Twaalf

Wat doen jy as jy byna nie ’n oog toegemaak het nie en jou eerste gedagte een van moord is? Dis wat Heléne wil weet toe sy moeg en omgekrap aan die ontbyttafel sit. Jy gaan soek dringend hulp by ’n sielkundige, maar nie in haar geval nie. Nie as dit die dokter is wat jy juis wil vermoor nie.

“David het gebel. Hy moet iemand op die dorp gaan sien en sal nie betyds terug wees vir julle ryles nie,” dra haar ouma ’n boodskap oor.

“Dis goed so, want ek het ander goed om te doen.”

Maar sy het in werklikheid niks om haar mee besig te hou nie. Sy dwaal in die huis rond, help selfs vir Netta om af te stof en gordyne af te haal. Oor en oor draai dieselfde gedagtes in haar kop. David het haar bedrieg. David het net gedoen wat hy gedink het hy moet doen: haar van haarself red, hoe misplaas dit ook al was. Sy gooi die laaste paar gordynhakies op die tafel neer. Hoe lank gaan hierdie dag wees? Gefrustreerd kyk sy op haar horlosie. Negeuur. Werklik? Sy moet iets meer konstruktief kry om te doen.

“Môre, Tante, ek het gekom so gou ek kon. Wat is die krisis?” praat David agter Heléne.

Sy reik na ’n pan, maar besluit om hom liefs nie voor haar ouma met ’n pannekoek te gooi nie. Sy onderdruk haar wraaksugtige gedagte en ignoreer sy teenwoordigheid.

“Ek weet nie wat met die kind aangaan nie, David. Vanoggend vroeg het sy oom Silas gevra om vir haar drie gasbranders hier buite neer te sit, en ek moet vir haar die drie pannekoekpanne uithaal wat sy Saterdag in die kompetisie gaan gebruik. Toe maak sy genoeg beslag aan om elke werker op die plaas van ’n dosyn te voorsien. Sy is nou al ’n uur besig en het nog nie ’n woord gesê nie. Wat dink jy gaan met haar aan, David?”

Heléne swaai om en pen hom met haar blik vas. “Dink mooi na oor wat jy gaan sê, David Erlank, want ek is nie doof nie. Ek hoor elke woord wat jy en my ouma praat.”

Sy draai terug en dop die pannekoek behendig om voordat sy die volgende een bo-op die vinnig groeiende berg van pannekoeke laat uitgly.

“Dink jy dis dalk iets soos vertraagde skok – oor die verbreekte verlowing?”

Enige ander dag sou sy gedink het dit is snaaks, maar nie vandag nie. Sy frons. Hoekom dink haar ouma sy kan haar nie hoor nie? Sy staan dan reg voor haar, wonder Heléne en draai nog ’n pannekoek om.

“Heléne is eintlik vies vir my, Tante. Sy het uitgevind ek is ’n sielkundige van beroep en sy voel ek het haar verkul deur haar nie daarvan te sê nie. Dis maar al, Tante.”

“O, ek en die oom was bang dis dalk iets wat ons gedoen het. Maar eintlik was dit ’n goeie ding, want met al die oefening wat sy vanoggend kry, maak sy Saterdag skoonskip van die pannekoekbakkery.”

Die feit dat haar oupa en ouma dink hulle het iets verkeerd gedoen, demp haar woede net so vinnig as wat ’n mens ’n brandende kers tussen jou vingers dooddruk. Sy keer die laaste pannekoeke uit en draai die gas dood. Met die agterkant van haar hand vee sy ’n haarsliert van haar natgeswete voorkop af en knoop haar voorskoot los.

“David is reg, Ouma, ek is net vir hom kwaad en nie vir julle nie.”

Sy loop kop omhoog by David verby en by die kombuisdeur in. Sekondes later hoor sy sy harde voetstappe agter haar.

“Heléne, wag, laat ek verduidelik.”

“Nee, David, daar is niks om oor te praat nie. Loop net.”

“Nou goed, as jy so ’n hardekop wil wees. Maar vra jouself net af of jy wil hê jou grootouers moet hulle oor ons onbenullige argument verknies, want dis wat hulle gaan doen. Hulle gee nie net vir jou om nie, maar ook vir my.”

Sy swaai om, gereed om haar standpunt duideliker te maak as wat sy reeds gister gedoen het, maar David is reeds by die agterdeur uit. Sy hoor haar ouma se stem en toe hoe die Jeep wegtrek. ’n Paar sekondes later staan ouma Hannie voor haar.

“Heléne, ek weet jy is kwaad vir David, maar hy dra nie alleen skuld nie. ’n Dag of wat nadat jy hier aangekom het, het ons David gevra om jou onder sy vlerk te neem. Met jou ma in Johannesburg en jou pa in die Kaap het ons gevoel dis ons verantwoordelikheid om jou deur jou krisis te help, maar ons is oud en nie toegerus vir so iets nie. David wou maar te graag help. Dit was gou vir my en jou oupa duidelik dat dit nie presies ’n straf vir hom is nie. Hy spandeer graag tyd saam met jou. Om eerlik te wees, ons het eintlik gehoop dat dit in meer as net vriendskap sal ontwikkel.”

