Kallie is Sonette se ewebeeld, maar Sonette is beslis nie Kallie se ma nie, dink Elzeri. Sy wens sy kan ophou dink, want sy wil nie onthou dat Arendt se donker hare ’n koper glans in die son het nie. Arendt was nooit ’n rooikopseuntjie met sproete op sy neus nie … of was hy?
Sonette het gesê ’n meisie het hom seergemaak – was sy net sy meisie, of was hy getroud met haar? Is Arendt ’n geskeide man wat só ’n diep wrok teenoor sy gewese vrou koester dat hy Kallie verwerp het? martel sy haarself met vrae.
“Hallo, kindlief!” roep Sonette.
Sy plak een van Elzeri se tasse uitasem op die stoep neer en raap Kallie in haar arms op om vlindersoentjies op sy hele gesiggie te druk. “Jou pragtige kleinding! Gee my ’n drukkie en sê jy is lief vir my.”
“Hief Sonnie,” sê Kallie gewillig en begin in haar arms spartel. “Af! Af! Ouma, kom! Njalk! Njalk!”
“Ouma praat met Elzeri, Kallie. Ek sal vir jou melk en ’n lekker koekie gee,” praat Sonette paaiend met die kleuter terwyl sy met hom in haar arms die opstal binnegaan.
“Foei, Arendt, hoe kan jy toelaat dat Sonette tasse aandra opstal toe?” vra Sannie verwytend. Sy merk sy donker frons en vervolg pleitend: “Ek lees jou soos ’n boek, my liewe seunskind, maar ek sien nie vandag kans vir nog rusie nie. Toe, boetie, gaan haal nou Elzeri se tasse.”
“Ek maak nie rusie nie, Ouma. Maar as julle my nie almal in die duister gelaat het nie, sou ek lankal teruggekeer het om te verhoed dat –”
“Dat ek en jou oupa self ons vatlammetjie grootmaak?” val Sannie hom hartseer in die rede. Sy skud haar kop toe hy sy mond oopmaak om te antwoord en vervolg:“Jy hoef my nie weer te herinner dat ek nie nog twintig jaar gaan leef nie, liefie. Maar aan die ander kant: solank ek en jou oupa uitgespaar bly, is ons hier om na Kallie om te sien.”
Elzeri kyk ontsteld van die een na die ander en vra selfbewus: “Gee tannie om as ek solank in die opstal rondkyk?”
Arendt se linkerhand skiet uit en sy vingers sluit ferm oor haar regterhand. “Jy is nou een van ons, daarom hoef ons nie ons probleme agter geslote deure te bespreek nie. Kallie is ’n probleem, maar ouma Sannie kan dit nie insien nie. Dalk kan jy help om my ouma tot ander insigte te bring,” sê hy, sy stemtoon só gemoedelik dat Elzeri hom agterdogtig aankyk.
Hoekom wil Arendt haar deel maak van hulle probleme as sy kan aanvoel dat hy haar slegs met inspanning verdra? wonder sy ergerlik. Nie dat sy vyandskap haar in die geringste raak nie, want die verwarrende emosies wat hy in haar laat ontwaak, kan net uit weersin vir hom gebore wees. Dis waarom sy lighoofdig voel elke maal as hy haar hand vashou, redeneer sy met haarself en ontsnap dankbaar aan haar eie gedagtes toe Sannie weer praat.
“My sterwensdag is ’n probleem vir jóú, Arendt, nie vir klein Kallie nie,” sê Sannie beskuldigend.
“Nee, my oumatjie. Ek hoop Ouma leef vir altyd, maar as Kallie oor elf, twaalf jaar ’n tiener is, gaan Ouma nie so maklik kan bybly nie,” antwoord Arendt, uitdrukkings van liefde en kommer afwisselend in die blik wat hy op haar rig.
“Ja, ja, Boetieboet, dis wat jy die afgelope twee dae aanmekaar doen: vertel my van my kwynende kragte en my hulpelose einde in ’n rolstoel – so asof jy skielik ’n profeet geword het en al my siektes en kwale kan voorspel. Gaan jy nou Elzeri se bagasie haal, of sal ek dit met my kwynende kragte doen?” vra Sannie met ’n moedelose suggie.
Arendt loop nader aan haar, lê sy hande op haar skouers en gee haar ’n ligte drukkie. “My liewe oumatjie, hou op om wegkruipertjie te speel met die werklikheid elke maal as ek ernstig met Ouma wil praat. Riana is drie-en-veertig en sy en my pa is gretig om klein Kallie groot te maak. As Ouma net sal instem, sal Riana binne ’n paar dae hier wees om Kallie te kom haal. So nie, sal ek hom na hulle toe neem. Asseblief, Ouma, dink aan Kallie. Hy sal ’n beter toekoms in Nieu-Seeland hê.”
