2

Ná sy toutrek-oorwinning lyk dit of Klein Hondjie homself beter begin handhaaf – maar hy is steeds die kleinste van die werpsel en die waarskynlikste een om onderstebo in die stof op te eindig.

Hy’s juis onderstebo in die stof toe Jim vir Fitz daar aanbring om weer na die hondjies te kom kyk. Jim het ‘n bord pap by hom. Die hondjies is nou oud genoeg om vaste kos te eet en laat Jess darem so nou en dan in vrede.

“Haai!” roep Jim wanneer hy vir Klein Hondjie gewaar. “Dis mos die een!” Fitz kyk egter heeltemal in ’n ander rigting, op soek na die groter hondjies.

Jim fluit skril. “Hier, ou kleintjie,” roep hy. Klein Hondjie kyk op. Is dit kos wat hy ruik? Wanneer Jim die bord neersit, storm hy holderstebolder daarop af en takel die bord kos met oorgawe. “Haibo! Ja-nee, dis die een!” sê Jim.

Jim lag, maar Fitz lag nie saam nie. “Dis nie die een wat ek wil hê nie! Hierdie is dan die kleinste enetjie – die klein nikswerd in die werpsel! Ons het die beste en die dapperste hondjie nodig – die kampioen!”

Klein Hondjie kyk op, sy neus besmeer met pap, sy ogies vraend. Wat het hy verkeerd gedoen? Die vreemdeling klink geïrriteerd.

Maar dis Jim wat geïrriteerd is. Sy glimlag verdwyn en hy kyk fronsend na Fitz. “Moenie na sy grootte kyk nie! Dis hier binne!” sê Jim, hy wys na sy borskas. “Dis sy hart wat saakmaak!”

“Kyk net na hom!” Die geur van die pap het die ander hondjies intussen tussen die groot vyeboom-wortels laat uitskarrel – en hulle stamp Klein Hondjie dat hy pens en pootjies in die papbord val. Fitz wuif betekenisvol in die hondjies se rigting. “Ja, inderdaad! Kyk net na hom!”

Sonder ‘n verdere woord draai Jim om en loop verontwaardig weg. Hierdie Fitz kan nie ‘n goeie ding herken as jy dit reg voor sy neus swaai nie.

Stil-stil lek Jess vir Klein Hondjie skoon. Hy’t nou nie meer ‘n kat se kans om by die papbord uit te kom nie – maar hy hou sy kop trots omhoog as hy wegdraf en die ander hondjies los om die bord blink te eet.

Fitz sien hom nie eens gaan nie.

Die bosveld is altyd vol interessante dinge. Veral vol interessante dinge vir Klein Hondjie om te ontdek. Eers kom hy op ’n miskruier af wat sy vrag huis toe stoot. Klein Hondjie agtervolg hom ’n rukkie, laag gebuk en met sy snoet teen die grond, asof hy jag. Dan volg hy ’n streep miere vir ’n tydjie, nuuskierig oor waarheen hulle op pad is.

‘n Swerm rysmiere bars uit ’n klein gaatjie in die grond en vlieg in die lug op. Klein Hondjie storm agter hulle aan, maar struikel oor ’n olifantspoor en val plat op sy maag in die stof. Vir ’n oomblik bly hy winduit lê – maar dan kom ’n vlakvark verby, en Klein Hondjie begin hom dadelik deur die lang gras volg. Dis te lekker hier buite op sy eie, dink Klein Hondjie, en hy leer heeltyd nuwe dinge.

Maar hy’t nog nie geleer om op die uitkyk te wees vir gevaar nie. Hy kom nie agter hoe stil dit geword het nie. Hy sien nie hoe ’n swerm klein voëltjies skielik uit die lang gras opvlieg nie. Hy’s heeltemal te besig om die vlakvark te volg – en dié het skynbaar ook nou verdwyn. Hy is heeltemal onbewus van die doodse stilte wat skielik oor die veld geval het en hoor nie eens die vlerkgeruis wanneer die arend op hom afduik nie. Die eerste ding waarvan Klein Hondjie bewus word is hoe seer die skerp kloue in die pels agter sy nek insny en hoe vreemd dit voel om deur die lug te vlieg – elke oomblik hoër en hoër!

Fitz en Jim is in die kamp doenig wanneer die arend met ‘n spoed verby hulle swiep. Pezulu, Jim se hoenderhaan wat op ‘n krat staan, verloor amper sy balans in die vlaag wind wat die arend se vlerke in die verbygaan maak.

“Haai! Is jy besimpeld?” roep hy agter die groot voël aan. Maar dan sien hy wat die arend in sy kloue beet het. “Hondjie!” skree hy. “Klein Hondjie?”

Jess sien ook haar hondjie raak. Soos ‘n vetgesmeerde blits skiet sy verby die twee mans, Pezulu kort op haar hakke. ‘n Oomblik later is Jim en Fitz ook by. Hulle waai hulle hoede in ‘n hulpelose poging om iets omtrent Klein Hondjie se ontvoering te doen – maar dis tevergeefs.

