Ontnugtering is ’n skreiende pyn wat met fisieke geweld deur Elzeri se binneste skeur en haar met die stomme onbegrip van ’n dier hulpeloos na Arendt laat staar.
Haar ma is met Arendt se pa getroud en hy is haar broer, weerklink die woorde soos ’n nimmereindigende refrein deur haar gedagtes. Dit word genadelose géselslae wat iets groots en wonderliks diep in haar laat sterf.
“Agge nee, man, Elzeri,” ruk Sonette se verwytende stem haar terug na die werklikheid. “Ek wag al vier jaar lank om jou te vertel jy is my stiefsussie, maar noudat jy dit weet, sit jy soos ’n standbeeld. Jy lyk asof jy enige oomblik gaan omkap van skok. Is dit vir jou ’n vernedering om my as jou stiefsuster te hê?”
“Jy kan nie my suster wees nie, want jy is net drie maande jonger …” begin Elzeri toonloos.
Sy swyg toe die volle betekenis van Sonette se woorde uiteindelik tot haar deurdring. ’n Jubelende blydskap ontplof in haar binneste.
“My stiefsuster! Ek is só bly, Sonette. Jy is in elk geval my beste vriendin, daarom is dit nog wonderliker om te weet jy is my kleinsus.”
“Jaloerse meisiemens,” sê Arendt afkeurend.
Hy wag totdat Elzeri onthuts na hom kyk en vervolg: “Jy het geglo jou ma het jou weggesmyt om met my pa te trou, en dat sy liewer was vir haar nuwe baba, Sonette. Is my afleidings korrek?”
Sy afleidings kan nie verder van die waarheid wees nie, dink Elzeri. Haar ontsteltenis van oomblikke gelede verwar haar en laat haar terselfdertyd selfbewus en skuldig voel. Waarom was die moontlikheid dat Arendt haar broer is so ’n verpletterende, onaanvaarbare gedagte vir haar? Hulle hou nie eens van mekaar nie; hulle maak voortdurend rusie en …
Nee, sy sal op ’n ander dag daaroor wonder, besluit sy en antwoord onverskillig: “Ek weet nie wat ek alles gedink het nie. Dis nogal … e … vreemd om te weet my ma is julle ma ook. En julle ken haar, maar ek weet nie eens hoe sy lyk nie.”
“Sy is nie ons biologiese ma nie, Elzeri,” kom dit vinnig van Arendt, ’n vertroostende ondertoon in sy stem. “Ek noem jou ma op haar aandrang Riana, want ek was al oud genoeg om my eie ma te onthou en te weet dat sy dood is. Jou ma is tien jaar jonger as my pa, daarom het ek aanvanklik geglo sy is my nuwe speelmaat.”
“Maar ek noem haar Mamma, want sy het my grootgemaak vandat ek klein was en sy is die enigste ma wat ek ken,” vertel Sonette ongemaklik. “Ek hoop nie jy gee om nie, Elzeri, maar … e … dis hoe dit gebeur het. Ek bedoel, ek het nie opsetlik jou ma afgerokkel nie.”
Elzeri kyk in Sonette se blosende gesig, sien haar intense verleentheid en lag onwillekeurig.
“Op die oomblik lyk jy so skuldig dat ek byna kan glo jy het my ma gesteel toe ek weggekyk het, my arme vriendin!”
“Bloos ek?” vra Sonette vies en klap met haar hande op haar wange. “Ja, ek bloos dat my wange brand. Hoekom is ek ’n rooikop met sproete op my neus en ’n sneeuwit vel wat so maklik bloos dat dit lyk asof ek permanent sonbrand het? Ek wil ook ’n swartkop met groen oë en ’n leliewit vel wees. En fyn en klein soos jy, Elzeri.”
“Jy het die verkeerde ma gekies, Sonette,” terg Arendt haar.
“Ek lyk soos my ouma, nie my ma nie,” sê Elzeri.
Sy merk dat Sonette weer ongelukkig lyk en haar oë vermy, en strek haar hand uit om haar vriendin se hand te vat. “Ek weet nie hoekom my ma verkies het om my deur my ouma Beth te laat grootmaak nie, Sonette. Maar as ek aan my ma – aan jóú ma – dink, is sy net ’n onbekende vrou. Goed, ek erken dit: ek wil nie graag onthou sy het my verwerp nie, maak nie saak hoe goed haar rede was nie. Maar ek kan niks anders doen as om die werklikheid te aanvaar nie. En ek verkwalik jou allermins.”
Haar blik soek dié van Arendt en sy gaan hoopvol voort:“Jy is ouer, Arendt. Weet jy waarom my ma my nie wou gehad het nie?”
