Sy haat haar onbekende ma en sy haat Arendt van Breda omdat hy Martelle de Vos lief het, dink Elzeri. Die gevoel van wanhoop en verlies is soos genadelose dolksteke wat haar hart aan repe kerf. Sy probeer om Arendt aan te gluur en besef dat sy duiselig is van hartseer en haat, want sy kan nie duidelik sien nie.
“Daar doen jy dit al weer, klein tjankbalie: huil sonder snikke,” treiter Arendt haar, sy stem paaiend. “Hier, dis my enigste sakdoek. As jy nie gou ophou huil nie, sal jy ’n hand vol strooi moet gebruik, want ek het nie ’n handdoekrol byderhand nie.”
Sy gryp die sakdoek, vee wild oor haar wange en skree verwoed:“Gaan weg, jou gevoellose bees! Ek sal my tasse nou dadelik gaan pak, en ek sal sorg dat ek nooit weer my voete op hierdie haatlike plek sit nie!”
“Lafaard,” jou hy haar uit. Hy vervolg, sy stemtoon troetelend: “Maar darem ’n hartseer lafaard, want jy huil nog gieters vol trane. Het jy geweet jou oë skitter soos groen smaragde as jy huil, mooi meisie?”
Sy woorde laat haar hoorbaar na haar asem snak en sy skrik haar trane weg. Arendt het gesê sy is mooi! sing haar hart.
Maar dan verdring haar nugtere rede haar blydskap en sy wonder skepties: wat daarvan? Lappoppe kan ook mooi wees, dink sy bitter en sê kil: “Ek hoef nie hier te bly nie. Ek het oorgenoeg vriende wat my met ope arms sal verwelkom. Of ek kan êrens in ’n hotel gaan woon, totdat jou stiefma weer weg is.”
“Hoe? Jou motorsleutels is nog in my kluis toegesluit.”
“Ek sal die polisie bel en hulle vra om jou te dwing om my motorsleutels vir my te gee. Ek het ’n selfoon!” dreig sy.
“Hierdie selfoon?” vra hy en haal haar foon uit sy broeksak.
“Dief! Jy het my sel gesteel, want ek het dit vir Henning geleen!” beskuldig sy hom verontwaardig.
“Kom ons sê ek hou dit in veilige bewaring vir jou. Henning verloor so maklik ’n selfoon, selfs dié wat hy van ouma Sannie leen. En al die plaaswerkers spog met duur selfone wat hulle glo spotgoedkoop by oom Wimpie se Winkel gekoop het.”
Sy frons bekommerd en vra onwillig:“Insinueer jy dat Henning sy eie en jou ouma se selfone aan die werkers verkoop het?”
“Ek insinueer nie, ek weet, want ’n hele paar werkers het saam met my grootgeword en is my vriende en vertrouelinge. Dit was nie moeilik om uit te vind wie sulke duur selfone aan hulle verkoop het nie.”
Elzeri weet dat sy bloos en sê verdedigend: “Ek hoef nie alleen skuldig te voel nie. Henning is jóú halfbroer ook.”
“Ek is te bekommerd oor ons broer om skuldig te voel, meisiemens. Oupa Herman klou aan die hoop vas dat Henning eendag die bestuur van Oggendglorie sal oorneem, maar as Henning só aanhou … Oupa moet ’n droom hê om hom die moed vir elke nuwe dag te gee.”
“Hoekom juis Henning? Waarom kan jý nie die bestuur van die plaas oorneem nie? Of is jy skatryk ná vier jaar van boer speel in Nieu-Seeland?” vra sy sarkasties.
Hy kyk haar onthuts aan. “Is jy nie eens ’n klein bietjie nuuskierig oor my nie, meisiemens? Het jy nog nie vir Sonette of ouma Sannie gevra waarom ek bedags en saans so dikwels uithuisig is nie?”
“Nee. Hoekom moet ek oor jou en jou meisie uitvra?” Sy hoop sy klink belangeloos, nie jaloers nie.
“Wel …” begin hy, sy stem week van ingehoue lag,“ek sal nie sê siek skaapooie of melkkoeie is my meisies nie, maar hulle is my pasiënte. Ek is ’n veearts, slim meisie, en ek het as veearts in Nieu-Seeland gepraktiseer. Ek verkies egter om met plaasdiere te werk, nie om skoothondjies se toonnaels te knip nie.”
