Elzeri ruk om, sien verlig dat Sonette die deur van die sitkamer agter haar toegemaak het en draai met blitsende oë terug na Dawie.
“Waar kom jy aan so ’n bogstorie?” vra sy, haar stem hees van skok en verontwaardiging. “En om dit hardop uit te blaker! As Arendt jou gehoor het, sou ek verplig gewees het om terug te gaan huis toe, want ek sou hom nooit weer in die oë kon kyk nie!”
“Jy is verlief op hom, maar jy weet nie of hy jou liefhet nie,” raai Dawie, sy stemtoon gedemp. Hy sug simpatiek. “Liefde werk met ’n man se gal, Elzeri. Dit tas selfs jou konsentrasievermoë aan, want ek het gisteroggend my hare met my tandeborsel geborsel.”
“Ek stel nie in jou gal of jou konsentrasievermoë belang nie, Dawie. Ek wil weet waar kom jy aan die storie dat ek en Arendt trouplanne het?” vra Elzeri boos.
“Die oulike ou tannie met die sonhoed het my vertel terwyl sy vir my en Sonette middagete gemaak het.” Hy slaan sy regterarm om haar skouers. “Kom ons sit gemaklik op die rusbank voor die kaggelvuur en rusie maak. Jy maak gewoonlik rusie as jy jok.”
“En jy maak nooit rusie nie,” sê Elzeri vies en besef dat haar rusies met Arendt deel vorm van sy onweerstaanbare aantrekkingskrag vir haar. “Jy behandel my altyd soos ’n sterwende pasiënt, want jy word nooit kwaad nie. Dis verskriklik vervelig, Dawie.”
“Vir my ook, want jy maak altyd rusie oor onbenullighede, terwyl ek liewer oor iets interessants sal wil praat.”
“Soos die siektes van die senustelsel, liewe Dawie?” vra sy, lag dansend in haar oë.
“Ja!” begin hy gretig. Hy sien die lag in haar oë en glimlag bedroë.
Hy neem haar hand in syne, kyk haar oomblikke lank ernstig aan en sê reguit: “Ek het al ’n jaar of twee gelede begin wonder oor ons trouplanne, Elzeri. Ek bedoel, ek sal jou altyd liefhê, maar vandat ek en Sonette so gereeld saamwerk, het ek besef daar is ’n ander soort liefde. Ek is verlig en dankbaar dat jy nie van my verwag om met jou te trou nie.”
“Sou jy met my getrou het as ek nie vandag eerlik was met jou nie?” vra sy verbaas.
Hy glimlag skrams en haal sy skouers op. “Nie gou nie. Ek sou redes gesoek het om ons huwelik uit te stel, met die hoop dat jy die regte man sou liefkry sodat ek en Sonette … Ek het haar onwetend liefgekry, Elzeri – waaragtig lief. Maar as jou liefde vir my opreg was, sou ek onder ’n verpligting gestaan het om met jou te trou. Dit sou selfsugtig van my gewees het om my geluk op jou hartseer te bou.”
Hy glimlag sy opregte verligting. “Maar nou het jy dit vir my maklik gemaak, want jy is nie lief vir my nie. Dankie, Elzeri.”
Hoe tipies van haar Dawie, dink sy en kyk met waardering na hom. Hy is blond soos Henning, maar sy kort blonde kuif staan orent omdat hy ’n kroontjie op sy voorkop het. Sy oë is grysblou, en sy gesig skraal met sterk, egalige gelaatstrekke.
Hy lyk soos ’n edelman en hy tree soos een op, besef sy en sê dankbaar: “Jy is een van ’n rare spesie, Dawie: ’n eerbare man – of dalk is jy net doodgewoon dom. Gaan jy en Sonette trou?”
Hy wriemel sy skouers, ’n donker gloed van verleentheid op sy gesig. “Hoe sal ek weet? Totdat jy my ’n paar minute gelede vertel het jy het my nie lief nie, was ek onder die indruk dat jy met my wil trou. Ek en Sonette gesels gereeld op ons selfone, want ek moes elke dag bel om te hoor hoe dit met jou gaan.”
Hy frons en stel aarselend voor: “As jy nie omgee nie, sal ek Sonette aanhou bel en navraag doen oor jou en … dalk kan jy haar mettertyd laat verstaan ons twee gaan nie trou nie.”
Elzeri betrag hom met vonkelende oë. “My liewe Dawie, ons kan haar nou dadelik vertel. As jy Sonette liefhet en –”
“Nee!” protesteer hy geraak. “Tant Sannie het my spesiaal oorgenooi om jou te verras, want sy glo jy verlang na my. Ek wil nie die oumense skok met ’n skielike liefdesverklaring aan Sonette nie. Of sal dit vir jou moeilik wees om net vir ’n naweek voor te gee dat ek die groot liefde in jou lewe is?”
