Andreas eet sy roomys met ’n teelepel, stadig en bietjies-bietjies. Hy lyk soos Tienka wanneer ons vir haar ’n klein stukkie van iets lekkers uit ons borde op die vloer laat val. “Worcester se roomys is amper so lekker soos Rotsbaai se roomysstalletjie s’n, Tannie.”
“Het julle so ’n stalletjie in julle dorp?”
“Nee, dit is as mens amper by die staproete se parkeerplek is, Tannie.” Hy lig sy hand al hoe hoër bokant die tafelblad. “Mens drink melkskommels in sulke lang glase daar.”
“Sjoe,” sê tannie Frieda.
“Hulle is mos so groot, nè, sussie? Die heel grotes. Mens kan klein melkskommeltjies ook bestel, maar as ons weer soheentoe gaan, gaan ek ’n grote bestel.”
Ons sou daar gaan melkskommels drink en roomys eet het, die dag toe Pappa en Mamma sewentien jaar getroud was. Ons was so na aan die geboutjie met die pienk dak. Maar skuins agter die pienk dak, ver agtertoe, was die rookwolk van die brand. Ons het die stalletjie byna nie eens gesien toe ons parkeerterrein toe gehardloop het nie. Dit kon netso wel ’n rots of ’n ou lokomotief of verroeste motorwrak gewees het. Ons het net gehardloop, ons wou net by die motor kom.Oom Wykie het Andreas se hand gegryp en hom plek-plek laat vlieg. “Haloep, haloep, my klong!”
“Ek ook,” sê Pappa skielik oor die tafelblad. “En moenie van Daniël vergeet nie. Hy sal sommer twee melkskommels wegslaan.”
“Maar my broer Donnie is ’n diabeet,” verduidelik Andreas vir tannie Frieda. “Dit is so weird. Hy is die oudste, maar hy mag net piepklein melkskommeltjies drink. Gelukkig het hy nou ’n girlfriend. Meisies eet en drink mos min. Behalwe Kayla. Sy eet soos ’n perd.”
My wange word warm. “Andreas!”
Tannie Frieda eet haar roomys sommer met ’n gewone poedinglepel. “Kayla, juffrou Marthie het vir my gesê jou broer gaan Rotsbaai Skool se Worcester-man word. Dink jy hy het al ’n paar dinge hier teëgekom wat hy vir sy skoolmaats sal kan vertel?”
Ek begin giggel. “Dalk kan hy heel eerste vir hulle van sy albasters vertel, tannie Frieda. Daar was vanoggend ’n eggolokalisasiekompetisie by die Pionierskool, en toe dit die meisiespan se beurt was, het sy albasters uitgeval.”
Andreas sit die teelepel langs sy leë poedingbakkie neer. “Ek hét jammer gesê, Tannie.” Hy tel die bakkie op en ek weet hy wil dit uitlek.
“Nee, boetie!”
Hy sit die bakkie weer langs die teelepel neer, maar ek weet hy gaan begin lek wanneer ek nie kyk nie. Dalk voordat ons die skottelgoed begin was.
“Maar nou weet Schalkie en sy pelle ek het albasters en ghoene,” sê hy.
“Wie is Schalkie?”
“Die outjie wat voor my in juffrou Bokkie se klas sit. Ons het pouse albaster gespeel. Met my albasters. Schalkie bring syne môre saam. Hy sê hy het een van daardie supergroot ghoene, hy gaan my albasters bom.”
“Nou ja,” sê tannie Frieda, “ek weet nie van julle nie, maar as ek nie nou in die bed kom nie, kom ek nie môreoggend daaruit nie. Kan ons sommer so om die tafel vir die Here dankie sê vir die dag wat nou verby is? Vir alles wat Hy vir ons almal gedoen het?”
Ek wil nie eerste bid nie. Dit is so anders as toe tannie Wilson vir Mamma van die preek oor dankbare harte kom vertel het. My heel eerste dankiesêgebed was toe boonop ’n blaps. Maar hier in Worcester is daar te veel om voor dankie te sê. Ek kyk nie op en sien wolke nie. Ek is in die wolke. Ek wens die dag kon langer gewees het. Dit het te vinnig verbygeskiet. Pappa en oom Martin het so baie gepraat. Juffrou Stephné het sommer dadelik verstaan hoekom Pappa ’n tyd lank so aaklig was. Oral was daar musiek. Elke nou en dan hoor ek weer “Jerusalema” se wysie. Wiehan was nes enige ander oulike outjie. Hy was nie cool nie, hy was net ... Of dalk was hy cool. Dalk is dit eintlik supercool as ’n seun so goed kan klavier speel.
Ek wens ek kan sommer net ’n kort gebedjie bid: Dankie, Here, dat dit eintlik ’n prenteboekdag was.
Miskien lees juffrou Frieda my gedagtes, want sy vra vir Andreas om eerste te bid.
Hy maak sy oë toe, maar hy bid nog nie. “Pappa,” fluister hy hard, “kan mens ‘crap’ sê as mens bid?”
Soesji, dink ek. O, soesji.
“Mens kan, Andreas,” antwoord tannie Frieda namens Pappa.
My boetie laat sy kop sak. “Here Jesus, eenkeer lank, lank gelede het ek gebid dat liewe Jesus die crap in Ghrieshuis asseblief moet stop. Nou is ons hier, en as Pappa stuff hier leer doen, dan ... dan ...”
“... ja, Here, dan voel en weet ons mos dat U altyd by kinders is wat hulle hulp by U soek,” bid tannie Frieda sommer verder. “Ons voel en weet dat U hulle help.”
Andreas maak sy oë oop.
“My oupa Rudolf het ook so gesê, Tannie. Maar ek wil net gou nog iets bid. Dankie dat dit awesome in Worcester is, liewe Jesus. Amen.”
Hy vat sy roomysbakkie en lek dit sowaar uit. “Schalkie-hulle het gesê dit is awesome dat ek my albasters saamgebring het, Pappa.”
En Wiehan het vir my gesê ons moet gou weer saam oefen. “Dit is awesome dat jy jou duetboek saamgebring het, Kayla,” het hy gesê.