“’n Beter toekoms in ’n land vol vreemdelinge? Nee, my boetie, ’n duisend maal nee! Hoekom moet die arme bloedjie duisende kilometer weg van sy eie mense grootword? Agge nee, hartjie, is dit nie erg genoeg dat sy pa en ma hom weggegooi het nie? Hoeveel meer straf moet die stomme Kallie verduur as gevolg van die onverantwoordelikheid van sy ouers?” vra Sannie, haar stemtoon wisselend tussen ontsteltenis en verwyt.
“My pa en Riana sal net so lief wees vir Kallie soos wat Ouma en Oupa is. Kallie was pas sewentien maande oud, nog jonk genoeg om maklik by my pa-hulle aan te pas,” redeneer Arendt. Hy pers sy lippe hard saam en sê gedemp maar nadruklik: “Dink onselfsugtig, Ouma, en doen dit ter wille van Kallie se ouers.”
Sannie staar hom oomblikke lank in stilte aan en skud dan haar kop stadig heen en weer. “Ek kan nie, my liefie, ek kan nie. Soms praat jy my bang vir die dag van môre, maar ek het ’n belofte aan Kallie se ma gemaak en ek sal dit nie verbreek nie.”
“Ouma het ’n belofte aan Kallie se ma gemaak, maar wat van sy pa? Het sy pa geen sê oor sy seun se toekoms nie?” vra Arendt, sy stemtoon donker van erns.
“Moenie my omkrap nie, Arendt. Ek wil nie ’n woord oor Kallie se pa hoor nie. Jy ken die situasie tussen hom en Kallie se ma net so goed soos ek,” antwoord Sannie ontsteld.
Sy sug verlig toe ’n lang, rietskraal, ouer vrou met ’n wyerandstrooihoed op haar kop op ’n drafstappie die voorstoep nader. Sy is geklee in ’n kakiebroek en -hemp waaroor sy ’n kakelbont valletjiesvoorskoot dra.
“Ag, my hart, ek het nooit gedink ek sal so bly wees om ons oorlas van ’n plakker te sien nie, maar vandag is die vrou ’n genadige uitkoms,” sug Sannie. “Nie ’n woord verder oor Kallie nie, asseblief, Arendt. Assie van As het skerper ore as ’n waghond.”
“Hoei daar, julle gesiggies! Wat is dit van julle waghond, Sannie? Ek sien ou Boel hinkepink deesdae agterdeur toe en terug – die ene jig en rumatiek, amper soos my sondige Soois. ’n Mens sou sweer ou Boel en Soois het al die jare saam agter die lusernbale in die skuur gesuip!” gesels Assie opgewek terwyl sy rats die stoeptrap opdraf.
Sy bly voor Elzeri staan en bekyk haar met onbeskaamde nuuskierigheid. “Haai, engeltjie, maar jy is mos ’n alte mooie kind – veels te mooi om boonop ryk te wees. Maar skud eers blad, gesiggie. Ek is Agatha van As, maar al my vrinne noem my Assie, want dit klink jollier. Ek en my Soois was in die ou dae bywoners hier op Oggendglorie, maar Sannie sê dis nou polities korrek om te sê ons is sommer net plakkers. Bly te kenne, gesiggie.”
“Bly te kenne, tant Assie,” groet Elzeri met ’n spontane glimlag en skud Assie se maer, benerige hand wat oortrek is met bruin ouderdomsvlekke. Sy hou van tant Assie se vriendelike, donkerbruin oë wat wegkruipertjie speel tussen die talryke plooitjies wat haar skraal gesiggie soos kreukelpapier bedek. Haar lang, skerp neus en wye glimlag, selfs haar muisgrys hare wat in ’n bedremmelde poniestertjie onder die rand van haar sonhoed uitsteek, straal ’n aardse mensliewendheid uit.
Op hierdie oomblik is sy bereid om vir die res van haar lewe met tant Assie te gesels, dink sy, solank sy van haar twyfelvrae oor Kallie se ouers kan ontsnap. Sy vra belangstellend: “Woon tannie en oom Soois al lank hier op Oggendglorie?”
“Moenie, my liefie,” pleit Sannie vurig en vat Elzeri liggies aan die boarm. “Moenie die praatsieke ou siel rede gee om tot sononder op my voorstoep te staan en haar lewensverhaal aan jou te vertel nie. Kom saam, hartjie, ek wil jou so graag die ou opstal wys.”
Sy kyk oor haar skouer na Assie en vervolg goedig: “Baie dankie dat jy onthou het om Elzeri te kom groet, Assie. Ek is seker sy sal op ’n ander dag na jou lewensverhaal luister. Tot siens, Assie.”
