Pelgrimsrus is nie heeltemal wat Fitz verwag het nie. Waar is die goue strate dan? Wel … waar is die goud dan ten minste? Pelgrimsrus is ’n gemors. Delwers het die plek agterstevoor en onderstebo op sy kop gekeer. Myngereedskap wat sommer net agtergelaat is, lê tussen wrakstukke van waens. Die reuk van mislukking en desperaatheid hang in die lug. Dit lyk allermins na die plek waar ’n mens jou fortuin gaan maak.
Die weer maak dinge nie beter nie. Wolke hang laag in die lug en dit lyk of dit gaan reën. Nie die blitsende Hoëveldstorms waaraan hulle gewoond is nie, maar ‘n aanhoudende, neerdrukkende reën wat alles deurnat maak en die grond in ‘n glibberige modder verander.
Dit neem egter baie om Fitz te ontmoedig. Soos wat hy en Jim die wa deur die dorp se hoofstraat (die enigste straat) lei, kyk hy belangstellend om hom rond. Miskien het hulle net ’n slegte dag gekies om te kom?
Pezulu dink nie so nie. “Einde van die pad,” sê hy vir homself. “Kan nie in my wildste drome sien hoe ons hier ’n fortuin gaan maak nie!” Jim, soos gewoonlik, hou sy opinie vir homself, maar hy lyk beslis nie vrolik nie.
Sommer uit die dorp uit kan hulle die delwery sien – en dit sou moeilik wees om ’n meer miserabele prentjie op te roep. Fitz gaan staan vir ’n oomblik met sy hande op sy heupe en neem die toneel voor hom in. Dan hardloop hy in die delwery se rigting, net om amper onmiddellik weer om te draai. “Ek’t my gereedskap vergeet!” roep hy en spring op die wa.
“Ek gaan net ’n bietjie rondkyk,” roep Fitz vanuit die wa terwyl hy die pik en goudpan wat hy by Seedling se winkel gekoop het, uitpak. “Miskien ’n kleim afsteek, sodat ons eerste ding môreoggend kan begin delf. Ek wil nie een oomblik verder mors nie – ons het ’n fortuin om te maak!”
Pezulu doen sy bes om entoesiasties te lyk – maar misluk klaaglik. Jim hou net aan om te doen waarmee hy besig is: om Bomvu en die ander osse vir die aand uit te span. Jock oorweeg dit om saam met Fitz te gaan, maar sy hart is te seer. Hy soek ’n plekkie weg van die osse se malende pote en gaan lê met sy kop op sy pote, sy hart loodswaar. Sal hy altyd die een wees wat ongeluk bring?
Fitz aarsel en kyk af na Jock. Hy’s bekommerd oor sy hond. Dis asof Jess se dood ’n vlammetjie in hom uitgedoof het. Fitz buk af en vryf Jock se kop liefdevol. “Moenie bekommer nie, kêrel,” sê hy. “Ons gaan ons fortuin hier maak en dan ’n lekker plek kry om huis op te sit. G’n niks meer getrek vir ons nie.” Terwyl hy praat, sien Fitz ’n skielike beeld … ’n helder dagdroom … van ’n plek waar die lewe maklik is, ’n plek met grasperke en blomme … ’n plek wat ook ruimte het vir die lieflike Lillian. En vir Polly, sit hy in sy gedagtes by, en gee Jock nog ’n deernisvolle vryfie. “Alles sal uitwerk,” voeg hy by, terwyl hy omdraai om te loop. “Alles sal uitwerk.”
Stadig kom Jock orent. Miskien moet hy ook maar liewer gaan – om ’n ogie oor Fitz te hou.
Pezulu skud sy kop soos wat hy die twee agternakyk. “Iets sal moet verander,” mompel hy voordat hy wegloop om sy hoenders te gaan soek. “Iets sal moet verander.”
Net betyds kry hy dit reg om uit die pad te spring van ’n perdekar wat teen ’n stinkspoed die dorp uit jaag. Die vlaag wind wat die kar in die verbygaan maak, laat hom skoon in die stof byt. “Haai!” skree hy. “Bashopa! Bashopa! Kyk waar ry! Is jy besimpeld?”
