“Môre, het Oupa goed geslaap?”
“Ja, dankie, Heléne.”
Haar oupa se oë vee oor haar kameelkleurige romp en ligte toppie en toe hy van haar hoëhakskoene opkyk, lees sy ’n tikkie kritiek in sy oë.
“Is iets verkeerd, Oupa?”
“Ek het gedink ek kan jou so ’n bietjie op die plaas rondneem – jou wys wat ons alles doen, maar in daardie ligte klere weet ek nie of dit ’n goeie idee is nie.”
“O, ek sal graag wil kyk hoe alles lyk. Ek kan gou iets anders gaan aantrek.”
“Nee, los maar. Paulus wag al vir my by een van die damme.”
“Ek het vir julle ’n fles tee en ’n paar stukkies beskuit ingepak. Hier, Heléne, dra jy dit.”
“Kom Ouma nie saam nie?”
“Al wil ek, kan ek nie. Lien le Grange van Kromspruit kom tee drink en ek wil gou iets bak. Moenie bekommerd wees nie, jy sal haar ontmoet as julle terugkom.”
Heléne is nie juis lus vir vreemde mense nie, maar sy is nie in ’n posisie om ’n keuse uit te oefen nie. Sy dra die mandjie agter haar oupa aan en sit dit tussen die twee sitplekke neer. Die sitplek lyk ’n bietjie stowwerig, maar sy hou haar dapper en klim in. Eers moet sy die paar stukkies gereedskap by haar voete uit die pad stoot. Haar oupa wil agter die stuur inskuif, maar dan trek iets sy aandag. Sy kyk by die agterste venster uit en haar moed sak in haar skoene toe sy David se Jeep herken. Sy hoop nie die man is hier om haar grootouers van gister se blaps te vertel nie.
“Môre, oom Silas, hoe gaan dit vanoggend?”
Haar oupa groet terug en die mans skud blad. “Ek en Heléne is op pad na die kop toe. Een van die sementdamme het leeggeloop en ek wil sommer vir Heléne die plaas ook wys.”
David lig sy hand toe hulle oë deur die kajuit se agterste venster ontmoet. Sy groet halfhartig terug en kyk weer voor haar.
“As Oom wil, kan ek gaan kyk wat daar bo aangaan. En ek ken die plaas mos goed, ek kan Heléne rondwys.”
Sy ruk haar nek om en wag asemloos vir haar oupa se antwoord. Lyk hy verlig? Het haar ouma hom dalk in die uitstappie geboelie?
“Ek gee regtig nie om nie, Oom. Ek het buitendien nie vandag veel om te doen nie,” oorreed David haar oupa toe hy nie dadelik instem nie.
Toe haar oupa halfverlig glimlag, weet sy haar afleiding is reg. Hy hou sy bakkie se sleutel na David uit. “Dankie, jy is in elk geval beter geselskap as ’n ou man.”
Moet sy nie self daaroor besluit nie, wonder Heléne wrewelrig.
David skuif langs haar in en glimlag. “Môre, Heléne, ek neem aan jou eerste aand op die plaas was aangenaam?”
“Dit was.” Heléne sit haar hand op die deur se handvatsel, gereed om uit te klim. “Kyk, dis nie nodig dat jy my rondwys nie. Gaan los jy my oupa se probleem op en ek kan op ’n ander dag die plek verken. O, as jy honger word, hier is beskuit en tee in die mandjie.”
David keer haar. “Agge nee, ná al jou ouma se moeite om dit ’n lekker oggend vir jou te maak? Ek sal my skaam as ek jy is.”
Sy kyk hom verward aan. Sal haar ouma regtig vies wees as sy die uitstappie kanselleer? Sy ken haar ouma nie goed genoeg nie en sy wil definitief nie op iemand se tone trap nie. Sy skud David se hand van haar arm af en sit haar ander hand op haar skoot neer. Toe roer sy haar skouers onverskillig. “Kom ons ry dan; ek sou verkies om saam met my oupa te ry, maar dit maak nie regtig saak wie my rondwys nie.”
Hulle ry in die teenoorgestelde rigting as die hoofhek. Die pad is nie sleg nie, maar die werksbakkie se skokbrekers of vere is duidelik nie meer wat dit behoort te wees nie. Die bakkie bokspring vir die geringste hobbeltjie in die pad. Sy kyk, maar kry nie ’n sitplekgordel nie en word genoop om met haar linkerhand aan die handvatsel teen die dak vas te hou. Sy hoop net haar rug hou dit tot by die volgende stilhouplek – waar dit ook al gaan wees. As sy ’n glimlag op sy aantreklike bakkies sien, klim sy sowaar as vet uit die bakkie, dink sy en waag ’n blik in sy rigting. Hy konsentreer egter op die pad.
