Sy kon net sowel in die Sterkfontein-grotte gebly het, want sy staan al weer in die donker, met Arendt wat haar arm in ’n staalgreep in sy groot hand vashou, dink Elzeri bitter. Hy gluur haar aan asof sy ’n mier in ’n suikerpot is.
Hierdie situasie is net erger, want dit reën. Nee, dit reën nie; water stroom op haar neer asof sy reeds deur die rivier see toe gespoel word. Sy probeer om Arendt terug aan te gluur, maar die reën val in haar oë en dwing haar om haar oë aanhoudend te knip.
Sy het nie honderde kilometer ver gery om in deurnat klere in die reën te staan en met ’n onbeskofte lummel soos Arendt rusie te maak nie, besluit sy en skreeu boos: “Ek het oë in my kop! Ek het deur die klipingang van Oggendglorie gery. Ek weet ek is op my eie grond!”
Sy probeer om haar arm uit sy greep te ruk en verloor haar balans toe hy haar arm skielik los. Sy voel hoe haar voete onder haar uitgly.
Hy gryp haar net betyds aan haar skouers om te verhoed dat sy hard in die modder gaan sit. “So ampertjies!” sê hy, sy woorde ronde klanke van ingehoue lag.
“Moet ek dankie sê?” vra sy, haar stem asemrig van skrik en verleentheid.
Sy is intens bewus van Arendt se geëelte hand wat haar stewig aan haar boarm vashou. Ouma Beth het altyd met soveel trots gesê haar kleindogter is ’n elegante dametjie wat in die onaangenaamste situasie met self beheersing en hoflikheid optree. Maar op hierdie oomblik is ouma Beth se elegante kleindogter nat tot op haar naeltjie, vol modder tot by haar knieë, en so kwaad dat sy soos ’n dronk matroos wil vloek omdat ’n haatlike man daarin slaag om haar telkens dom en hulpeloos te laat voel.
“Nee wat, los maar jou dankie, meisiemens, want ek kan nie skape met dankies koop nie. Jy is in elk geval nie dankbaar nie, want jy moet op jou tande kners om my nie te vloek nie,” antwoord Arendt gemoedelik.
Hy buk af tot in haar motor, skakel die enjin af en klap die deur toe.
“Dan kan jy boonop gedagtes lees?” vra sy bitsig agter hom.
Hy kom orent en antwoord diplomaties: “Wel … Jy klink vieserig.”
“Ek is smoorkwaad en nat en koud en …” vaar sy tierend uit. Dan trek sy haar asem hoorbaar in en vervolg verras: “Haai, daar is ’n huis! Ek kan ’n lig in die venster sien! Is dit my opstal?”
Arendt kyk oor sy skouer asof hy onbewus is van die bestaan van die huis. Hy draai terug na haar en antwoord ongesteurd: “Nee, dis my huis. Ek het jou gesê jy is op my grond.”
“Ek is nie! Oupa Gideon het vir my foto’s van die ingang van Oggendglorie gewys, daarom het ek dit so maklik herken. Ek is nie onnosel nie, Arendt! Ek weet ek het deur die ingang gery. Ek is op Oggendglorie, en ek gaan oom Herman en tant Sannie vertel dat jy my in die donker voorgekeer het en … Hoekom het jy my voorgekeer?”
“Sodat jy nie probeer om die laagwaterbrug oor te steek en deur die rivier weggespoel word see toe nie,” herinner hy haar, sy stemtoon geduldig.
“My oupa het nie ’n woord gesê oor ’n laagwaterbrug nie. Ek wed dis net nog ’n leuen – nes jou storie dat ek op jou grond is. Ontken jy dat dit die opstal van Oggendglorie is?” vra sy, briesend kwaad oor sy leuens, maar nog kwater omdat sy hom nie durf vra om haar arm te los nie, want sy is bang om sonder sy hulp deur die glibberige modder en waterpoele te loop.
’n Knallende donderslag, gevolg deur ’n verblindende, knetterende weerligstraal, laat haar paniekbevange teen sy bors skuiling soek, haar gesig styf teen sy nat reënjas vasgedruk.
“Ek gaan waaragtig nie ter wille van ’n flentertjie meisiemens op my eie grond deur weerlig doodgeslaan word nie!” grom Arendt asof elke woord ’n vloek is.
Hy gryp haar om die lyf en gooi haar oor sy linkerskouer. “Hou vas en lê stil!” bulder hy, slaan sy linkerarm om haar bene en draf plassend deur die waterpoele en modder na die huis toe.