Fitz is oortuig dat hy maklik vriende op die delwery sal maak – dit was nog nooit vir hom moeilik nie; nie op skool nie en ook nêrens daarna nie. “Haai!” roep hy na die eerste delwer wat hy sien. Hy weet dis ’n delwer, want die man het ook ’n goudpan en ’n pik by hom. Die man antwoord nie. Miskien is hy bietjie doof? “Haai,” sê Fitz, hierdie keer ’n bietjie harder, en stap nader. “Hoe gaan dit met die delwery?”
Die man mompel iets onhoorbaars, maar die boodskap is duidelik wanneer Fitz nader kom. Die delwer stamp hom ongeskik weg. Fitz steier terug, maar val darem nie. Jock grom laag uit sy keel en gaan staan nader aan Fitz.
“Ek sê…” begin Fitz; sy hand ferm op Jock om hom terug te hou. Die man draai egter woordeloos sy rug op hulle – en loop weg.
Dit word erger. Jock sien hoe Fitz se skouers al hoe verder hang soos wat hulle deur die delwery loop. Dis hopeloos. ’n Man verorber hongerig kos uit ’n vuil blikkie terwyl sy maer hond kwylend toekyk. ’n Ander delwer gooi sy besittings agter op sy wa, gereed om te vertrek. Niemand lyk te opgewonde nie. Almal lyk moeg en terneergedruk.
Wanneer hulle egter by ’n waterstroompie kom met nie ’n mens in sig nie, is dit of Fitz ’n bietjie van sy entoesiasme herwin. “Kyk, Jock!” roep hy. “Hier kan ons vir goud pan!” Hy hardloop na die stroompie toe en kniel om die pan in die water rond te tilt, presies soos hy geleer het, op die uitkyk vir die stukkie goud wat hom skatryk sal maak.
Maar hy kry nie regtig kans om te soek nie. ’n Growwe hand kry hom aan die skouer beet, skud die pan uit sy hand en dwing Fitz op die grond neer. “Wat dink jy doen jy?” skree die man woedend. “Dis MY kleim dié!”
Fitz staan op en vra vreeslik om verskoning. Die man bekyk hom krities. Beslis ’n groentjie. Iemand wat minder as niks weet nie, besluit hy.
“A1 die kleims is reeds gevat,” verduidelik hy, ’n bietjie vriendeliker. “En hierdie is MYNE.”
“Wat?” Fitz kom regop, effens onvas op sy voete. Sy blik waarsku Jock om nie nader te kom nie. “Ál die kleims? Jy bedoel … ek’s te laat?”
Die man knik. “Jip. Tot die laaste een.” Dan gee hy ‘n kort, bitter laggie. “En nie veel goud om daarvoor te wys nie.” Hy beduie met sy kop in ‘n oostelike rigting. “A1 die aksie het soontoe geskuif,” sê hy. “Baberton is nou die plek om te wees …”
Maar sy woorde verdwyn in die niet. Fitz en Jock het al twee reeds omgedraai en weggeloop; Fitz al sleepvoet deur die stof. Wat gaan hulle nou doen?
Terug in die dorp sak Fitz teen ‘n boomstomp neer en sug swaar. Jock sit sy kop op sy baas se knie en wens hy kan iets doen om te help. Fitz haal sy laaste muntstuk uit sy sak en bekyk dit moedeloos. “Dis al wat ons het, Jock,” sê hy. “Al wat tussen ons en doodgaan van die honger staan.” Jock waai sy stert tegemoetkomend. Hy verstaan nie mooi nie. Dis beslis mensgoed dié. “Al hierdie pad vir niks,” gaan Fitz voort. “Al hierdie pad, en nou is ons tog te laat.” Fitz kyk steeds na die muntstuk. “Al wat ek oor het – en dít het ek te danke aan jou!”
Jock voel Fitz se ongelukkigheid aan. Hy spring op, lek sy baas te gesig, waai sy stert – probeer net dáár wees vir Fitz.
Fitz glimlag. “Jock! Jy’s reg! Dit gaan niks help om met ’n lang gesig rond te loop nie.” Skielik speel hulle weer, nes in die ou dae; rol op die grond rond en stoei met mekaar. Fitz lag en Jock grom speel-speel van pure pret.
Hulle speletjie word skielik onderbreek deur ’n kil stem.
“Mnr. Fitzpatrick?”
Fitz en Jock vries.
“Hm … dit ís Mnr. Fitzpatrick, nie waar nie?”