“Glad nie!” antwoord sy, haar glimlag verlig. “Solank ons Arendt kan oortuig dat ek jou onsterflik liefhet, maak die res van die mense nie saak nie.”
Elzeri maak haar oë op skrefies oop en kyk wrewelrig na Sonette,wat op en af op haar hemelbed wip.
“Hou op, Sonette! Jy spring so hard op my bed dat my arme hart oor my longe bolmakiesie slaan. Hoe dikwels moet Arendt nuwe matrasse vir sy beddens koop?”
“Ek sal Arendt waarsku om nie met jou te trou nie, want jy is vrek suinig, vriendin. Kan jy nie ’n nuwe matras bekostig nie?” terg Sonette, maar haar glimlag wankel. Hartseer lê oop en bloot in haar oë toe sy gedemp vra: “Wat het gisteraand tussen jou en Dawie gebeur? Dis … dis so opsigtelik dat julle mekaar liefhet dat ek skuldig voel dat ek ooit aan julle liefde getwyfel het.”
“Was dit werklik opsigtelik? Het Arendt dit ook opgemerk?” verneem Elzeri met oortuigende onskuld.
“Hoe anders? Hy was vanoggend in ’n liederlike bui! Ek en tant Assie kon nie ophou glimlag nie toe hy sê hy gaan Kaapstad toe en kom eers Dinsdag terug. Hy het tant Assie uitdruklik beveel om jou nie ’n oomblik alleen te laat saam met Dawie nie, want hy meen Dawie is opsigtelik oorgretig om ’n verloofring aan jou vinger te steek noudat hy weet hoe groot en waardevol Oggendglorie is. Jý, vriendin, is skielik ’n skatryk erfgenaam wat deur die fortuinsoeker van ’n Dawie voor die kansel gesleep gaan word.” Sonette swyg en vra dan onseker: “Het jy en Dawie besluit om verloof te raak?”
’n Moedswillige laggie peul oor Elzeri se lippe. Sy lees die uitdrukking van wanhoop op Sonette se gesig en probeer simpatiek lyk, maar bars gierend uit van die lag.
“Moenie … loop nie,” sniklag sy toe Sonette gekrenk van die bed af spring en deur toe loop. “Asseblief, Sonette, hy het my nie lief nie!” roep sy gedemp.
Sonette steek in haar spore vas. Sy kyk wantrouig na Elzeri wat regop op haar bed sit, en storm terug na haar. “Hy? Praat jy van Dawie?” vra sy, haar gesig strak van spanning.
Elzeri knik bevestigend haar kop. Sy wag dat Sonette weer op die bed gaan sit en verduidelik:“Dis waarom ek nie kon ophou lag nie, want ek en Dawie het gister vir die eerste maal eerlik oor ons liefde vir mekaar gepraat. Hy weet nou ek het hom met die liefde van ’n suster lief, en dis hoe hy oor my ook voel. Hy is so ’n eerbare man dat hy bereid was om met my te trou, eerder as om my hart te breek.”
Sonette se gesig is beurtelings doodsbleek en vlamrooi, uitdrukkings van twyfel en aarselende hoop afwisselend in haar oë. “Maar … maar julle was so oortuigend lief vir mekaar die hele gisteraand!” protesteer sy.
“Omdat Dawie nie jou ouma-hulle wil ontstel deur skielik ons verhouding te verbreek nie. En ék moes ter wille van selfbehoud vir Arendt en tant Assie oortuig ek is dolverlief op Dawie. Maar Dawie het my gevra of hy mag voortgaan om jou elke dag te bel om te hoor hoe dit met my gaan.”
“Hou hy van ons geselsies?” vra Sonette verwese en lyk asof sy in trane gaan uitbars.
“Domkop!” terg Elzeri. “Dawie het jou lief – waaragtig lief, soos hy dit gestel het – maar hy is nie ’n romantiese held wat op sy wit perd opdaag en jou na sy kasteel ontvoer nie. Dawie is prakties, want hy weet hy moet nog sy gemeenskapsdiens doen, en daarna wil hy in neurologie spesialiseer. Het jy hom lief genoeg om vir hom te wag?”
“Natuurlik! Het hy sowaar gesê hy het my lief?” vra Sonette met bange hoop.
“Hy het, my liewe vriendin, en hy is veels te eerlik om oor sy gevoel vir jou te jok,” verseker Elzeri haar. Sy probeer om belangeloos te klink toe sy vra: “Wanneer vertrek Arendt Kaapstad toe?”
