12

Jock drink dors uit ‘n kalbas water. Julian bly gretig om hom ronddraai, met ‘n kleiner kalbas vol grondboontjies. “Dit was Basil s‘n,” sê die klein apie hartseer. “Hy was versot op grondboontjies.”

“Nee,” sê Jock, net so hartseer. “Nee, dankie.” Hy probeer vir Julian glimlag om hom beter te laat voel, maar dis nie ’n baie oortuigende glimlag nie.

“Jy’s nou ons enigste hoop, Jock. Ons het jou hulp nodig.”

Jock kyk weg. Hulp? Kyk net die gemors waarin hy hulle laat beland het toe hy laas probeer help het!

In die skaduwee van die kelder onder die kremetartboom vang ’n effense beweging Jock se oog. In die deur, afgeëts teen die lig is … is Baba! Jock staan met bewende bene op en loop stram na die ou man. Baba kniel en vryf hom. Baba se aanraking is vir Jock soos medisyne. Vir ‘n oomblik staan hy net daar en onthou. Hy onthou toe hy ’n klein hondjie was by Baba … en Jess. Sy kop hang en vir ’n oomblik laat hy toe dat die swaar las van sy skouers val. Baba verstaan.

“Jy’s nou vry,” sê Baba. “Vry om te kies.”

Jock kyk op in die wyse oë. “Ek kan hom nie wen nie,” sê hy eenvoudig. “Hy’s te sterk vir my.”

Baba staan op. Hy laat los vir Jock en gee hom tyd en ruimte om te dink. “Ek het ingemeng en soveel foute gemaak …”

Baba glimlag vol deernis. “Foute is die prys wat ons vir kennis moet betaal. Dis tyd. En jou ma is by jou.”

Dis genoeg. Jock staan fier en regop en kyk hoe Baba se gestalte weer in die nagdonker verdwyn. Nou’s hy regtig alleen – en nou moet hy sterk wees.

Seedling is reg vir aksie die oomblik wanneer die son opkom – aksie met ’n hoofletter A. Hy kyk na die skitterende Afrikason en glimlag. “Wat ‘n lieflike dag!” Hy gee sommer ‘n danssprongetjie as hy dink aan al die geld wat hy met die geveg gaan verdien. “Wat ’n lieflike, lieflike dag!”

Dan sien hy die leë hok – die hok waarin Jock was. Leeg!

“Wat de …” Dan gaan staan hy om te dink. “George! GEORGE!”

Buite Pelgrimsrus is ’n perdekar haastig uit die dorp op pad. Mnr. Morris hou die leisels vas en Lillian, langs hom, probeer haar hoed op haar kop hou. Daar’s iets byna wanhopigs aan die haas waarmee hulle Crook’s Corner toe jaag.

“Hup! Hup! Komaan!” skree Mnr. Morris. “Toe, roer julle!”

Snarly is vas aan die slaap, styf teen Claude se wawiel opgekrul, wanneer George hom beetkry en byna verwurg. “Waar ís hy?”

Snarly twyfel nie vir ‘n oomblik oor wié dit is waarna George so bedagsaam verwys nie, maar hy vra nietemin: “Wie?”

“Die klein papbroek! Die klein papbroek Jock het ontsnap!”

Snarly is seker hy ken Jock beter as dit. “Hy sal nie die geveg mis nie,” sê hy beslis. “Jock sal nooit die geveg mis nie.”

George is nie so seker nie. Hy kyk hoe Snarly na sy baas toe sluip. Hy sal later ‘n plan met Snarly moet maak.

Seedling se dag lyk nie meer heeltemal so blink nie. Die belofte wat die sonsopkoms ingehou het, het verdwyn die oomblik toe hy agterkom Jock is weg. Hy stap doelgerig oor na Claude. “Ons het ‘n voorgeveg nodig,” snou hy. “Jou hond!”

Claude mors sy bier van pure ontsteltenis. “Snarly! Hy kan onmoontlik teen George baklei!”

“Ek gee nie om nie,” kap Seedling terug. “lets het voorgeval. Ek’t iets nodig om tyd op te maak – en dis in elk geval nie of daardie sleg basterbrak al ooit van veel nut was nie.”

“Wat vat so lank?” skree een van die toeskouers. Nog ontevrede stemme word by dié een gevoeg, en almal brom oor waarom die groot geveg dan so opgehou word. Niemand vertrou vir Seedling nie. Te veel slegte dinge het al gebeur. Miskien gaan hy hulle geld vat en verdwyn? “Ja! Waar’s die luiperdhapper waaroor jy so gespog het?” Die atmosfeer word al hoe meer dreigend.

