Veertien

Dis al sterk skemer toe sy en Charlie by die eksklusiewe groepie mense in ’n privaat opeluglokaal aansluit. Soos gewoonlik het Jon en sy filmspan geen koste ontsien nie en Danielle voel innerlik trots dat haar vaderland nie in enige opsig hoef terug te staan vir die beste wat sy weet Amerika kan bied nie. Kelners in vars geparste wit uniforms deel glase wyn uit wat sy weet van die omliggende wynlande afkomstig is. Sy ontvang hare met die grasie van iemand wat hierdie lewe ken en met gemak in hul sirkels beweeg.

Charlie se hand is om haar elmboog asof hy haar wil beskerm teen die starende oë en die skielike stilte wat om hulle neersak. Dit ontsenu haar egter nie soos sy gedink het dit sal nie en sy kan ’n breë glimlag om haar mondhoeke voel groei. Asof dit die teken was waarop hulle gewag het, is daar dadelik opgewonde uitroepe en byna onmiddellik is sy omring deur ’n klein skare mense.

“Danielle, kom jy terug Amerika toe?” vra iemand en nog ’n paar eggo die vraag.

Nog voordat sy kan antwoord, is Jon langs haar. “Hallo, Danielle.”

Sy stem laat haar vassteek en stadig draai sy na hom. In die hoëhakskoene is sy ’n goeie halwe kop langer as hy en dit laat haar glimlag. “Hallo, Jon,” laat sy eenvoudig hoor.

Hy sê dit nie in woorde nie, maar sy kan die bewondering in sy oë sien en ’n prikkie van genoegdoening steek in haar binneste.

“Ek is bly jy het gekom. Ek sou heeltemal verstaan het as Charlie jou nie kon ompraat nie. Ons is nie juis op goeie voet uitmekaar nie, nè.” Hy stel dit sagkens, maar sy kan die stille smeking in sy oë sien, gemeng met ’n goeie skoot selfverwyt.

“Ons was albei skuldig, Jon. Om verwyte rond te slinger gaan nie een van ons enigiets baat nie. En ja, jy is reg. Charlie het my omgepraat om te kom. Maar ek is nou bly hy het. Ek wil die verlede agter my laat en aangaan met my lewe.”

“Gaan jy terug Amerika toe?” wil hy ook weet.

Sy skud haar kop beslis. “Nee. Ek gaan hier bly. Iets vind vir my hande om te doen.”

“Daar sal altyd vir jou ’n plekkie wees as jy van plan sou verander.”

“Dankie, Jon, maar nee dankie. Ek is gelukkig hier.” Danielle glimlag toe sy besef sy bedoel elke woord. Sy het steeds geen idee wat sy met die res van haar lewe gaan aanvang nie, maar ten spyte van alles wat die laaste ruk gebeur het, voel sy weer werklik gelukkig en gemaklik in haar eie vel.

“Dit wys,” laat hy stil hoor en sy kyk skerper na hom.

Charlie was reg. Die laaste keer wat hulle so teenoor mekaar gestaan het, het dit vir haar gevoel of die lewe waaraan sy so hard gebou het, tot ’n einde gekom het. Sy was fisiek en emosioneel ’n wrak. Teen haar beterwete het sy heling en aanvaarding gesoek by ’n man wat haar nooit werklik liefgehad het nie.

Vanaand is die bordjies verhang. Sy voel weer haar ou self en sy weet dat sy nog nooit beter gelyk het nie. Hy lyk moeg, afgeleef. Die vuur en lewenslus wat altyd so helder in sy oë gebrand het en almal rondom hom begeester het, is weg. Nie eens sy grimeerkunstenaar se vernuf met die grimeerkwas kon vanaand die diep lyne om sy neus en mond verdoesel nie.

“Danielle, ek is jou ’n verskoning verskuldig. Hel, ek skuld jou meer as net dit, maar daar is geen manier hoe ek die verlede kan uitwis nie. Glo net asseblief as ek sê dit was nooit my bedoeling om jou so openlik seer te maak en te verneder soos ek het nie.”

Sy erkenning is so onverwags dat sy vir ’n lang ruk net woordeloos na hom kan staar.

“Jy lyk verbaas,” laat hy met ’n skewe glimlag hoor. “Ek wou al eerder dinge met jou uitpraat. Sal jy my glo as ek sê ek was bang om jou weer te sien? Ek het al soveel fasette van jou ervaar, Danielle. Liefde, seerkry. Woede. Jou liefde het ek nie waardeer nie en jou woede het ek verdien. Ek het net nie gedink jou seerkry sal my so diep raak nie.” Hy kyk oor haar kop na waar sy weet Tafelberg helder afgeëts lê teen ’n donkerblou hemelruim. “Ek het jou versaak toe jy my die nodigste gehad het en jy het alle rede om my te haat.”

