4

Daar’s twee dinge omtrent Crook’s Corner. In die eerste plek is dit opwindend. Jock voel die moontlikhede soos tromslae in die lug vibreer. Maar tweedens is dit gevaarlik. Daar’s beslis ’n paar mense wat glad nie te vertrou is nie; wat gierig is, en wreed. Jock wens hy en Fitz en Jim kan hulle goed oppak en weggaan. Maar aan die ander kant … miskien is dit interessanter hier? Miskien gaan dit pret wees?

Meteens gee Seedling ‘n tree nader aan Fitz en kom staan so naby aan hom dat Fitz sy nare asem kan ruik. Fitz tree terug.

“Is jy ’n sendeling?” daag Seedling hom uit.

“Um … nee,” antwoord Fitz, en gee nog ’n tree terug. “Allermins. Ek gaan my fortuin op die goudvelde maak … by Pelgrimsrus.”

‘n Hele paar mense bars uit van die lag wanneer hulle dit hoor – sommer hard. Seedling gee weer ’n tree nader. “Daar’s net een manier hoe jy enige goud hier gaan kry,” sis hy, “en dis as jy dit uit my tande haal!” Hierdie keer is die gelag nog harder. Om sy punt te bewys, maak Seedling sy mond wyd oop. Tussen die swart en grys tande blink ’n paar goue stopsels soos edelstene in ’n put.

Fitz staan weer terug en Jock grom waarskuwend. Niemand moet vir Fitz kom staan en dreig nie! Tot hiertoe en nie verder nie, besluit George. Met een vinnige beweging gryp hy vir Jock uit Fitz se arms en dompel hom in ‘n balie vol vuil kombuiswater. Dan hou hy Jock se kop onder.

Dit gebeur alweer! Jock voel hoe ’n koue paniek dwarsdeur sy bene en sy hart trek. Sy oë steek; daar’s ’n suising in sy ore. Is dit regtig hoe alles gaan eindig?

Bo in die vertrek probeer Fitz onsuksesvol om sy geweer uit die sakkie op sy heup te trek. Seedling loop luiters terug agter die toonbank in, duidelik in geen haas nie. Hy bring ‘n lang sweep te voorskyn en klap dit in George se rigting. George skarrel weg, wat vir Fitz kans gee om Jock uit die balie te help. “Ek’s jammer, Jock.” Dan dring die reuk tot hom deur. “Daardie dierasie moet vasgeketting word!” skree hy vir Seedling. “Kyk net my arme hond!”

Jock maak ’n patetiese prentjie. Hy’s papnat en bewe van die koue; hy stink en is oortrek van slymerige, olierige slierte. Wat ’n jammerte dat die elegante poedel, Polly, juis daardie oomblik kies om haar verskyning te maak!

Nie net Polly nie, maar ook haar eienares, Lillian. Skielik is die kroeg tjoepstil. Selfs Seedling staan kiertsregop en probeer tevergeefs om homself bietjie netjieser te laat lyk terwyl hy die sweep onder die toonbank probeer terugdruk. “A! Mejuffrou Morris,” sê hy, die ene dweperigheid. “Dis nie dikwels dat ons die voorreg het om u hier te sien nie! Hoe gaan dit, skat?”

Polly en Lillian kom min of meer gelyktydig agter hoe onaangenaam Jock ruik. Albei van hulle se mooi neusies kriewel. Lillian antwoord Seedling nie, nie eens toe hy na haar toe loop nie. Sy laat haar kil blik oor die hele kroeg gly: oor die druipnat Jock, Fitz, wat nou probeer om die geweer terug in die sakkie te druk, en George, wat weer besig is om die apies te terroriseer. Sy lyk glad nie beïndruk nie; Polly ook nie.

“Ek’t my boeke kom haal,” sê sy na ‘n rukkie vir Seedling. “Ek hoor dit het met die transportwa hier aangekom.”

“Boeke,” herhaal Seedling. “O, ja. Boeke.” Hy gee Lillian ’n skelm kyk. “Ek’s mal oor ’n lekker slaaptydstorie!”

Lillian ignoreer hom en draai met ’n meerderwaardige plukkie van haar roksoom weg.

Fritz spring vorentoe, en onthou darem om sy hoed af te haal as hy haar aanspreek. “Ja! Hier’s dit!”

Lillian sien Fitz vir die eerste keer regtig raak. “Ekskuus?”

“Ek bedoel … hier … in die krat … ek’t die krat van die see af gebring … in my wa,” rammel Fitz dit af.

Hier onderbreek Seedling ewe gladdebek. “Pas hier aangekom van die kus af, die besending. Dit sal met ons volgende aflewering by jou wees.”

Lillian kyk van een man na die ander. Sy ken Seedling nie van gister af nie. Hy karring al aan haar van die oomblik dat sy in Pelgrimsrus by haar pa aangesluit het om te kom skoolhou. Hierdie nuwe kêrel lyk nie juis beter nie – van kop tot tone besmeer met dieselfde gemors waarmee sy hond oortrek is.

