Henning streep sy lippe grimmig saam. Sy gelaat verkleur beurtelings doodsbleek van skok en vuurrooi van verleentheid en woede, sy oë briesend op Elzeri.
Hy steek sy hand in sy broeksak, haal die geld uit en gee dit vir Arendt. “Tel dit, my vrekkerige broer,” snou hy.
Dan wend hy hom tot Elzeri. “Ek het nie gedink jy is ’n kwaadsteker nie. Hoekom het jy vir Arendt gesê ek het my ouma se geld gesteel?”
“Ek het nie!” ontken sy heftig. “Ek het ter wille van jou …”
Sy laat haar sin uitrafel en kyk sku na Arendt, wat nog haar linkerhand in syne vashou. Sy lees die lag in sy oë en slaan haar blik haastig neer. Hy trek haar nader sodat sy langs hom staan, sy arm beskermend om haar skouers.
Arendt behandel haar nog steeds soos ’n lappop, dink sy opstandig. Hy het nie die vaagste benul van die verwoesting wat hy in haar binneste saai as hy haar aanraak nie. Sy moet veg teen die begeerte om styf teen hom aan te leun, om met haar wang teen sy bors na sy hartklop te luister. Om met die betowerende wonder van haar liefde vir hom na die diep, donker timbre van sy stem te luister. Om net by hom te wees, vir altyd syne te wees …
Nee … nee! Wat het van haar trots en selfrespek geword? Sy is nog Elzeri, en geen man …
Maar Arendt is die enigste man in haar heelal. Sy is sy gewillige slavin en hy is haar goue prins wat haar met onsigbare kettings gevange hou, dink sy met die bittersoet verlange van ’n vergeefse liefde.
“Elzeri het ter wille van jou vir my ’n lang liegstorie vertel, Henning,” sê Arendt afkeurend. “Jy het kamma die geld vir haar gegee, maar sy het dit verloor, en die groothartige tant Assie was bereid om haar karige pensioengeld te gebruik om vir jou diefstal te vergoed. Genugtig, man, as jy dan moet steel, sorg dat jou slagoffer ’n man is wat jou ’n paar dwarsklappe kan gee!”
“Ek is nie ’n dief nie! Ek is ook nie ’n bullebak soos jy wat die waarheid uit ’n hulpelose meisie soos Elzeri skud nie. Ek onthou maar te goed hoe jy my rondgeruk het toe ek klein was!” sê Henning beskuldigend.
“Dit was nie nodig om die waarheid uit Elzeri te skud nie, want sy is net so ’n deursigtige leuenaar soos jy. Jy stotter en bloos, en sy kyk oormekaar en praat só vinnig dat haar tong knoop,” antwoord Arendt. Hy druk Elzeri se skouers liggies en vervolg tergend toe sy opkyk na hom:“Onthou dit in die toekoms, meisiemens. Moenie vir my jok nie, want ek kyk dwarsdeur jou.”
“Gee ouma Sannie se inkopielys vir Arendt en laat ons skuif, Elzeri. Of het hy jou klaar oortuig ek is ’n dief ?” vra Henning en kyk haar beskuldigend aan.
“Jy gaan nêrens nie, Henning,” sê Arendt toornig. “Ek was besig op Naas Bredenkamp se plaas toe Ouma my bel om te sê ek moet ’n draai by die winkel maak omdat sy bang is dat sy jou nie genoeg geld vir haar inkopies gegee het nie. Voordat ek daar weg is, het Ryk in sy sportmotor opgedaag en my vertel dat hy Elzeri voor die winkel ontmoet het en dat jy by Tiaan in Gauteng kuier. Is dit korrek, Elzeri?”
Elzeri gluur hom aan, innerlik dankbaar dat haar ergernis haar ware gevoelens vir hom verskans. “Ja, dit is – en wat daarvan?” vaar sy onstuimig uit. “Ek wens ek het julle spul nooit geken nie, want as ek nie rusie maak nie, jok ek. Ek gaan terug na my oupa Gideon toe!”
“Hoe, meisiemens? Ek het jou motorsleutels en jou handsak in my kluis toegesluit. Jou oupa vlieg vanaand Nieu-Seeland toe, en totdat hy terugkeer, is ons jou enigste familie. En dan is daar my ouma Sannie en oupa Herman. Ek sal nie toelaat dat jy hulle harte breek nie, want hulle is al klaar lief vir jou,” sê Arendt beslis.
En sy is lief vir Arendt, daarom wil sy vir altyd en altyd op Oggendglorie bly, dink Elzeri met ’n gevoel van volslae onmag.
