Agt

Heléne staan voor haar kamervenster. Die voëls in die groot doringboom voor haar venster baljaar omtrént vanoggend. Sy het die afgelope week hard probeer om nie aan môre te dink nie, maar vanoggend toe sy haar oë oopmaak, was die besef weer helder voor haar. Môre sou haar troudag gewees het. In haar huis hang die mooiste rok wat sy kon vind en die paar skoene wat sy daarby wou dra, het sy maande gelede reeds gekoop. Alles was haarfyn beplan. Sy was so seker alles gaan reg verloop. Ongelukkig het sy net nie al die veranderlikes in ag geneem nie.

Daar is ’n kloppie aan haar deur. Dit kan net haar ouma wees wat kom kyk of sy al op is. Sonder om om te draai roep sy: “Binne!”

“Wat se bog is dit dié? Ek wag al ’n halfuur vir jou en jy staan nog in jou pajamas.” David fluit saggies. “Nie dat ek omgee nie, hoor. Pragtige goedjies waarin jy slaap.”

“David, wat doen jy in my kamer!” Heléne gryp vervaard na die kamerjas op die stoel en hou dit voor haar. Dis die een ding waarvan sy hou – sagte, vroulike en verleidelike nag- en onderklere. En die nagrokkie voldoen aan al daardie vereistes. Sy oorweeg dit om haar kamerjapon aan te trek, maar dit laat ook nie veel aan die verbeelding oor nie. “En jy jok, dis nog nie negeuur nie. Skaars seweuur.”

“Ek dag net ek kom waarsku jou. Ons gaan visvang, so trek iets gemaklik aan. Smeer jou goed in met sonbrandmiddel en bring ’n hoed saam.”

“Wie sê ek wil gaan visvang?” David se oë gaan vir ’n tweede keer na haar kaal kuite. Het die man nie skaamte nie? “Uit nou eers, ons kan dit bespreek as ek klere aanhet.”

“Ek is bly jy noem nie daardie stukkies lap klere nie. Dis net duskant vyeblare. Ek wonder wat Adam daarvan sou gedink het.”

Sy weet hy terg net en dat dit onskuldig is, maar iets in haar reageer op die warm blik in sy oë. Sy voel gevlei deur sy bewondering. Nee, sy voel warm en aangetrokke tot hom. Sy kyk rond vir iets om hom mee te gooi, maar al wat sy sien, is haar pantoffels. Sy gryp een en dit tref die kosyn net bokant sy kop. Die tweede pantoffel tref die deur wat hy vinnig agter hom toetrek.

“Maak gou, Heléne, die viswaters wag vir jou. En jy weet ek aanvaar nie nee vir ’n antwoord nie.”

Sy hoor sy diep aantreklike lag toe hy wegstap. Onwillekeurig glimlag sy ook. Die dag lyk skielik nie meer so grou nie en sy pluk haar klerekas oop. Met die enigste kortbroek wat sy ingepak het aan haar sitvlak, ’n pienk moulose toppie en haar ouma se tekkies aan haar voete kam sy haar hare. Sy lyk anders, meer soos ’n plaasdogter, som sy die meisie in die spieël op. Dis nie net te danke aan haar kleredrag nie, dis haar houding ook. Sy lyk meer ontspanne. Nou moet sy net besluit of dit ’n goeie of ’n slegte ding is, want sy is nie van plan om gou haar kort rompe en hoëhakskoene weg te pak nie. Sy haal ’n rekkie uit die laai, maar verander vinnig van plan. David kan wag. Sy skakel die krultang aan en ’n halfuur later hang haar hare los en krullerig teen haar rug. Met helder pienk lipstiffie aan haar lippe voel sy meer gereed vir die onverwagse visvang-uitstappie.

“Iets verkeerd, David?” vra sy toe sy die kombuis binnestap en sy oë rek.

