Hy haat dit om ’n spektakel van homself in die openbaar te maak, dink Roland en blik afkeurend na Lelani wat sy sakdoek by hom geneem het en hartverskeurend daarin huil. Dis erg genoeg dat die meisiemens huil asof sy haar hele familie in ’n ramp verloor het, maar waarom moet hy langs haar op haar ellendige bliktrommel op die sypaadjie sit? Maar staan hy op, sal verbygangers moontlik glo dat hy met haar rusie gemaak het. Dit lyk darem asof hy haar probeer troos terwyl hy langs haar sit, selfs al raak hy nie aan haar nie, dink hy gefrustreerd en gluur haar aan toe sy harder begin huil.
“Kan jy nie sagter huil nie, meisiemens?” grom hy diep uit sy keel en verwens homself oor sy brutaliteit. Niemand sal sonder ’n baie goeie rede so verskriklik huil nie, besef hy. As hy net taktvoller kan wees …
Lelani se snikke word skielik stil. Sy neem die sakdoek voor haar gesig weg en kyk op na die vreemde man langs haar.
Roland kyk in haar oë en voel asof iemand hom ’n onverwagte vuishou in sy maag gegee het. Lang, digte, swart wimpers omraam oë wat lyk soos ’n silwergrys, donker meer waarop die maanlig val …
“Ek is nie ’n waterpistooltjie nie. Wanneer ek huil, huil ek met byklanke,” snou sy, druk haar gesig in sy sakdoek en begin opnuut huil.
“Om liefdeswil …!” Roland maak ’n wilde, senuweeagtige gebaar met sy hande en klap haar byna bo van die trommel af. Hy gryp haar vinnig aan die arm en klou haar vas, asof hy bang is sy gaan omval. “Asseblief, juffroutjie … e … verpleegster …” Hy knip sy oë vinnig – vir die eerste maal werklik bewus daarvan dat sy ’n verpleegstersuniform dra. “Is een van jou pasiënte dood? As jy my daarvan wil vertel, help –”
“Haal jou kloue van my arm af!” krys sy en ruk met geweld haar arm uit sy greep los. Sy verloor haar balans en land op die sypaadjie langs die trommel.
Roland bereik haar voordat sy na haar asem kan snak, tel haar op en plak haar ru op die trommel neer. Hy neem langs haar plaas en plaas sy arm om haar skouers. “Sit stil!” sis hy. “Daar woon honderde mense in hierdie straat en op die oomblik staan hulle almal voor hulle vensters en loer ons deur hulle kantgordyne af.”
Hy lyk soos die ou duiwel met sy swart hare, swart wenkbroue en swart oë. Sy vel is ook amper swart – eintlik net songebruin, maar dit kom op dieselfde neer, dink Lelani met weersin. En hy klou haar vas. Vanoggend het Arno Greyvenstein haar vasgeklou en sy het fisiek naar gevoel. Op die oomblik is sy nie naar nie, maar haar hart klop onreëlmatig en dit voel asof sy gloede kry. Dalk gaan sy tog naar word …
“Jy verwurg my. Haal jou kloue van my af en skuif eenkant toe,” sê sy nydig.
“Glo my, Juffrou, ek geniet nie die rol van vertrooster nie. Ek sal dit nie ontken nie: ek sal jou met graagte wil verwurg, bloot om jou stil te kry. Maar aangesien ons verplig is om hier op jou bliktrommel te sit, sal ek jou vashou om te verhoed dat jy weer afval,” antwoord hy, sy stemtoon koud.
“Dis mý bliktrommel. Nee, dis ou Helena Greyvenstein se … se … ” Trane reën haar woorde weg en sy snik hulpeloos in sy sakdoek.
“Hoekom vertel jy my nie wat Helena Greyvenstein gedoen het nie?” vra hy vinnig. As die meisiemens praat, sal sy ophou huil. Aangesien hy verplig is om saam met haar op ’n trommel te sit, sal ’n gedempte geselsie hopelik minder aandag trek as ’n snuiwende, snikkende meisiemens, dink hy en betrag haar met kille afkeer.
Hoekom nie? vra Lelani haarself af. Sy ken nie die man nie en dit is makliker om ’n mens se probleme met ’n vreemdeling te bespreek. Vertel sy oom Giepie wat vanoggend in die Greyvenstein-huis gebeur het, word hy dalk so kwaad dat hy ’n beroerte kry. As oom Giepie iets moet oorkom … Sy voel die trane agter haar ooglede brand en byt hard op haar tande. Sy kan nie bekostig om meer te huil nie, want die man se sakdoek is reeds deurnat, besluit sy en draai na hom.
