Die kuiertjie waaroor ek eintlik geen sê gehad het nie, het minute gelede begin. “Die jaar vlieg verby,” het my skoolhoof eers ’n geselsie met my gemaak. “Waar is Julie en Augustus en September heen, Kayla? Ek kyk en kyk na my kalender, en skielik is dit Oktober!”
“Ja, Juffrou, die tyd vlieg.” Ek hou nie van klein geselsies terwyl ek wil weghardloop van die groot gesels wat op my wag nie.
Daar is baie kringetjies op juffrou Marthie se Oktober-kalender. By sommige van hulle is daar telefoonnommers, tye en name. Ek het probeer uitmaak wat in vandag se vierkantjie geskryf staan. Ek moes my oë op skrefies trek, toe kon ek dit lees: Bel Frieda, Worcester. 16:45.
Dalk word ek vroeg genoeg vrygelaat, voordat sy iemand met die naam Frieda in Worcester bel. Maar daar lui haar selfoon in haar pienk handsak asof die inbeller se lewe daarvan afhang.
Sy rits haar handsak oop en haal haar selfoon uit, kyk vinnig op die skermpie en frons. “Ai, Kayla. Dié oproep sal ek moet beantwoord.”
“Dit is oukei, Juffrou.”
My stem klink hees, asof ek iets verkeerds gedoen het. En ek het nie. Die verkeerdheid was vanoggend tydens ontbyt in Ghrieshuis. Alles het so vinnig gebeur, net ’n driekwartier voor my Sosiale Wetenskappe-toets.
Ek het vir oulaas die drie soorte bewegings van tektoniese plate saggies vir myself sit en opsê: “Tektoniese plate kan konvergerend beweeg, soos toe die Himalaja-gebergte ontstaan het. Hulle kan divergerend beweeg, soos wanneer ’n mens ’n ou vadoek in twee skeur. Dan beweeg die twee stukke lap mos van mekaar af weg. Dit is hoe die Groot Skeurvallei in Afrika begin het.”
My broer Daniël het sy brood sit en smeer. Die margarien was hard en sy twee snye brood het in vyf stukke gebreek. “Ek mis ons broodrooster,” het hy gesug. “Roosterbrood smeer net makliker.”
Ek het skielik onthou hoe lekker ’n mens aan roosterbrood kou.
Mamma het op een been teen die sinkbak staan en sukkel om haar voet in ’n geel hoëhakskoen te kry. “O, mensdom, ek kort ’n skoenlepel.”
Andreas het uitgebars van die lag: “Dat Mamma se skoene ook pap kan eet? Ek sal hulle voer.”
Mamma het haar kop geskud. “Rykmensskoene is nie gemaak vir mense soos ons nie,” het sy gekreun. “Daniël, kom ons twee besluit nou saam om moed te hou. Ek gaan hierdie skoene uitgetrap kry en jy gaan weer eendag roosterbrood eet. Dalk koop ek vir ons ’n broodrooster wanneer ek die einde van die maand my salaris kry.”
Daniël het dadelik begin verduidelik: “Dit is nie wat ek bedoel het nie. Ek weet mos Pappa ... ek bedoel Mamma ... moet nog eers ’n klomp ander goed koop.”
Hy moes dit nie só gesê het nie. Pappa het sy kop vinnig gedraai. Ook hý het helder en duidelik gehoor dat dit nou eintlik Mamma is wat vir ons almal moet sorg.
Maar Andreas het van stoofplaatroosterbrood onthou: “Mens hoef nie ’n toaster te hê nie, Daniël, man. Toe ons nog in Miernes gebly het, het ouma Joyce partykeer vir my toast op die groot stoofplaat gemaak. Ons kan dit ook mos hier in Ghrieshuis doen?”