“Hou op om so gemeen teenoor Elzeri op te tree, Arendt,” kom dit partydig van Henning. “Goed, ek het haar gevra om vir Ryk te sê ek kuier in Gauteng, want ek is siek en sat van die man. As hy nie met sy blink sportmotor spog nie, spog hy met sy akademiese prestasies. Die vent is so onvolwasse soos ’n skoolkind wat eerste in sy klas wil staan!”
“Ek onthou jy het beter as hy op skool gepresteer, Henning, maar ek kan begryp jy is nou klaar met die dinge van ’n kind. Hoekom betaal jy Ryk nie die tweeduisend rand wat jy hom skuld nie? Ek is seker hy sal daarna nie weer navraag doen oor jou nie,” sê Arendt gelykmatig. Sy blik is deurdringend op Henning, wat opnuut verbleek.
“Ek ry!” snou Henning.
Hy werp Arendt ’n verwoede blik toe en klim in sy motor. Hy klap die deur dawerend toe en trek met skreeuende bande weg.
“Jy geniet dit om Henning te verneder,” verkwalik Elzeri Arendt terwyl sy Henning se motor agternakyk.
“Geniet?” Arendt glimlag wrang. “Beslis nie. Ek wens byna ek is terug in Nieu-Seeland, waar ek my net oor myself hoef te bekommer. Ek kwel my siek oor ouma Sannie wat vasbeslote is om klein Kallie groot te maak, en ek bekommer my nog meer oor Henning wat rigting verloor het. Al ons werkers was nog altyd eerlike en betroubare mense, maar ek het skaars grondgevat, toe waarsku ouma Sannie my dat ek altyd my kontantgeld in my kluis moet toesluit en niks kleins wat kosbaar is, moet laat rondlê nie.”
“Iets kleins soos ’n selfoon?” vra Elzeri aarselend. Arendt knik bevestigend. Hy neem sy arm weg van haar skouers en kyk haar met fronsende erns aan. “Ja. En dit geld vir jou ook, meisiemens. Ek beskuldig Henning nie van diefstal nie – ek kan en wil nie so iets van my broer glo nie – maar ná hierdie inkopiestorie het ek my bedenkinge.”
“Nee, Arendt. Henning was so haastig om weg te kom toe hy Ryk se motor voor die winkel gewaar het dat hy nie aan die inkopiegeld gedink het nie.”
“Dis moontlik, maar dis ook moontlik dat hy gehoop het jy sal uit jou eie sak vir die inkopies betaal. Jy sou natuurlik as jy jou bankkaart by jou gehad het, of hoe?”
“Ja, ek sou, want ek kan nie net op julle teer omdat ek ’n kuiergas is nie. Henning is in elk geval net ’n student, en studente is gewoonlik arm,” sê sy belangeloos.
Sy voel so mistroostig dat sy in trane wil uitbars. Sy wil nie oor Henning praat nie, want sy doen en late raak haar nie. Sy wil weer in Arendt se arms staan, opkyk in die songoud van sy oë en sy lippe op hare voel, dink sy.
Sy sien die dansende lag in sy oë en voel haar wange gloei van verleentheid. Hoe kan sy so ’n gek van haarself maak? wonder sy verneder. Arendt kon haar begeerte in haar oë lees, en nou lag hy haar met sy oë uit.
“Verskoon my,” sê sy saaklik en draai weg van hom. “Ek gaan tant Assie met die inkopies help.”
Sy hand reik uit en sluit met warme intimiteit om haar boarm. “Vies omdat ek jou kleinboet kritiseer, kwaai meisie?” vra hy, sy glimlag geamuseerd.
Die aanraking van sy hand is soos lekkende vlamtongetjies wat ’n vuur van verlange deur haar liggaam laat sprei. Haar hart ruk seer in haar bors, en in haar ore sing haar bloed die oeroue melodie van die liefde. As hy haar net in sy arms wil neem en …
Nee, nee, dis die toppunt van dwaasheid! Arendt glo nog steeds sy is ’n emosielose lappop. En dis hoe dit sal bly, want voortaan sal sy hom vermy, besluit sy.
Sy kyk teen sy hoekige ken vas en sê met kille vyandigheid: “Henning is ’n aantreklike, aangename jong man. Ek verkies sy geselskap bo joune, want hy doen minstens die moeite om my naam te onthou.”
Hy lag sag, genotvol. “Meisiemens, my meisiemens, die dag as jy ophou rusie maak met my, huil ek soos ’n baba,” terg hy.