“Jy het ophou huil,” sê hy en klink oneindig verlig.
“Ek moes ophou. Ek kan al jou sakdoek uitdroog.”
“Ek is dankbaar dat jy ophou huil het. Maar hoekom het jy so verskriklik gehuil?”
“Mans!” sê sy en laat dit soos ’n skelwoord klink. “Oom Jaco Greyvenstein het beroerte gehad. Bedags versorg sy vrou, tant Helena, hom, maar ek is saans vanaf sewe-uur tot soggens om sewe-uur aan diens. Privaat verpleging betaal goed.”
“Jy het nie by die Greyvensteins ingewoon nie?” vra hy.
“Nee. Tant Helena verwag dat ek aandete en ontbyt tuis eet. Ek is ’n gekwalifiseerde suster. Sy sê sy moet my reeds ’n fortuin betaal en sy kan definitief nie ’n inwonende verpleegster bekostig nie. Ek het dit so verkies, want Arno Greyvenstein –”
“Dis Helena se seun?” val hy haar in die rede.
“Ja. Hy is onder die indruk dat sy ma my gehuur het om hom te vermaak. Gelukkig weet ek hoe om professioneel op te tree. Ek kan ’n koel, bekwame hospitaalsuster wees wat weet hoe om lastige mans op ’n afstand te hou.” Sy lees die ongeloof in sy oë en vervolg bitsig: “Ek huil nie altyd nie! Ek het nie eens gehuil toe my stiefpa dood is nie, want… want…”
Hy hoor die trane in haar stem en vra vinnig: “Arno het veroorsaak dat jy so gehuil het?”
“Ja. Die Greyvensteins is die rykste mense op Sekelbaai. Tant Helena het klaar ’n skatryk bruid vir Arno gekies, maar selfs ’n verloofring kan nie Arno se natuur verander nie. Hy is ’n arrogante, bedorwe rykmanseun wat glo dat hy alle meisies ’n guns bewys as hy hulle beklou en… en…”
“Ek het ’n verbeelding,” sê hy bruusk. “Arno het jou beklou?”
Sy knik en haar oë lyk soos donkergrys stormwolke. “Ek het so pas van diens af gekom toe hy my by die bopunt van die trap voorgekeer het. Hy was nog in sy nagklere, maar dit kon hom nie skeel nie. Hy het my vasgegryp en gesoen en allerlei … allerlei liederlike voorstelle gemaak.” Sy gluur hom aan asof hy Arno is. “Jy sal weet, want jy het gesê jy het ’n verbeelding.”
“Ek het. Maar wat het jy gedoen?”
“Hard met my skoenhak op sy kaal tone getrap en hom geklap. Maar dit het hom glad nie afgeskrik nie. Hy het gevloek en gelag en my net vaster gegryp en toe … toe kom tant Helena op ons af.”
Roland sien die diep blos van verleentheid oor die meisie se gesig en nek kruip en kry haar jammer, totdat sy opkyk na hom en hy die woede in haar oë sien blits. “Die skynheilige ou heks! Sy ken Arno se reputasie, maar sy het onmiddellik aangeneem dat ek haar onskuldige seuntjie – en daarby ’n verloofde man – probeer verlei het.”
“Arno het haar nie reggehelp nie?” vra hy koud.
“Natuurlik nie. Tant Helena dra die broek in die huis. Oom Jaco en Arno dans na haar pype, want dis háár geld wat hulle ryk maak. Arno het my beskuldig en gesê dat ek al maande lank op hom jag maak en tant Helena het voorgegee dat sy hom glo. Sy het geweet hy jok, maar sy moes tussen my en haar lieflingseuntjie kies. Vanselfsprekend is ek in die pad gesteek.”
“En die trommel?” vra hy aarselend.
“Dis vol boeke … twintig of dertig boeke. Oom Jaco het daarvan gehou as ek vir hom voorlees wanneer hy nie kon slaap nie. Ek het die boeke een-een na hulle huis toe geneem, maar toe ek dit wou terugbring … Tant Helena het die huishulp aangesê om die bliktrommel van die solder te gaan afhaal, sodat ek my boeke daarin kon pak.”
