Toe Pappa nog kon sien, moes niks sommer net dood wees nie.
Hy het niemand se motorenjin dood gelos nie. Hy het die fout gesoek en altyd gekry. Hy het verlepte en halfdooie potplante in Miernes weer aan die lewe gekry.
Mamma kon hom kombuis toe roep: “Jamie, kom kyk gou hier. Hoekom is die braaipan se liggie dan nou dood?” Dan het hy dit reggemaak. “Makliker as ’n kar se enjin, Kayla. Kom kyk wat Pappa doen. Jy ook, Daniël.”
Wanneer Mamma gesê het dat sy doodmoeg was, het hy vir haar tee gaan maak: “Doodmoeg is te moeg, my lief.”
Ek het niemand nog ooit hoor sê dat hy dood voel terwyl hy nog lewe nie. Nou sê my pa dit, Pappa, wat almal met dooie enjins en braaipanne gehelp het. Pappa het gesien wanneer enigeen van ons doodmoeg was, en die ketel gaan aanskakel of vir ons yskoue water aangedra wanneer ons nie verder kon nie.
Pappa kan nie verder nie. Of hy dink hy kan nie verder nie.
Ek wens ek kan vir hom rooibostee maak, met koekies daarby. Ek wens ek kan sy oë vir hom teruggee, soos toe hy sy motorsleutels verloor en ek dit gekry en vir hom gaan gee het.
Nou moet ek hom maar net probeer moed inpraat. “Ons gaan hierdeur kom, Pappa. Pappa is nie alleen nie.”
Ek wil vir hom sê dat juffrou Marthie besig is om planne te maak, maar sy wil dit self met hom kom deurpraat.
Hy hou net aan praat. “Voordat ek my oë verloor het, kon ek die kleur van my hemde sien. As ek ’n das moes aansit, het ek geweet watter een om te kies. Nou moet ek my vrou of my kinders roep om my daarmee te kom help.”
“Maar ons doen dit mos graag, Pappa!”
Hy kyk op en ek kan sien hy raak weer ontsteld, soos vanoggend voor die ontploffing aan die ontbyttafel.
“Dit is die probleem! Julle hou aan om dinge vir my te doen. Hoekom? Hoekom?”
“Ons is mos lief vir Pappa.”
“So lief soos vir ’n baba? So lief soos wat julle vir Andreas was toe ons hom aangeneem en julle hom soos ’n lewende pop in die kinderwaentjie rondgestoot het?”
My hart klop so wild dat ek dit kan voel. Nie weer nie! Hy kan nie nog ’n keer so ontplof nie. Ek raak aan sy hand. Ek moet die ontploffing keer.
“Dit is nie dieselfde nie. Ons behandel Pappa nie soos ’n baba nie. Regtig nie.”
Hy raak nie kalm nie. “Wat is dan die verskil? Hoekom storm almal op my af om pap van my klere af te vee? As julle my met ’n lepel kon voer, het julle dit gedoen! Weet jy wat doen jy gereeld, Kayla? Jy druk my vingers teen die glas vas wanneer jy ’n glas water vir my aangee. Jy maak seker dat ek die glas reg vashou.”
“Maar Pappa ...”
Hy is onredelik en ek wil weghardloop.
“Weet jy wat, Kayla?”
Ja, ek weet, wil ek skree. Ek weet dat ons op die voetgangerbruggie sit en baklei. Ek weet nie presies waaroor Pappa my in die hare vlieg en hoekom ek sulke klappe kry nie. Ek weet net dat dit seer klappe is wat ek nie verdien nie. Ek weet ek wil uit hierdie nagmerrie weghardloop.
“Ek was nog nooit iemand wat elke dag geleer moet word om glase vas te hou en wat rondgesleep moet word nie, Kayla.”
“Ek probeer Pappa net met die glas help. En as Pappa van punt A na punt B moet beweeg, bedoel ek mos nie om Pappa te sleep nie.”
