Lillian is so verbaas dat sy die teekoppie in haar hand laat val. Dit breek in ’n duisend stukkies. “Watse soort voorstel?” vra sy. Fitz gee haar ’n waarskuwende kyk. Hierdie klink soos moeilikheid! Seedling grinnik slu. Lillian buk om die skerwe van die gebreekte koppie op te tel, maar luister aandagtig na wat Seedling te sê het.
“Wel, Mnr. Fitzpatrick, jou hond is natuurlik al waaroor almal praat. Ek sou hom graag nog ’n kans wou gee om homself te bewys.”
Fitz is dadelik kwaad en besef hy moet nou mooi dink wat hy sê. “My hond het niks om te bewys nie … aan niemand nie. Hy gaan beslis nie aan enige van jou wedrenne deelneem nie, as dit is wat jy probeer sê.”
Seedling glimlag weer sy glibberige glimlag. “O, dis nie die wedrenne nie, Mnr. Fitzpatrick. Ek wil hom tot ’n tweegeveg uitdaag. Ek bedoel, daardie hond van jou jeuk eenvoudig vir ’n goeie bakleiery.”
Lillian word baie bleek. Sy beweeg effens nader aan Fitz en hy steek sy arm uit om haar te steun. Seedling kom niks agter nie. Hy’s besig om ’n goedkoop gedrukte plakkaat oop te rol. “Kyk,” sê Seedling trots. “’n Tweegeveg! ’n Tweegeveg tussen George en Jock!”
Lillian laat die skerwe wat sy nounet opgetel het, weer val, en kyk bekommerd na Fitz. Fitz lyk kalm, maar twee rooi kolle op sy wange verklap sy woede. Hy stoot sy bril beslis terug op sy neus.
Seedling gaan ongehinderd voort. “Vra jouself – waarom het hy aan die wedren deelgeneem? Ek bedoel, waarom het hy George onbeskaamd uitgedaag? Wel … omdat hy moeg is om ’n nikswerd te wees, dis hoekom. Hy soek erkenning!”
Fitz is so kwaad dat hy nie ‘n woord kan uitkry nie en Seedling hou daarom net aan. “Jy ook, klink dit vir my!”
“Wat?!”
“O ja, die hele dorp het al jou stories gehoor. Dat Jock ’n luiperd doodgemaak het – ’n mensvreterluiperd! Vir my klink dit of jý die een is wat vir ’n uitdaging vra, Mnr. Fitzpatrick!”
“Ék? Jy’s seker laf!”
Seedling draai na Lillian. Sy vermy sy blik en tel weer die porseleinskerwe op.
“Regtig?” Seedling glimlag slu, en die goud in sy vrot tande skitter. “Miskien is dit ’n geval van ‘n hond met baie blaf en min byt, Mnr. Fitzpatrick. Miskien is dit alles net ‘n spul leuens. Wat sou jý sê, Mnr. Fitzpatrick?”
Lillian kom orent. “Ek dink dis tyd vir jou om te gaan, Mnr. Seedling,” sê sy fier en selfversekerd.
Fitz kners op sy tande. “Ek dink ook so,” voeg hy dan by.
Seedling kyk vir Jock. Hy maak ’n spottende buiging na die hond en Jock knor. “Ons sien nietemin uit na die kragmeting,” sê hy. Jock voel sy nek- en rughare rys. Seedling is met een of ander slenter besig, dis verseker.
Seedling hou sy teekoppie na Lillian uit. “Dit was regtig ’n lekker koppie tee,” sê hy, en hou haar hand vir net ’n oomblik te lank vas. “Wees maar versigtig met hierdie een,” voeg hy by, met ’n knik na die koppie. “Ja, wees maar liewer versigtig!”
Inderdaad, dink Jock. Wees maar liewer báie versigtig!
Stil-stil laat Seedling homself by die huis uit – met ’n paar besonder verbysterde mense en diere wat by die tafel bly sit. Die uitdaging is gestel.
Heelwat later is Jock en Basil baie op hul hoede op pad terug na die wa. Basil is nie juis beïndruk met die kortpad wat Jock kies nie. “Moet ons regtig só loop?” vra hy met ’n bewende stemmetjie. “Ek hou nie van begraafplase nie.” Jock gaan staan stil om die bewende apie te paai. “Ontspan, Basil. Alles is oukei. Jy’s saam met my.”
Basil probeer glimlag. “Dis juis wat my bekommer,” kry hy gesê. “Dis wat my bekommer!”
“Jy’s baie veiliger hier saam met my en Pezulu en Jim,” troos Jock hom. “Vertrou my!”
Êrens roep ’n uil en hulle sien hoe die voël by ’n dooie boomstomp verbyvlieg. “Dis ’n slegte teken,” sê Basil swakkies. “’n Regtig slegte teken.” Dan voeg hy in ’n piepstemmetjie by: “Jy gaan nie baklei nie, gaan jy?”