Seedling is al om Claude. Claude hou Snarly se leiband vas. George lê oor die kroegtoonbank uitgestrek met ’n donkerblou mantel om sy skouers gedrapeer – die ene spiere.

“Asseblief, Seedling. Snarly staan nie ’n kans nie!”

Seedling leun oor na Claude. Sy gesig is so naby dat Seedling sy beroemde goue stopsels kan sien blink. “Kry vir Jock, en jou hond leef.” Seedling neem die leiband by Claude en maak Snarly aan ‘n reling vas. “Ek herhaal. Kry vir Jock, en jou hond leef!” Met ‘n laaste kyk na sy bewende hond maak Claude spore.

George krap met ‘n lang, skerp spyker in sy geel tande. Hy draai na Basil, wat steeds op ‘n stok naby die grammofoon vasgemaak is. “Wen dit op, Basil!”

Stadig wen Basil die grammofoon op. ’n Hartseer, eensame deuntjie draal deur die raserige kroeg. Meteens verskyn Julian se kop by die deur. Hy kyk vir ’n oomblik na Basil, asof hy sy oë nie kan glo nie, en skarrel weg.

Dis tyd vir die geveg om te begin – en steeds is daar geen teken van Jock nie. Seedling is desperaat.

“Mense! Mense! Asseblief, asseblief, asseblief! Kan ek julle aandag kry?”

Die gegrom en gebrom in die kroeg word stil soos wat mense omdraai om te luister. “As julle net nog ’n klein bietjie geduldig kan wees,” gaan Seedling voort, “het ons ’n stukkie vermaak voor die hoofvertoning. George is dalk ’n bietjie verroes; dis ’n tydjie sedert sy laaste geveg …” Seedling stop om te dink. “Beskou hierdie as sy opwarmingsoefening!”

Seedling neem ‘n sluk uit sy heupfles en sleep Snarly by die trappe af. Die toeskouers is nie beïndruk nie.

“Dis g’n opwarming nie! Dis Snarly!” Almal lag, maar ’n paar mense raak nou kwaad. Dis nie waarna hulle kom kyk het nie. Dís g’n uitdaging nie. Verskeie “boe’s” en ’n gefluit klink op soos wat George vorentoe en agtertoe begin wieg. Hy takseer Snarly dreigend en wag sy kans af.

Op die pad is ’n tweede perdekar vinnig besig om Mnr. Morris s’n verby te steek. Dié een word deur Jim bestuur, met Pezulu langs hom. Fitz bespied die pad vorentoe deur sy verkyker en moedig hulle luidkeels aan. Gaan hulle betyds wees?

Claude soek in elke moontlike pakkamer en buitegebou. Hy kan aan geen ander moontlikhede dink nie, maar verwag nog steeds nie om Jock op enige van dié plekke te kry nie. Die hond sou tog sekerlik al lankal op ’n veiliger plek wees? Hy skop ’n deur oop. “Jock? Jock?” Dan kyk hy op en sien die groot kremetartboom. Miskien … miskien nie? Maar hy kies nietemin koers daarheen.

Die stemming onder die mense in die kroeg raak nou al hoe meer dreigend. Hulle is seker hier’s ’n verneukspul aan’t broei – en Seedling kan voel daar’s moeilikheid op pad. Hy beduie vinnig vir George, wat met sy wapperende donkerblou mantel in die kryt induik. Die toeskouers hou op brom en draai om om te kyk. George se gevegsmondering is nogal iets om te aanskou. Seedling maak die bewende Snarly se halsband aan die ketting vas. “Toe nou! Toe nou! Hier is hy, mense, al die pad van Australië af! Snappende Snarly!”

Die toeskouers “boe” en koggel, maar hulle is in ’n veel beter luim, noudat iets darem gebeur.

George wys sy tande en sy bloedbelope oë blink gevaarlik. Seedling sit ‘n klinknaelhalsband om sy nek en George lig sy arms triomfantelik. George die vegbobbejaan is terug! Snarly staan so ver terug as wat die ketting hom toelaat, afgryse in sy oë.

“En sy teenstander, George, die vreeslose vegbobbejaan!” kondig Snarly aan. “Met tande groter as ’n leeu s’n, en ingeweeg op vyftig kilogram! Ons eerste … ons enigste … Geeeeeeeeeorge! Kom nou, mense! ’n Rondte applous vir George!”

