Hoofstuk 3

In ons gesin mag niemand ’n lappopgesig hê nie. Ouma Veronique het vir my vir my vierde verjaardag ’n lappop met swart wolhare en bruin knoopoë gemaak. “Haar naam is Kintie,” het Ouma vir my gesê. “Sy kan saam met jou in jou bedjie slaap, Kayla, want sy is sag en soet.”

Maar Kintie die lappop het ’n mond soos ’n akkedis gehad. Ouma Veronique het die mond in kettingsteek met pienk borduurgare onder haar opgestopte neus uitgeborduur.

“Wil julle nie ook poppe hê nie?” het ouma Veronique nog vir my boeties gevra. “Seunspoppe met kort hare en bont hempies. ’n Grote vir Donnie, want hy is die oudste. Daniël en Andreas se poppies kan dan net so groot soos Kintie wees.”

Donnie was sewe toe ek vier was, en Daniël het homself al leer lees, al was hy nog nie in die skool nie. Andreas, ons aangenome boetie, het nog op die vloer rondgekruip.

“Een pop is genoeg vir ons almal, Ouma,” het Daniël gou gekeer. “Daar speel Andreas al klaar met Kayla se pop.”

Andreas was besig om die lappop se linkeroog te probeer afbyt.

Ouma Joyce het sy naam gehoor en uit die kombuis gekom. Sy het die lappop met die knoopoë uit sy handjies gevat.

“Granny hoef nie vir Andreas ’n pop te maak nie,” het sy vir ouma Veronique gesê. “Dalk later, nè? Hulle byt mos aan alles wanneer hulle so klein is. Toe dié enetjie se mamma klein was, het sy ’n doekspeld ingesluk, ook daaraan gebyt. Ek moes haar clinic toe vat. Ek was so geskrik, hulle moes my aan Sal Volatile laat ruik, anders het ek met haar in my arms gedood.”

Sy het ons aangenome boetie opgetel en haar neus op ’n plooi getrek. “Nee, man, boetatjie. Hoekom stink jy al weer?” Sy het hom op sy kop gesoen en toe vir ouma Veronique geglimlag: “As Granny wil, kan Granny vir hom van Granny se lekker harde koekies bak, dat hy daaraan kan kou. Maar laat ek nou eers sy doek gaan omruil.”

Daniël het sy arms om ouma Veronique se lyf gaan slaan. “Ouma kan vir my ook sulke koekies bak, asseblief. Of gemmerbroodmannetjies. Of skilpadkoekies met rosyntjie-oë.”

Donnie het ewe entoesiasties geknik. “Vir my ook, asseblief.”

Voordat die dokters uitgevind het dat hy ’n diabeet is, was my oudste boetie die grootste soettand van ons almal.

Ouma Veronique het Kintie, die lappop, na my toe uitgehou. “Nou ja, dan het Ouma se meisiekind darem ’n lappop.”

Toe Ouma se kuier by ons verby was, het ek vir Mamma gevra of Kintie se gesig vir haar mooi was.

Mamma het eers ’n bietjie gedink. “Kintie is baie spesiaal, my liefie. Regtig baie spesiaal.”

“Hoekom, Mamma?”

“Want ouma Veronique het haar vir jou gemaak. Ek weet sy het heeltyd met liefde in haar hart aan jou gedink terwyl sy aan Kintie gewerk het.”

In graad ses het die woord “uitdrukkingloos” in ’n klastoets opgeduik. Ek kon dit dadelik in ’n sin gebruik: As ek kan sien hoe mense voel, is hulle gesigte nie uitdrukkingloos nie. Ek wou iets van Kintie se gesig bygeskryf het: dat sy nie kon glimlag om haar lewe te red nie. Ek sou ook kon skryf dat ek in die spieël in my kamer gekyk het hoe ek sou gelyk het as ek ’n lappop met ’n uitdrukkinglose gesig was, maar dan het ek aan die lag geraak. Nie een van ons Van Rooyens het ooit ’n uitdrukkinglose gesig nie.

Maar een sin was al wat in daardie klastoets gevra is. Toe het ek nog my eie kamer gehad, een met ’n spieël waarin ek vir myself kon kyk. Toe was Kintie ook nog nie verkool nie. Ek het nooit gedink dat ek my lappop met die akkedismond op die ouderdom van dertien jaar met ’n seer hart sou mis nie. Maar ek mis haar.

En hier sit ek nou in juffrou Marthie se kantoor. Ons skoolhoof mag nie weet wat Andreas huil-huil op pad skool toe vir my gesê het nie. Sy mag ook nie weet hoekom hy dit gesê het nie.

“Sussie, ek gaan vir liewe Jesus iets sê.”

“Wat?”

Hy het sonder ’n sakdoek of ’n stuk toiletpapier gesnuif. “Ek gaan dit vir Hom sê terwyl ek aanhou loop, Kayla.”

“Dit is oukei, boetie. Jesus sal jou hoor.”