“Wat maak dít saak?” vra sy kwasterig, bang dat sy haar verligting aan hom sal verraai. Hy kuier nie dag en nag by Martelle nie! Dalk … net dalk het hy Martelle nie onsterflik lief nie, hoop sy vurig.
Sy vra neerhalend: “Is jy te dom of te lui om te boer?”
“Ek het grade in veeartsenykunde én landbou, en as ek wil, kan ek voltyds boer, maar op die oomblik is ek te besig.”
Hy raadpleeg die ou stalhorlosie en begin wegstap terwyl hy vervolg: “Ek het ongelukkig ’n vroeë afspraak, anders kon ons saam gaan perdry het, meisiemens. Gaan vra ouma Sannie oor jou ma uit. En probeer vrede maak met die wete dat sy binnekort spesiaal kom kuier om jou te ontmoet.”
“My selfoon! Arendt, gee my selfoon!” skree sy en storm agter hom aan.
Hy swaai onverwags om, vang haar in sy arms en hou haar styf teen hom vas. “’n Meisie wat vrywillig in my arms hardloop, vra om …” begin hy en dansende lag tower songoud in sy oë.
“Ek is kwaad,” sê sy asemrig. Dit voel asof sy op die punte van haar tone op die rand van ’n duiselingwekkende diep afgrond staan. As hy haar soen, sal hulle saam wegsweef op ’n sagte lentebriesie van euforiese geluk. Maar laat hy haar gaan, sal sy aftuimel in die eindelose dieptes van eensame wanhoop.
“En ek is laat,” sê hy, sy uitdrukking ineens gesluier. Hy buk af en soen haar op die punt van haar neus. “Ek is lief vir jou ma, meisiemens. Moenie haar hartseer maak nie.”
Hy loop met lang hale by die stal uit.
“Wat van my selfoon?” skree sy, maar hy hou net aan stap.
En wat van haar hartseer? dink sy. Sy het letterlik in sy arms gestorm en al wat hy kon doen, was om haar op die punt van haar neus te soen.
Wat maak dit saak? vra sy haarself onstuimig af. As Arendt dink sy gaan op Oggendglorie sit en wag totdat haar hartelose ma haar verskyning maak, laat hom dit dink! Sy sal Lancaster opsaal en dorp toe ry. Sy sal geld trek, ’n treinkaartjie koop en teruggaan huis toe. Sy is klaar met Oggendglorie en sy mense; vir altyd klaar met Arendt wat … wat …
“Ek huil nie!” snik sy en gaan die stal blindelings binne.
Sy weet nou wat oom Herman bedoel het toe hy gepraat het van die weer wat elke dag opsteek en dat daar ’n storm broei, dink Elzeri. Sy weet nou ook November is ’n maand van storms in die Karoo, want ’n koue wind het skielik begin waai en die wit wolke het in ’n oogknip verander in ’n swart, donderende, blitsende massa. Die reën wat neergiet, laat haar voel asof sy onder ’n waterval staan en wag om te verdrink. Sy sit verwese en met toe oë op Lancaster se rug.
Sy weet ewe goed dat Lancaster nie van onweer en weerligstrale hou nie, want ná die eerste donderslag het hy van rigting verander en op loop gesit, oor drade gespring en ver gehardloop voordat sy hom ingetrek kon kry. As sy nie so miserabel nat en bang was nie, sou sy bly kon wees dat sy nie van die perd se rug afgeval het nie, dink Elzeri mismoedig. Maar nou is sy en Lancaster ewe bedremmeld, want hulle loop in sirkels in die reën, op soek na die pad dorp toe, wat spoorloos verdwyn het.
Hoe lank is hulle al verdwaal in die reën? Sy het vanoggend haar beursie met haar bank- en kredietkaarte in haar kamer gaan haal, ontbyt geëet en net ná tienuur Lancaster opgesaal en die pad dorp toe gevat. Sy kon al die kerktoring op Strachanville sien toe die storm losbars en die verskrikte perd op loop gesit het. Dit voel soos weke, maar sy weet vir seker dit moet ’n paar uur wees. ’n Hele paar uur, want sy is honger en moeg, maar veral koud en nat: klappertandkoud en papsopnat. En te bang om haar oë oop te maak, want elke maal as ’n verblindende weerligstraal aarde toe flits, val sy byna van die perd af.
Hy bly staan en sy sê tam:“Nee, Lancaster. As jy onder ’n boom staan, slaan die weer ons al twee dood.”
Hy ignoreer haar en die reën giet nog onverpoos op haar neer. Hulle staan nie onder ’n boom nie, besef sy. Sy maak haar oë op skrefies oop en sien ’n plaashek voor haar.