“Die huisies aan jou linkerkant is waar jou oupa se werkers bly. Elke gesin het sy eie huis en die alleenlopers deel met mekaar. Soos jy kan sien, het elkeen sy eie tuintjie. Aan die agterkant is ’n groot grasperk waar die kinders kan speel. Rugby of sokker of net waarvoor hulle lus het. Jou ouma dring daarop aan dat alles goed versorg bly.”
“Dis nogal netjies.”
“Sien jy die kweekhuise daar voor? Wat vars groente betref, is die plaas totaal selfversorgend. Dit was ook jou ouma se inisiatief. Elke kind op die plaas moet gesond eet, glo sy.”
“My ouma blyk ’n merkwaardige vrou te wees,” sê sy verwonderd.
“Jou ouma het hierdie diepgewortelde passie vir haar medemens. Jy kan trots op haar wees.”
Heléne soek vinnig na David se gesigsuitdrukking. Sy stemtoon staan haar nie aan nie. “Hoekom sê jy dit so asof jy my heimlik kritiseer?” vra sy uitdagend.
“Dalk is dit kritiek. Jy was nooit hier om te sien hoe uniek jou ouma is nie. Jy, wat haar enigste kleindogter is.”
“Natuurlik voel ek skuldig omdat ek nooit kom kuier het nie, maar jy ken nie my omstandighede nie.”
“Omstandighede? Wat kan ’n jong vrou van jou ouderdom verhoed om by haar grootouers te kom kuier? Seer sekerlik nie jou pa nie?”
Haar hart bons vinnig en omgekrap. “Ek hoef niks aan jou te verduidelik nie, maar ek gaan tog. My ouers is geskei toe ek tien jaar oud was, en my ma het nie die nut daarin gesien om met haar gewese skoonouers kontak te hou nie. Tydens hulle huwelik het sy nooit op die plaas tuis gevoel nie en sy het ook nie by die Pienaars ingepas nie. Sy het hulle ontgroei en ek indirek ook.”
“En nou is jy hier. Noudat jy ’n plek soek om jou wonde te lek is hulle goed genoeg. O, ja, ek weet dis hoekom jy hier is. Jou troue is afgestel.”
“Dis nie die geval nie, maar jy is geregtig op jou eie opinie,” sê sy koel en kyk by die kantvenster uit. Sy frons. “Hoe weet jy van my gekanselleerde troue? Ek het jou nie gesê nie.”
“Jou ouma het my vanoggend vertel.”
“Vanoggend?”
“Oor die foon. Sy het my gebel, want sy is bekommerd oor jou oupa. Gisteraand was hy totaal begeesterd om die dag saam met jou deur te bring, sy koninkryk aan sy kleindogter te wys, maar vanoggend is hy regtig moeg en te trots om sy planne uit te stel.”
“Ek sien. Kom ons ruim sommer nou iets uit die weg. Ek het nie gevra dat hy my rondneem nie. Ek is heeltemal tevrede om by die huis te bly.”
“Jou hele vakansie?”
“Soos jy self sê, ek het heelwat wonde om te lek en verkieslik in die privaatheid van my kamer.”
Daarop het David niks te sê nie, dink sy tevrede. Sy skrik. Dit was nie nodig om hom op sy plek te sit nie. Sy moes haar nie eens aan sy opmerking gesteur het nie. Hierdeur verloor sy die skans wat die beste vir haar werk, haar koel onaantasbaarheid, besef sy skielik. Maar David kruip doelbewus onder haar vel in. Hoekom? Dis tog nie of hy homself as haar grootouers se hoeder beskou nie, en hy het in elk geval niks persoonlik met haar in gemeen nie. Om haar te kritiseer is onaanvaarbaar; nog meer onaanvaarbaar is die feit dat sy hom onder haar vel toelaat. Maar dit gaan nie weer gebeur nie. Sy sak terug teen die sitplek en laat die spanning in haar lyf doelbewus wegvloei. Met oë wat wíl sien, kyk sy na die netjiese landerye weerskante van die pad.
Hulle ry tot teen ’n toe hek, en David laat die bakkie luier terwyl hy met sy hande op die stuurwiel sit.
“Waarvoor wag ons?” vra Heléne toe die sekondes byna ’n minuut word en David steeds voor hom uittuur.
