Hoofstuk 2

Die stoel waarop ’n mens sit en wag totdat juffrou Marthie met jou kan kom praat, kraak verskriklik. Ek wil nie hê dat sy my bewegings van buite af moet hoor nie, maar ek wil weet hoe my oë regtig lyk. En my skoolrok. Ek dink ek ruik dit nog steeds, want die rok het ’n reuk.

Dalk is dit waarom juffrou Marthie een van die vensters aan die stoep se kant oopgemaak het. Elke donker wolk het ’n silwer randjie. My skoolrok ruik snaaks, daarom is die venster oop, daarom kan ek juffrou Marthie met een van die kinders se ma’s hoor praat. Daarom sal ek hoor wanneer die gesprek verby is.

Die tennisskoene aan my voete het voorheen aan ’n ander meisie behoort, die sportsokkies ook. Ons het ’n boks vol kouse van die klerebank gekry en tannie Mollie wat die goed daar verkoop, het geweier om geld daarvoor te aanvaar.

Die eerste skooluniform wat ons uit die klerebankvoorraad aangekoop het, het ondertussen te klein vir my geword. Dié een was nommer twee. Tannie Mollie wou dit sommer vir ons gee, maar Mamma het die geld net eenvoudig op die toonbank voor haar neergesit.

“Die prys is billik genoeg, Mollie,” het sy nog gesê.

Dit was die een item wat ons nie by die klerebank moes gekoop het nie. Tannie Mollie het dit saam met ’n skoolhemp vir Daniël en skoene vir Andreas in ’n groot plastieksak gesit. Ek het eers by die huis besef dat die vreemde, muwwe reuk wat ek in die klerebankkamertjie geruik het, aan dié rok kleef. Ek hét iets soos nat hond geruik toe tannie Mollie die skoolrok teen my skouers en rug gehou het, maar my aandag was by Andreas wat met te groot skoene aan sy voete by my verbygekom het: “Ek sal hulle mos ingroei, nè, sussie?”

Die nathondreuk in my skoolrok is nes ’n kerrievetkol op ’n wit toppie. Kerrievlekke wil nie verdwyn nie.

Ek het Pappa ook Maandagoggend aan die rok laat ruik.

“Ruik Pappa ’n nat hond?”

“Ek ruik niks nie,” het hy my verseker. “Of, wag. Ek ruik die see en die son.” Maar dalk wou hy my ook maar net oukei laat voel.

Ek het mos ook heeltyd vandat hy uit die hospitaal gekom het, probeer om hom oukei te laat voel.

“Is Pappa oukei vandag?”

“Natuurlik, my kind. En jy?”

“As Pappa oukei is, is ek oukei.”

“En as jy oukei is, is Pappa oukei, my meisiekind.”

Die moeilikste ding op die hele aarde is om oukei te klink as die hele lewe nie meer oukei is nie.

Die letters op die bande en die flap van die skoolsak by my voete weerkaats agterstevoor in die kantoorspieël. Iemand se ma wou doodseker maak dat haar kind se skoolsak nooit gesteel sou word nie. Sy het dit met onuitwisbare ink gemerk: PGS. Die letters is dus presies ewe groot en reg gespasieer. Mamma het ons skoolsakke ook altyd so gemerk.

Ek kan myself eers ná ’n versigtige regskuif in die lang spieël teen die oorkantste kantoormuur bekyk. Dit is soos om ’n wildvreemde meisie te sien.

In die twee ronde spieëltjies wat iemand van die kerk ’n maand tevore by ons kom afgee het, kan ons net ons gesigte sien. Omdat ons hele gesin by die vasgestelde wasbeurte, aantrekbeurte, toiletbeurte en oëtoemaakbeurte in ons werkswinkelhuis moet hou, sien ek eintlik selde hoe ek regtig in my skoolrok of in enige ander klere lyk.

Ek het nog langer geword. Alles aan my bly rek: my arms, my bene, my neus en nek.

Ek wens ek kan lekker gedagtes oor myself dink, maar feite is feite. Ek lyk soos ’n stuk papgekoude kougom waaraan daar sowaar ook nog kathare kleef. Oukei, dit is beenhare. In die sonlig lyk dit sowaar nes die hare van ’n kat wat goeie kos kry. Tomkat se pels het altyd so gelyk, so blink en syagtig. Tienka se pels begin stadigaan weer blink, maar dit het lank geneem. Sy was heeltemal verwilderd toe ons in die werkswinkel intrek. Sy miaau nog gereeld vir Tomkat. Sy mis hom, maar ons kan nie nou daaraan dink om ’n nuwe kat te kry nie. Troeteldierkos kos ’n fortuin en Sias, ons labrador, ly aan posttraumatiese stresversteuring. So sê my broer Donnie. Hy het daaroor gegoogle. Labradors neem lank om scary goed te verwerk. Hulle treur en rou net soos mense.

Sias het sy stert weke lank nie geswaai nie. Hy het teen die muur langs Ghrieshuis se voordeur gelê en ure lank na die swart murasie aan die ander kant van die geplaveide paadjie lê en kyk. Dalk het hy probeer uitpluis wat van die kombuisdeur geword het. En van die trappe in Miernes waarteen hy altyd opgehardloop het. Dalk het hy oor alles wat weg was, gewonder: die balle wat ons vir hom gegooi en waarmee hy stertswaaiend teruggekom het, die kombuistafel waaronder hy gelê het. En Pappa. Dalk het hy die meeste gewonder wat van Pappa geword het, want Pappa was weke lank in die hospitaal.

Daarom, sê Donnie, kom pleit Sias nog altyd vier, vyf keer per dag vir ekstra skeppies hondepille. Maar dit is ’n fout en ’n probleem. As ons hom nie weer in die regte eetroetine kry nie, gaan Sias binnekort met ’n hartprobleem of diabetes sit.