“Dawie het my lief,” fluister Sonette teenoor haarself. Sy kyk na Elzeri en lag met die stralende blydskap van haar liefde. “Dawie het my lief, Elzeri! Ek is so gelukkig dat ek myself kan omhels!”
“Sjuut, Sonette! Wil jy hê Arendt moet jou hoor?” vra Elzeri onthuts.
“O, hy het al meer as twee uur gelede vertrek, en hy sal nie voor Dinsdag …” Sonette swyg skuldig toe sy die uitdrukking van teleurstelling op Elzeri se gesig sien. “Ek het jou gesê hy was in ’n mislike bui. En hy het so neerhalend van Dawie gepraat dat ek amper kan glo dat hy jaloers is op hom.”
“Hy kan nie jaloers wees op Dawie as hy Martelle de Vos liefhet nie,” sê Elzeri neerslagtig.
“Ons weet nie vir seker of hy haar liefhet nie, Elzeri. Sy het spesiaal vir hom in Nieu-Seeland gaan kuier, maar sy het nie met ’n verloofring aan haar vinger teruggekom nie,” kom dit vertroostend van Sonette.
“Jy het my nooit vertel nie! Hoe lank het Martelle by hom gekuier?” vra Elzeri ontsteld en wonder of ’n mens ’n hartaanval kan kry van loutere jaloesie.
“E … nogal lank. Omtrent ’n jaar, maar sy was meestal by my ma-hulle tuis. En Arendt het nooit enigiets oor haar in sy e-posse geskryf nie, nie eens as ek hom direk oor haar uitgevra het nie. My ouer broer was nog nooit uitgesproke oor die meisies in sy lewe nie.”
Sy betrag die fronsende Elzeri simpatiek en druk haar speels teen die skouer. “Moenie so mismoedig lyk nie, vriendin. Arendt was gister so bekommerd oor jou en vanoggend so befoeterd dat ek amper kan glo hy is lief vir jou.”
“Ja, en speenvarkies dra almal rooi steweltjies,” spot Elzeri bedroë en klim uit haar bed. “Gaan hou jou Dawie geselskap, Sonette. Ek wil gaan stort en aantrek, want jou ouma-hulle verwag ons op Oggendglorie.”
“Ek hoop jy stort tot middagete!” lag Sonette en draf die slaapkamer gretig uit.
Elzeri dra die skinkbord met haar ontbytskottelgoed na die wasbak en draai besorg na Assie. Dié sit met haar sonhoed laag oor haar voorkop getrek roerloos aan die kombuistafel. Sy het nie die moeite gedoen om op te kyk of op Elzeri se bedanking vir haar ontbyt te reageer nie.
Sy gaan sit op ’n stoel naas Assie, raak liggies aan haar skouer en vra bekommerd:“Wat makeer, tant Assie? Voel tannie siek?”
“Tot die dood toe, gesiggie. Nie dat my dood en begrafnis die arme bloedjie sal help nie, want ek het g’n niks wat hy kan erwe nie,” antwoord Assie en sug dat haar maer bolyfie soos ’n riet in die wind buig.
“Het Henning weer geld nodig, tannie?” vra Elzeri.
Assie lig haar kop tydsaam op, en Elzeri merk met ontsteltenis die traanspore op haar gerimpelde wange. “Henning sit pens en pootjies in die kloue van die verderf, gesiggie. En wie se skuld is dit? Myne. Net myne!” erken Assie en slaan berouvol met haar kneukelrige vuis op haar bors.
“Sit … sit Henning in die tronk?” stotter Elzeri.
“Vir wat sal die poelieste hom wil toesluit? Hoor jy nie wat ek sê nie, engeltjie? Dis ekke, net ekke wat die sonde gedoen het, en nou sit die dierbare, onskuldige bloedjie kniediep in die gemors. Wat gaan ek doen, gesiggie? Wat help al my droefenis en rou, al my hartseer en trane as ek nooit weer die liewe kind uit die verderf kan kry nie?” vra Assie met bittere selfverwyt en blaas haar neus trompetterend in ’n kakiesakdoek.
Tant Assie laat haar dom voel, dink Elzeri. Sy vra aarselend: “Ek is jammer, maar ek verstaan nie, tannie. Waar is die verderf waar Henning nou sit?”
Assie kyk vinnig oor albei skouers, leun nader aan Elzeri en fluister met ’n gansstemmetjie: “Op die internet, gesiggie!”
Elzeri besef dat haar mond oophang van verbasing en sê vinnig: “O.”
Sy kug ongemaklik en herhaal: “O. Ek dink ek verstaan, tant Assie: Henning kyk na pornografie op die internet.”