“Vir jou om die hek oop te maak.”
“Ék moet dit oopmaak?” vra sy verbaas en ook ’n bietjie geskok. Het David gesien hoe sanderig is die pad?
“Ja, Heléne, dis hoe ons dinge op plase doen. Die passasier maak die hek oop, ek ry deur en jy maak dit weer agter jou toe.”
“En as jy alleen in die bakkie was, hoe werk dit dan?” kap sy dadelik terug.
“Dan het ek dit self gedoen, hoe anders? Maar nou hét ek ’n passasier.”
Om hom daarop te wys dat haar sandale nie gemaak is om op ’n sanderige plaaspad rond te ploeter nie, gaan nie in haar guns tel nie. Tipies stadsjaap, gaan hy sekerlik dink. Nee, sy gaan hom nie daardie satisfaksie gee nie. Sy sukkel met die halsstarrige deurhandvatsel wat skielik weier om oop te maak.
“Laat ek help,” sê David kalm en leun oor haar. Sy arm skuur teen haar borste en sy deins werktuiglik terug. Sy donker kop is sentimeters van hare af en sy ruik die skoon geur van sy hare. Hy ruk ongeduldig aan die handvatsel en sy snuif ’n tweede keer. Sy hou van sy naskeermiddel. Kruierig, glad nie soet en oordonderend nie.
David staak sy gekarring aan die handvatsel en draai sy kop. Sy oë terg skielik en haar hart mis ’n slag. “Het jy pas aan my geruik?”
’n Warm gloed stoot teen haar nek op. “Jy is laf, hoekom sal ek dit doen? Kry jy die deur oop of wat?”
David lag geamuseerd en ná nog ’n ligte stamp vlieg die deur oop. Hy verander nie dadelik van posisie nie, maar kyk weer na haar. Sy irisse is ’n mengsel van blou en groen en sy tel selfs ’n paar geel spikkeltjies daarin. Om presies te wees, vier in die linkeroog en ses in die regteroog. Sy wimpers is lank en sy wenkbroue dig en netjies. Asof dit magneties is, sak haar oë na sy mond. Mooi vol lippe en sy sweer heerlik sag as hy iemand sou soen. ’n Spottende trekkie vorm om sy mond en haar oë vlieg verskrik terug na sy oë.
“Nou wat nou? Wil jy hê ek moet uitklim of nie?” vra sy kwaai.
David kom regop en in haar haas om uit die kajuit te kom, wat skielik baie klein geword het, val sy amper by die deur uit. Haar hakke sak weg in die los sand en sy gril. Sy wil sê sies, maar byt die woordjie net betyds terug. Sy sukkel deur die los sand tot by die hek. Gelukkig het sy nie probleme met die slot nie, want haar oupa gebruik nie soos sy buurman bloudraad om sy hekke mee vas te maak nie. Sy los die hek en op sy goed geoliede skarniere sweef dit amper voor haar oë oop. Sy loop agterna, maar toe moet sy vinnig keer, want die hek bereik sy verste draaipunt en draai ongelooflik vinnig terug. Sy gil en haar hande skiet werktuiglik uit. Sy gryp die hek voordat dit haar kan tref. Sy gee David ’n vuil kyk terwyl hy deurry. Toe keer sy vir haar gesig want net die kort entjie se ry laat ’n klein stofstorm agter. Terwyl sy hoes en nog na asem snak, maak sy die hek toe en skuif weer langs hom in. David Erlank is die mees aspriste man wat sy ken. As sy hom nou vermoor en tussen die meter hoë mielies insleep, hoe lank sal dit neem voordat iemand hom opspoor, koester sy ’n paar moorddadige gedagtes.
“Jammer oor al die stof, maar jy sal nog gewoond raak daaraan.”
“Is dit al wat jy gaan sê nadat die hek my amper onthoof het?”
“Oukei, die paaie is so stowwerig want dit het lanklaas gereën. En dankie vir die hek se oopmaak.”
Heléne byt haar onderlip totdat dit seermaak. Die man langs haar is daarop uit om haar kwaad te maak. Hy weet baie goed dis nie wat sy wou hoor nie. Sy haal diep asem, tel ’n paar keer tot tien voordat sy met wat sy hoop ’n uitdrukkinglose gesig is na hom kyk. “Hoeveel hekke is daar nog wat oopgemaak moet word?”
Hy steur hom nie aan haar hooghartige stemtoon nie, inteendeel, hy glimlag. “Tot by die kop skat ek nog twee. Wat doen jy nou?”
