Hoofstuk 26

Ek kan dit nie glo nie, maar nadat Pappa vir Mamma gebel en van tannie Frieda se tuinwoonstel vertel het, klim hy in die bed en raak aan die slaap.

Andreas maak kasdeure en laaie oop.

“Dit is ’n ryk tannie, Kayla. Het jy gesien daar is appelsap in die yskas? En drie bakkies kaas? Kyk al die seep! Moet ons dit gebruik, of is dit maar net hier?”

“Sjuut,” fluister ek. “Kom, klim in die bed en lees ’n boek.” Ek haal ’n paar van die kinderboeke uit die boekrak onder die venster. “Watter een wil jy lees?”

“Ons het mos nie gekom dat ek moet sit en lees nie!”

“Dit is wat mens saans hier doen,” verseker ek hom. “Mens doen huiswerk of lees. Ek gaan nou lees en skryf.”

“Skryf? Wat?”

“Sommer alles wat vandag gebeur het. Anders gaan ek dit vergeet. Mens moet stuff neerskryf.”

“Pappa het niks neergeskryf toe hy nog kon sien nie. Hy het net foto’s geneem. As ek kan leer foto’s neem ...”

“Wel, jy kan dit nie nou leer doen nie. Nou kan jy lees of omdraai en slaap.”

Hy maak een van tannie Frieda se boeke met ’n sug en ’n lang lip oop. “Lees suck, Kayla.”

Ek maak die Dagboek vir ’n dinamiese Christenvrou oop. Ek het al so baie dinge daarin geskryf vandat Hanna dit vir my gegee het. Ek lees ver terug. Daarna sal ek oor ons eerste aand in Worcester skryf.

Ons eerste dag terug by die skool

ná die brand

Andreas het kom vra of ek dalk vir hom ’n toebroodjie uit my broodsak kon gee. Ons het mos nie meer kosblikke nie. Ons toebroodjies moet in plastiese broodsakke verpak en toegevou word.

“Ek is nog honger,” het hy gesê. “Vandag is crap. Skool is crap, dié broek wat ek aanhet, is crap, dit val af. Konfyt op brood is crap, dis dié dat ek nog honger is.”

Ek het die grootste stuk van my tweede platgedrukte toebroodjie vir hom afgebreek.

Toe sê hy: “Dié brood lyk soos pannekoek.”

Maar hy het dit tog vinnig in sy mond gestop. Hy het soos Sias geëet.

Hy het die konfyt langs sy mond met die punt van sy tong afgelek. Toe vra hy: “Gaan ons nou elke dag crap brood eet, Kayla?”

Ek het gesê ons gaan weer eendag kaas en Marmite op ons brood hê, maar hy het my nie geglo nie. Hy het sy skoolbroek opgetrek en gesug: “Maar ek sal elke dag dié crap broek skool toe moet dra.”

Ek het gesê ons moet weer klerebank toe gaan en vir tannie Mollie ’n ander een vra, maar dit was glo die enigste een in sy grootte.

Hy het klein en vaal en stowwerig gelyk, soos ’n sukkelkuiken wat nooit vinnig genoeg by die kuikenkos kan kom nie. Maar hy kon nog piep: “Weet jy wat wens ek, Kayla?”

Ek wou amper nie vra nie.

Toe sê hy sommer self: “Ek wil hê ons moet almal weer superoukei wees.”

Hy het in sy crap broek van my af weggestap. Shaun en Sylvester het om die hoek gekom en Sylvester het ’n sokkerbal na hom toe geskop. Andreas kon dit nie eens raakskop nie.

Ek het hom so jammer gekry. So verskriklik jammer.

Here Jesus, alles is nou crap vir Andreas. Help ons, asseblief. Help hom uit die crap, asseblief. Asseblief, Jesus. Want dit is Andreas. Ek vra dit vir Andreas.

Dinsdag 25 Augustus 2020

Dit voel asof Pappa nooit weer uit die hospitaal gaan kom nie. Ek haat die woord “bestendig”. Mamma bring die nuus vir ons: Dit gaan bestendig met hom, maar sy toestand is nog kritiek.

Kritiek is mos nie bestendig nie? Of kry mens iets soos kritiekbestendig?

Ons hou huisgodsdiens in tannie Wilson se huis, maar dit is vreemd. Mamma bid die meeste van die tyd, ek hoor vreemde geluide terwyl sy Bybel lees of bid. Ek dink party van die geluide kom van nagvoëls wat in die wind op die nok van die dak probeer land. Elke nou en dan mis een van hulle sy vastrapplek. Ek hoor hulle skuur-skuur met twee harde tone agtertoe en nog twee krap-krap vorentoe teen die sinkplate. Daniël snuif met ’n toe neus. Donnie is veronderstel om sy goedkoop nuwe selfoon se klank tydens aandgodsdiens af te sit, maar hy vergeet om dit te doen. In die middel van Bybellees of bid kom sy goedkoop selfoon se WhatsApp-geluid blikkerig deur. Andreas kriewel woeliger as tien rooimiere op sy knieë.

Ek kan met dié geluide saamleef. Hulle het net uit die gewone lewe saamgekom tot hier by ons. Maar Mamma se stem klink stukkend terwyl sy bid. Sy doen haar bes om soos ’n rustige grootmens te klink terwyl sy met die Here praat. Sy kry dit nie reg nie.