Assie lyk op haar beurt uit die veld geslaan. “Ek ken nie daardie boekwoord nie, lammetjie, maar as dit beteken jy dobbel, dan is dit een en dieselfde sonde met ’n geleerde naam,” antwoord Assie verwese.
“Dobbel!” krys Elzeri en staar Assie geskok aan.
“Sjuut, gesiggie, man!” sis Assie, haar maer, krom wysvinger waarskuwend voor haar mond. “Wil jy my sondes aan die ganse wêreld uitblaker?”
Elzeri kyk skuldig na die gangdeur en antwoord gedemp: “Ek is jammer, tant Assie. Maar as dit waar is dat Henning aanlyn dobbel, verklaar dit sy voortdurende geldnood. Of … of het hy tánnie geleer om op die internet te dobbel?”
“As ek nou nie soveel sonde en oortredinge in my ou hart rondgedra het nie, het ek nou ewe jollie gelag, my hartlam, want ’n rekenaar is vir my alte veel soos my oorle’ ma se grammofoon: tot heden vandag weet ek nog nie hoe ’n mens musiek uit ’n swart plaat kon krap nie. Weet jý, gesiggie?”
“Nee, tant Assie. Maar hoekom voel tannie skuldig omdat Henning dobbel?” vra Elzeri gespanne. Sy is ontsteld omdat sy deur haar vrygewigheid Henning indirek gehelp het om te dobbel.
“Omdat ek so gierig was, engeltjie. Of net brandarm en tot in my siel toe kwaad omdat my sleg Soois al my ou spaargeldjies sommerso tjoef-tjaf en sonder my permissie gesteel het,” vertel Assie bitter.
“Maar as dit veilig in tannie se bankrekening was …”
“Nonsies, gesiggie! As ek geldjies spaar, wil ek dit kan sien en kan tel. Reken, ek het my spaargeldjies maande lank in ’n ou sokkie agter ’n los baksteen in ons eie kombuisie weggesteek. Elke maal as my sleg Soois sy roes afgeslaap het, het ek my geldjies getel. Maar die ou skelm het my dopgehou, want toe ek weer my ou spaargeldjies wou tel, toe lê die sokkie leeg daar en lag oopbek vir my. Dit was net voor Krismis, twee jaar gelede, en ek wou so graag vir almal presentjies gekoop het,” vertel Assie en sug droewig.
“En toe vra tannie Henning om te dobbel?”
“Nee, gesiggie, man, ek sondig nie aspris nie,” kom dit geraak van Assie. “Ek het net in my swakte vir Henning gesê ek wens ek kon met die honderd rand wat die dierbare Sannie vir my gegee het, gaan dobbel. Sien, die dobbelplekke van Kimberley en Upington lê te ver, en ek het g’n niks van die internet geweet nie.”
“En toe dobbel Henning met tannie se geld?” vra Elzeri onwillig, want sy ken reeds die antwoord.
“Ja, gesiggie,” antwoord Assie terneergedruk.
Sy kyk in Elzeri se gesig en glimlag so wyd dat sy haastig haar boonste kunsgebit met haar hand teen haar verhemelte moet terugdruk. “Ag, ons was so jollie, my hartlam, want ons het gewen en gewen – honderde, hoor jy my? Ek en Henning het die geldjies elke maal gedeel, en toe ek voel ek het nou oorgenoeg geldjies om vir almal presentjies te koop en ’n bietjie te spaar, het ek vir hom gesê ons kan nou maar ophou dobbel.”
“Ek verstaan, tant Assie: Henning het aanhou dobbel en mettertyd verslaaf geraak,” sê Elzeri bekommerd.
“En hoekom? Oor my sondige gierigheid! Dís hoekom Henning nie meer leer soos toe hy op skool was nie: hy dink net aan geld en dobbel en skuld. Ek probeer hom help, gesiggie, maar my pensioentjie is klein en –”
“Ek kan nie glo Henning gebruik tannie se pensioengeld om te dobbel nie! Hoe durf hy?” val Elzeri haar onstuimig in die rede.
“Omdat sy sonde eintlik mý sonde is,” sug Assie skuldig. Sy vervolg met angs in haar oë:“En nou wil die skelm geldskieters nie sy ID-boekie teruggee voordat hy hulle betaal het nie. Agge gollatjies, gesiggie, hy skuld hulle derduisende! As die dierbare Sannie en Herman moet weet hulle kleinseun dobbel … Moet ek hulle droefenis en verdriet ook nog in my ou siel ronddra?” vra Assie wanhopig.