Dan gaan hy ernstig voort:“Ek het ’n afspraak op Wolwekrans, en ek moes al gery het. Ek sal vir Sonette bel en haar vra om jou en tant Assie te kom haal. Hier, hou die geld wat Henning my gegee het, ingeval tant Assie nie vir al die inkopies kan betaal nie.”
Wolwekrans! Dié naam is soos ’n emmer ysige water wat Elzeri terugskok na die koue realiteit van die hede. Sy weet Martelle de Vos se ouers woon op Wolwekrans, en vanselfsprekend sal Arendt gereeld by die beeldskone Martelle gaan kuier. Is Arendt en Martelle die ouers van klein Kallie? wonder sy en staar met leë oë voor haar uit.
Arendt sit die geldnote in haar linkerhand, vou haar vingers daarom toe en hou haar hand vas totdat sy onwillig opkyk na hom. “Dankie, meisiemens.” Hy buk onverwags nader en soen haar op haar mond, sy lippe ’n vlindersagte streling. “Ons Karooboere soengroet ons familie,” lag hy en klim in sy viertrek.
Hy het haar gesoen! Hoe durf hy? Hy gaan by Martelle kuier, maar hy het haar gesoen.
“Ek het masels! Ek hoop jy steek aan, jou … jou mansmens!” skree sy met ’n woede wat uit die onmag van haar hartseer gebore is. Sy hoor sy lag bo die gedreun van die enjin, en vlug na die veiligheid van tant Assie se geselskap.
Elzeri volg die voetpaadjie deur die bloekombome teen die hoogte uit op haar perd, Lancaster, se rug. Sy hou Lancaster in toe sy ’n hout-en-steenhut tussen die boomstamme gewaar.
Sy wag totdat Sonette op Paddington by haar aansluit en vra nuuskierig: “Woon iemand in dié ou plek?”
“Nee, vriendin, dis ’n stokou herdershut wat al dekades lank leeg staan. Toe ons tieners was, het ek en Henning gereeld hier kom wegkruip as ons nie met die plaaswerk wou help nie. Arendt kan die skoorsteen van die herdershut van Huis Roosmaryn af sien, maar ons opstal is kilometers hiervandaan. Daar is net ’n voetpad deur die bloekombos, en oupa Herman het gelukkig gedink dis te veel moeite om ons in sy bakkie te volg en dan boonop te moet voetslaan na die hut toe. Dit staan bekend as Wembleystasie.”
“Goeiste, julle het die hele Londen op Oggendglorie, want julle ryperde is almal na voorstede van Londen vernoem,” merk Elzeri geamuseerd op.
“Blameer die patriotiese Elizabeth Fitzpatrick, want sy het met die tradisie begin om haar perde na die voorstede van Londen te vernoem.” Sonette glimlag treiterend. “’n Honderd jaar gelede was Oggendglorie nog bekend as Morning Glory, maar een van jou voorgeslagte het die naam verafrikaans.”
“Oggendglorie klink mooier,” besluit Elzeri,“maar ek hou van tradisie. Ek kuier nouliks twee weke hier, maar ek hoop werklik Henning sal aanstaande jaar beter op universiteit vaar, sodat hy eendag die plaasbestuurder van Oggendglorie kan wees. Julle Van Breda’s is ook deel van die plaas se tradisie.”
“Jy is baie erg oor ons kleinboet,” sê Sonette, haar uitdrukking onleesbaar.
“Ja. Dis so maklik om met hom vriende te wees. En omdat hy ook met vakansie is, het ons hope tyd om te gesels en saam rond te rits in sy motor,” antwoord Elzeri met gedwonge lighartigheid, want op die rand van haar bewussyn tob dié gedagte: Arendt is selde indien ooit bedags of selfs saans tuis, want Martelle vereis al sy aandag. Sy is jaloers op die tyd wat hy saam met Martelle deurbring, en terselfdertyd dankbaar dat sy nie te dikwels alleen in sy geselskap is nie. Om haar geheime liefde aan hom te verraai, sal die grootste vernedering van haar lewe wees.
“Gelukkige Henning! Ek wed jý betaal vir sy brandstof en julle flieks en etes,” merk Sonette skamper op.
“Hoekom nie? Jy weet tog ek sal jou ook trakteer as jy saam met ons wil kom, maar jy verkies om by jou ouma te bly.” Elzeri frons gekwel. “Werk sy nie te hard nie, Sonette? Sy is altyd in die kombuis besig, selfs al is daar oorgenoeg werkers om haar te help.”