“Jy kon nie jou ma bel om jou te kom haal nie?” vra hy prakties.
“Daar is nie telefone in die kerkhof nie,” antwoord sy wrang.
Hy kyk ongemaklik weg. “Ek is jammer.”
“Dis in die haak. Ek kon oom Giepie gebel het, maar ek was so ontsteld … Nee, ek was kwaad en beledig en verneder … woedend. As ek nie so kwaad was nie, sou ek nooit die ellendige trommel so ver kon gesleep het nie. Maar toe ek die huis sien en aan oom Giepie dink en besef hoe arm ons nou is en dat ek my werk ook nog verloor het … Toe ek in die lamppaal vasloop, was dit makliker om te huil as om voort te gaan.”
“Jy woon by jou oom Giepie?” vra hy hoopvol.
“Nee, oom Giepie het by ons geloseer. Hy en oom Barend en tant Charity en tant Patience. Totdat my stiefpa dood is. Nou moet ons almal elders verblyf vind, want Huis Winterrus behoort aan my stiefsuster.”
Sy mond val oop en hy los haar vinnig. “Jy is Lelani Wessels, Yvette Boonzaaier se stiefsuster?” vra hy verbysterd.
Sy frons vyandig. “Hoekom het jy my nie gesê jy weet van my nie? Ek het gedag ek praat met ’n vreemdeling.”
Hy vergeet momenteel van die belofte wat hy agt jaar gelede aan homself gemaak het om nooit weer toe te laat dat enige vrou of meisie aanspraak op sy emosies maak nie. Hy glimlag met die speelse warmte wat hy gewoonlik net teenoor tant Engela openbaar. “Ons kan beswaarlik vreemdelinge wees nadat ons ’n halfuur lank saam op ’n bliktrommel op die sypaadjie gesit het. En dan is daar my sakdoek. Ek leen nie my sakdoek aan vreemdelinge nie.” Hy steek sy regterhand na haar uit. “Roland Stadler. Bly te kenne, Lelani – of is dit suster Wessels?”
Sy skud sy hand teësinnig. “Lelani. Jy is nie my pasiënt nie,” antwoord sy koel en los sy hand vinnig, asof sy aanraking haar nie geval nie.
Hy voel vreemd afgehaal deur haar vyandigheid, vererg hom dan omdat hy hom daaraan steur en blik oor sy linkerskouer. “Yvette is op die oomblik in Huis Winterrus. Kom saam. Ek sal die trommel dra.”
“Ek het gehuil,” sê sy selfbewus en kom onwillig orent.
“Asof ek dit kan vergeet!” skerts hy en frons ergerlik. Hy is nie gewoond om met meisies – bekend of onbekend – te skerts nie. Hy is Roland Stadler, ’n geswore oujongkêrel wat alle meisies oor dieselfde kam skeer. Ná vanoggend sal hy Lelani Wessels nooit weer sien nie. Sy is ’n gekwalifiseerde hospitaalsuster. Sy sal elders werk kry. Hy het nie nodig om ’n enkele slapelose nag oor haar te hê nie, besluit hy en tel die bliktrommel op. “Was jou gesig onder die tuinkraan. Ek het nog ’n droë sakdoek,” sê hy onsimpatiek en stap vooruit na die tuinhekkie van Huis Winterrus.
Oom Giepie sit op ’n eetkamerstoel en suig onstuimig aan sy kromsteelpyp terwyl hy Yvette Boonzaaier met grimmige argwaan betrag. Yvette staan voor die antieke buffet, ’n notaboekie in haar hand, en skryf elke item sorgvuldig daarin neer.
“Wonderlik! ’n Antieke silwer tee-en-koffiestel. Dis ’n klein fortuintjie werd,” sê sy ingenome.
“Dit behoort aan Lelani,” kom dit koud van oom Giepie. Yvette swaai nydig om na hom. “Het sy enige bewyse dat dit haar eiendom is, meneer Taljaard?”
“Ek het, ja,” klink Lelani se stem rustig uit die deur skuins agter haar.
Yvette draai stadig om na die deur, haar oë nuuskierig op die meisie in ’n verpleegstersuniform. Dan is die skraal dingetjie met die wit gesiggie en donker oë haar stiefsuster, dink sy. Gelukkig lyk sy nog soos ’n pure kind. Die bemoeisieke meneer Taljaard het haar tot vervelens toe verseker dat die besondere antieke meubelstukke en kosbare porseleinware Lelani se eiendom is. Sy het die ou man geïgnoreer, want sy het reeds besluit: alles in haar pa se huis is haar wettige eiendom.