Dit ontstel hom net meer. “Ek is nie ’n meetkundeprobleem nie. Het die witkopkanarie wat hier verby is, iemand nodig om hom van punt A tot by punt B te help? Nee, Kayla, hy help homself. Hy kom self reg. Sy hele lewe sal inmekaarval as hy dit nie meer mag doen nie.”
Ek bewe nou ook. As dit regtig gaan gebeur dat ons Worcester toe moet gaan, wil ek nie meer saam met hom gaan nie. Dit is nie meer lekker by hom nie.
“Ek verstaan, Pappa, maar ...”
“Nee, jy verstaan nie. Ek is ’n volwasse man, ek is getroud en die pa van vier kinders. Mense soos ek wil nog altyd self regkom, Kayla. Ons haat dit om soos babas behandel te word. Sê vir my: Hoe sal jy oor my voel as ek weer ’n baba van jou sou probeer maak?”
“Ek sal seker nie baie daarvan hou nie, Pappa.”
“Kayla,” sê hy stadig, “ek vra hoe jy oor mý sal voel as ek jou weer heeltemal afhanklik van my sou probeer maak. Ek sal my eie vraag beantwoord. Jy sal al hoe kwater vir my word. Jy sal minder en minder van my hou. Later sal jy wens jy kan van my af wegkom.”
“Nooit nie, Pappa.”
“Nooit is ’n baie lang tyd.” Hy skud sy kop. “As ek weer ’n baba van jou sou probeer maak, sal jy wrokgedagtes begin koester, my kind.”
Ek kry skaars ’n geluid uit. Dit kan nie waar wees nie.
“Dit is die waarheid, Kayla. Elke mens, ook mense met siggestremdheid, mense met enige soort gestremdheid, wil hulle selfrespek en menswaardigheid en vryheid behou.”
Ek voel lam en radeloos. “Maar noudat Pappa blind geword het ...”
Pappa val my hard en ferm in die rede: “Nou mag julle nie ’n pateet van my maak nie. Nou moet julle ophou om my jammer te kry. Ek haat dit om bejammer en rondgelei te word.”
“Pappa ...”
“Ek wil nie meer ’n nuttelose las wees nie. Vanoggend kon ek dit net nie meer hanteer nie. Daarom het ek so ontplof.”
“Dit is mos alles vergewe, Pappa.”
Hy skud sy kop. “Ons moet iets hieromtrent doen, Kayla. Dit kan nie so aangaan nie.”
“Pappa is nie ’n nuttelose las nie.”
Hy bal skielik sy vuiste. “Moet dit nie bly ontken nie. Julle ma werk haar oor ’n mik. Ek sit en niksdoen in Ghrieshuis.”
“Pappa help haar mos. Pappa skil aartappels en ...”
“Aartappels se voet, Kayla! Ek wil weer geld verdien, nes ander mense. Ek moet. Ek wil weer vir julle ’n pa wees, iemand wat vir julle kan sorg. As ons nie ’n ander koers inslaan nie, gaan julle dit nie met my kan uithou nie. Dan gaan ek julle verloor.”
Ek kyk vir Pappa en ek weet dat iets moet gebeur, en gou ook, of ons Worcester toe gaan of nie. Maar wat? Waar en hoe kan iemand wat blind geword het, weer ophou om nutteloos te voel?
Andreas was reg. Daar is crap in Ghrieshuis, meer crap as wat ons ooit gedink het.
Die son sit al laag. Pappa kan dit nie sien nie.
“Pappa sal ons nooit verloor nie,” verseker ek hom. “Maar dink Pappa nie ons moet nou huis toe gaan nie? Ek belowe ek sal elke dag bid dat die Here ... dat Hy alles weer beter sal maak.”
So byna-byna sê ek vir hom dat Andreas al op pad skool toe gebid het dat die crap in Ghrieshuis moet ophou. Maar gelukkig doen ek dit nie.
“Ek het byna die hele dag net hieroor gebid,” sê Pappa op pad terug Ghrieshuis toe. “Toe vergeet ek om aartappels te skil. Ek kan myself daaroor ook skop.”