“Ouma Sannie glo sy sal doodgaan as sy haar verbeel sy’s ’n oumens wat heeldag hande gevou op die stoep moet sit en niks doen. Dis hoekom ek nie rondrits nie: ek sorg dat sy nie te veel doen nie. En ek hou Kallie besig.” Sonette frons bekommerd toe sy voortgaan: “Ek stem saam met Arendt: ouma Sannie is te oud om ’n woelige kleuter groot te maak.”
“Het jou ouma jou al vertel wie Kallie se ouers is?” vra Elzeri huiwerig.
“Nee, vriendin, maar ek is net so nuuskierig soos jy,” lag Sonette.
Sy vra met onverwagte erns: “Hoekom bel jy Dawie nooit nie? Hy bel my elke dag, en ek dra ewe dierbaar sy boodskappe aan jou oor. Het jy hom skielik ontgroei?”
“Natuurlik nie!” ontken Elzeri met ’n heftigheid wat aan ergernis grens. “Dawie is soos een van my vingers – deel van my. Ek wil nie op jou ouma-hulle se landlyn bel nie, dis al.”
“En jou selfoon?” vra Sonette wantrouig.
Elzeri sug oorwonne. “Ek leen myne aan Henning, want hy het syne verloor. Moet om liefdeswil nie vir Arendt daarvan sê nie, want hy verdink Henning klaar van allerlei misdade.”
“In daardie geval, my groothartige vriendin, kan jy mý selfoon leen. Jy weet watter ongereelde tye Dawie bel as hy baie besig is in Ongevalle – soms bel hy my ná middernag om interessante gevalle met my te bespreek en boodskappe vir jou te laat.”
“Maar …” Elzeri staar Sonette oomblikke lank sprakeloos aan, maar Sonette streel met haar hand oor Paddington se nek en verkyk haar dan aan die naaste boom asof sy nog nooit tevore ’n boom gesien het nie. “Bel Dawie jou dikwels ná middernag, Sonette?”
Haar vriendin se gesig gloei vuurrooi van verleentheid, maar sy antwoord gelykmatig: “Gewoonlik, ja. Jy ken die roetine van ’n hospitaal: ná middernag word die noodgevalle minder, behalwe oor die Kerstyd en Oujaarsdag.”
Nee, sy het nie geweet nie, dink Elzeri met ’n onverklaarbare gevoel van verligting. Sy ignoreer Sonette se ongemak en sê onbesorg:“My liewe vriendin, my kennis oor die roetine van ’n hospitaal is ’n ronde nul, want ek stel nie in die geringste belang daarin nie.”
“Maar dis Dawie se grootste liefde!” protesteer Sonette.
“O, ek weet dit al die jare. Die mediese wetenskap sal altyd Dawie se eerste liefde wees, en ek is ’n minder belangrike nommer twee.”
Elzeri lag onwillekeurig toe sy die uitdrukking van misnoeë op Sonette se gesig sien. “Goeistetjie, Sonette, Dawie het nog nooit van my verwag om ’n verpleegster of ’n dokter te word nie. Oupa Gideon het my aangeraai om ’n B.Com.-graad met ekonomie en rekeningkunde te kry, omdat ek eendag ryk sal erf en iets van geldsake behoort te weet. Dawie stel beslis nie in finansies belang nie.”
“Maar … maar pla dit jou nie? As ek eendag trou, wil ek nie die nommer twee in my man se hart wees nie.”
Sy kon Dawie se tweederangse liefde met gelatenheid aanvaar, want sy het nie die grootsheid van ware liefde geken nie, besef Elzeri. Nou huil sy onsigbare trane van pyn omdat sy nie die eerste en enigste liefde in Arendt se lewe kan wees nie.
Sy kyk vinnig na Sonette en glimlag met die eerlikheid van ’n ou vriendskap. “Dis nie belangrik vir my om die eerste liefde in Dawie se lewe te wees nie. Ek wil nie jou selfoon leen nie, Sonette. Wees ’n skat en dra maar Dawie se boodskappe aan my oor, want ek het nie die krag om ná middernag sy interessante gevalle met hom te bespreek nie.”
“Spot jy met my?” vra Sonette, haar uitdrukking wisselend tussen wantroue en ergernis.
“Glad nie.” Elzeri kyk uit deur die bome na die herdershut, soek na die sondeurdrenkte hemelruim en vervolg sag: “Dit voel asof ek nooit in die stad gewoon het nie … en ek wil nooit weer teruggaan nie. Ek gesels liewer met oom Herman oor sy geelbek-merino’s en die koste van jakkalsdraadomheining as om aan Dawie te dink. Dis die betowering van Oggendglorie – of dalk het die spook van Elizabeth Fitzpatrick ’n lewenslange gevangene van my gemaak.”