“Nee, niks is verkeerd nie, maar … jy weet dis net ons twee wat gaan visvang. Daar is nie ’n Hano of ’n Hannes om te beïndruk nie?”

“David, as ek reg onthou, het ek jou daardie eerste dag al gewaarsku. Dis hoe ek elke dag lyk. Net omdat ek op ’n plaas kuier, beteken dit nie ek moet soos Het van Verlangekraal lyk nie. Leef daarmee saam of los dit.”

“Wie is Het van Verlangekraal?”

“’n Ou klassieke Afrikaanse reeks wat ek op kykNET gekyk het. Die hoofkarakter was vreeslik vaal en … ag, wat help dit ek verduidelik? Jy het tog geen sin vir kultuur nie.”

“Oukei, dis nie nodig om my kop af te byt nie. Eet jou ontbyt. Ek gaan kyk waar jou oupa is.”

David loop by die agterdeur uit, maar sy kan sweer hy het iets gemompel van onnodige temptasie en ’n man is net ’n man. Sy glimlag en besluit dat hy wou hê sy moes dit hoor.

“Waar kom die tweede perd vandaan?” vra sy toe sy hom en haar oupa later buite gaan soek.

“Jy klink teleurgesteld, Heléne.”

“Wat bedoel jy? En nee, ek is nie. Hoekom sal ek wees?” vra sy opreg onkundig.

“Ek weet mos jy hou daarvan as ek saam met jou soos ’n ridder op my perd rondry.”

Haar oupa lag en sy vererg haar. “Jy is laf en weer vol streke. Sê eerder ek is verlig dat dit nie meer my lot is nie.”

“Toe julle twee, as julle wil baklei, gaan doen dit langs die dam.”

Sy hys haarself met gemak op Sakkie se rug en kyk hom vanuit die hoogte aan. “Waarmee gaan ons visvang? Met ons kaal hande?”

“Paulus het reeds die visgoed by die dam gaan aflaai,” antwoord haar oupa namens David. “Toe, weg is julle dat ek in vrede kan gaan koffie drink.”

Ná al die ure wat sy op Sakkie se rug deurgebring het, het sy genoeg selfvertroue om hom ’n bietjie aan te spoor en hy begin self galop. Vir ’n paar sekondes wag sy dat haar ou vrees terugkeer, maar dit gebeur nie. Sy draai haar kop. David hou by en tot haar heimlike genot sien sy iets soos paniek in sy oë, so asof hy enige oomblik die ergste gaan beleef.

“En?” vra sy met ’n tikkie hoogmoed toe hulle die dam bereik.

David verstaan presies wat sy bedoel want hy glimlag tevrede. “Baie goed. Jy het nou selfvertroue en Sakkie is steeds die gewillige een. Ek dink ons kan vanmiddag ’n hindernisbaan opstel en kyk hoe dit gaan.”

“Het jou perd ’n naam?” vra Heléne toe sy self afklim.

“Haar naam is Meisie. Ja toe, dis nie nodig om te lag nie. Hier gee mense nie hulle perde deftige name soos July-perde nie.”

“Meisie en Sakkie – wat ’n kombinasie. Moet ek sy saal afhaal of gaan hulle heeldag so staan?”

“Ek sien jy leer vinnig. Kry jy vir ons koeldrank terwyl ek die saals losmaak.”

Heléne maak die koelboks oop en haal twee blikkies tussen die ys uit. Sy maak hare oop en sit syne op die sementtafeltjie neer.

Geduld was nog nooit een van haar sterk punte nie. David mag dit miskien vermaaklik vind om ure lank na ’n visstok en dobbertjie te kyk, maar nie sy nie. Haar gedagtes dwaal stadig weg en keer uiteindelik terug na die laaste keer wat sy die dam as kind gesien het. Nadat haar ouers die nuus meegedeel het dat hulle gaan skei en net voordat hulle huis toe sou ry, het sy en haar pa ’n entjie langs die dam kom stap. Hy het nie veel gepraat nie en sy het glad nie geweet wat om te sê of te vra nie.

