Hoofstuk 11

‘‘Dink jy dit sal veilig wees om my lewe saam te vat, Jamie?” Mamma het haar ou laphandsak in die lug gehou.

“Ek gaan mos saam,” het Pappa haar geterg. “Ek is mos jou alles en jou alles, lief. Dit sal dom wees om my in jou lapsak te pak. Ek sal my pad van binne af oopknaag.”

Mamma het maar net haar kop geskud. “Jy is lekker uit jou vel uit, Jamie,” het sy kastig moedeloos gesug. “Maar help my nou dink. Ons gaan mos worsbroodjies eet voordat ons gaan stap. En daarna eers roomysstalletjie toe gaan. Moet ek my hele handsak saamvat, of net my beursie?”

Pappa het van die verkeerspolisie onthou. “As ’n verkeerskonstabel ons voorkeer om my bestuurslisensie te vra ... Vat jou handsak saam, dan sit ek my lisensie ook daarin.”

“Afgespreek.” Mamma het plastiese bakke vol eetgoed in Pappa se rugsak begin druk. “Maar ek gaan dit nie saamdra as ons stap nie. Ek sal dit maar onder ’n motorsitplek wegsteek.”

Donnie was skielik nie meer heeltemal so olik nie. “Sal Ma vir my ook ’n worsbroodjie saambring?”

Pappa het sy kamerasak toegerits. “Daar kort ’n woord, Donnie,” het hy gefrons.

“Asseblief, Ma.”

Donnie se piekniekkos was klaar in die yskas.

Hy het nie beter begin voel nie, en toe dit tyd was om te gaan stap, het hy ons by die voordeur afgesien.

“Volgende keer,” het hy nog gesê. “Ek kort net ’n lekker lang slaap. Ek en Elni het gister dalk net te ver gedraf, en nou het ek nog hierdie spinnekopbyt ook.”

Andreas het die res met ’n oopgezipte mond ingevul: “En jy het drie doughnuts in jou maag, Donnie.”

“Mamma, ek is oukei verby.” Donnie het skuldig gelyk en onskuldig probeer klink. “Ma moenie bekommerd wees nie. Gaan vier julle troudag, bly so lank weg as wat julle wil. Waar gaan julle piekniek hou?”

Dít kon hy wel vra, want die wind was nie lekker nie.

Pappa was min gepla. “Ons sal ’n beskutte plek soek, wat.”

Mamma was nie gelukkig omdat Donnie moes agterbly nie. “Kyk in die yskas, my kind,” het sy vir hom gesê. “Ek het jou piekniekkos op die onderste rak gesit. Probeer nou vandag reg eet, dan is jou energie môre terug. En bel ons maar as jy slegter begin voel.”

Donnie het die voordeur begin toetrek. “Daar is niks wat ’n goeie slaap nie beter maak nie. Ma weet mos. En dit is presies wat ek nou gaan doen.”

Ek het om een of ander rede omgekyk toe ons by die hek uitry. Toeriste wat toevallig deur Rotsbaai ry of voornemende huiskopers wat saam met ’n eiendomsagent deur ons woonbuurt ry, het ek gedink, sal Andreas se foefieslaaid, die twee buitebandskoppelmaaie, ons verspringkol en die stuk hardgetrapte grond tussen die kombuisdeur en die onderste badkamervenster van die straat af sien. En natuurlik ook die geverfde tennisnet teen die muur. Pappa het die hoogte daarvan met sy maatlint afgemeet: 1,07 meter langs die kante en 0,91 meter in die middel. Hy en ek het drie dae lank aan Mierhuis se tennisnet geverf.

Toe die net klaar was, het ons langs mekaar gaan staan en kyk. “Hier gaan my opponent nooit moeg word nie, Pappa. En hy gaan nie een bal misslaan nie.”

Daar was ’n grys verfstrepie op Pappa se ken. “H’m. Maar hoe beter ’n tennisspeler se gereelde opponent is, hoe beter raak die een wat teen hom speel. Jy moet net nie ’n badkamerruit uitklits nie, Kayla.”

Ek hou van ons huis, het ek gedink toe ons by die erf uitry. Tomkat sit my hoenders en dophou, Sias gee ’n totsiensblaf, en in die potplanthouers aan die ander kant van die agterdeur het ’n paar van Mamma se helderpienk fuchsias pas begin oopgaan.

“Kyk die fuchsias, Jamie,” het Mamma nog gesê. “Ek het jou gesê dit is wat die westekant van die huis kortkom. Het jy hulle ook al deur die werkswinkel se vensters gesien?”

Pappa het links gedraai, see se kant toe. “Nie eintlik nie. As ek aan ’n voertuig werk, is daar nie tyd vir blomme kyk nie.”

Ek het vir oulaas gekyk. “Weet Pappa wat? Die tennisnet teen die muur is regtig cool. Ons kan vir ander mense ook sulke nette teen hulle mure verf. Maar dan moet hulle ons betaal.”

Andreas was vuur en vlam oor my geldmaakplan. “Ek sal help!”