Andreas mis sy eie ma nie juis nie. Sy kom te min Rotsbaai toe. Maar hy is liewer as lief vir ouma Joyce wat hom grootgemaak het totdat Pappa en Mamma hom aangeneem het. Ons is net so lief vir haar. Nou is daar nie meer geld om haar te laat inkom om ons klere te was en stryk nie. Mamma het nie eens taxigeld vir haar nie. Ons het ná die ramp in elk geval so min klere dat Mamma ’n nuwe reël by ons huisreëls gevoeg het: HUISREËL 15: Dra een stuk klere en was self die een wat jy uitgetrek het.
“Ons kan mos ouma Joyce-toast hier ook maak, Mamma?”
Ek het onder die tafel op Andreas se voet getrap: “Ons het nie meer ’n stoof nie, Andreas.”
Natuurlik het hy nie opgehou nie: “Maar dan kan ons ’n plan maak. Juffrou Marthie sê mos daar is ’n plan vir enigiets.”
Ek het gelag: “Gaan jy vir ons ’n broodrooster uitdink, boetie?”
Hy het bo-oor my kop in die lug gekyk, tot by die huisspinnekop in sy spinnerak tussen die dak- en hanebalk bokant ons. “As ons regtig begin doodgaan oor ons so lus vir toast is, sal ek die toeklapding skoonskrop.”
“Watse toeklapding?”
“Die ding waarin mens braaibroodjies maak om saam met braaivleis te eet. Jy het dit nog self uit die as gehaal, sussie. Dan sit ons weer toebroodjies met dik kaas daarin soos in die ou tyd.”
Ons eet byna nooit meer kaas nie. As daar ’n paar rand vir kaas oor is, kry ons nou net papierdun skraapseltjies om op ons brood te sit.
“Luister,” het Mamma Andreas se mond probeer toerits, “julle moet by die skool kom. Kayla skryf toets.”
Donnie het die gasstofie se vlam afgedraai en die hawermoutpap vir oulaas geroer. “Dík kaas, Andreas? Wat jy waar kry?” Andreas het so effens verlep. “Oukei, oukei, Donnie. Dan pluk ons maar tamaties en sit dit op ons brood. Dit is darem iets.” Toe verlep hy verder: “Ek sal die Marmite seker ook maar moet uitlos, want ons kan dit ook mos nie meer koop nie.”
Ek het die irritasie in Pappa se stem gehoor: “Móét julle alles wat ons nou ontbeer, so bly opnoem? Het julle hele lewe ook nou een groot stuk ontbering geword? Net swaarkry en verdriet?”
Ek het weer onder die tafel op Andreas se voet getrap en met my vinger op my lippe beduie dat hy sy groot mond moes hou.
Pappa was in ’n iesegrimmige bui.
Die geel skoene wat in ’n swart sak saam met ’n paar handdoeke en ’n stel dun gordyne by ons aangekom het, was uiteindelik aan Mamma se voete. Sy het baie langer as altyd gelyk en soos ’n reier op die hoë polvye tafel toe begin loop.
“Jamie,” het sy laggerig vir Pappa gesê, “so trippel ’n ryk vrou vroeg in die oggend op haar duur hoëhakskoene. Tip-tip! Klikketie-klik! Maar saans loop sy so slof-slof en eina-eina.”
Ek dink sy wou vir Pappa uit sy donker bui probeer kry. Sy het agter hom verbygeslof en aan sy skouer geraak. “So loop ’n ryk vrou met liddorings saans. Vanaand sal jy my voete moet masseer, hartlam. En kinders, ek gaan probeer om die einde van die maand kaas in die begroting ingepas te kry. Dalk ’n potjie Marmite ook.”
Pappa het stroef en omgekrap bly lyk.
Andreas het net gehoor wat hý wou hoor. “Jippie! Mamma is die beste!”
Daniël het kwaai gefrons. “Kaas en Marmite is sommer net luukses. Kry dit in jou kop, Andreas.”
“Dit is wat?”
Daniël het sy oë gerol. “Dit is luukses. Luxuries.”
Andreas het van hom verskil: “Daar is stuff vir sterk tande in kaas, boetie. Kinders wat nie kaas eet nie, se tande word al hoe swakker. En Mamma wíl vir ons kaas koop. Sy het dan so gesê.”