Hy dra haar wragtie soos ’n sak mielies oor sy skouer, besef Elzeri verontwaardig. Maar vrees dat hy haar sal laat val, en ’n groter vrees vir die donderslae en weerligstrale wat in volume en frekwensie toeneem, blus haar begeerte om te spartel.
Arendt is ’n onbeskofte, onbeskaafde boer met die maniere van ’n grotman, dink sy nydig. Moontlik omdat hy op ’n afgeleë plaas in die Karoo woon. Nee, dis nie die Karoo se skuld nie. Haar ouma Beth het haar vertel Sonette het op Oggendglorie grootgeword, en Sonette is allermins onbeskaaf.
Arendt haat haar, besluit sy. Die eerste maal toe sy in sy taankleurige oë gekyk het, het sy geweet dat …
“Eindelik!” kom dit kwasterig van hom toe hy die houttrap na die voorstoep van die Victoriaanse woning opdraf. Hy lig haar van sy skouer af en sit haar op haar voete neer, sy hande beskermend op haar boarms.
“Kan jy staan, meisiemens?” vra hy effens uitasem.
“Ek is koud en nat en bang, nie lam nie,” antwoord sy deur klapperende tande. Sy draai onseker na die donker, oopstaande voordeur. “Waar is Sonette? Ek het haar gebel om te sê ek sal voor donker hier wees.”
“Plaasmense gaan slaap saam met die hoenders. En voordat jy nog ’n dom vraag vra: kom!” beveel hy. Hy gryp haar hand vas en trek haar saam met hom oor die voorstoep die huis binne.
“Ek drup water op Sonette-hulle se skoon vloer,” sê sy skuldig toe hy haar arm los en die voordeur agter hom toemaak en sluit.
“Ék is baas in Huis Roosmaryn,” antwoord hy kortaf. Hy neem haar aan die boarm en loop deur die voorportaal na die ingang van ’n sitkamer op linkerhand. “Een gaslamp en ’n warm kaggelvuur – dis al wat ek jou kan aanbied, want ek sit sonder elektrisiteit weens die onverwagte reënstorm. Ek was te lank weg, daarom het ek nog nie brandstof vir die kragopwekker gekoop nie. Toe nou, meisiemens, hou op om my aan te staar asof ek Sinterklaas is. Skop jou vuil sandale uit en gaan maak jou warm voor die kaggelvuur terwyl ek ontslae raak van my deurnat reënjas.”
“Huis Roosmaryn,” herhaal sy geïnteresseerd terwyl sy met ’n vies uitdrukking haar sandale uitskop en na haar modderbesmeerde voete en enkels staar. “Hoekom word my opstal nie Huis Oggendglorie genoem nie? Of was dit my ouma Elizabeth Fitzpatrick wat op die naam besluit het?”
Arendt laat val sy ken moedeloos op sy bors. Hy mompel iets onverstaanbaars en rig sy roofvoëlblik op Elzeri, wat hom vraend aankyk.
“Die Engelse Elizabeth Fitzpatrick was ’n koppige, bedorwe dametjie nes jy, snip. Toe sy met die skatryk Hendrik Weidemann getroud is, het sy daarop aangedring dat hy vir haar ’n splinternuwe opstal in die Victoriaanse styl op Oggendglorie bou. Omdat hy haar liefgehad het, het hy dit gedoen. Ná die geboorte van Elizabeth se enigste dogter – sy is ook later met ’n boer getroud – moes die lankmoedige Hendrik vir Elizabeth hierdie huis bou. Sy het dit destyds Rosemary Cottage gedoop. Huis Roosmaryn is dus die weduweehuis waar Elizabeth Fitzpatrick kom woon het ná Hendrik se dood.”
“Maar dan is Huis Roosmaryn mý weduweehuis, want dis deel van Oggendglorie!” sê Elzeri triomfantelik.
Sy beweeg die sitkamer binne, haar blik op die ameublement in die vertrek. “Ek hou van die Queen Anne-meubels – almal antieke stukke. Ek hoop jy pas my weduweehuis en my meubels goed op, Arendt, anders sal ek ’n nuwe huurder vir die huis kry,” vervolg sy.
Sy bly voor die kaggelvuur staan en kyk met ’n selfvoldane glimlaggie oor haar skouer na hom.
“Nee, jy sal nie, jou vermakerige klein snip!” snerp Arendt briesend agter haar. Hy trek sy reënjas uit en laat val dit op die swart-en-wit marmerteëls in die voorportaal.
“Sjuut!” waarsku Elzeri. “Jy gaan jou vrou en al die ander huismense wakker skree.”