Hy het eers omgekyk. Toe skree-bid hy: “Jesus, maak dat die crap in Ghrieshuis stop!”

My hart het amper gaan staan. Ek het nie verwag dat hy so hard met die Here sou praat nie.

Andreas het weer omgekyk en van ons skool se kinders het op fietse in die straat aangery gekom. Pilot Lubbe, die leierouderling van ons kerk se seun, het loshande saam met sy maats aangery gekom, so wintie as wat kan wees. Maar eintlik is hy ’n bietjie anders vandat hy ook een keer saam met sy pa en die koster in Ghrieshuis was. Toe hy teen die afdraand af by ons verbyflits, het hy sy windmakerigheid gelos en vir ons gewaai: “Hi, Andreas!” En sonder om regtig vir my te kyk: “Hi, Kayla van Rooyen!”

“Hi.”

Pilot het nog ’n paar keer omgekyk.

“Tennis vanmiddag!” het ek hom al verder weg hoor roep.

Toe ons nog in graad ses was, het Hanna gesê dat Pilot van my hou. “Julle is vir mekaar gemáák, Kayla. Jy wil ’n loods word, en sy naam is Pilot.”

“Ag, sy regte naam is Frans,” het ek gestry. “Hy het seker met speelgoedvliegtuigies gespeel toe hy nog klein was. Toe gee iemand vir hom so ’n flou bynaam.”

“Pilot? Hoekom sê jy dit is ’n flou bynaam?”

“Oor dit fake is. Hy wil nie ’n loods word nie.”

“Hoe weet jy dit?”

“Hy lewe vir sport, Hanna. Rugby, tennis, karate, fietsry, swem, skopboks ...”

“Dit is waar sy sespak vandaan kom, Kayla. Maak dit nie jou bene lam nie?”

My antwoord het uit twee woorde bestaan: “Nee, Hanna.”

Pilot het sowaar in graad ses vir my ’n briefie geskryf waarin hy my gevra het om sy meisie te wees. Ons het ’n week lank uitgegaan, so half en half. Ek het hom maar Pilot bly noem, want daar is drie ander Franse in Rotsbaai Christenskool: Fransie du Toit in graad twee; slim Frans Kriel in graad nege; en Frans-wat-Dans. Frans-wat-Dans is die interessantste van die vier Franse in ons skool. Hy doen gumbootdanse en leer elke jaar ’n paar graadagts djembetrom speel. Dit word dan hulle groentjiekonsertitem.

In graad ses was ek te skaam om pouses met Pilot Lubbe te praat en die meisies in my klas het my geterg. Dit was awkward om hom vraagtekens in die lug te sien maak. Of om hom met die kop te sien beduie dat hy iets by hom het wat hy vir my wou gee. Sy pelle het op hulle beurt ook vir ons gelag, toe los ek dit.

Toe Pilot-hulle vanoggend voor skool op hulle fietse by ons verby was, het Andreas sy arm gelig en sy neus aan sy skoolhemp se mou afgevee. “Sal Jesus dit laat ophou, Kayla?”

Dit het gevoel asof daar ’n klip in my maag lê. Of dalk was dit in my hart, êrens tussen my longe en my hart. ’n Stuk rots. ’n Seer rots, al kan rotse nie seerkry nie.

“Sal Hy, Kayla?”

“Hy sal.”

“Wanneer?”

“Een van die dae. Maar luister nou mooi, Andreas: Ná skool gaan jy huis toe. Jy ry nie met ’n taxi na jou ouma Joyce toe nie. As ek ná tennis by Ghrieshuis kom en jy is nie daar nie ...”

Hy het sy neus nog ’n keer aan sy mou afgevee. “Ek gaan geld leen, dan gaan ek met die taxi ...”

“Jou ouma Joyce sal jou net terugbring Ghrieshuis toe. Luister nou vir my, boetie. Ná skool gaan jy Ghrieshuis toe. Pappa sal nie meer soos vanoggend wees nie. Ek belowe.”

Hy het so steeks en koppig soos ’n donkie gelyk. ’n Baie hartseer donkie. “Ek gaan nie huis toe nie, Kayla. Oukei, ek sal by Shaun-hulle gaan eet. Dan slaap ek oor. Ek wil nie meer Ghrieshuis toe gaan nie.”

Die rots in my het swaarder en seerder geword. “Wag dan vir my totdat ek klaar tennis gespeel het. Dan stap jy saam met my huis toe. Dan gaan trotseer ek en jy alles saam.”

“Dan gaan doen ons wát?”

“Dan gaan face ons alles saam, ek en jy.”

Hy het eers oor my voorstel loop en dink. “Miskien sal ek in die klimboom gaan wag,” het hy later gesug. “Jy kan daar kom kyk. Maar ek weet nog nie. Ek dink nog.”

Hy wou na Shaun toe gaan. Ek kon dit aan hom sien.

“Andreas, as jy by die skoolterrein uitgaan, gaan ek reguit na Mamma toe om dit vir haar te sê.”