“Ek trek my skoene uit.”
Sy maak die bandjies om haar enkels los, skud die sand ongeërg op die bakkie se vloer uit en sit dit bo-op die mandjie neer asof dit erestatus het.
“Dis goed so, want daar is die volgende hek.”
Genadiglik sukkel sy nie om die deur elke keer oop te kry nie. Sy spring soos ’n bokkie in en uit die bakkie en ignoreer David se gesig wat net meer geamuseerd lyk. Die pad raak steiler en klipperiger, en toe sien sy ’n bakkie langs ’n sementdam staan. Die werker waai vriendelik.
“Môre, Paulus!” roep David toe hy om die bakkie loop en haar deur oopmaak. Sy het gedink hy verwag van haar om uit te klim, maar hy buk om die gereedskap by haar voete te kry. Sy ruk haar been weg want sy sweer hy het aspris aan haar kuit geraak. Toe hy lag, wéét sy dit was inderdaad so.
“Jitte, Heléne, ek byt nie. Jy kan maar regtig ontspan.”
Sy lig nietemin haar voete op en sit dit eers weer neer toe hy omdraai en wegloop. Die werker beduie na die windpomp en met sy rug na haar werk hy aan die pype of iets. Die windpomp draai uiteindelik, en terwyl David en Paulus wag, vloei skoon water by ’n pyp uit, eers stadig en toe al vinniger. David klop Paulus op die skouer en die werker loop weg na sy eie bakkie.
David maak die deur oop, haal haar skoene van die mandjie af en sit dit op sy sitplek neer. “Kom, dis die ideale plek om tee te geniet. Moet ek jou dra?” vra hy tergend toe sy nie dadelik uitklim nie.
“Natuurlik nie.”
“Pas net op vir dorings. Of slange. Jou oupa het verlede jaar ’n twee meter lange mamba hier gevang.”
Vervlaks, moet die man haar nou so bangpraat! Lugtig vir alles wat haar kan byt of steek, loop sy al langs die groot klippe wat om die sementdam gepak is agter hom aan. Hy sit die mandjie neer en sonder om te vra skink hy twee bekers tee en hou die beskuit na haar uit.
“Dankie,” sê sy en stut haar rug teen die dam se sementmuur. David volg haar voorbeeld. Agter haar val die water kabbelend in die dam. Die lug bokant hulle is oop en wolkloos en, as sy die reuk van beesmis ignoreer, ook skoon en vars. ’n Heerlike plaasrustigheid sak op haar neer. Haar skouer raak liggies aan David s’n, maar sy skuif nie op nie. ’n Tipe onuitgesproke kameraadskap het tussen hulle ontstaan terwyl hulle saam oor die plaas uitkyk. Sy het nou ’n heel ander blik op die uitleg en dis steeds mooi. ’n Vreemde gevoel van trots neem van haar besit.
“Hier het ’n mens die beste uitsig oor jou oupa se plaas. Dis hoekom hy jou hiernatoe wou bring.”
“Is dit die hele plaas?”
“Nee, net die helfte. Agter hierdie kop waarop ons staan, is die beeskampe.”
“Wat’s daar tussen die landerye?” vra sy en wys na die lang silwer dakke.
“Jou oupa se skure. Dis ook waar hy sy hele vloot vragmotors stoor. Jou oupa is nogal welaf, maar dit weet jy seker?”
Sy skud haar kop. “Nee, ek het nog nooit daaroor gedink nie. Dis nogal jammer …”
“Wat wou jy sê?”
“Dis nogal jammer dat hy nie nog ’n seun of ’n kleinseun het nie. Iemand wat sy lewenstaak by hom sou wou oorneem.”
“Jou oupa het genoem dat jou pa nie belangstel nie, en jou oupa sal beslis nie die grond aan stiefkleinkinders nalaat nie. Verkoop is dan seker al opsie.”
Ingedagte doop Heléne nog ’n beskuit in haar tee. Skielik kan sy nie help om te wonder hoe haar oupa oor alles voel nie. Is hy ’n bietjie verbitter of aanvaar hy maar die situasie? Haar hart trek saam asof sy skielik sy pyn en verlies deel. Om aan die einde van jou lewenspad te kom en te weet dis waar jou drome ophou, moet verskriklik wees. Jou hele lewe spartel en spook jy om iets so mooi soos hierdie plaas aan die gang te kry en dan is daar niemand wat dit by jou kan oorneem nie. Jou harde werk moet so futiel voel. Heléne skud haar kop om die skielike hartseer wat sy voel af te skud. Dis nie haar probleem nie. Dis maar net die ongelukkige verloop van haar oupa se lewe.
