5

Basil is skoon van stryk af. “Bly kalm! Bly kalm!” skree hy. Dan merk hy vir Jock en Pezulu op. Hulle is nie veronderstel om hier te wees nie. Hierdie is ’n privaat ruimte – met baie goeie rede.

“Wat soek julle hier?” brom hy vies.

Jock knik sy kop in die diere se rigting. “Is hulle die ouens wat aan die wedren gaan deelneem?”

Pezulu voel sommer hoe sy kop begin draai. “Jock! Jy ken vir Seedling. Hy maak geld op enige denkbare manier.” Pezulu kyk senuweeagtig rond. “En nou beter ons maak dat ons wegkom.”

Maar Jock het gesien hoe die doring in Wart se poot gesteek word. Selfs George se kwaai geblaf daar naby kan hom nie stop nie.

“Seedling maak hierdie diere seer,” sê hy. “Ek’t gesien hoe hy dit doen!”

Meteens sak Wart op sy knieë neer. Selfs Basil se mooipraatjies kan hom nie kry om weer op te staan nie. “Toe nou, Wart! Jy kan my nie nou in die steek laat nie! Jy moet hardloop! Ek weet jy kan!”

Maar dis baie duidelik dat Wart beslis nie gou aan enige wedren gaan deelneem nie.

Jock tree vorentoe. “Ek sal dit doen,” sê hy bedaard.

Pezulu fladder amper uit sy vere uit. “Jock! Jy kan nie! Jess sal hoendersop van my maak!” Hy gaan staan voor Jock en sprei sy vlerke beskermend oop. “Hy gaan beslis nie hardloop nie!”

Jock ignoreer hom totaal. Snarly, met sy geel serp, grynslag. “Jy’s in elk geval te kort!”

Jock bly ferm. “Seedling het ’n doring in daardie vlakvark se poot gesteek,” sê hy. “Ek’t gesien hoe hy dit doen.”

Basil lyk verras. “Wat?”

“’n Doring,” herhaal Jock. “In sy poot. Kyk self.”

Maar doring of te nie, Wart se gô is uit. Dit kan Basil duidelik sien.

“Ek sal hardloop,” sê Jock weer. “Ek’s sterk.”

Daar’s niks wat Pezulu kan sê of doen nie. Jock het besluit – en as Jock hom eers voorgeneem het om iets te doen, kan niks hom van stryk bring nie. Basil lig die blou serp van die vlakvark se nek af en hang dit om Jock.

Dan gaan hy na die agterkant van die kelder en sleep die hok met die apies in nader. “Dis Julian,” stel hy die apie plegtig aan Jock voor. “Julian, dis Jock.” Hy stop die verskrikte apie ’n klein swepie in die hand. “En jy gaan die resies op Jock ry.”

Julian spring op Jock se rug en klou vir al wat hy werd is. Elkeen van die diere het nou ‘n jokkie vir die wedren. Jock begin besef dat hy dalk groot moeilikheid opgesaal het. Hy’t nie ‘n benul wat volgende gaan gebeur nie.

Wat wél gebeur, is dat Basil naby hom kom staan en in sy oor fluister: “Onthou net om nie te wen nie. Blou MOENIE WEN NIE!”

Voor Jock ‘n woord kan sê, kom Claude met sy geweer daar aan, gereed om afsitter te speel. Dis tyd om op hulle merke te kom.

Almal wat dit moontlik kon regkry om by die werk weg te glip, is by die wedren. Mnr. Morris en sy dogter is daar; Polly en Fitz nie ver agter hulle nie. Fitz is so betower deur Lillian dat hy nie eens agterkom dat Jock nie soos gewoonlik by hom is nie. Jim merk dit op, maar sê niks.

Claude kom windmakerig voor die deelnemers uitgestap. “En dis die wedren van die jaar! Die wedren van die dekade! Die wedren van die eeu! En die gunsteling is geel! En nou, dames en here … en delwers … ’n groot applous vir die deelnemers!”

Luide steun klink uit die skare op wanneer die resiesdiere uitgelei word, elkeen met sy jokkie op die rug.

