Ons het lag-lag by tannie Frieda se voorhekkie aangekom.
Sy het plantjies naby die hek met ’n tuinslang staan en natspuit. “Ag, dankie tog! Ek was al bang dat ek vanaand honger sal moet gaan slaap.”
Sy moes gesien het hoe verbaas ons almal was.
“Het juffrou Marthie nie vir julle gesê nie? Ek kom saans by julle eet. Ek is so moeg van my eie kos. Ek hoor jy bak sulke lekker plaatkoekies, Andreas.”
Sy was doodernstig. Sy het ons nie geterg nie.
Andreas het sy skouers reguit getrek. “Moet ek nou vir ons plaatkoekies ...”
Tannie Frieda het eers ’n paar oomblikke lank staan en dink. “As julle vanaand vir ons roereier met gerasperde kaas daarop sou kon maak, kan Andreas dalk môreaand vir ons plaatkoekies vir nagereg maak. Vanaand sal ek vir ons roomys uit my vrieskas gaan haal.”
En so sit ons saam om die tafel in tannie Frieda se tuinhuisie: Pappa, tannie Frieda, ek en Andreas. Die huis ruik nog so effens na die lekker sjampoe en seep in die stort.
“Niemand wat hier kom oorbly, hoef hulle eie seep en sjampoe saam te piekel nie,” het tannie Frieda nog met ons aankoms gesê. “Gebruik sommer die tuinhuisie se handdoeke ook. Julle kan hulle saam met julle klere in die wasmasjien daar in die hoek van die kombuis was.”
Pappa het gesê wat ek gedink het: “Ek dink nie ons sal jou goed sommer net so links en regs begin ...”
Tannie Frieda het vir my gekyk maar met Pappa gepraat: “Jou oorpak gaan smerig vuil word, Jamie. Moenie dink oom Martin gaan jou net klein joppies laat doen nie. Wanneer hy met jou klaar is, gaan jy weer van bo en onder en alle kante met enige kar kan werk. As jou oorpak nie gereeld gewas gaan word nie, sal jy dit nie met jouself kan uithou nie.”
Andreas het saamgestem. “Daar het mos altyd olie en ghries op Pappa se oorpak gekom, onthou Pappa? Dit is hoekom ons huis se naam nou Ghrieshuis is, Tannie.”