Jock is nie saamgenooi na die teedrinkery nie. Hy’t nie regtig verwag hy sal wees nie, maar sy maag grom by die gedagte aan toebroodjies en koek. Toebroodjies en koek sal daar beslis wees, dink hy. Hy’t al dié soort ding deur deftige huisvensters op die dorp gesien gebeur. Ja, dink hy bekaf, toebroodjies én koek.
Hy volg die ander huis toe. Polly loop voor met haar stert in die lug. Sy’s beslis nie ‘n baie toeganklike hond nie, dink Jock. Hy kry ’n plekkie naby die voorstoep en gaan sit swaar; stert tussen die bene, kop op sy pote en gedagtes vol toebroodjies.
Binne-in die huis is Fitz die ene opgewondenheid. Sy oë blink as hy na Lillian kyk waar sy gereed sit om tee uit die groot silwer teepot te skink. Hy draai na Mnr. Morris, maar al te bewus dat hy ook op hom ‘n indruk moet maak.
“Ja, Meneer, ons het ’n baie voorspoedige reis terug na die kus toe gehad.” Sy glimlag verdwyn vir ’n oomblik as hy van die luiperdjag onthou. “Wel … ook nie nét voorspoedig nie.” Hy bly vir ’n rukkie stil en kyk na Lillian wat hom met verwagting aankyk. “Ons … ons is gevra om ’n luiperd vas te trek wat ’n dogtertjie uit een van die dorpies beetgekry het.”
Lillian se hand vlieg na haar mond. “Jy bedoel tog nie … dat die luiperd haar doodgebyt het nie?”
Fitz knik sy kop hartseer. “Ek’s bevrees dis die waarheid. En dis nie al nie. Ons het ook Jock se ma, Jess, in die jagtog verloor.’
Lillian snak, haar oë rek. Polly staan op en bekyk Fitz aandagtig.
Lillian is diep geskok. “Nee! Nie Jess nie! Almal weet van Jess. Sy’s die dapperste hond op die Hoëveld!”
Fitz knik plegtig. “Sy was. En Jock is haar seun – op daardie gebied en in alles. Sy was dapper – maar Jock is net so dapper.” Hy vertel hulle kortliks die storie van die noodlottige jagtog en wat met Jess gebeur het.
Lillian lyk hartseer en Fitz probeer daarom om die gesprek in ‘n ander rigting te stuur. Hy wys na ‘n kitaar wat teen ‘n stoel staan. “Speel jy?” vra hy.
Polly loop na die deur toe en krap saggies daaraan, soos sy maak as sy uitgelaat wil word. “Stop dit, Polly,” sê Mnr. Morris. “Bly binne.” Maar Polly hou aan krap, sodat Lillian opstaan om vir haar oop te maak. Haar gedagtes is steeds by die hartseer storie oor Jess. “Moenie te ver gaan nie, Polly,” sê sy en buk om haar hond se krulkop te vryf. “Bly naby.”
Fitz tel die kitaar op en tokkel liggies daarop terwyl hy die snare versigtig instem. Mnr. Morris hou hom uit die hoek van sy oog dop.
Lillian is terug. “Ek’s so jammer,” sê sy en hou ’n bord fyn toebroodjies na Fitz uit. “Waar’s my maniere? Kan ek jou dalk iets te ete aanbied?”
Fitz probeer om nie so honger te lyk as wat hy is nie, maar kan steeds nie help om twee broodjies te neem nie. “Um … ja, ek sal graag enetjie … ’n paar neem,” stotter hy. Mnr. Morris probeer ’n glimlag onderdruk. Hy kan maar te goed onthou hoe dit is om ’n honger jong man te wees.
Vir ’n rukkie is die drie van hulle stil. Lillian dink steeds aan Jess. Mnr. Morris dink aan Fitz. Fitz dink aan hoe hy moontlik vir Jock van die kos kan uitsmokkel.
“’n Gesonde aptyt, Mnr. Fitzpatrick,” merk Mnr. Morris op.
