Klein Hondjie sit saam met Jess en Pezulu op ‘n klip en kyk na die sonsondergang. ‘n Groot koedoebul stop om na hulle te kyk en in die verte is ‘n sebratrop op pad na die watergat. Jess en haar hondjie en die maltrap hoenderhaan is amper tuis. Dit was ‘n lang, lang, dag.
“Wat beteken nikswerd, Ma?” vra Klein Hondjie saggies vir Jess. Jess sug.
“Waar het jy dit gehoor?” vra sy.
“Toe hulle netnou oor my gepraat het … by die jagter se kamp.”
Jess sug weer. “Hulle bedoel maar net jy’s klein,” antwoord sy.
“Is dit hoekom hulle my onder … onder die water gedruk het?”
Vir ‘n oomblik bly Jess stil. En dan begin sy om ‘n storie te vertel.
“Jou pa was die kleinste hondjie in sy werpsel. Die ander het hom daaroor gespot – maar hy was uiteindelik die dapperste en die sterkste en het almal uitgestof. Glo in jouself – moenie jou aan dinge soos vandag steur nie.”
Klein Hondjie kyk haar met hartseer ogies aan. “Maar ek’s moeg, Ma.”
Jess het ‘n punt om te bewys. Sy stamp aan Klein Hondjie – hard – en begin speels met hom stoei. “Nee, jy’s g’n moeg nie!” Jess stoot Klein Hondjie met haar neus en hy kraai van plesier. Pezulu kraai saam, maar dan word Jess weer ernstig.
“Môre gaan jy saam met Fitz en Jim,” sê sy vir Klein Hondjie, sonder om na hom te kyk.
Klein Hondjie sit nou kiertsregop. “Wat bedoel jy?”
Jess kyk af na hom en sê dan versigtig: “Môre, as Fitz en Jim weggaan met die wa, moet jy saam met hulle gaan.”
“Wat?”
“Môre …”
Maar Klein Hondjie laat Jess nie eens klaar praat nie.
“Ek gaan nie,” sê hy beslis.
Pezulu sit sy vlerk vertroostend om Klein Hondjie. “Jy’s in goeie hande, Klein Hondjie. Ek gaan daar wees. Ek sal jou oppas!”
Jess lyk hartseer, maar sy beaam Pezulu se woorde. “Jy moet mooi na hom kyk, Pezulu. Hy weet nog niks van mensgoed nie.”
Pezulu lyk of hy Jess se hartseer verstaan. “Moenie bekommer nie, Jess. Fitz is ‘n goeie man. Hy’t ook nie juis ‘n benul van mensgoed nie. Hy probeer maar nog om sy plek in die wêreld te vind en om ‘n lewe vir homself te maak. Hy sal ook regkom.”
In die agtergrond kan Jess sien hoe Fitz sukkel om aandete te maak. Hy tel per ongeluk die vuurwarm ketel op, laat val dit dan op sy voet en hop-hop van pyn om die vuur.
“Hmmm, nou ja,” borduur Pezulu voort, “en hy’s nog boonop ‘n bietjie lomp ook!”
Later daardie aand wag Baba vir die twee mans om te kom.
“So julle neem die hondjie?” vra hy nadat hulle mekaar gegroet het.
“Yebo, Baba,” sê Jim dadelik.
“Julle het goed gekies,” is Baba se antwoord.
Fitz kyk verward na Jim. “Maar ek het nie …”
“Baba gee die kampioen vir jou!”
Jim se gesig verhelder. “Jy bedoel die grootste hondjie, nie waar nie?”
Baba lyk teleurgesteld. “Groter is nie altyd beter nie,” antwoord hy.
Fitz kyk rond, op soek na die groot hondjies. Hy sien nie vir Jess en Pezulu wat saam met Klein Hondjie in sy rigting gestap kom nie. “Maar ek’t gedink …”
Fitz sien nie die teleurstelling op Baba se gesig, of die woede op Jim s‘n nie. Hy kan eenvoudig nie kleinkry wat aangaan nie.