Hy frons en antwoord ernstig:“Jy verkwalik jou ma, jy glo dat sy jou verwerp het, maar wat van my pa, Elzeri? As jou ma my pa liefgehad het en as hy nie kans gesien het om ’n ander man se kind groot te maak nie, kon hy jou ma maklik oorreed het om afstand te doen van jou. Ek het jou gesê sy is ’n saggeaarde mens wat liewer toegee as om in ’n konfrontasie betrokke te raak.”
“Nou praat jy loutere onsin, ouer broer,” kom dit partydig van Sonette. “Ons pa is ’n stokou oom van drie-en-vyftig, maar as hy by ons ma is, tree hy soos ’n verliefde jong man op. Hy sou Mamma nooit gedwing het om haar eie baba weg te gee nie. Toe ek verlede Kersfees in Nieu-Seeland was …”
Sy swyg en kyk ongemaklik na Elzeri. Dan vervolg sy: “Jy weet al my pa het agt jaar gelede na Nieu-Seeland geëmigreer, vriendin. Jou … my … óns ma is vanselfsprekend saam met hom. Ag, deksels, hierdie hele situasie maak my lam! Hoekom kon jou ouma jou nie lankal die waarheid vertel het nie?”
“Omdat sy my in ’n veilige, gelukkige wêreld wou grootmaak,” antwoord Elzeri mymerend.
Sonette staar haar onbegrypend aan en sy glimlag skrams. “Ek bedoel elke woord wat ek sê. My kinderjare was wonderlik gelukkig, want my ouers was vir my soos onbekende mense in ’n storie: hulle het nooit bestaan nie, en hulle kon my nie bly of ongelukkig maak nie. Oupa Gideon was my veilige rots en ouma Beth was warmte en liefde. As ek van kleins af moes weet my ma het my verwerp, sou daar altyd iets aan my onderbewussyn bly knaag het – iets wat my ongelukkig sou maak.”
“Ek dink ek verstaan,” mompel Sonette. Sy betrag Elzeri wantrouig toe sy voortgaan: “Jy gaan nie toelaat dat jou … ons ma jou vakansie bederf nie, nè? As jy elke dag met ’n lang gesig gaan rondloop en my met smartvolle oë aanstaar …”
Elzeri skop met haar voet onder die duvet teen Sonette se been vas. “Ag nee, jou aaklige skepsel! Verbeel jou: smartvolle oë! Jy laat my sowaar soos ’n treurende weduwee in ’n melodrama klink.”
“Ek sou sê ’n treurende weduwee klink beter as die meisiemens wat ek ken: ’n astrante snip wat gereeld op my skoot klim en my omhels as dit donker is,” sê Arendt treiterend.
“Is dit sowaar wat sy doen, Arendt? Vertel, ouer broer, vertel!” kom dit nuuskierig van Sonette.
“Jy, kleinsus, is veels te jonk om te weet van dinge wat in die donker gebeur. Moet net nie Elzeri se voorbeeld volg en vreemde mans in die donker vasgryp en soen nie,” antwoord hy doodluiters.
Hy vang die kussing wat Elzeri verwoed na sy kop gooi en staan vinnig op. “Moenie praat nie, snip, want jy vloek my hard genoeg met jou oë. Ek gaan nou ontbyt eet en ry, want ek het werk om te doen. Maak jou kos in die mikrogolf warm as jy eendag besluit om op te staan. Ons het weer elektrisiteit.”
Elzeri volg sy breedgeskouerde gestalte met haar oë toe hy by die kamer uitstap. Sy wens hy het haar uitgenooi om saam met hom te gaan om te sien wat hy op ’n skaapplaas doen. Dan kyk sy betrap na Sonette, wat gesmoord lag.
“Jou broer amuseer my beslis nie, Sonette,” mompel sy en hoop haar ergernis klink oortuigend.
“Jy verstaan nie, vriendin. Arendt hou van jou!” kom dit met ’n ingenome glimlag van Sonette.
As dit maar die waarheid was, dink Elzeri. Sy is weer bewus van ’n onverklaarbare gevoel van verlies, ’n verlange na iets wat sy nie kan definieer nie.
Sy raak bewus van Sonette se selfvergenoegde glimlag, gluur haar oomblikke lank misnoeg aan en vaar dan vies uit: “Jy praat deur jou nek! Ek en Arendt maak rusie vandat ons mekaar by die Sterkfontein-grotte ontmoet het. Jy weet net nie hoe ongeskik hy teenoor my optree nie! Hy doen nie eens die moeite om my naam te onthou nie, want hy noem my meestal ‘meisiemens’. En hy behandel my asof ek ’n gevoellose strooipop is.”