Sy ontmoet sy oë, voel hoe die swaar gevoel wat sy so lank al met haar saamdra van haar wegval. Daar is ’n diep vrede waar daar vir lank net pyn en seerkry was.

“Ek haat jou nie, Jon. Miskien het ek, vir ’n wyle. Maar dit behoort aan ’n verlede wat verby is. As dit vergiffenis is wat jy van my verlang, gee ek dit vir jou sonder enige voorbehoud.”

“Jy bedoel dit?” Sy gesig helder op en sy hande vou om haar boarms. “Ek het gehoop jy sal tot jou sinne kom. My ’n tweede kans gee.”

“Ek het tot my sinne gekom, Jon. Dit het my lank geneem, maar wat ons gedeel het, is nou verby. Ek is terug waar ek hoort en niks gaan dit verander nie.”

Hy is vir ’n lang oomblik stil en sy kan aan die uitdrukking op sy gesig sien dat haar reaksie nie die een is waarop hy gehoop het nie. “Danielle, ek het gedink ...”

Eckhard was reg. Sy is van sterker stoffasie gemaak as waarvoor sy haarself krediet gegee het. Sý beeld is voor haar en sy trek haar skouers reguit, lig haar kop.

“Ek weet wat jy gehoop het, maar jy is verkeerd. Vergiffenis is al wat ek jou ooit kan gee. Ons paaie skei vanaand, Jon. Vir goed.”

Weer bly hy lank stil, asof sy met haar reguit verklaring al sy goed gekose woorde en voorbereide sinne deurmekaar kom krap het.

“Jy bedoel dit.” Daar is verbasing in sy stem en Danielle kan nie help om te glimlag nie. Sy was altyd so gewillig om aan elke versoek van hom te voldoen. Het haar willoos laat rondsleep en hom toegelaat om besluite namens haar te neem asof sy werklik die semelpop was waarvoor hy haar soms uitgekryt het.

“Elke woord.”

Daar bly niks meer oor om te sê nie, maar hy keer haar toe sy omdraai om weg te stap. “Kan ons ten minste as vriende uitmekaar gaan?”

Danielle laat haar sy omhelsing welgeval en sluit haar oë toe sy arms om hare vou. Was daar werklik ’n tyd toe sy gedink het Jon is die begin en die einde van haar bestaan? Of het sy net meesterlik daarin geslaag om Eckhard se beeld so ver op die agtergrond te skuif dat niks anders meer saak gemaak het nie? Sy kan voel hoe sy lippe vir ’n stonde teen haar voorkop rus voor hy haar sag wegstoot.

“Ek het gehoop vir meer, maar ek verstaan, Danielle. Ek wens jou net voorspoed toe. En as jy ooit van plan verander, weet jy waar om my te kry.”

Sy knik net en draai weg van hom af, haar oë soekend na Charlie.

Asof hy maar die hele tyd in die agtergrond gewag het, is hy dadelik langs haar. “Dit was ongelooflik. Jy het vanaand die rol van jou lewe gespeel.”

“Dit was nie nodig om voor te gee nie, Charlie. Ek het elke woord bedoel.”

Met ’n diep sug neem hy haar hande in syne. “Dis waarvoor ek bang was. Is jy seker ek kan jou nie oorreed om die hoofrol in ons nuwe rolprent te speel nie? Dis nog nie te laat om ’n ongelukkie te reël vir die huidige hoofkarakter nie.”

Sy glimlag op na hom. “Skaam jou. En ja, ek is seker. Neem my huis toe, Charlie. Dis al waar ek nou wil wees.”

Ten spyte van die laat naguur brand die lig by die ingangsportaal nog helder toe Charlie haar ’n uur later tot by die voordeur vergesel.

“Ons is nog hier vir die volgende week of so. As jy van plan verander, weet jy waar om my te kry.”

Sy knik net en plant ’n soen op sy wang. Hy rek die afskeid nie onnodig lank uit nie, en Danielle is bly toe sy eindelik die voordeur agter haar toedruk. Vir ’n wyle bly sy net so staan, laat die stilte van die huis soos balsem oor haar spoel. Sy is tuis. In meer as een opsig het sy vanaand tuis gekom.