“Nee, tant Assie. Ek sal Henning help met sy dobbelverslawing, al moet ek professionele hulp kry,” beloof Elzeri met ’n selfversekerdheid wat vals klink in haar eie ore.
“Maar hoe, gesiggie? Hy mag nooit weet ek het jou van sy swakte vertel nie, want hy vertrou my.”
Elzeri lees die woordelose pleidooi op Assie se gesig en glimlag gerusstellend.
“Moenie bekommerd wees nie, tannie. Wat tannie my vertel het, sal net tussen ons bly,” antwoord sy en wens met haar hele hart dat Arendt nie Kaapstad toe is nie.
Dawie bring sy motor voor Huis Roosmaryn tot stilstand. Hy kyk onseker na Elzeri, wat hom met ’n onnutsige glimlag dophou.
“Dis nie snaaks nie, Elzeri. Ek het gehoop Sonette sal saam met ons middagete eet voordat ek teruggaan huis toe. Ek bedoel, oom Herman en tant Sannie is aangename geselskap, maar … Is jy seker Sonette het gevra ek moet haar hier kom groet?” vra hy merkbaar senuweeagtig.
Elzeri druk sy arm vertroostend en sê opreg: “Ek is te lief vir jou om jou vir die gek te hou, Dawie. Op Oggendglorie was dit onmoontlik vir jou en Sonette om alleen te gesels, daarom het ek vir tant Sannie gesê ons moet reeds om twaalfuur eet, want jy wil vroeg in die pad val.”
“Dit was ’n leuen! As ek tot vieruur kon wag, sou Sonette terug gewees het van haar kuiertjie by Martelle,” sê hy teleurgesteld.
“Sonette het nêrens gaan kuier nie, Dawie. Sy wag al ure lank op jou in Huis Roosmaryn. Dis nou eers halftwee. Gaan jy hier sit en my verwyt, of gaan jy saam met Sonette kuier? Julle het Saterdagoggend laas alleen gesels.”
Dawie huiwer, sy hand reeds op die deurhandvatsel. Hy vra met opsigtelike verleentheid:“Hoe sê ek vir haar dat ek haar onwetend liefgekry het, Elzeri?”
Sy lag hom goedig uit. “Jy het nie ’n handboek of wetenskaplike feite nodig as jy liefhet nie, Dawie. Sê vir haar wat in jou hart is. Ek verseker jou: sy sal bly wees om dit te hoor.”
“Is jy seker sy is ’n klein bietjie …” Hy voltooi nie sy vraag nie, ruk die motordeur oop en draf vinnig na die voordeur van Huis Roosmaryn.
Sy voel soos ’n gelukkige ma wat vir haar kind ’n splinternuwe fiets gekoop het, dink Elzeri geamuseerd. Sy klim uit die motor en stap na die perdestal agter die woning. Die son skyn en daar is nie ’n enkele wolkie in sig nie. Sy sal Lancaster opsaal en op Horison gaan rondry – net om op sy plaas te wees, sal haar nader aan Arendt laat voel.
“Goeiste, maar jy kan draai, Elzeri!” kom dit misnoeg van Henning, wat langs sy opgesaalde ryperd, Westham, staan en wag. “Julle het al begin groet toe ek weggeglip het om Westham op te saal en hierheen te kom. Ek het Lancaster intussen vir jou opgesaal. Is Dawie eindelik weg?”
Dis die eerste maal sedert haar gesprek met tant Assie dat sy privaat met Henning kan gesels, daarom moet sy die rol van ’n liewe ouer suster speel en sy vertroue wen, maan Elzeri haarself.
Sy antwoord glimlaggend: “Jy is ’n dierbare kleinboet om my perd op te saal. Kom jy saam met my op Horison rondry?”
“Ja, maar eers …” aarsel hy.
Hy lek oor sy lippe en vervolg hoopvol:“Jy het Dawie lief en jy is nie stokoud en verkramp soos die mense van ons kontrei nie. As … as Dawie jonger as jy was, sou jy hom nog steeds liefgehad het, Elzeri?”
“Ek sal Dawie liefhê selfs al was hy tien jaar jonger as ek,” antwoord sy eerlik, verwonderd oor sy vraag.
“Ek bedoel nie só jonk nie, maar … maar as ’n meisie …” Henning kou aan sy lippe, kry kleur op kleur en lyk asof hy in trane gaan uitbars.
Elzeri lê haar hand paaiend op sy arm en vra belangstellend: “Wil jy weet of dit ongewoon is dat ’n man ’n ouer meisie kan liefkry, Henning?”
Hy slaak ’n hoorbare sug van verligting. “Ja! Ek praat nie van twintig jaar nie, maar as die meisie drie, vier jaar ouer as die man is … Sal ’n man ’n gek van homself maak om met ’n ouer meisie te trou?”
