Basil weet waar om te soek. Die meeste mense vier die wedren – selfs al het hulle niks gewen nie. Fitz is op pad huis toe, na sy wa toe, met munte wat in sy sak klingel. Jock sit buite die kroeg saam met Jim en ’n paar van sy vriende.
“Ek’s op pad!” sê Fitz opgeruimd vir Jim. “Moenie van Jock vergeet nie!” Jim kyk hom aan. So asof hy van Jock sal vergeet!
Maar hy’t die ouens so lanklaas gesien en die gesprek is so interessant dat Jim nie eens agterkom wanneer Basil sy verskyning maak nie.
“Haai! Pssst! Jock!”
Jock kyk om hom rond. Pezulu lyk ontsteld.
“Kom jy na die partytjie toe?”
“Nee,” sê Pezulu beslis.
“Watse partytjie?” vra Jock gretig.
“Die partytjie ná die wedren, natuurlik,” verduidelik Basil. “Daar’s altyd ’n partytjie na ’n wedren.”
Pezulu lyk nou selfs meer ontsteld. “Ons kan nie.”
“Ag toe nou!” hou Basil aan. “Dit gaan beslis nie dieselfde wees as die wenner nie daar is nie!”
Jock kyk vir Pezulu. “Kom ons gaan!” Pezulu gee op. Hy weet wanneer hy verslaan is.
Jim sien hulle nie eens gaan nie.
Seedling is glad nie gelukkig nie. Om die waarheid te sê, hy is baie ongelukkig – en dis alles George se skuld, daarvan is hy seker. Of miskien Claude s’n. Juis op daardie oomblik kom Claude ingestap, met ’n behoedsame trek op sy gesig. Seedling val sommer met die deur in die huis.
“Wat het gebeur? Dit was jou werk om by die kremetartboom te bly en na die diere te kyk. Hoe het daardie hond ingekom?”
Vir ’n oomblik dink Claude aan die drankie wat hy skelm saam met sy vriende gaan drink het in plaas daarvan om na die diere te kyk, maar hy rep nie ’n woord daaroor nie. “Toe ek by die boom aankom, het die hond reeds jou blou serp aangehad. Ek’t gedink dit was jou besluit.”
Seedling is glad nie lus vir praatjies maak nie. “Ek weet sowaar nie hoe daardie klein basterbrak dit reggekry het nie …” Dan wuif hy Claude geïrriteerd weg. “Nietemin. George sal met hom afreken …” Claude gee haastig pad, voor hy dalk nog ongemaklike vrae gevra word.
Dis ’n goeie ding dat Basil die paraffienlamp buite die kroeg gevat het. Dis pikdonker in die tonnel waarheen hy nou vir Jock en Pezulu lei – ’n ou, verlate mynskag.
“Hier is ons … uit en tuis … ’n geheime wegkruip-plek, net vir ons.” Hy klop aan ’n deur. Gedempte musiek kan aan die ander kant gehoor word. “Party-tjietyd,” sê Basil. Maar sy stem klink nie heeltemal so partytjierig nie.
Jock kom dit nie agter nie. Dís nou opwindend. Maar Pezulu kry weer daardie nare duiselig gevoel – daardie gevoel wat altyd gevaar beteken. “Jock!” waarsku hy, maar dis te laat. Die deur is oop en lig skyn uit die vertrek – so helder dat hulle aanvanklik verblind word en niks daarbinne kan sien nie. En dan is hulle binne en hoor hoe die deur agter hulle toegaan.
“Is dit nie fantasties nie?” vra Basil. Jock knip-knip sy oë. Al die diere wat aan die resies deelgeneem het staan in ’n groepie aan die onderpunt van ’n kliptrap. Hy kan die polsende ritme van Afrikadromme hoor. “Is dit nie ongelooflik nie?” hou Basil aan.
Meteens is daar ’n harde knal en die musiek stop. Wart kom by die trappe afgetuimel en land met ’n plof op die harde klipvloer.