“Julle het verniet gehoop. Ek weet nie of ek David ooit weer kan vertrou nie. Ek het myself blootgestel, hom vertel hoe ek oor goed voel. Ek het gedink hy gee om vir my as mens, min wetend dat hy maar net sy werk as sielkundige gedoen het. En ook net omdat julle hom gevra het.”

“Jy sit die pot mis, Heléne. David gee om. Dalk moet jy hom tog eendag vra wat sy storie is. Jy sal hom dalk beter verstaan as jy weet.”

“Storie?”

Ouma Hannie skud haar kop. “Dis nie my plek om dit te vertel nie. Al wat ek wil sê, is dat David meer omgee as wat jy dink.”

Miskien gee David wel om, maar nie soos sy gedink en begin hoop het nie. Sy het gedink hy gee om vir haar as ’n jong en aantreklike meisie, nie net as ’n mens wat ná ’n mislukte verhouding ’n skouer nodig het om op te huil nie. Eintlik is sy net kwaad vir haarself. Sy moes David op ’n afstand gehou het, haarself beter beskerm en haar nooit toegelaat het om van hom te hou nie. Of dat hy haar met sy sjarme oorrompel nie. Sy moes nooit op hom gaan staan en verlief raak het nie. Die skielike ontdekking dreineer die lewe uit haar ledemate en sy hou swak aan die tafel vas. Nee, sy maak sekerlik ’n fout. Aangetrokke tot hom is sy beslis, maar liefde? Boonop so gou ná Lukas? Dis onmoontlik. Nee, dis maar net ’n meganisme waarmee sy haar seer probeer beter dokter.

“Wil jy nie maar met hom gaan praat nie, Heléne? Ter wille van my en Oupa? David is meer as net ons buurman. Hy is die kleinseun wat ons graag sou wou gehad het.”

Haar ouma se oë is vol trane en Heléne voel soos ’n skurk. Sy vou haar ouma in haar arms toe. “Ek is jammer, Ouma. Natuurlik sal ek die sakie met David regstel.”

“Sommer nou?” vra haar ouma hoopvol.

Heléne knik. “Sommer nou. As Oupa vra, ek gebruik sy bakkie.”

“Heléne! Waaraan het ek hierdie besoek te danke?” vra David koel toe sy ’n rukkie later aan sy deur klop en hy oopmaak.

“Mag ek binnekom?”

David hou die deur oop en sy loop tot in sy sitkamer. Hy wag met gevoude arms dat sy eerste praat. Dis bitter moeilik om om verskoning te vra.

“Vroeër … gister … ek het miskien ’n bietjie oorreageer.”

David boog ’n wenkbrou. “En?” spoor hy haar aan om haar apologie uit te brei.

“Ek moes nie so vinnig afleidings gemaak het nie.”

David weet dit nie, maar noudat sy weet hoe sy oor hom voel, wil haar hart net nie bedaar nie. As sy net geweet het hoe diep sy aangetrokkenheid tot haar gelê het, sou dit gehelp het. Almal weet dat ’n man ’n meisie kan soen tot haar sinne duisel, maar haar nie noodwendig as sy toekomstige vrou beskou nie. Nie dat sy selfs eens amper sulke aspirasies koester nie.

“En?”

Heléne vervies haar. Dit maak nie saak hoe sy oor hom voel nie; sy gaan nie voor hom kruip nie. “En niks nie, David. Dis dit. Dis my apologie. Aanvaar dit of los dit.”

“Nou goed, ek aanvaar dit. Kom ons gaan sit in die kombuis. Ek maak vir jou koffie.”

Toe hulle oorkant mekaar met koffie voor hulle sit, kyk hy haar ernstig aan. “Al my uitvraery was net bedoel om jou te help, Heléne. Jou perspektief te gee. Sodra ’n mens oor goed praat, is dit makliker om alles in die regte konteks te sit. Soos Lukas se aanmerking dat jy soos jou ma is. Jy weet nou dis oukei om soos jou ma te wees en dis oukei om nié soos sy te wees nie. Net solank jy op die ou end jou eie mens is.”

Heléne knik instemmend. Sy beskou die saak as afgehandel. Maar sy het ’n klompie vrae van haar eie.

“As jy ’n sielkundige van beroep is, hoekom het jy jou praktyk net so gelos en jouself op ’n plaas kom begrawe? Hoekom het jy jou groot familie agtergelaat?”