“Slim Lancaster,” prys sy. Dan sien sy die hek is met ’n koperslot toegesluit en sy sê verwese: “Kom ons soek ’n ander hek, Lancaster. Ek kan karate doen, maar ek kan nie koperslotte stukkend skop nie.”
Lancaster het lankal ophou loop, want hulle is albei ewe moeg, dink Elzeri suf. Hulle het ure lank die grensdraad gevolg en weer by ’n hek met ’n koperslot uitgekom. Dalk was dit dieselfde hek, maar sy sal nooit weet nie, want ná die tweede hek was daar meer grensdrade en meer hekke, totdat Lancaster moed opgegee het.
Nou staan hulle maar by die laaste hek en wag op beter dae. Die weerligstrale en donderslae het heelwat afgeneem in frekwensie en volume, maar die reën val onafgebroke uit ’n hemel wat by die oomblik swarter word. Broei daar nog een van oom Herman se storms? wonder sy benoud.
Sy hoor die naderende dreuning en maak haar oë verskrik oop, oortuig dat dit ’n tornado is. Sy sien die ligte van ’n voertuig nader kom. Sy is nie ’n springhaas wat versteen in ’n motor se ligte staar nie, dink sy en maak haar oë weer toe. Sy hoor die voertuig stilhou en ’n deur oopgaan en toeklap, gevolg deur plassende voetstappe.
“Waaragtig die moedswilligste entjie mens wat ek al ooit ontmoet het! As jy myne was, het ek jou ook weggesmyt, meisiemens! Besef jy hoeveel ure ek al na jou soek? Het jy die vaagste benul hoe siek van kommer ek … my arme ouma en oupa was? Wil jy hulle dood op jou gewete hê? Maak jou oë oop, ek praat met jou!” vaar Arendt verwoed uit.
Dit maak nie saak hoe koud en nat en moeg en honger sy is nie; dit maak nie saak hoe briesend kwaad Arendt vir haar is nie: hy was bekommerd oor haar en hy het ure lank na haar gesoek, dink sy, en dié wete steek ’n klein vreugdevuurtjie in haar binneste aan.
“Meisiemens, maak jou oë oop as ek met jou praat!” bulder hy harder as die donderweer.
Elzeri maak haar oë gehoorsaam oop en sê verwytend: “Jy praat nie, jy skree my doof en jy maak Lancaster bang. En jy het my selfoon gesteel.”
“Wat de joos het jou selfsugtige optrede met jou selfoon te doen?” vra hy kras, reeds besig om die hek oop te sluit.
“Alles. Ek kon iemand gebel het nadat Lancaster verdwaal het,” antwoord sy terwyl Lancaster deur die oop hek loop en weer gaan staan.
Arendt sluit die hek en kom tot langs die perd. “Skop jou voete uit die stiebeuels, meisiemens. Gou! Ek reën nat,” beveel hy bruusk.
Sy gehoorsaam sonder teëstribbeling. Sy voel hoe sy hande om haar middel sluit en haar met gemak uit die saal lig, en klou aan sy arms toe haar voete die grond raak. “Eina! My bene is morsdood van die koue. Dis alles jóú skuld, want ek kon niemand bel toe Lancaster verdwaal het nie.”
“Meisiemens, lees my lippe: ryperde verdwaal nie. Jy was die ruiter en Lancaster het net jou bevele uitgevoer. Wat soek jy hier op Horison?” vra hy toornig.
“Watter horison? Dis pikgitswartnag en daar is nêrens ’n horison nie, net vreeslik baie reën en donderweer. Hoekom staan jy in die reën en maak rusie met my? Ek en Lancaster is baie, baie moeg,” kla sy deur klapperende tande.
Arendt sê ’n woord wat sy haar oupa net een maal hoor sê het toe hy sy vinger met ’n hamer raak geslaan het. Hy hou haar met sy regterhand vas en ruk die deur van sy viertrek oop. Hy draai na haar, gryp haar aan die skouers, lig haar op en plak haar op die sitplek van sy voertuig neer.
“Skuif op, sit stil en bly stil! Ek gaan Lancaster afsaal voordat die saal permanent beskadig word deur die reën,” grom hy en klap die deur agter haar dig.
Dis lekker warm in die viertrek, besef sy, maar haar tande klap só hard opmekaar dat sy nie werklik kan dink nie.
“Waar is Horison?” kletter die woorde deur haar tande toe Arendt agter die stuurwiel inskuif en die deur toemaak.