Asof sy weer tien jaar oud is, voel sy die verlatenheid opnuut aan. Haar binneste begin pyn. Haar koms plaas toe het ’n pleister van ’n wond afgeruk wat sy gedink het jare gelede reeds genees is. Op dié plek het sy vir die eerste keer besef haar kinderlewe gaan nooit weer dieselfde wees nie. Sy was vasgevang in ’n situasie waarvoor sy nie gevra het nie. Sy het dit nie verdien nie, maar niemand het regtig omgegee hoe sy voel nie. Of gewonder of sy hoegenaamd iets voel nie. Dis daardie selfsugtigheid van beide haar ouers wat sy hulle nie maklik kon vergewe nie. Maar dit het haar geleer om skanse om haar op te rig. Haar seerkry weg te steek. Niemand, nie eens Lukas, het uitgevind hoe sy as kind gevoel het nie.

Dis dalk hoekom sy aan haar oupa en ouma gedink het toe sy ’n plek gesoek het om weg te kruip. Onbewustelik wou sy dalk teruggaan na die plek waar haar lewe was voordat dit ’n T-aansluiting bereik het; die plek waar alles nog oukei en ongekompliseerd was.

Maar hoe dit ook al sy, links of regs het haar net verder weggeneem van wat sy lank gelede gehad het. Nou moet sy saam met die heimlike berou leef dat sy lankal deel van haar grootouers se lewe kon gewees het as sy nie so selfgesentreerd was nie. Om hulle skielik as ’n veilige hawe te gebruik net om van nuuskieriges weg te kom was om die minste te sê selfsugtig.

“Dalk kan jy iets aan my verduidelik. Die laaste keer wat jy op die plaas was, was met jou tiende verjaarsdag. Hoekom het jy besluit dat Klein Begin die ideale plek is om te kom wegkruip? By grootouers wat jy wie weet wanneer laas gesien het en eintlik geen band meer mee gehad het nie?” onderbreek David skielik die stilswye.

Sy kyk vinnig na hom. Hoe lank hou hy haar al dop? En het hy pas haar gedagtes gelees?

“Ek het gedink ek sou veilig wees hier, onder almal se oë uit wat my bejammer het,” sê sy eerlik.

“En toe weet die hele wêreld reeds wat gebeur het,” herinner hy haar ’n bietjie sardonies aan die realiteit.

Sy roer haar skouers onverskillig. Sy het reeds vrede daarmee gemaak. “Dis anders hier. Niemand buiten my grootouers ken my nie, terwyl ek in die stad heelparty vriende en kenisse het. Dan praat ek nie eens van familie en aangetroude familie nie.”

“Vertel my meer van jou ouers.”

“Van my ma en stiefpa? Hoekom?”

“Nee, jou eie ouers. En ek vra net uit om jou ’n bietjie beter te leer ken, nie om te oordeel nie. Het hulle baie rusie gemaak?”

“Nee, my ouers het nooit baklei nie. In elk geval nie voor my nie. My ma is nie die tipe wat skree of deure toeklap nie. Hulle egskeiding was seker die mees beskaafde een in die geskiedenis. My pa het net by die huis gekom en dokumente voor my ma neergesit. Sy het ’n pen uit haar aktetas gehaal en dit geteken. Daar was byna geen emosie op haar gesig nie. Agterna het ek haar eendag teenoor een van haar vriendinne gehoor sê hoekom sou sy dit teenstaan as die huwelik nie werk nie? Hoekom aan ’n man vashou wat jou nie gelukkig maak of jou nie wil hê nie? Dis so ’n vermorsing van kosbare tyd en energie. Dit het my lank geneem om oor die gedagte te kom dat liefde net ’n idilliese pot sop is. Toe ek Lukas ontmoet het, het ek doelbewus alles vergeet wat ek by my ouers geleer het. Ek het besluit om die huwelik self op die proef te stel. Ek het ’n lysie opgestel van wat ek in ’n man wil hê, en Lukas het aan die meeste van die kriteria voldoen. Welaf, goeie familie, onberispelike maniere en sosiaal meer as aanvaarbaar.”