“Jy is Lelani Wessels?” vra Yvette koel. Sy merk Roland in die gangdeur agter Lelani staan en glimlag flitsend met hom.
“Ek is. Al die antieke meubels, die silwer- en porseleinware is erfstukke van my oorlede ma.”
“Ek sien.” Yvette glimlag met bedrieglike vriendelikheid. “Ek sê nie ek trek jou woord in twyfel nie, my poppie, maar het jy enige bewyse dat dit wel jou eiendom is?”
“Kom nou, Yvette,” sê Roland ongeduldig. “Ek twyfel of Lelani jou van jou erfenis sal wil beroof. As sy sê dit is hare, is dit so.”
Oom Giepie lag geamuseerd. “Slim van jou, Lelani, om ’n advokaat saam te bring. Kan jy darem sy fooi bekostig?”
Ergernis vlek Lelani se wange. “Sy naam is Roland Stadler en hy is ’n vriend van Yvette, oom.” Sy rig haarself op en kyk Roland uit die hoogte aan. “Ek het nie jou hulp nodig nie, Roland. Ek besit nog my oorlede ma se testament waarin elke item wat ek geërf het, in die fynste besonderheid beskryf word.”
Yvette tik met haar pen ritmies op die notaboekie in haar hand. “In daardie geval: ek sal graag die testament wil sien.”
“Jy sal,” antwoord Lelani kortaf, begin wegdraai om na die studeerkamer toe te gaan, maar steek vas toe tant Charity en tant Patience soos twee verwilderde kwikstertjies die eetkamer binnekom.
“Ons meubels, Lelani,” sê tant Charity na aan trane.
“Sý,” begin tant Patience strydlustig en bedwing haarself net betyds om nie alle etiketreëls te oortree en met haar vinger na Yvette te wys nie, “het ’n lys van my en Charity se persoonlike besittings gemaak. Sy het selfs die antieke horlosie wat al die jare in die ontvangsportaal van ons plaashuis gehang het, opgeskryf.”
“Ek het Huis Winterrus van my pa geërf. Alles in hierdie huis is ook myne,” kom dit verwoed van Yvette.
“Nee, ou kintatjie,” sê oom Giepie met ’n droë laggie. “Jy het slegs die huis geërf. Die meubels wat nie ons persoonlike eiendom is nie, sal verkoop word om jou pa se skuld te betaal. En enige kapitaal wat oorbly, is Lelani se erfenis.”
Yvette swaai na hom asof hy haar geklap het. “Wat weet jy, jou armsalige ou man? Jy is net een van die spul parasiete wat op my pa geteer en hom uitgeroei het,” snou sy.
“Dalk,” antwoord oom Giepie rustig, “maar ek was toevallig jou oorlede pa se vertroueling. Ek het ’n afskrif van sy testament gelees. As jy my woord in twyfel trek, kan ons saam na jou pa se prokureur toe gaan sodat hy die testament opnuut aan jou kan voorlees.”
“Sê haar, meneer Taljaard!” kom dit opgewonde van tant Charity.
“Kalm bly, Charity,” maan tant Patience. “Ons het die wet om ons te beskerm.”
“En om te sorg dat reg en geregtigheid doodgeskiet word,” kom dit triomfantelik van tant Charity.
“Geskied, Charity,” korrigeer tant Patience. “As ’n mens jag, skiet jy diere dood.”
“Ek het geweet dit het iets met ’n geweer te doen,” sê tant Charity ingenome. “Kom, Patience. Meneer Taljaard en Lelani sal sorg dat ons nie besteel word nie.”
Die twee vroue stap die vertrek met statige waardigheid uit, oënskynlik onbewus van Yvette wat hulle met moord in haar oë aangluur. Sy lig haar ken en betrag Lelani met onverbloemde minagting. “Jy en jou spul bloedsuiers het ’n week tyd om Huis Winterrus te ontruim. Ek en Roland sal intussen ’n besoek aan my pa se prokureur bring. Wie was hy nou weer?”
“Meneer Wilhelm Kritzinger. Sy kantoor is op die dorp, naas die stadsaal. Julle sal dit maklik kry,” antwoord Lelani koel.