“En wat nog?” vra Sonette en glimlag breër.
“Gister toe ek in daardie verskriklike donderstorm verdwaal het, het hy my soos ’n sak mielies oor sy skouer gegooi en my huis toe gedra! En hy –”
“’n Speenvark,” val Sonette haar in die rede.
“Wie is ’n speenvark?” kom dit verdwaas van Elzeri.
“Jý, my liewe vriendin. My ouer broer het jou soos ’n speenvark oor sy skouer gedra – altans, dis die uitdrukking wat oupa Herman altyd gebruik,” verduidelik Sonette met ’n sonnige glimlag.
“Ek is niemand se speenvark nie, Sonette! As daardie onbeskofte broer van jou dink hy kan my soos ’n speenvark –”
“Bedaar, vriendin!” skree Sonette haar tot stilte. “Ek dink dis wonderlik romanties om fyn en klein te wees, want mans kan jou speel-speel optel en dra. Tel ’n man mý op, sleep my lang bene en groot voete op die grond. En die feit dat my ouer broer jou opgetel en gedra het, is verbysterende goeie nuus. Wat het hy nog gedoen?”
“Yl jy, Sonette? Of is dit ’n kompliment vir ’n Karoomeisie om soos ’n speenvark oor ’n man se skouer gedra te word?” vra Elzeri nydig.
“As jy weet hoe Arendt … Nee, dis te ingewikkeld om nou te verduidelik. Vertel my liewer wat gebeur het nadat my ouer broer jou hierheen gedra het,” versoek Sonette met ’n onskuldige glimlaggie.
“Hou op grinnik, die situasie was allermins snaaks. Arendt het my geensins in sy opstal verwelkom nie. Hy was so vermakerig dat hy koffie en beskuit voor my sit en eet het sonder om vir my ’n krieseltjie te gee. Wel, hy het darem later vir my koffie en beskuit gegee … aandete ook. Maar hy knor en blaf en skree op my as ek waag om met hom te praat,” vertel Elzeri met ’n stygende gevoel van verontwaardiging.
“Wonderlik! Ek sê jou mos: hy hou van jou,” kom dit selfvoldaan van Sonette.
Elzeri staar haar verstom aan en vra dan ongelowig: “Bedoel jy dís hoe Karooboere wys dat hulle van jou hou? Tree hulle soos bullebakke teenoor mekaar op as hulle beste vriende is?”
Sonette bars gierend uit van die lag. Sy probeer praat, maar lag net harder. “Gee ’n snesie aan, vriendin,” sniklag sy en vee die lagtrane met haar handrug van haar wange.
“Ek hoop dis trane van berou oor jou opsigtelike leuen,” sê Elzeri misnoeg. Sy raap die boks snesies van die bedkassie op en sit dit voor Sonette neer, wat een neem en gebruik.
Sonette glimlag nog, maar daar is ’n ondertoon van erns in haar stem toe sy verduidelik: “Ons praat oor Arendt, nie ander mense nie. Ek weet nie om watter rede nie, maar my ouer broer tree soos ’n koue, hoflike stuk beton teenoor enige jong meisie op – en ek bedoel meer koud as hoflik. Ek kry die gevoel dat hy altyd op ’n afstand staan en elke meisie met agterdog bejeën, so asof hy verwag hulle gaan hom onverwags in die rug steek. Net die feit dat hy met jou praat, selfs al is dit net om rusie te maak, wys dat hy jou nie as ’n bedreiging beskou nie.”
“Wonderlik! Ek moet juig en bly wees dat jou liewe broer die moeite doen om my rond te ruk en doof te skree,” reageer Elzeri misnoeg.
Sy vervolg agterdogtig: “Arendt was vier jaar lank in Nieu-Seeland. Jy weet niks van sy liefdeslewe nie.”
“Nie persoonlik nie, maar ek en Mamma …” Sonette swyg selfbewus, haar blik skuldig op Elzeri. “Sy is die enigste ma wat ek het, vriendin. Ek is jammer ek herinner jou kort-kort aan haar.”
“Jy herinner my aan iemand wat ek nie ken nie. Dit pla my nie, Sonette. Wat het jou ma jou van Arendt en sy meisies vertel?” vra Elzeri en wonder gekwel waarom Arendt se liefdeslewe van soveel belang is vir haar.
“Niks nie, behalwe wat ek jou reeds vertel het. Arendt is altyd onberispelik hoflik, maar hy raak nooit in ’n verhouding met ’n meisie betrokke nie. Net die feit dat hy met jou rusie maak, is ’n bewys dat hy minstens bewus is van jou bestaan.”
