Hoofstuk 19

Oom Wykie is lank voor Pappa uit die hospitaal ontslaan. Toe ons weer hoor, het hy met ’n taxi teruggekom Rotsbaai toe. Hy het Mamma ’n maand lank byna daagliks gebel.

“Dié ou man se naam is nie verniet ‘Wykie’ nie, Mevrou. As Meneer uit die hospitaal kom, gaan ek hom nie los nie. Ek gan nie wykie.”

“Ek is bly om dit te hoor, oom Wykie.”

“Ons gaan deur hierdie ding kom, Mevrou, ek en Meneer. Ek het altyd respek vir Meneer gehad, ek het hom nog altyd gelike, maar daar in die hospitaal het ons brasse geword, Mevrou. Brasse soos Dawid en Jonatan, brasse soos as mens saam musiek maak in ’n boy band.”

“Brasse soos ek en Sylvester en Shaun,” het Andreas daardie dag agter sy hand gefluister. “Party mense sê ‘brasse’ en party mense sê ‘pelle’. Same difference.”

Oom Wykie het selfs Saterdae gebel. “Is daai man nog nie uit nie, Mevrou? Ek mis hom. As manne saam gruisklippers kou, vergeet jy mekaar nooit weer nie, Mevrou. Jy en hy dink mos saam wat julle vorentoe in die lewe moet doen om nie soos Elia in die stof onder daardie bos te bly lê nie.”

’n Paar dae voordat Pappa ontslaan is, het oom Wykie by Ghrieshuis aangekom. Hy wou met Andreas praat.

Mamma het hom ingenooi, hy het op ’n stoel by die Panelite-tafel gaan sit en sy trui se mou opgetrek. “Kyk hierso, Andreas. Dit is wat ’n droom kan doen. Oom Wykie het van ’n ysterhand met ’n tweetandhaak soos dié gedroom. ’n Arm sonder ’n hand lyk arrig en beteken niks nie. Toe sit ek vir my ’n haak aan soos in die droom.”

Ons het om hom saamgedrom.

“Ek het dié houtsteel met die tweetandhaak aan die plat plaatjie vir my laat maak,” het hy verduidelik. “Ek ken iemand wat sulke goed kan sweis. Nou draai ek ’n verband om die stuk arm, want ek wil nie geskaaf raak nie. Dan strap ek die steel daarteen vas. ’n Mens moet net mooi kyk dat die twee hake vooraan ondertoe wys, soos regte vingers aan hulle plaatjie. Ek draai nog ’n verband bo-oor en trek my mou af. Jy kan maar sê ek het ’n hand met twee sterk vingers wat enigiets kan naderkrap.”

“Soesji, Oom.” Andreas het met byna eerbiedige bewondering aan oom Wykie se selfgemaakte vingers geraak. “Nou het Oom ystervingers. Oom sal net nie vir Sias en Tienke met hierdie vingers kan streel nie.”

Oom Wykie het sy skouers opgehaal. “Ek sal hulle nie eens met my handpalm kan bykom nie.”

Andreas het die plaatjie ook bevoel. “Oom Wykie kan stuff hierop sit. Soos Oom se selfoon en vishoeke, allerhande goed. En Oom het darem nog ’n hand om diere mee te streel.”