Wat het die slim David Erlank nie so lank gelede nie gesê? Daar is ’n verskil tussen wat ’n mens wíl doen en wat jy gáán doen. Sy het haar voorgeneem om haar afstand te behou waar dit by David kom, maar dis makliker gesê as gedaan. Daardie paar soene het eintlik hulle verhouding geruïneer. Maar nie op ’n slegte manier nie. Dis net dat sy glad nie meer in sy geselskap kan ontspan nie. Met die geringste aanraking sit haar hart op loop of sy raak kortasem as hy net na haar kyk. Dan het tyd skielik belangrik geword. Soggens is dit die eerste ding waarna sy oplet. Soveel minute voordat David opdaag om haar met die perdryery te help. Of daar is net soveel minute om haar vir David mooi te maak. Dan praat sy nie eens van die feit dat David nou ’n punt daarvan maak om haar gereeld te soengroet nie. Hy is net aspris, sy weet, maar sy gee glad nie om nie. Daar is egter ’n probleem. Dit raak toenemend moeiliker om haar groeiende gevoel vir David vir haar grootouers weg te steek. Sy wil geen illusie skep dat dit in iets meer permanent kan omsit nie, nie terwyl sy self nie kan hoop dat so iets moontlik is nie.
Iemand gryp haar aan die arm en sy skrik.
“Haai, meisiekind, jy is so ingedagte, jy hoor my nie eens roep nie.”
“David, wat doen jy hier in die mall?” vra sy verras.
“Ek moes ’n posstuk by die poskantoor kom haal. En jy?”
“Ordentlike ryskoene vir Saterdag kom koop.”
“Jy is dus nie haastig terug plaas toe nie?”
Sy skud haar kop en wonder dadelik wat David in gedagte het.
“Dan loop ek saam met jou rond. Gee my jou hand. Komaan, Heléne, jy is tog seker al oor jou vrees oor wat mense sal dink as jy iemand se hand in die openbaar vashou?”
“Dit was nie vrees nie, David, net iets waarvan ek nie gehou het nie. En ek ís bang wat mense gaan dink. Net nou die dag het ek op trou gestaan en hier wandel ek die mall se gange op en af met my hand in ’n ander man s’n. Dink net aan die lekker geskinder wat dit kan afgee vir diegene wat jou of my ouma-hulle ken.”
“Wel, ék gee nie om wat mense dink nie,” sê David en neem haar hand beslis in syne. Sy glimlag heimlik, maar hou haar gesig uitdrukkingloos toe hulle verder stap.
Heléne kyk vinnig na David. “Fluit jy sowaar?”
“Mag ’n man nie fluit as hy tevrede en gelukkig is nie?”
“Gmf, jy mag seker, maar is dit nodig om soos ’n kat met ’n piering room voor hom te lyk?”
“Heléne, jy moet leer om te ontspan en doodeenvoudig net die lewe, die oomblik, te geniet.”
’n Paar treë verder steek hy vas en maak sy vingers los. “Kom ons probeer iets anders. Ek gaan nou my arm om jou skouers sit en jy gaan jou arm om my middel glip, en ons gaan tot by daardie restaurantjie daar voor so hand om die lyf loop. Dink jy jy kan dit doen?”
“Jy geniet hierdie speletjie, nè?”
“Jy sal nie weet hoeveel nie. Die vraag is nou: Is jy ’n man of is jy ’n muis?”
Hierdie speelse sy van David se persoonlikheid het soveel aantrekkingskrag dat sy nie anders kan as om nader getrek te word nie. Daar is ’n bruising in haar binneste wat haar van haar kop tot by haar tone verwarm.
“Ek is ’n meisie, nie ’n muisie nie,” skerts sy terug en glip haar arm om sy lyf. Dadelik is sy bewus van sy liggaam se hitte wat deel van hare raak. Sy wil haar selfs verbeel sy kan sy hartklop deur sy hemp voel. Hopeloos te gou na haar sin staan hulle voor die Chinese restaurantjie.
“Dis miskien nie die boere in die omgewing se gunsteling-eetplekkie nie, maar dis myne beslis. Nie so haastig nie,” sê hy toe sy voor hom by die deur wil inloop. David sit sy hande op haar skouers. Sy oë terg maar is tog ook ernstig. “’n Laaste toetsie, en as jy dit deurkom, mag jy maar vir jou bowties bestel.”
“Ek is nie ’n kind wat met soetgoed beloon kan word nie, maar sê maar wat ek moet doen.”
Toe ruk haar hart. Die warmte in sy oë word in ’n kits met passie vervang en verklap wat hy in gedagte het. Toe hy nie dadelik sy kop nader bring nie, haar net uitdagend aankyk, staan sy op haar tone en bied hom haar lippe aan. David mik na haar lippe, maar trek toe vinnig weg. “A nee a, juffrou Pienaar, wat se vryery is dit met jou en boonop in die openbaar?”
Heléne lag en draai by die deur in. “Meneer Erlank, wie sê ek wou jou soen? Ek was van plan om jou aan jou lip te byt.”
“Dit kan ook lekker wees,” mompel David terwyl die kelner hulle by die deur groet.