Klein Hondjie verstaan presies. Hy gaan staan voor Fitz, kyk op na hom en waai sy stert so bietjie. Fitz aarsel. Miskien … miskien het hy oorhaastig gekies. Miskien …
Hy kniel en hou sy hand na die hondjie uit. Klein Hondjie kom nader en lek Fitz se hand – nie heeltemal seker wat van hom verwag word nie. Fitz vryf sy koppie en die klein hondjie kyk hom met bruin kraalogies aan. Toe Fitz die hondjie optel is die lyfie verbasend swaar en satynsag in sy arms. Hy gaap ‘n pienk, wyebek gaap. “Skerp tandjies,” dink Fitz by homself. Die hondjie maak sy bek toe. “Eina!”
Baba glimlag. “Daai enetjie,” sê hy kopskuddend, “daai enetjie het dit al hoeveel keer met my gedoen!”
Meteens is Fitz handeviervoet op die grond, die ene speletjies. Baldadig lek die hondjie sy gesig, noudat hy naby genoeg daaraan kan kom. Fitz tel die hondjie op en hou hom styf teen hom vas.
Jim, wat vroeër weggedraai het, kom nou teruggestap, ’n effense glimlag om sy mondhoeke. “So … wat’s sy naam?” vra hy bedees.
Vir ‘n oomblik kyk Fitz stip na die hondjie in sy arms. Dan staan hy stadig op, steeds met die hondjie teen sy bors. Baba en Jess roer nie. Ook Jim sê nie ‘n woord nie.
“Jock,” sê Fitz uiteindelik. “Klein Jock. Dis wat ons hom sal noem!”
Daar is baie wat Jock moet leer. Eers moet hy vir Fitz leer ken. Fitz is eintlik ook maar baie soos ’n babahondjie, besluit Jock. Hy hou van speel. Maar hy kan kwaai ook wees. ’n Hond wat saam met die waens trek moet gehoorsaam en versigtig wees. Daar is baie gevare. Hy moet ook skerp en slim wees – en bo alles, baie dapper.
Daar’s vreeslik baie diere in die bosveld! Grotes! Party van hulle trek die wa – en dit maak Jock skoon beangs as een van hulle nader met hom wil kom kennis maak. Maar hy hou hom dapper en verjaag die os met ’n kwaai blaf.
Saans krul Jock langs Fitz op (onder sy kombers), maar nie sonder om een oor gespits te hou op moontlike gevaar nie. In die Afrika-bosveld moet mens wakker slaap. Gelukkig is Jim ook daar met sy assegaai, om enige regte bedreigings af te weer – soos die leeu wat hulle een aand kom besoek het.
Die moeilikste ding vir Jock om te leer, is om nét kos te neem wanneer Fitz die bevel gee. Geen ordentlike hond behoort sy mond aan iets te sit as dit nie op sy eie baas se bevel is nie. Fitz leer vir Jock om snoephappies op sy neus te balanseer totdat Fitz hom toestemming gee om dit te eet. Dis bitter moeilik, maar Jock doen dit … vir Fitz.
Jock mis vir Jess, veral aan die begin, maar Pezulu kyk mooi na die hondjie en beur hom op as hy huis toe verlang.
“Ek het haar belowe ek sal jou oppas,” sê die haan dikwels, “en dis presies wat ek gaan doen.” Dan trek hy vir Jock gesigte en jaag hom om en om die wa om hom van die verlang te laat vergeet. Dit help, maar tog is Jess nooit ver van Jock af nie; altyd in sy hart en sy gedagtes.
Soos hulle deur die Laeveld in die rigting van die platorand trek, word Jock groter en sterker. Sy pels kry ‘n pragtige goue glans en hy lyk fier en trots. Niemand noem hom meer ‘n nikswerd nie. Niemand dink eers daaraan nie.