“Wat het gebeur?” vra Jock wanneer hy sien in watse toestand Wart is. Iemand moes hom vreeslik geslaan het. Basil hardloop na Wart toe en hou sy kop vas, diep geskok oor hoe vreeslik hy lyk.
George verskyn aan die bokant van die trap en kyk meerderwaardig af op die toneel. “Wart was bang hy mis die partytjie,” gryns hy.
“Wat het jy met hom gedoen?” roep Basil uit, ontstig oor hoe dinge besig is om uit te draai.
George lag smalend. “Hy’t by die trappe af geval, dis al. Julle het dit tog almal gesien.”
Basil fluister saggies vir die bewustelose vlakvark. “Arme varkie. Arme, arme varkie!”
Vir ‘n paar oomblikke bly Wart doodstil lê. Dan steier hy orent, kyk verwilderd rond en slof dan weg, die donkerte in. George kom stadig – dreigend – by die trappe af. “Wel, wel,” sis hy vir Basil. “Wat het vandag hier gebeur, Basil? Wat het gebeur? ‘n Vreemde hond maak sy verskyning … en wen die wedren. Hoe het dit gebeur?”
Die groot bobbejaan wys na Jock. “Wie het jou toestemming gegee om te hardloop? Wie’t jou toegelaat om deel te neem?
Jock tree dapper vorentoe. “Die vlakvark kon nie hardloop nie,” verduidelik hy. “Toe neem ek sy plek.”
George se antwoord hierop is om Basil aan die nek beet te kry en hom tot teen sy gesig op te lig. Jock tree weer vorentoe. “Dit was nie Basil se skuld nie,” verduidelik hy. “Dit was my idee. Los vir Basil uit.”
Agter Jock sit Pezulu sy vlerke in moedeloosheid oor sy kop. Snarly kyk geskok na Jock. Skielik laat val George vir Basil en gryp na Snarly, wat heeltemal onkant gevang word. “En wat van jou, Mnr. Snarly? Hoekom het jy hom nie gestop nie?”
Snarly is vlug op sy voete en laat hom nie deur George vang nie. Maar George laat hom ook nie van stryk bring nie en draai meteens na Jock toe, raap hom op en gooi hom teen die trap op. Jock lê roerloos, heeltemal winduit, terwyl Pezulu agternafladder, kekkelend van vrees en ontsteltenis. Snarly krimp bewend voor George ineen.
“Los hom uit!” skree Pezulu dapper, maar George glimlag net en wuif hom uit die pad. Hy vestig sy volle aandag op Jock.
Jock skud sy kop en probeer fokus. Gevaar! Dan duik hy na die niksvermoedende George. George se kop ruk eenkant toe en kap teen ‘n stuk hout wat teen die muur staan. Jock duik nog ‘n keer en tref George weer en weer teen die bors, totdat die bobbejaan uiteindelik in die ou koekepan wat daar rondstaan plof en uit die ligkol uit rol.
Maar George is sterker as wat Jock dink. Effens deur die wind kruip hy uit die koekepan, gryp ‘n pik en swaai wild na Jock, met Snarly wat hom van agter af al blaffend aanmoedig. “Haal hom uit, George!”
George kyk rond en klap met die piksteel in Snarly se rigting. Hy mis sy kop net-net en pen hom aan sy halsband teen die grond. Snarly is vas en George troon gevaarlik bo hom uit.
Jock is met afgryse vervul. Snarly se lewe is in gevaar! Hy loop dapper na George toe. “Boelie!”
George vries. Dan draai hy stadig na Jock. “Het jy iets gesê?” grom hy en tel weer die pik op. “Het ek jou iets hoor sê?”
Jock gee ’n tree agtertoe soos wat George sy wapen oplig. “Het jy iets vir my gesê, jou klein nikswerd?”