Dié kommentaar laat Fitz ongemaklik in sy stoel rondskuif. “Um … ja … harde dag op die pad vandag … Ek’s jammer.” Hy wys skielik na ‘n stel leergedbinde ensiklopedieë op ‘n rak. “Dis ’n wonderlike reeks daardie … het u die vol stel?”
Beide Mnr. Morris en Lillian draai na die boeke, verbaas dat enigiemand só iets sal vra. Fitz neem die kans waar om twee broodjies vir Jock in sy sak te druk.
Mnr. Morris lyk ietwat dronkgeslaan, maar verander die onderwerp in elk geval. “Sê my, Mnr. Fitzpatrick, wat is jou planne?”
“Um … wel … Ek kyk eintlik nog so soort van rond … vir ’n geleentheid, Meneer,” kry hy gestamel.
“Het jy jou eie wa, Mnr. Fitzpatrick?”
“Ja, Meneer, ek het. Ek’t dit gekoop met geld wat ek by my oupa geërf het. Dis al wat ek het.”
‘n Glimlag speel om Mnr. Morris se mondhoeke. “Dis ’n begin,” sê hy kortweg. “En dis altyd goed om te begin met wat jy het. Lillian het ’n klavier wat Seedling nou al weke beloof om te kom aflewer. Jy kan daarmee begin … as jy kans sien.”
Fitz se oë blink. “Maar natuurlik, Meneer! Ek sal dit in perfekte kondisie hier kry! Ek sal dit presies soos wat u dit wil hê hier kry, Meneer! Stiptelik, Meneer!”
Mnr. Morris onderdruk ‘n glimlag. “Hmm. Wel, as dit nié in ‘n perfekte toestand hier aankom nie … en dis nié betyds nie … Ek sal jou help om ‘n begin te maak.”
Nou’s dit Lillian wat dronkgeslaan lyk. “’n Begin te maak met wat, Pa?”
“Transportry, Lillian. Transportry. Daar’s veel meer te maak uit voorrade as uit delwery. Was nog altyd so, sal altyd so wees.”
Lillian glimlag vir haar pa en Fitz straal; hy glimlag behoorlik van oor tot oor. “Dankie, Meneer! Ek sal Meneer nie in die steek laat nie!”
Jock wag steeds buite en dink swaarmoedig aan toebroodjies, wanneer Polly meteens langs hom verskyn. Sy kyk met meegevoel na hom terwyl sy vir hom wag om haar raak te sien.
“O, haai, Polly,” sê hy uiteindelik en kom sukkelend orent. “Ek het jou nie gesien nie.”
“Ek weet,” sê Polly saggies. “Jy was ingedagte. Het jy aan Jess gedink?”
Jock voel skuldig dat hy om die waarheid te sê aan kos lê en dink het. Maar daar’s altyd ’n deel van hom wat aan Jess dink. Hy laat sy kop hang en sê niks.
“Wil jy dalk iets hê om te eet?” vra Polly sag. Jock voel verleë. Het sy die omgedopte vullisdrom aan die ander kant van die stegie gesien?
“Ek … ek’t netnou gedink ek sien ’n kat,” mompel hy. “Ek was seker bietjie lomp.”
“Jy,” sê Polly vurig, “kan nie lomp lyk nie, al probeer jy! Hoekom kom jy nie in nie?” Sy stoot die kombuisdeur met haar neus oop en aarsel om terug te kyk na Jock. “Ek’s jammer om van jou ma te hoor, Jock,” sê sy sag.
Jock kyk af. “Sy was heeltemal vreesloos, Polly. Ek kan net nie gewoond raak aan die gedagte dat sy weg is nie.”
Vir ‘n oomblik kyk die twee honde net na mekaar. “Kom in, Jock,” sê Polly uiteindelik. “Kom in.”
Teen die tyd wat Fitz huis toe gaan, het hy en Lillian se pa tot ’n goeie ooreenkoms gekom. Om die waarheid te sê, Fitz voel hulle is so te sê sakevennote. Hoe het die dag nie omgeswaai nie! Op pad na die voordeur sien hy vir Jock.