Jitte, maar sy het nou baie gesê. Meer as wat sy wou. Maar dit voel net of haar dam van opgekropte emosies volgeraak het, en as sy eers een sluis oopmaak, is daar geen keer aan die vloei nie.

“En lief vir kinders?”

“Ek neem so aan.”

“Hoekom is daar huiwering in jou stem?”

“Ons het nooit oor kinders gepraat nie. Ek weet nie of hy kinders wou hê nie.”

“En jy vind dit nie vreemd nie?”

“Nee, miskien. Ons het belangriker goed gehad om oor te gesels. Kinders was later se probleem.”

“Probleem?”

“David, wat is dit met al hierdie uitvraery? En hoekom wil jy heeltyd my kop lees? ’n Mens sou sweer jy is ’n sielkundige en ek jou pasiënt. Ek en Lukas sou later daaroor praat, nie dat dit nou enigsins saak maak nie. Daar is nie ’n later vir my en Lukas nie.”

“Wil jy weet wat ek dink, Heléne? Ek dink nie jy was ooit lief vir Lukas nie. Jy het vir jou ’n man gesoek soos ’n mens iets van ’n winkelrak af sou koop. Een wat jou sou pas net wanneer jy een nodig het. As jy ’n lewe saam met iemand bou, neem jy sommer vroeg-vroeg besluite soos watter huis gaan die beste vir julle gelukkig getroude lewe saam wees. En om nie eens oor kinders, die een ding wat twee mense vir altyd saambind, te praat nie, is nog ’n aanduiding dat jy nie ernstig oor hom was nie. Let wel ek sê kinders bind twee mense vir altyd aan mekaar, want al is jou ouers geskei, is jy steeds die band wat hulle geskiedenis aan mekaar koppel. Op jou troudag en met elke kind se geboorte. Sou jy so ’n band met Lukas wou hê? Selfs al sou julle skei?”

Sy weet die antwoord is nee, maar sy gaan hom nie antwoord nie. Die waarheid gaan haar nog meer soos haar ma laat klink. Koel en beredeneerd, selfs in die keuse van ’n man.

“Kom ons vergeet eerder van my. Wat is jóú storie?”

“Wat bedoel jy?”

“Jy is nie ’n boer nie, maar bly op ’n plaas. Jy koop ’n plaas maar het geen begeerte om te boer nie. Klink dit nie vir jou ook vreemd nie?”

“Vreemd, nee. Ek dink dit maak my … wel … interessant en misterieus.”

“Toegegee, vir iemand wat omgee miskien,” sê sy katterig.

“Jy bedoel jy vind my geheimsinnigheid nie fassinerend nie?”

Heléne skud haar kop. “Moenie dink ek sien nie regdeur jou nie. Al jou simpel praatjies is net om die aandag van jou af te lei. Hoekom wil jy nie oor jouself praat nie?”

“Want daar is nie regtig iets om te vertel nie. Ek het ’n bietjie meer as ’n jaar gelede ’n klompie geld geërf en gedink ’n plaas is ’n goeie belegging. Toe ek hier kom, het ek gou besef ek weet minder as niks van boerdery af nie. Jou oupa het aangebied om die plaas te huur en my terselfdertyd touwys te maak. Dis dié dat ek tydig en ontydig op julle drumpel boer. Ingeval jy al daaroor gewonder het.”

“Jou plan is dus om tog eendag te boer?”

“Ek sou graag wou, maar …”

“Ja?” vra sy en mis nie die skielike spyt in David se oë nie. Waaraan hy ook al gedink het, wil hy nie met haar deel nie. “Wil jy nie ’n permanente besluit neem nie?” vis sy tog uit.