’n Halwe koppie met koffie staan onaangeraak op die kombuistafel toe sy instap en sy hoef nie daaraan te raak om te weet dat die inhoud al lankal koud geword het nie. Haar gedagtes glip onwillekeurig na die man wat sy weet hier gesit het. Dalk het hy vir haar gewag, dalk is hy weer uitgeroep na ’n noodgeval. Sal Elle verstaan dat sy pasiënte altyd eerste gaan kom voor haar? Sal sy hom liefhê ten spyte van sy verpligtinge teenoor vreemdelinge en die hoë etiese kode waarmee hy leef?

Dis die sagte voetval agter haar wat haar laat omswaai. Sy ontmoet sy donker kykers maar geeneen van hulle uiter ’n woord nie. Hy moes pas gestort het. Sy hare is nog nat en die vars, manlike reuk van skeerroom kleef aan hom. Hy is geklee in net ’n verbleikte denim en Danielle kyk oral behalwe na die uitnodigende breedheid van sy borskas.

Met afgemete presisie gly sy oë oor elke sentimeter van haar, asof hy haar beeld in sy geheue wil inbrand om dit later weer in detail te herroep. Dit was nog nooit maklik om Eckhard te lees nie, maar wat hy op hierdie oomblik voel of dink, kan sy maar net raai. Dis net die verdonkering van sy bruin oë wat verklap dat hy haar nie so ongeneë is as wat hy probeer voorgee nie.

Daar is ’n steekpyn in haar binneste. Sy het hom liewer as haar eie lewe. Haar herontmoeting met Jon vanaand en die glimp van haar ou lewe het dit net weer opnuut kom bevestig. Dit was alles bloot ’n tussenfase. ’n Selfsugtige gejaag na wind wat haar leeg en soekend gelaat het. Hier wil sy wees. Hier by hom. Al is dit onherroeplik te laat, kan sy die hunkering van haar hart nie langer ontken nie.

“Eckhard,” begin sy, die woorde al reg op haar lippe.

Hy val haar egter beslis in die rede, sy stem sag, maar baie ferm. “Danielle, Elle het ’n plek gekry waarvan sy hou. Ons gaan môreoggend gou die dokumente teken en dan behoort jy voor die einde van die maand weer die huis vir jouself te hê. Ek wou jou self laat weet voor sy my weer voorspring.”

Elle het ’n plek gekry waarvan sy hou. Danielle keer die snorkgeluidjie wat in haar keel opstoot net betyds. Miskien was Bets tog reg. Eckhard laat hom willoos voortsleep en stem in met alles wat Elle wil hê en waarvan Elle hou. En as hy gelukkig is met die verloop van sake, lyk dit waaragtig nie so nie. Daar is ’n tamheid op sy gesig en ’n waaksaamheid in sy oë wat sy nog nooit tevore daar gesien het nie.

“Jy het tot laat vir my gewag net om dit vir my te sê?”

’n Skewe glimlag plooi om sy mondhoeke, verlig vir ’n oomblik die stramheid wat daar lê. “Ja en nee. Jy het ’n vroeë afspraak by die neuroloog môreoggend en ek wou net seker maak jy gaan nie kleinkoppie trek nie.”

“Ek sal nie kleinkoppie trek nie. Kom jy saam met my?”

“Ek weet nie. Wil jy my daar hê?”

“Dis jy wat my die laaste ruk vermy, Eckhard. Nie andersom nie.” Dalk betrap haar blatante eerlikheid hom onverhoeds.

Hy glimlag egter net weer. “Neem jy my kwalik?”

“Wat bedoel jy daarmee?”

Hy tree tot voor haar. “Ek kan nie langer hier bly nie, Danielle. Nie alleen onder een dak saam met jou nie.”

Die uitdrukking in sy oë en op sy gesig is steeds onpeilbaar, maar Danielle kan dadelik ’n diep onderstroming van spanning aanvoel.

“Regtig? Het ek dit vir jou so onplesierig gemaak?” wil sy ergerlik weet. “Of is dit nog iets waarvan Elle nie hou nie?

Dit lyk asof hy iets wil sê en hom dan bedwing. Hy draai om en begin wegstap, maar Danielle het skielik genoeg gehad.

Sy loop voor hom in, dwing hom stilstand. “Gaan dit van nou af net wees wat Elle wil hê, Eckhard? Wat van jou? Wat wil jy hê?”

“Dis laat, Danielle. Ek gaan nie hierdie gesprek met jou hê nie. Nie hier nie, nie nou nie.”

“In daardie geval moes jy nie spesiaal wakker gebly het om my te sien nie.”