Vrydag 28 Augustus 2020

Hanna se raket is eintlik te lig vir my, maar daar was trane in haar oë toe sy dit vandag vir my gegee het. “Ek moet in elk geval ’n ander een kry, Kayla. En jy kan my tennisrompie en tights ook kry. Ek dra nou Lucille s’n.”

Sy het die plastiese sak na my uitgehou. “Jy mag nie ophou tennis speel nie. Belowe? Ek en jy moet nog die dubbelspel teen Swellendam wen.”

Gister het sy ’n fles ingelegde perskes uit haar ouma se spens vir my gesteel. “Moenie die fles terugbring nie, Kayla. My ouma hoef nie te weet nie. En die ander stuff: Dit is nuwe goed wat ek in my kas het. Vat dit asseblief,”

Daar was onderklere in die Spar-sak. Pienk, groen en geel. “Dit was ’n Kerspresent, man. My ouma het al daarvan vergeet. Moet net niks daarvan sê as sy naby is nie.”

Hanna gaan ook deur hel. Haar pa betaal nie onderhoud nie. Haar ma het haar werk verloor en dit is goor om by haar ouma te bly.

Haar ouma glimlag nooit nie. Sy preek net en hou net vir Hanna dop.

Donderdag 3 September 2020

Partykeer as ek na die bouval aan die ander kant van ons erf kyk, onthou ek Andreas se sewende verjaardag. Mamma het ’n rooimierpartytjie vir hom gereël. Ek het vir hom voelhorings gemaak. Pappa, Daniël en Donnie het die foefieslaaid gespan. Mamma het die bruinpapiersakkies met partytjiekos tussen die struike in die tuin weggesteek.

Pappa wou ’n muur tussen die stoorkamer en die blomtuin bou, toe is die bousand kort voor die partytjie afgelewer. Andreas en sy rooimierpelle kon toe tonnels daarin grawe of tot bo klim en ondertoe spring.

Twee van sy maats het hulle sussies saamgebring.

Andreas het natuurlik vir Mamma gaan vra of daar genoeg kolwyntjies vir almal sou wees. “Daar is nou twee randies ook, Mamma.”

“Twee wat?”

“Randies. Random meisies wat nie genooi is nie.”

Sy het gesê daar is meer as genoeg. Toe moes ek saam met hom buitentoe gaan.

“Julle randies kan die mierkoninginne wees,” het Andreas vir die dogtertjies gesê. “Julle hoef niks te doen nie. Julle kan net op julle eiers sit en broei.”

Een van die dogtertjies het haar gewip. “Mierkoninginne broei nie soos henne op hulle eiers nie.”

“Nou hoe broei hulle dan?”

“Die eiers kom sommer vanself uit.”

Dit was so snaaks.

Die dogtertjies was nie juis oulik nie. Hulle het vir my kom vra of ek Barbie-poppe met klere het, en of hulle daarmee mag speel.

Mamma het hulle gehoor en gesê dat ek dalk een pop vir elkeen van hulle kon leen om op die stoep mee te speel. Maar een van hulle het gesê sy wil liewer games op ons rekenaar speel. Sy het nie van die rokke gehou wat ouma Joyce vir my Barbies gemaak het nie.

“Dis arm rokke,” het die mierkoningin wat nie die eiers wou uitbroei nie, met ’n opgetrekte neus gesê. “Regte Barbie-klere het nie sulke knope en knoopgate soos dié rokke nie.”

“Ouma Veronique kon altyd lappoppe maak,” het Andreas op die sandhoop gesê. “Sy het vir my suster een gemaak. Maar nou het sy alzheimers.”

Een van sy pelle wou weet wat alzheimers is.

“Ag,” het Andreas gesê, “dis sommer ’n siekte wat party oumas kry. ’n Tipe vergeetsiekte. My ouma Veronique onthou nie ons name nie, partykeer vergeet sy dat sy Mamma se ma is. Maar weet julle wat is weird? Sy onthou die Here. Sy sing en bid en sy wil heeltyd Psalm 23 hoor.”

Toe het hulle foefieslaaid toe gehardloop.

“Ek vlieg!” het Andreas geskree.

Ek het altyd gedink niks gaan hom ooit onderkry nie.

Maar hy is nou ná die ramp nie meer dieselfde nie.

Donderdag 10 September 2020

Ek dink my glimlag het fake geword. Gelukkig moet ons maskers dra, daarom voel ek die meeste van die tyd net hoe fake dit is.

Almal sê ons is baie dapper, maar ek weet nie hoe ons ooit uit die crap gaan kom nie.

’n Fake glimlag is ook eintlik crap.

Vrydag 25 September 2020

Die beste tyd in my lewe was toe Pappa op sy hurke by my gesit en rooi duisendpote met ’n stokkie gekielie het. Of nee. Dit was één van die miljoene beste tye in my lewe. Voordat die verskriklike ding met ons gebeur het, was die goeie tye in my lewe soos die sterre in die Melkweg. Hoe langer ’n mens opkyk, hoe meer sterre sien jy mos.

2 Oktober 2020

Dit raak lente. Die heuwels bokant Rotsbaai word bont. Mense plant blommetjies in hulle tuine. Juffrou Marthie laat ons die lied sing van Oktober wat die mooiste maand is. Maar as niks eintlik regkom nie, as alles verkeerder word, is Oktober nie die mooiste, mooiste maand nie.

Worcester

Liewe Jesus, laat daar asseblief iets spesiaals hier gebeur.