“My vrou …” begin hy met blitsende oë.
Dan haal hy diep asem en kom rillend langs haar voor die oop vuurherd staan. Hy kyk nie na haar nie, buk af en pak ’n paar stukke hout op die vuur voordat hy met grimmige nadruk sê: “Vir die laaste maal, meisiemens: Huis Roosmaryn is myne, nie deel van Oggendglorie nie. Dit was oorspronklik deel van jou plaas, maar meer as ’n honderd jaar gelede het een van die Elizabeths Huis Roosmaryn as ’n geskenk aan die weduwee van haar getroue plaasbestuurder gegee. Verstaan jy eindelik, of moet ek my storie herhaal?”
“Ek stoom, maar my rug kry koud,” kla Elzeri, opsigtelik nie langer geïnteresseerd in Huis Roosmaryn nie.
“Sal jou vrou omgee as jy vir my ’n groot badhanddoek bring, Arendt? Ek kan nie met my nat klere in jou motor klim wanneer jy my na my opstal neem nie.”
“Na die duiwel met jou nat klere!” snerp hy en vra boos:“Aanvaar jy uiteindelik dat jy op mý grond is, meisiemens?”
“Ja, wat, ek glo jou. Sien, my oupa en ouma het my nooit van Huis Roosmaryn vertel nie, en hulle sou as dit deel van my erfenis was. Dis waarom ek jou vra om my asseblief na die opstal op Oggendglorie te neem, want jy maak aanmekaar rusie met my. As jou vrou nou wakker skrik, skaam sy haar morsdood vir jou,” antwoord Elzeri verwytend.
Arendt gluur haar van onder donker, saamgetrekte wenkbroue aan. Dan draai hy vinnig weg en leun met sy elmboog op die skoorsteenmantel, sy voorkop rustend op sy hand.
“Foei tog, is jy moeg, Arendt? Ek is vreeslik jammer ek hou jou uit die slaap, want ek weet julle boere staan vroeg op,” sê sy.
“Ek is nie moeg nie; inteendeel, ek is helder wakker. Maar as ek my oë toemaak, kan ek my verbeel jy is nie hier nie,” antwoord hy met gedwonge kalmte.
“Goeiste, ja, ek lyk seker soos ’n spektakel! As jy my net badkamer toe kan neem en jou vrou kan vra of sy –”
“Verduiwels, meisiemens, verwys nog net een maal na my vrou en ek hang jou aan die naaste doringdraad op!” val hy haar in die rede, sy stem raspergrof van ingehoue ergernis.
“Ek is jammer. Het jy en jou vrou ook rusie gehad? Is dít waarom jy my nie wil toelaat om oor haar te praat nie?” vra sy met simpatieke belangstelling.
Arendt kreun sy onmag uit, vee met sy hand oor sy mond en ken en staar haar oorwonne aan. “Goed, meisiemens, jy het jou wraak gehad: jy het daarin geslaag om my tot op die randjie van waansin te dryf met jou voortdurende verwysing na my vrou. Het Sonette jou vertel van ’n vrou in my lewe?”
“Nee. Sy het my nooit enigiets oor jou vertel nie. Ek het jou gevra of Sonette se woonstel aan jou en jou vrou behoort en toe sê jy jy en jou vrou …”
Elzeri swyg, byt nadenkend aan haar onderlip en glimlag ingenome toe sy vervolg: “En toe het Sonette en Dawie by die woonstel opgedaag! Sien jy nou? Jý het my van jou vrou vertel, niemand anders nie.”
“Genugtig, meisiemens, ek het gekgeskeer! Ek het nie …” Sy uitdrukking verhard en hy vervolg bruusk: “Nee, laat dit daar. Ek sal vir jou ’n handdoek bring.”
Sy wil nie bly wees nie, maar sy kan dit nie verhelp nie: sy is onverstaanbaar gelukkig omdat Arendt nie getroud is nie, erken sy onwillig teenoor haarself. Moontlik kry sy die arme vrou wat met Arendt sou trou uit haar hart jammer, want hy is ’n gebore bullebak. Hy sleep haar rond asof sy ’n lastige kind is, bulder op haar as sy onwetend iets verkeerds sê, en smyt haar soos ’n sak mielies oor sy skouer.
Dis vreemd dat Sonette haar nooit teen die onbeskaafde Arendt gewaarsku het nie, dink sy. Skielik haat sy die steurende gedagte dat haar vriendin moontlik die vrou in Arendt se lewe is.
“Vat, meisiemens!” bring Arendt haar terug tot die hede en laat haar wip van die skrik.