Henning het ’n ouer meisie lief, besef Elzeri. Sal sy liefde hom kan genees van sy dobbelverslawing? wonder sy hoopvol.
Sy antwoord gerusstellend:“Een van my vriendinne se ma is ses jaar ouer as haar pa, en hulle is al vir byna dertig jaar gelukkig getroud. Ek dink liefde is die belangrikste faktor, en die feit dat hulle dieselfde belangstellings deel. Wie is die meisie wat jy liefhet, Henning?”
Hy antwoord byna onhoorbaar: “Martelle de Vos.” Hy kyk afwagtend na Elzeri, sy oë pleitend om aanvaarding.
Dan vervolg hy verdedigend: “Die vrouens skinder oor haar. Hulle sê sy maak jag op al wat man is, maar dis nie waar nie. Hulle is net jaloers omdat sy baie mooier as die hele ou spul is. Sy lyk soos agtien, nie drie-en-twintig nie, en sy is vriendelik met almal.”
Sý is jaloerser op Martelle as al die ander vroue saam, dink Elzeri wrang en vra met net genoeg belangstelling in haar stemtoon:“Verwag Martelle se ouers nie dat Arendt met haar sal trou nie? Het hulle nie ’n verhouding nie?”
“Dis die storie wat rondgelê het voordat Arendt Nieu-Seeland toe is, maar Arendt het Martelle laas op skool uitgeneem. En tot Vrydagaand was Martelle by vriende in Natal. Ek is seker haar ma het haar gebel om te sê Arendt is terug op Oggendglorie, maar Martelle was nie haastig om terug te kom nie.”
“Hoe kan jy seker weet dat hulle mekaar nie liefhet nie, Henning?” vra Elzeri bo die pynlike geklop van haar hart in haar keel.
“Omdat sy mý lief het! Ek lieg nie, Elzeri. Ek was vyftien toe ek haar liefgekry het, maar sy het my behandel asof ek net ses jaar oud was. En toe, net nadat ek my matriekeksamen geskryf het en my bestuurderslisensie gekry het, het ek en sy gereeld saam uitgegaan. Ek was agtien en … en seker nog ’n kind in ouer mense se oë, maar my liefde vir haar was dié van ’n volwasse man. Ek sal haar altyd lief hê, as sy my net weer kan lief hê …”
“Gaan julle nie meer saam uit nie, Henning?” vra Elzeri simpatiek.
Hy byt hard op sy tande, die spiere bultend langs sy kake. “Nee. Ons het ’n rukkie lank uitgegaan en ek het vas geglo sy het my ook opreg lief, want ons was so gelukkig, Elzeri – werklik gelukkig. En toe, uit die bloute, besluit sy om by my ma-hulle en ander ou vriende in Nieu-Seeland te gaan kuier. Ek was verpletter, want ek was oortuig dat sy reguit na Arendt toe is omdat sy hóm eintlik liefhet.”
“Sy en Arendt het nie getrou nie. Moontlik is hulle tog nie lief vir mekaar nie,” sê Elzeri hoopvol.
“Dis wat ek nie weet nie! Martelle het ná ’n jaar teruggekom, maar sedertdien kuier sy meestal by haar vriende in Natal. Watter vriende? Het sy ’n mansvriend? Het sy hom lief? Het sy net met my gevoelens gespeel? Glo sy ek is te jonk vir liefde? Die onsekerheid vreet aan my, Elzeri, daarom moet ek weet – en net jy kan my help. Sal jy?” vra hy dringend.
“Met die grootste graagte. Wat moet ek doen?” vra sy. Sy wonder of dit die regte oomblik is om oor sy dobbelverslawing te praat, maar besluit onmiddellik daarteen. As sy hom nou help, sal hy haar makliker in die toekoms in sy vertroue neem.
“Jy is my stiefsuster, Elzeri, maar as jy kan voorgee dat –”
“Ek is jou halfsuster, Henning,” val sy hom onthuts in die rede. “Ek en jy het dieselfde ma.”
“O, dan weet jy,” reageer hy afgehaal. Hy kyk haar oomblikke lank nadenkend aan en sê dan: “Ons kan sê jy is my aangenome suster, Elzeri, want jy lyk glad nie soos ek of ons ma nie! As jy net kan voorgee dat ons twee mekaar lief het en Martelle oortuig dat ons trouplanne het … Ag toe, Elzeri, dis net ’n witleuentjie, en dis ter wille van my hele toekoms!”