“Ag, geeftig, Sannie, vir wat moet ek nou dadelik weer loop as ek my dun beentjies afgehol het om hierdie pragtige ruiker vir die mooie Elzeri te bring?” vra Assie afgehaal en hou haar linkerhand wat sy agter haar rug versteek het na Elzeri uit. “Kyk net die pragtige goudgeel afrikanertjies, engeltjie. Sulke dankbare blommetjies, wat groei waar hulle val en nie kla as hulle nie water kry nie. Amper soos ons armes – dooddollies waar ons ’n lêplekkie kry, en altyd dankbaar vir die krummels wat die rykes soos die liewe Sannie en die groothartige Herman na ons kant toe gooi.”
“Baie dankie, tant Assie.” Elzeri steek haar hand uit om die ruikertjie by Assie te neem, maar skrik toe Arendt sy hand vinnig uitsteek en die blomme voor haar neus wegraap.
“Hoekom doen jy dit?” vra sy onkant betrap.
“Tant Assie weet nie jy is allergies vir afrikanertjies nie, my meisiekind,” antwoord hy met soveel oortuiging in sy stemtoon dat Elzeri vir ’n oomblik wonder of sy wel allergies is.
“Allergies, sê jy?” vra Assie teleurgesteld. Sy betrag Elzeri met skeef kop-konsentrasie en glimlag met stralende begrip toe sy voortgaan: “Maar natuurlik! Haai, dat ek nou so dom kon wees. Jy is ’n rykmanskind, gesiggie, daarom sál jy allergies wees vir armmansblommetjies.”
Sannie staar Assie oomblikke lank onthuts aan en verduidelik dan geduldig: “My liewe Assie, enigiemand wat ’n reukorgaan het, is allergies vir afrikanerblomme, want die goed ruik soos kakiebos. Jy het ’n goeie hart, Assie, maar partymaal vergeet jy om te dink of te ruik. Vat jou onwelriekende blomme en sit dit in jou eie huis.”
“On-wel-rie-kend,” herhaal Assie en beklemtoon elke lettergreep. Sy tuit haar lippe en sê wantrouig: “Partymaals wonder ek of jy aspris geleerd klink sodat jy my skelmpies kan vloek, ou Sannie, want jy weet ek ken nie al die geleerde vloeke nie.”
Arendt kug agter sy hand en slaan sy arm om Assie se smal skouers. “Kom saam, tant Assie. Ouma Sannie het nog nie die geleentheid gehad om met Elzeri te gesels nie. Tannie kan my geselskap hou terwyl ek Elzeri se bagasie aandra opstal toe.”
“Ag, maar dit sal jollie wees, Arendt! Ek kon van ver af sien jy klou die mooie Elzeri se hand styf vas, en ek hoor mos jy noem haar jou meisiekind. Haai, broertjie, is Elzeri die rede dat jy eindelik teruggekom het na ons eie land toe? Sal ek solank julle troukoek bak? Ek is net ’n polities korrekte plakker, maar ek is die baasbakster van die kontrei, selfs al sal die jaloerse Sannie dit nooit in haar dag des lewens erken nie,” praat Assie onnodig hard om seker te maak dat Sannie elke woord hoor.
“Is tant Assie doof, tant Sannie? Hoekom praat sy so hard?” vra Elzeri, haar wange vlammend van verleentheid.
Sannie lag bedroë. “Die vermakerige ou siel sou vir my tong uitgesteek het as sy die moed gehad het, want sy het haarself reeds wysgemaak Arendt verkies haar geselskap bo myne,” antwoord sy.
Sy merk Elzeri se verleentheid en druk haar arm vertroostend. “Moenie jou aan Assie se bogstories oor jou en Arendt steur nie, my liefie. Assie se wêreldjie is bitter klein, en Oggendglorie en ons Van Breda’s is haar hele lewe. Soois se jare lange drankprobleem het verhoed dat hulle ooit ’n eie motortjie of selfs ’n televisiestel kon bekostig, en die televisiestel wat ons vir Assie gegee het, het Soois vir drankgeld verkoop. Dit was vir Assie ’n groot verligting toe Soois verlede jaar besluit het hy gaan by sy broer en skoonsuster op Simonstad aftree. Assie het geweier om saam met hom te gaan, want Soois se broer is ook aan drank verslaaf. Assie vertel my sy bid gereeld dat Soois nooit sal terugkom nie, want hy sal haar pensioengeldjies steel.”
“Ek verstaan, tannie. Woon tant Assie haar lewe lank op Oggendglorie?” vra Elzeri terwyl hulle die voorportaal binnegaan.