Donnie het nadergekom met die papkastrol: “Melk bevat oorgenoeg kalsium, Andreas. Eet jou pap met melk, dan sal jou tande fine wees.”
Andreas het so baie melk uit die melkboks oor sy pap gegooi dat Daniël die boks blitsvinnig by hom afgeneem het.
In my kop kon ek weer by die tektoniese plate uitkom: “Die derde soort beweging is wanneer tektoniese plate by mekaar verbyskuif. Dan ...”
Daniël het sy papbord vir Donnie uitgehou, maar met my gepraat: “Ja, ja, Kayla. Ons het dit ook verlede jaar in graad sewe geleer. Die San Francisco-aardbewing van 1906 het gebeur omdat daar van die tektoniese plate vasgehaak het, dan bou drukking op. Aardbewings gebeur wanneer ...”
“Ek skryf toets, nie jy nie, Daniël.”
Donnie het keelvol vir ons begin raak: “Kayla, kan jy dalk net effens harder probeer om ’n gewone mens aan die ontbyttafel te wees?”
Andreas het toe sowaar my kant gekies. Wel, so half en half. “Dis oor Kayla nog altyd ’n loods wil word dat sy so weird bly. Meisies wat loodse wil word, is mos freaks. Nè, Pappa? Nè, Mamma?”
Dalk het Mamma hom gehoor, dalk nie. Sy het haar plek aan tafel ingeneem en Pappa se hand gevat. “Seer?” het sy sag gevra.
Andreas het geëet, maar hy was soos ’n fiets teen die laaste afdraand Galjoensloep toe. ’n Fiets sonder remme. “Al het al die crap in die wêreld met ons gebeur, gáán Kayla ’n loods word. Mamma se skoene gaan haar nie meer druk nie. En al het ons nie ’n toaster nie, kan ons weer soos in die ou tyd eet. Ek kan mos ’n vuurtjie vir kaasbroodjies maak. Ek bedoel: ’n vuurtjie vir tamatiebroodjies sonder Marmite. Nè, Kayla? Nè, Pappa?”
Skielik was dit asof tektoniese plate by mekaar verbyskuif. Asof Ghrieshuis deur ’n nuwe soort aardbewing getref word.
“’n Vuurtjie?” het Pappa net skielik uitgebars. “As jy een vuurhoutjie op hierdie erf trek, Andreas, net één ...”
Dit het geklink asof daar eggo’s van Pappa se stem uit die herstelput onder die ontbyttafel boontoe golf. Selfs die planke van die platform wat die leierouderling, die diakens en die koster van ons gemeente daaroor vasgebout het, het gedril.
Andreas het hom lam geskrik en dit het gewys: “Maar ek gaan mos net ’n vuurtjie vir braaibroodjies maak, Pappa.”
Pappa het al hoe kwater geword: “As jy nog een keer van enige vuur in hierdie huis praat ...”
Sy stem was soos ’n storm. Dit het vir my gevoel asof die boute, moere en skroewe wat Ghrieshuis se platform in posisie hou, niks beteken nie. Asof ek iets soos Alice in Wonderland oorkom. Asof ek dwarsdeur die platformplanke in Pappa se ou herstelput afstort. Maar daar was nie ’n wit konyn met ’n blou jas en ’n groot sakhorlosie in sig nie. Ek het opgespring en my stoel het van die plankplatform afgetuimel. Dit het die sementvloer met ’n slag getref.
Die stoel het vier pote in die lug daar gelê.
Terwyl ek dit aan die naaste poot optel, het ek die bouval van ons ou huis deur Ghrieshuis se klein venstertjies gesien. Die melkhoutboom by die agterdeur het gelyk asof dit ook uit die hospitaal ontslaan is. Nes Pappa, was die melkhoutboom nie meer dieselfde nie.
Toe Alice klaar geval en in Wonderland aangekom het, het sy blomme en koel fonteine gesien. Ek het gesien wat ons verloor het. Miernes – ons ou huis – lyk soos iets uit ’n gruwelfliek, het ek in daardie nagmerrieoomblikke by die Panelite-tafel gedink.