“Dit is oukei, Pappa,” sê ek dadelik. “Ek sal vir ons viskoekies bak.”
Hy draai sy gesig na my toe en sug. “Terwyl ek weer eenkant op ’n stoel sit, Kayla?”
Wil hy my met die viskoekies help? Of wil hy die mengsel alleen aanmaak? Voel dit vir hom soos crap wanneer hy net aartappels kan sit en skil?
Dalk moet ek nou probeer uitfigure wat hy regtig wil doen.
“Wil Pappa die goed vir viskoekies meng?”
Ek voel sy arm ruk. Dalk wíl hy dit op sy eie doen.
“Pappa weet mos ek haat die reuk van pilchards,” sê ek asof ons sommer net geselsies maak. “Ek gril vir die rou eiers in die resep. My oë traan wanneer ek die uie kerf. Dit sal great wees as Pappa alles sal meng en die viskoekies so tussen Pappa se hande sal vorm. Dan kan ek hulle net vat en bak. Maar net as Pappa wil.”
“Ek het in my lewe nog nooit viskoekies gemaak nie, Kayla.” Hy klink net so onseker soos ek.
Ek stoot Ghrieshuis se enigste deur oop. Iets goeds is besig om ná die slegte stappery Spoelklippiespruit toe te gebeur. Ek kan vir die eerste keer in baie maande weer tergerig met hom praat: “Daar is altyd ’n eerste keer, meneer Van Rooyen. Die viskoekies kan klaar wees voordat die ander hier aankom.”
Daniël en Andreas kom saam-saam agter die afskorting van hulle slaapplek uit. “Asseblief nie weer viskoekies nie,” begin Andreas protesteer. “Ons kan mos net die visblikke oopsny en die vis fyndruk. Dan eet ons dit op brood. Sonder Marmite of kaas, net so skoon.”
Daniël kyk my vraend aan, maar stry met Andreas: “Pilchards is váál vis, boetie. As Pappa nie daarvan hou nie ...”
Andreas verlep. “O, ja. Pappa moet daarvan hou. Nie ons nie. Ek het vergeet.”
Buite in die straat suis die verkeer nes altyd verby, maar dit word onverwags te stil in Ghrieshuis.
“Kayla wil my vanaand leer viskoekies bak,” sê Pappa naderhand. “Maar vaal vis uit ’n visblik klink vir my baie beter, Andreas. Waar is die blikoopmaker? Ek sal die blikkies oopsny en die sardyne fyndruk. Dan smeer ons vanaand gelerige margarien op bruinerige brood en ons skep valerige vis daarop ...”
“... en dokter dit met rooi tamatiesous!”
“Ons het nie tamatiesous nie, Kayla,” bring Daniël my terug aarde toe.
“Jippie-jippie vir vaal vis,” sê Andreas versigtig.
Pappa kry die twee visblikke met ’n taamlike gesukkel oopgesny. Mamma kom met haar pienk handsak onder haar arm vasgedruk by Ghrieshuis ingestap. Hy staan die vaalblink sardyne nog voel-voel met ’n vurk in iemand anders se ou slaaibak en bewerk.
Sy steek vas. “Wat gaan hier aan, Jamie?”
Hy kyk vir haar, al kan hy haar nie sien nie. “Ek maak vir ons iets lekkers vir aandete, my vrou. Ons eet oor ’n minuut of twee.”
Daniël verorber sowaar twee snye bruinbrood met fyngedrukte vaal vis daarop. “In elkeen van die aarde se plekke is daar altyd ’n nuwe lekke,” grinnik hy terwyl hy die laaste bietjie vis uit die bak skep.
Andreas se oë rek. “Dit is wat my ouma Joyce mos altyd vir my sê.”
Mamma lyk nog altyd effens oorbluf, maar vroliker as toe ons skool toe is. Sy eet selfs van die fyngedrukte vis, al hou sy niks van sardyne nie.
“As julle pa die blikkiesvis so vir ons bewerk,” sê sy, “is dit nogal regtig lekke. Jy moes dit lankal gedoen het, my ou man.”