By die droë rivierloop kom hulle tot stilstand. Daar’s nie ‘n teken van die arend óf Klein Hondjie nie.

Jim is buite homself. “Ons moet hom kry!” roep hy. “Ons moet Klein Hondjie terugkry!”

Fitz skud sy kop. “Maar hoe?” vra hy. “Kan jy vlieg?” Hy draai om asof hy wil terugloop, maar so maklik gee Jim nie op nie. Meteens is hy weer die Zoeloe-kryger wat bevele aan sy soldate uitdeel. Hy wys na Pezulu. “Jý. Bly hier!” bulder hy. Dan wys hy na Fitz. “Jý. Bly hier en kyk na Pezulu.” Toe draai hy na Jess. “En jý kom saam met my!”

Fitz trek net sy skouers op. So ‘n gedoente oor die swakste hondjie! Hy buk om die onwillige Pezulu op te tel.

“Haai, Jess!” skree Pezulu. “Gaan jy solank saam met Jim – ek sal julle so gou moontlik inhaal!”

Fitz gryp na die ontstoke haan. “Stop dit, jou simpel voël!” Hy kry dit reg om Pezulu stewig onder sy arm vas te knyp, maar Pezulu brom een stryk deur.

“Mense! Hulle weet ook alewig van beter. Maar wat weet hulle eintlik? Net mooi niks!”

Wanneer die arend uiteindelik moeg word om die wriemelende Klein Hondjie te dra, gaan sit hy in die top van ’n boom om te rus. Klein Hondjie wikkel en wriemel, maar hy staan nie ’n kans teen die sterk voël nie. Veral nie toe hy die fout maak om af te kyk nie! Die grond doer onder hom lyk of dit golf en draai – en hy knyp sy oë styf toe.

“Boelie!” fluister hy, maar al wat die arend hierop doen is om sy kloue nog stywer in Klein Hondjie in te slaan. En sommer nóg stywer wanneer hy Jess en Jim onder die boom sien verbyhardloop.

Dis een te veel vir Klein Hondjie! Hy wikkel homself tot in die regte posisie en gee die arend ‘n geniepsige byt met sy skerp tandjies.

Die arend skree van verbasing en laat los sy prooi. Klein Hondjie val soos ’n klip … reg in ’n versamelvoëlnes in, met Arend agterna – en die hele nes tuimel grond toe.

Pandemonium bars los soos wat honderde woedende voëls uit hul verwoeste nes vlug. Maar so maklik laat Arend hom nie afskrik nie. Toe Klein Hondjie in die naaste vlakvarkgat probeer wegglip is Arend kort op sy hakke.

Die einste vlakvark kom vies uit sy gat gestorm om uit te vind waar al die geraas vandaan kom – en hardloop skoon bo-oor Arend.

Arend gee op. Hierdie Klein Hondjie is darem regtig nie soveel moeite werd nie.

Klein Hondjie se lewe is nie meer in gevaar nie, maar hy’t nog steeds nie ‘n benul waar hy is nie. Meteens verlang hy vreeslik na sy ma. Hy wil vir Jess hê – sommer dadelik! Daar’s ‘n kleinerige rooi miershoop naby die vlakvark se tuiste en Klein Hondjie klouter daarop om behoorlik te kan rondkyk. Dan hoor hy ‘n geritsel in die gras.

“Ma?” roep Klein Hondjie skamerig. “Is dit jy, Ma?”

‘n Rooibok kom uit die gras gestap, sy oë groot van vrees. Die res van die paniekerige trop is kort-kop agter hom. Dan klap ’n geweerskoot en Klein Hondjie probeer homself so klein as moontlik maak. Maar waar geweerskote is, is mense, nie waar nie? Klein Hondjie besluit om in die rigting van die geluid te hardloop. Miskien is Jess daar!

Soos wat hy oor die kruin van ’n bultjie kruip, verstar Klein Hondjie meteens. Reg voor hom is ’n jagter besig om ’n yslike mes in ’n rooibok se hart te steek! Dan tel die man die lewelose dier op en swaai dit oor sy skouer. Klein Hondjie draai vinnig terug, skoon bewerig. Hy hoort nie hier nie! “Ma!” fluister hy.

Die hond wat tussen die goue grashalms verskyn is allermins Jess. Net soos Klein Hondjie omdraai om weg te hardloop, kyk hy reguit vas in ’n vuilerige, verslonste hond met ’n nare houding.

“Jy jou mamma verloor?” koggel hy. “Wat’s jou naam, woefie?” ’n Yslike poot pen Klein Hondjie vas, sodat hy nie kan roer nie.

“Los my!”

“Dit sal die dag wees!”