Polly is ook glad nie beïndruk nie. Selfs wanneer George met ’n groot gebaar vir haar ’n soen blaas verseg sy om te reageer. Sy ken hom ook al langer as ’n dag. En wat daardie stink brak betref … Polly ril en hoop dat hulle sommer gou sal huis toe gaan. Sy sal waarskynlik moet bad.

Jock voel ongemaklik en gaan staan buite waar hy wag bek-af op die trappies. Wanneer die fraaie Polly uitkom vir vars lug, reken hy dis sy kans om hom aan haar voor te stel.

“Ek’s Jock,” sê hy.

“Sowaar.”

“Ek’s saam met Fitz,” voeg hy trots by.

“Nou toe nou.”

“En skies dat ek so stink.”

Na ’n rukkie val dit Polly by dat sy dalk moet vra wáárom Jock so sleg ruik, maar voor hy nog kan antwoord, kom Snarly daar aan. “Sies, jy stink!” sê hy vir Jock, wat maar al te bewus is van die feit. “Haai, Pol! Gaan jy by môre se wedren wees?”

“My naam is Polly … júffrou Polly vir jou! Verkieslik Mam’selle.”

Snarly het nie ‘n idee hoe om hierop te antwoord óf wat dit beteken nie, en draai eerder vies na Jock.

“En wie gee jóú die reg om met my meisie te staan en flikflooi?”

Jock kry die gevoel dat wat ook al hy nou doen, die verkeerde ding sal wees. “Ek? Nee, sy … ek bedoel juffrou Polly, vertel my net wat ’n aantreklike hond jy is.”

Polly gee vir Jock ‘n kwaai kyk. Snarly gebruik die kans om nader aan haar te gaan staan.

“Um … sy was ook besig om te vertel hoe goed jy kan hardloop … en hoe mooi jou pels is en …” Skielik val iets Jock by. “Watse wedren?”

Die geselsery word onderbreek deur Lillian se pa, meneer Morris, wat in die verbyloop met sy kierie in Snarly se rigting klap en Jock kwaai aangluur. “Kom, Polly. Geen rede om met hierdie basterbrakke te meng nie!” Polly loop saam met hom terug die kroeg in, haar fyn stertjie in die lug. Die ander twee kyk haar verlangend agterna.

“Hier’s net een basterbrak waarvan ek weet,” sê Snarly en gluur vir Jock. “Moenie so hard op jouself wees nie,” sê Jock vriendelik.

Wedren. Dis of die woord in die lug bly hang. Jock hoor dit oral waar hy gaan. Wie gaan deelneem? Teen wie?

Basil, ’n baie slim en selfversekerde apie met ’n rooi baadjie – duidelik die leier van die ape – sal dalk weet.

“Haai, Snarly” groet Basil, wat in hulle rigting aangedrentel kom. “Jy lyk goed, Snarly. Reg vir die wedren?” Basil gooi ‘n paar neute nonchalant in sy mond. Snarly lyk ongemaklik. Basil is hopeloos te slim. Dis moeilik om te weet wat hy eintlik probeer sê. “En wie is jy miskien?” vra Basil vir Jock.

“Jock.”

“Maar natuurlik. Fantasties. En dit lyk of jy by ‘n … ‘n dopery van ‘n aard betrokke was?”

Jock antwoord nie. Hy’s nou al behoorlik dik vir die storie.

“Kom saam,” sê Basil en wys met sy kop in die kroeg se rigting. Die drie van hulle gaan weer in – Jock dringend op soek na Fitz, sodat hulle kan huis toe gaan.

Huis. Meteens bring die onthou ’n hol gevoel in sy maag, asof iemand hom geskop het. Fitz wat langs die wa sit, Jock by sy voete … ’n dowwe maan oor die donker veld en die klank van osse wat rustig herkou … Baba … en Jess.

Binne-in die kroeg styg die geraasvlak teen dieselfde tempo as wat die drankies vloei. Mnr. Morris leun teen die kroegtoonbank, glas in die hand, besig om vir Seedling te ondervra.

“So wie’s die gunsteling in hierdie wedren van jou, Seedling?”

Die vraag vang Seedling onkant. “Gunsteling? O … ja … die gunsteling.”

“Wel?”

“H’mm, wel, Mnr. Morris, die gunstelingkleur is … um … geel.”

“Geel, sê jy,” sê Mnr. Morris en kyk na die telbord teen die muur. “Geel! Nare kleur. Ek sit my geld op blou!” Hy grawe in sy onderbaadjiesak en haal ’n paar munte uit.

“Doodreg, Mnr. Morris, laat dit maar aan ons oor.” Seedling kyk in George se rigting en knik effens. Dit lyk of George presies verstaan.

Mnr. Morris is glad nie ingenome om te sien dat sy dogter Lillian steeds in die kroeg is nie, Polly by haar voete. Dan merk hy vir Fitz op wat met ‘n lawwe grinnik op sy gesig daar naby staan en skynbaar net oë het vir Lillian. “Ek stel voor jy maak jou weddenskap … en kry jou hond hier uit. Hy stink!”