Jock is nie heeltemal seker waarvoor hy hom inlaat nie, maar hy weet hy’s in die moeilikheid. Jess het hom gewaarsku oor mense en hul dinge – en hier is hy nou, kniediep in die moeilikheid wat hulle met hulle geld en hulle gierigheid veroorsaak.

“Sit weg die sweep, Julian. Ons sal dit nie nodig hê nie,” sê Jock vir die angstige klein apie. Julian laat val die swepie uit sy bewende vingers en gryp Jock se blou serp eerder stewig vas.

Snarly het ander idees. “Slaan my HARD,” beveel hy sy jokkie. “Ons moet hierdie wedren wen!” Jock kners op sy tande.

Lillian haal haar verkyker uit om beter te kan sien. “Ek kan nie die blou een sien nie, Pa,” sê sy.

“Wat?”

“Ek kan nie die blou een sien nie. Daar’s ’n rooie, en ’n gele … o, daar’s hy!”

“Goed so. Ek’s bly my vlakvark is uiteindelik ook in.”

“Um … dis nie ’n vlakvark nie, Pa. Dis ’n hond.” Lillian draai na Fitz toe. “Om die waarheid te sê, ek dink dis jóú hond.”

Fitz gryp die verkyker. “Dis nie moontlik nie!” Maar dit is.

George, wat naby die wenstreep vasgeketting is, sien ook vir Jock en kners op sy tande van woede. Jock is nie veronderstel om aan die wedren deel te neem – of hoegenaamd hier naby te wees nie. Hy pluk en pluk aan sy ketting met net een oorweldigende begeerte: om daardie simpel hond eens en vir altyd op sy plek te sit.

“n Goeie wedren is dit nie. ’n Agtermekaar wedren is dit ook nie. Soos hulle beveel is om te doen, druk die pienk en die rooi ruiters Jock tussen hulle vas. Snarly se jokkie slaan met sy sweep na Jock en die hou tref hom dwarsoor die gesig. Jock val amper, maar bly darem op sy voete. Julian knyp sy oë toe en sien niks hiervan nie. Snarly grinnik. “Koebaai, nikswerd!” skree hy in die verbygaan.

Mense begin opstaan en skree luidkeels. Mnr. Morris vervies hom oor hy nie verby die mense voor hom kan sien nie. “Ag, sit tog plat!” kla hy, maar niemand hoor nie.

Jock is ‘n warrel spoed en vasberadenheid.

“Blok hom, julle varke!” skree Snarly. Jock stik van die stof en kan skaars voor hom sien. Die vlakvarke begin hom van agter inhaal en hulle jokkies piets hom hard met hulle swepe. Dis genoeg motivering vir Jock. Hy beur weer vorentoe, maar Snarly is op sy hakke en hap-hap na sy stert. Snarly kan hoor hoe George êrens naby die eindstreep verwoed blaf. Hy wil nie eens dink wat gaan gebeur as hulle plan nie uitwerk nie.

“Blok hom, varke!” skree Snarly. “Blok hom!” Weer klap die swepe na Jock. Dit maak seer – maar dit hou hom nie terug nie. Hy hou eenvoudig aan hardloop.

Julian maak sy oë net betyds oop om te sien wat die ander jokkies doen. Met skielike veggees gryp hy die oorblufte rooi jokkie se sweep en trek hom skoon van die vlakvark se rug af.

Maar die rooi vlakvark storm voort, met Jock reg langs hom. Fitz is buite homself van opwinding. “Hardloop, Jock!” gil hy en gooi sy hoed in die lug. “Hardloop, honne! Jy kan!”

Die oomblik wat Jock en die rooi vlakvark kop aan kop by die wenstreep kom, lig George sy ketting op en gooi dit na Jock. Die ketting vang Jock aan die agterpoot en hou hom net genoeg terug vir die rooi vlakvark om vorentoe te beur – en die wenstreep eerste oor te steek!

Die skare kreun teleurgesteld en gaan sit weer. Die meeste mense het vir die hond met die blou serp geskree. Hulle het die vuilspelery gesien en wou gehad het hy moet wen. Maar nou, op die laaste oomblik … word hy uitgestof.

“Dit sal die dag wees!” besluit Mnr. Morris. “’n Perd – of eerder, ‘n vark – sonder ‘n ruiter kan nie wen nie. Jock en daardie apie is die wenners.”

