In die begin

Klein Hondjie kry koud. Nie net dit nie – hy’s honger ook. Dis seker maar hoe dit is, dink Klein Hondjie. Sy ogies is nog nie behoorlik oop nie en hy sukkel om te sien, maar hy voel hoe die lug roer wanneer sy ma oor hom buk en hom teen haar aantrek.

Die groter hondjies, dié wat amper al haar melk opgedrink het voor Klein Hondjie ’n beurt kon kry, slaap seker nou. Hy woel homself styf teen sy ma se warm lyf vas, kry tóg nog melk en drink en drink tot hy heeltemal versadig is. Dan raak hy teen sy ma aan die slaap, vir die eerste keer knus en tevrede.

Die ma-hond kyk na haar slapende kleintjies – al vyf van hulle. Haar naam is Jess, en sy’s sterk en dapper en vreesloos.

Maar nou lyk sy lief en sag. Sy maak haarself gemaklik en lek haar gunstelingbaba – die kleinste en swakste enetjie; die een oor wie sy haar bekommer.