“Nog ’n bietjie tee?”
“Nee, dankie.” Sy spoel haar beker onder die pyp met lopende water uit en bêre dit in die mandjie. Sy kyk weer oor die vallei en sy soek David se huis. Toe sien sy die eensame huisie teen die oorkantse koppie, omring deur bosse en gras. Naby sy huis sien sy ’n duidelike lyn waar die lyndraad loop wat die twee plase skei.
“Waarmee boer jy?”
“Ek boer nie.”
“Maar jy bly op ’n plaas?” vra sy toe sy nie verstaan nie.
“Dis reg.”
“As jy nie boer nie, hoekom hou jy dan daardie monster van ’n bees aan?”
“Ramaja?”
“Dis sy naam, is dit nie?” Heléne verstaan nie hoekom sy alles uit hom moet trek nie.
“Ek hou hom aan want hy is ’n goeie bron van inkomste.”
“Ek is nou heeltemal verward. Watse inkomste kan ’n enkele bees vir jou bring tensy jy hom slag?”
“Behoede my ooit daarvan. Ek verhuur Ramaja uit aan wie hom ook al wil gebruik. Nou goed, ek sien jy verstaan nie. My Afrikanerbul is ’n gesogte stoetbul met ’n uitstekende bloedlyn. Boere van regoor die land gebruik hom in hulle teelprogram of koop sy sperm om hulle koeie kunsmatig te insemineer.”
Dit neem ’n rukkie om die hele prentjie in te neem. “Jy bedoel jy is ’n spermsmous?”
David se gesig word effens rooi en sy is seker niemand het hom nog ooit dit genoem nie.
“Of verkies jy die benaming spermskenker? Nee, dit is jy ook nie, want jy skenk dit nie. Mense betaal jou daarvoor.”
“Ek … Heléne, jy laat dit klink of ek die skenker is en nie Ramaja nie.” Hy roer sy skouers geïrriteerd. “En dis ook nie so ’n vreemde ding nie. Kunsmatige inseminasie of sommer kortom KI is oral onder al die groot beestelers ’n aanvaarbare prosedure. Kom ons moet ry, jou ouma se vriendin brand seker om jou te ontmoet,” verander hy kortaf die onderwerp.
David wag nie vir haar nie, maar dra die mandjie terug bakkie toe. Op haar tyd loop sy weer al langs die klippe agter hom aan. Sy gesig bly stroef. Die rondte was hare, dink sy selfvoldaan.
“My aarde, kind, kyk hoe lyk jy! David, wat het jy haar laat doen? Hekke oopmaak? Kyk hoe lyk jou voete, vol stof.”
Ouma Hannie staan op die stoep met haar hande in haar sye. Sy kyk oor hulle koppe en Heléne hoor ook die naderende motor.
“Heléne, jy sal seker wil verklee voordat Lien hier is. Gaan solank terwyl ek ’n woordjie met David wissel.”
Heléne loop weg maar voel lus om om te draai en haar tong vir David uit te steek. Hy het miskien vandag oor haar geloop, maar haar ouma gaan hom nie daarmee laat wegkom nie.
Haar oë rek verskrik toe sy voor haar spieëltafel verbyloop. Sy het ’n bad nodig. Hare borsel en skoon klere gaan haar nie respektabel laat lyk nie. Daar is ’n stofstreep oor haar voorkop wat in haar haarlyn verdwyn. Die liewe meneer Erlank het dit goed gedink om haar nié daarvan te vertel nie. Hy wou hom seker in haar beteuterde voorkoms verlustig, het dalk selfs gehoop haar ouma se vriendin sien haar so. Jammer vir hom, maar niemand gaan haar vandag skeef aankyk nie.
Heléne spring onder die stort in en was die stof uit haar hare. Met ’n handdoek om haar kop gedraai, verklee sy in ’n moulose pienk rok wat net bokant haar knieë eindig. Terwyl sy met die een hand haar hare droogblaas, probeer sy met die ander hand solank haar pienk sandale aantrek. Sy is goed geskool in vinnig grimeer, en ’n paar minute later voel sy soos die meisie wat sy uit Johannesburg saamgebring het. Mooi, elegant en in beheer. Haar hoë hakke klik-klik op die houtvloer in die gang en kondig haar koms aan.
“Goeiemiddag.”