“Vandat sy op sestien met die sukkelaar Soois van As getroud is – en sy is nou drie-en-sestig. Dis hoe lank ek en Herman getroud is: drie-en-sestig jaar,” antwoord Sannie.
Sy bly langs die wye eikehouttrap met ’n dieprooi loper staan, en beduie met haar regterhand na die voorportaal en die sitkamer wat gedeeltelik sigbaar is deur die oopstaande dubbeldeur. “Kyk om jou rond, hartjie: alles wat jy sien, is joune. Dis die ene antieke meubels en Victoriaanse fieterjasies net waar jy kyk. Maar dis ’n gelukkige huis – ’n huis vol liefde en warmte, nie ’n koue, onpersoonlike museum nie.”
“Oupa Gideon-hulle se huis is ook propvol antieke stukke, daarom voel ek nie vreemd in hierdie ou opstal nie. Maar ménse maak ’n huis gelukkig, tant Sannie. Ek het in ’n gelukkige huis grootgeword,” sê Elzeri. Sy byt op haar onderlip en vervolg spytig: “Ek wens amper oupa Gideon het my nooit van my ma vertel nie.”
Sannie kyk haar in stilte aan en sê eindelik: “Kallie se ma het hom weggegooi om selfsugtige redes, my liefie, maar jou ma … Jy was haar geskenk van liefde – moontlik van die lewe self.”
“Ek verstaan nie, tant Sannie,” kom dit onbegrypend van Elzeri.
“Nee, jy sal nie verstaan nie, my hartjie, maar dis nie my reg om te verduidelik nie. Ek het uit my beurt gepraat, maar ek moes. Sien, ek ken jou ma, Riana, en ek het haar hartseer en vertwyfeling gedeel. Ek is lief vir haar, daarom vra ek jou om nie te haastig te oordeel nie.”
“Dis makliker as ek glad nie aan haar dink nie, tannie.”
Sannie lag haar goedig uit. “As jy besluit om nie aan iets te dink nie, dink jy reeds daaraan, liefie. Maar kom ons klim die trap boontoe, anders keer Assie ons hier in die voorportaal vas en vertel ons haar lewensverhaal.”
Sonette klap die deur van die groot antieke hangkas toe en kyk om na Elzeri. “Dit was jou laaste bloesies. Het ons klaar jou klere uitgepak, vriendin?”
“Ja – en ek snak nog na my asem! Jy werk soos ’n warrelwind,” antwoord Elzeri met ’n bewonderende laggie.
“Omdat jy van loutere nuuskierigheid te lam is om iets met jou ronde handjies te doen,” sê Sonette kamma vies.
“My hande is nie rond nie!” reageer Elzeri geraak.
“Nie letterlik nie, maar as jy te lui is om te werk, sê ouma Sannie jy het ronde handjies. Kom ons sit op die breë vensterbank en skinder oor Kallie,” nooi Sonette en maak haar tuis op die gestoffeerde vensterbank.
Elzeri bly daar voor die spieëlkas staan, haar uitdrukking onseker. “Is jy ernstig, Sonette? Is dit nie verskriklik privaat nie? Ek bedoel, is ek veronderstel om alles oor Kallie te weet?”
“Niemand weet alles oor Kallie nie … Nee, laat ek weer begin: die mense wat alles weet oor Kallie, se monde is gesnoer.” Sy glimlag tergend toe sy voortgaan: “Ingeval jy gewonder het, vriendin: Kallie is nie my kind nie – ten spyte van sy rooi kop, sproetneusie en blou oë.”
“Aangesien ek jou reeds vier jaar ken en jou gereeld sien – afgesien van vakansies – het ek dieselfde afleiding gemaak,” antwoord Elzeri en kyk met opsetlike belangeloosheid na haar vingernaels.
“Dankie, ek sal dit as ’n kompliment aanvaar,” skerts Sonette. Sy wag dat Elzeri haar moet ondervra en haal dan haar skouers onverskillig op. “Ek weet jy stel nie belang nie, vriendin, maar Arendt was ’n rooikopseuntjie met sproetjies op sy neus,” sê sy doodluiters.
Sy glimlag ingenome toe Elzeri haar asem hoorbaar intrek en haar geskok aanstaar. “Het jou! Ek het geweet jy wonder aanmekaar of Arendt Kallie se pa is, want dis wat al die mense in die kontrei wonder.”
Elzeri frons lig en vra teësinnig:“Is Arendt ’n geskeide man?”
“As hy getroud was, sal ek nie weet nie, my maat, want ek is nie uitgenooi na enige huwelik nie. Dit is ’n moontlikheid, want wat hy die afgelope vier jaar in Nieu-Seeland gedoen het, is net sy geheim. Dalk weet my ouers, maar hulle sê ook niks.”