“Kom, Roland,” beveel Yvette.
Roland huiwer en kyk na Lelani, maar sy het reeds op ’n stoel naas oom Giepie plaas geneem met haar rug op hom gekeer. Hy frons en volg Yvette na die ontvangsportaal.
“Sy is giftiger as ’n nagadder, jou stiefsuster,” sê oom Giepie gedemp. “Maar moenie jou deur haar laat ontstel nie, ounooi. Ek het jou pa se testament gelees en gister het meneer Kritzinger dit aan jou voorgelees. Jy weet tog jy het die meubels geërf?”
Lelani sug en skud haar kop verward. “Ek het nie werklik geluister nie, oom Giepie. Die ontsteltenis oor Huis Winterrus het my doof en blind gemaak vir alles wat om my aangaan. Vreemd, ek het altyd geweet Huis Winterrus het aan my stiefpa se vorige vrou behoort, maar ek het nogtans gehoop … geglo … Dit was my eie ma se geld wat gebruik is om sowat tien jaar gelede ekstra badkamers aan te bou en die ou teëldak te vervang. My stiefpa het volstrek geweier om enige verbeteringe aan die huis aan te bring, want volgens hom was dit ’n swak belegging. Maar my ma was so trots op ons woning… op Yvette se huis,” vertel sy verslae.
“Die meubels wat jy van jou ma geërf het, is ’n klein fortuintjie werd,” sê hy paaiend.
Sy kyk magteloos na hom. “Ek gaan dit nodig kry, want …” Sy sluk hoorbaar, lek oor haar droë lippe en vertel hom van die gebeure vroeër die oggend in die Greyvenstein-huis.
Oom Giepie luister aandagtig. Sy gesigsuitdrukking is onpeilbaar, maar sy lees die smeulende woede in sy diepblou oë.
“Arno Greyvenstein is ’n muishond – maar met ’n ma soos ou Helena kan ’n mens niks anders verwag nie,” sê hy grimmig.
“Oom blameer ’n vrou vir haar seun se gedrag?” vra sy geraak.
“Ek het oorgenoeg rede. Arno word as ’t ware in ’n huwelik met ’n meisie gedwing, bloot omdat sy ma dit van hom verwag. Ek praat nie die jongman se optrede goed nie, maar ek kan sy magteloosheid en frustrasie verstaan, want sy ou ma dra die beursie.”
“Ek gaan nie maklik weer werk kry op Sekelbaai nie, oom Giepie. Tant Helena is ’n invloedryke vrou en ek glo sy sal my naam so beswadder dat ek nie eens ’n betrekking by die hospitaal sal kan kry nie. Sy … sy het gedreig om dit te doen,” sê Lelani mismoedig.
“In daardie geval…” begin oom Giepie en swyg toe oom Barend Stoltz die eetkamer binnekom. “En nou, Barend? Waarheen is jy op pad in jou Sondagse pak en met jou briewetas in jou hand?”
Oom Barend prop ’n suiglekkertjie in sy mond, suig ’n paar oomblikke en sluk hoorbaar. Hy skuifel met kort treetjies na Lelani se stoel toe en steek sy hand na haar uit. “Ek is op pad, Lelani. Die taxi wag voor die deur. As ek die nege-uurtrein haal, is ek vroegmiddag by my dogter.”
Sy spring vinnig op. “Sommerso? Ons het nie eens ’n afskeidspartytjie gehou nie. Ek bedoel, ek het nog nie tyd gehad om gewoond te raak aan die gedagte dat oom vir goed weggaan nie,” verwyt Lelani, haar stem hees van dreigende trane.
“Ek hou nie van ’n uitgerekte afskeid nie, want …” Oom Barend snuif en kug en probeer om ongemerk oor sy oë te vryf. “Jy was net vyftien toe ek hier kom woon het, Lelani, maar jy was altyd ’n bedagsame kind. Hier – dis ’n pakkie suiglekkertjies en so ’n ietsie. Gebruik dit, want jy sal dit nodig kry. Ek los vir jou die antieke Duitse bierbeker wat jy altyd so bewonder het. Dag, my dogtertjie.” Hy buk nader en druk ’n taai, soet soen op Lelani se wang voordat hy omdraai en vinnig na die deur toe skuifel.