“Ek wou net sê dat die tyd wel sal leer. Wat jy wil doen en wat jy gaan doen, is nie noodwendig altyd dieselfde ding nie.”

“Soos in jou geval?” lok sy hom verder uit.

“Soos in my geval. Haai, ek dink jy het ’n byt!”

David spring op en gryp haar visstok. Hy gee die lyn ’n pluk maar voordat hy enige iets kan doen, gryp Heléne die stok by hom. “Los, dis my vis. Ek sal dit inkatrol.”

“Is jy seker? Dit voel na ’n bielie.”

“Hierdie geleentheid gaan nie gou weer opduik nie, David. Dit gaan my eerste en my laaste vis ooit wees.”

“Nou goed, maar katrol hom stadig in.”

Heléne volg David se raad en ’n paar minute later kyk sy na die lelikste vis wat sy nog ooit gesien het. David lag vir die afgryse op haar gesig.

“Toemaar, ons gaan nie hierdie baber eet nie. Hier, hou hom vas, ek wil ’n foto neem.”

“Jy is laf as jy dink ek raak aan daardie gedierte. Kyk sy bek – die ding sal jou vingers afbyt.”

“Babers het nie tande nie. Hulle ander naam is katvis. Hulle is bodemvreters en die stofsuiers van die dam.”

Toe sy nie wil bes gee nie, sit David die baber op die tafeltjie neer en poseer sy langs hom vir ’n foto.

“Waarheen gaan jy nou met my vis?”

“Nou gooi ons hom terug sodat ons hom op ’n ander dag weer kan vang.”

“Hoekom moes ons deur hierdie visvangoefening gaan as jy hom net weer in die water gooi?”

“Want visvang is ’n wonderlike manier van ontspan en om van jou sorge te vergeet. Ek wed jou jy het nie agtergekom dis al etenstyd nie.”

Heléne kyk op haar horlosie. “Jy is sowaar reg.”

Sy gooi die piekniekkombers op die gras oop en pak die kos daarop uit. David was sy hande in die dam voordat hy oorkant haar gaan sit.

“Jou ouma het soveel moeite gedoen. Frikkadelle, ham gevul met aartappelslaai, en boeresamoesas. Waar het sy tyd gekry om dit alles te maak?”

“Moenie my vra nie. Al wat ek weet, is dat sy my die week behoorlik laat les opsê het. As ek en jy in die oggend klaar perdgery het, bak ons beskuit en koek, en elke nuwe resep word met die vorige baksel vergelyk. Hopelik kry ons binnekort die wenresep, anders is ek bevrees sy sal nog koekblikke moet aanskaf. Maar dis nie al nie. Dis dieselfde met die konfytkokery. Perske-, appelkoos- en selfs appelliefiekonfyt. Dit sal my nie verbaas as ons nog pampoenkonfyt ook gaan probeer nie.”

David se oë kreukel en die aantreklike kepies langs sy mond kom en gaan soos hy lag. Hoe voel dit om deur hom gesoen te word, wonder sy skielik. Is hy die soort man wat ’n vrou soos ’n brose roosknoppie soen of neem hy beheer en soen hy haar dat sy sterre sien? Haar mond word droog toe die aantrekkingskrag wat sy voel in rou begeerte verander. Dis iets wat selde met haar gebeur, en alles in haar skop werktuiglik daarteen. Waar is haar ondeurdringbare skanse as sy hulle nodig het?

“En daardie skielike frons?”

“Dis sommer niks. Ek moet nog die pannekoekbakkery onder die knie kry, maar dis volgende week se probleem.” Heléne maak die kosbakkies toe en pak dit terug in die mandjie. Sy voel David se ondersoekende oë op haar. Toe vly sy haar op die punt van die kombers neer. “En nou gaan ek ’n uiltjie knip terwyl jy, meneer Erlank, nog ’n vis moet vang.”

“Gaan jy my nie ondersteun nie?”