Elzeri kyk haar vies aan. “Jy weet so min soos ek,” sê sy misnoeg.
“Ek weet darem Kallie sal twee jaar oud wees in Junie en dat hy nouliks ’n maand oud was toe hy in ouma Sannie-hulle se sorg geplaas is. Kom nou, vriendin, moenie so mismoedig lyk nie. Ek het jou gesê my ouer broer hou van jou. Wees dierbaar teenoor hom, dan lap hy al sy geheime aan jou uit,” versoek Sonette met ’n ondeunde glimlag.
“Jy ly aan verbeeldingsvlugte,” sê Elzeri ergerlik.
Sy merk haar vriendin se ongemak en sê spytig: “Jammer as ek katterig geklink het, Sonette, maar Arendt krap my om. Hy laat my kriewelrig voel, daarom wil ek nie aan hom herinner word nie.”
Sonette se oë rek ongelowig. “Sê jy jy gril vir my aantreklike broer?” vra sy skepties.
“Nee, dis nie wat ek gesê het nie. Arendt tree so baasspelerig en oorheersend teenoor my op dat ek nie anders kan as om met hom rusie te maak nie. Terselfdertyd laat hy my dom en onervare voel, so asof ek nog nie geleer het om behoorlik met ’n mes en ’n vurk te eet nie.”
Elzeri wag dat Sonette haar uitlag, maar dié betrag haar met ’n uitdrukking van simpatieke begrip op haar gesig.
“Ek ken die gevoel, Elzeri. Glo my, as jy hard probeer, kan jy daarmee saamleef,” sê sy eindelik, haar uitdrukking ernstig.
Sy glimlag onverwags. “Kom ons skinder liewer oor Kallie se ouers, anders huil ek dalk op jou skouer. My pa is ’n enigste kind, maar ek het minstens ses kleinneefs met rooi hare, blou oë en sproetneuse. Enigeen van hulle kan Kallie se pa wees. En daar is sewe kleinniggies –”
“Ja, ja, ek weet: almal het rooi hare en sproetneuse,” val Elzeri haar onvergenoeg in die rede. “Maar ek ken nie een van hulle nie, daarom kan ek nie saam skinder nie. Jou ouma weet wie Kallie se ouers is, Sonette. Hoekom vra jy haar nie net nie?”
Sonette se oë word groot van erns en daar is iets soos ontsag in haar stemtoon toe sy antwoord: “Ouma Sannie is so verskriklik oud dat ek niks durf sê om haar te ontstel nie. Vier-en-tagtig is horingoud, vriendin. Ek verpleeg talle ouer mense en sommige is op sestig …” Sy breek haar sin af en beveel hard:“Haal asem, Elzeri! Jou oupa Gideon gaan nie omkap nie, maar jý gaan as jy ophou asemhaal!”
Elzeri glimlag verleë. “Ek doen dit altyd: hou my asem op as ek bang of bekommerd is. Kom ons vergeet liewer van Kallie en stokou mense. Ek wil graag na die perde gaan kyk.”
“En die skape, maat. Moet om liefdeswil nie vergeet om met groot belangstelling na al oupa Herman se stories oor sy geelbek-merinoskape te luister nie!” roep Sonette oor haar skouer, reeds op pad na die bopunt van die trap.
“Hoekom het die skape geel bekke?” vra Elzeri verdwaas en draf nuuskierig agter Sonette aan.
Elzeri bly oomblikke lank in die agterdeur van die opstal staan om haar blik oor die agterplaas, geplavei met ronde kegelstene, te laat dwaal. Die naaste buitegeboue is volgens die Victoriaanse styl met rooi bakstene gebou. Dis vreemd en terselfdertyd wonderlik om te weet dat die vrou wat verantwoordelik is vir hierdie historiese geboue, Elizabeth Fitzpatrick, se bloed in haar are vloei, dink sy.
Sy ervaar ’n tikkie trots op haar onbekende voorouer. Sy weet Elizabeth se man, Hendrik Weidemann, het vir alles betaal, maar dit was Elizabeth wat die inspirasie was. Hoe allesoorheersend moes Hendrik se liefde gewees het dat hy haar wense so stiptelik uitgevoer het?
Is Dawie se liefde vir haar groot genoeg om …? Nee, dis ’n verspotte gedagte. Sy en Dawie se verhouding is gegrond op kennis van mekaar, nie op onwerklike romantiese liefde nie. Dawie is veels te prakties om in vervoering te raak oor ou geboue, of om belang te stel in die besonderse liefde van Hendrik Weidemann vir Elizabeth Fitzpatrick.