“Maar as jy en Dawie aan die einde van volgende jaar trou? Hy sal nooit hier kom woon nie, want hy wil in neurologie spesialiseer,” protesteer Sonette verward.
“Moet ek dit uitspel, Sonette?”
Elzeri wag totdat Sonette haar onseker aankyk. “Jy het dit geweet lank voordat ek dit besef het, my beste vriendin: ek het Dawie lief soos wat ek lief is vir jou of Henning. Ek en Dawie ken mekaar so goed dat ons byna mekaar se gedagtes kan lees. Ons is regtig lief vir mekaar, maar nie met die liefde wat tot ’n huwelik lei nie.”
“Maar … maar Dawie is lojaal aan jou, selfs al is julle liefde nie romanties nie. Jy gaan sy hart breek as jy …” Sonette lyk asof sy in trane gaan uitbars.
“Onsin! Ons is nie verloof nie, en Dawie glo in elk geval ’n hart is net ’n pomp.”
Elzeri glimlag stadig, dansende lag in haar oë toe sy tergend voortgaan: “Dawie is heelwat langer as jy, Sonette, en jý sal romanties kan voel as hy jou hand vashou en die verskillende bene van die skelet bespreek. Sorg dat julle selfoongesprekke onmisbaar word vir hom.”
Sonette kry kleur op kleur en sê met pynlike verleentheid: “Jy het lankal geraai ek is verlief op hom.”
“Nee, nie verlief nie. Ek het altyd minderwaardig gevoel omdat jy met soveel opregte bewondering na hom gekyk het as hy iets aan ons verduidelik het. Nou weet ek dit was meer as bewondering,” antwoord Elzeri. Sy gaan ernstig voort:“Ek sal nie jou geheim aan hom verraai nie, en op Oggendglorie kan almal tot tyd en wyl aanhou glo ek gaan met Dawie trou. Is dit afgespreek?”
Sonette knik stom en sê dan effens hees: “Dankie … dankie dat jy nie my selfoon wil leen nie. Dawie se oproepe is die hoogtepunt van elke dag.”
Soos haar rare geselsies en gereelde rusies met Arendt, dink Elzeri. Sy glimlag verby die rustelose verlange in haar binneste en sê met valse entoesiasme: “Kom wys my die herdershut en die wonderlike towerfontein waaroor jy die hele oggend spog. Toe, ry vooruit!”
Elzeri staan in die perdestal, voer wortels aan Lancaster en gesels gedemp met die rooibruin merrie. “Sy perd is die grootste op die plaas, maar hy het my nog nie een maal uitgenooi om saam met hom te gaan perdry nie, Lannie. Eet ons saam, kyk hy na my asof alles wat ek sê hom amuseer. En skerts ek en Henning oor iets wat gebeur het, kyk hy met die oë van ’n roofvoël na my, asof hy dink ek is net so onbetroubaar soos –”
“Hoei daar, gesiggie!” roep Assie met ’n hees gansstemmetjie en maak ’n einde aan Elzeri se vertroulike alleenspraak.
Elzeri swaai om en sien Assie met haar wysvinger waarskuwend voor haar mond en groot, bang oë wat probeer om orals tegelykertyd te kyk. Sy sluip op haar tone nader deur die gang tussen die rye stalle.
“Wat makeer, tant Assie?” vra Elzeri verwonderd.
“Sjuut, man, gesiggie! Kan jy nie sien ek is ’n Russiese spioen nie?” vra Assie verontwaardig.
“Hoekom nie ’n Afrikaanse spioen nie, tannie?” vra Elzeri met gedwonge erns.
“Haai, engeltjie, is spioene nie almal bloedrooi Russe nie?” Assie is so afgehaal dat sy weer met haar normale blikstemmetjie praat.
“Nee, tannie. Alle lande het spioene. Maar hoekom speel tannie spioen?”
Assie kyk vinnig oor haar skouer na die ingang van die stal. Dan leun sy nader aan Elzeri en vra gespanne:“Is jy seker ons is moedersielalleen, gesiggie?”
“Ja, tannie. Ek het self vir Lancaster geroskam, en een van die werkers sal haar later na die perdekamp toe neem. Wat wil tannie my vertel?”
Assie kyk weer blitsig oor albei skouers en vertel met grootoog-ontsteltenis: “Van die ongeluk en rampe en siektes en dood wat so ampertjies op hierdie ou plaas gebeur het, engeltjie! Dit sou ’n slagting gewees het, my hartlam, want behalwe vir die gewone sondes van die predikante, glo Sannie en Herman dat lieg en geld leen die allergrootste sondes is!”