“Hoe anders? Ek is sy stiefsuster.”
Elzeri se oë rek verontwaardig. “Dís waarom hy my sedert daardie eerste dag so aangluur! Hy het geweet ek is sy stiefsuster, en hy het besluit hy hou nie van my gesig nie!”
“Onsin! Toe jou ouma Beth my vier jaar gelede aan jou voorgestel het, het ek jou nie aangegluur nie. Ek was bang jy sou ’n hooghartige stadsmeisie wees, maar jy was so gaaf dat ons sommer spontaan maats geword het. En ek het geëerd gevoel dat ek ’n geheim met jou ouma en oupa kon deel – dat hulle my vertrou het om nooit oor ons ma te praat nie,” vertel Sonette.
“Jy was vriendelik en dierbaar teenoor my, daarom kon ons so maklik boesemvriendinne word. Selfs Dawie sê altyd jy is ’n skat van ’n meisie – en hy sal weet, want julle het die afgelope jaar dikwels saamgewerk.”
“Wel, al die verpleegsters dink Dawie is ’n skat van ’n man. Jong dokters gooi graag hulle gewig rond, maar Dawie waardeer die hulp of die raad van ’n ervare verpleegster of suster. Ek hoop jy besef hoe gelukkig jy is om Dawie se aanstaande bruid te wees, vriendin,” sê Sonette met speelse erns.
“Grieseltjies, Sonette, wat het Dawie en ons trouplanne met Arendt se optrede teenoor my te doen?” vra Elzeri ongeduldig. Sy gaan ergerlik voort: “Ek irriteer Arendt om die een of ander duistere rede – en hy irriteer mý, want ek voel soos ’n oorlas in sy geselskap.”
Sy hou haar hand gebiedend op toe Sonette haar mond oopmaak om te protesteer. “Ons het nou lank genoeg raai-raai gespeel oor Arendt se buffelagtige optrede teenoor my. Vertel my liewer: het jy my ouma Beth en oupa Gideon van kleins af geken?”
“Nee, glad nie. Ek het hulle twee meer as sewe jaar gelede vir die eerste maal ontmoet. Onthou, my pa en jou ma is getroud en hulle het oupa Herman met die boerdery op Oggendglorie gehelp. Agt jaar gelede het geslagte Van Breda’s se spaargeld dit vir my pa moontlik gemaak om ’n plaas in Nieu-Seeland te koop en te emigreer. Dis net my eie afleiding, maar ek vermoed jou ouma Beth en oupa Gideon was nie bereid om op Oggendglorie te kuier terwyl my pa en ma hier gewoon het nie.”
Waarom was ouma Beth en haar ma kwaaivriende? vra Elzeri haarself af. Sy sug omdat daar soveel onbeantwoorde vrae is en sê verwonderd: “Ek kan nie onthou dat my oupa-hulle ooit op Oggendglorie gekuier het nie. Waar het jy hulle ontmoet?”
“Op Oggendglorie. Ek aanvaar jou ouma-hulle wou nie hê dat jy ons in daardie stadium leer ken nie, want jy was op ’n skooltoer toe sy en jou oupa Gideon ons op die plaas besoek het. Ouma Beth was die mooiste ou tannie wat ek ooit gesien nie, maar sy was terselfdertyd jonk en altyd vriendelik. Jy weet hoe lomp en in die pad voel ’n mens op veertien, die ene lang bene en arms en groot hande en voete.” Sonette kreun selfbejammerend. “Jammer, vriendin. Ek wed jy het nooit lomp gevoel nie.”
“Nee, net maer en benerig,” glimlag Elzeri en verneem gretig: “Het jy en my ouma oor my gepraat?”
“Ure aanmekaar, ja. Mamma het my van jou vertel kort voordat sy en my pa Nieu-Seeland toe is. Toe ek jou ouma Beth ontmoet en sy oor jou begin praat, wou ek alles van jou weet. Dit was soos ’n feëverhaal om te weet ek het êrens ’n stiefsussie wat deel is van my, maar wat ook nie deel is nie.” Sonette swyg, haar glimlag selfbewus. “Klink ek soos ’n naïewe kleuter, Elzeri?”
“Dis toelaatbaar om op veertien naïef te wees,” antwoord Elzeri, haar glimlag tergend. “Maar ek sou net so nuuskierig oor jou gewees het. En jy mag maar van jóú ma praat, Sonette, want ek verkies om nie aan haar as my ma te dink nie.”
“Moenie, vriendin. Jy voel seergemaak omdat jy glo Mamma het jou goedsmoeds weggegee, maar jy ken haar nie soos ek haar ken nie. Wag eers totdat jy haar ontmoet en met haar gesels het voordat jy oordeel. Mense wat aan hulle seerkry vasklou, groei stekels soos kastaiings. Mense soos Arendt.”