Nogtans … Oggendglorie is die nalatenskap van twee mense wat mekaar liefgehad het met ’n liefde wat haar gevoel vir Dawie laat vervaag tot iets oppervlakkigs en alledaags. Die mediese wetenskap is Dawie se eerste liefde, die enigste onderwerp waaroor hy in vervoering kan raak – en sy aanvaar gelate dat sy altyd die tweede liefde in sy lewe sal wees.
Vreemd, dit het haar nooit gepla nie, maar daar het oornag ’n soeke in haar ontwaak, ’n seer verlange na iets, na iemand … iemand soos Arendt.
Sy trek haar asem bewerig in, oorweldig deur gevoelens van vrees en skuld: vrees om haar ware gevoelens vir Arendt te ontleed, en skuld omdat sy dislojaal aan Dawie kan wees, selfs al is dit net in haar gedagtes. Dawie het haar lief en sy is lief vir hom. Vir altyd. Hulle sal eendag – ’n verre eendag – trou en dolgelukkig wees.
“Wonder jy of jou Dawie dit sal oorweeg om ’n skaapboer te word, meisiemens?” onderbreek Arendt se tergende vraag onverwags haar gedagtegang.
Haar hart ruk met ’n blydskap wat sy opsetlik ignoreer en sy gluur hom vies aan.
Hy kyk egter oor die agterplaas uit, neem haar aan haar boarm en beveel: “Kom, meisiemens! Sonette is reeds besig om haar perd, Paddington, op te saal. Sy het my gevra om jou van ons mensvreterskape te red. Geelbek-merinoskape byt nie, bang meisie.”
“Om liefdeswil, los my arm, Arendt! Jy sleep my al weer saam met jou asof ek ’n kleuter is!” skree sy, kwaad vir haarself omdat sy so onuitspreeklik bly is om hom weer te sien, selfs al kry sy rillings van weersin of woede langs haar ruggraat af wanneer hy aan haar raak.
“Uhm. ’n Veeleisende, bedorwe brokkie, net soos die eerste Elizabeth. Verkies jy dat ek jou in my arms dra, meisiemens?” vra hy uittartend, maar hy verkort sy treë sodat sy gemakliker kan bybly.
Elzeri werp hom ’n nydige kyk toe. “Jy sal nie weet hoe om dit te doen nie! Jy het my soos ’n sak mielies – of sommer ’n speenvark – oor jou skouer gesmyt toe jy my gisternag gedra het.”
“Genugtig, meisiemens, wat anders kon ek in die omstandighede gedoen het? Ek moes jou in ’n donderstorm oor glynat grond en deur modderpoele veilig in my opstal kry. As ek gegly het, kon ek met my regterhand keer dat ons nie op ons gesigte in die modder beland nie. Dis wat heel waarskynlik sou gebeur het as ek jou in my arms gedra het,” verduidelik hy met ergerlike verdraagsaamheid.
Daar doen hy dit al weer: klink meerderwaardig en laat haar dom voel, dink Elzeri misnoeg. Maar as hy hoop sy gaan haar vererg en weer rusie maak, het hy hom misgis, besluit sy.
Sy kyk met ’n dankbare glimlag op in sy waaksame oë. “Jy was wonderlik goed vir my, Arendt. Baie, baie dankie,” sê sy soet.
“Klein pes! Jy bedoel nie ’n woord wat jy sê nie,” grom hy. “Wat doen Dawie met jou as jy so snipperig is met hom?”
“Ek het nooit rede om snipperig teenoor Dawie te wees nie. Ons het ’n volwasse verhouding,” antwoord sy styf en verberg haar innerlike onsekerheid agter ’n hooghartige masker.
“En al julle soene is seker klinies koud en higiënies. Ek dink ek verkies die irriterende snip,” sê hy bruusk.
Hy beduie na ’n groot gebou regs van hulle. “Dis die perdestal wat die eerste Elizabeth laat bou het en dis nog steeds in gebruik. As jy wil gaan perdry, gaan daarheen. Ek het werk om te doen.”
“Onbeskofte drommel!” skel sy gedemp toe hy met lang treë wegstap na ’n viertrek wat onder ’n bloekomboom geparkeer staan.
“En jy is ’n snip en ’n geitjie, ounooi,” praat ’n diep manstem geamuseerd uit die skadu van ’n peperboom links van haar.
Elzeri stoot die oorhangende takke van die peperboom opsy en sien Herman op ’n ruwe houtbank sit, sy gekneukelde hande besig met ’n knipmes en ’n stukkie hout.
“Hallo, oom Herman. Ek weet ek is soms snipperig, maar niemand sê ooit ek is ’n geitjie nie,” sê sy geraak. Sy kyk nuuskierig na die hout wat hy kerf. “Moet skaapboere allerlei goed uit hout kan kerf? Kan ’n mens nie alles wat jy nodig het in ’n winkel koop nie?”