Is sy moontlik ’n aangenome kind? wonder Elzeri. Is dít waarom haar ma haar so maklik kon wegsmyt? Dalk was daar ’n ander vrou in haar pa se lewe …
Nee, daar is te veel kwelvrae in haar lewe sonder om nog meer by te voeg, dink sy ontsteld en sê gewillig: “Goed, Henning, ek is die groot liefde in jou lewe. Wat doen ons nou?”
“Ek en Martelle het altyd onder ’n groot ou bloekomboom naby die rivier op hulle plaas piekniek gehou. Ek het haar vanoggend gebel en ons het afgespreek om mekaar vanmiddag daar te ontmoet. Jy het jou rydrag aan en jy lyk mooi soos altyd. Sal ons ry?” vra hy, sy asemhaling vlak van spanning.
Elzeri vat sy hand in hare en sê met nadruklike erns: “Jy is ’n man van twintig, nie ’n onsekere skoolseun nie, Henning. Jou liefde vir Martelle is volwasse, want selfs al ignoreer sy jou, het jou liefde getrou gebly. Of was daar baie ander meisies in jou lewe?”
“Niemand wat ek liefgehad het nie,” antwoord hy met ’n nuwe selfvertroue in sy stemtoon, en wag dat sy haar ryperd uit die stal lei.
Sonette het gelyk gehad, dink Elzeri. Martelle de Vos is ongetwyfeld ’n beeldskone blondine met haar digte blonde hare, groot diepblou oë en porseleinfyn gelaatstrekke. Sy hou haar perd langs dié van Henning in en glip uit die saal.
Hy is onmiddellik by haar en slaan sy linkerarm besitlik om haar skouers. Hulle stap saam na waar Martelle langs die bloekomboom staan en hulle met ’n geamuseerde glimlag betrag.
“Hallo, Martelle,” groet Henning, maar hy kyk nouliks na haar. Hy stel Elzeri aan haar voor en vervolg met oortuigende trots:“Ek en Elzeri het besluit om op Oukersaand verloof te raak en ons wil jou graag uitnooi na ons verlowingspartytjie. Sal jy kom, Martelle?”
“Ongetwyfeld! Dit sal die grap van die jaar wees as ’n halfbroer en -suster verloof raak!” antwoord Martelle en probeer vergeefs om Henning nie in sy gesig uit te lag nie.
“Moontlik, maar aangesien Elzeri my aangenome suster is, sal ons gaste vinnig ophou lag,” antwoord Henning ongesteurd en druk Elzeri se skouers liggies.
Elzeri sien die bloed uit Martelle se gesig dreineer. Dis duidelik dat sy teen die boomstam terugleun, asof haar bene skielik onder haar wil meegee.
Elzeri onthou van Henning se jare van vergeefse liefde en sê sonnig: “Ek kan verstaan waarom Henning se ma nie gretig was om jou oor my pa se ontrouheid in te lig nie. Maar my pa het ’n ander vrou liefgehad en ek is die ander vrou se kind. Ek hoop ek skok jou nie te veel nie, maar as ek en Henning wil trou, sal almal die waarheid oor my geboorte moet weet.”
Henning druk ’n soen op haar voorkop en sê bewonderend: “Jy is so dapper, my liefste. Dit verg moed om die waarheid oor jou ouers bekend te maak. Dink jy nie ook so nie, Martelle?”
“Arendt het my niks daarvan vertel nie – nie eens toe ek in Nieu-Seeland was nie. En jou ma het ook nooit ’n woord gesê nie, Henning,” antwoord Martelle, ’n uitdrukking van desperate onmag in haar oë.
Henning frons sy misnoeë en vra afkeurend:“Hoe kan jy my ma verkwalik dat sy nie haar hartseer geheim met jou gedeel het nie? Vervlaks, Martelle, my ma is ’n trotse vrou. Ek en Elzeri oorweeg dit reeds om te emigreer as ons huwelik vir haar ’n verleentheid sal wees.”
Henning is skielik ’n volwasse man, dink Elzeri waarderend. Hy staan selfversekerd en trots langs haar en kyk Martelle vreesloos in die oë.
Martelle staar hom oomblikke lank swygend aan, haar oë donker poele van pyn in haar waswit gelaat. Sy antwoord eindelik: “Jou ma en Arendt … hulle ken my hartseer geheim. Ek was so alleen, selfs al was ek omring deur mense. Ek sou nader aan jou ma gevoel het as sy my van haar hartseer vertel het, maar sy …”
Elzeri sien die glinstering van trane in Martelle se oë. Sy glip onder Henning se arm uit en lê haar hand aarselend op die ander meisie se arm. “Ek is bitter jammer ons het jou ontstel, Martelle. As ons enigiets kan doen om jou te help om –”
“Hoe?” val Martelle haar verbitterd in die rede. “Jy en Henning gaan trou, en klein Kallie … Hy sal nooit sy pa en ma ken nie.”