Haar ouma het nie net een vriendin vir tee nie, maar drie. Die gryskopdame is haar ouma se ouderdom en sy skat die ander twee is ma en dogter. Geeneen van hulle slaag daarin om hulle nuuskierigheid te verbloem nie. Sy lees selfs ’n bietjie simpatie in die jongste se oë. Haar binneste trek verdedigend saam, maar sy glimlag vriendelik. Haar oupa staan op om haar voor te stel. Sy kyk nie eens in David se rigting waar hy op ’n ander gemakstoel sit nie. Met hom gaan sy nie weer ’n enkele woord praat nie, het sy haar al onder die stort voorgeneem.
“Heléne, dis Lien le Grange, haar skoondogter Mariana en haar dogter Sonet. En dis ons kleindogter, Heléne Pienaar.”
Haar hart word warm toe sy die trots in haar oupa se stem hoor.
“Aangename kennis, mevrou Le Grange.” Sy groet die jonger vroue ook met die hand. Toe gaan sit sy op die bank en kruis haar bene netjies.
“Ons het net vir jou gewag. Sal jy vir ons tee skink?”
Haar ouma glimlag en skielik verstaan sy. Sy het nou erestatus in haar ouma se huis. Sy is die kleindogter, en die drie vroue is outomaties dan ook háár gaste. Toe sy die fyn porseleinkoppietjies vul en aangee, verstaan sy ’n ander boodskap. Die Le Grange-vroue geniet aansien in die kontrei. Met al haar ingebore grasie hou sy David se koppie vir laaste. Hul blikke ontmoet. Sy oë dra ’n bietjie spot, maar ook iets wat sy sweer bewondering kan wees.
“Jou ouma vertel jy het jou eie besigheid in Johannesburg,” begin Sonet ’n gesprek.
“Dis reg, ek doen binnenshuise versiering.”
“Sy het ook ’n paar winkels waar sy alles verkoop wat sy van oorsee af invoer. Dalk het julle al daarvan gehoor. The Lemon Tree Company?” voeg haar ouma by toe sy nie haar eie beuel wil blaas nie.
Heléne is verras. Sy het nie eens geweet haar ouma weet so baie van haar af nie, allermins wat haar winkels se naam is.
Belangstelling flikker in Mariana se oë. “Ek en Sonet was al in een van jou winkels gewees. As ek dit nie mis het nie, het ons ’n hele paar goedjies daar gekoop.”
En net daar styg haar aansien in die Le Granges se oë, want ’n paar goedjies kon hulle ’n klein fortuintjie uit die sak gejaag het.
“Hoe lank beplan jy om by jou ouma-hulle te kuier?” vra Lien.
“Ongeveer ’n maand lank.”
“Dan gaan jy seker aan Ventershoek se Boervrou van die Jaar-kompetisie deelneem?” vra Lien onskuldig.
Ouma Hannie se oë vlieg na Heléne s’n. Sy sukkel om ’n gepaste antwoord te vind. Hoekom? Die antwoord is tog voor die hand liggend. Dis nee. Hoekom kyk haar ouma so hulpsoekend na David? Hy het tog nie die antwoord nie.
“Natuurlik gaan Heléne deelneem. Sy gaan Klein Begin in die kompetisie verteenwoordig,” antwoord David namens hulle.
Beide haar ouma en oupa se koppe ruk in David se rigting en Heléne het skielik ’n naar gevoel op haar maag. Iets gebeur hier en sy het nie beheer daaroor nie.
“Wat is hierdie jaar op die kompetisie se agenda?” vra David met ’n onskuldige gesig.
“Die gewone konfyt kook en beskuit bak. O, daar is een nuwe en opwindende item wat bykom. Pannekoek bak.”
Heléne slaag nie daarin om die opwinding in die bak van pannekoek raak te sien nie, maar sê niks nie, want Mariana pen Heléne met ’n vermakerige blik vas.
“Het ek genoem dat Sonet verlede jaar met die louere weggeloop het? Haar hande staan vir hoegenaamd niks verkeerd nie,” sê sy en draai haar kop na David. Die brokkie inligting is eintlik vir hom bedoel.
So, dis hoe die wind waai. Die Le Grange-vroue het al drie hulle oog op David. In verskillende kapasiteite natuurlik. Mariana wag vir een of ander reaksie en Heléne sê vinnig: “Baie geluk, dis inderdaad ’n groot prestasie.”
“Sonet gaan natuurlik weer vanjaar aan die perdrykompetisie ook deelneem. Ry jy perd, Heléne?”