“Ek is soggens om vieruur al by die koeistalle, ounooi, daarom gun ek myself ’n blaaskansie teen elfuur. En op vyf-en-tagtig het ek lankal geleer om my pligte te delegeer,” antwoord hy.
Hy glimlag met die onnutsigheid van die jeug toe hy vervolg: “Dit was nie dringende werk wat my so ongeduldig gemaak het toe ek saam met Sannie moes wag om jou te groet nie, maar ek …” Hy breek sy sin af en staar met geskreefde oë in die verte.
“Oom hou meer van skape as van mense,” sê Elzeri behulpsaam.
“Nie in die reël nie. Ek hou van my eie mense, maar ek benader vreemdelinge versigtig – veral as die vreemdeling my werkgewer is.”
“Maar ek …” begin Elzeri blosend. Sy glimlag verleë toe sy die vonkellag in sy oë sien. “Oom weet ek sal nooit eens probeer om oom se werkgewer te wees nie. Ek weet niks van skaapboerdery nie. Ek het nie eens geweet daar is skape met geel bekke nie. Ek het gedink alle skape se bekke is … vleiskleurig.”
Herman se lag rammel uit sy bors en rol dawerend oor die agterplaas. Dit laat hom hulpeloos terugleun teen die rugleuning van die bank, lagtrane glinsterend op sy wange.
Oom Herman het die wonderlikste lag wat sy nog gehoor het, want dit het ’n eggo, dink Elzeri, asof hy voor haar sit en terselfdertyd agter haar staan en lag. Sy draai wantrouig om en sien Arendt agter haar staan. Sy gesig verdwyn agter die groot wit sakdoek in sy hand.
Hy gebruik die sakdoek, steek dit in sy broeksak en kyk met ’n onleesbare uitdrukking op sy gesig na haar. “Hooikoors. Ek kry niesaanvalle,” verduidelik hy, maar ingehoue lag laat sy woorde wankel.
“Lekkerste wat ek in ’n lang tyd gelag het, ounooi,” kug Herman en kyk afwagtend na Arendt. “Wat is dit nou weer? Netnou het jy nie tyd gehad om na my nuwe Goue Ram te kyk nie, en nou het jy skielik tyd om luistervink te speel. Is jy bang ek gaan oor jou duistere verlede praat en jou kanse met die mooi Elzeri belemmer?”
Arendt ignoreer sy geterg en antwoord skertsend: “Ek is bly ek het my verniet oor Oupa se geheueverlies gekwel, want Oupa kan sowaar die meisiemens se naam onthou.” Hy hou ’n bottel na Herman uit. “Dis koue rooibostee. Ouma Sannie het my voorgekeer en gesê dis ’n saak van lewe en dood: ek moet sorg dat my bejaarde oupa die tee drink, voordat hy aan dehidrasie sterf.”
“Asof die plaas nie met die meeste fonteine en boorgate in die kontrei spog nie! Maar dankie, ou seun.”
Herman neem die bottel, verwyder die prop en drink ’n paar slukkies voordat hy na Elzeri draai. “Soms het ouderdom sy voordele, ounooi. Ek was so de vieste in oor Sannie se gekerm dat ek my kerkpak moet aantrek om jou te ontmoet dat ek voorgegee het ek is skielik kort van geheue.”
Sy blik draai na Arendt en pen hom vas. “Nou weet jy waarom ek Elzeri Elizabeth genoem het, knaap, maar ek weet nog nie waarom jy hier ronddraai nie.”
“Om die arme meisie uit haar onkunde te red, Oupa,” antwoord Arendt met onoortuigende erns.
Hy wend hom tot Elzeri. “Die eerste boere wat die geelbek-merinoskape geteel het, Fanie en Fransie Naudé, het op Geelbeksfontein en Nooitverwag in die Richmond-distrik geboer. Ek neem aan hulle spesiale merino’s is na Geelbeksfontein genoem – nie omdat hulle skape geel bekke gehad het nie, meisiemens.”
“Moet wees,” beaam Herman, “want die twee broers het die Geelbek Gladdelyf Merinostoet geregistreer. Hulle het ’n beter vleisskaap geteel. Die oorspronklike merino’s het heelwat meer voue en plooie om die nek en die lyf, wat voordelig is vir die wolboer, maar nie as ’n mens slagskape wil teel nie. Ons verkoop veertig persent van ons hamellammers op vyf of ses maande, en dan weeg hulle reeds tussen sestien en agtien kilogram.”