Hy skakel die dakliggie van die viertrek aan, strek sy arm uit na die agtersitplek en sit ’n badhanddoek op haar skoot neer. “Jy lyk soos ’n verdrinkte hanslam. Maak jou droog, meisiemens. Ek skink solank vir jou ’n beker koffie. Dit behoort nog warm te wees.”
Geen regdenkende man kan verlief raak op ’n meisie wat soos ’n verdrinkte hanslam lyk nie, dink sy bitter. Sy vryf die ergste water uit haar hare en droog haar arms en bloesie af, voordat sy die handdoek om haar skouers drapeer.
Hy hou die beker koffie voor haar mond, en toe sy dit met een asem leeg drink, sê hy onthuts:“Stadig, meisiemens! As jy jou mond verbrand, vat ek jou nie dokter toe nie!”
Dis die lekkerste koffie wat sy nog gedrink het, want sy voel vir die eerste maal in ’n lang tyd weer naastenby warm. En Arendt is by haar. Dis vreemd dat sy so bly kan voel om by hom te wees, selfs al is hy smoorkwaad vir haar.
Haar lippe wil vanself glimlag noudat haar tande nie meer opmekaar klap nie, en sy moet haar dwing om nie na hom te kyk nie. Sy mag darem na sy hande kyk, want hy het die mooiste hande wat sy nog gesien het: groot, sterk, songebruinde hande met lang vingers … Snaaks, sy het haar nog nooit aan Dawie se hande verkyk nie.
“Ek wil huis toe gaan, nie dokter toe nie. En arme Lancaster staan nog in die reën. Het hy geweet ons is op Horison?” praat sy om die stilte te verbreek, seker daarvan dat Arendt haar met grimmige roofvoëloë aangluur.
Hy draai weer na die agtersitplek en sit ’n sagte donskombers op haar skoot neer. “Lancaster sal ons huis toe volg. Gee die nat handdoek vir my en wikkel jou in die kombers toe, meisiemens. Ons is nou-nou tuis, want Horison is ’n buurplaas van Oggendglorie. Horison is my plaas.”
Sy ril opnuut van die koue terwyl sy haar toewikkel in die kombers en vra afkeurend: “Hoekom het jy ’n plaas as jou oupa Herman te arm is om sy eie plaas te koop? Hoekom help jy hom nie om sy eie plaas te koop nie?”
Arendt skakel die dakliggie af en bring die viertrek in beweging. “Horison is ouma Sannie se erfplaas. Dit lê noord van Oggendglorie, oorkant die pad wat Strachanville toe gaan. Dis gerieflik naby, selfs al woon ek in Huis Roosmaryn. Oupa Herman het al die jare Horison en Oggendglorie saam bestuur, totdat my pa oud genoeg was om hom te help. Toe ek mondig geword het, het ek Horison geërf, en sedertdien word die bestuur van my plaas deur ’n plaasbestuurder behartig. Hy sal tot die einde van die jaar aanbly, en daarna sal ek self die bestuur van my plaas waarneem,” lig hy haar met ’n koue, onpersoonlike stemtoon in.
“Ek weet nog nie hoekom jou arme oupa Herman vir my moet werk as jy en jou pa julle eie plase besit nie,” sê sy onbegrypend.
“Tradisie of pligsgevoel – noem dit wat jy wil. Oupa Herman is die derde Van Breda wat Oggendglorie bestuur, en vir hom is dit ’n kwessie van eer en trots om die bestuurder van die grootste skaapplaas in die kontrei te wees. Die helfte van die skape op Oggendglorie is syne, en julle kudde is die grootste en wen die meeste pryse op die merinoskoue. En totdat jy op die toneel verskyn het, het hy geen probleme met die plaaseienaars gehad nie.”
“My ouma Beth was ’n ordentlike Elizabeth, nie ’n weggooikind met ’n halfbroer en ’n spul stieffamilie wat oor haar baasspeel nie. Ek wed net tant Assie is lief vir my,” sug Elzeri selfbejammerend en gryp haar maag vas. “Ek is so honger dat my arme maag kreun. Hoekom het jy nie vir my toebroodjies ingepak nie?”
Arendt bring die viertrek glyend tot stilstand. Hy skakel die dakliggie aan en draai na haar, sy gelaat ’n onverbiddelike masker, sy oë gloeiend van nouliks beheerste drif.