“Ek voel beledig omdat my ma my verwerp het, nie seergemaak nie. Vertel my liewer waarom jy dink Arendt het seergekry. Hou hy nie van my ma nie? Is dít waarom hy so ongeduldig teenoor my optree?”
Sonette plooi haar neusie en skud dan haar kop ontkennend. “Jy het gehoor wat Arendt gesê het: hy en Mamma is eerder goeie vriende as ma en seun. Meisies raak maklik verlief op my aantreklike broer, maar hy stel nie belang nie.”
Sy wil dit nie vra nie, maar sy moet, dink Elzeri, en sê met oordrewe onverskilligheid: “O, wel, nie alle mans hou van meisies nie. Ek bedoel, as Arendt nog nooit ’n meisie uitgeneem het nie …”
Sy swyg toe Sonette ’n kopkussing opraap om haar onkeerbare giggelbui te smoor en sê vies:“Ek soek na ’n antwoord vir Arendt se vyandigheid teenoor my. Maar as jy soos ’n tiener gaan giggel …”
“Ek weet: dis onvergeeflik.” Sonette probeer skuldig lyk, maar sy glimlag net breër. “Ek raai net, vriendin, maar ek vermoed ’n meisie wat hy opreg liefgehad en vertrou het, het hom seergemaak. Dis hoekom ek sê hy het stekels gegroei, want hy klou aan sy hartseer vas – te bang om weer lief te kry en dalk verwerp te word,” verduidelik sy.
“Watter meisie?” vra Elzeri skerp, bewus van ’n hinderlike emosie in haar binneste. Is dit moontlik dat sy jaloers is op die meisie wat Arendt liefgehad het? Nee! Wat Arendt doen, raak haar nie, dink sy opstandig.
Sonette frons diep, byt op haar onderlip en kyk byna oormekaar in ’n poging om te kenne te gee dat sy ernstig nadink oor Elzeri se vraag. Sy merk haar vriendin se ongeduldige frons en sug oorwonne.
“Beloof jy om nooit ’n woord van ons gesprek te herhaal nie?”
“Ek het nie oornag in ’n skinderbek verander nie, Sonette. Ek kan in elk geval nie glo dat Arendt ooit enige meisie kan liefhê nie,” verberg Elzeri haar verwarrende gedagtes agter ’n dekmantel van ergernis.
“Dis wat my oupa Herman en ouma Sannie ook sê,” kom dit vertroulik van Sonette. “Nie dat hulle Arendt met my bespreek nie, maar soms … e … soms dink mense hulle is alleen en bespreek private dinge en –”
“Jy het jou ouma-hulle se gesprek afgeluister!” val Elzeri haar laggend in die rede.
Sonette bloos verleë, haar glimlag selfbewus toe sy halfhartig erken: “Ek het en ek het ook nie. Ek bedoel, ek het nie opsetlik hulle gesprek afgeluister nie. Ek was in die spens, weer besig om versiersuiker te gaps toe my ouma-hulle die kombuis binnekom. Ek was so stil soos ’n muis, want vanselfsprekend wou ek nie deur ouma Sannie betrap word nie. En toe praat hulle oor Arendt en Martelle de Vos.”
Sy haat Martelle de Vos, dink Elzeri met só ’n opstuwing van wrewel in haar binneste dat sy onmiddellik skuldig voel. Oupa Gideon sê haat is ’n selfvernietigende emosie, herinner sy haarself.
Martelle is ’n mooi naam, en sy sal heel waarskynlik van Martelle hou as sy haar ontmoet. Nee, nou jok sy boonop vir haarself. Sy weet intuïtief dat sy en Martelle aartsvyande sal wees, want Arendt is net haar Arendt …
Elzeri trek haar asem sag in, verward en bekommerd oor haar gevoel van besitlikheid jeens hom. Is dit omdat hy haar stiefbroer is? wonder sy hoopvol.
Nee, hy voel nie soos ’n broer nie, hy is haar Arendt en … en …
Sy byt op haar onderlip en weet intuïtief dat sy liewer nie haar gevoelens verder moet ontleed nie. Daarom vra sy gelykmatig: “Is Martelle verlief op Arendt?”
Sonette glimlag wrang. “Martelle flirteer met alle mans, maak nie saak hoe oud of hoe jonk hulle is nie.”
“Is sy ouer as Arendt?” vra Elzeri vinnig.
Sy hoop vurig dat Martelle minstens vyftig jaar oud en skreeulelik is. Sy is so jaloers dat sy die onbekende Martelle se oë kan uitkrap, besef sy, ontstel deur die intensiteit van haar emosies.
