Die sonnige weer van die laaste paar weke het plek gemaak vir ’n onverwagte daling in temperatuur en aansienlik koeler dae. Dis nog vroegoggend en Melkbosstrand is byna verlate. Danielle is net een van ’n paar dapperes wat dit vanoggend buite gewaag het en sy is nog ver van die huis toe ’n ligte motreëntjie uitsak.
Ongeërg gooi sy haar sweetpakbaadjie se kappie oor haar kop en druk haar hande diep in die sakke. Die huis was eenvoudig vanoggend te stil na haar sin en sy moes net uit. Bets se dae is nou weer vol met dié dat sy Eckhard uithelp in die spreekkamer en Eckhard ... Sy kan die diep suggie wat in haar opstoot en oor haar lippe val nie keer nie. Hulle kon beide daarin slaag om mekaar die afgelope week suksesvol te vermy.
Byna elke aand brand sy kantoorlig nog tot laat en meer as een keer was sy al op die punt om hom trompop te loop en dinge uit te praat, net om die gedagte dan weer te laat vaar. Dis beter so. Sy het teruggekom huis toe om hier alleen en in vrede haar wonde te kom lek. Eckhard maak nie deel uit van haar toekomsplanne nie. Hul liefde vir mekaar het lankal uitgewoed en is verby. Dis hoe dit moet bly.
Daar is al ’n plaat motors voor die huis en spreekkamer, en Danielle frons liggies. Sover sy weet, begin Eckhard se spreekure eers negeuur en dit was net ná sewe toe sy by die huis uit is. Sy het ver geloop, maar dit kan onmoontlik nie al só laat wees nie. Nog ’n motor het stilgehou en ’n man klim uit.
Danielle versteen in haar spore toe sy die kamera in sy hand sien en vir ’n oomblik voel sy na omdraai en weghardloop. Dis onmoontlik. Sy was so versigtig.
“Gou, klim in.”
Sy word eers bewus van die viertrek wat langs haar stilgehou het toe Eckhard oorleun en vir haar die deur oophou. Sy gehoorsaam sonder teëstribbeling en hy trek vinnig weg. Danielle sak laer in haar sitplek toe hulle verby die huis ry, maar ’n vinnige blik in die truspieëltjie verseker haar dat nie een van die fotograwe hulle gesien het nie.
“Jy kan nou maar regop sit. Ek twyfel of enigeen jou herken het in daardie nat sweetpak. My trui is op die agterste sitplek. Trek dit asseblief aan voor jy siek word. Ek is besig genoeg sonder om nog die internasionale filmster ook te behandel.”
“Jy is nie snaaks nie.” Danielle gluur na hom en Eckhard grynslag humorloos.
“Daardie sirkus buite my spreekkamer ook nie. Oor ’n bietjie meer as ’n uur sien ek my eerste pasiënte.”
“As jy vir my gaan wag om verskoning te vra vir daardie sirkus, gaan jy lank wag. Ek het niks daarmee te doen nie.”
“Gee my effens meer krediet as dit, Danielle. Ek het nie gedink jy sal, ná jy vir ’n maand soos ’n kluisenaar gelewe het, skielik uit die bloute ’n onderhoud aan persfotograwe toestaan nie. En trek aan die trui. Jy sit en bibber van die koue.”
Sy antwoord hom nie en maak ook geen aanstaltes om sy kortaf bevel te gehoorsaam nie. Haar gedagtes is by die fotograwe. Een goeie ding van haar halsoorkop reëlings met die vlug hierheen is dat haar vertrek en aankoms ongesiens verbygeglip het. Of so het sy gehoop. En Eckhard is reg. Sy het die laaste maand soos ’n kluisenaar gelewe, en dis nie net omdat sy nie meer in die kollig wil wees nie.
Danielle loer onderlangs na hom. Sy het nou al op ’n manier gewoond geraak aan die nuwe, stroewe Eckhard. Die breë glimlag wat nooit ver was nie is weg, en daar is ’n byna permanente frons tussen sy wenkbroue as hy vir haar kyk of met haar praat. Sy sug diep en vou haar arms saam, kyk nikssiende na die reën wat nou in vlae om hulle uitsak. Dalk het sy te oorhaastig besluit om hier te bly. Maar Eckhard was nooit deel van haar planne nie. Nie toe nie en nou nog minder. Hy is net nog ’n wrede kinkel wat die lewe op haar pad gegooi het.
Sy kom eers agter dat Eckhard die motor tot stilstand gebring het toe hy in sy sitplek na haar draai en terselfdertyd rek om sy trui op die agterste sitplek op te tel.
“Trek uit daardie nat baadjie.”
“Was jy regtig nog altyd so baasspelerig of kan ek dit net nie onthou nie?” kap sy teë, maar laat tog toe dat hy die nat kledingstuk van haar afstroop. Sy hande raak verstrengel in haar hare en hy verstil teen haar.
“Verduiwels, Danielle.” Sy hande vou om haar gesig, lig dit op na hom. “Dinge sou soveel minder gekompliseerd gewees het as jy eerder gebly het waar jy was.”