Die toeskouers murmer halfhartig hul goedkeuring. George trek sy oë op skrefies. Dis tyd vir aksie.

Seedling gryp vir Snarly van agter af en gooi hom ru in die kryt. Die toeskouers sit gretig vorentoe – maar ewe skielik klink ’n skoot. Claude staan in die agtergrond met Jock is reg agter hom.

Snarly kan skaars sy geluk glo. “Dankie, Jock,” prewel hy terwyl Claude sy halsband van die ketting losmaak en vir Seedling die halsband teruggee. “Dankie, pêl.”

Daar’s ’n opgewonde dreuning onder die toeskouers soos wat Jock die arena binnekom. Dis mos nou beter! Dis waarvoor hulle gekom het. Almal se aandag is ten volle op Jock waar hy gereed staan, van aangesig tot aangesig met George.

Stadig laat George die donkerblou mantel van sy skouers val, om wat hy daaronder aan het te ontbloot: ’n luiperdvel onderbaadjie. Seedling glimlag en sy tande flits. “Herken jy dit, klein Jock? Ek dink dis die een wat jou ma doodgemaak het … Ag siestog!” Sonder huiwering buk hy en maak die halsband en ketting om Jock se nek vas. Van ontsnap is daar nou nie sprake nie!

Jock haal diep asem, steeds kalm, viervoet op die grond en gereed. Seedling maak weer sy stem dik. “Menere! Noudat ons onwillige deelnemer, Snappende Snarly, die aftog geblaas het, kan ek julle voorstel aan … die Luiperdhapper!” Seedling spring vinnig tussen die twee diere uit en voeg oor sy skouer by: “’n Geveg tot die dood!”

Jock is sterk en wakker en ‘n “Vat hom, Jock!” van Snarly af (van heel agter uit die kroeg) is genoeg om hom aan te moedig. Hy glimlag vinnig vir Snarly en fokus dan volkome op die uitdaging voor hom.

“Wys my jou spiere, nikswerd!” tart George. Maar Jock hou Baba se woorde in gedagte en bly gefokus. “Jou ma is by jou,” het Baba gesê. Hierdie keer gaan Jock luister … en glo.

George pronk vir die toeskouers, slaan op sy bors en gooi flikkers in sy luiperdvel onderbaadjie. Jock neem sy kans waar om vorentoe te spring, George onkant te vang en sy aandag só weer op die geveg te vestig. Jock kan vaagweg hoor hoe Snarly van agter af aanmoedigend skree en die toeskouers dofweg dreun. Hy tree terug en beur om die halsband af te kry. Dis bedoel om te keer dat hy nie weghardloop nie – maar dit keer hom ook om vinnig te beweeg. Hy skud sy kop driftig om dit te probeer afkry.

“Moenie bang wees nie,” koggel George. “Dit sal vinnig verby wees.” George duik vir Jock se ketting, pluk dit vorentoe en ruk só die halsband af. Jock skud homself weer. Dis beter! Hy tree weer terug, buite George se bereik, maar oorweeg nie eens om te probeer vlug nie.

Nou’s dit George wie se ketting hom terughou. Wanneer hy weer ‘n duik vir Jock maak, word hy vinnig teruggepluk en Jock gebruik die kans om aan te val. Seedling is so briesend oor die loop wat die geveg neem, dat hy met sy sweep na Jock begin slaan. “Jou agterbakse klein verneuker!” skree hy. Die toeskouers jou vir Seedling uit, maar die sweepslag moedig Jock net meer aan. Hy struikel, maar val nie, en hou George konstant in die oog.

George het sy les geleer en hou op met sy pronkery In plaas daarvan gooi hy sy volle gewig op Jock, wat veel kleiner is as hy, pen hom teen die grond vas en probeer hom met sy ketting verwurg.

Jock is ratser as George. Hy wikkel hom uit George se greep en sirkel om en om die paal in die middel van die kryt, met George al agter hom aan. Sy ketting word al hoe korter soos wat hy om en om die paal bly wen. Om en om hardloop hulle, tot George hopeloos vasgekoek is en sy ketting hom begin wurg in sy waansinnige poging om Jock te vang. Skielik besef George hy is vry. Jock het sy halsband afgeruk. Jock draai na George en sê, “Nou is dit jou beurt om te kies.” Effens duislig, sien George hoe die Pontmeester iets in Seedling se oor fluister. Dan sien hy hoe Seedling vinnig uit die kroeg skarrel met die Pontmeester hinkend agter hom aan. Die bobbejaan staan op en skiet deur die skare, reguit rivier toe – en na vryheid.