“Nee. Arendt was agt-en-twintig in Oktober en Martelle verjaar saam met my in Maart. Sy is twee jaar ouer as ek, maar sy is ’n beeldskone blondine, nie ’n lang, maer meisiemens met vlamrooi hare en sproete op haar neus nie.” Sonette sug selfbejammerend en vra wanhopig: “Dink jy ek sal ooit ’n man kry, Elzeri?”
Sy moenie nou lag nie, want as Sonette haar op haar naam aanspreek, is sy doodernstig, waarsku Elzeri haarself.
Sy betrag haar vriendin met oortuigende belangstelling en sê reguit: “As ek soos jy gebou was, was ek die afgelope vier jaar die grootste flirt op die kampus. Jy is lank en slank, nie maer en benerig nie. Jou digte vlamrooi hare is so uniek dat al wat man is jou agternastaar. Goeistetjie, jy het tog oorgenoeg mansvriende, Sonette?”
“Hope – met die klem op vriende. Die enkele man wat my vertel het hy het my lief, moes op ’n stoel staan om my te soen,” antwoord Sonette verwese.
“Dawie is langer as jy. Hoekom trou julle twee nie?” vra Elzeri.
Sy lees die skok in Sonette se oë en besef wat sy gesê het. Sy druk haar vriendin se hand gerusstellend en vervolg met ’n spytige glimlaggie: “Jammer, dit was ’n siek grappie. Vertel my liewer van die beeldskone Martelle.”
“Haar ouers boer op een van ons buurplase en gevolglik ken ons mekaar van kleins af. Maar meisies soos Martelle hou nie van vriendinne nie. Sy is die De Vosse se enigste kind en Wolwekrans is ’n groot, florerende skaapplaas. Dis logies, vriendin: trou ons ouer broer met Martelle, sal hy van Wolwekrans nog ’n groter sukses maak as wat dit reeds is.”
“Moenie dit sê nie! Moet dit nie eens dink nie!” kom dit heftig van Elzeri.
“Genade, ek het nie besef jy voel só besitlik oor ons ouer broer nie,” sê Sonette verras.
“Daar sê jy dit weer!” verwyt Elzeri. “Om liefdeswil, Sonette, Arendt is nie my ouer broer nie. Julle sê dat ons stieffamilie is, maar my ma is ’n onbekende vrou en Arendt is ’n befoeterde man wat my soos ’n lastige insek behandel. Verstaan jy nie? Ek voel nie deel van julle wonderlike groot familie nie. Ek is jammer as dit beledigend klink, maar ek is net eerlik.”
“Toe maar, ek verstaan. Jy is verward, nie beledigend nie,” antwoord Sonette met opregte empatie. “Ons het in elk geval oor daardie pyn, Martelle de Vos, gepraat. Ek hoop jy hou nie van haar nie, want as jy ook aan die arme Arendt gaan karring dat hy met haar moet trou … Dis om van naar te word!”
“Maar jou ouma-hulle weet tog seker Arendt is nie lief vir Martelle nie. Hoekom karring hulle aan hom om met haar te trou?” vra Elzeri onbegrypend.
“Nie ouma Sannie-hulle nie, maar Martelle se ouers. Oom Maarten en tant Chantelle vertel al jare lank vir almal wat wil luister dat Arendt hulle toekomstige skoonseun is. En wat Martelle betref, het Arendt geen ander keuse as om met haar te trou nie. Dankie tog sy weet nie hy is al terug uit Nieu-Seeland nie, anders was sy lankal hier.”
“Kom kuier Martelle vir hom in Huis Roosmaryn?” vra Elzeri, ontstel deur die hinderlike gevoel van jaloesie wat weer eens in haar binneste knaag.
“Sy het toe ek nog op skool was, maar dan het Arendt my en Henning uitgenooi om by hom in Huis Roosmaryn te kom slaap.” Sonette giggellag selfvoldaan. “Martelle het gou genoeg geleer om nie saans by Arendt te kuier nie.”
“Maar … maar ek het gisternag hier geslaap,” stamel Elzeri en voel om ’n onverklaarbare rede skuldig. “Sal jou ouma Sannie dink ek is ’n tweede Martelle?”
Sonette lag haar skaterend uit. “Domkop! Jy kon gisternag nêrens anders geslaap het nie, want die rivier het afgekom. Almal op Oggendglorie weet in elk geval jy gaan met dokter Dawie Coetzer trou.”
Haar uitdrukking word sober en dan vra sy aarselend: “Jy is mos nog lief vir Dawie, nè, vriendin?”