“Ons hou nie piekniek nie, meisiemens! Het jy naastenby ’n besef van die konsternasie en kommer wat jou onverwagte verdwyning veroorsaak het? Die storm het skielik losgebars en jy was nêrens nie. Sonette het gou genoeg vasgestel dat jy én Lancaster weg is – en dat jy jou rypet op jou bed laat lê het. Ons het aanvaar jy is êrens op Oggendglorie op Lancaster se rug, maar ons weet ook almal Lancaster sit op loop in ’n donderstorm. Ek en oupa Herman, Henning en ons werkers het oral op die plaas na jou gesoek. Toe Naas Bredenkamp bel en vir ouma Sannie sê hy het jou op Lancaster ure gelede oor sy grensdraad sien spring …” Die woede vloei uit sy oë en hy draai sy kop weg.
“Jy kon dood gewees het,” sê hy, sy woorde so sag dat sy dit byna nie bo die dreuning van die enjin kan hoor nie.
“Toe maar, Arendt, ek het niks oorgekom nie. En dit was nie aspris nie,” sê sy paaiend en lê haar hand vertroostend op sy arm.
Sy kop ruk om na haar. “Natuurlik was dit opsetlik, klein pes! Jy het self vir Lancaster opgesaal, nie een van die stalwerkers nie, want hulle sou geweier het. Hulle ken die weer en hulle sou jou gewaarsku het om nie te gaan ry nie – en dadelik aan oupa Herman gerapporteer het as jy nie na hulle wou luister nie. Goed, ek hét jou selfoon gevat voordat Henning dit ook kon ‘verloor’. Was dit jou manier om jou op my te wreek?” vra hy met stygende ergernis.
“Jy moet oppas, Arendt, jy gaan jouself nog doof skree, want jy praat verskriklik hard,” sê sy vermanend. Sy wriemel haar bank- en kredietkaarte uit die sak van haar rybroek en hou dit uit na hom. “Sien jy my kaarte? Ek wou geld trek, ’n treinkaartjie koop en teruggaan huis toe.”
“Jy wou in jou rydrag op die trein klim?” vra hy verslae.
“Hoe anders? Jy het my motorsleutels in jou kluis toegesluit, en ek kon Henning nie vra om my te help nie, want dan was hy weer in die moeilikheid. Ek het net geweet ek moet wegkom, want ek gaan nie toelaat dat julle spul Van Breda’s my op Oggendglorie vaskeer sodat ek verplig is om na jou stiefma se jokstories te luister nie.”
“Is dít hoe jy aan ons dink, meisiemens? Die spul Van Breda’s?” vra hy gelykmatig.
Sy huiwer ’n oomblik en skud dan haar kop. “Nee, ek dink eintlik net aan jou, want jy sukkel om my te aanvaar as jou stiefsuster. Ek weet hoe dit voel, want ek sukkel ook om aan jou as my stiefbroer te dink,” antwoord sy met soveel eerlikheid dat hy haar oorbluf aanstaar.
Dis maklik om hom in die oë te kyk as sy die waarheid praat, dink sy, solank hy nie haar gedagtes kan lees nie. Sal hy haar in haar gesig uitlag as hy ooit agterkom hoe sy werklik oor hom voel, of sal hy haar probeer troos? wonder sy.
Sy slaan haar blik neer en sê vinnig:“Ek is jammer oor die kommer wat ek vir jou oupa en ouma veroorsaak het, want ek is lief vir hulle. Kan jy hulle nie op jou selfoon bel en sê ek is veilig nie?”
“Ek het hulle reeds gebel, toe ek jou die eerste maal in die ligte van my viertrek gewaar het,” antwoord hy, sy stemtoon neutraal.
Sy glimlag verlig. “Ek is bly. Ná my ouma se dood was ek elke oggend bang dat my oupa Gideon gedurende die nag doodgegaan het. Ek weet nou oumense gaan nie so maklik dood nie, maar ek wil nie jou oupa-hulle rede gee om hulle oor my te bekommer nie.”
“Maar ek en jou ma kan ons maar oor jou bekommer?” vra hy.
Haar oë blits. “Moenie, Arendt. Ek het nog my bank- en kredietkaarte. Ek kan uitklim en stasie toe loop.”
“As dit van my afgehang het …” Hy glimlag humorloos. “Miskien sal jy na rede luister as jy deurnat en dood van die honger langs die pad bly lê. Maar Lancaster moet in ’n droë stal kom.” Hy skakel die dakliggie af en bring die voertuig weer in beweging.