Vir ’n lang oomblik gluur hulle mekaar aan, nie een gewillig om aan die ander toe te gee nie. Danielle vou haar arms en lig haar ken. Hierdie stryd is een wat sy nie gewonne gaan gee nie.

Hy sug diep en doen dieselfde. “Was jy nog altyd so verduiwels hardkoppig?”

“Ek het geleer by die beste. Wat het geword van al daardie ‘dis tyd vir ’n paar reguit vrae en antwoorde’ waarmee jy my alewig bombardeer?”

“Daar is ’n tyd en ’n plek vir alles.”

Sy kyk na hom terwyl hy die woorde uiter en skud haar kop. “Net as die tyd en plek jou pas, Eckhard.”

Hy gaan haar nie teë soos sy verwag het nie en die ergernis verlaat haar so vinnig soos dit in haar opgestoot het. Sy is moeg vir baklei. Dis al wat hulle doen vandat sy hier aangekom het. Eckhard het sy keuse gemaak en sy gaan dit respekteer, al is dit ook die laaste ding op aarde wat sy doen. Sy gee ’n tree nader aan hom, hou haar hande afwerend voor haar.

“Kan jy Elle ten minste probeer oorreed om ’n bietjie te wag met die teken van die dokumente vir die nuwe huis?”

Sy wenkbroue skiet op. “Om watter rede?”

“Ek wil hierdie een vir julle gee as ’n trougeskenk. Dis nou te sê as dit Elle gaan geval,” kan Danielle nie help om bytend by te voeg nie.

Hy is so lank stil dat sy die naggeluide buite kan hoor.

“Dit was veronderstel om ’n verrassing te wees.”

Nog steeds sê hy nie ’n woord nie.

Danielle kug ongemaklik. “Sê tog iets.”

“Wat van jou?” is al wat hy met ’n skor stem uitkry.

Sy glimlag skeef. Sy het nog nie sover gedink nie. Teruggaan Amerika toe is nie ’n opsie nie, maar hier kan en wil sy ook nie bly nie.

“Ek weet nog nie. Ek het gedink ek wil deur die land toer, al die dorpies besoek waar ek nog nooit was nie. Dalk vind ek iewers ’n holte vir my voet en ’n hawe vir my hart.” Sy haal haar skouers ongeërg op en glimlag breed vir hom. “Wie weet?”

“Jy gaan nie terug nie?”

Die nuanse in sy stem verklap alles wat hy nie in woorde vra nie. Terug na haar ou lewe, terug na Jon.

“Nee. Soos ek vir Charlie ook gesê het, ek is nou weer Danielle. Net Danielle van Melkbosstrand.” Sy luister na haar eie woorde, korrigeer dit dadelik: “Of waar ook al. Dalk bly ek nie eens hier nie.”

“Ek ... ons kan dit nie aanvaar nie, Danielle. Dis ’n te groot geskenk. Hierdie huis is joune. Dis jou erfenis. Ek gaan dit nie van jou wegneem nie.”

“Ja, dis myne. Myne om weg te gee sou ek so voel. Jou praktyk is hier. Die huis is reg langsaan. Is dit nie wat jy van die begin af wou gehad het nie?”

“Dit gaan nie om wat ek wil hê nie.”

“Nee,” kap sy terug, “dit gaan net om wat Elle wil hê.”

“Ek praat nie nou van Elle nie.” Hy sug diep en vee oor sy oë met ’n tam gebaartjie. “Ek hou van die huis. Dit was vir ’n baie lang tyd die enigste een wat ek geken het. En ja, dis prakties reg langs my praktyk geleë. Maar dis al wat dit is, Danielle. Hierdie huis sal nie dieselfde wees sonder jou nie. Dit was vir tien jaar nie dieselfde sonder jou nie. En ek wil nie langer daarteen baklei nie.”

Dis haar beurt om net stil na hom te staar en sy doen dit met al die verwarring wat sy in haar binneste voel. “Ek verstaan nie.”

Hy is met een lang tree voor haar en sy hande skiet uit, vou met bedekte krag om haar boarms. “Nee, jy sal nie. Jy het nog nooit nie.”

Sy lê haar hande teen sy bors, voel die hitte van sy vel en sluk deur ’n droë keel. “Verduidelik dit dan aan my, asseblief.”

Vir ’n oomblik kan sy die tweespalt in sy oë sien. Sy hande vou om hare, maar hy stoot haar nie weg soos sy verwag het nie. As antwoord trek hy haar vas teen hom. Daar is ’n dringendheid in die hande wat om haar agterkop sprei, haar gesig na hom oplig. Sy oë brand in hare met ’n gloed wat beide hard en baie sag is.