Hy druk ’n groot badhanddoek in haar hande en sit ’n flitslig op die skoorsteenmantel neer. “Die gastebadkamer is net om die hoek, links in die gang wat uit die voorportaal lei. Ek dink daar is ’n haarborsel en ’n kam wat laas deur Sonette gebruik is.”
Dan kuier Sonette gereeld by hom, besef Elzeri en voel ineens naar.
“Dankie, Arendt,” antwoord sy werktuiglik en gooi die handdoek oor haar skouers, haar oë op die flitslig. “Dit reën nou sagter, en ek sien nie meer blitse nie. As jy my die pad beduie, sal ek nou graag na my opstal wil gaan.”
“Ek wil jou nog graagter na jou opstal neem, maar ek sal teen wil en dank vir jou slaapplek moet gee. En aandete. Ek het ’n ketel water op die gasstoof in die kombuis. Ek bring nou vir jou iets te drinke,” sê hy saaklik en draai om.
“Wag, Arendt!” roep sy. Sy storm agter hom aan die donker voorportaal binne, gryp na hom en kry hom aan die hemp beet.
Hy ignoreer haar asof sy ’n lastige insek is, maar sy trippel agter hom aan en verklaar heftig: “Ek slaap nie weer by jou nie! Hoor jy wat ek sê? Ek sê –”
“Jy sê nie, meisiemens, jy jok. Jy het nog nooit by my geslaap nie,” antwoord hy doodluiters. “Hier is vier yslike slaapkamers, wat oorspronklik elkeen ’n kleedkamer gehad het wat in ’n badkamer omskep is. Klim met die trap op na die boonste verdieping as jy wil gaan slaap. Die eerste slaapkamer op linkerhand is myne, maar jy kan van een van die ander drie gebruik maak. Sonette kies gewoonlik die derde een op regterhand.”
“Kuier Sonette gereeld by jou?” vra Elzeri. Sy voel opnuut naar en hoop sy klink doodgewoon belangstellend.
“Sy het toe sy jonger was. Sy en Henning het naweke by my geboer en my huis op horings geneem, totdat ek hulle in die werk gesteek het.”
“Sonette het my van haar broers vertel – Herman en Henning. Woon hulle ook op Oggendglorie?” vra sy, verlig dat Arendt nie langer vies klink nie.
“Jy sal oorgenoeg tyd hê om self die mense op Oggendglorie te ontmoet, en jy kan Sonette vra om jou nuuskierigheid te bevredig,” antwoord hy en gaan die kombuis binne.
Hy bly staan en sê oor sy skouer: “Jy kan maar jou oë oopmaak, bangjan. Ek gebruik ’n gaslamp in die kombuis.”
“Hoe het jy geweet ek hou my oë toe?” vra sy afgehaal.
“Omdat jy dit in die grot gedoen het,” antwoord hy, reeds besig om vir hulle koffiebekers reg te sit.
Hy kyk om na haar, sien dat sy op een been staan, die badhanddoek soos ’n mantel om haar skouers gedrapeer. “Doen jy oefeninge?” vra hy geamuseerd.
“Moenie laf wees nie! My arme voete pyn van die koue op die yskoue marmervloer van jou kombuis. Ek wil nie koffie hê nie, Arendt. Ek kry so koud dat ek tot in my maag bewe. Hoekom kan jy my nie nou dadelik na my eie opstal toe vat nie? Ek wil in ’n warm bad klim en droë klere aantrek – sommer ’n jas en ’n serp ook, want ek is verkluim. Hoekom het niemand my gewaarsku die Karoo is kouer as Londen in die winter nie?” vra sy veronreg.
“Kermkous!” tart hy onsimpatiek. “Die Karoo is bekend vir sy skielike reënstorms en oorstromings in Oktober en November. Die Ongersrivier is nie standhoudend nie, maar dis op die oomblik in vloed. Het jy vergeet van die laagwaterbrug?”
“Natuurlik nie. Maar ek wil na my opstal gaan, nie na jou laagwaterbrug gaan kyk nie,” antwoord sy deur klapperende tande.
Hy plak die blik koffie langs die koffiebekers neer, loop op haar af en lig haar gemaklik aan haar boarms op. Hy dra haar na die naaste kombuisstoel en sit haar daarop neer terwyl sy nog verontwaardig na haar asem snak.
“Beter?” vra hy selftevrede.