Woede en jaloesie laat vertrek haar mond tot ’n polsende wond toe sy uitdagend vra: “Of gaan jý Kallie aanneem en my en Henning se seun grootmaak?”
“Nee!” Henning se uitroep is soos die gebrul van ’n gewonde leeu. Hy storm nader, stoot Elzeri opsy en gryp Martelle aan die skouers. “Hoekom het jy my nooit vertel nie, Martelle? Hoekom het jy almal laat glo Kallie is Arendt en ’n onbekende Nieu-Seelandse meisie se kind?”
“Omdat ek jou moes beskerm!” kom dit heftig van haar. “Jy was so jonk – veels te jonk om in ’n huwelik gedwing te word, Henning. As jy my kon liefhê soos wat ek jou het …” Haar blik val op Elzeri en sy vervolg met wrange aanvaarding: “Maar dis nou te laat.”
“Ek dink ek is oorbodig, Henning,” sê Elzeri.
Sy merk die verwarring op Martelle se gesig en voeg dan glimlaggend by: “Henning ís my halfbroer, Martelle. En ek hoop jy is binnekort my skoonsuster.”
Maar hoe gelukkig sal Arendt oor dié situasie wees? tob sy terwyl sy op Lancaster se rug klim. Sy ry op ’n ingehoue galop weg, gretig om aan haar kwellende gedagtes te ontsnap.
Daar was nog nooit so ’n mooi Dinsdag nie, want vanaand sal Arendt uiteindelik terug wees op Oggendglorie, dink Elzeri met ’n opwellende gevoel van blydskap. Sy spring met Lancaster oor die plaashek wat toegang verleen tot die suidelike gedeelte van Horison.
Toe sy ’n onbekende metaalgrys motor met ’n Gautengse registrasienommer digby die ingang van Oggendglorie sien staan, hou sy onwillekeurig haar perd in. Die motordeure gaan oop en sy ry onwillig nader, bewus van ’n onverklaarbare gevoel van bedreiging toe twee frisgeboude mans uit die motor klim en haar opsigtelik inwag.
“Middag, juffroutjie,” groet die langer man en tree voor Lancaster in, sodat sy verplig is om haar perd in te hou. “Ons is op soek na Henning van Breda. Soek ons by die regte plek?”
“Hou jou snater, Bakkies!” snou die tweede man, ’n stewig geboude rooikop met ’n skewe neus en ’n letsel op sy linkerwang. “Ons is ou vriende van Henning, juffrou, en hy het ons uitgenooi na sy mense se plaas toe.” Hy beduie met sy duim oor sy skouer na die ingang van Oggendglorie. “Die hekke is gesluit.”
Dié mans het iets met Henning en sy dobbelskuld te doen, besef Elzeri intuïtief. Sy voel haar maag saambondel van vrees, maar sê met oortuigende teleurstelling: “Julle moes eers gebel het! Henning is Sondagmiddag weg Pretoria toe om by sy vriend Tiaan te gaan kuier. Hy sal môreaand terug wees.”
Bakkies en Rooie kommunikeer woordeloos met hulle oë en dan sê Bakkies grimmig: “Sê hom die tienduisend is nou vyftigduisend. Harde kontant. Ons sal môreaand terug wees. Maar kom hy vroeër terug, sal ons weet.”
Arendt steek in die deur van sy studeerkamer in Huis Roosmaryn vas. Hy kyk verslae na Elzeri, wat met ’n hamer en ’n skroewedraaier probeer om sy kluis oop te kap.
Hy beweeg ligvoets tot agter haar en sê hulpvaardig: “Dinamiet sal meer doeltreffend wees, meisiemens.”
Sy gil lank en skril, laat val die hamer op haar rystewel en slaan blindelings van pyn en skok na hom. “Ek haat jou! Ek haat jou, want jy steel alles wat ek het!” krys sy. Haar trillende stem verraai sy is op die rand van trane.
Hy gryp haar hande vas en sê paaiend: “Jou selfoon is –”
“My bankkaart, jou onnosele man! As hulle nie hulle geld kry nie, sal hulle m-my vermoor!” val sy hom in die rede, histeries van vrees.
“Hoekom skuld jy hulle geld?” vra Arend wantrouig. Sy sluk aan die pynlike knop in haar keel en prewel byna onhoorbaar: “Dis dobbelskuld. Ek moet hulle vyftigduisend rand betaal, anders is julle almal se lewens in gevaar. Help my, Arendt … asseblief, help my.”