Fitz spring op en bloos bloedrooi. “Mejuffrou Morris!” sê hy. Want dis sowaar die skone Lillian wat taamlik verras na hom kyk … met haar hond Polly aan haar sy – duidelik net so verras soos hulle.
“Ek … hm … Ons het jou nie hier verwag nie …”
Lillian glimlag kwalik, maar haar oë lyk geamuseerd. “Duidelik nie!” sê sy en vryf Polly op die kop terwyl sy na Jock kyk. “En jou hond is … oukei … sien ek?”
“O, ja,” kry Fitz gestamel. “Jock is … oukei.”
Vir ‘n oomblik kyk hulle net vir mekaar, asof nie een van hulle aan nog iets kan dink om te sê nie.
“Enige sukses met jou delwery, Mnr. Fitzpatrick?” vra Lillian uiteindelik.
Fitz lyk weer somber. “Nee. Ek’s bevrees ek’s te laat. Dit lyk of die pret verby is. En die kans om goud te vind ook.”
Lillian glimlag deernisvol. Daardie storie het sy al gehoor.
Dan kom haar pa daar aangestorm. “Lillian!” roep hy, en herken aanvanklik nie die stowwerige Fitz nie.
“Pa onthou Mnr. Fitzpatrick?” gaan Lillian ongestoord voort. “Ons het by Crook’s Corner ontmoet.”
“Hmm. Lyk of jy pret het, Mnr. Fitzpatrick.”
Fitz reken dit sal beter wees om so min as moontlik te sê. “Goeiemiddag, Meneer,” voel omtrent soos genoeg.
“Harde werk! Dis al wat hier tel,” hou Mnr. Morris vol. “Geen tyd vir speletjies nie!”
“O, ons is nie bang vir harde werk nie,” antwoord Fitz vinnig. “Dis net dat al die kleims reeds gevat is. Daar’s nêrens oor waar ek vir goud kan soek nie … absoluut nêrens. Ons het te laat hier gekom.” Hy dink vir ’n oomblik na. “Maar hulle sê Baberton is die plek.”
Mnr. Morris gee ‘n snorkie. “Gmf! Hulle is altyd oor die volgende groot ding aan die praat, hierdie prospekteerders. Ek sê maar net sterkte.” Hy neem Lillian ferm aan die arm en begin wegstap.
Maar Lillian stop hom en draai na Fitz toe met ‘n glimlag wat sy hart laat vermurwe. “Waarom kom drink jy nie saam met ons tee nie, Mnr. Fitzpatrick?” vra sy liefies.
Mnr. Morris is duidelik nie beïndruk nie, maar dit sal slegte maniere wees om enigiets anders te doen as om in te stem. “Um … ja, tee. ’n Vinnige koppie tee.”
Fitz is meer as oorstelp om die uitnodiging aan te neem.
Seedling het nie van Jock vergeet nie. Maar hy glimlag wanneer hy die kroeg binnestap en sien hoe George gebukkend teen die toonbank sit. Hy help homself aan ‘n bottel bier en gaan sit met die houding van iemand wat goeie nuus het om te deel.
“Môre, George, môre. Ek kom met ’n blye boodskap op hierdie sonnige dag. Ons klein held – ons klein resieswennertjie – het ’n luiperd doodgemaak!” Seedling neem ’n lang teug uit die bottel en glimlag vriendelik vir George. “Wat goeie nuus is vir óns,” gaan hy voort. “Baie goeie nuus!”
George roer nie. Hy kan nie verduur om selfs net aan daardie simpel Jock te dínk nie, wat nog te sê ingenome wees met enige nuus oor hom.
“Ja, sowaar,” voeg Seedling by. “Hy’s nou weer die plaaslike held! En selfs jý is bang vir luiperds. Daarom gaan ek vir jou die geveg van jou lewe reël, George – jy teen die luiperdhappende held. George teen Jock.”
Seedling sien sommer klaar die potte geld wat hierdie hom in die sak gaan bring. Weddenskappe op ‘n geveg soos dié is groot. Toe hy by die kroeg uitloop, begin hy sommer sing.
“Koebaai, totsiens, maer jare
Goeie tye is weer hier
Die lug is blou en sonder wolke
Ou George gaan amper weer feesvier!”
Dis nou nie ‘n besonder wafferse liedjie nie, maar dit laat hom goed voel.
George luister nie wat om hom aangaan nie. George dink aan hoe hy Jock gaan doodmaak.