“Bullebak!” krys sy, haar stem skril van verontwaardiging. “Ek is nie ’n lappop nie, Arendt! Jy ruk en pluk my rond, smyt my oor jou skouer of tel my op en plak my neer asof ek jou persoonlike eiendom is! Wat van my menswaardigheid? Ek voel al soos ’n mishandelde kind. Dalk moet ek ’n klag by die polisiestasie gaan lê!”
“Uhm … Ek red jou van ’n gewisse dood in ’n rivier wat afkom, ek verhoed dat jy ’n modderbad kry en dra jou deur ’n donderstorm en ’n wolkbreuk na my gerieflike huis toe. En wat doen jy? Gryp my en speel wegkruipertjie teen my bors in die donker, en draf agter my aan kombuis toe. Ek verhoed dat jou voete afvries en jy dreig my met die polisie. Ek weier om vir jou koffie te maak,” sê hy grimmig en keer sy rug op haar.
Elzeri swyg skuldig en volg hom met haar oë terwyl hy tussen die gasstoof en die yskas beweeg. Sy sug ’n paar maal droewig, maar hy ignoreer haar. Hy maak vir hom koffie, proe versigtig en smak sy lippe.
Sy het vergeet: Arendt hou nie van haar nie, dink sy bekommerd. Hy het haar op versoek van oupa Gideon na die grotte vergesel, maar hy het nie een maal die indruk geskep dat hy haar geselskap geniet nie.
Selfs die aand in Sonette se woonstel toe sy so grensloos hartseer was en nie kon ophou huil nie, was hy meer bekommerd oor die skoon kombuisvloer as oor haar. Die volgende oggend het hy vir haar ontbyt gemaak, maar dit was moontlik net om Dawie en Sonette te beïndruk. As sy vanaand iets te ete wil kry, sal sy soos ’n slang nederig op haar maag moet seil, dink sy bedruk.
“My maag pyn van die honger, Arendt. Het jy nie net een ou snytjie brood vir my nie?” pleit sy toe hy by die kombuistafel gaan sit, ’n koekblik nader trek en ’n groot stuk beskuit daaruit haal wat hy in sy koffie doop.
“Daar is varsgebakte brood in die broodblik in die spens,” antwoord hy en beduie met sy kop na die oopstaande deur van die donker spens skuins agter hom.
“Jy weet ek is bang vir die donker,” sê sy verwytend, maar hy verwerdig hom nie om haar te antwoord nie.
Sy trek haar bene op sodat haar koue voete op die sitplek van die stoel rus en vou die handdoek styf om haar. Arendt gaan haar vir die res van die nag ignoreer, daarom sal sy sorg dat sy nie verkluim nie, dink sy selfbejammerend.
Nee, raak sy op hierdie kombuisstoel aan die slaap, val sy moontlik af en breek haar nek of haar arm. Sy het nie ’n keuse nie: sy sal nog laer moet kruip om Arendt se guns te wen.
Sy haal een maal diep asem en praat so vinnig moontlik: “Ek is jammer ek het gesê jy is ’n bullebak, Arendt. Ek is jammer ek het op jou geskree omdat jy my rondruk en neersmyt asof ek ’n lappop is. Ek is jammer ek het in die reën en donker op jou grond beland. Jy sal nooit weet hoe jammer ek is dat ek jou ooit ontmoet het nie. Ek is jammer …” Sy frons en sê ongelowig: “Hoeveel stukke beskuit gaan jy nog eet? Dit was jou sesde een!”
“Dis my derde een. Ek het vanoggend om halfses my eerste en laaste stukkie beskuit vir die dag geëet, en ek het die hele dag gewerk. Het jou ouma jou nie geleer dis ongeskik om aanmerkings te maak oor hoeveel ander mense eet nie?” vra hy stug.
“Ja, ek is jammer, maar ek sien al dubbel van die honger,” kla sy.
Sy vervolg pleitend: “Asseblief, Arendt, sal jy my nie help om by my eie opstal uit te kom nie? Oom Herman en tant Sannie en Sonette verwag my. Hulle sal doodbekommerd wees omdat ek nog nie opgedaag het nie. En my arme oupa Gideon wag om ’n oproep van my te kry. Sal jy hom asseblief bel en sê ek is veilig hier?”
Arendt kreun moedeloos, maak sy mond oop asof hy wil praat, maar sluit weer sy lippe en staar haar in stilte aan.
“Jy lyk hartseer, Arendt. Gaan jy nou huil?” vra sy bekommerd.
“Nee, maar as ek nie stilgebly het nie, het ek moontlik gevloek,” antwoord hy wrang.