En nou voel sy soos die allergrootste sondaar, dink Elzeri betrap, maar vra belangstellend: “Wie het vir wie geld geleen, tant Assie?”
Assie se donker oë vernou tot skrefies van beskuldiging. “Ag, sies vir jou, gesiggie, jy weet mos!”
Sy sug bewerig en vervolg hartseer: “My oë is bruin en ou Soois se oë lyk soos modder, maar ek wou my lewe lank ’n ou seuntjie met blou ogies en wit haartjies gehad het, nes die liewe Henning. Vandat sy ma my die eerste maal permissie gegee het om hom in my arms te hou, was hy vir my soos my bloedeie kind. Nou nog, want Henning kan nie help vir sy sonde nie.”
“Ek weet van die tweeduisend rand wat Henning –” begin Elzeri ongemaklik.
“Sjuut, gesiggie! Op Oggendglorie het die mure ore en die muise is almal klikbekke! Dis hoekom ek tot in my siel beswaard is omdat daardie gierige goiing gebel het oor die geld. Bid jou aan, engeltjie: bel sommerso goedsmoeds en sê hy wil met Henning praat. En toe ek hom sê Henning slaap nog, sê hy ewe kontant ek moet dankie sê vir Henning omdat hy die tweeduisend rand saam met jou gestuur het. Geeftig, gesiggie, as die dierbare Sannie so ’n boodskap op haar nugter maag sou kry, was sy nou oorle’ Sannie van pure skaamte en vernedering!” Assie frommel haar valletjiesvoorskoot met senuweeagtige vingers in ’n bondeltjie op haar maag op.
“Ek sal nie ’n woord vir tant Sannie of oom Herman sê nie, tannie,” beloof Elzeri plegtig.
Assie staar haar met droewige oë aan en sug verwese. “Maar ék weet nou, gesiggie, en dis nou my hartseer. Want al wil ek hoe graag, kan ek jou nie terugbetaal nie.”
“Henning het reeds …” begin Elzeri, maar breek haar sin af toe sy die uitdrukking van verwyt op Assie se gesig lees. “As iemand my sou uitvra, sal ek sê Henning het my reeds terugbetaal, tant Assie. Tant Sannie wil nie hê ek moet enigiets tot die huishouding bydra nie, daarom help ek Henning met graagte. Ek wil nie die geld terughê nie, want ons is familie.”
“Jy verstaan nie, gesiggie,” sê Assie met hartseer verslaentheid. “Jy kan maar sê Henning is ’n siek kind, want spandeer hy nie geld nie, dan leen hy dit by sy vrinne of daardie bose geldskieters. Of hy verkoop alles wat hy het voor die voet. Ek sal hom my laaste sente gee, maar vandat ek van sy ou karretjie gehoor het, maak ek snags g’n oog toe nie.”
“Het Henning sy splinternuwe motor verkoop, tannie?” vra Elzeri ontsteld.
“Nee, engeltjie, nie die nuwe een nie, maar sy eerste karretjie. Vir my het die ou karretjie nog splinternuut gelyk, seker maar omdat ekselwers al stokoud is. En toe op ’n dag kom Henning hier aan saam met daardie gierige goiing van ’n Ryk Bredenkamp en sê sy ou karretjie is gesteel.” Assie lyk elke oomblik nader aan trane.
“Motordiefstal is algemeen, tant Assie. My oupa het –”
“Gesiggie, asseblief, bly net stil, want praat ek nie vinnig klaar nie, grens ek my oë dik,” val Assie haar met ’n bewerige stem in die rede.
Sy wag totdat Elzeri instemmend knik en vervolg dan met ’n fermer stemtoon:“My mense is nie algar plakkers nie, engeltjie, maar ons is maar armrig. My jonger suster se seunskind, Awie, sit op universiteit en leer hoe om ’n skelm prokureur te word – verbeel jou! Awie wou alte graag ’n eie karretjie hê en toe … en toe … Gollatjies, my hartlam, hoe sê ek dit?”
“Toe koop Awie Henning se gesteelde motor, tant Assie?” raai Elzeri onwillig.
“Nee, gesiggie.” Assie sluk ’n paar maal hoorbaar, pluk-pluk aan die valletjies van haar voorskoot en sê met neergeslane oë: “Henning het sy karretjie selwers aan Awie verkoop – vir goedkoop! Eers was dit net geld, maar nou jok die liewe seunskind aanmekaar.”