“Tot siens, oom Barend,” groet Lelani verwese, skaars bewus van die koevert en pakkie lekkers in haar hande. “En baie dankie.”
Oom Giepie staan op. “Ek stap saam na die taxi toe, Barend,” sê hy en haas die vertrek uit.
Lelani sak stadig terug op haar stoel, maak die koevert oop en staar oopmond na die pakkie vyftigrandnote. Sy begin werktuiglik die geld tel en spring ontsteld op juis toe oom Giepie die vertrek binnekom.
“Dis te veel geld, oom! Dis diefstal!” krys sy, reeds op pad na die deur. “Oom Barend het ’n fout gemaak. Stop die taxi, oom!”
Oom Giepie se hand sluit ferm om haar arm. “Dit was nie ’n fout nie, ounooi. Barend Stoltz was ’n suksesvolle sakeman. Hy het my gevra om toe te sien dat jy die geld gaan bank.”
“Maar … maar hoekom? Hoekom betaal oom Barend my noudat ek hom as ’t ware weggejaag het?” vra sy, haar stem skor van trane.
“Liefde neem soveel verskillende vorme aan, Lelani. Vir Barend is liefde om sy suiglekkers met jou te deel … of om vir jou geld te gee, omdat hy nie weet hoe anders om aan jou te sê dat jy sy verblyf hier aangenaam gemaak het nie.”
“Het hy vir oom ook ’n geskenk gegee?”
Oom Giepie lag gedemp. “Nie Barend nie. Ons twis al sewe jaar lank oor sy suiglekkers en my onwelriekende pyp. Dink mooi na, Lelani: jy is die enigste persoon in Huis Winterrus wat hom nooit laat voel het hy is ’n vraat omdat hy so graag eet nie. Ek het my vir die man vervies en die Freeman-susters het hom in geskokte stilte met afkeer aangestaar. Jou pa het hom geïgnoreer. Net jy het hom aanvaar. Aanvaarding is ’n vorm van liefde.”
“Ek was lief vir oom Barend,” erken sy en kyk na die geld. “Ons sal nie nou sukkel om ’n blyplekkie te kry nie, oom Giepie. Maar dis beter as oom solank vir my die geld hou.”
Oom Giepie huiwer, lees die kinderlike vertroue in Lelani se oë en steek die koevert met die geld in sy binnebaadjiesak. “Vertroue is ook liefde,” skerts hy, maar sy oë sê woordeloos dankie.
“Dis byna tyd vir ons oggendtee. Ek sal solank …” begin Lelani sê. Sy kom orent en versteen toe tant Charity en tant Patience met veersagte voetstappe die eetkamer binnekom. Sy kyk na hulle eenderse lila tabberds en bypassende handsakke en sluk herhaalde male.
“Die Dresden-beeldjies is joune, Lelani, twee van my en twee van Charity,” sê tant Patience. “Abigail het klaar ons tasse na die ontvangsportaal toe gedra. Die meubelstukke in ons kamer kan jy ook kry. Faith het ons laat verstaan dat haar huis oorvol meubels is.”
“Maar … maar … móét julle reeds vandag weggaan?” vra Lelani skor.
“Ons moet,” sê tant Charity, “want meneer Stoltz sal ons tot op Kampsbaai vergesel. Ons voel vervelig saam met hom.”
“Veilig, Charity,” sê tant Patience werktuiglik. “Tot siens, my liewe Lelani.”
Lelani staan roerloos toe eers tant Patience en toe tant Charity haar op die wang soen.
“We’ll be seeing you soon, my dear,” sê tant Charity. Sy glimlag skuldig en vervolg: “Ek sal die taal goed leer praat.”
Lelani wend geen poging aan om hulle te groet nie. Haar lippe is styf saamgepers terwyl trane silwer paadjies oor haar wange trek en langs haar ken afdrup.
Tant Charity en tant Patience bring albei fyn kantsakdoekies te voorskyn en klad hulle oë.
“Uit!” bulder oom Giepie onnodig hard. “Kom, kom, dames, julle kan nie julle trein verpas nie,” sê hy ongeduldig en keer hulle soos ’n trop balhorige skape by die deur uit en die ontvangsportaal binne.
Hy keer ’n paar minute later terug na die eetkamer, sien Lelani met haar rug op hom gekeer voor die venster staan en sê hartlik: “Wat van ’n lekker koppie tee en ’n stukkie reënboogkoek, Lelani? Sal ek Abigail vra om ons te bedien?”