Hy vervolg geduldig:“Luister nou na my, meisiemens, want ek gaan nie my woorde herhaal nie. Jy het in die reën en donker regs gedraai en die pad na my plek toe gevolg, in plaas daarvan om op die pad te bly wat jou na die opstal van Oggendglorie sou neem.”
“Ja, ja, ek weet al ek het verdwaal. Maar daar was nie ’n pad nie, net modder en waterpoele. Wat nou van my arme oupa? Wil jy hom ’n hartaanval gee?” vra sy beskuldigend.
“Jy kan doodeenvoudig nie stilbly nie, of hoe?” vra hy wrewelrig. “Ek het jou oupa op my selfoon gebel toe ek vir jou die handdoek uit die linnekas op die eerste verdieping gaan haal het. Hy weet jy is veilig. Sal jy nou asseblief ophou neul?”
“Ek neul net as ek bekommerd is,” antwoord sy verontskuldigend. Sy sien hom frons en gaan vinnig voort: “Baie dankie dat jy oupa Gideon gerusgestel het. Ek besef ek is net ’n oorlas en dat jy lankal moeg is om my op te pas. Sal jy nou asseblief vir Sonette bel en haar vra om my te kom haal?”
“Hoekom gee jy my nie die kans om klaar te praat nie, meisiemens? Ek het –”
“Elzeri. My naam is Elzeri. Ek verloor my identiteit as jy my aanmekaar ‘meisiemens’ noem, so asof ek nooit gedoop is nie,” objekteer sy.
“Dalk sal jy stilbly as jy eet,” grom hy. Hy staan op en steek die gasstoof aan.
“Jy is so dierbaar dat –” begin sy dankbaar.
“Nog een woord uit jou mond, kletskous, en ek gaan sluit jou in die hoenderhok toe!” val hy haar dreigend in die rede. “Verstaan ons mekaar, snip?”
Sy knik net stom haar kop.
Hy verduidelik terwyl hy voortgaan om vir haar koffie te maak: “Die laagwaterbrug lê tussen my huis en die opstal van Oggendglorie. Al wil ek hoe graag, kan ek jou nie vannag daarheen neem nie – so min as wat Sonette hierheen kan kom. Toe dit vroeër vandag begin reën het, het ek met Sonette afgespreek dat ek jou sal voorkeer en jou hier sal hou ingeval die reën die laagwaterbrug onbegaanbaar maak. Hulle sal hulle nie oor jou bekommer nie.”
Elzeri weet sy glimlag, en sy weet ook waarom sy glimlag: Sonette of een van die ander mense van Oggendglorie sal nie onverwags opdaag en ’n einde aan haar besoek aan Arendt maak nie. Hy het met hulle laaste ontmoeting gedreig om nie sy voete op Oggendglorie te sit terwyl sy daar kuier nie.
Sy wou dit nie aan haarself erken nie, maar sy het die afgelope paar dae heimlik gehoop dat sy hom tog op haar plaas sou raakloop. Nie omdat sy van hom hou nie; nee, sy hou glad nie van hom nie, maar sy geniet elke oomblik van hulle rusies. En sy kyk graag na hom, want hy straal ’n energie en vitaliteit uit wat haar fassineer. Sy het hom nog net een maal sien glimlag, maar sy hou van sy ferm mond en die volheid van sy onderlip.
“Jy hou my soos ’n valk dop, meisiemens. Hou op kwel, ek vergiftig nie my ongenooide gaste nie,” spot hy.
Sy bloos skuldig, maar antwoord gelate: “Ek kry so koud dat ek dit nie kan waag om te roer nie. Ek het niks anders te doen as om jou dop te hou nie, want jy het nie ’n televisiestel in jou kombuis nie.”
“Jy kon lankal droog gebak het voor die kaggelvuur as jy nie so gretig was om my te verseker dat jy nie van plan is om by my te slaap nie,” antwoord hy en sit ’n beker koffie voor haar neer. “Hier, verkluimde kind. Moenie gulsig wees en jou mond verbrand nie.”
Hy skuif die koekblik nader aan haar en waarsku:“Nie meer as twee stukke beskuit nie, want ek gaan nou vir ons aandete maak. Daarna sal ek jou tasse uit jou motor gaan haal, want my nagklere sal effens te groot wees vir jou.”
“Dankie, Arendt,” sê sy gedwee, te bang dat hy die beker koffie in die wasbak sal uitgooi as sy met hom rusie maak omdat hy haar ’n kind genoem het. Snaaks dat hy haar nie op haar naam wil noem nie; dalk hou hy nie van haar naam nie, dink sy gekrenk.