“Ek het probeer,” laat hy skor hoor. “Ek het van jou af probeer wegbly, probeer onthou dat jy my nog net hoofbrekens en hartseer aangedoen het.” Sy kop sak laer en sy mond roer teen hare. “Maar al waaraan ek kan dink, is hoe jy steeds ná al die jare perfek in my arms pas. Asof jy maar altyd daar gehoort het.”

Sy verloor haar stem in die skielike droogheid van haar keel. Haar mond gaan asof vanself oop, maar nog voor sy ’n woord kan uitkry, eis hy haar lippe op met syne. Die effek op haar sinne is onmiddellik en al die besware wat al reg gelê het op haar tong, verdamp in die niet. Danielle reageer instinktief. Die mond oor hare is soos ’n oase in ’n dorsland en soos ’n dorstige vra sy na meer. Baie meer.

Sy stribbel nie teë toe hy haar in sy arms optel en na sy slaapkamer dra nie. Maanlig stroom deur die vensters, baai die hele vertrek in ’n magiese gloed van silwer. Sy was nog nie weer in hierdie vertrek vandat Eckhard sy intrek hier geneem het nie en vir ’n oomblik voel dit of sy op meer as een terrein oortree.

Vir ’n lang ruk hou hy haar net so teen hom vas sonder om te beweeg, sy gesig in haar nek en sy asem warm op haar vel. Asof hy haar kans gee om tot besinning te kom, van besluit te verander. Sy wil hom vra wat nou? Wat van Elle? Sy wil hom vasgryp en vertel dat sy nog nooit opgehou het om hom lief te hê nie, maar haar tong voel dik en swaar in haar mond, droog van afwagting om weer syne daarteen te voel.

“Eckhard ...” Sy naam is net ’n fluistering op haar lippe, maar al die jare se hunkering na hom is in daardie een woord opgesluit. En hy hoor dit. Weer sluit sy mond oor hare en as antwoord kelk haar lippe ontvanklik oop onder die aanslag van syne. Dis ’n diep, soekende soen wat haar asem wegslaan en haar aan hom laat vasklou soos ’n drenkeling.

Dis verkeerd, maan haar verstand. Eckhard behoort aan Elle, tree eersdaags met haar in die huwelik. Sy behoort hom weg te stoot, haar nie so skaamteloos aan sy liefkosings oor te gee nie.

“Eckhard,” probeer Danielle weer, maar hy snoer haar lippe met syne, kreun teen haar oop mond. Die laaste greintjie wilskrag verlaat haar die oomblik toe hy die ritssluiter van haar rok aftrek en dit tesame met die laaste klein kledingstuk tydsaam van haar liggaam stroop tot sy nakend voor hom staan.

Dis te donker om die uitdrukking op sy gesig te sien, maar sy kan die hartstog in sy vingerpunte voel wat byna eerbiedig en met oneindige teerheid oor die rondings van haar liggaam gly. Dis te laat om die vloedgolf van emosie te keer, te laat om te besin oor die wysheid van haar optrede.

“Ek kan nie meer baklei nie,” laat hy sag teen haar oor hoor; sy stem diep en skor. “Ek is moeg gewroeg.”

As antwoord bied sy hom weer haar mond aan, oop en ontvanklik. Hulle bestaan net vir mekaar, net vir nou. Sy mond volg die pad van sy hande en met ’n diep kreun vergeet Danielle van alles om haar behalwe die hitte van haar liggaam wat haar wil verswelg, wat uitroep om die vervulling wat net sy liggaam haar kan bied.

Eckhard se arms span weer om haar, lig haar met gemak op en lê haar op die bed neer, trek haar so styf teen hom vas dat sy elke sentimeter van sy harde manlikheid teen haar naakte vel kan voel.

Daar is geen terughouding meer nie. Sy ken die kontoere van die liggaam wat hare in besit neem, die soet beloftes van sy mond en hande wat vanaand soveel meer gee as waarvoor sy vra. In volkome oorgawe ontvang sy sy gewig, volg sy elke beweging van sy lyf in ’n vloeiende ritme waar niks en niemand anders bestaan nie.

Sy word een aand saam met hom gegun en dis meer as waarop sy gehoop het. Môre sal sy weer nugter dink en besluit wat haar te doen staan. Maar vanaand lê sy langs die man wat sy liefhet en vir eers is dit genoeg.