Maar nie Jock – of Fitz – kan vir altyd uit die pad van mensmoeilikheid bly nie. Vir ‘n rukkie leef hulle ‘n byna idilliese lewe in die Afrika-bosveld. Maar daar’s plekke waarheen hulle moet gaan wat nie so wonderlik is nie. Een so ‘n plek is Crook’s Corner.
Hulle kan sulke plekke nie vermy nie: dis hulle werk om voorrade by delwers te kry – ouens wat van oraloor stroom om groot geld te maak (of te verloor) op die goudvelde. Die waarheid is dat party mense meer geld sou kon maak deur ’n dag se eerlike, harde werk as wat hulle ooit met ’n goudsoekery sou verdien. Maar waar delwers en goud is, is altyd skelms ook – slaggereed om te kroek en te kul.
Pezulu is glad nie gelukkig met Crook’s Corner nie. Hy’t vir Jess belowe dat hy na Jock sal kyk – maar die kans dat Jock hier in die moeilikheid sal beland is veel groter as wanneer hulle met alledaagse bosveldgevare te make het. Vir leeus sien hy kans … maar Crook’s Corner steek allerhande onheilighede weg.
Nou wag hulle by die pontoorgang waar hulle die Krokodilrivier moet oorsteek. “Gmf! Goeie naam,” sê Pezulu verontwaardig, sy een oog wantrouig op die water. Krokodille is daar verseker!
Vanaf die oorkant van die rivier kom die geblaf van ‘n groot – en kwaai – bobbejaanmannetjie. Pezulu se nek ruk om na waar die geluid vandaan kom. “Dis hy!” sê hy vir Jock.
“Wie?” vra Jock.
“Bobbejaan-man! George!”
Maar voor Jock meer kan uitvind, fluit Fitz vir hom om te kom.
Hoe nader hulle aan Crook’s Corner kom, hoe ongemakliker voel Jock. Daar’s iets verontrustend omtrent die plek; asof hy heeltyd oor sy skouer moet loer. ’n Krokodil volg die pont met sy snoet net-net bo die water. Hy hap dreigend met sy kake as Jock dit net te naby aan die kant waag. “Oppas!” kraai Pezulu waarskuwend. “Ek’s veronderstel om ’n ogie oor jou te hou!”
Selfs die eenbeen-pontmeester is onvriendelik, sy gesig vertrek en vol letsels – asof hy eens op ‘n tyd self te naby aan die kant van die pont gestaan het. Jock is maar te bly om van die pont af te spring die oomblik dat hulle die oorkantste wal haal. Dis lekker om weer droë grond onder sy pote te hê. Hierdie gaan sowaar ‘n avontuur wees!
Pezulu kyk mismoedig na die vuil dorpie.
“Gee my veel eerder leeus,” mor hy. “Ten minste kan Jim hulle met sy assegaai verwilder.”
Maar Jock is opgewonde oor die nuwe geluide en nuwe reuke – al is die reuke nie almal ewe aangenaam nie. Hy spits sy ore en bekyk die tonele voor hom blinkoog.
Dis interessant. Baie interessant. Maar die laaste ding wat Jock verwag wanneer hy om ‘n hoek kom, is om reg in Claude en sy wa voljagtrofeë vas te loop. Claude spring uit die wa met ’n hok in sy hand. Jock bekyk die spulletjie en sien dis twee vreesbevange apies wat tussen die tralies uitloer terwyl hulle bang geluidjies maak.
Meteens bars die kroegdeure oop en ‘n vullisdrom kom teen ‘n spoed uitgekletter. Dit mis Claude en die apies met ‘n haarbreedte. Claude systap die drom rats en gaan die kroeg binne, maar die oomblik wat die drom teen ‘n wawiel tot stilstand kom, kom Snarly te voorskyn, oortrek van vuilgoed en met ‘n been in sy mond.
“Wat kyk jy?” grom Snarly.