Sy proe aan haar eerste stuk beskuit en vergeet om haar verder oor haar naam of Arendt te kwel.
Sy dryf in ’n roeibootjie op die see. Die golwe word al groter en groter en laat haar bootjie op en af dobber. Nou ruk die golwe haar aan haar skouers en …
“Elzeri! Goeiste, vriendin, is jy bewusteloos of dronk? Ek hop soos ’n Paashaas op jou bed rond en … O, jy het eindelik jou oë oopgemaak. Is jy wakker, mens?” vra Sonette.
Sy kom sit kruisbeen op die antieke hemelbed teenoor Elzeri, wat haar gegrief aanstaar.
“Ek het dit nooit voorheen besef nie, maar julle plaasmense is ’n spul wilde barbare! Julle uitspattige energie gee my angsaanvalle,” sê Elzeri vies en sit orent op die bed.
Sonette se oë vonkel onnutsig. Sy vra met onoortuigende onskuld: “Waarvan praat jy? Ek het jou net wakker gemaak omdat Arendt gesê het hy is besig om vir julle ontbyt te maak. Ons plaasmense is bekend vir ons vriendelike gasvryheid.”
“Ek praat oor julle manier om dinge te doen. My oupa klop hoflik aan my kamerdeur as hy my wil wakker maak, hy ruk my nie aan my skouers rond nie. En hy spring beslis nie op en af op my matras en gee my nagmerries oor dobberende bote nie,” antwoord Elzeri kamma vies.
Sy kyk in Sonette se laggende gesig en glimlag ten spyte van haar ergernis. “Dis goed om jou vriendelike glimlag te sien, veral ná al my aaklige ervarings gister.”
“Arendt het my vertel hy kon net betyds verhoed dat jy in die rivier beland, jou arme mens. Jou oupa Gideon sou ons nooit vergewe het as jy … Nee, ek dink myself bang. Is dit nie prettig om saam met Arendt in Huis Roosmaryn te kuier nie? Hy gee glad nie om as ’n mens om middernag die trap afsluip kombuis toe en vir jou ’n sjokoladedrankie maak en al sy koekblikke leeg eet nie. Jy weet nie hoe bly is ek dat hy eindelik weer terug is by ons nie.”
En nou is sy al weer naar van die honger, dink Elzeri bedruk. Nee, sy is nie honger nie, net geïrriteerd omdat sy al die jare eerlik teenoor Sonette was, terwyl Sonette haar nooit vertel het van die geheime man in haar lewe nie.
“Was hy dan weg?” vra sy met halfhartige belangstelling.
“Maar ek het jou al vertel, vriendin! Arendt was vier jaar lank weg. Hy het gereeld gebel, maar dis nie dieselfde as om hom elke dag te sien nie. Oupa Herman is net so bly, want hy hoop Arendt sal … Hoekom kyk jy my so snaaks aan? Is my gesig vuil?” vra Sonette en vee-vee met haar hand oor haar mond en wange. “Ek het versiersuiker in Arendt se spens geëet, sommer uit die pakkie uit. Ek is van kleins af dol oor versiersuiker – maar jy weet dit al, want jy ken my lank genoeg.”
“Ja, maar ek weet niks van Arendt nie. Is jy baie lief vir hom, Sonette?”
“Natuurlik! Vandat my pa agt jaar gelede besluit het om na Nieu-Seeland te emigreer, het Arendt ’n nog belangriker rol in my lewe gespeel. Hoekom vra jy? Ek praat gereeld oor hom.”
Elzeri skud haar kop ontkennend en voel nog naarder. “Nie oor Arendt nie. Ek weet ouma Beth het jou gevra om nooit oor my ma te praat nie, omdat ek van kleins af geglo het sy is dood. Maar Arendt het tog niks met my ma te doen nie?”
’n Uitdrukking van twyfel huiwer in Sonette se oë, maar dan lag sy onbesorg. “Nee, Arendt ken jou ma soos wat ek haar ken. Maar daar is niks oor hom wat ek geheim hoef te hou nie. Hy is net –”
“Vervlakste meisiekind!” maak Arendt rusie uit die oopstaande kamerdeur. “Ek het jou uitdruklik gevra om Elzeri eetkamer toe te bring, want ek is besig om ontbyt te maak. Ontbyt is gereed en hier sit julle en ginnegaap.”
Sy oë blits op Elzeri toe hy voortgaan: “Of verwag jy dat ek weer jou ontbyt agter jou moet aandra, meisiemens?”