“Hoe anders?” vra Elzeri onverskillig en wonder waarom sy Sonette nie in die oë kan kyk nie. “Ek is naar van die honger – veels te naar om nou aan liefde en Dawie te dink. Ek gaan vinnig stort en verklee en jy kan solank vir ons vars koffie maak.”
Sonette kom orent en sê verwytend: “Jy weet nie hoe gelukkig jy is dat ’n wonderlike man soos Dawie jou liefhet nie. Jy behandel hom soos ’n paar uitgetrapte skoene: gerieflik, maar nie werklik belangrik nie.”
Elzeri steek in die deur van die badkamer vas. Dan byt sy die ontkenning op haar lippe terug en maak die deur agter haar toe.
Sonette glo liefde beteken ’n voortdurende gevoel van ekstase en ure van pynlike verlange na jou geliefde as hy nie by jou is nie. Arme Sonette. Eendag sal sy leer liefde is werklik soos ’n paar uitgetrapte skoene, juis omdat twee mense só volmaak by mekaar pas dat hulle nie anders kan as om mekaar lief te hê nie, dink sy en ignoreer die haperende gevoel van onsekerheid in haar binneste.
Die weduweehuis was indrukwekkend, maar die opstal van Oggendglorie is ’n brokkie geskiedenis, dink Elzeri en verkyk haar aan die outentieke Victoriaanse woning. Sy bewonder die ornamentele lys wat aan die borand van die gewels, die vensters, die voorstoep en die ingang aangebring is.
“Mooi, nè?” vra Sonette. Sy het die viertrek op ’n hoogtetjie tot stilstand gebring om Elzeri haar eerste kyk op haar erfenis te gee.
“Verruklik mooi!” beaam Elzeri entoesiasties. “Ek het sulke huise in Engeland gesien. Maar dis so groot! Drie verdiepings, met ’n ry vensters in die dak. Ek sal graag in een van die soldervertrekke wil slaap.”
“Saam met die vlermuise, spinnerakke, stowwerige ou meubels en trommels vol klere van oorlede mense?” vra Sonette skertsend en skakel weer die voertuig aan. “Die lang rylaan met die rye sederbome aan weerskante is glo nog deur Elizabeth Fitzpatrick laat aanplant. Oggendglorie het baie water, want hier is nege sterk fonteine en talle windpompe. En in ’n goeie reënjaar is die rivier standhoudend.”
“Jy is lief vir die plaas,” merk Elzeri verwonderd op.
“Vanselfsprekend, want dis waar ek gebore is en grootgeword het. Oupa Herman is al die derde Van Breda wat plaasbestuurder van Oggendglorie is, daarom voel ons almal deel van die plaas. Jy weet al dat Henning, my kleinboet, ’n nikswerd-leeglêer is wat ouma Sannie om sy pinkie draai. As Henning net sy streke sal los en harder werk om sy BSc-graad in landbou-ekonomie en veekunde te kry, kan hy die leisels by oupa Herman oorneem. Maar soms twyfel ek of dit ooit sal gebeur.” Sonette bring die viertrek in die koelte van ’n sederboom voor die opstal tot stilstand.
“Is Henning nie veels te jonk nie?”
“Hy is twintig, en al wat hy op universiteit doen, is jol. Op twintig was ek al met my derde akademiese jaar besig, maar Henning het nog net drie of vier eerstejaarvakke geslaag. Meisies en geld – dis al waarin my kleinboet belang stel.”
Sonette trek ’n vies gesig en lag dan haarself uit. “Jammer, mens, ek kerm soos ’n kloekende ma. Maar terwyl Arendt oorsee was, het Henning heeltemal handuit geruk. Oupa Herman is vyf-en-tagtig, veels te oud om hom oor ’n snuiter soos Henning te bekommer. En die liewe ouma Sannie glo alles wat Henning haar vertel.”
“Arendt het gesê hy boer. Kan hý nie jou oupa kom help nie?” vra Elzeri huiwerig, vreemd onwillig om sy naam te noem. Die man werk op haar senuwees, besluit sy, daarom dink sy voortdurend aan hom. Sy herroep sy sterk gelaatstrekke in die fynste besonderhede en wonder aanhoudend waar hy is en wat hy doen.
“Hy verkies om sy …” begin Sonette, en skrik haar asem weg toe iemand hard op die dak van die viertrek bokant haar stamp.
“Kletskous!” skel Arendt vlak langs haar. “Oupa Herman staan en vloek binnensmonds omdat ouma Sannie verwag het dat hy sy kerkpak moes aantrek om die meisiemens op Oggendglorie te verwelkom. Klim uit, julle twee, voordat daar ’n burgeroorlog op die voorstoep uitbreek!”