Alweer daardie woord! Agter George sluip Basil teen die trap op, ‘n leë bottel hoog bo sy kop gehou. George rys soos ‘n reus bo Jock uit. Sy skaduwee laat hom selfs groter lyk as wat hy is. Jock bewe, maar hy gee nie pad nie. Hy bly viervoet staan.
Skielik vlieg Basil tot aksie oor. Met een tamaaie hou slaan hy die bobbejaan met die bottel oor die kop. Jock gee vinnig pad wanneer George inmekaarsak. Basil lyk skoon ontsteld oor sy handewerk. “O toggie! Wat het my besiel? Nou’s ek in die moeilikheid!”
Almal se aandag is op Basil. Jock glimlag. “Dankie, aapstert,” sê hy saggies. Dan draai almal se oë na Jock. Wat gaan hy nou doen?
Die feit dat almal vir hom kyk maak Jock ongemaklik. Hy loer verleë rond. ’n Los dakbalk vang sy oog en hy knik vir Basil.
“Aha! Ek het ’n plan!”
Weg van Crook’s Corner af raak dinge rustiger. Jock is bly hulle is nie meer daar nie. Partykeer, as by aan Polly dink, wens hy hulle kan sommer gou weer teruggaan, maar hy kry dit meestal reg om nie te dink aan alles wat daar gebeur het nie. Daar’s heeltemal te veel ander goed om op te konsentreer.
Die riviere is vol na die onlangse reën en om die osse te laat oorsteek is ’n yslike gedoente. Gelukkig is Jim ’n meester daarmee. Hy doen dit nou al jare – en leer vir Fitz ook hoe mens dit doen.
Die kuns is vir een ou om die osse te beheer – al tien van hulle, soos wat hulle die wa egalig vorentoe trek. Hulle is nie altyd so gedwee soos wat hulle lyk nie – veral nie waar ‘n rivier oorgesteek moet word nie. Hulle weet maar te goed wat onder die wateroppervlak skuil.
Hulle is omtrent halfpad oor die rivier, die hele spul van hulle – Fitz en Jim, Jock en Pezulu – en die wêreld aan die bespied, toe Jim skielik met ’n kreet op sy voete spring en na ’n gladde, diep golwing onder die watervlak wys. “Krokodil!” roep hy. Dan skree hy vir Bomvu, die vooros: “Sambeni! Donsa wena Bomvu, hamba, man!”
Vir ’n oomblik lyk dit of dit te laat is. Die krokodil gryp na Bomvu, kry hom aan sy leerjuk beet en trek hom met sy sterk kake in die water af. Jim is binne ’n oogwink uit die wa, nie vir ’n oomblik oor sy eie veiligheid besorgd nie. Die wa tiep en kantel gevaarlik soos wat Jim verwoed probeer om by sy geliefde os uit te kom. Jock sou saam met hom wou inspring, maar Fitz hou hom ferm aan sy halsband terug, terwyl hy met sy ander hand ’n skoot in die krokodil se rigting afvuur.
Tussen Jim se assegaai en Fitz se geweerskoot verjaag hulle die krokodil. Bomvu is weer terug op sy voete en trek met mening. Só spoor hy ook die ander osse aan om deur die water en veilig op droë grond te kom. Jim laat die osse rus, en hulle jagende asems verbreek die stilte van die warm lug. Om die waarheid te sê kan hy self doen met ’n blaaskans. Hy kyk na Fitz. “Dankie dat jy my weer misgeskiet het,” sê hy.
Fitz glimlag net. Hy’s nie meer heeltemal so ‘n groentjie nie. Miskien raak hy gewoond aan hierdie vreemde trekkerslewe. Hy haal sy bril af en vryf sy oë. In plaas van sterretjies, sien hy ‘n vlietende prentjie van Lillian voor hom. Hy glimlag weer.
Na ’n tyd bereik die wa die magtige Drakensberge. Die bergreeks lê tussen hulle en die see – waar hulle ’n nuwe vrag sal laai om weer na die binneland te neem. Jock en Pezulu is al ’n entjie voor die wa, wat sukkel-sukkel teen ’n styl bult moet uit. Pezulu stop om die uitsig te bewonder en Jock, diep in gedagte, stop ewe gedienstig maar saam met hom.