“En ek is dood van die honger. Ouma Sannie het gelukkig hope …” Haar sin rafel uit toe hy skielik regs draai en sy vra wantrouig: “Moet ons nie reguit aanhou om by Oggendglorie te kom nie? Of gaan ons eers na Huis Roosmaryn toe?”
“Al van die laagwaterbrug gehoor?” vra hy ongeduldig. Hy hoor haar na haar asem snak en vervolg waarskuwend: “Moenie jou mond oopmaak en aan my karring nie, meisiemens. Dit was ’n bitter lang dag vol kommer en spanning. Ek het jou ’n duisend maal dood sien lê voordat ek eindelik op jou afgekom het. Ek was waaragtig so verlig om jou op Lancaster te sien dat ek … dat ek die perd byna gesoen het.”
“Ja, foei tog, ek weet veeartse is baie lief vir diere, maar ek het nie geweet julle soen perde nie,” sê sy met eerlike simpatie.
“Nee, meisiemens, veeartse soen nie perde nie – so min as wat geelbek-merino’s geel bekke het – maar jy sal enige regdenkende man tot waansin dryf en hom voor die voet perde laat soen!” Hy probeer ergerlik klink, maar sy woorde is warm klanke van ingehoue lag.
“Ek is bly jy is nie meer kwaad vir my nie, want hierdie hele petalje is eintlik jou skuld,” sê sy verlig toe hy die viertrek voor die dofverligte perdestal in die agterplaas van Huis Roosmaryn tot stilstand bring.
“Ja. Ek het jou selfoon gesteel,” sê hy wrang en skakel die enjin af.
Sy sien Lancaster by die ingang van die perdestal indraf en vervolg beskuldigend: “En jy is die oorsaak dat ek en die arme Lancaster so byna deur die weerlig doodgeslaan is. Maar miskien is dit beter so, want nou kan ek aan jou ouma-hulle verduidelik waarom ek moet weggaan voordat Riana van Breda hier opdaag.”
“Goed, meisiemens, kom ons speel oop kaarte. Toe jou oupa Gideon my gevra het om ’n ogie oor jou te hou terwyl hy in Nieu-Seeland is, het al my nekhare orent gestaan. Ek het jou saam met hom in die restaurant sien sit en besluit jy is ’n hooghartige stadsmeisietjie – ’n bedorwe, aanstellerige rykmanskind wat op eenvoudige plaasjapies soos my oupa en ouma, maar veral tant Assie, sal neerkyk. Ek wou jou nie op Oggendglorie hê nie.”
“Ek is bly jy is so eerlik, Arendt, want ek het ook niks van jou gehou nie. Ek het vir oupa Gideon gesê jy lyk soos ’n aasvoël wat op sy prooi afduik. Maar toe verduidelik hy aasvoëls vreet net dooie goed en arende en uile is roofvoëls,” vertel sy vertroulik.
“Ek sien. Dink jy nog steeds ek lyk soos ’n roofvoël, meisiemens?”
“Net as jy vies is en met my rusie maak – en dis amper altyd. Dink jy nog ek is ’n aanstellerige stadsmeisie, Arendt?”
“Nee. Jy is snipperig en astrant, en jou vermoë om saam met ander te lag oor jou onkunde oor die plaaslewe maak jou ’n rare meisie. Ouma Sannie geniet dit om jou te leer om koekies en Kerspasteitjies te bak, en oupa Herman sê hy hoop jy leer nooit alles oor boerdery nie, want hy waardeer jou vrae – veral jou jongste een oor hoeveel melkosse hy elke dag melk. Ek het selfs ’n onwillige bewondering vir die wyse waarop jy Henning probeer help en beskerm, maar ek het nie besef jou haat is so allesoorheersend dat dit ’n lafaard van jou maak nie.”
“Ek haat niemand nie,” sê sy geraak.
“Jy het gesê jy haat jou ma,” herinner hy haar.
“Net omdat jy so agterbaks was om haar hierheen te nooi. Ek haat haar nie. Ek wil haar net nie ken nie.”
“Omdat jy bang is.”
Sy gluur hom aan, maar slegs sy donker silhoeët is sigbaar.
“Goed, ek is bang! Ek is bang om finaal te weet my ma het my weggesmyt omdat sy my gehaat het. Sy móés my gehaat het, want sy het my pa gehaat.”
“Het jou oupa so gesê?”