Haar oupa lag hartlik voordat sy kan antwoord. “Heléne is ’n uitstekende ruiter. Hoe dan anders?”
“Dis wonderlik! Sonet het dalk vir die eerste keer in jare ’n waardige teenstander.”
Tot Heléne se verligting het niemand iets daarop te sê nie.
’n Rukkie later raak die Le Grange-vroue haastig en loop almal saam om buite te groet.
“Ek gaan die koppies bêre,” sê haar ouma toe hulle gaste se motor wegtrek.
“Ouma, ons moet praat!” roep sy agter haar ouma aan wat nie gou genoeg kan wegkom nie. En maak of sy haar nie hoor nie. Sy volg haar.
“Ouma, los die skinkbord, ek sal dit nou kombuis toe neem. Goed so, hier is Oupa ook nou,” sê sy toe die mans in die sitkamer staan. Haar oupa lyk ongemaklik en David soos gewoonlik erg geamuseerd. Sy sit haar hande in haar sye. “Ek is baie jammer, mense, maar julle hoë verwagtinge van my is totaal en al onvanpas. Ek kan nie bak of kook nie. Ek het ’n resep nodig as ek ’n eier wil kook. En perdry, Oupa? Ek was nog nooit in my lewe op een se rug nie.”
Beide haar ouma en oupa lyk nou bekommerd. Uiteindelik besef hulle dit was ’n reusefout om voor te gee sy is iets wat sy nie is nie.
“Ag, dis nie nodig dat jy deelneem nie, Heléne. Jou ouma kan maar net haar vernuf ’n bietjie afstof en in jou plek gaan.”
“Silas! Ek het drie dekades terug aan daardie kompetisie deelgeneem en nou wil jy sowaar as vet my ou lyf op ’n perd se rug sit. Ek wil sien hoe jy dit gaan regkry,” sê haar ouma vies.
Heléne sien ’n volskaalse argument is aan die kom en lig haar hand op. Maar David spring haar voor. “Oom Silas, ek dink nie ons hoef dinge so ver te laat gaan nie. Heléne is jonk en intelligent, en ek is seker sy sal goedjies soos koek bak en konfyt kook sommer maklik onder die knie kry. Selfs ek kan pannekoek bak, en as Tante nie tyd het nie, sal ek haar leer.”
Haar oog val op die fyn silwervurkies op die skinkbord. Hoe geniepsig sal ’n vinnige steek in die sy wees, wonder sy moordlustig. Toe blits haar oë in David s’n en sy hoop hy lees die doodsdreigemente wat sy nie hardop voor haar grootouers kan uiter nie.
“Ek glo ’n mens foeter nie sommer halsoorkop in ’n ding in nie. Kom ons slaap daaroor en bespreek dit môre,” sê sy met dodelike kalmte in haar stem.
Silas sug verlig. “Dis ’n goeie idee.”
“Ek moet in elk geval nou huis se kant toe staan. My aanbod vir die pannekoeklesse staan egter, Heléne.”
Heléne se antwoord is nog ’n vuil kyk. Maar as David gedink het hy gaan skotvry daarvan afkom, maak hy ’n groot fout. “Sit, Oupa, ek sal David gaan afsien.”
Sy marsjeer voor hom by die deur uit. Hy verwag seker ’n skrobbering, dié dat hy die voordeur agter hom toetrek, dink sy opgewerk. By sy Jeep vou sy haar arms en pen hom met haar blik vas.
“Hierdie gemors, dis alles jou skuld, David. Hoekom het jy gesê ek sal Klein Begin verteenwoordig? Jy ken my nie eens nie. Jy het geen benul wat ek kan doen en nie kan doen nie.”
“Hoe moes ek dit weet, Heléne? Jy is sewe en twintig en moes tog seker al iets in die kombuis geleer het. En jy het op trou gestaan. Dis nie onredelik om te verwag dat jy vir jou man gaan bak en kook nie. Kan jy regtig nie eens ’n eier kook nie?”
Is die afgryse op sy gesig eg of aangeplak? Sy is nie seker nie. “Natuurlik is ek nie ’n totale moroon nie, ek kan ’n eier kook. Maar ek is van opinie dat daar ’n hele groot kosindustrie is wat ondersteun moet word deur mense soos ek wat nie tyd het om te kook nie. Of nie wil nie. Ek hoef net iets uit my vrieskas te neem en in die oond of mikrogolf te druk. Hoekom ure aan iets spandeer as iemand anders dit reeds vir my gedoen het? Wat is dit nou weer? Hoekom kyk jy my so geskok aan?”