Sy kyk sku op na Elzeri en vra benoud: “Kan ’n mens tronkstraf kry as jy jou eie goed skelm verkoop, engeltjie?”
“Nee, tannie. Henning kon net nie geld van sy versekeringsmaatskappy eis nie. Was sy ou motor verseker?” vra Elzeri bekommerd.
“Nooit nie, lammetjie, want die stout seunskind het die geld wat sy pa-hulle vir die versekering gestuur het in sy eie sak gesteek. Nou betaal Herman selwers vir die nuwe kar, sodat Henning nie weer in die versoeking kan kom nie.”
Assie kyk met angsbevange oë na Elzeri. “Wat gaan ek doen, gesiggie? Awie wil oor Kersfees kom kuier, maar kom hy hier met Henning se ou karretjie … Agge, gollatjies, daar gaan moord en doodslag en trane en verdriet op Oggendglorie wees!”
“Nee, tant Assie. Waarsku Awie net om nie met die motor hier aan te kom nie, want Henning se mense sal woedend wees as hulle moet uitvind die motor is nie destyds gesteel nie. Oggendglorie behoort aan my, tannie. Sê vir Awie die eienaar van Oggendglorie wil hom nie op haar plaas hê nie,” sê Elzeri met ’n hooghartige lig van haar ken.
Assie staar haar oomblikke lank oopmond aan. Dan skril haar gierende laggie deur die stal en laat Lancaster verskrik sy kop opruk. “Gesiggie, jy is sowaar ’n propperse wonderwerk! Hier bekommer ek al dae lank my siel in ’n hoek in, en alles pure verniet! Dankie, my hartlam, baie dankie.”
“En ek sê ook by voorbaat dankie,” klink Arendt se stem vanuit die ingang van die stal. “Wat deel jy nou weer uit, meisiemens? Vry etes of vry brandstof vir my motor?” vra hy terwyl hy nader kom.
Assie kyk hom skuinskop aan, haar oë geskreef en haar lippe getuit van konsentrasie. Sy draai na Elzeri, wat gloede van ergernis kry. “Dis sy gal, gesiggie. As Arendt te veel room en vetterige vleis eet, raak hy so befoeterd soos nou. Jy het my mos vertel hoe wonderlik goed rooipeper en gemmer vir bloeddruk en rumatiek is – jy het nie dalk raat vir sy gal nie?”
“Tot siens, tant Assie,” sê Arendt nadruklik en sluit sy groot hand om Elzeri se boarm. “Ek en die meisiemens het ’n paar dingetjies wat ons graag privaat wil bespreek.”
“Ja, ek waai, ou grompot! Ek kan nie wag om my nefie te bel en hom Elzeri se boodskap te gee nie,” antwoord Assie uitgelate en draf die stal uit.
“Dan koop jy vir ander mans ook etes en brandstof, meisiemens? Hoe ken jy tant Assie se nefie?” vra Arendt agterdogtig.
Sy moet Arendt haat oor sy sarkasme, herinner Elzeri haarself. En sy moet die aanraking van sy hand op haar arm ignoreer, selfs al stuur dit rillings van ekstase deur haar hele liggaam. Arendt glo sy is net ’n lappop, maar sy is ’n lappop met ’n ruggraat, dink sy en kyk hom uitdagend in die oë.
“Ek is mondig, en wat ek met my geld doen, raak jou nie, selfs al besluit ek om vir twintig jong mans etes en brandstof te koop. Los nou my arm. Ek wil loop.”
“Jy kan nie, want ek hou jou vas en ek wil hê jy moet na my luister,” antwoord hy rustig.
Hy steek sy regterhand uit en streel oor Lancaster se neusbrug en voorkop. “Ouma Sannie het my vertel jy het wortels vir jou perd kom voer, want Kallie is olik, daarom kon Sonette nie vanoggend saam met jou gaan perdry nie. En soos gewoonlik lê Henning nog en slaap, nadat hy weer tot in die vroegoggendure in sy motor rondgerits het. Vandag sal jy wéér vir hom brandstof koop, sodat hy weer vannag kan rondrits. Pla dit jou nie dat hy jou net gebruik nie, meisiekind?”
“Jy klink soos ’n jaloerse ou oom, Arendt! Henning gebruik my nie. Hy gebruik my geld, wat ek met graagte vir hom gee,” antwoord sy vyandig.
“En leen hy weer geld by Ryk Bredenkamp, sal jy dit met net soveel graagte terugbetaal,” sê hy, sy arendsoë beskuldigend op haar gerig.