“Nee, maar sy het nie oor my pa getreur nie, want sy is gou met jou pa getroud – nadat sy my weggesmyt het.” Hy draai na haar en sy groot hande sluit oor haar skouers, sy stem dringend toe hy sê: “Jou ma besit albums vol foto’s wat jou oupa Gideon sedert jou geboorte aan haar gestuur het. Waarom sou hy al die jare foto’s van die kind wat sy so harteloos weggesmyt het aan haar gestuur het?”
“Omdat … Ek weet nie,” antwoord sy byna onhoorbaar, haar innerlike ’n draaikolk van verwarring. As haar ma foto’s van haar wou hê … ’n Mens vra nie foto’s van iemand wat jy haat nie.
“Bly hier op Oggendglorie, want net jou ma kan jou die volle waarheid vertel. Sal jy bly?”
Hy noem haar nie meisiemens nie, besef sy. Hoekom gebruik hy nooit haar naam nie?
“Antwoord my, meisiemens! Of het jy nie my vraag gehoor nie?” vra hy met ergerlike ongeduld.
Sy glimlag en antwoord tevrede: “Jy het onthou ek is jou meisiemens. Ja wat, ek sal bly, want sy kan nie so sleg wees as oupa Gideon gereeld vir haar foto’s van my gestuur het nie.”
“Uiteindelik! Die agterdeur is oop, meisiemens, en die kombuislig brand. Ek moet Lancaster eers versorg.” Hy klim uit die voertuig en maak die passasiersdeur vir haar oop, terwyl sy nog die donskombers oor haar kop en skouers drapeer. “Kom!” beveel hy.
Hy tel haar onverwags in sy arms op en dra haar met lang hale deur die vallende reën na die agterdeur.
Sy haat die reën, want kyk sy op na Arendt, val die reëndruppels in haar oë. En sy haat donskomberse, want sy kan nie sy gespierde arms om haar voel of met haar oor teen sy bors na sy hartklop luister nie, dink sy gegrief. Sy wag al so lank dat Arendt haar in sy arms moet dra, maar nou voel sy weer soos ’n sak mielies.
Hy sit haar op die stoep neer en sê skertsend: “’n Warm bondeltjie soos ’n geelbek-lammetjie, en ligter as ’n speenvark.”
Sy kyk hom onthuts agterna terwyl hy wegstap stal toe en roep snipperig:“Julle Karooboere gee die mooiste komplimente!”
Sy maak die agterdeur oop en skrik haar asem weg toe Assie met ’n fladdering van wye broekspype en valletjiesvoorskoot op haar afstorm, haar sonhoed nog stewig op haar kop.
“Agge gollatjies, gesiggie, ek was nog nooit so bly om jou ou gevreetjie te sien nie!” jubel Assie haar vreugde skril uit en gee Elzeri ’n onverwagte drukkie.
“Ek is net so bly om tannie te sien,” glimlag Elzeri. “Mag ek van die toebroodjies kry?” vra sy en pyl op die kombuistafel en die bord toebroodjies af.
“Eet, my lammetjie, eet, want ek het dit met my hart vol hoop en my maag vol vrees en bibberasie spesiaal vir jou gemaak. En daar is lekker warm sjokolademelk in die termosfles,” antwoord Assie rojaal.
Sy frons dat haar donker oë byna wegraak agter haar talle plooie en vra: “Maar vir wat het jy en Arendt so lank gedraai daar buite in die reent? Eers sien ek sy wiele se ligte en ek wag en wag totdat al my senings styf span van die bangigheid dat jy dalkies oorle’ is. Ek kon sterwe van die angs, my hartlam, maar ek was nog banger om uit te hol en om met my eie ou oë jou oorle’ liggaampie te aanskou. Gesiggie, jy sal nie weet nie, maar jy was vandag ’n groter verdriet as ’n sterfgeval!” verwyt sy.
Elzeri hoor nouliks wat Assie sê. Sy kou tydsaam, haar oë toe om nog beter te kan proe, en steun behaaglik. “Dis die lekkerste ham-en-tamatietoebroodjie wat ek nog geëet het, tant Assie.”
“Ja wat, ek het die regte hand vir kosmaak. Herman sê ek kan mieliepap soos roomys laat smaak, maar Sannie sê liewerste niks nie. Sy is ’n goeie ou siel, want sy vervies haar nie omdat ek ’n beter kok as sy is nie,” spog Assie met onoortuigende nederigheid.
Sy snak skielik na haar asem en staar Elzeri grootoog aan, haar hand voor haar mond.
“Wat makeer, tannie?” vra Elzeri en proe aan die warm sjokolademelk.