“Ek het eerlikwaar gedink jy is die hele pakket: mooi, intelligent en suksesvol. En met jou tipe beroep weet jy hoe om ’n man se huis in ’n sieraad te omskep. Nou vind ek jy kan niks van die goed doen wat ’n man werklik wil hê nie.”
“En wat is dit? Kos maak?”
“Dit is definitief een daarvan.”
Heléne wil vra wat ’n man dan nog wil hê, maar iets waarsku haar betyds dat sy nie daardie antwoord wil hoor nie. Allermins by haar ouma se buurman. “Gelukkig is alle mans nie so … ouderwets soos jy nie.”
David skud sy kop. “Ek verseker jou ek is beslis nie outyds nie, dis net jy wat nie mooi ingelig is nie.”
“Ek het nie tyd om in sirkels te redeneer nie. Moenie vergeet om my oupa se hekke agter jou bas toe te maak nie,” sê sy en begin wegstap.
“Mans hou ook nie van meisies wat weghardloop nie,” roep hy agter haar aan, sy stem dik van die lag. Vreemd, maar sy is nie werklik kwaad nie. Met Lukas kon sy nooit so skerts nie. Of spitsvondig wees nie. Nie dat dit is wat sy en David doen nie, hulle het ’n skermutseling met woorde.
Haar ouma en oupa hou dadelik op praat toe sy die sitkamer binnekom. Die skinkbord met teegoed staan nog net so op die tafeltjie.
“Heléne, ons is jammer as ons jou in die verleentheid gestel het en ons hoop nie jy sal nou die pad wil vat nie,” sê haar ouma bekommerd.
“Nee, ek is nie van plan om weg te hardloop nie. Ek het egter bedoel wat ek gesê het. Ek gaan vanaand daaroor slaap en môreoggend sê of ek gaan deelneem al dan nie.” Die kommer wyk nie uit haar ouma se oë nie en sy slaan haar arm om haar skouers. “Kom ons vergeet nou daarvan. Wat is daar vir middagete?”
“Roep my as ek kan kom eet, Hannie,” sê haar oupa. Hy lyk verlig dat hy skotvry daarvan afgekom het.
Heléne steek haar hand uit om die bedlampie af te skakel, maar toe hoor sy die sagte kloppie aan haar deur.
“Binne!”
“Jammer, ek het gedink jy is nog op,” sê haar ouma en loer by die deur in.
“Ouma pla nie, kom gerus binne.”
Ouma Hannie gaan sit op die rand van die bed en hou ’n foto na haar uit. “Dis geneem die jaar toe ek die Boervrou van die Jaar-kompetisie gewen het.”
“Ouma lyk nog so jonk,” sê Heléne verwonderd toe sy die foto bekyk.
“As ek reg kan onthou, was dit net voor my veertigste verjaarsdag. Jou oupa was so trots op my gewees. Om nie van die plaaswerkers te praat nie. Klein Begin het skielik ’n titel gehad en dit tel nogal onder die werkers. Die Sondag ná die kompetisie het hulle my voor die huis ingewag en vir my gesing. Die volgende naweek het jou oupa spesiaal Johannesburg toe gery en vir my ’n paar diamantoorkrabbertjies gaan koop. Ai, dit was sulke goeie jare. Ek dag net ek kom wys jou die foto,” sê sy en staan op.
“Dankie, Ouma, dat jy die herinnering met my kom deel het.” Heléne gee die foto terug want dis iets wat op ’n veilige plek bewaar moet word.
Hannie soen haar op die voorkop en trek weer die deur agter haar toe. Heléne sak terug teen die kussings. Natuurlik besef sy haar ouma se strategie. Deur Heléne die foto te wys plaas sy half en half ’n verpligting op haar om die tradisie voort te sit. Haar ouma kyk blykbaar die feit mis dat sy ’n gebore stadsjapie en nie ’n plaasmeisie is nie.
Heléne kan nie aan die slaap raak nie. Die voorbereiding vir die kompetisie is dalk net die afleiding wat sy nodig het om van Lukas te vergeet en deur die res van die maand te kom. ’n Bietjie kennis van kos maak en koek bak is ook nie ’n vermorsing nie. Dis ’n nuwe vaardigheid en sy hou daarvan om nuwe goed aan te leer. Om David ’n punt of twee te wys sal ook nogal lekker wees. Dis te sê as sy enige van die items kan wen. Dit alleen is genoeg motivering om ’n besluit te neem. Sy draai op haar sy en raak amper dadelik aan die slaap.