“Jy gaan siek word as jy daai goed eet,” sê Jock.
Snarly kyk Jock met skrefiesoë aan. “Aha, die nikswerd,” sê hy na ’n rukkie. “Nie gedink jy sal oorleef nie!”
Dan bekyk hy Jock nog meer intens en sien die golwing van spiere onder sy goudblink pels. “Kom ontmoet die baas.”
“Kannie. Ek wag vir Fitz.” Maar Jock volg Snarly nogtans tot by die kroeg.
Crook’s Corner Saloon is die enigste kroeg in myle, en daarom die plek waar almal bymekaarkom om te drink en die tyd te verwyl. Dis presies waar Claude nou is – in die kroeg saam met Seedling, ’n vent met ’n onaangename gesig. Hulle stry oor die baba-apies. Elke nou en dan stamp Seedling geniepsig teen die hok, wat die apies nog meer verskrik maak. Dan slaan hy hard met sy vuis op die kroegtoonbank.
“Ek soek nie gemors soos dié nie! Ek’t ivoor nodig. Dis g’n ’n troeteldierwinkel nie!”
Jock gaan nader om beter te kan sien. Die apies is vreesbevange. “Wat het julle oorgekom?” het hy net mooi tyd om te vra voor ’n yslike bobbejaanmannetjie met ’n vuil klou teen die kant van die hok slaan.
“Wat het dit met jou te doen?” snou hy Jock toe.
Jock staan vinnig terug.
Snarly neem selftevrede sy plek in. “Daar’s ’n nuwe outjie in die buurt, George,” vertel hy die bobbejaan. Dan stamp hy Jock ru teen die skouer. “Praat met die baas. Sê vir hom wie jy is!” blaf hy.
Maar George steur hom nie aan Jock nie. Sy aandag is by die apies. “En wat is jou naampie?” vra hy spottend. Een van die apies is stom geskrik, maar die ander een skraap sy moed bymekaar. “J-J-J-Julien,” kry hy gefluister.
“J-J-J-Julian!” eggo George. “J-J-J-Julian! Nog ‘n jokkie, nie waar nie?”
George gee die hok ‘n harde, venynige stamp en die twee apies deins vreesbevange terug tot in die verste hoekie.
Jock kan dit nie langer verduur nie. “Haai! Hou op om die apies seer te maak!”
George draai sy geel oë in Jock se rigting. Snarly kies stert tussen die bene koers na een van die tafels, waar Claude sit en drink.
Vir ‘n oomblik staar George na Jock – so asof hy nie hou van wat hy sien nie.
Jock is net op die punt om te loop en te gaan kyk waar Fitz is toe Fitz en Jim saam by die deur inbars, ‘n groot krat tussen hulle. Jim draai om om weer te loop, maar Fitz gaan staan by die kroegtoonbank en steek sy hand vriendelik uit. “Hallo, ek’s Fitzpatrick.”
Niemand skud sy hand of steur hulle juis aan Fitz nie. Seedling kom wel agter die kroegtoonbank uit – net om na die krat te kyk wat Fitz ingedra het. Sy ongeskiktheid hinder Fitz skynbaar nie.
“Dis boeke,” vertel hy vir Seedling. “Ek’t dit pas met my vrag van die see af saamgebring.” George, wat ook behoorlik wil sien wat aangaan, spring oor die toonbank, klouter bo-op die krat en maak homself tuis, waar hy dan ongeskik bly sit en vlooie soek.
“Genugtig!” sê Fitz, en gee ‘n tree terug. “Moet ‘n dier soos dié nie aan ‘n ketting vas wees nie? Hy lyk gevaarlik! George wys sy geel tande. Fitz tree lomp agteruit, vas in ‘n kelnerin wat agter hom staan. Party mense agter in die kroeg giggel saggies.
“Uit!” snou Seedling. Maar Fitz maak so verskoning dat hy nie eens hoor nie.