“Ek het toetental vergeet van die dokter, gesiggie! Agge foei, daar sit hy die ganse middag in die sitkamer voor die kaggelvuur en vreet al sy vingernaeltjies op van die hartseer en verdriet. En die dierbare Sonette praat hom moed in en druk sy hand as dit lyk asof hy soos ’n baba gaan grens. Sy dra vir hom tee en koek aan, maar hy eet g’n niks nie.”
“Maar ek het nie ’n dokter nodig nie, tant Assie,” protesteer Elzeri onthuts en gooi die donskombers van haar skouers af. “Ek sal vir die dokter gaan sê hy kan maar ry – ek sal voor die kaggelvuur droog bak.”
“Nee, wag eers, gesiggie,” pleit Assie en klou met haar maer handjies aan Elzeri se arm vas. “Hy is ’n spesiale dokter, want voordat die rivier oor die brug gestroom het, het hy gebel en gevra dat Sonette hom moet kom haal, want hy het êrens op pad hiernatoe verdwaal. Die arme javel – ook maar dom in die reent en op die modderpaaie wat nie robotte en stopstrate het nie.”
Blye verrassing verf ’n glimlag om Elzeri se lippe. “Dawie! Dawie het kom kuier!” jubel sy.
Sy neem ’n paar treë na die gangdeur, maar bly staan toe sy die uitdrukking van teleurstelling op Assie se gesig sien. “Is hy dokter Dawie Coetzer, tant Assie?”
“Lyk vir my nes ’n volstruiskuiken, veels te jonk om ’n rêrige dokter te wees,” mompel Assie vyandig en kyk Elzeri verwytend aan. “Dis hoekom ek hier is, gesiggie. Ek het my nagkleertjies en my tandeborsel in ’n plastieksak geprop en saam met Sonette gery, want met die reent en als … Ek is hier om toe te sien dat jy nie saam met die vreemde man afsit huis toe nog voor jou arme ma haar voete op Oggendglorie gesit het nie.”
“Ek gaan nie weg nie, tant Assie, ek belowe,” beloof Elzeri plegtig en stap haastig die kombuis uit.
In die sitkamer werp sy haar in Dawie se arms, haar hande om sy nek gestrengel. Sy soengroet hom met die familiariteit van jare se vriendskap en lag op in sy oë.
Dawie weet dit nie, maar hulle omhelsing is vir haar niks meer as ’n eksperiment nie, dink sy. Want nou weet sy met sekerheid: net die groot man met die arendsoë kan ongekende emosies in haar laat ontwaak en haar bloed met ’n bandelose blydskap deur haar are laat pols. Dawie se interessantste gevalle verveel haar, maar sy kan ure lank na die diep timbre van Arendt se stem luister, selfs al praat hy letterlik oor koeitjies en kalfies.
“Ek is so dankbaar jy is veilig terug, Elzeri. Jy moet dadelik in ’n warm bad klim en –” begin Dawie besorg.
Elzeri druk haar hand oor sy mond. “Ons speel nie nou dokter-dokter nie, Dawie,” sê sy onthuts.
Sy draai na Sonette, wat haar verwese aanstaar en dan halfhartig glimlag.
“Sal jy asseblief vir Arendt hier weghou, Sonette? Ek en Dawie wil nie onderbreek word nie.”
“Jy het ’n warm bad –” objekteer Dawie, maar Elzeri druk weer haar hand oor sy mond.
“Hoe gouer jy na my luister, Dawie, hoe gouer kan ek gaan bad,” sê sy ongeduldig.
“Ek sal Arendt gaan geselskap hou,” kom dit selfbewus van Sonette, reeds op pad na die deur.
Elzeri sien hoe Dawie Sonette met sy oë volg. Sy neem sy hand in albei hare en glimlag verlig in sy oë. “Jy kyk nooit so na my nie.”
“Ek kyk altyd met my oë na enigiemand,” antwoord hy onthuts.
“Nie met honger oë nie.”
“Is jy koorsig, my meisie? Ure van blootstelling –”
“Bly stil en luister na my, Dawie! Ek is bly jy het kom kuier, want as jy dit nog nie besef het nie, sal ek jou vertel: Ek en jy het mekaar nie lief nie. Ek wil nie ure na jou stem luister nie, en ek wens nie jy is elke oomblik van die dag by my nie. Ek –”
“Ek weet al, Elzeri,” val hy haar glimlaggend in die rede. “Jy het Arendt van Breda lief. Wanneer trou julle twee?”