Elzeri sien die twee bejaarde mense op die voorstoep van die opstal staan. Sy besef dat hulle haar spesiaal inwag en klim haastig uit die voertuig.
“Geen stuk aanstellerigheid nie, meisiemens,” rammel Arendt se stem dreigend in haar oor, sy hand reeds ferm op haar elmboog. “Oupa Herman is nie ’n afgetrede regter nie, maar hy het sy landbougraad, en ouma Sannie is ’n gegradueerde onderwyseres. Behandel hulle soos ek jou ter wille van hulle gaan behandel: met tere liefde.”
“Los my, Arendt! Jou vingers sny my bloedsomloop af. Ek …” protesteer sy blosend van ergernis.
“Glimlag, meisiemens!” maan hy haar met ’n gedempte grom tot stilte.
Hy stap saam met haar die hoë houttrap op wat na die voorstoep lei en sê hartlik: “Hier is sy uiteindelik, Oupa en Ouma: die mooiste erfgenaam sedert die eerste Elizabeth Fitzpatrick!”
As sy nie op haar tande byt nie, gaan sy hierdie onbekende, vleiende Arendt oopmond aanstaar en sy oupa en ouma die indruk gee dat sy nie reg wys is nie, dink Elzeri. Sy glimlag senuweeagtig vir die lang, breedgeskouerde man wat sy regterhand na haar uitsteek. Sy hare is sneeuwit soos sy ruie wenkbroue en welige snor, sy vel tot leer gebrei deur tallose seisoene, maar hy staan kersregop, innerlike krag in sy fiere houding.
“Uhm, ek het nie my bril nodig om te kan sien sy is die ewebeeld van haar pragtige ouma Beth nie, Arendt,” sê Herman.
Hy vou Elzeri se hand in sy kneukelrige hand toe en kyk haar met wakker donkerbruin oë aan. “Dag, Elizabeth. Welkom op jou erfgrond en welkom in ons huis. Ek verneem ons is stieffamilie, maar ek verkies dat ons liewer goeie vriende sal wees nadat ons mekaar beter leer ken het.”
“Goeiemôre, oom Herman. Bly te kenne, oom. En baie dankie vir … vir alles wat oom vir ons plaas doen,” antwoord Elzeri. Sy is intens bewus van Arendt se hand wat haar arm vashou asof hy verwag dat sy enige oomblik op die vlug gaan slaan.
Herman slaak ’n hoorbare sug van verligting, draai na Sannie en sê: “Goed, vrou, dis afgehandel en nou is sy joune. Ek het werk om te doen.”
“Skaam jou, Herman. Ek het jou oor en oor gesê die dogter se naam is Elzeri, nie Elizabeth nie. Maar pas dit jou, is jy mos so doof soos ’n kwartel,” sê Sannie betigtigend, maar Herman gaan reeds die opstal binne.
“Ag, ja, daar loop hy weer – gee ’n mens nie eens die kans om behoorlik rusie te maak nie,” kla sy teenoor Arendt. Dan kyk sy na Elzeri en glimlag sonnig. “Foei, kindjie, jy lyk so op jou senuwees dat ek jou uit my hart jammer kry. Kom hier, sodat ek jou ’n drukkie kan gee,” nooi sy hartlik en hou haar arms oop.
Haar ouma Beth was ’n deftige stadsvrou wat ontwerpersklere gedra het en haar haarkapper elke week besoek het, maar tant Sannie is ’n ouma uit ’n feëverhaal: kort en mollig, met silwerwit hare wat in ’n kleinerige bolla agter haar kop saamgevat is. Sy het groot blou oë, ’n klein neusie en ’n glimlag wat tallose plooitjies om haar oë laat uitwaaier. Dit sal maklik wees om tant Sannie lief te kry, dink Elzeri en loop gewillig tot in haar arms om te soengroet.
“Welkom, liefie, welkom op Oggendglorie. Ek en jou ouma Beth het so dikwels op die foon oor jou gesels dat jy lankal soos een van my eie voel,” sê Sannie met ’n innige glimlag.
“Het tannie sowaar my ouma …” begin Elzeri verras. Sy swyg toe ’n rooikopkleuter met ’n sproetgesiggie en diepblou oë uit die huis kom en aan Sannie se romp pluk.
“Ouma! Ouma, kom!” beveel die seuntjie.
Sannie vat sy hand en paai: “Ouma kom nou-nou, Kallie.”
Sy draai terug na Elzeri en verduidelik met opvallende trots: “Kallie is ons vatlammetjie, Elzeri. Toe niemand hom wou hê nie, het ek en Herman hom gevat om groot te maak.”