“Ek’s so jammer, juffrou! Hoe lomp van my … so jammer, so bitter jammer …”
“Wat soek jy in elk geval hier?” vra Seedling. “Wie’t jou saamgenooi op hierdie uitstappie?” Dan verloor hy sy humeur met George, wat steeds op die krat sit en nou in sy tande grawe. “Klim af daar, jou nuttelose dierasie!” Vir ’n oomblik staar Seedling na George asof hy besluit of hy hom ’n skop moet gee, maar dan draai hy terug na Fitz, met sy hand uitgehou. “’n Halfkroon,” beveel hy.
“Wat?”
“’n Halfkroon,” herhaal Seedling. “Belasting.”
Fitz lyk heeltemal verbyster. “Wat?”
“Belasting,” sê Seedling weer, sy stem yskoud.
“Bedoel jy … jy’s ’n regeringsamptenaar?”
“Het jy ‘n probleem daarmee? ‘n Halfkroon.”
Die gelag uit die agterkant van die kroeg is nou harder en ’n paar mense moedig Seedling luidkeels aan.
George kan ’n bakleiery sien kom en spring terug op die krat, hierdie keer met ’n bottel bier in sy hand. Die hare op Jock se rug kom stadig orent. Hier kom moeilikheid!
Fitz lyk bang. “Maar … ek’s gevra om hierdie krat by jou af te laai.”
Seedling kom nader om die krat goed te bekyk en stamp in die proses vir George ru weg. “O, ja. Ek’t gewag hiervoor.”
Fitz lyk verlig – maar dis te gou. Seedling se hand skiet weer uit. “’n Halfkroon. Belasting.”
Met ’n sug grawe Fitz ’n paar munte uit sy broeksak en oorhandig dit aan Seedling. Seedling glimlag nie. Hy sê ook nie dankie nie en skryf nie ’n kwitansie uit nie. Hy sit eenvoudig die geld in sy sak.
Fitz kyk nuuskierig rond. Die kroeg is ook die winkel. Van die goed wat teen die mure hang en op die rakke staan is toerusting wat hy moet koop. “Nou ja, ek sal graag ’n pan en ’n graaf wil koop, en ’n sak sout, as jy nie omgee nie.” Seedling klap die goed op die toonbank neer, so asof hy nie regtig lus is nie. Fitz tel die pan op en maak of hy goud daarmee soek, sy oë blink van opwinding. Jock dink vir ’n oomblik dat die pan dalk ’n bak kos mag wees en hy tree gretig vorentoe.
“Elke minuut word nog een gebore!” sê iemand en hierdie keer lag almal. Jock spring beskermend teen Fitz op en Fitz neem hom in sy arms. Sy aandag is reeds by iets anders: ’n kaart teen die muur. “Haai, Jock! Dis waar ek met die skip aangekom het!” Hy trek met sy vinger ’n streep oor die kaart. “En dis waarheen ons op pad is …”
Maar voordat hy sy sin kan voltooi, fluit ’n mes deur die lug en tref die kaart soos ’n veerpyltjie, presies waar dit Crook’s Corner wys. “En dis waar jy nou is,” smaal Seedling. Dan trek hy die mes uit die kaart, en rig dit op Jock. “En wat het ons hier?”
“Dis my hond,” roep Fitz. “Die slimste hond wat jy ooit sal teëkom!” Seedling lyk skepties. Claude, wat intussen agter Seedling kom staan het lyk ook nie oortuig nie. Jock grom laag uit sy keel.
“Mapstieks! Dis die nikswerd! Hy’t sowaar oorleef! Hoe gaan dit, Fitz?”
Seedling laat hom nie met geselsies van stryk bring nie. Hy tik met die mespunt teen Jock se neus. “Slim, sê jy? Wel, as hy ’n bietjie groter is kan George lekker met hom speel. George is altyd op soek na slim speelmaats.” Dan glimlag Seedling vir die eerste keer en sy tande is so geel soos die bobbejaan s’n.