“Ja, ek weet. Dis wat ek myself ook vertel. Elke dag.” Haar oë pleit in syne. “Ek verwag nie van jou om my redes te probeer verstaan nie. Ek het teruggekom na die enigste ware huis wat ek ooit geken het. Moenie dit ook van my wegneem nie.”
Die harde blik in sy oë versag momenteel en ’n einaklein glimlaggie gaan lê om sy mondhoeke.
“Ek verstaan beter as wat jy dink, maar jy kan nie vir die res van jou lewe op ’n hopie lê en wegkruip nie.”
“Ek kruip nie weg nie,” stry sy teen haar beterwete.
“Ek ken jou langer as gister, Danielle. Komaan, jy is van sterk stoffasie gemaak. Waar is daai tierwyfie wat ek lank gelede geken het en wat het jy met haar gemaak?”
“Sy is moeg vir baklei en voorgee, Eckhard,” kom die sagte fluistering en vir ’n oomblik wil sy haar oorgee aan die versugting om hom in haar vertroue te neem en alles te vertel wat daagliks dreig om haar te oorweldig. Maar die woorde wat al reg lê op haar lippe verdamp in die skielike droogheid van haar mond toe hy haar kop teen sy bors vasdruk. Al waarvan sy bewus is, is die sagte streling van sy vingers teen haar gesig. Is dit werklik moontlik dat Eckhard nog steeds hierdie verlammende uitwerking op haar sinne het?
Dis die skril lui van sy selfoon wat hul albei na die hede terugruk. Dit voel vir Danielle of sy van ’n groot hoogte aftuimel aarde toe, maar teen die tyd dat hy die foon uit sy sak opgediep het en terugdraai na haar, is haar polsslag weer onder beheer en haar gesig reguit.
“Ek moet gaan,” laat hy sag hoor en sy knik net, onmagtig om te antwoord. “Danielle,” begin hy toe sy niks sê nie, maar dan is dit asof hy hom bedink. “Ek sal jou by Bets gaan aflaai en jou laat weet of die spul fotograwe al weg is. So nie, moet jy maar vir ’n rukkie daar bly.”
Sy het ook skielik tot ’n besluit gekom en skud haar kop beslis.
“Dankie, maar dit sal nie nodig wees nie. En jy is reg. Ek kan seker nie vir die res van my lewe op ’n hopie lê en wegkruip nie. Hoe gouer ek hulle die inligting gee wat hulle verlang, hoe beter. Dan sal hulle my miskien vir ’n rukkie uitlos.”
Hy kyk vlugtig na haar. “Is jy seker?”
Sy knik net en trek gehoorsaam die trui aan wat hy oomblikke later in haar hande druk.
“Mooi foto van jou,” laat Bets die volgende middag hoor en stoot die oop koerant tot voor Danielle waar sy by die eetkamertafel sit. “Eckhard sê ook daardie trui het nog nooit so goed aan hom gelyk nie.”
“Ek het gehoop ek haal nie die koerant nie,” laat sy stil hoor en probeer vergeefs sy beeld uit haar gedagtes weer. Danielle kry lag vir haarself. Sy het die heeldag in sy trui rondgeloop net omdat dit na hom ruik en gisteraand net so in die bed ook geklim. Sy het inderdaad pateties geword.
“Wishful thinking,” laat Bets laggend hoor, gooi koffiepoeier in ’n koppie en skakel die ketel aan. “Ek het gehoop jy het al iets gemaak om te eet. Ná hierdie deurmekaar dag is ek regtig nie lus om nou terug te gaan huis toe en te gaan kos maak nie. Almal weet teen die tyd dat ’n bekende filmster hier woonagtig is. Ek dink Eckhard het nog ’n string pasiënte bygekry waarop hy nie gereken het nie.”
Danielle stoot die koerant weg sonder om daarna te kyk. Sy het so oortuigend moontlik verduidelik dat sy tydelik ’n breek neem van haar besige loopbaan en dit graag in privaatheid wil doen by die ouerhuis waar sy grootgeword het. Die meer persoonlike vrae het sy so sjarmant moontlik beantwoord en geglimlag tot dit gevoel het asof haar mondhoeke wou skeur. Sy het gehoop haar verbintenis met Eckhard en Bets word agterweë gelaat. Die laaste ding wat enigeen van hulle nou nodig het, is nog ongevraagde publisiteit.
“Jy weet ek is ’n treurige kok. Maar ek kan vir ons pizza bestel.”
“Dis ’n idee. Goed, maar bestel sommer vir Eckhard ook. Ek sal hom gou laat weet om sommer hier te kom eet. Hy is nog in die spreekkamer besig met ’n laaste pasiënt en hy het net vanoggend gekla dat die heen-en-weer-ryery hom begin onderkry. Hy gaan seker eers weer baie laat by die huis kom.”
“Waar bly hy?” vra Danielle en voel dadelik skuldig. Sy weet so baie en tog so bitter min van Eckhard. Maar dis soos hy tereg gesê het: Die meeste van hul gesprekke eindig meestal in ’n argument. Daar was net regtig nog geen geleentheid om hom uit te vra na sy lewe van die afgelope tien jaar nie.