Sy draai stadig om na hom. “Dis net ek en jy, oom Giepie … net ek en jy. As jy ook weggaan …”
Die voordeurklokkie klingel musikaal deur die ou woning en Lelani en oom Giepie kyk vraend na mekaar.
“As dit jy is, Yvette, kom binne!” bulder oom Giepie. “Kan jy nie sien die vervlakste voordeur staan wawyd oop nie?”
“Oom Giepie!” berispe Lelani hom en staar dan verwonderd na die bejaarde vrou met die silwergrys hare en vriendelike, grysblou oë wat in die deur van die eetkamer verskyn. Sy het ’n mollige figuur, maar is netjies geklee in ’n duifgrys tabberd. Haar hare is dig en lank en in ’n sierlike vlegsel om haar kop gedraai.
Lelani glimlag aarselend en tree vorentoe. “Goeiemôre. Ek is Lelani Wessels, maar ons neem nie meer loseerders in nie, mevrou.”
“Juffrou,” korrigeer tant Engela van Jaarsveld haar en betrag Lelani met openlike nuuskierigheid. “Bly te kenne, Lelani. Ek is tant Engela van Jaarsveld.”
“Bly te …” begin Lelani en swaai verskrik om na oom Giepie wat hygend en stikkend aan die hoes gaan. “Oom moet ophou rook! Ek het oom al ’n duisend maal gewaarsku dat rook sleg is vir ’n mens se gesondheid,” bars sy uit, ineens onredelik kwaad. Is dit nie genoeg dat haar eie ouers en haar stiefpa deur die dood van haar weggeneem is nie? wonder sy bitter. As oom Giepie iets moet oorkom, het sy niemand wat sy haar eie kan noem nie.
“Moenie op my skree nie, dogter,” kom dit hygend van oom Giepie.
“Ek is jammer, oom Giepie,” sê sy berouvol. “Ek is nie rêrig kwaad nie en ek weet oom rook selde indien ooit, maar … maar … Moenie doodgaan nie, oom. Wat doen ek sonder my oupa Giepie?”
“Jou oupa, Lelani?” kom dit verwonderd van tant Engela.
Lelani draai glimlaggend na haar en merk verras dat tant Engela met ’n bewende hand na ’n stoelleuning gryp en vinnig op die stoel neersak. “Wat skort, tannie? Ek hoop nie tannie het al die pad van die stasie af hierheen geloop nie.”
“Nee … nee, hartjie, ek het met my motor gery,” antwoord sy, probeer glimlag, maar haar hande klou kneukelwit om haar handsak vas en verraai haar innerlike spanning.
“En toe hoor tannie op die dorp Huis Winterrus is ’n losieshuis?” Lelani glimlag spytig. “Ek is so jammer ek kan tannie nie help nie, maar Huis Winterrus het van eienaar verwissel. Drie van my loseerders is reeds weg en ek en oom Giepie gaan binne die volgende paar dae vir ons ’n woonstelletjie of ’n paar kamers huur.”
“Ek verstaan nie mooi nie,” sê tant Engela. Sy kyk flitsend na oom Giepie wat, met sy blik neergeslaan, besig is om sy pyp skoon te maak en dan na Lelani. “Jy het gesê Giepie … dié meneer is jou oupa, maar jy noem hom óóm Giepie.”
Lelani lag klokhelder. “Dis sommer ’n speletjie, tannie. Ek het nooit ’n oupa gehad nie, daarom het ek sewe jaar gelede besluit oom Giepie is my aangenome oupa. Hy het niemand nie en ek het niemand nie, daarom gaan ons vir mekaar sorg.”
“In ’n beknopte woonstelletjie?” vra tant Engela en kyk betekenisvol in die ruim vertrek rond.
“’n Man wat op ’n karige pensioentjie moet leef, kan nie kies en keur nie,” grom oom Giepie van die tafel af, maar hy kyk nie op nie.
“Oom Giepie is knap met sy hande. Hy maak alles heel wat in die huis breek,” vertel Lelani en draai gretig na hom. “Dalk kan oom ’n paar rand ekstra verdien as ’n nutsman.”
“Dalk,” mompel hy, al sy aandag nog by sy pyp.
“En jy, Lelani? Wat doen jy vir ’n lewe?” vra tant Engela belangstellend. Sy het ook nie Lelani se uniform opgemerk nie.