Iemand bly buite fluit. Ek loop op my tone na die venster aan die teenoorgestelde kant van die kantoordeur en die stoep.

Andreas en sy maat Shaun sit op die takke van hulle klasgroep se klimboom. Andreas het toe nie die pad na ouma Joyce gevat nie. Hy moes my saam met juffrou Marthie van die tennisbaan kantoor toe sien stap het.

Hy het sowaar besluit om vir my te wag. En Shaun hou hom geselskap.

Ek waai vir my boetie en stuur sommer vir hom ’n handsoentjie ook. Hy ignoreer die soentjie, vryf oor sy maag en spring saam met Shaun tot op die grond. Hulle loop omkyk-omkyk hek toe. Hulle het in die klimboom gesit om die boodskap by my te kry dat Andreas by Shaun se ma met kos geholpe gaan raak.

Hy kyk darem so half skuldig om, en ek beduie vir hom dat hy op die plek moet omdraai. Hy skud sy kop en maak sy arms, skouers en bene slap. Ek moet sien dat hy dit nie langer sonder kos gaan kan uithou nie. Hy moet saam met sy maat huis toe gaan, anders gaan hy dood van die honger.

Die tennisraket val vir die tweede keer om. My vingers voel dom terwyl ek dit weer van die vloer af optel. Dit was my beste maat, Hanna, se raket. Ek voel skielik net so naar soos toe sy my kort voor die Sosiale Wetenskappe-toets gevra het waarom ek so anders lyk.

Met Hanna kan ek oor enigiets praat. Sy skinder nie. Ek kon eerlik met haar wees: “Dit gaan net sleg by ons.”

Sy het sag gepraat, sodat niemand anders sou hoor nie. “Gaan dit sleg oor geld, of oor wat?”

“Nee. Dit was my pa ... Jy moes hom vanoggend gehoor het.”

“Is daar weer infeksie in sy brandwonde?”

“Ek weet nie. Hy het net heeltemal uitgefreak. Hy was al baie maal moedeloos oor infeksies en pyn en geld, maar vanoggend was hy briesend.”

“Waaroor?”

“Oor goed wat Daniël en Andreas gesê het. En oor ’n blerts pap.”

Die sirene het geloei en ek kon nie verder vertel nie.

Ek kan nie ophou om aan Pappa en alles by die huis te dink nie. Maar ek moet my regruk. Net voordat juffrou Marthie stoep toe is met haar selfoon, het sy die lekkergoedbottel op haar lessenaar na my kant toe geskuif. “Kry sommer twee, hoor? En gebruik die tyd om rustig te kan dink oor wat jy alles vir my wil sê.”

“Goed, Juffrou,” het ek met ’n lappopgesig gesê.

Wat gaan ek sê wanneer sy terugkom van buite af? Sy weet alles van almal. Sy is die graadsewes se tennisafrigter en ons klasgroep se kategeet by die kerk. Ek hou baie van haar, maar elke kind in haar skool word verplig om die name van die Bybelboeke van Genesis tot Openbaring te kan opsê.

Toe Pappa nog kon sien en werk, het hy altyd gesê sy kan enige verkeerde klank in haar motor se enjin beter as die meeste mans beskryf. Wanneer sy gaan vakansie hou, stap sy die Camino de Santiago-pelgrimsroete in Spanje en woon sy kursusse by. Sy ry met ’n piepklein tentjie Stilbaai toe om daar navorsing oor die Steentydperk of slawekuns te gaan doen.

Ek wil niks vir haar vertel nie.

Voordat Hanna se pa en ma uitmekaar is, het sy vir juffrou Marthie gesê hoe woes dit tot laat in die nag in hulle huis gaan. Ek kan dit nie doen nie.

Vanoggend was so erg dat ek dit nie eens in die Dagboek vir ’n dinamiese Christenvrou wat Hanna vir my gegee het, wil inskryf nie. Sê nou ek gaan onverwags dood en iemand kry dit in die hande en lees dan alles wat ek vir niemand anders as Hanna vertel nie?

Al wat ek onder vandag se datum in my Dagboek vir ’n dinamiese Christenvrou wil skryf, is dat ek wens ek het geweet hoe om my gesig uitdrukkingloos te hou, soos toe Hanna die boek vir my gegee het.

“My ma het dit vir Kersfees by iemand gekry,” het sy verduidelik. “Maar sy sê sy het nie tyd om oor haarself in boeke te skryf nie. Toe gee sy dit vir my. Ek weet dit het ’n simpel naam, maar jy skryf die beste opstelle in die klas. Toe dink ek jy kan dit kry, Kayla.”

Dagboek vir ’n dinamiese Christenvrou. Die boek was vir tannies bedoel, maar die pastelkleurige bladsye en baie tekeninge van blomme daarin was vir my mooi.

“Dit is so spesiaal,” het ek vir Hanna gesê. Ek het dit bedoel.

Sy het verlig gelyk. “Juffrou Marthie het mos vir jou gesê jy moet elke nou en dan jou gedagtes neerskryf. Ek het nog net my naam voorin geskryf, maar dit is nou toegeplak. Ek is jammer daaroor.”

Ek het die dagboek teen my vasgedruk. “Jy is ’n regte pel, Hanna. Ek gaan sommer vanaand hierin begin skryf.”

“Regtig?”

“Hanna, ek belowe jou plegtig ek bedoel dit regtig.”

Al wat ek egter by vandag se datum in die Dagboek vir ’n dinamiese Christenvrou wil skryf, is: Ek wens ek het Kintie, my lappop, se gesig gehad. Nie vir altyd nie, net vir solank ek nog in die skool is.