Sy verstaan nie die skielike pyn in David se oë nie en haar hart trek bekommerd saam. ’n Man los gewoonlik net sy lewe agter as daar ’n meisie iewers betrokke is. Sy sit haar hand oor syne en hoop hy vertrou háár nou genoeg om persoonlike inligting te deel. “Het iets gebeur, David? Ek ken jou nou al ’n bietjie en ek glo nie dit was ’n besluit wat jy op die ingewing van die oomblik geneem het nie. Is ek reg?”

David trek sy skouers op, ’n gebaar wat aan ’n hartsnaar pluk.

“Ek het maar net, soos jy, ’n plek gesoek om my wonde te kom lek. Die enigste verskil is dat ek besluit het om te bly.”

“Wonde?”

“Die saak staan so. Sestien maande gelede is my pa skielik oorlede. Dit was ’n geweldige slag vir my en ek kon dit nie verwerk kry nie. Al het ek al die kennis, pille en gereedskap gehad om dit vinnig en effektief te doen, kon ek nie daardie kennis op myself toepas nie. Dit het nie vir my gewerk nie. Jy sien, Heléne, as my pa maar aan ’n hartaanval of aan natuurlike oorsake dood is, was dit ’n ander saak, maar hy is nie. Dit was selfdood.”

Heléne trek haar asem geskok in. “Ek is verskriklik jammer, David. Ek moes nie uitgevra het nie. Dis duidelik dat dit nog seermaak.”

“Om daaroor te praat is moeilik, maar dit maak nie meer so erg seer nie. Die dag voor sy dood het hy my by die spreekkamer kom opsoek. Ek kon sien hy is ’n bietjie afstandelik en dis nie hoe ek hom ken nie. Ek het dit toegeskryf aan ’n harde dag by die werk of dalk ’n argument met my ma. Ek het nie die tekens van ’n diep depressiewe siel herken nie. Ek het nie uitgevra of selfs lank daaroor gewonder nie. Ek het hom gegroet en my volgende pasiënt behandel. Dís die verwyt waarmee ek vir weke moes saamleef. As ek my werk gedoen het, sou ek hom nie sommer net laat gaan het nie. As ek werklik goed in my beroep was, sou ek die simptome reg gelees het.”

“Mense dra nie noodwendig depressie op hulle mou nie.”

“Dink jy ek weet dit nie? Maar ek moes van beter geweet het. Hy was my pa, nie my pasiënt nie.”

David sit terug in sy stoel. “Ná daardie voorval was my selfvertroue totaal en al daarmee heen. Ek wou nie meer praktiseer nie, maar ek het wel ’n kinderdroom gehad. Om te boer. Op ’n dag het ek ’n advertensie in die koerant gesien. Klein Koppie was in die mark en ek het ’n aanbod op die plaas gemaak. Toe besit ek iets waarvan ek eintlik nog minder geweet het. Nog ’n oordeelsfout. En dis toe waar jou oupa tot my redding gekom het. Hy sal die grond by my huur, het hy gesê, maar net tot ek genoeg kennis opgedoen het om dit self te wil bestuur. Hy het my dus as’t ware onder sy vlerk geneem en my van verdere ondergang gered. Dis hoekom ek gesê het ek boer nie, want ek beskou myself nog nie as ’n volwaardige boer nie.”

“Maar jou plan is steeds om te boer?”

“Met beeste, ja. En dis waar Ramaja inkom. Deur die interaksie met ander beesboere het ek al geweldig baie van die bedryf geleer. Dis waarop ek my gaan toespits en nie soseer op saaiboerdery nie.”

Dit voel of sy David nou eers werklik leer ken, en tot haar spyt moet sy erken dat sy hom nog liewer as voorheen het. Dis sy menslike en kwetsbare kant wat haar die meeste raak. Sy onderdruk die diep begeerte om op te staan en haar arms om hom te slaan, hom te koester en sy seer weg te soen. In vergeleke met wat hy deurgegaan het, voel haar eie seerkry soos ligsinnigheid. Voordat sy enige van die goed doen wat sy voel, staan sy liefs op.

“Dankie vir die koffie, maar ek moet nou huis toe gaan.”

David staan ook op en voordat sy weet wat hy beplan, trek hy haar nader. Sy hand skulp om haar nek en sy voorkop rus teen hare. “Dankie dat jy gekom het. Ek haat dit om met jou te baklei,” sê hy hees.

“Jy jok, jy geniet dit.” Net vir ’n paar oomblikke verlustig sy haar in sy nabyheid, sy manlike geur, sy geestelike krag. Haar hart tamboer so hard in haar bors, sy is bang hy hoor dit en sy trek weg.

“Wat van ’n opmaaksoen?” vra hy sedig, maar sy oë is ernstig. Toe hy sy kop na regs draai, sit sy vinnig haar vinger op sy mond. “Die versoeking is groot, maar eerder nie, David.”

Hy kyk verward na haar, maar dan besef hy seker ook dat dit beter so is.

“Bel my as jy veilig by die huis is.”

“Ek sal,” belowe sy.