Hy was kwaad vir my. “Jy is mislik, Kayla.”

Ek het probeer om nie mislik te wees nie. “Kom ons wees nou redelik, boetie. Shaun is jou maat, hy’s nie familie dat sy ma vir jou moet kos gee nie.”

Hy het koponderstebo langs my geloop. “Maar ouma Joyce is my regte ouma, oor ek aangeneem is. Ek wil by haar gaan bly.”

“Sonder ons? Sonder Donnie en Daniël en die hoenders en ...”

“Ek sal partykeer by julle kom eet. Net partykeer.”

Ek het omgekyk en die naaste kinders was ver genoeg. “Dit gaan alles weer regkom, Andreas. Jy het dan gebid.”

Hy het sy kop geskud. “Liewe Jesus sal nie net abrakadabra sê, en dan is Miernes weer daar nie.”

“Maar Hy gaan ons help.”

Hy het sy skoolbroek opgetrek. Dit was klaar weer aan die afsak.

“Gaan Hy Pappa weer laat sien, Kayla? Jesus is nie hier om ’n bolletjie klei met grond en spoeg te maak en aan Pappa se oë te smeer soos aan daardie ander dude van die Bybel se oë nie. Jesus is lankal terug hemel toe.”

“Hy hoef nie hier te wees om ons te kan help nie,” het ek probeer verduidelik. “Ek bedoel, ons hoef Hom nie te kan sien nie. Ons moet net glo Hy gaan ons help.”

“Gaan Jesus ons help dat Miernes weer daar kan wees? Dat ons weer ons nuwe rekenaar kan terugkry? Dat ons weer baie klere sal hê en dat Tomkat nie meer dood sal wees nie?”

“Ek bedoel nie ...”

My boetie het my in die rede geval. “Ons het nie eens vir Tomkat begrawe nie. Dit is die ergste.” Toe frons hy. “Nee, alles is die ergste. Pappa is nou blind. Hy lyk weird met sy donkerbril. Ons het nie meer ’n bad nie. Mamma kan nie meer vir ons pizzas bak in die oond nie. Ek sal nooit weer ’n partytjie kan hou nie: Ons het nie meer ’n foefieslaaid nie.”

Ek het hom verskriklik jammer gekry. “Eendag sal jy weer een hê,” het ek hom verseker. “Donnie en Daniël sal jou daarmee help.”

Hy het nie gelyk asof hy my glo nie.

“Daar was net een voet van jou lappop oor,” het hy uit die bloute gesê. “Maar een voet help niks nie. Een voet is nie ’n pop nie.”

Dit was die vreeslikste gesprek voor skool.

“Andreas ...”

Hy het sy bolip met die punt van sy tong skoongelek, iets wat Mamma glad nie verdra nie. “Jy kan maar dink Jesus gaan alles weer laat regkom, sussie. Nie ek nie. Ek glo dit nie.”

“Jy’t dan gebid, Andreas.”

My boetie het sy skouers opgehaal. “Eintlik het ek net gehuil, dis al.”

Ek kan nie vir juffrou Marthie vertel wat regtig vanoggend in Ghrieshuis gebeur het nie. Ek is seker Mamma is met dikgehuilde oë werk toe. Sy sal ook niks vir ander mense vertel nie.

My oë het selfs op die tennisbaan branderig en dik gevoel.

Dalk het juffrou Marthie dit raakgesien en besluit om my by die hekkie in te wag. “Ek is bly jy kom weer mooi op dreef met jou tennis, Kayla. Kan jy dalk vir ’n paar minute by my in my kantoor kom inloer? Ek moet mos darem weer ’n slag afsonderlik met al vier Van Rooyentjies gesels, nie waar nie?”

Op die tennisbaan langsaan was Pilot en Hanna nog in ’n gemengde dubbelspel teen twee graadagts gewikkel. Hanna moes afslaan, maar het die bal misgeslaan.

“Ag nee, Hanna!” het meneer Wouter, hulle afrigter, onmiddellik uitgeroep. “Wat gaan dan nou aan?”

Die groengeel tennisbal het lui-lui tot teen die ogiesdraad gerol. Pilot het dit gaan optel. Hy het sy wenkbroue opgetrek en ’n klein, agterstevoor vraagteken met sy los hand in die lug geteken, maar ek het dadelik weggekyk.

Hy het sulke vraagtekens in die lug gemaak toe ons ’n week lank uitgegaan het.

Ek moes saam met juffrou Marthie kantoor toe loop. Die drie ander meisies wat saam met my tennis geoefen het, het ook nie dadelik huis toe gegaan nie. Ek het hulle uit die hoek van my oog teen die trappe van die tennispaviljoen sien opklim, seker om vir Pilot met sy gejelde kuif en sespak en gespierde kuite te kan sit en kyk. Of om sommer net te sit en chat.

’n Mens hang net lekker met jou maats uit as dit goed by jou huis gaan. In daardie kinders se huise gaan dit beslis baie beter as by ons in Ghrieshuis.