Elzeri voel verontwaardiging en ergernis in ’n vuurwarm gloed oor haar gesig skuif en vra boos: “Liewe land, is daar geen privaatheid op hierdie plek nie? Of ken jy toevallig al die skinderbekke in die kontrei?”
“Ek ry baie rond en ek hoor heelwat skinderstories, maar oor die algemeen raak hulle my nie. Henning is ’n Van Breda, daarom was ek bereid om sy skuld aan Ryk te vereffen, maar toe vertel Ryk my jy het reeds die tweeduisend rand terugbetaal. Ek sê dankie omdat ek ’n Van Breda is, maar ek vra jou in alle erns: Moet dit nie weer doen nie.”
Sy staan onwetend regopper en kyk hom met blitsende oë aan. “Moenie vir my voorskryf nie, Arendt! My ma is ook ’n Van Breda, daarom sal ek ter wille van haar Henning se goeie naam beskerm,” antwoord sy uitdagend.
Arendt betrag haar in stilte, die uitdrukking in sy oë onpeilbaar. Dan sug hy diep en draai weg van haar om met albei sy arms op die staldeur te leun.
“Jy verstaan nie die situasie nie, meisiemens. Ek is bekommerd oor oupa Herman wat veels te hard werk vir ’n man van sy jare, maar ek bekommer my meer oor Henning. Hy was ’n verantwoordelike knaap wat goed op skool gepresteer het en fluks op die plaas gehelp het. Vandat hy universiteit toe is, het sy hele persoonlikheid verander. Hy is skielik ’n leeglêer wat voortdurend by ouma Sannie of sy ma geld bedel – of aanhoudend sy selfoon verloor en ’n nuwe foon van ouma Sannie verwag. Hy kry meer sakgeld as die meeste studente, maar hy leen geld by Ryk. Vir hoeveel ander vriende skuld hy geld? En hoekom? Hoekom?”
“Omdat hy jonk is en meisies uitneem en duur geskenke vir hulle koop,” antwoord sy onverskillig.
Hy swaai om en kyk haar skerp aan. “Is dit wat Henning jou vertel het?” vra hy bruusk.
“Ja. Weet jy hoe duur kos ’n ete in ’n goeie restaurant? Henning is trots, daarom sal net die beste goed genoeg wees vir sy meisies. Solank hy weet sy ma en sy ouma Sannie sal hom finansieel help, sal hy aanhou geld uitgee. Dis húlle skuld dat Henning glo hy is ’n rykmanskind met ’n fortuin tot sy beskikking,” redeneer sy logies.
Arendt se oë vernou onder sy geboë wenkbroue. “Sy ma is jóú ma, meisiemens. Jy woon al byna drie weke op Oggendglorie. Praat jy en ouma Sannie dikwels oor haar?”
“Nee! Jou ouma wou ’n fotoalbum vir my wys, maar ek het vir haar gesê ek sal op ’n ander dag daarna kyk. Ek probeer nog om gewoond te raak aan die gedagte dat my ma ’n ander vrou se kinders grootgemaak het nadat sy my goedsmoeds weggesmyt het.”
“Ek en Sonette is my oorlede ma se kinders, maar Henning is jou halfbroer – hy is jou ma en my pa se kind. Maar jy weet dit tog?”
Daar is ’n ander soort pyn, besef Elzeri. Sy voel haarself innerlik terugdeins voor die verraad van haar ma jeens haar pa se nagedagtenis: haar ma het nie lank oor haar pa getreur nie, want Henning is nouliks een-en-twintig maande jonger as sy.
“Meisiemens? Jy is so wit soos ’n laken. Jy is nie dalk heimlik verlief op jou eie halfbroer nie?” vra Arendt besorg en lê sy hand liggies op haar skouer.
Sy tree weg van hom om aan sy aanraking te ontsnap en antwoord wrang: “Geen wonder Riana van Breda kon my al die jare so maklik ignoreer nie – sy het Henning gehad om lief te hê. Ek is my pa se kind en sy het my pa gehaat, daarom het sy my verwerp.”
Sy swyg effens kortasem en kyk Arendt met onstuimige oë aan toe sy vervolg: “As jy haar bel, sê vir haar ek haat haar ook. En ek verbied haar om ooit weer haar voete op Oggendglorie te sit!”
“Jammer, Elzeri, maar solank oupa Herman jou plaasbestuurder is, kan hy enigiemand uitnooi vir ’n kuiertjie. Riana … jou ma sal binnekort hier wees om al jou vrae te beantwoord.”