“Nee,” antwoord Jock sag. “Ek leef eerder.”
Êrens in die donker nagstilte huil ‘n jakkals. Sy eensame getjank eggo deur die stil begraafplaas. Jock ril.
Toe Jock en Basil uiteindelik by die wa aankom, is alles stil en rustig. Jim lê saggies en snork op sy bed bo in die wa, maar Pezulu is dadelik wakker en begin opgewonde babbel.
“En hoe gaan dit met die pragtige Polly?” vra hy. “Het sy daardie mooi juwelehalsband aangehad, hè? Was sy bly om jou te sien, hè? Was sy? Was sy?”
Jock steur hom nie aan die vrae nie en maak hom in ’n hoekie gemaklik met Basil langs hom.
“So? Is sy oukei?”
“Ja, sy’s oukei,” sê Jock en maak sy oë toe. Dit was ’n lang dag – en voor dit, ’n lang aand.
“Oukei! Ek wil nie weet van oukei nie! Ek wil die detail hoor!” hou Pezulu aan. “Hoe het sy na jou gekyk? Was sy bly om jou te sien?”
Jock maak een oog oop. “Los dit net, oukei?”
Meteens vries Basil. “Wat’s dit?” fluister hy. “Daar’s iemand by Jim in die wa!” Jim het ook iets gehoor. Hy roer in sy slaap. Jock sit regop, nou wawyd wakker. Daar ís iets!
Jim is ook nou wakker en staan op om ondersoek in te stel. Ewe skielik tref iets hom volspoed van bo af. Hy beland met ’n harde plof op die vloer – en verpletter in die val amper vir Pezulu. Hy bly roerloos lê. ’n Bekommerde Pezulu fladder al om Jim se kop en roep sy naam oor en oor. Basil bewe. Van bo af hoor hulle George se haatlike stem.
“Goeienaand, Basil!”
Jock is reg vir hom; op en wakker en lus vir baklei. Maar George, bo-op die wa, het die voordeel van ekstra hoogte – en hy gebruik dit ten volle. Hy duik na Jock en tref hom vol in die bors met ’n stamp wat Jock laat val dat hy daar trek – heeltemal winduit. Dan draai George na Basil.
“Neem jy steeds bevele van die verkeerde ou?”
Jock probeer tussenbeide kom om George se aandag af to lei. “Hardloop, Basil! Hardloop!”
George strek sy arms uit, kry Jock om die nek beet en stamp sy kop hard teen die grond. “Ek behoort jou sommer nou bokveld toe te stuur!” skree hy in Jock se oor. George se gewig pen Jock heeltemal vas en hy bly roerloos lê.
Basil trippel rond van woede en vrees. “Hou op!” skree hy. “Hou op!” Naby die hoop voergras wat vir die osse gegee word as die veld te droog is, lê ’n tuinvurk – en met ’n skielike opwelling van dapperheid gryp Basil die vurk en mik dit dreigend na George se borskas. George lyk glad nie geïntimideer nie.
“Wat dink jy doen jy, Basil? Toe nou, Basil, doen dit, Basil!” Hy stoot sy bors uit, al of hy Basil tot aksie wil uitlok. “Dóén dit!”
Pezulu kies daardie oomblik om tot die stryd toe te tree en gooi homself soos ‘n woedende bondel vere teen George se kop. George steek net sy arm in die lug en smyt die hoenderhaan in die rigting van die wa, waar hy in ’n jammerlike bondeltjie neerval. Dan ruk hy die tuinvurk uit Basil se hande en gooi dit langs die wa, waar dit trillend in die grond insteek.
Jock is besig om sy asem – en sy veginstink – te herwin. Hy kyk op, en sien hoe ’n donker figuur bo hulle staan en die geveg belangstellend dophou. Seedling haal sy geweer oor en lê aan in Jock se rigting.
“Hou op met jou speletjies, George,” sê hy met verveling in sy stem. “Ons wil nie hê hy moet seerkry voor die geveg nie.”
Met ’n gekletter van die hondehok wat hy agter hom aansleep, strompel Claude die ligkring binne. Die twee mans en George kom al hoe nader aan Jock, gereed om hom vas te keer. Jock staan sy man, maar sy aandag word afgelei wanneer dit lyk of Jim begin bykom. Hy gaan staan tussen Seedling en Jim – maar dis te laat. Hy is vasgevang in die krat.
Jim is ’n vegter en ’n Zoeloekryger – en wanneer hy op sy voete kom en die situasie vinnig opsom, weet hy instinktief wat om te doen. Binne ’n oogwink is hy agter Seedling. Terwyl die twee mans stoei, staan Jock maar net hulpeloos en toekyk – tot Seedling hom uit Jim se greep loswoel.
“Groot fout!” sê hy afgemete. “Gróót fout!” Dan knik hy vir Claude en tel stadig sy sweep op.
