Pappa het by ons agterste hek by die erf ingejaag. Ons was sonder veiligheidsgordels en Andreas is half oor oom Wykie se skoot geslinger.
Die motor het soos galjoen geruik, al het oom Wykie sy vis êrens langs die see by sy sak en visstok gelos. Die bure aan die agterkant van ons erf was besig om Pappa se werkswinkel met ’n tuinslang van hulle kraan af nat te spuit.
Wolke rook het bo die oranje vlamme in die lug opgeklim en in die wind na ons toe aangerol gekom. Die rook was so dik en swaar dat ons in die motor aan die hoes geraak het.
Ons het uitgespring. Daar was ’n brandweerwa aan die voorkant van die huis, brandweermense het water en skuim op die brandende grasdak gespuit en mense het na ons toe aangehardloop gekom.
Tannie Lu van oorkant die straat het Mamma probeer omhels. “O, Veronica, ek is so jammer. Goddank was julle nie binne-in die huis nie. As julle ...”
“Donnie!” het Mamma geskreeu en tannie Lu eenkant toe gedruk. “Waar is Donnie?”
“Is hy dan nie by julle ...”
Sias het heen en weer in die chaos gehardloop, vorentoe en agtertoe, stoorkamer se kant toe en weer terug. Hy het teen Pappa opgespring en bly blaf.
“Voertsek!” het tannie Lu geraas. “Kan iemand nie die hond êrens heen vat nie? Hy is histeries. Hy spring mense onderstebo.”
Pappa en Mamma het nie eens gevra hoe die huis aan die brand geraak het nie. Hulle het net begin hardloop, net Donnie se naam bly skree.
Ons het almal geskree en Sias het bly spring en blaf.
Ek het gesien hoe hy Daniël aan sy klere beetkry en aan hom begin ruk.
Daniël het hom probeer wegstamp. “Los my!”
Dit moes die Here gewees het wat my oor Sias se geblaf en gespring en geruk laat wonder het. “Sias wil hê ons moet êrens heen gaan, Daniël.”
Ons het agter Sias aangestorm en vir Pappa en oom Wykie geskree: “Sias weet iets!”
Naby die stoorkamer se deur het ons Donnie van binne af hoor roep: “Help! Help! Die deur sit vas!”
Die stoorkamer se sleutel het aan die haak in die kombuis gehang. Die grasdak en plafon bokant die kombuis het al ineengestort. Die vlamme daar was soos ’n muur uit die hel.
Die dak bokant die stoorkamer was ook reeds aan die brand. Alles het gekraak en geknetter: dakriet, ou balke, droë boomtakke, stukke van ons huis.
“Help!” het Donnie geskree. “Jesus, help my!”
Pappa en oom Wykie het saam na die stoorkamerdeur gestorm. Pappa het soos ’n hoogspringer omgeswaai, soos vir die fosbury flop, die rugsprong. Hy het die deur met sy rug getref, met sy volle gewig. Oom Wykie het geskop en met albei hande gestamp asof hy ’n berg uit die pad wou stamp.
Die deur het oopgegaan. Dalk het dit oopgebreek, want ek het splinters sien spat. Skielik was daar ’n bondel lywe reg onder die brandende balke en grasdak.
Donnie het bo-oor Pappa en oom Wykie aangekruip gekom, opgevlieg en oom Wykie aan die hand beetgekry net toe die eerste brandende balk in die stoorkamer neerstort. Hy het oom Wykie uitgekry en hulle het Pappa saam probeer uitsleep. ’n Groot balk het ondertoe gestort en ons het Pappa se bene, wat al buite die stoorkamer was, skielik sien slap word.
“Pappa! Pappa!”
Die brandweermense het aangestorm gekom. Ons moes eenkant toe, ons moes uit hulle pad kom.
Hulle het met Pappa op ’n draagbaar by ons verbygekom en ons het die sirenes van die dorpsambulans hoor loei.
“Hy lewe, Mevrou,” het een van hulle Mamma in die hardloop gerusgestel. “Hulle wag vir hom by Hawesig Hospitaal. Ons moet hom so vinnig moontlik daar kry.”
Ons het almal geweet hoe ver Hawesig Hospitaal van Rotsbaai af is. Net kritiek siek mense word daarheen geneem.
“Jamie!” Mamma het agter die draagbaar aangehardloop. “Jamie ... ek is lief vir jou!”
Maar Pappa was bewusteloos.
Daar het mense saam met oom Wykie ook by ons verbygekom. “Sy hand ...” het iemand vir Mamma gesê.
“Wat van sy hand?”
Van oom Wykie se hand sou ons egter eers later uitvind.