Teen die tyd wat die twee honde by die kamp aankom het die jagter, Claude, reeds die rooibok afgeslag. Hy’s vuil en bloedbesmeer, maar dit lyk nie of dit hom pla nie. Sy wa is met horings en velle en tande behang. Hy het pas sy slagtafel afgevee toe die honde daar aankom. Claude kyk op.

“En wat het jy daar, Snarly?” vra hy. “Wat’s daar in jou bek, jou vuil ou aasdier?”

Snarly laat val Klein Hondjie by sy baas se voete. Klein Hondjie is nie seker wat hy moet doen nie – en spring daarom maar op en waai sy stert. Dis tog wat jy vir mense doen, nie waar nie?

Claude kyk af na Klein Hondjie. “Nou toe nou! Waar op aarde kom jy vandaan?”

Klein Hondjie kyk op, doodbang vir wat dalk met hom kan gebeur.

Die jagter gryp Klein Hondjie, hou hom in die lug en bekyk hom van alle kante. Sy asem stink.

“Haai, Snarly, wat gaan ons met dié outjie aanvang? Daar’s nie ’n manier dat hy op sy eie oorleef nie. Ons kan hom seker netsowel van sy lyding verlos, nie waar nie?”

Claude smyt Klein Hondjie op sy slagtafel neer en lig sy groot jagmes op, reg om te kap. Klein Hondjie is so angsbevange dat hy ’n plassie op die tafel maak. En dít maak die nare ou jagter sommer nog kwater.

“Ek’t nou net die tafel skoongevee!” skree hy. “Ek gaan jou nek omdraai en die tafel met jou afvee!” Hy dra Klein Hondjie tot by die waterbalie. “Dit sal jou leer om my tafel te besmeer!”

Hy dompel Klein Hondjie onder die water en hou hom daar.

Snarly lyk heel ingenome. Hy’t sy plig gedoen en die klein nikswerd vir sy baas gebring. Wat nou met die hondjie gebeur, kan hom nie skeel nie.

Skielik storm Jess op die toneel af. Sy spring in die waterbalie die oomblik wat Klein Hondjie begin sink en stamp in die proses Claude se voete onder hom uit. Snarly doen sy bes om dapper te lyk, maar dan draai Jess na hom toe en wys haar tande. Hy maak hom dadelik uit die voete: Snarly mag dalk groot wees, maar dapper is hy beslis nie.

Jess het nou vir Klein Hondjie in haar bek, maar net soos sy omdraai om weg te hardloop, kyk sy reg in Claude se geweerloop vas.

Vir ‘n oomblik kan mens ‘n speld hoor val. Almal staan botstil. Dan grynslag Claude en haal die geweer oor om te skiet.

“Los die geweer,” kom Jim se stem bedaard van agter Claude.

Claude grynslag weer, met die geweer steeds op Jess gerig. “Gedink ek gaan daarvoor val?” sê hy geamuseerd en draai om – net om vas te kyk in Jim se assegaai, wat reg op sy hart gerig is.

Boonop kom Fitz ewe skielik deur die bome aangehol. Hy lig sy geweer en skiet – en mis genadiglik vir Jim, wat slim genoeg was om op die grond neer te val die oomblik toe hy sien wat dalk kan gebeur.

Claude is nie van stryk gebring nie. “Dit was mis,” sê hy vir Fitz, met ‘n kopknik in Jim se rigting. “Simpel Zoeloe.”

Jim kom stywerig orent – woede duidelik op sy gesig. Hy loop na Jess toe en tel vir Klein Hondjie op.

“Ons het hom gekry!” roep Fitz opgewonde uit. Jim gee hom net ‘n vuil kyk.

Claude lyk verward. “En wat gaan hier aan?” vra hy. “Het jy sowaar in die bos rondgehardloop op soek hiérna?” Hy wys afkeurend en kopskuddend na Klein Hondjie.

Fitz glimlag en hou sy hand uit, steeds nie seker van wat presies gebeur het nie. “Ek’s Fitz,” sê hy vrolik.

Claude lyk steeds effens deurmekaar – maar hy skud die hand wat na hom uitgehou word. “Slukkie?” bied hy aan, terwyl hy sy heupfles oopskroef. “Dis eersteklas goed dié! Lekker baie skop!”

Uiteindelik val die legkaartstukkies vir Fitz in plek: die horings en velle, die tande en skedels. “So … jy’s ’n jagter?” vra hy.

“Jip.” Claude neem ’n groot sluk uit sy heupfles. “So, wat’s al die drama oor die brak? Is hy waardevol of iets?”

“Wel, nee. Hy’s die swakste hondjie in die werpsel. Eintlik maar ‘n klein nikswerd.”

Klein Hondjie kyk met groot oë toe. Wat het Fitz nou net gesê? Wat op aarde bedoel hy? Maar hy hoor niks verder nie. Jim draai verontwaardig om en loop die veld in, met Jess agter hom aan.

Claude neem nog ‘n sluk. “Hy sal nie lank hou nie. Dis hoe die natuur werk. Die swakstes is altyd eerste om te gaan.”