Fitz loop deur die begraafplaas en fluit ’n deuntjie wat iemand onlangs op ’n klavier gespeel het. Daar’s ’n vrolike wip in sy stap en ’n vonkel in sy oë. Miskien begin dinge nou rooskleurig lyk vir hulle. Miskien gaan alles tóg uitwerk. En dan sien hy die dowwe gloed van ’n vuur voor hom. Vir ’n oomblik aarsel hy … en dan begin hy hardloop. Soos wat hy die top van die heuwel bereik sien hy waar die vuur vandaan kom … sy wa en alles daarin!
Sy eerste gedagte soos wat hy nader aan die vlamme hardloop, is aan Jim en Jock en die maltrap Pezulu en sy henne. Is hulle veilig?
Wanneer hy heeltemal uitasem by die smeulende wa aankom, gee dit hom effens moed as hy Jim ’n entjie verder sien sit, met Pezulu langs hom. In die lang gras naby die wa kekkel die henne.
“Jim!”
Jim kyk op en Fitz hurk by sy vriend. Hy is verskriklik – wreed – geslaan.
“Wie’t dit gedoen?” Maar Fitz weet wat die antwoord is nog voor Jim hom hoef te vertel. Jim sug moedeloos en hou sy kop in sy hande.
“Hulle het vir Jock gevat!”
Mnr. Morris begin gewoond raak aan die skielike gekom en gaan van mense in sy lewe. Dis daarom nie vir hom heeltemal ’n verrassing om later daardie aand vir Fitz voor sy deur te sien nie.
“Dink jy nie dis bietjie laat om – alweer – te kom kuier nie, jong man?” sê hy effens geïrriteerd en loer na Fitz oor die kers in sy hand.
“Jammer, Meneer, jammer. Maar hulle het vir Jock gevat – en my wa afgebrand!”
Die uitdrukking op Mnr. Morris se gesig verander oombliklik. “Kom in, ou seun, kom in.”
Jock ril wanneer die swaar hok in Crook’s Corner op die vloer gesmyt word. Hy’t gehoop om hierdie plek nooit weer te sien nie. George geniet elke sekonde.
“Nie juis van nut vir jou Fitzy gewees nie, was jy? Al wat jy moes doen, was om uit ons besigheid te bly. Stoute hond!” Daardie woorde klink skynbaar vir hom goed, want hy herhaal dit meer as een keer. “Stoute, stoute hond!” Hy lag vir sy eie grappie. “Stoute hond! Ek hou regtig daarvan!”
Hy draai om om weg te loop en sleep die arme Basil agter hom aan. “Moenie my môre in die steek laat nie! Ek soek ’n behoorlike geveg!”
Jock gaan lê met sy kop op sy pote. Alles het verkeerd geloop! Hy moes nooit hierheen gekom het nie. Hy moes na sy liewe Jess geluister het!
Al hierdie hartseer gedagtes word onderbreek deur ‘n geskarrel en gefluister teen die kant van die hok. Dis Julian! Rats karring die apie met die tou waarmee Jock se hok toegemaak is.
Jock kyk na waar Snarly lê, langs die wa wat voor die kroeg staan. “Kom weg!” sis hy vir Julian. “Kom weg! Dis gevaarlik!”
Maar Julian ignoreer hom en bly peuter aan die tou. “Kom weg! Ek’s net moeilikheid!” sê Jock desperaat.
Snarly gaan sit regop. Julian vries. Maar tot hulle verbasing, gee Snarly net ’n lang gaap en gaan lê dan weer.
“Julian! Dis nie die moeite werd nie! Ek’s regtig net moeilikheid!”
Maar die hok is reeds oop.
Terug in die kroeg word fluks besigheid gedoen. Seedling se plakkate is oral op en hy neem energiek weddenskappe vir die geveg. George lê langlyf oor die kroegtoonbank uitgestrek, asof hy almal wil laat sien hoe sterk en hoe kalm hy op die vooraand van die tweegeveg is. “Mense! Mense! Hierdie is die laaste kans. Môre moet ons vroeg begin. Is daar enige verdere weddenskappe op die Luiperdhapper?”
Basil bewe. Hy’s steeds met die tou vasgemaak, maar nou is die tou ook deur ‘n haak in een van die dakbalke geryg.
Net toe kom Snarly en Claude ingestap. Claude steek viervoet vas en bekyk die besige toneel voor hom. “Genugtig, Snarly, dit gaan ‘n fantasitese geveg wees!” Snary het juis daaraan gedink. Hy stem saam – so op ‘n manier.
Terwyl Claude vir hom ’n bier kry, kyk Snarly op. George bekyk hom uit die hoogte en Snarly hou nie van wat hy in George se oë sien nie. Hy gee ’n bang blaf. Vir ’n oomblik probeer hy dapper wees, maar dan vlug hy, vlegtend deur die woud van mense se bene tot hy uit die kroeg en weer buite in die vars lug is.