Hoofstuk 14

Foto’s het eintlik nie datums nie.

“Daar’s Donnie met oupa Rudolf se boshoed op sy kop,” sal ’n mens sê terwyl jy na ’n ou foto kyk. “Dit ís mos hy? Of is dit Daniël? Nee, dit is Donnie. Daar kom Daniël agter hom aangekruip.”

Foto’s is tyd waarna ’n mens kan terugkyk.

Hulle het nie datums nie.

Alles het soos foto’s geraak toe ons gehoor het dat Miernes, ons huis, besig was om af te brand. Soos honderde foto’s, die een so erg soos die ander.

Andreas het soos op ’n foto na Daniël en Pappa begin hardloop. “Wie s’n, boetie? Wie se huis?”

Nog ’n foto: Pappa hou sy selfoon in die hardloop in die lug. Hy bly daarna wys: “Ons s’n! Miernes! Draai om, Andreas!”

Oom Wykie se oë het gerek en hy het na ’n rookspiraal gewys wat ver anderkant die bosse in die lug opgaan. “O nee, jene. As daai huisbrandrook is ...”

Aan die westekant van die bult, taamlik ver van die buurt waar die ryk mense woon, aan ons kant van die dorp, het die rookwolk al hoe groter geword. Die wind het dit nog steeds soos lakens in die lug bly opskeur. Maar nuwe rook het van onder af bly opstyg.

“Donnie, my Donnie!” het ek Mamma hoor roep.

Ek kon haar nie hoor bid nie, maar dit het gelyk asof sy dit in die hardloop doen. Sy het haar hande teen haar voorkop gedruk, oor haar voete gestruikel en weer opgespring.

Oom Wykie het langs my gehardloop en gehyg. “Waar’s julle kar, Kayla?”

“By die hawe, Oom.”

Ek was naar, dit het gevoel asof ek doodgaan. Ek het met die Here gedink-praat. Ek het dinge vir Hom gesê sonder dat daar ’n woord uit my keel gekom het: Maar dit is dan Mamma-hulle se troudag, Jesus? Andreas het dan ’n gelukskulpie opgetel, en nou doen U dit? Nou doen U dít?

Dit het gevoel asof ek kouekoors kry. Sê nou dit is my kamer wat besig is om af te brand? Sê nou dit is die nuwe rekenaar waarvoor ons amper ’n eeu lank moes spaar, die een waaroor ons almal so bly was, die een waaroor ons elke dag onder mekaar baklei? Die een waarmee ons beurte moet maak?

As Donnie net gou by die tuinslang kan kom ... As hy die brand net betyds kan begin blus ...

Andreas het soos ’n baba gehuil. Hy het nie meer nege en ’n half jaar oud gelyk of geklink nie. “Ons huis moenie brand nie, dit moenie!”

Oom Wykie het sy visstok en rugsak eenkant toe geslinger asof niks meer saak maak nie. Hy het Andreas aan die hand gegryp en begin hardloop. “Oom Wykie kom saam, boetatjie. Alles gaan orraait wees.”

Dit het gelyk asof hy Andreas aan ’n tou geknoop het, sodat my broer plek-plek soos ’n vlieër bo die voetpad na Rotsbaai se klein hawe gevlieg het. “Haloep, Kayla, haloep!” het hy my oor sy skouer aangemoedig.

Ek het Andreas se swart-en-wit gelukskulpie vlak voor my op die voetpad sien val. Moet ek? Moet ek nie?

Ek het gebuk en dit opgeraap. Dit het koel in my handpalm gevoel, byna soos ’n druppeltjie water in die middel van al die chaos.

Foto’s het eintlik nie datums nie. Alles was soos foto’s.

Wat by Miernes, ons huis, gebeur het, was erger as die vreeslikste foto’s wat ek al in die koerant gesien het. En net so erg soos die soort tonele op die televisieskerm waarvoor ek altyd Andreas se oë toegedruk het. Hy het nagmerries van rampe en misdaadtonele op die televisieskerm gekry.