“Liewe land! Kyk net so!” kraai Pezulu. “Is jy nie ook mal hieroor nie? Wye oop ruimtes en die uitgestrekte lug!”
Jock kyk nie regtig nie. “Ek moes dit nie gedoen het nie,” sug hy. “Ek moes nie gewen het nie!”
Pezulu draai met ‘n sug om en kyk na Jock in plaas van die uitsig. “Doen my ‘n guns. Vergeet van Crook’s Corner. Vergeet dit net!”
Maar so maklik vergeet Jock nie. “Hoe kan ek, as ek dinge soveel erger gemaak het?”
“Het ek nie vir jou gesê om daar uit te bly nie?” raas Pezulu. “Het ek nie gesê daar gaan moeilikheid wees nie?”
Jock sug weer. “Ja,” erken hy. “Maar … dink jy ons sal teruggaan soontoe?”
Pezulu is taamlik seker hulle sal. Maar dit voel nie soos die regte tyd om dit te erken nie en hy sê dit daarom nie. “Nie as Fitz sy fortuin op die goudvelde maak nie,” antwoord hy. Maar sy hart sak sommer in sy skoene as hy dink aan die lang, uitputtende tog tot daar – en die moeilikheid wat verseker vir hulle wag.
Hulle somber gedagtes word onderbreek deur dringende tromslae wat vanuit die verte na hulle aangedreun kom. Jock kyk terug om te sien hoe Jim sy spies en knopkierie gryp en in hulle rigting hardloop. Hy stop wanneer hy by hulle kom en hou sy hand bo sy oë om die son weg te keer. “Lalela! Luister! Tromme!”
Doer onder is ’n Zoeloedorpie. Skielik besef Jock wat hy sien. “Pezulu! Ons is by die huis!” skree hy, en begin hardloop. “Dis Jess! En Baba! Ons is by die huis!”
Dis ’n goeie tuiskoms, maar ook ’n hartseer een. Baba is bly om vir Jock te sien, maar hy bly sit en staar strak voor hom uit. Saam met die tromslae klink die jammerlike klaaglied van ’n huilende vrou. ’n Kind is deur ‘n luiperd doodgebyt en die hele dorpie rou.
Jess besnuffel Jock liefdevol. “Ek’s bly jy’s terug,” sê sy en bekyk hom trots. Hy’t groot en sterk geword en sy pels het dieselfde sonderlinge goue kleur as wat sy pa s’n gehad het. “Ma!” Jock sal eintlik graag styf teen haar wil nestel soos toe hy klein was, maar dit voel nie nou heeltemal reg nie.
Pezulu reken hy moet dadelik terugrapporteer en dit oor en verby kry. “Jy’t my nooit gesê hy’s ‘n klein moeilikheidmaker nie!” sê hy.
Jess kyk vir Jock. “Is hy?” vra sy dan vir Pezulu, met haar oë steeds op Jock. Skamerig laat Jock sy kop sak. “Ek’t vir George ontmoet,” sê hy. Dan borrel die hele storie uit. “Ek moes nie … dit het reg gevoel om daardie diere te help. Hulle was regtig in die moeilikheid. En Seedling het Fitz probeer kul. Hy sou al sy geld verloor het – alles wat hy het!”
Vir ’n oomblik kyk Jess weg. Nés sy pa, dink sy. Maar wanneer sy terugdraai lyk sy streng. “Ek’t jou gesê om nie met mensgoed deurmekaar te raak nie,” sê sy skerp. “Geld bring net moeilikheid!”
‘n Stoet roubeklaers beweeg stadig teen die vallei op met die lyk van die dogtertjie wat die luiperd doodgebyt het. Dat hiervoor wraak geneem sal word, is seker. Net waar jy kyk bring mense moeilikheid, ook vir diere. En die mens is net mooi oral.