Sy is nie seker wat hamellammers is nie, maar sy gaan nie weer haar onkunde verraai nie, dink Elzeri. Sy knik net haar kop instemmend om te kenne te gee dat sy Herman verstaan.
“Oupa Herman het al agtien Goue Ramme en byna vier dosyn Silwer Ramme gehad,” lig Arendt haar in, sy uitdrukking trots.
Sy weet wat ramme is, dink Elzeri verlig en vra belangstellend: “En hoeveel wit ramme met gewone wit wol, oom Herman?”
Arendt en Herman kyk mekaar in stilte aan. Dan spring Herman met onverwagte ratsheid op en loop met ’n dolle vaart weg, oënskynlik oorval deur ’n niesaanval wat hy in sy kakiesakdoek probeer smoor.
“Jou oupa maak snaakse geluidjies, Arendt. Nies hy of kreun hy? Moet ons hom nie help nie?” vra Elzeri besorg en kyk Herman gekwel agterna.
Arendt bly haar ’n antwoord skuldig. Sy draai om na hom, geïrriteer deur sy stilswye, maar hy staan met sy rug na haar gekeer, sy kop vooroor en sy skouers rukkend.
“Goeiste, kry julle hele spul vreemde aanvalle?” vra sy oorbluf.
Arendt kug ’n paar maal, gebruik sy sakdoek en draai dan met ’n uitdrukking van sombere erns na haar. “Dis ’n allergie waaraan net ons Karooboere ly, meisiemens. Eintlik net die boere wat kuddes geelbek-merinoskape het en gereeld hulle Goue en Silwer Ramme moet skeer,” verduidelik hy en sug en kug agter sy hand.
“O … Ek veronderstel dis net die geelbek-merino’s wat goue en silwer wol het, want ek was oortuig alle skape het wit wol. As die goue en silwer ramme aan my behoort, kan jou oupa maar die hele spul verkoop, want ek wil nie jou oupa se dood op my gewete hê nie,” versoek sy bekommerd.
Arendt staar haar stom aan, maar sy mondhoeke kry die vreemdste trekkings en enkele trane kruip oor sy wange.
“Hoekom huil jy, Arendt? Is jou oupa se toestand kritiek?” vra sy ontsteld.
Hy is skielik by haar en sy arms gryp haar teen sy bors vas en hou haar gevange. Sy voel sy hele liggaam ruk en wonder of sy hom moet troos.
Sy hoor hom ’n paar maal snik, voordat hy gesmoord pleit: “Moenie, meisiemens. Moenie jou mond oopmaak nie, anders word ek die eerste man in die geskiedenis wat hom doodgelag het.”
“Lag?” krys sy beledig. Sy probeer om weg te beur van hom, maar sy arms word ’n staalband wat ontsnapping onmoontlik maak.
“Los my, Arendt! Ek het medelye met jou oupa se siekte, maar jy dink die situasie is ’n groot grap. En hou op om my so styf vas te hou, want jy druk my pap!”
“Selfbehoud,” antwoord hy bokant haar kop. “Ek is net versigtig, want jy het my gelukkig gewaarsku jy doen karate. As ek na jou kyk, meisiemens, gaan ek weer lag, daarom hou ek jou so styf vas. Goue en Silwer Ramme is toekennings wat deur die Veldmerinoklub aan die beste geelbek-merinoramme gegee word, maar alle merino’s het wit wol.”
“O. Dis half jammer, want ek sou graag skape met goue of silwer wol wou sien,” sê sy spytig.
Hy neem haar aan die skouers en stoot haar effens weg van hom sodat hy in haar gesig kan kyk. “Is jy nie eens ’n klein bietjie vies omdat ek en oupa Herman jou uitgelag het oor jou onkunde nie?”
“Natuurlik nie. Oupa Gideon het my gereeld uitgelag as ek iets doms gesê of gevra het. Hy sê dis waarvoor die internet daar is: ek kan navorsing doen as ek iets nie weet nie. Maar ek het nog nooit genoeg in skape belang gestel om enigiets oor hulle te lees nie,” erken sy ongesteurd.
Sy is bly sy het Arendt laat lag, dink Elzeri, want die gloed in sy oë straal ’n warmte uit wat haar maklik kan laat vergeet dat sy aanvanklik geglo het hy het die wrede oë van ’n roofvoël. Hy het mooi oë … digte, geboë wenkbroue … ’n vierkantige ken … en lippe wat vra om gesoen te word.
“Dink jy wat ek dink?” vra hy, ’n warm intimiteit in sy stemtoon.
“Los haar, jou vuilgoed!” bulder ’n manstem saam met die klank van naderende voetstappe. “Hoeveel vatlammetjies gaan jy nog by ons opstal aflaai, ouboet Arendt?”