“Ek is ’n hospitaalsuster, maar tot vanoggend het ek privaat verpleging gedoen. Op die oomblik sit ek sonder werk … Ek en oom Giepie het nog nie finaal besluit of ons op Sekelbaai gaan aanbly nie. Dit hang net daarvan af of ek werk in die hospitaal kan kry.”
Tant Engela ontspan merkbaar en glimlag breed. “Maar, kindjie, dan kom ek mos asof ek gestuur is!”
“Gmf!” snork oom Giepie minagtend deur sy neus.
Tant Engela gluur hom aan, lyk asof sy iets wil sê, maar besluit dan daarteen. Sy glimlag weer met Lelani. “Ek en jou oorlede moeder het mekaar baie goed geken in ons jeug, Lelani. Ons was albei plaasdogters en omdat ons op buurplase gewoon het, het ons by mekaar geboer. Sy was vyf-en-twintig toe sy met Herman Wessels getroud is en saam met hom in Kaapstad gaan woon het. Maar ons het deur die jare gekorrespondeer.” ’n Warm innigheid skop nes in tant Engela se stem en oë toe sy vervolg: “Ek onthou haar onuitspreeklike vreugde toe sy op veertig vir die eerste maal moeder geword het.”
“Tannie het haar wérklik geken,” kom dit verras van Lelani. Sy frons effens. “Vreemd, ek kan nie onthou dat sy van tannie gepraat het nie. Maar eintlik het sy selde of nooit oor haar jeugjare gepraat nie, want my oupa en ouma Scheepers was toe reeds dood.”
“Ek het altyd gehoop sy sou kom kuier en met jou by my kom spog, maar toe jy gebore is, het ek reeds in Huis Daeraad by my stiefbroer gewoon en sy seuntjie versorg. Moontlik was sy bang om ’n oorlas van haarself te maak, want sy het besef ek woon nie in my eie huis nie.”
“Ga!” snork oom Giepie ongelowig deur sy neus, sy hande nog doenig met sy pyp.
Lelani merk hoe tant Engela letterlik opblaas van ergernis oor oom Giepie se ongevraagde tussenvoegsel en wag gespanne op ’n uitbarsting. Maar tant Engela haal diep asem en gaan ongestoord voort: “Ek het toevallig verneem dat jou stiefpa oorlede is, hartjie. Ek weet jy het geen familie nie en toe het ek besluit: ter wille van my jeugvriendskap met jou wyle ma, sal ek jou bitter graag ’n heenkome wil bied. En daarmee bedoel ek nie net ’n blyplekkie nie. As jy instem om saam met my te kom, sal jy soos ’n kind in Huis Daeraad wees – ’n eie kind.”
Lelani staar haar oomblikke lank oorbluf aan. “Maar … maar dis nie nodig nie, tant Engela. Ek is reeds twee-en-twintig. Ek het ’n graad in Verpleegkunde en ek is ’n hospitaalsuster. Ek kan vir myself sorg.”
“Ek weet, Lelani, maar ek het jou nodig,” sê tant Engela eenvoudig.
“O …” Lelani byt op haar onderlip en betrag tant Engela nadenkend. Sy lyk soos ’n liewe, aangename mens – en sy is amper soos familie, want sy het haar ma van jongs af geken. Ná die petalje in die Greyvenstein-huis is sy gretig om pad te gee van Sekelbaai. Moet sy die aanbod aanvaar? wonder sy.
“Daar is ’n moderne hospitaal op Stadlerheim. As jy werklik wil, kan jy met jou loopbaan voortgaan,” por tant Engela.
“Wel, ja … dit klink aanloklik. Maar wat van oom Giepie?”
Tant Engela pers haar lippe hard saam en slaan haar blik neer. “Daar is ’n woonstelletjie bo-op die ou stal. As hy kans sien …”
“Blikskottels!” ontplof oom Giepie, maar sluk sy verontwaardiging in toe Yvette, gevolg deur Roland, die eetkamer binnekom.
“Tant Engela! Wat op aarde soek tannie hier?” vra Roland verras.
“Ek het ’n besoekie aan Lelani gebring, boet, en ek is dankbaar om jou te kan inlig dat sy voortaan saam met ons in Huis Daeraad sal woon,” vertel sy ingenome, oënskynlik onbewus van die skok op Lelani en Roland se gesigte.