“Ek is nie jou vervlakste meisiemens nie!” skree Elzeri. Sy is kwaad en sy wonder waarom sy wil huil.
“Jy ís, kwaai meisie. Sonette is my vervlakste meisiekind, maar jy is net ’n meisiemens. Daar is ’n groot verskil,” antwoord hy bedaard, ’n spottende ondertoon in sy stem.
Natuurlik is daar ’n verskil, dink Elzeri, bewus van die onverwagte gevoel van bitterheid wat in haar binneste opwel. Sy is net nog ’n meisie en boonop ’n oorlas, maar Sonette is die meisie wat hy liefhet.
Langs haar spring Sonette van die bed af. Sy draf na Arendt en haak albei haar arms om een van syne.
Sonette gaan Arendt soen en haar maag pyn van ’n allerverskriklike naarheid, dink Elzeri. Sy moet so spoedig moontlik by ’n dokter uitkom, want hierdie kroniese naarheid is heel waarskynlik ’n simptoom van ’n ongeneeslike siekte. Sy voel hoe koue sweet op haar voorkop pêrel.
“Kom nou, ou knorpot! Probeer onthou ek is nie meer twaalf jaar oud nie. Ons waardeer al jou moeite om ontbyt te maak, maar niks is makliker as om brood te rooster en ’n paar repies spek en eiers te bak nie. Kom vertel liewer vir Elzeri van haar ma,” nooi Sonette speels en trek die onwillige Arendt die kamer binne.
“Ek het Elzeri reeds vertel haar ma is ’n mooi blonde vrou, en saggeaard. Wat meer kan ek sê?” vra hy stroef.
Sonette skud hom liggies aan die arm. “Boetieboet, het jy op jou kop geval en jou geheue verloor?” vra sy betigtigend.
“Boetieboet …” herhaal Elzeri verdwaas en staar Sonette onbegrypend aan. “Jy noem jou ouer broer ‘Boetieboet’, maar jou broer se naam is Herman, want hy is na jou oupa vernoem. Arendt is nie ’n Van Breda nie.”
“Ek is niemand se Boetieboet nie,” grom Arendt, sy oë valkagtig onder sy saamgetrekte wenkbroue. “Ek het jou gewaarsku, Sonette: as jy my Boetieboet noem, bly jy nie weer in my woonstel nie.”
“Goed, ouer broer,” beloof Sonette plegtig.
“Dan is Arendt jou broer, Sonette?” vra Elzeri. Sy doen haar bes om te frons, want sy wil lag en lag en nooit weer ophou nie.
“Gelukkig, ja, anders kon ek nie kosteloos in sy ruim woonstel gebly het nie. Herman Arendt van Breda. Ons noem hom Arendt om hom nie met my oupa Herman te verwar nie. Hoekom het jy gedink hy is nie ’n Van Breda nie, vriendin?”
“Omdat hy my nie gesê het nie,” antwoord Elzeri en wens sy kan ophou glimlag. Sy is glad nie meer naar nie, maar sy het skielik alle beheer oor haar gesigspiere verloor. Want al wil sy, kan sy nie ophou glimlag nie.
Sy is so bly – so onmeetlik, verruklik bly! En waar haar hart is, is ’n wonderlike gevoel van warmte wat haar lief maak vir die hele wêreld. Arendt is Sonette se broer en …
En wat maak dit saak? Haar gevoel van euforiese geluk tuimel af in die swart moeraswater van realiteit en sy wonder verward: Waarom mag Sonette nie ’n geheime liefde in haar lewe hê nie?
Nee, dit gaan nie oor Sonette nie. Solank Arendt niemand anders liefhet nie …
Sy snak verskrik na haar asem en kyk skuldig na Arendt en Sonette, wat wegbeweeg het van haar bed en ’n gedempte gesprek voer. Elzeri slaak ’n sug van verligting.
“As julle nou loop, sal ek opstaan,” praat sy bloot om ’n einde te maak aan haar ontstellende gedagtes.
“Nee, wag, Elzeri. Ons moet jou eers iets vertel,” sê Sonette ingehoue.
Sy kom saam met Arendt nader en hulle neem weerskante van Elzeri op die voetenent van die hemelbed plaas.
“Nou vertel dan,” versoek Elzeri ongeduldig toe Sonette aanhou swyg.
“Dis half moeilik, want ek weet dit nog al die jare, maar …” begin Sonette. Sy swyg en kyk hulpsoekend na Arendt.
“Jou ma is met ons pa getroud, Elzeri, en jy is ons stiefsuster,” sê Arendt, ’n uitdrukking van opregte empatie in sy oë.