Maar daar’s iets wat hy eers wil doen. Daardie Basil! Basil sit op die wa se disselboom, waar hy gedink het hy’s veilig – maar George het ’n ander plan. In die verbyhol steek hy ’n lang, harige arm uit en raap die apie op.

Jock is reg agter hulle – en die toeskouers is reg agter hóm – met Fitz in die voortou. Almal haas hulle na die rivier toe, gretig om nog aksie te sien noudat die geveg verby is.

Seedling draai om, net om te sien dat skynbaar elke inwoner van Crook’s Corner agter hom aan is – en die idiotiese bobbejaan met die selfs meer idiotiese aap in sy arms.

Die Pontmeester aarsel, onseker van wat om te doen, maar Seedling duik vir die pont en pluk angstig aan die ankertoue. George gooi vir Basil op die pont en spring dan self agterna. ‘n Krokodil hap na hom en Basil skree – maar hulle is tog almal veilig aan boord!

Jock hardloop volspoed en is kort op hulle hakke. George kyk vir Seedling, wat stadig na die agterkant van die pont toe beweeg. Krokodille, asof hulle reeds bloed kan ruik, hap en maal in die water. Jock steek in sy spore vas wanneer hy hulle sien, en Basil, kwetterend van vrees, klim teen ’n paal op om uit hulle pad te kom.

Seedling grynslag gemeen. “Ons het dit gemaak, George.”

George kom steeds nader aan hom, sy treë afgemete.

“George? George …”

Seedling tree terug en lig sy sweep … net ingeval. “George? George, word kalm, my vriend. Word kalm. Alles gaan oukei wees.”

Maar dit is nie. Seedling gly oor ‘n los tou en tuimel oor die kant van die pont, en gryp vir George in die val. Nou is albei van hulle in die water, maar George het die voordeel. Met sy sterk bobbejaanarms trek hy homself weer op die pont en tart sy gewese baas. “Kan ek ‘n handjie bysit?” lyk dit of hy liefies vra. “Dalk hulp nodig?”

Meteens is dit of ’n ontploffing die water tref soos ’n krokodil Seedling takel en hom vir ’n oomblik uit die water lig, voor hulle al twee onder die oppervlak verdwyn. Met ’n laaste gespartel gooi Seedling die geldsakkie op die pont, waar George dit opraap en bo sy kop rondwaai.

“Al die liewe man se goud, nogal! Niemand gaan dit kry nie!” Hy ruk die sakkie oop en gooi die inhoud in die rivier. Die toeskouers snak in afgryse en juig dan wanneer aaklige Seedling uit die dorp gejaag word.

Basil klou steeds aan sy paal vas en George gee hom ’n sydelingse kyk, voor hy omdraai en al met die pontketting langs na die oorkantste wal padgee.

Dis te veel vir Jock. Hy spring op ’n krokodil se rug en van daar af op die pont. “Dis oukei, Basil,” sê hy sag. “Kom af. Vertrou my!”

Basil lag bewerig. “Jou vertrou, Jockie? Hoekom sal ek dít doen?” Maar hy klouter versigtig ondertoe en tot op Jock se rug, waar hy dankbaar aan Jock se pels vasklou totdat hy weer, via dieselfde roete, veilig op land is.

Die toeskouers is rasend van opwinding; hulle juig en gooi hulle hoedens in die lug. Dis die grootste oomblik in Jock se lewe. Jim trek los met ’n wilde Zoeloedans terwyl hy Jock se grootsheid besing. Pezulu verskyn asof van nêrens en prewel iets van hoendersop – maar hy glimlag van oor tot oor en val dadelik by Jim se dansery in.

Lillian is so opgewonde dat sy Fitz ‘n klapsoen gee. Fitz is verras, maar oorstelp van vreugde. Polly kyk liefderik na Jock en Mnr. Morris straal sommer vir almal.

Jock het ’n stil oomblik van sy eie. In sy kop en in sy hart dink hy aan ’n oomblik toe hy baie klein was, ’n oomblik wat hy met Baba gedeel het … en met Jess. Nou verstaan hy wat hulle vir hom probeer sê het. Nou verstaan hy. Hy skud homself om sy gedagtes agtermekaar te kry.

Miskien sal Jess nou trots wees op hom. Ja, dink hy, nou sal Jess miskien trots wees op hom.