“Reg so, kêrel! Ons het werk om te doen. Laat ons aan die gang kom!”
Jock spring teen Fitz se been op en ruik die broodjies in sy sak. Mnr. Morris glimlag. “Bêre daai vir padkos. Ek sal jou hond kos gee.”
Fitz lyk verleë, maar dis duidelik dat Mnr. Morris sy situasie maar al te goed verstaan. Miskien is dit beter so.
Teen dagbreek is die wa gereed om te vertrek. Jim fluit saggies, al te bly om weer op pad te wees – of ten minste ámper op pad. Teen die tyd dat die son hoog sit, is hulle al ’n hele ent weg, met Pezulu wat windmakerig langs die wa stap en elke nou en dan kommentaar lewer – vir die henne of sommer vir homself. “Hoendersop. Dis wat ek verdien om te wees! Hoendersop!” Hy’t nog nie van die gebeure by Crook’s Corner vergeet nie. Hierdie keer gaan hy op sy hoede wees!
Terwyl die wa geleidelik in die rigting van die rivier beweeg, sprei die lig van ‘n lieflike sonsondergang oor die Afrika-veld. Hulle is amper daar. Pezulu voel weer die bekende fladdering in sy binneste. Hy’s nie gelukkig nie. Glad nie gelukkig nie.
Die Pontmeester hinkepink teen die kroegtrappies op. Sy houtbeen kap-kap teen die houtvloer, maar Seedling word nie wakker nie. Hy’s vas aan die slaap, sy mond oop en met ’n leë bottel wat slap uit sy een hand hang.
“Hier’s ’n man met ’n hond,” kondig die Pontmeester aan. Wanneer Seedling nie reageer nie, stamp hy aan hom, glad nie te saggies nie. Seedling is onmiddellik wakker en gryp die Pontmeester se gewrig geniepsig vas.
“Watsoekjy?” mompel hy kras.
“Hier’s ’n man met ’n hond,” herhaal die Pontmeester nors. “Sê hy’t ’n klavier kom haal.”
Seedling is meteens wawyd wakker. Sy oë spoeg vuur en daar’s ‘n onderduimse glimlag op sy bakkies. Hy draai in die rigting van die hek en grinnik. “Ag, so. Uiteindelik! Ons klein Fitz en sy ou hondjie is op pad.” Dan draai hy om en kyk na George se hok. “En kêrels, is ons reg vir hulle!”
Dis aand en die rivier glim silwer in die maanlig. Hoog bo-op die krans sleep George nog ’n sak – ’n kleiner een. Hy maak hom teen ’n rots tuis, maak die sak oop en tiep ’n verfomfaaide Basil op die grond uit. Die apie se mondfluitjie hang steeds om sy nek.
George skud sy kop. “Ai, Basil. Jy was so mooi op pad … so mooi, tot jy bevele van die verkeerde persoon begin gehoorsaam het.” Hy skud weer sy kop. “Ek het hoë verwagtings vir jou gehad.”
Basil lyk desperaat. “Asseblief, George. Ek sal enigiets doen! Enigiets!”
George kyk vir ’n oomblik na hom. “Speel vir ons ’n liedjie … voor jy gaan. Speel daardie liedjie waarvoor jy altyd die grammofoon in die kroeg moes opwen … jy weet watter een.”
Basil maak die mondfluitjie los van die gebreekte band om sy nek en begin sing, eers saggies en dan met meer oorgawe soos wat hy aangaan.
Na hy sy deuntjie klaar gesing het kom George stadig op sy voete. Hy skud sy kop. Dan begin hy afgemete handeklap. “Basil! Basil, wat ’n jammerte dat ek jou en jou uitmuntende stem sal moet verloor … en al jou ander talente. Maar hierdie keer het jy my net te ver gedryf … net te ver.”
Basil se hart sak in sy skoene. “O, genade!” prewel hy saggies. “O, goeie genade!”
George maak ’n spottende buiging en glimlag oordrewe vir Basil.