“In die gees, ja.” Sy sluit haar oë en vou haar hande op haar maag. Toe maak sy haar oë vinnig oop. David kom maak hom langs haar tuis.

“En nou?”

“Die vis kan wag. Sjuut, maak jou oë toe en slaap.”

“H’m, jy hou darem maar daarvan om my rond te beveel.”

“H’m, dis nogal lekker.”

“Chauvinis.”

David lag net en toe is dit slegs die plaas se stilte om hulle. Sy sluit haar oë en ontspan.

“Heléne?”

“H’m?”

“Slaap jy?”

Sy glimlag en antwoord. “Ja.”

“Heléne?” vra David na ’n rukkie weer plaerig. Dit lyk nie of sy geslaap gaan kry nie. Sy sug aspris hardop en draai haar kop. Haar hart ruk, want David se kop is baie na aan hare. So naby dat sy die lagplooitjies langs sy mond kan tel as sy sou wou. “Ja, David, wat is dit?”

“Kom eet môreaand by my.”

“By jóú huis? Het jy een?” vra sy tergerig, maar net om haar bonsende hart weg te steek.

“Ja, jy weet die een daar bo-op die koppie,” speel hy saam.

Helen draai haar kop terug. Daar is ’n paar wit wolke in die lug, maar sy let dit nouliks op. Haar hart bons te hard in haar bors. Sy sluit haar oë.

“Gaan jy my nie antwoord nie?”

Verdomp, weet die man nie dat daar suiwer heuning in sy stem is nie? Dit lok haar soos ’n blom ’n by sou lok.

“Ek gaan eers daaroor slaap.”

David lag. “Nou goed, slaap maar eers ’n bietjie daaroor. Maar ek weet klaar wat jou antwoord gaan wees.”

“Jy weet?” vra sy en maak haar oë verbaas oop.

“Jy gaan sê jy dink nie dis ’n goeie idee nie. Ons ken mekaar nie regtig goed genoeg om alleen iewers te eet nie. En buitendien, hoe kom jy by my huis? Die pad is amper onbegaanbaar vir jou motor.”

“Volpunte.”

“Ek is nog nie klaar nie. En as ek jou oortuig dat dit nie geldige verskonings is nie, gaan jy steeds nee sê, want …”

“Want wat?” vra sy asemloos en soek sy oë. Deur effens vernoude ooglede betrag hy haar – asof hy sy ware gevoelens so kan verskans.

“Want jy is bang om alleen saam met my te wees.”

Is dit ’n blatante uitdaging in sy stem? Dink hy sy is ’n kind om haar met daardie truuk te vang? Maar aan haar hart se bonsery gemeet, is hy heeltemal reg. Sy is bang om alleen saam met hom in sy huis te wees. Haar enigste verweer is om die stelling af te lag.

“Hoekom sal ek bang wees, David? Ek is dan elke dag in jou geselskap. En boonop amper heeldag. Ek sien selfs meer van jou op ’n dag as wat ek van Lukas gesien het,” probeer sy baie hard om hom te oortuig.

“Jy weet goed dis nie wat ek bedoel nie, Heléne. Jy is bang ek keer jou iewers in ’n hoek in my huis vas en …”

Terg hy of is hy ernstig? Sy kan nie meer sê nie, want sy stem klink ’n bietjie gespanne en dit verwar haar. “Nee, jy maak ’n fout en ek gaan definitief nie vra wat jy met daardie huiwerende én insinueer nie. Kom, dit word laat en my ouma wonder seker wat van my geword het.”

David staan op en terwyl sy die piekniekgoed wegpak, bêre hy die visgerei. Haar oë gaan kort-kort na sy rug. Die vervlakste man is rêrig slim. Hy weet presies wat om te sê en wat om nie te sê nie. Deur bloot te impliseer dat iets in sy huis kan gebeur, het hy elke krieseltjie van haar verbeelding op loop. As daar al ooit ’n oomblik was om totale onverskilligheid te veins, dan is dit nou – vir haar eie beswil.