Lillian sit haar hand op haar pa se arm. “Pa! Dis Mnr. Fitzpatrick en hy’t pas my boeke van die kus af hierheen gebring.” Sy glimlag, die soort glimlag wat die meeste mans laat vermurwe. Mnr. Morris is beslis een van hulle.

“Gmf. Aangename kennis,” sê hy en skud die hand wat Fitz na hom uithou.

“Gaan jy op hierdie resies wed?”

Fitz voel te ongemaklik om te erken dat hy nie juis geld het nie – en dat hy ook geen idee het van watter resies die man praat nie. Daarom haal hy maar die paar munte wat hy nog ná sy “belastingbetaling” oor het, uit sy sak, en bied dit vir Seedling aan. Duidelik is die middag vir hóm winsgewend! “Ek wil graag my geld op blou sit, seblief.”

Seedling snuif minagtend. “Sjoe! Moet seblief nie so vrygewig wees nie!”

Fitz buk af en troetel vir Jock wat by sy voete sit, steeds bibberend van die koue.

“Moenie bekommer nie, ou maat! Een van die dae is ons skatryk!” Hoekom gaan alles oor geld, wonder Jock, en oor goud?

Pezulu is bekommerd oor Jock. Hierdie is beslis nie die plek vir hom nie. Vandat hulle in Crook’s Corner aangekom het, was daar nog net moeilikheid – en Pezulu vertrou hoegenaamd nie daai bose bobbejaan George, óf Seedling, sy baas, nie. Wat voer hulle in die mou met hierdie wedren-storie? Hy neem hom voor om naby Jock te bly en seker te maak hy beland nie in enige verdere moeilikheid nie. “Jess sal hoendersop van my maak,” brom hy binnensmonds wanneer hy Fitz, Jim en Jock na die afgesperde terrein volg waar die wedren gaan plaasvind.

“Jock,” roep hy uitasem en probeer sy bes om by te hou, “jy moet baie versigtig wees in daardie George se geselskap. Baie, baie versigtig!”

“Ek sal,” belowe Jock, maar sy kop is reeds by die wedren.

“Hy’s ‘n vegbobbejaan!” voeg Pezulu ademloos by. “Toe hy nog deelgeneem het, is hy altyd toegesluit. Toegesluit en geslaan.”

Jock loop ‘n bietjie stadiger soos die betekenis hiervan insink, met ‘n skielike sprankie jammerte vir George.

“Hy veg teen honde,” babbel Pezulu voort, “en maak hulle dood! Oppas tog net vir daai tande!”

Maar Jock luister glad nie. Hy’t nounet gesien hoe Seedling ‘n doring van ‘n struik afpluk en skuldig rondkyk of iemand hom dalk gesien het. Jock wonder dadelik waarmee hy besig is. Daarom volg hy hom. Die arme Pezulu sug moedeloos. “Hoendersop! Dís hoe ek gaan opeindig. Hoendersop!” Dan skarrel hy om Jock in te haal. Hy’t immers vir Jess belowe …

Agter die skerms is baie aan die gebeur. Wie die wenner van hierdie wedren gaan wees, is reeds beslis. Vir Seedling om genoeg geld uit die weddenskappe te maak, kan dit nie anders nie. ‘n Regvérdige wedren gaan dit gewis nie wees nie. In Seedling se lewe is niks regverdig nie. Alles gaan net oor hom.

George is in beheer. Daar’s vlakvarke wat gaan deelneem, en ook honde, en kleiner diertjies gaan die jokkies wees wat op die groter diere ry Almal gaan groot pret hê – almal behalwe die resiesdiere, natuurlik. Seedling gaan goed geld maak, en as Seedling goed geld maak, baat George vanselfsprekend daarby. Hy’s nie van plan om enigiets te laat skeefloop nie.

Die resiesdiere word in ’n kelder onder ’n groot kremetartboom aangehou. Hulle is glad nie gelukkig nie. Altesaam is daar Snarly, met ’n geel serp om sy lyf, nog ’n hond wat Jock nie ken nie en vier vlakvarke. Die grootste en lelikste vlakvark – Wart – bewe en sukkel om asem te haal. Sy rooi serp val heeltyd van sy lyf af. Basil die apie help hom om dit weer aan te kry en probeer hom paai en bemoedig. “Kom nou, Wart! Dis sommer netnou verby! Lag, en die wêreld lag saam met jou!”

Wart gee vir Bart ‘n afwesige kyk en bewe net meer. Maar selfs Basil se glimlag verdwyn wanneer Seedling onverwags sy verskyning maak. “Hmm,” mompel Seedling onderlangs. “Laat ons die kleure ‘n bietjie herrangskik!” Hy ruil vinnig Wart se rooi serp om met ’n bloue van een van die ander vlakvarke. Dan, wanneer hy dink nie een van die ander diere kyk nie, haal hy die doring wat Jock hom sien pluk het uit sy sak en steek dit geniepsig in Wart se poot. Wart gee ‘n harde tjank. Die diere bly tjoepstil. Seedling staan op asof niks gebeur het nie, knik vir Basil en loop weg.