“In ’n meenthuis op Muizenberg. Dolf het aangebied dat hy sommer sy intrek hier neem, maar dis toe hy nog die ander spreekkamer ook gehad het en dit was in daardie stadium net nie moontlik nie.”
“Waarom het hy my nie gevra nie? Dis net ek in hierdie kasarm van ’n huis en daar is meer as genoeg kamers en ruimte vir beide van ons.” Eers toe die woorde uit is, besef Danielle wat sy gesê het, maar dis te laat om haar aanbod terug te trek.
Bets glimlag breed. “Ek het hom al lankal gesê om jou te vra, maar jy weet hoe trots en hardkoppig hy kan wees. Dis baie groothartig van jou, Danielle.”
En dom, voeg sy in haar gedagtes by en vermy Bets se blik. Hy is verloof. Sy mag dit nooit vergeet nie.
“Hy was hier vir Pappa toe ek nie was nie. Dis die minste wat ek in ruil kan doen.”
Danielle bestel die pizzas en teen die tyd dat die deurklokkie lui, stap Eckhard ook binne. Sy kan die moegheid in hom aanvoel en dit sien aan die diep lyne op sy gesig. Dieselfde gevoel wat sy gisteroggend in sy arms beleef het, ruk met soveel intensiteit in haar op dat dit haar byna kortasem laat. Hy was vir so ’n groot deel van haar lewe die stut en die spil waarom alles gedraai het.
Waarom het dit haar so lank geneem om te besef haar gevoel vir hom het nooit doodgegaan nie? Dat dit net stil in ’n kamer van haar hart gelê en sluimer het? Sy het hom steeds diep en innig lief. Sy moes gek gewees het om hom te laat gaan. Stapelgek.
“Goeie tydsberekening,” laat sy hoor en druk hom op die naaste stoel neer, haastig om onder sy ondersoekende blik uit te kom. “Ek kry gou vir ons borde.”
“Danielle.” Hy vang haar hand in syne en trek haar tot voor hom. “Sit eers. Ek wil met jou praat.”
“Dis nie nodig nie,” val sy hom vinnig in die rede. “Bets het reeds namens jou gevra en ek het haar gesê dis heeltemal in orde. Eintlik moes ek al lankal self daaraan gedink het dat jy sommer jou intrek hier kan neem,” babbel Danielle voort en kyk oral behalwe na die oë voor haar.
Hy bly lank stil, glimlag dan stadig. “Is jy seker dit sal jou pas? Dis net tydelik. My meenthuis is al ’n wyle in die mark en die agent het my vandag laat weet dat daar ’n koper is wat ’n aanbod gemaak het. Sodra ek hier rond ’n blyplek kry, is die huis weer joune.”
Dis haar beurt om stil te bly. Hy wou hierdie huis koop. Dit sou ideaal gewees het vir hom om hier te bly en sy spreekkamer in die kliniek langsaan te hê soos hy aanvanklik beoog het. Sy het weer eens Eckhard se goed geordende planne in die wiele gery. Hopelik is dit dié keer die laaste maal. Hy verdien soveel beter as wat sy hom ooit kan bied. Dis ’n pynlike gedagte en sy trek haar hand uit syne.
“Ek sou nie aangebied het as dit my nie gepas het nie. Jy moet eerder vra wat Elle van jou reëlings gaan dink.”
’n Fronsie keep sy wenkbroue. “Sy sal verstaan. Tensy jy haar ook ’n kamer wil aanbied?”
Danielle byt net betyds ’n warm antwoord terug en die vonkel in sy oë verklap dat hy dit gesien het.
“Kom ons eet, julle is seker dood van die honger.”
“En jy is nie? Het jy vandag enigiets geëet? Die wind kan jou al omwaai,” gooi Bets ook ’n stuiwer in die armbeurs en snuif behaaglik toe sy die kartonne met die stoomwarm pizzas oopmaak. “Maggies, maar my mond water sommer.”
Dit voel vreemd om weer om die eetkamertafel plaas te neem, omring deur die mense wat vir so lank so ’n belangrike deel van haar lewe uitgemaak het. Bets neem haar hand vir die tafelgebed en ná ’n kort oomblik van weifeling neem sy ook die hand wat Eckhard na haar uitsteek. Sy luister meer na sy stem as die gebed wat sy so goed kan onthou, en die klein, seer kolletjie in haar binneste word ’n byna fisieke pyn.
Geeneen van hulle het verander nie. Dit was sy wat in haar onvolwasse jeugdigheid ’n leefstyl nagejaag het wat nie een van hulle se goedkeuring en seën weggedra het nie. Haar beloning was rykdom en roem wat haar op die lang duur geen vreugde of vrede gegee het nie. Sy het te laat besef dit was alles net ’n gejaag na wind. En in die proses het sy alles van waarde verloor: haar pa, Bets se onvoorwaardelike vriendskap, die weergalose liefde van ’n man soos Eckhard.