Die nuus versprei soos ’n veldbrand en almal is in hulle skik – behalwe natuurlik Seedling en die nare George. Hier kom moeilikheid!

Moeilikheid inderdaad. Seedling kan sy oë nie glo wanneer die hond met die blou serp as die wenner aangekondig word nie. Dit was nie die plan nie. Hy gluur vir George. Dis tien teen een George se skuld! Hy sal les opsê hiervoor! Hy moes beter gekies het toe hy op die deelnemers besluit het … hoe kon hy daardie simpel Jock toelaat om te hardloop?

Seedling sien hoe Fitz en Lillian lag en gesels en hoe Jim ’n oorwinnigsdansie doen. Sy gesig verdonker. Fitz is moeilikheid. Jim is moeilikheid. Jock is moeilikheid. Selfs die simpel hoenderhaan is moeilikheid. Hy sal eenvoudig iets aan die saak moet doen. Hy sal hulle ’n les moet leer!

Ook Basil kan nie sy oë glo nie. “O, toggie tog!” prewel hy. “O toggie! Ek sien moeilikheid kom!”

Aanvanklik is Jock heel ingenome met homself. Maar hy besef gou dat hy die verkeerde ding gedoen het. “Jy was nie veronderstel om te wen nie,” fluister Pezulu. “Nou’t Seedling sy geld in die weddenskap verloor … boeta, hy gaan briesend wees.”

Fitz hardloop na Jock toe om hom geluk te wens, maar Seedling kry hom aan die arm beet. “Hoe het daardie klein nikswerd in my wedren beland?”

Jock grom en beur vorentoe. Al wat hom terughou is Fitz se hand op sy halsband. Hy kan hoor hoe George aan sy ketting pluk en hoop van harte die ketting hou. Dinge raak nou lelik – selfs leliker.

Die vrolike skare word skielik stil. Mnr. Morris tree vorentoe.

“Toe, toe, toe. Dit gaan ek nie duld nie!”

Seedling begin iets sê, maar slaan in die middel van sy sin ’n ander koers in. “Dit spyt my, Mnr. Morris, maar daardie hond was nie amptelik ingeskryf nie!”

Mnr. Morris bars uit van die lag. “Amptelik ingeskryf? Van wanneer af word enigiets hier rond op ámptelike maniere gedoen? Mnr. Seedling, die hond het geen reëls oortree nie, en hy’t jou kleure gedra. Mnr. Fitzpatrick en ek sal nou graag ons wengeld in ontvangs neem, dankie!” Dan buk hy af om Jock te vryf. “Mooi so, honne!”

Die skare juig goedkeurend. Seedling het nie ’n ander keuse as om sy mond te hou en te betaal nie.

Daar’s weer beweging in die skare – hierdie keer in die kroeg se rigting. Niemand kom agter wanneer Seedling stil-stil George se ketting losmaak en die bobbejaan ’n harde skop gee nie. George gee ’n ontstoke tjank, maar maak dan spore in die kremetartboom se rigting. Hy weet wat hy moet doen.

Net Basil, wat by die kremetartboom staan, sien hom aankom – en Pezulu, met sy moed in sy skoene, sien hom wegloop.

George pyl reguit op Basil af, lig hom hoog in die lug op en smyt hom op die grond neer. “Kry daardie nikswerdbrak!” skree hy. “Kry hom en bring hom hierheen!”

Basil verspeel nie ’n oomblik nie. Hy weet nie wat George in die mou voer nie – maar wat dit ook al is, kan niks goed voorspel nie.

Jock is by Fitz om Mnr. Morris, Lillian en Polly te groet. Seedling probeer homself onsigbaar maak, maar Mnr. Morris hou sy hand ferm uit en laat Seedling uiteindelik geen ander keuse nie as om ‘n klein sakkie munte aan hom te oorhandig.

“En moenie Mnr. Fitzpatrick se wengeld vergeet nie,” voeg hy by. Ewe dikbek gee Seedling ‘n veel kleiner sakkie aan Fitzpatrick. Dit was glad nie die plan nie!

Jock is vodde na die moeilike wedren, en sy kop is skoon deurmekaar. Toe Basil by hom aankom, sien hy nie die gevaartekens raak voor dit te laat is nie …