“Jy het my nie vroeër geantwoord nie. Aan wie behoort Meisie?”

“Dis een van Karin se perde. Sy leen haar vir my.”

“O, soos ’n Avis-huurkar. Dis nogal gaaf van haar.”

David lag. “Heléne, jou sin vir humor verstom my soms. Jou subtiele katterigheid ook.”

“Maar kan jy dit hanteer, David? Dis die vraag,” merk sy op en weet goed dat sy nou ’n bietjie koketterig klink.

“O, maar ek kan, Heléne, jy moet net sê of ek dit moet bewys.”

David se oë glim skielik gevaarlik. Sy wou nie ’n gesprek hê vol dubbelsinnige geskerts wat haar herinner dat David ’n uiters aantreklike en viriele man is nie. Sy kapituleer. “Toemaar, jy is veilig, dit sal nie gebeur nie,” sê sy en loop weg om Sakkie op te saal.

Terug by die huis is haar ouma in die kombuis besig en haar oupa iewers anders. Sy sien David af by sy Jeep. Heimlik wag sy dat hy sy aanbod vir aandete herhaal, maar hy doen nie. Hy steek ewe formeel sy hand na haar uit.

“Dankie vir ’n heerlike dag, Heléne.”

Sonder om daaroor te dink lê sy haar hand in syne.

“Dit was ’n plesier.”

Tergliggies vorm in sy oë terwyl sy mond sedig bly. Iets voel vir haar nie reg nie. Hy lyk net te mak na haar sin. Sy probeer naarstiglik haar hand onder syne uittrek, maar hy hou dit stywer vas.

“Ek dink ons ken mekaar nou lank genoeg om mekaar te soengroet – soos die gebruik in hierdie kontrei is.”

“Soengroet?” vra sy maar dit sê sy teen sy lippe. David het haar klaar nader getrek en sy lippe rus op hare. Sy is te versteen om terug te tree. Haar oë kan nie langer op sy gesig fokus nie en haar ooglede val toe. Dis ’n fout, besef sy dadelik. Asof sy ’n skakelaar gedruk het, is alles om haar weg en is sy net van sy mond bewus. Sy roer haar lippe en in antwoord roer hy syne teen hare sonder om die drukking te verdiep. Nes sy die sagtheid van sy lippe toets, toets hy hare ook. Haar geslote oë moet soos ’n uitnodiging vir hom lyk, skiet dit deur haar verstarde gedagtes. Haar oë vlieg verward oop en die keer is haar wil sterk genoeg om hom weg te stoot. Hy kyk haar nadenkend aan en toe lig hy sowaar ’n wenkbrou. Wat vra hy – of sy dit geniet het? ’n Piksoentjie, wat ver van ’n ordentlike soen af was? Sy vererg haar vir ’n hele paar goed. Sy voorbarigheid, sy arrogansie en sy vermetelheid om hom sommer aan haar lippe te vergryp.

“Hopelik is al die mans in hierdie kontrei nie soos jy nie. Hopelik vra hulle voor hulle soen,” sê sy kil, maar die heesheid in haar stem verklap ’n ander storie. Sy sogenaamde piksoentjie hét haar tot in haar ouma se plat tekkies geskok.

“En die verrassingselement verloor? Hoekom sal ek dit doen?”

David se oë vernou effens. “Heléne, as jy dink dit was ’n sóén, dan het jy my regtig bekommerd. Ek kan jou natuurlik nou wys wat die verskil is, maar jy is seker haastig om beskuit te gaan bak. Helaas, dit sal moet oorstaan tot ’n volgende keer.”

“David!” Heléne vind skielik nie ’n enkele woord in haar woordeskat om haar verontwaardiging duidelik te maak nie. Toe is dit nie nodig nie, want David trek weg en los haar steeds snakkend na asem agter.