Hoofstuk 18

Juffrou Marthie het by tannie Wilson se gewelhuis kom hoor hoe dit met ons gaan. “Tannie Wilson is ’n engel,” het sy gesê. “Nè, Andreas?”

Hy het geknik.

“Sy het gisteraand vir ons pannekoek gebak, Juffrou. Maar in die regte hemel is daar net nie so baie kathare as die engele pannekoek bak nie.”

“Kathare, Andreas?”

“Ek dink tannie Wilson se katte verhaar nou, Juffrou.” Hy het byna gefluister. “Dan val die hare in die pannekoekdeeg ook.”

“Gelukkig is julle katte en honde gewoond, nè? En hoe langer julle by tannie Wilson bly, hoe liewer sal julle vir haar katte ...”

“My suster het nogal ’n plan, Juffrou. Sy sê ons kan in my pa se werkswinkel gaan intrek as ...” Daniël unzipped het my mond laat oopval.

Andreas was verontwaardig: “Dit was my plan gewees, Juffrou. Kayla het net gesê as ons my pa se herstelput met planke kan toemaak, kan ons daar bly.”

“En ek en Daniël kan dan probeer om laaghoutpanele op te sit,” het Donnie ingetjip, “dan maak ons ’n paar kamers daar. Sonder deure.”

“Maar ons moet hulle nog gaan koop, Juffrou. Kayla wil nie, maar ek sê ons moet hulle op skuld gaan koop.”

Twee dae later het Pilot se pa, die hoofouderling van ons gemeente, by tannie Wilson se gewelhuis aangekom. Ons het almal op die stoep na hom staan en luister. Hy het gesê dat hy, die koster en drie diakens Pappa se herstelput in die werkswinkel met planke wou gaan toemaak. Hulle wou dié planke en ’n paar tweedehandse laaghoutpanele wat hulle ook op ’n bakkie saambring, graag stewig vasbout. Een van ons moes net die werkswinkeldeur vir hulle gaan oopsluit. Hulle wou ons graag help om weer op ons eie erf by ons diere en ons tuin te kon bly.

“Julle afgebrande huis moet mos weer herbou word,” het Pilot se pa gesê. “Het julle al iets van julle assuransiemaatskappy gehoor?”

Mamma het geaarsel. “Ongelukkig ...”

“Ons sal miljoen jaar lank moet spaar om ons ou huis weer reg te kry, Oom.” Andreas het die verskriklike waarheid uitgeblaker. “Pappa het ’n kans gevat, Oom. Hy het te min karre gehad om aan te werk, dit was mos lockdown gewees. Toe het ons nie genoeg geld gehad nie, toe kanselleer hy ons ... Ons wat, Mamma?”

“Andreas!”

Die ouderling se gesig het langer en langer getrek, soos ’n lang ballon waarin daar meer en meer lug geblaas word.

“Dit is erg,” het hy later gesê. “Moet julle dus al die skade self hanteer?”

Daniël het teen Andreas se been geskop, maar dit was te laat. “My ouma wat alzheimers het, se klavier het ook uitgebrand. My suster het daarop gespeel. Nou sê juffrou Marthie sy moet op die klavier in die skool se musiekkamer gaan oefen.”

“Nou sien?” het die ouderling gesê. “Jy het dalk gedink dat jy by ’n doodloopstraat gekom het, Kayla. Toe was dit nie so nie. Jy kan nog altyd klavier speel.”

“Ja, Oom.” Wat anders kon ek sê? Maar ek was bly oor die planke wat oor die herstelput aangebring sou word, en oor die afskortings.

Ons het nog net beddens, stoele en ander meubels soos ander mense nodig gehad.