David bestel vir hulle kos en terwyl hulle wag, hou hy haar hand op die tafel vas. Terwyl hulle oor allerhande nietighede gesels, speel hy met haar vingers. Sy gesigsuitdrukking verander skielik – word ernstig en sy wonder of hy aan dieselfde ding as sy dink. Die kompetisie is Saterdag, en Maandag gaan sy terug huis toe. Dan is die speletjie oor, want dis wat dit is. ’n Spel wat tot niks meer kan lei nie. Sy gaan haar lewe hervat en hy gaan op Klein Koppie agterbly en op ’n dag besluit hy is gereed om self te boer. Sy gaan hom waarskynlik nie weer sien nie, tensy sy vir ’n naweek of so by haar grootouers kom kuier. Maar met elke besoek gaan haar en David se verhouding al hoe strammer raak, en dit wat hulle nou het, gaan uiteindelik heeltemal vergete wees.
Maar nie vir haar nie. Sy gaan nooit van David vergeet nie, besef sy. ’n Vreemde paniek stoot in haar op en sy trek haar hand weg. Sy vroetel in haar handsak vir ’n snesie en veins ’n loopneus. Enige iets om nie sy aandag op haar gesig te vestig nie. Want sy is nie meer seker dat sy haar emosies soos in die verlede kan wegsteek nie. David Erlank mag nie weet dat die blote gedagte dat sy hom nie weer gaan sien nie, haar ’n angsaanval wil besorg en haar totaal paniekerig en vreesbevange maak.
“Dokter Erlank?”
David skrik merkbaar en hy draai sy kop. Langs hulle staan ’n middeljarige vrou.
“Mevrou Calitz, wat doen jy op Ventershoek?” vra hy en staan beleef op.
“Ek kuier by my dogter en haar man. Praktiseer jy nou hier op die dorp?”
“Nee.”
“O, dis reg. Ek het ’n kennisgewing gekry wat sê jy sluit jou praktyk. Ek het net gedink ek kom groet ’n bekende gesig. Goed gaan, Dokter.”
Heléne vou haar hande op haar skoot saam en pen David met haar blik vas.
“Dokter Erlank?” vra sy kil.
David knik.
“Watse tipe praktyk het jy gehad? Medies? Tandarts?”
David huiwer en dit maak haar bang. “David?” vra sy weer.
“Ek is ’n sielkundige.”
“’n Kopdokter?” vra sy net om seker te maak sy verstaan hom reg, want in haar agterkop lui daar reeds ’n waarskuwingsklok so groot soos die Big Ben in Engeland.
“Ek verkies die term sielkundige.”
Die bloed dreineer uit haar gesig en laat haar lighoofdig. “Dit maak alles nou vir my sin. Jou gekarring aan my persoonlike lewe. Al jou klein observasies en jou positiewe brokkies raad om my lewe weer op dreef te kry. Jy het my net as ’n pasiënt, ’n onderwerp, gesien en hier dog ek … nee, ek weet nie wat ek gedink het nie!”
David verbleek en steek sy hand uit. Sy ruk hare egter so vinnig weg dat sy haar elmboog pynlik teen haar stoel stamp. Sy staan vinnig op en gee nie ’n snars om wie haar nuuskierig aankyk nie. “Jy kan bly wees ons is in ’n openbare plek, David Erlank, anders het ek jou nou presies vertel wat ek van jou dink,” sis sy.
David vlieg ook op. “Wag, Heléne, laat ek verduidelik!”
“Jy kan na jou peetjie vlieg, dókter Erlank. En as jy weet wat goed vir jou is, sal jy nie weer naby my kom nie. Ek hoop ek maak myself duidelik.”
“Meneer? Jy kan nie loop nie. Hier is julle kos,” roep die kelnerin toe David agter haar wil aanhardloop.
Haar bloed kook behoorlik toe sy die naaste uitgang uit die winkelsentrum soek. Om te dink sy kom al die pad van Johannesburg af om haar naam weg te gooi, haar reg om ’n openbare vloermoer te gooi op Ventershoek toe te pas. Maar sy gee nie om nie! Die hele wêreld kan maar weet dat sy vandag soos ’n besetene by ’n restaurant uitgestorm het. David het wel een ding reggekry. Hy en hy alleen is die oorsaak dat sy vir die eerste keer totaal beheer oor haarself verloor het.
Heléne klim in haar kar, maar net voor sy Klein Begin se bordjie bereik, is haar toorn uitgewoed en wil sy skielik huil. Dis teleurstelling – diep en onverwags – wat haar traankraantjies wil oopdraai. David het al hierdie mooi goed gesê en gedoen en haar as’t ware terug op haar eie troontjie geplaas, maar nie omdat hy ’n diep gevoel vir haar ontwikkel het nie. Nee, hy was seker bang sy doen iets onverantwoordeliks. Wat ’n groter klap in haar gesig is, want sy sal nie haar polse vir enige man afkou nie. David ingesluit.
Terug op die plaas plak sy haar ou onaantasbare glimlaggie op haar lippe en ter wille van haar grootouers gee sy voor alles is normaal. Sy doen haar gewone takies en gaan stap selfs ’n ent met Saartjie. Dis amper skemer toe sy by die huis aankom. As David intussen sy opwagting gemaak het, weet sy nie daarvan nie. Haar oupa en ouma laat ook niks blyk nie. David het seker haar raad ter harte geneem om eerder onder haar voete uit te bly.