap staan.
“Ek kan dit nog nie heeltemal glo nie,” erken sy met ’n vaal glimlaggie. “Ons het vir jou kos in die lou-oond gehou. Het jy al geëet?”
“Dankie, ja, Leana was so gaaf om my kos te gee. Ek het ’n paar belangrike oproepe om te doen, en daarna kan ons saam koffie drink. Verskoon my, asseblief,” sê hy saaklik en stap by haar verby, die huis binne.
Sy kom stadig orent, kyk doelloos om haar rond en loop dan by die agterstoep af na die tuin. Sy is ’n dwaas om langer hier op Schoonlaagte te bly, want dit word elke dag moeiliker om haar gevoel vir Marius vir hom en andere te verberg – sy het gesien hoe vreemd Alida haar vanmiddag aangekyk het. Sodra haar ouma terugkom van tant Drienie af, sal sy ernstig met haar praat. Haar ouma moet rede verstaan en haar toelaat om terug te gaan Johannesburg toe, dink sy vasbeslote en bly vraend staan toe ’n tweede motor in die rylaan verskyn en langs dié van Marius stilhou.
“Elfie!” roep Yolande en klim langs Paul uit. “Kom gou, mens, ek en Paul het vir jou ’n heerlike verrassing!”
Elfie staar Yolande ’n oomblik lank oorbluf aan, maar Yolande draf nader, kry haar aan die arm beet en trek haar saam na die motor.
“Toe, man, moenie al ons pret bederf nie. Toe, klim in, dan wys ons jou wat dit is,” por Yolande ongeduldig en stoot Elfie by die deur van die motor in. “Toe, ry maar, Paul. Ek en Marius sal agterna kom.”
“Nee, wag!” roep Elfie verward uit toe Yolande die deur langs haar toeklap, maar Paul het reeds die motor in beweging gebring, maak ’n wye draai en ry teen ’n hoë snelheid in die plaaspad langs na die hoofweg. “Paul, wag eers! Waarheen gaan ons? Ek het my ou slenterbroek aan – ek kan nie so by mense gaan kuier nie!” maak sy onthuts beswaar.
Paul lag sag en trap die petrolpedaal verder weg.
“Moenie jou kwel nie, my liewe meisie, ons gaan vir niemand kuier nie. Ek weet jy sou nooit uit vrye wil van Schoonlaagte af padgegee het nie, want jou oorheersende ouma hou jou as ’t ware gevange op haar plaas. Daarom het ek besluit om op te tree: ek en jy gaan saam Johannesburg toe, Elfie. Sodra ons getroud is, sal jy wel vergeet van Marius en Werner en al die ander jong mans wat ter wille van jou ryk ouma agter jou aangedraf het. Toe, erken dit maar: jy het my nog altyd lief, én jy is baie bly dat ek besluit het om jou as ’t ware te ontvoer.”